2 KONINGS 21

Manasse regeer in Juda

1 Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het en hy het 55 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Gefsiba.

2 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het die afskuwelike gebruike van die heidennasies wat die Here voor die Israeliete uit die land gedryf het, nagevolg.

3 Hy het die hoogtes wat sy pa, Hiskia, vernietig het, weer opgebou. Hy het Baälaltare en Asjerapale opgerig net soos koning Agab van Israel gedoen het. Hy het ook voor al die hemelliggame gebuig en hulle aanbid.

4 Hy het selfs afgodsaltare opgerig in die tempel van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “In Jerusalem wil Ek my Naam vestig.”

5 Hierdie altare ter ere van al die hemelliggame het hy in die twee voorhowe van die Here se tempel gebou.

6 Manasse het selfs sy eie seun as offer verbrand. Hy het toordery, waarsêery en goëlery beoefen en het geeste geraadpleeg. Hy het baie dinge gedoen wat verkeerd was vir die Here en Hom uitgetart.

7 Manasse het ook ’n Asjerapaal gemaak en dit opgerig in die tempel, die plek waarvan die Here vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “My Naam moet vir altyd vereer word in hierdie tempel in Jerusalem, die stad wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het.

8 Die Israeliete moet my gebooie gehoorsaam, al die gebooie wat Ek deur my dienaar Moses gegee het. Dan sal Ek hulle nie uit hierdie land wat Ek vir hulle voorvaders gegee het, in ballingskap laat gaan nie.”

9 Maar die mense het geweier om te luister. Manasse het hulle nog meer kwaad laat doen as die heidense volke wat die Here vernietig het toe die Israeliete die land binnegekom het.

10 Toe het die Here deur sy dienaars die profete gesê:

11 “Koning Manasse van Juda het baie afstootlike dinge gedoen. Hy is meer goddeloos as die Amoriete wat voor Israel in die land gewoon het. Hy het die mense van Juda gelei om afgodery te pleeg.

12 Daarom, so sê die Here, die God van Israel: Ek bring soveel onheil oor Jerusalem en Juda dat die twee ore van hulle wat dit hoor, sal tuit.

13 Ek sal Jerusalem oordeel met dieselfde maatstaf wat Ek vir Samaria gebruik het en waarmee Ek die familie van Agab geoordeel het. Ek sal Jerusalem uitvee soos ’n mens ’n skottel uitvee en dit onderstebo draai.

14 Dan sal Ek die oorblyfsel van my volk verwerp en hulle oorgee as buit vir hulle vyande.

15 Want hulle het gedoen wat vir My verkeerd was, en het My uitgetart vandat hulle voorouers uit Egipte gekom het tot vandag toe.”

16 Manasse het ook so baie onskuldige bloed vergiet dat hy Jerusalem van hoek tot kant daarmee vol gemaak het. Dit was benewens die sonde wat hy Juda laat doen het. Dit alles was verkeerd vir die Here.

17 Die ander gebeurtenisse tydens Manasse se regering, alles wat hy gedoen het, asook die sondes wat hy gepleeg het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

18 Toe hy sterf, is hy in die tuin van die paleis begrawe, die tuin van Ussa. Na hom het sy seun Amon koning geword.

Amon regeer in Juda

19 Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Mesullemet, die dogter van Garus uit Jotba.

20 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy pa Manasse gedoen het.

21 Hy het die voorbeeld van sy pa nagevolg deur dieselfde afstootlike afgode te dien as wat sy pa gedien het.

22 Hy het die Here, die God van sy voorouers, verlaat en nie die Here se voorskrifte gevolg nie.

23 Amon se eie dienaars het teen hom saamgesweer en die koning in sy paleis vermoor.

24 Maar die burgers van die land het almal wat teen koning Amon saamgesweer het, doodgemaak. Hulle het sy seun Josia in sy plek koning gemaak.

25 Die ander gebeurtenisse tydens Amon se regering en wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

26 Hy is begrawe in die grafkelder in die tuin van Ussa. Sy seun Josia het hom as koning opgevolg.

2 KONINGS 22

Josia regeer in Juda

1 Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het en het 31 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jedida, die dogter van Adaja uit Boskat.

2 Hy het gedoen wat vir die Here reg was en het die voorbeeld van sy voorvader Dawid nagevolg sonder om daarvan links of regs af te wyk.

3 In die agtiende jaar van sy regering het koning Josia die staatsekretaris Safan, seun van Asalja en kleinseun van Mesullam, na die tempel van die Here toe gestuur. Hy het hom beveel:

4 “Gaan na die hoëpriester Gilkija toe en laat hy die geld tel wat die poortwagters ingesamel het by die mense wat die Here se tempel besoek het.

5 Gee hierdie geld aan die toesighouers van die werk aan die Here se tempel. Hulle moet dit gebruik om die werkers wat die tempel herstel, te betaal.

6 Dit is vir die skrynwerkers, bouers en messelaars en vir die aankoop van hout en gekapte klip om die tempel te herstel.

7 Die toesighouers hoef nie rekenskap te gee van die geld wat hulle ontvang nie, want hulle is betroubaar.”

Gilkija ontdek God se wet

8 Gilkija die hoëpriester sê toe vir die staatsekretaris Safan: “Ek het die wetboek in die tempel van die Here gekry!” Gilkija het die wetboek vir Safan gegee en hy het dit gelees.

9 Safan het by die koning gaan verslag doen: “U amptenare het die geld wat by die tempel van die Here ingesamel is aan die werkers en toesighouers by die tempel gegee.”

10 Safan sê ook vir die koning: “Die priester Gilkija het vir my ’n boekrol gegee.” Safan lees toe vir die koning wat daarin staan.

11 Toe die koning hoor wat in die wetboek geskryf staan, skeur hy sy klere.

12 Hy beveel die priester Gilkija, Agikam seun van Safan, Akbor seun van Miga, die staatsekretaris Safan en die koning se hoofamptenaar Asaja:

13 “Gaan en raadpleeg die Here namens my en namens die hele volk Juda. Raadpleeg Hom oor dit wat geskryf is in die boekrol wat gevind is. Die Here se toorn het teen ons ontvlam omdat ons voorvaders ongehoorsaam was aan die voorskrifte in hierdie boekrol. Ons het nie opgetree volgens wat in die boekrol van ons vereis word nie.”

14 Die priester Gilkija en Agikam, Akbor, Safan en Asaja gaan toe na die nuwe deel van Jerusalem om die profetes Gulda te raadpleeg. Sy was die vrou van Sallum seun van Tikwa en kleinseun van Gasra, die klerebewaarder. Hulle het haar ingelig

15 en sy antwoord hulle: “‘Dit is wat die Here, die God van Israel, sê: Gaan en sê vir die man wat vir julle gestuur het.

16 Dit is wat die Here sê: Ek bring onheil oor hierdie stad en sy inwoners, net soos dit in die boekrol staan wat die koning van Juda gelees het.

17 Want my volk het My verlaat deur aan ander gode offers te bring en My uit te tart met al die maaksels van hulle eie hande. My toorn brand teen hierdie plek en dit sal nie geblus word nie.’

18 “Maar gaan na die koning van Juda wat vir julle gestuur het om die Here te raadpleeg en sê vir hom: ‘Dit is wat die Here, die God van Israel, sê aangaande die boodskap wat jy so pas gehoor het:

19 Jy was berouvol en het jouself voor die Here verneder toe jy hoor wat Ek gesê het oor hierdie plek en sy inwoners, naamlik dat die land ontvolk en vervloek sal word. Jy het jou klere geskeur en voor My gehuil as teken van berou. Ek het jou inderdaad gehoor, sê die Here.

20 Daarom sal Ek jou in vrede laat sterf en in vrede laat begrawe word. Jy sal nie al die onheil wat Ek oor hierdie plek gaan bring, self beleef nie.’” Hulle het toe hierdie boodskap aan die koning oorgedra.

2 KONINGS 23

Josia se godsdienshervorming

1 Toe roep die koning al die leiers van Juda en Jerusalem bymekaar.

2 Die koning het opgegaan na die Here se tempel toe. Saam met hom het al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, asook die priesters en die profete, almal, klein en groot, gegaan. Daar het die koning die hele boek van die verbond wat in die tempel van die Here gekry is, voorgelees.

3 Die koning neem toe sy plek in langs die pilaar en het die verbond voor die Here hernu. Hy het onderneem om die Here te volg deur al sy voorskrifte, bepalings en gebooie met hart en siel te gehoorsaam. So het hy al die voorwaardes van hierdie verbond soos dit in die boekrol geskryf was, bekragtig. Die hele volk het hulle ook tot die verbond verbind.

4 Daarop het die koning vir die hoëpriester Gilkija, die priesters tweede in bevel en die poortwagters van die tempel beveel om al die voorwerpe wat vir Baäl, Asjera en al die hemelliggame gemaak is, uit die tempel van die Here te verwyder. Hulle moes al hierdie voorwerpe buite Jerusalem op die terrasse van die Kidronvallei verbrand en die as na Bet-El toe vat.

5 Hy het ontslae geraak van die afgodspriesters wat die vorige konings van Juda aangestel het, want hulle het op die hoogtes in die dorpe van Juda, asook in die omgewing van Jerusalem offers gebring. Hulle het ook offers gebring vir Baäl, die son, die maan, die sterrebeelde en al die ander hemelliggame.

6 Die koning het die Asjerapaal uit die Here se tempel na die Kidronvallei buite Jerusalem laat bring. Daar is dit verbrand, vergruis en op die grafte van die gewone mense gestrooi.

7 Hy het ook die kamers van die manlike prostitute binne die tempel van die Here afgebreek. Dis waar die vroue weefwerk vir Asjera gedoen het.

8 Josia het al die priesters van ander dorpe in Juda laat kom en die hoogtes waar hulle geoffer het, ontwy. Dit was vanaf Geba tot by Berseba. Hy het die hoogtes by die poorte vernietig, ook die een by die poort van Josua, die stadsbevelvoerder. Hierdie poort was aan die linkerkant wanneer ’n mens die stadspoort binnegaan.

9 Die priesters wat by die hoogtes geoffer het, is nie toegelaat om by die Here se altaar in Jerusalem diens te doen nie, maar kon saam met die ander priesters ongesuurde brood eet.

10 Die Tofet in die Ben-Hinnomdal het hy laat ontwy sodat niemand dit weer kon gebruik om ’n seun of dogter in die vuur te offer as offer vir Molek nie.

11 Hy het ook die perdestandbeelde wat die vorige konings van Juda aan die son gewy het, verwyder. Dit was by die ingang na die tempel van die Here en naby die woonkwartiere van die ontmande amptenaar Netan-Melek. Die koning het ook die waens wat aan die son gewy was, verbrand.

12 Op die dak van die bokamer van Agas het die konings van Juda altare gebou. Josia het dit afgebreek. Hy het die altare wat Manasse in die twee binnehowe van die Here se tempel gebou het, vernietig. Hy het hulle aan stukke gekap en die puin in die Kidronvallei gegooi.

13 Die koning het verder ook die hoogtes oos van Jerusalem en suid van die Berg van Verwoesting ontwy. Dis waar koning Salomo van Israel hoogtes ter verering van Astarte, die veragtelike godin van die Sidoniërs, en Kemos, die afskuwelike afgod van die Moabiete, en vir Milkom, die veragtelike god van die Ammoniete, opgerig het.

14 Hy het die heilige pilare stukkend geslaan en die Asjerapale afgekap. Daarna het hy al hierdie plekke ontwy deur mensbene daaroor te strooi.

15 Daarby het die koning sowel die altaar in Bet-El as die hoogte wat Jerobeam seun van Nebat opgerig het en so Israel tot sonde gelei het, afgebreek. Hy het die klippe fyngemaal tot stof en die Asjerapaal verbrand.

16 Toe Josia verder rondkyk, sien hy verskeie grafte teen die kant van die heuwel. Hy het die bene uitgehaal en dit op die altaar in Bet-El verbrand om dit te ontwy. Dit het gebeur net soos die Here destyds deur die man van God aangekondig het.

17 “Watter grafsteen sien ek daar anderkant?” vra Josia. Die mense van die stad vertel hom toe: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en voorspel het presies wat u so pas met die altaar in Bet-El gedoen het!”

18 Josia sê toe: “Laat hom met rus. Moenie aan die bene raak nie.” Hulle het toe sy bene en dié van die ou profeet uit Samaria met rus gelaat.

19 Daarna het Josia al die heiligdomme by die afgodshoogtes in die dorpe van Samaria afgebreek, net soos hy in Bet-El gedoen het. Die konings van Israel het hierdie geboue opgerig en daardeur die Here getart.

20 Hy het al die priesters van die hoogtes op hulle eie altare doodgemaak en die altare ontwy deur mensbene daarop te verbrand. Daarna het hy na Jerusalem toe teruggegaan.

Josia vier die Paasfees

21 Hierna het koning Josia die hele volk beveel: “Kom vier nou die Paasfees van die Here julle God soos dit in hierdie boek van die verbond beskryf is.”

22 Daar was nog nooit so ’n Paasfeesviering sedert die dae toe die rigters in Israel regeer het, of selfs gedurende die regering van die konings in Israel en Juda nie.

23 Hierdie Paasfees is in Jerusalem tot eer van die Here gevier gedurende die agtiende jaar van koning Josia se regering in Jerusalem.

24 Josia het ook die dodebesweerders en waarsêers, die huisgode, die afgode en elke afstootlike ding wat in Juda en Jerusalem te sien was, uitgewis. Hy het dit gedoen in gehoorsaamheid aan al die voorskrifte van die wet wat in die boekrol was wat die priester Gilkija in die Here se tempel gekry het.

25 Voor hom was daar nie ’n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het nie. Dit het hy gedoen met sy hele hart en siel en met al sy kragte volgens al die gebooie van Moses. Ná hom was daar ook nie weer ’n koning soos hy nie.

26 Nogtans het die Here se toorn oor Juda voortgeduur. Dit was as gevolg van die bose dade van koning Manasse. Hy het nie sy toorn oor hulle laat vaar nie.

27 Die Here het gesê: “Ek sal my teenwoordigheid uit Juda wegneem net soos Ek met Israel gedoen het. Ek sal hierdie stad Jerusalem wat Ek verkies het, verwerp, asook die tempel waarvan Ek gesê het: ‘My Naam sal daar wees.’”

28 Die ander gebeurtenisse tydens Josia se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

29 Terwyl Josia koning was, was farao Neko, die koning van Egipte, op pad na die Eufraatrivier om die koning van Assirië te gaan help. Koning Josia het teen hom opgetrek, maar koning Neko het hom doodgemaak toe hulle by Megiddo teenoor mekaar te staan gekom het.

30 Josia se soldate het sy liggaam in ’n wa uit Megiddo na Jerusalem toe gebring en hom in sy eie graf begrawe. Die burgers van die land het sy seun Joahas as koning in sy plek gesalf.

Joahas regeer in Juda

31 Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, dogter van Jeremia uit Libna.

32 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy voorvaders gedoen het.

33 Farao Neko het Joahas in Ribla, in die land Hamat, gevange geneem sodat hy nie verder kon regeer nie. Hy het ook Juda ’n boete opgelê van drie en ’n halwe ton silwer en 34 kilogram goud.

34 Farao Neko het toe vir Eljakim seun van Josia as koning in die plek van sy pa aangestel. Die farao het Eljakim se naam verander na Jojakim. Joahas is as gevangene na Egipte toe geneem, waar hy gesterf het.

Jojakim regeer in Juda

35 Ten einde die silwer en goud wat farao Neko as boete opgelê het, te betaal, het Jojakim ’n belasting op die burgers van die land gelê. Elkeen moes volgens hulle vermoëns betaal.

36 Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het en hy het elf jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sebida, ’n dogter van Pedaja uit Ruma.

37 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy voorouers gedoen het.

2 KONINGS 24

1 Gedurende Jojakim se regering het koning Nebukadnesar van Babel teen hom opgetrek. Jojakim het oorgegee en drie jaar lank aan hom belasting betaal, maar daarna teen Nebukadnesar in opstand gekom.

2 Die Here het bendes Galdeërs, Arameërs, Moabiete en Ammoniete teen Juda gestuur om dit te verwoes net soos die Here deur sy dienaars die profete aangekondig het.

3 Hierdie rampe het oor Juda gekom op bevel van die Here. Hy het besluit om Juda uit sy teenwoordigheid weg te neem oor die baie sondes wat Manasse gedoen het.

4 Hy het baie onskuldige mense in Jerusalem doodgemaak, en die Here wou dit nie vergewe nie.

5 Die ander gebeurtenisse tydens Jojakim se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

6 Toe Jojakim sterf, het sy seun Jojagin hom opgevolg.

7 Die koning van Egipte het daarna nooit weer buite sy land oorlog gemaak nie, want die koning van Babel het die hele gebied beset wat Egipte voorheen oorheers het, vanaf die Egiptespruit tot by die Eufraatrivier.

Jojagin regeer in Juda

8 Jojagin was agtien jaar oud toe hy koning geword het en hy het drie maande in Jerusalem regeer. Sy ma was Negusta, die dogter van Elnatan uit Jerusalem.

9 Jojagin het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy pa gedoen het.

10 Gedurende Jojagin se bewind het die leër van koning Nebukadnesar van Babel opgetrek teen Jerusalem en dit beleër.

11 Koning Nebukadnesar van Babel het self gedurende die beleg daar aangekom.

12 Toe het koning Jojagin en sy ma, sy amptenare en sy offisiere hulle aan die koning van Babel oorgegee.

Tydens die agtste jaar van Nebukadnesar se bewind het hy Jojagin gevange geneem.

13 Soos die Here voorheen gesê het, het Nebukadnesar al die skatte van die Here se tempel en die koninklike paleis gevat. Hy het al die goue artikels wat koning Salomo in die tempel gesit het, stukkend gebreek.

14 Koning Nebukadnesar het almal in Jerusalem weggevoer: al die offisiere, al die soldate – 10 000 in getal, al die ambagsmanne en smede. Net die armste mense is in die land agtergelaat.

15 Nebukadnesar het koning Jojagin, sy ma, sy vroue, sy amptenare en al die vooraanstaande mense van Jerusalem as gevangenes na Babel toe geneem.

16 Hy het ook 7 000 van die weerbare manne en 1 000 vakmanne en smede, almal wat geskik was vir oorlog, saamgeneem na Babel toe.

17 Daarna het die koning van Babel vir Mattanja, Jojagin se oom, as koning aangestel en sy naam na Sedekia verander.

Sedekia regeer in Juda

18 Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het en hy het elf jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Gamutal, ’n dogter van Jeremia uit Libna.

19 Maar hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos Jojakim gedoen het.

20 Daarom het die Here in sy toorn die inwoners van Jerusalem en Juda finaal voor Hom weggevee en hulle in ballingskap gestuur.

Die val van Jerusalem

Sedekia het teen die koning van Babel in opstand gekom.

2 KONINGS 25

1 Dit was in die negende jaar van Sedekia se bewind in Jerusalem. Op die tiende dag van die tiende maand het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër teen Jerusalem opgetrek. Hulle het by die stad kamp opgeslaan en beleëringswalle rondom teen die mure opgehoop.

2 Jerusalem is beleër tot in die elfde jaar van koning Sedekia se bewind.

3 Teen die negende dag van die vierde maand was die hongersnood in die stad baie erg. Daar was nie meer kos vir die inwoners nie.

4 Toe is ’n opening in die stadsmuur gemaak waardeur al die soldate gedurende die nag ontsnap het. Hulle het deur die opening tussen die twee mure by die koning se tuin gevlug hoewel daar Galdeërs rondom die stad was, en het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug.

5 Maar die Galdese leër het hulle agternagesit en die koning op die Jerigovlakte ingehaal. Teen hierdie tyd was al sy manskappe van hom af verstrooi.

6 Hulle het hom gevang en na die koning van Babel in Ribla gebring waar ’n vonnis oor hom uitgespreek is.

7 Die koning van Babel het al sy seuns voor Sedekia doodgemaak. Daarna het hulle sy oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe geneem.

Die tempel word verwoes

8 In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende jaar van koning Nebukadnesar se bewind in Babel, het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was die hoof van die lyfwag en ’n amptenaar van die koning van Babel.

9 Hy het die tempel van die Here, die koninklike paleis, al die huise en al die belangrike geboue in Jerusalem afgebrand.

10 Daarna het die Galdese soldate onder sy bevel die muur van Jerusalem afgebreek.

11 Nebusaradan, hoof van die lyfwag, het verder die mense wat in die stad agtergebly het, dié wat na die koning van Babel oorgeloop het en almal wat oorgebly het, in ballingskap weggeneem.

12 Hy het die armste mense in Juda laat agterbly om die wingerde en landerye te bewerk.

13 Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die tempel van die Here was, stukkend gebreek en die brons na Babel toe gevat.

14 Hulle het ook die potte, skoppe, skêre en panne, asook al die bronswerktuie wat in die tempeldiens gebruik is, weggevat.

15 Die hoof van die lyfwag het die vuurpanne en skottels vir besprinkeling en al die werktuie van goud en silwer gevat.

16 Die brons van die twee pilare, die waterbak en die waentjies was te veel om te weeg. Hierdie voorwerpe is in die tyd van koning Salomo vir die Here se tempel gemaak.

17 Elke pilaar was agt meter hoog en die bronskapiteel bo-op was ’n derde meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was van brons. Die ander pilaar en sy rooster het net so gelyk.

18 Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en drie poortwagters as gevangenes saamgeneem.

19 Uit die mense wat nog in die stad was, het hy ’n offisier in bevel van die soldate, vyf van die koning se vertrouelinge, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en 60 ander burgers saamgeneem.

20 Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle almal na die koning van Babel in Ribla geneem.

21 Daar in Ribla, in Hamat, het die koning van Babel almal laat doodmaak. So is die mense van Juda uit hulle land in ballingskap weggevoer.

Gedalja regeer in Juda

22 Nebukadnesar stel toe vir Gedalja seun van Agikam en kleinseun van Safan as goewerneur aan oor die mense wat hy in Juda laat oorbly het.

23 Toe die leërbevelvoerders en hulle manskappe hoor dat die koning van Babel vir Gedalja as goewerneur aangestel het, het hulle na hom toe gegaan in Mispa. Dit was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet uit Netufa, en Jaäsanja uit Maäka en al hulle manskappe.

24 Gedalja verseker toe vir hulle met ’n eed: “Moenie bang wees vir die Galdese amptenare nie. Bly in die land en dien die koning van Babel, dan sal dit goed gaan met julle.”

25 Maar teen middelherfs van daardie jaar het Ismael seun van Netanja kleinseun van Elisama wat uit die koninklike geslag was, saam met tien manne na Mispa toe gegaan en Gedalja aangeval en doodgemaak, asook die Judeërs en Galdeërs wat by hom was.

26 Toe het almal, klein en groot, uit vrees vir die Galdeërs paniekbevange saam met die leërbevelvoerders na Egipte toe gevlug.

Hoop vir Israel se koninklike

geslag

27 In die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die 27ste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak koning van Babel geword en Jojagin uit die gevangenis vrygelaat.

28 Hy het Jojagin begenadig en hom ’n hoër status as die ander konings in Babel gegee.

29 Jojagin is toegelaat om sy tronkklere uit te trek en kon vir die res van sy lewe van die koninklike voorrade lewe.

30 Hy het vir sy daaglikse behoeftes lewenslank ’n vaste toelaag van die koning ontvang.