2 KONINGS 1

1 Elia konfronteer koning Ahasia

Na die dood van Agab het Moab teen Israel gerebelleer.

2 Op ’n dag het Ahasia deur die bokamer se traliewerk van die paleis in Samaria geval en homself ernstig beseer. Hy stuur toe boodskappers met die opdrag: “Gaan raadpleeg vir Baäl-Sebub die god van Ekron om te verneem of ek van hierdie besering sal herstel.”

3 Maar die engel van die Here het vir Elia die Tisbiet gesê: “Gaan die boodskappers van die koning van Samaria tegemoet en vra vir hulle: ‘Hoekom gaan julle na Baäl-Sebub die god van Ekron om te vra of die koning gesond sal word? Is daar dan geen God in Israel nie?

4 Daarom sê die Here: ‘Jy sal nie opstaan uit die bed waarop jy lê nie. Jy sal sekerlik sterf.’” Elia het gegaan en die boodskap afgelewer.

5 Toe die boodskappers terugkom by die koning, vra hy vir hulle: “Hoekom is julle so gou terug?”

6 Hulle antwoord hom: “’n Man het ons teëgekom en gesê: ‘Gaan terug na die koning wat vir julle gestuur het en gee hom hierdie boodskap van die Here: Hoekom stuur jy boodskappers na Baäl-Sebub die god van Ekron om te vra of jy gesond sal word? Is dit omdat daar geen God in Israel is nie? Omdat jy dit gedoen het, sal jy nie opstaan uit die bed waarop jy lê nie. Jy sal sekerlik sterf.’”

7 “Wie is hierdie man?” vra die koning. “Hoe lyk hierdie man wat julle teëgekom het en hierdie boodskap gestuur het?”

8 Hulle antwoord hom: “Dit was ’n harige man met ’n leergordel om sy middel.”

“Dit is Elia die Tisbiet!” roep die koning uit.

9 Toe stuur hy ’n offisier met 50 soldate om Elia te vang. Hulle het hom gekry waar hy bo-op ’n heuwel gesit het. Die offisier sê vir hom: “Man van God, die koning het beveel dat jy moet afkom.”

10 Maar Elia antwoord hom: “As ek dan ’n man van God is, laat daar vuur uit die hemel kom en jou en jou 50 manne verteer!” Daar kom toe vuur uit die hemel wat die offisier en sy 50 manskappe verteer het.

Toe stuur die koning ’n ander offisier met 50 soldate. Die offisier sê vir hom:

11 “Man van God, die koning sê jy moet dadelik afkom!”

12 Elia antwoord hom: “As ek dan ’n man van God is, laat daar vuur uit die hemel kom en jou en jou 50 manne verteer!” Weereens het daar vuur van God uit die hemel gekom en die offisier en sy manskappe verteer.

13 Die koning stuur toe ’n derde keer ’n offisier met 50 soldate. Maar hierdie keer het die offisier gekom en op sy knieë voor Elia geval. Hy het by hom gepleit: “O man van God, spaar asseblief my lewe en die lewe van hierdie 50 manne, u dienaars.

14 Kyk net hoe het die vuur uit die hemel die eerste twee offisiere en hulle manskappe verteer! Asseblief, spaar tog nou my lewe!”

15 Toe sê die engel van die Here vir Elia: “Jy hoef nie vir hom bang te wees nie. Klim af en gaan gerus saam met hom.” Elia het opgestaan en afgegaan na die koning toe.

16 Elia sê vir die koning: “Dit is wat die Here sê: Hoekom stuur jy boodskappers na Baäl-Sebub die god van Ekron om te vra of jy gesond sal word? Is dit omdat daar geen God in Israel is wat jy kan raadpleeg nie? Omdat jy dit gedoen het, sal jy nie opstaan uit die bed waarop jy nou lê nie. Jy sal sekerlik sterf.”

17 Ahasia het toe gesterf net soos die Here deur Elia aangekondig het. Omdat Ahasia nie ’n seun gehad het nie, het sy broer Joram hom opgevolg. Dit het in die tweede regeringsjaar van Joram seun van Josafat, koning van Juda, gebeur. Die ander gebeurtenisse tydens Ahasia se regering is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

2 KONINGS 2

Elia word in die hemel

opgeneem

1 Die tyd het aangebreek dat die Here vir Elia in ’n stormwind na die hemel toe sou opneem. Elia en Elisa was op pad van Gilgal af.

2 Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”

Maar Elisa antwoord hom: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie!” Hulle het toe saam na Bet-El toe gegaan.

3 ’n Groep profete uit Bet-El het na Elisa toe gekom en vir hom gevra: “Het jy geweet dat die Here vandag jou leermeester van jou gaan wegneem?”

“Natuurlik weet ek dit,” antwoord hy. “Bly net stil!”

4 Toe sê Elia vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”

Maar Elisa het weer geantwoord: “So waar as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.” Hulle het toe saam in Jerigo aangekom.

5 ’n Groep profete uit Jerigo het Elisa tegemoetgekom en hom gevra: “Het jy geweet dat die Here vandag jou leermeester van jou gaan wegneem?”

“Natuurlik weet ek dit,” antwoord hy weer. “Bly net stil!”

6 Toe sê Elia vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaanrivier toe.”

Maar Elisa het weer geantwoord: “So waar as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.” Hulle het toe saam verder gegaan.

7 Uit die groep profete het 50 mans ook saamgegaan en op ’n afstand, teenoor die plek waar Elia en Elisa by die Jordaanrivier was, gaan staan.

8 Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het weerskante toe verdeel sodat die twee droogvoets deur die rivier kon gaan.

9 Toe hulle oorkant aankom, sê Elia vir Elisa: “Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?”

“Laat my asseblief ’n dubbele erfgenaamsdeel van u gees ontvang,” antwoord Elisa.

10 “Jy vra my ’n moeilike saak,” antwoord Elia. “As jy sien hoe ek van jou af weggeneem word, sal jy dit ontvang. As jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”

11 Terwyl hulle nog so aanstap en gesels, verskyn daar skielik ’n wa van vuur, getrek deur perde van vuur. Dit het hulle van mekaar geskei. Elia is in ’n stormwind opgeneem na die hemel toe.

12 Toe Elisa dit sien, roep hy uit: “My vader! My vader! Die strydwa en perderuiters van Israel!” Toe Elisa hom nie meer kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee geskeur.

13 Maar Elia se mantel het afgeval en Elisa het dit opgetel. Toe gaan hy terug en gaan staan by die wal van die Jordaanrivier.

14 Hy het Elia se mantel wat afgeval het, gevat, daarmee op die water geslaan en uitgeroep: “Waar is die Here, die God van Elia, ja, Hy?” Toe hy die water slaan, het dit weerskante toe verdeel sodat hy kon deurgaan.

15 Die groep profete van Jerigo het oorkant gestaan en gesien wat gebeur het. Hulle sê toe: “Elisa is Elia se opvolger!” Hulle het hom tegemoetgegaan en voor hom gebuig.

16 “Meneer,” sê hulle, “hier is 50 dapper manne onder ons. Laat hulle tog na u leermeester gaan soek. Miskien het die Gees van die Here hom opgelig en êrens op ’n berg of in ’n vallei neergesit.”

“Nee,” sê Elisa, “moenie hulle stuur nie.”

17 Hulle het egter aangehou sodat hy moes toegee: “Goed, stuur hulle maar.” Die 50 manne het drie dae lank gesoek, maar kon nie vir Elia opspoor nie.

18 Elisa was nog in Jerigo toe hulle terugkom. “Het ek dan nie vir julle gesê julle moenie gaan nie?” vra hy.

Die eerste wondertekens van

Elisa

19 Die inwoners van Jerigo het Elisa besoek en gesê: “Hierdie dorp is in ’n pragtige omgewing geleë, soos u self kan sien. Maar die water is onbruikbaar en die landerye is onvrugbaar.”

20 Elisa sê: “Bring vir my ’n nuwe skottel met sout daarin.” Hulle het dit gedoen.

21 Toe gaan hy na die fontein waar die dorp water vandaan gekry het en gooi die sout daarin. Hy sê: “Dit is wat die Here sê: Ek maak hierdie water bruikbaar. Dit sal nie meer dood of onvrugbaarheid veroorsaak nie.”

22 Die water het tot vandag toe bruikbaar gebly, net soos Elisa gesê het.

23 Elisa het daarna na Bet-El toe opgegaan. Terwyl hy in die pad loop, kom ’n groep klein seuntjies uit die dorp en begin hom spot. “Gaan op, kaalkop!” het hulle uitgeroep. “Gaan op, kaalkop!”

24 Elisa het omgedraai, na hulle gekyk en hulle in die Naam van die Here vervloek. Toe kom daar twee bere uit die bos en verskeur 42 van hulle.

25 Daarvandaan het Elisa na Karmelberg gegaan, en daarna terug na Samaria toe.

2 KONINGS 3

Oorlog tussen Israel en Moab

1 Agab se seun Joram het in die agtiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda koning van Israel geword. Hy het twaalf jaar in Samaria regeer.

2 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, maar hy was nie so boos soos sy pa en ma nie. Hy het minstens die klippilaar wat sy pa ter ere van Baäl opgerig het, afgebreek.

3 Tog het hy voortgegaan met die sonde van afgodery waarmee Jerobeam die seun van Nebat die volk Israel verlei het. Hy het hom nie daarvan bekeer nie.

4 Koning Mesa van Moab en sy onderdane was skaapboere. Hulle het aan die koning van Israel ’n jaarlikse belasting van 100 000 lammers en die wol van 100 000 ramme betaal.

5 Na Agab se dood het Moab egter teen die koning van Israel in opstand gekom.

6 Koning Joram het toe die leër van Israel opgekommandeer en uit Samaria opgeruk.

7 Hy stuur toe ook die volgende boodskap aan koning Josafat van Juda: “Die koning van Moab het teen my gerebelleer. Sal jy saam met my teen hom veg?”

Josafat het geantwoord: “Maar natuurlik! Ek is saam met jou in die saak! My soldate is tot jou beskikking, soos ook my perde.”

8 Hy vra toe: “Met watter pad sal ons gaan?”

“Ons sal hulle uit die woestyn van Edom aanval,” kom die antwoord.

9 Die koning van Edom en sy leër het ook saam met hulle opgetrek. Al drie leërs het met ’n ompad sewe dae lank deur die woestyn getrek. Maar daar was geen water vir die soldate of hulle pakdiere nie.

10 “Wat sal ons nou maak?” sê die koning van Israel. “Die Here het ons drie hier in die moeilikheid gebring sodat die koning van Moab ons kan verslaan.”

11 Maar koning Josafat van Juda vra: “Is daar nie ’n profeet van die Here saam met ons nie? As hier een is, kan ons die Here deur hom vra wat ons moet doen.”

Een van koning Joram se offisiere antwoord hom: “Elisa seun van Safat is hier. Hy was Elia se persoonlike dienaar.”

12 Josafat sê toe: “Die Here praat deur hom.” Die konings van Israel, Juda (naamlik Josafat) en Edom het Elisa gaan raadpleeg.

13 “Ek wil niks met jou te doen hê nie,” sê Elisa vir die koning van Israel. “Gaan na jou pa en ma se profete!”

Maar koning Joram antwoord: “Nee! Die Here het ons drie konings hiernatoe laat kom om ons aan die koning van Moab oor te lewer.”

14 Elisa antwoord: “So seker as die Here, die Almagtige, leef, Hy vir wie ek dien, ek sou my nie eens aan jou gesteur het nie as dit nie was vir die respek wat ek vir koning Josafat van Juda het nie.

15 Laat iemand wat die lier kan speel, hiernatoe kom.”

Terwyl iemand op die lier speel, kom die krag van die Here oor Elisa.

16 Hy sê: “Dit is wat die Here sê: Hierdie droë vallei sal met poele water gevul word.

17 Julle sal nie wind of reën sien nie, sê die Here, maar hierdie vallei sal vol water word. Julle sal genoeg hê vir julleself en vir julle beeste en ander diere.

18 Dis nog maar die minste wat die Here sal doen. Hy sal vir julle ook die oorwinning oor die leër van Moab gee.

19 Julle sal uitsoekstede verower, selfs die versterkte stede. Julle sal al die mooi bome afkap, hulle fonteine toestop en hulle landerye met klippe verniel.”

20 En dit was ook so. Die volgende dag teen die tyd van die oggendoffer het daar skielik water gekom! Dit het uit die rigting van Edom aangestroom sodat daar gou-gou oral water was.

21 Intussen het al die Moabiete gehoor dat die konings opgetrek het om teen hulle te veg. Hulle het toe elke weerbare man, jonk en oud, opgeroep en hulle al langs die grens laat stelling inneem.

22 Toe hulle die oggend opstaan, het die son oor die water geskyn sodat dit so rooi soos bloed gelyk het.

23 “Dit is bloed!” roep die Moabiete uit. “Die konings het mekaar aangeval en maak nou mekaar dood! Kom, laat ons die buit gaan plunder!”

24 Toe hulle die kamp van die Israeliete bereik, het die leër van Israel op hulle afgestorm en die Moabiete aangeval sodat hulle omgedraai en gevlug het. Die leër van Israel het hulle tot in die land van Moab agtervolg en op hulle pad alles vernietig.

25 Hulle het die stede verwoes, die landerye met klippe bestrooi deurdat elke manskap ’n klip daarop gegooi het. Hulle het ook die fonteine toegestop en al die bruikbare bome afgekap. Uiteindelik was net Kir-Geres oor. Maar die soldate met slingervelle het die stad omsingel en dit ingeneem.

26 Toe die koning van Moab besef dat hy besig was om die oorlog te verloor, het hy 700 van sy soldate teen die koning van Edom gelei in ’n desperate poging om deur die vyandelike linies te breek, maar hulle kon dit nie doen nie.

27 Toe vat hy sy oudste seun wat hom sou opvolg en offer hom as ’n brandoffer op die stadsmuur. Dit was vir Israel so afskuwelik dat hulle teruggetrek het na hulle eie land toe.

2 KONINGS 4

Elisa help ’n arm weduwee

1 Op ’n dag kom die weduwee van een van die profete na Elisa toe en bekla haar nood by hom: “My man, u dienaar, is dood. U weet hoe hy die Here gedien het. Nou dreig die skuldeiser om my twee seuns as slawe weg te neem.”

2 “Wat kan ek doen om jou te help?” vra Elisa. “Sê vir my, wat het jy in jou huis?”

“Hoegenaamd niks nie, behalwe ’n kan met olie,” antwoord sy.

3 Toe sê Elisa: “Gaan leen leë kruike by al jou bure. Leen soveel as wat jy kan kry.

4 Dan moet jy en jou seuns in jou huis ingaan en die deur agter julle toemaak. Maak dan al die leë kruike vol olie. Dié wat vol is, moet jy een-kant sit.”

5 Sy het gedoen soos hy gesê het en die deur agter hulle toegemaak. Haar seuns het die kruike vir haar gebring, en sy het die een na die ander vol gemaak.

6 Spoedig was elke kruik propvol!

“Bring vir my nog ’n kruik,” sê sy vir een van haar seuns.

“Daar is nie meer nie!” sê hy vir haar. Toe het daar nie meer olie uit die kan gekom nie.

7 Sy het vir die man van God gaan vertel wat gebeur het. Hy sê vir haar: “Gaan verkoop nou die olie en betaal jou skuld. Van dit wat oorbly, kan jy en jou seuns lewe.”

Elisa en die vrou uit Sunem

8 Op ’n keer het Elisa na die dorp Sunem toe gegaan. Daar het ’n baie welgestelde vrou gewoon. Sy het by hom aangedring om by hulle te kom eet. Van toe af het hy elke keer wanneer hy daar verbygegaan het daar geëet.

9 Na ’n tyd sê sy vir haar man: “Ek dink die man wat dikwels hier by ons aankom, is ’n heilige man van God.

10 Kom ons bou vir hom ’n dakkamertjie en meubileer dit met ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lamp. Dan kan hy daarin oorbly wanneer hy hierlangs kom.”

11 Eendag kom Elisa weer daar aan en kon na die dakkamer toe gaan om daar te rus.

12 Hy sê toe vir sy dienaar Gehasi: “Gaan roep die Sunamitiese vrou.” Toe sy daar aankom,

13 sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: ‘Ons waardeer al die moeite wat jy vir ons gedoen het. Maar wat kan ons vir jou doen? Moet ek dalk ’n goeie woordjie vir jou by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?’”

“Nee,” antwoord sy. “Ek is gelukkig tussen my mense wat vir my omgee.”

14 Elisa vra: “Is daar nie tog iets wat ons vir haar kan doen nie?”

Gehasi sê toe: “Sy het nie ’n seun nie en haar man is al oud.”

15 “Gaan roep haar weer,” sê Elisa vir hom. Toe die vrou terugkom, sê Elisa vir haar terwyl sy in die deur staan:

16 “Volgende jaar hierdie tyd sal jy ’n seun in jou arms vashou!”

“Nee, Meneer!” maak sy beswaar. “Asseblief, man van God, moenie vir my onwaarhede vertel nie.”

17 Maar die vrou hét swanger geword. ’n Jaar later het sy ’n seun in die wêreld gebring net soos Elisa vir haar gesê het.

18 Toe die kind groter geword het, het hy op ’n keer na sy pa toe gegaan waar hy en die werkers besig was om te oes.

19 Skielik roep hy: “My kop! My kop!”

Sy pa sê toe vir een van die werkers: “Dra hom na sy ma toe.”

20 Die dienaar het hom huis toe ge-neem en sy ma het hom op haar skoot vasgehou. Teen die middag het hy egter gesterf.

21 Sy dra hom toe boontoe en lê hom op die bed van die man van God neer, gaan uit en trek die deur toe.

22 Toe roep sy haar man en vra: “Stuur tog een van die werkers en ’n donkie sodat ek na die man van God toe kan gaan en gou weer kan terugkom.”

23 “Hoekom wil jy dan vandag gaan?” wil hy weet. “Dit is tog nie ’n Nuwemaanfees of ’n Sabbat nie!”

Maar sy sê: “Alles is reg.”

24 Sy saal die donkie op en sê vir die dienaar: “Maak gou! Jaag die donkie aan en moenie stadiger gaan tensy ek vir jou sê nie.”

25 Sy gaan toe en het by die man van God, by Karmelberg, aangekom. Die man van God het haar in die verte sien aankom. Hy sê vir Gehasi: “Kyk, dis die vrou uit Sunem.

26 Hardloop haar tegemoet en vra haar: ‘Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? Gaan dit goed met jou seun?’”

“Dit gaan goed,” sê die vrou vir Gehasi.

27 Maar toe sy by die man van God op die berg kom, val sy op die grond voor hom en gryp sy voete.

Gehasi probeer om haar weg te stoot, maar die man van God sê: “Laat haar met rus! Sy is diep bedroef en die Here het dit nie vir my bekendgemaak nie.”

28 Toe sê sy: “Meneer, het ek u gevra vir ’n seun? Het ek dan nie gesê u moenie vir my valse hoop gee nie?”

29 Elisa sê toe vir Gehasi: “Maak jou gereed. Vat my kierie in jou hand en gaan. Moenie met enigiemand op die pad praat of hom groet nie. Gaan gou en sit die kierie op die seun se gesig.”

30 Maar die seun se ma sê: “So seker as die Here leef en u self ook leef, ek sal nie huis toe gaan tensy u met my saamgaan nie.” Elisa het toe opgestaan en saam met haar gegaan.

31 Gehasi het vooruitgegaan en die kierie op die kind se gesig gesit, maar daar was geen teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom: “Die seun het nie wakker geword nie.”

32 Toe Elisa daar aankom, het die kind nog dood op die profeet se bed gelê.

33 Hy het alleen ingegaan, die deur agter hulle twee toegemaak en tot die Here gebid.

34 Toe gaan lê hy op die seun met sy mond op dié van die seun, sy oë op die seun s’n en sy hande op die kind s’n. Die seun se liggaam het begin warm word!

35 Elisa staan toe op en stap ’n paar keer heen en weer in die kamer. Toe gaan lê hy weer op die seun. Hierdie keer het die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak!

36 Elisa beveel toe vir Gehasi: “Gaan roep die Sunamitiese vrou!” Toe sy inkom, sê Elisa: “Hier, vat jou seun!”

37 Sy kom toe in, val voor hom neer en buig voor hom, oorstelp van dankbaarheid. Sy het haar seun opgetel en hom ondertoe gedra.

Wonderdade tydens ’n

hongersnood

38 Elisa het teruggegaan na Gilgal toe. Daar was egter hongersnood in die land. Eendag, terwyl ’n groep jong profete voor hom sit, sê hy vir sy dienaar: “Sit ’n groot pot op die vuur en maak ’n bredie vir die jong profete.”

39 Een van die jong mans gaan toe om kruie in die veld te soek. Hy kom af op ’n rank met wilde komkommers en pluk daarvan ’n sak vol. Toe hy terugkom, sny hy dit stukkend in die pot sonder dat hy geweet het wat dit was.

40 Hulle het die bredie opgeskep, maar nadat hulle ’n hap of twee geëet het, roep hulle: “Man van God, daar is gif in die bredie!” Hulle kon nie verder eet nie.

41 Elisa sê toe vir hulle: “Bring vir my ’n bietjie meel.” Hy neem dit, gooi dit in die pot en sê: “Nou is dit weer eetbaar. Gaan gerus aan met die ete.” Toe hulle dit eet, was dit nie meer sleg nie.

42 Op ’n dag bring ’n man van Baäl-Salisa vir die man van God ’n sak vars koring en twintig garsbrode van die nuwe oes. Elisa sê vir hom: “Gee dit vir die mense sodat hulle dit kan eet.”

43 “Wat?” sê sy dienaar. “Hoe kan ons 100 mense met so min kos gee?”

Maar Elisa het herhaal: “Gee dit vir die mense sodat hulle kan eet, want die Here sê daar sal genoeg vir almal wees. Daar sal selfs nog oorbly!”

44 En sowaar, daar was genoeg vir almal en hulle het nog kos oorgehou, net soos die Here gesê het.

2 KONINGS 5

Naäman gesond gemaak

1 Naäman was die koning van Aram se bevelvoerder van die leër. Hy was ’n belangrike man en hoog in aansien by die koning, want die Here het deur hom groot oorwinnings aan Aram gegee. Hoewel Naäman ’n magtige krygsman was, was hy melaats.

2 Die Arameërs het strooptogte in die land Israel uitgevoer en ’n jong Israelitiese meisie gevang. Sy het die diensmeisie van Naäman se vrou geword.

3 Sy het vir haar meesteres gesê: “As Meneer net na die profeet in Samaria kan gaan, sal hy hom van sy melaatsheid gesond maak.”

4 Naäman het die koning gaan vertel wat die meisie uit Israel gesê het.

5 “Gaan gerus,” sê die koning van Aram. “Ek sal ’n brief skryf wat jy vir die koning van Israel kan gee.” Naäman het toe gegaan. Hy het 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en tien stelle klere saamgeneem.

6 Hy het die brief aan die koning van Israel gegee. Dit het gelui: “Ek stuur my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe sodat jy hom van sy melaatsheid kan gesond maak.”

7 Toe die koning van Israel dit lees, het dit hom ontstel sodat hy sy klere geskeur het en sê: “Hierdie man stuur ’n melaatse na my toe om hom gesond te maak! Is ek dan God wat kan doodmaak en laat lewe? Kyk, hy soek net moeilikheid met my!”

8 Elisa, die man van God, het gehoor van die koning se reaksie en stuur toe vir hom ’n boodskap: “Hoekom is u so ontsteld? Stuur Naäman na my toe. Dan sal hy agterkom dat daar ’n ware profeet in Israel is.”

9 Naäman het met sy perde en strydwaens gekom en voor Elisa se huis gewag.

10 Maar Elisa het ’n boodskap aan hom gestuur: “Gaan en was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal jou liggaam herstel en sal jy van die melaatsheid gesond word.”

11 Maar Naäman het baie kwaad weggegaan en gesê: “Ek het gedink hy sal uitkom en my ontmoet! Ek het verwag dat hy sy hand oor die melaatsheid sou waai en die Naam van die Here sy God aanroep en so vir my gesond maak!

12 Is die Abana en Parpar van Damaskus nie beter riviere as al die riviere van Israel saam nie? Hoekom kan ek my nie in een van hulle gaan was en so gesond word nie?” Naäman het toe omgedraai en in woede weggegaan.

13 Maar sy amptenare het probeer om hom te oortuig en gesê: “Meneer, as die profeet gesê het dat u een of ander moeilike ding moes doen, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy sê: ‘Gaan en was jou en jy sal gesond word’?”

14 Naäman het toe afgegaan na die Jordaanrivier toe en hom sewe keer in die rivier gewas, soos die man van God hom beveel het. Toe word sy vel gesond soos dié van ’n jong seun s’n. Hy was volkome genees!

15 Naäman en sy hele gevolg gaan toe terug na die man van God toe. Hy het voor hom gestaan en gesê: “Nou weet ek dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel. Aanvaar asseblief my geskenk.”

16 Maar Elisa antwoord hom: “So seker as die Here leef, Hy vir wie ek dien, ek sal geen geskenke aanvaar nie.” Naäman het daarop aangedring dat hy die geskenk aanvaar, maar Elisa het geweier.

17 Naäman sê toe: “As u dit nie wil neem nie, sal u toelaat dat ek twee muilvragte grond kry om saam te vat? Van nou af sal ek nooit weer brandoffers of ander offers aan enige god bring nie as net aan die Here.

18 Maar mag die Here my vergewe ten opsigte van hierdie één ding: Wanneer my heer die koning ingaan in die tempel van die god Rimmon om daar te aanbid en op my arm leun, mag die Here my vergewe wanneer ek ook moet buig in die tempel van Rimmon.”

19 “Gaan in vrede,” antwoord Elisa. Naäman het toe sy terugtog begin.

Gehasi se inhaligheid

Toe hy ’n entjie weg was,

20 sê Gehasi, die dienaar van Elisa die man van God, vir homself: “My heer moes nie toegelaat het dat hierdie Arameër Naäman weggaan sonder om ’n geskenk te aanvaar uit alles wat hy saamgebring het nie. So seker as die Here leef, ek sal hom agternasit en iets by hom kry.”

21 Gehasi het hom toe agternagesit.

Toe Naäman sien hoe hy agter hom aan hardloop, klim hy af van sy wa en gaan om hom te ontmoet. “Is daar iets verkeerd?” vra Naäman.

22 “Nee, alles is reg,” antwoord Gehasi. “My meester het my gestuur om vir u te sê twee jong profete het so pas uit die Efraimsberge aangekom. Hy sou graag 34 kilogram silwer en twee stelle klere wou hê om vir hulle te gee.”

23 “Sekerlik, maar vat 68 kilogram silwer,” sê Naäman. Hy het by hom daarop aangedring om die 68 kilogram silwer en twee stelle klere te neem. Dit het hy in twee sakke gepak en saam met die twee stelle klere aan twee van sy dienaars gegee om dit voor Gehasi uit te dra.

24 Toe hulle by die heuwel kom, vat Gehasi die geskenke by die dienaars en steek dit weg in sy huis. Daarna het hy die manne teruggestuur.

25 Toe hy by die profeet kom, vra Elisa vir hom: “Waar was jy, Gehasi?”

“Ek was nêrens heen nie,” antwoord hy.

26 Maar Elisa sê vir hom: “Het my hart nie saamgegaan toe ’n man van sy wa afgeklim het om jou te ontmoet nie? Is dit die tyd om geld en klere, olyfboorde en wingerde, skape en beeste, slawe en slavinne in die hande te kry?

27 Omdat jy dit gedoen het, sal jy en jou nageslag vir altyd ly aan die melaatsheid van Naäman.” Toe Gehasi die vertrek verlaat, was hy reeds melaats, so wit soos sneeu.

2 KONINGS 6

Die byl wat dryf

1 Op ’n keer kom die groep profete na Elisa toe en sê vir hom: “Soos u kan sien, is hierdie plek waar ons saam met u byeenkom, te klein vir ons.

2 Laat ons afgaan na die Jordaanrivier toe waar elkeen ’n paal kan gaan kap. Ons kan daar ’n nuwe vergadersaal bou.”

“Goed,” sê hy. “Gaan gerus.”

3 “Kom tog saam met ons!” vra een van hulle.

“Goed, ek kom saam,” sê hy.

4 Hy het saam met hulle gegaan. Toe hulle by die Jordaan aankom, begin hulle bome afkap.

5 Terwyl een van hulle besig was om ’n boom te kap, val sy byl in die water. “Ag, Meneer!” roep hy uit. “Dit is ’n geleende byl!”

6 “Waar het dit ingeval?” vra die man van God. Die man wys toe vir hom die plek. Elisa het ’n stok afgekap en dit in die water gegooi. Die byl het boontoe gekom en gedryf.

7 “Gryp dit,” sê Elisa vir hom. Die man het sy hand uitgesteek en dit gegryp.

Elisa uitoorlê die Arameërs

8 Die koning van die Arameërs was in ’n oorlog teen Israel gewikkel. Hy het met sy offisiere beraadslaag en gesê: “Ons sal ons kamp op dié en dié plek opslaan.”

9 Elisa, die man van God, het egter dadelik die koning van Israel gewaarsku: “Moenie naby daardie plek gaan nie, want die Arameërs trek daarheen op.”

10 Dan het die koning boodskappers na die plek gestuur waarvan die man van God gepraat het en die mense gewaarsku. Hulle was dus op hulle hoede. Dit het etlike kere gebeur.

11 Hieroor was die koning van Aram baie ontsteld. Hy roep toe sy offisiere en vra hulle: “Wie van julle is die verraaier? Wie is dit wat die koning van Israel oor my planne inlig?”

12 “Dis nie ons nie, o Koning,” antwoord een van die offisiere. “Elisa, die profeet in Israel, vertel alles aan die koning van Israel. Selfs wat u in u slaapkamer sê, is aan hom bekend!”

13 Die koning van Aram beveel hulle toe: “Gaan en stel vas waar Elisa is. Dan stuur ek troepe om hom te vang.”

Hy kry toe berig: “Elisa is in Dotan.”

14 Een nag stuur die koning van Aram toe ’n groot leër en baie perde en strydwaens om die dorp te omsingel.

15 Toe die dienaar van die man van God die volgende môre vroeg opstaan en buitentoe gaan, sien hy oral net troepe, perde en strydwaens.

Benoud roep hy vir Elisa: “Ag, Meneer, wat moet ons nou maak?”

16 “Moenie bang wees nie!” sê Elisa vir hom. “Daar is meer aan ons kant as aan hulle kant!”

17 Toe bid Elisa: “Here, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien!” Die Here het sy dienaar se oë oopgemaak. Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was.

18 Toe die Aramese leër naderkom, bid Elisa: “Here, slaan hulle tog met blindheid!” Die Here het gedoen soos Elisa gevra het.

19 Elisa sê toe vir hulle: “Julle is op die verkeerde pad! Dis ook nie die regte stad nie! Volg my en ek sal julle neem na die man vir wie julle soek.”

So het hy hulle na Samaria toe gelei.

20 Net toe hulle Samaria binnegaan, bid Elisa: “Here, laat hulle weer sien.” Die Here het hulle oë oopgemaak en toe hulle opkyk, is hulle binne-in Samaria!

21 Toe die koning van Israel hulle sien, roep hy vir Elisa: “Moet ek hulle doodmaak, my vader, moet ek hulle doodmaak?”

22 “Natuurlik nie!” sê Elisa vir hom. “Maak jy die krygsgevangenes dood wat jy met jou swaard en boog gevang het? Gee vir hulle kos en iets om te drink sodat hulle kan teruggaan na hulle koning toe.”

23 Die koning het toe ’n groot fees vir hulle voorgesit en hulle toe teruggestuur na hulle koning toe. Daarna het die Aramese plunderaars nie weer die land Israel binnegeval nie.

Ben-Hadad beleër Samaria

24 ’n Tyd later het koning Ben-Hadad van Aram egter sy hele leër opgeroep en Samaria beleër.

25 Daar het toe ’n ernstige hongersnood in die stad ontstaan. Na ’n tyd is ’n donkiekop verkoop vir een kilogram silwer, en ’n handjie vol duiwemis vir omtrent 50 gram silwer.

26 Op ’n dag, terwyl die koning op die stadsmuur verbyloop, roep ’n vrou na hom: “Help my tog, my heer die koning!”

27 “As die Here jou nie help nie, wat kan ek dan doen?” antwoord hy. “Ek het geen kos van die dorsvloer of wyn uit die parskuip om vir jou te gee nie.

28 Maar wat is jou probleem?” vra die koning. Sy antwoord: “Hierdie vrou het voorgestel: ‘Gee jou seun dat ons hom vandag kan eet, dan eet ons my seun môre.’

29 Toe het ons my seun gekook en opgeëet. Die volgende dag sê ek: ‘Maak jou seun dood sodat ons hom kan eet,’ maar sy wou nie en het haar seun weggesteek.”

30 Toe die koning dit hoor, skeur hy sy klere van radeloosheid. Soos die koning al met die muur loop, merk die mense dat hy ’n roukleed onder sy klere dra.

31 “Mag God my tref as ek vandag Elisa seun van Safat se kop aan sy lyf laat bly,” sê die koning.

32 Elisa het in sy huis gesit en praat met die leiers van Israel. Die koning het ’n boodskapper vooruit gestuur, maar voordat hy daar aankom, sê Elisa vir die leiers: “Kyk, die moordenaarskind het iemand gestuur om my kop af te kap. Wanneer hy hier aankom, moet julle die deur sluit en hom buite hou. Sy koning is kort agter hom.”

33 Terwyl Elisa besig was om dit te sê, kom die boodskapper daar aan met die boodskap: “Die koning sê: Die Here het al hierdie ellende oor ons gebring! Hoekom moet ek nog langer vir die Here wag?”

2 KONINGS 7

1 Elisa het geantwoord: “Luister na hierdie boodskap van die Here! Dis wat die Here sê: ‘Môre, teen hierdie tyd, sal vyf kilogram meel of dubbel soveel gars net elf gram silwer hier in die poort van Samaria kos.’”

2 Die adjudant, vertroueling van die koning, sê vir die man van God: “Dit kan nie gebeur nie, selfs al sou die Here die vensters van die hemel oopmaak!”

Maar Elisa antwoord hom: “Jy sal met jou eie oë sien hoe dit gebeur, maar jy sal niks daarvan kan eet nie!”

Die melaatses besoek die

Aramese kamp

3 Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort. “Hoekom moet ons hier sit en wag om dood te gaan?” vra hulle vir mekaar.

4 “As ons die stad ingaan, sal ons sterf weens die hongersnood; en as ons hier bly, sal ons ook sterf. Ons kan maar netsowel oorgaan na die Arameërs se kamp toe. As hulle ons laat lewe, dan lewe ons. As hulle ons doodmaak, dan is ons dood.”

5 Skemerdonker gaan hulle na die Arameërs se kamp toe. Toe hulle by die kant van die Arameërs se kamp kom, kry hulle ’n groot verrassing: Daar was niemand nie!

6 Die Here het dit so bewerk dat die leër van Aram die gedreun van strydwaens, die galop van perde en die gedruis van ’n naderende leër gehoor het. “Die koning van Israel het seker die konings van die Hetiete en die Egiptenaars gehuur om ons aan te val!” roep hulle uit.

7 Dit was skemeraand toe hulle halsoorkop gevlug het. Hulle tente, perde, donkies en al hulle besittings het hulle net so agtergelaat en vir hulle lewens gevlug.

8 Toe hierdie melaatses by die kant van die kamp aankom, het hulle by ’n tent ingegaan. Hulle het geëet en gedrink. Hulle het ook silwer, goud en klere daar gekry en dit gaan wegsteek. Hulle het ook by ’n ander tent ingegaan, goed gevat en dit begrawe.

9 Daarna sê hulle vir mekaar: “Wat ons doen, is nie reg nie. Dit is ’n dag van wonderlike nuus en ons sê niemand daarvan nie! As ons wag tot dit lig word, sal ’n onheil ons tref. Kom ons gaan en vertel dit by die paleis van die koning.”

10 Hulle gaan toe na die stad, roep na die poortwagters en vertel hulle wat gebeur het: “Toe ons by die Arameërs se kamp kom, ontdek ons daar was nie ’n mens te sien of te hoor nie. Daar was net perde en donkies wat vasgemaak was en die tente het almal nog net so daar gestaan.”

11 Die poortwagters het geskreeu en die nuus oorgedra aan die koning in die paleis.

Israel plunder die kamp

12 In die middel van die nag het die koning opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal vir julle sê wat die Arameërs se plan met ons is! Hulle weet ons het nie kos nie. Daarom het hulle die kamp verlaat en êrens in die veld gaan wegkruip. Hulle dink: ‘Kom ons wag dat hulle uitgaan uit die stad. Dan sal ons hulle lewendig vang en self die stad binnegaan.’”

13 Een van sy amptenare antwoord: “Laat ’n paar manne vyf van die perde wat oorgebly het, vat en gaan vasstel wat is wat. As daar iets met hulle gebeur, sal dit nie ’n groter verlies wees as wanneer hulle hier bly en saam met ons sterf nie.”

14 Twee strydwaens met hulle perde is toe gereedgemaak. Die koning het hulle gestuur om te kyk wat van die Aramese leër geword het.

15 Hulle het tot by die Jordaanrivier agter hulle aangegaan. Die hele pad was besaai met klere en ander goedere wat die Arameërs weggegooi het in hulle haas om te vlug. Die verkenners het teruggekom en dit vir die koning vertel.

16 Toe het die inwoners van Samaria uit die stad gestorm en die Arameërs se kamp geplunder. So het dit dan gebeur dat vyf kilogram meel of dubbel die hoeveelheid gars net ’n sikkel silwer gekos het, net soos die Here belowe het.

17 Die koning stel toe die adjudant, sy vertroueling, aan om die oorvloed bedrywighede by die poort te beheer. Maar die inwoners het hom in die poort doodgetrap.

Alles het net so gebeur soos wat die man van God gesê het toe die koning na sy huis toe gekom het.

18 Die man van God het mos vir die koning gesê: “Môre, teen hierdie tyd, sal vyf kilogram meel of dubbel soveel gars net elf gram silwer hier in die poort van Samaria kos.”

19 Die koning se adjudant het toe vir die man van God gesê: “Dit kan nie gebeur nie, selfs al sou die Here die vensters van die hemel oopmaak!” En die man van God het geantwoord: “Jy sal met jou eie oë sien hoe dit gebeur, maar jy sal niks daarvan kan eet nie!”

20 Dit het presies so gebeur, want die menigte het hom in die stadspoort doodgetrap.

2 KONINGS 8

Die vrou uit Sunem gaan terug

huis toe

1 Elisa het vir die vrou wie se seun hy weer laat lewe het, gesê: “Roep jou huisgesin bymekaar en trek weg na ’n ander plek toe, want die Here het bepaal dat daar oor Israel ’n hongersnood sal kom wat sewe jaar sal duur.”

2 Die vrou het gemaak soos die man van God vir haar gesê het. Sy en haar gesin het toe vertrek en sewe jaar lank in die land van die Filistyne gaan woon.

3 Toe die hongersnood na sewe jaar verby was, het sy teruggekeer uit die land van die Filistyne. Sy het na die koning toe gegaan en hom gesmeek om haar huis en grond weer terug te kry.

4 Die koning was besig om met Gehasi, die dienaar van die man van God, te praat. Die koning het so pas vir hom gesê: “Vertel my tog van al die groot dinge wat Elisa gedoen het.”

5 Gehasi was besig om die koning te vertel van die seun wat Elisa weer laat lewe het. Op daardie oomblik het die ma van die seun ingekom om haar versoek oor haar huis en haar grond aan die koning te stel.

“My heer!” roep Gehasi uit. “Dis die vrou, en dis haar seun, die een wat Elisa weer laat lewe het!”

6 “Is dit so?” vra die koning vir haar. Sy het hom toe alles vertel. Daarop beveel hy een van sy amptenare om haar behulpsaam te wees en sê: “Jy moet sorg dat sy alles terugkry wat aan haar behoort, ook die waarde van enige oes wat gedurende haar afwesigheid ingesamel is.”

Gasael vermoor Ben-Hadad

7 Op ’n keer het Elisa na Damaskus, die hoofstad van Aram, gegaan. Op dié tydstip was koning Ben-Hadad, die koning van Aram, siek. Iemand het vir die koning vertel dat die man van God daar aangekom het.

8 Toe die koning dit hoor, sê hy vir Gasael: “Neem geskenke en gaan na die man van God toe. Sê vir hom hy moet die Here vra of ek van hierdie siekte gesond sal word.”

9 Gasael neem toe van die mooiste handelsware van Damaskus en laai dit op 40 kamele as ’n geskenk vir Elisa. Hy het by hom gekom, voor hom gaan staan en gesê: “U dienaar Ben-Hadad, die koning van Aram, het my gestuur om te vra of hy gesond sal word.”

10 Elisa het geantwoord: “Gaan en sê vir hom: ‘Jy sal beslis gesond word.’ Maar die Here het aan my bekendgemaak dat hy beslis sal sterf.”

11 Elisa het stip na Gasael gekyk sodat Gasael ongemaklik geword het. Toe het die man van God in trane uitgebars.

12 “Waarom huil U, Meneer?” vra Gasael.

Elisa antwoord hom: “Ek huil omdat ek weet van die verskriklike dinge wat jy die Israeliete sal aandoen. Jy sal hulle vestings afbrand, hulle jong mans doodmaak, hulle kinders teen die grond verpletter en hulle swanger vroue oopsny!”

13 Gasael antwoord: “Hoe kan ek, wat niksbeduidend is, so iets doen?”

Maar Elisa antwoord: “Die Here het vir my bekendgemaak dat jy koning oor Aram sal word.”

14 Gasael het van Elisa teruggegaan en by die koning aangekom. Die koning vra hom: “Wat het Elisa vir jou gesê?”

Hy antwoord: “Hy het gesê u sal beslis gesond word.”

15 Die volgende dag het Gasael ’n doek gevat, dit met water deurweek en dit oor die koning se gesig gegooi sodat die koning gesterf het. Gasael het hom as koning van Aram opgevolg.

Joram word koning in Juda

16 In die vyfde jaar van koning Joram van Israel, seun van Agab, het Joram, seun van koning Josafat, sy pa in Juda opgevolg.

17 Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en het agt jaar in Jerusalem regeer.

18 Maar Joram het die slegte voorbeeld gevolg van die konings van Israel net soos die dinastie van Agab gedoen het, want hy was met een van Agab se dogters getroud. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here.

19 Maar die Here wou Juda nie vernietig nie omdat Hy sy dienaar Dawid beloof het dat sy nageslag vir altyd op sy troon sal sit.

20 Tydens Joram se bewind het die Edomiete teen Juda in opstand gekom en hulle eie koning aangestel.

21 Joram het sy strydwaens gemonster en die dorp Saïr aangeval. Die Edomiete het hom en sy strydwa-offisiere omsingel. In die nag slaag hy om deur te breek, maar sy leër het huis toe gevlug.

22 Daarna was Edom onafhanklik van Juda tot vandag toe. In daardie tyd het die dorp Libna ook in opstand gekom.

23 Die ander gebeurtenisse tydens Joram se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

24 Hy het gesterf en is in die familiegraf in die Dawidstad begrawe.

Sy seun Ahasia het hom as koning opgevolg.

Ahasia regeer oor Juda

25 Ahasia, seun van Joram, het koning geword in die twaalfde jaar van koning Joram van Israel. Koning Joram was die seun van Agab.

26 Ahasia was 22 jaar oud toe hy koning geword het en hy het een jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n kleindogter van koning Omri van Israel.

27 Ahasia het die slegte voorbeeld van koning Agab se familie gevolg. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here omdat hy in die familie van Agab ingetrou het.

28 Ahasia het aangesluit by koning Joram van Israel, die seun van Agab, wat besig was om oorlog te maak teen koning Gasael van Aram by Ramot in Gilead. Die Arameërs het koning Joram in die geveg gewond.

29 Hy het teruggegaan na Jisreël toe om te herstel van sy wonde wat die Arameërs hom in Ramot toegedien het. Dit het gebeur tydens die oorlog met Gasael, koning van Aram.

Koning Ahasia van Juda het Joram, die seun van Agab, daar in Jisreël besoek omdat hy siek was.

2 KONINGS 9

Jehu as koning van Israel gesalf

1 Intussen het die profeet Elisa een van die groep profete geroep en gesê: “Maak jou gereed en gaan gou na Ramot in Gilead. Vat hierdie fles met olie saam.

2 Wanneer jy daar kom, sal jy vir Jehu seun van Josafat en kleinseun van Nimsi sien. Laat hom opstaan tussen sy offisiere, lei hom na ’n agterkamer wég van hulle af.

3 Vat die fles en gooi die olie uit op sy kop. Sê vir hom: ‘Dis wat die Here sê: Ek salf jou tot koning oor Israel.’

“Maak dan die deur oop en vlug vir jou lewe.”

4 Die jong man, die profeet, het so gemaak en na Ramot in Gilead gegaan.

5 Toe hy daar aankom, kry hy vir Jehu wat saam met ander offisiere beraadslaag. “Ek het ’n boodskap vir u, Generaal,” sê hy.

“Vir watter een van ons?” vra Jehu.

“Vir u, Generaal,” antwoord hy.

6 Jehu het toe die vergadering verlaat en die huis binnegegaan. Toe vat die profeet die fles en giet die olie uit op Jehu se kop en sê: “Dit is wat die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek salf jou as koning oor die Here se volk Israel.

7 Jy moet die koningshuis van Agab uitroei. Op hierdie manier sal Ek die bloed van my dienaars die profete wreek en die bloed van al die dienaars van die Here wat Isebel doodgemaak het.

8 Die hele familie van Agab moet uitgeroei word. Dit geld elke manlike persoon, slaaf of vry, in Israel.

9 ‘Ek sal met die koningshuis van Agab maak soos Ek met die koningshuis van Jerobeam seun van Nebat, en met dié van Baesa seun van Agija gemaak het.

10 Die honde sal Isebel opvreet op die stuk grond in Jisreël en niemand sal haar begrawe nie.’” Toe het die profeet die deur oopgemaak en weggehardloop.

11 Jehu het teruggegaan na die offisiere van die koning. Een van hulle het vir hom gevra: “Wat wou die kranksinnige man hê? Is alles reg?”

“Jy ken mos die praatjies van so ’n mens,” antwoord Jehu.

12 “Jy vertel nie die waarheid nie,” sê hulle. “Toe, sê nou vir ons!”

Jehu antwoord hulle: “Dis wat hy gesê het: ‘Die Here salf jou as koning oor Israel.’”

13 Hulle het dadelik hulle klere voor hom op die trappe uitgesprei en op die trompet geblaas terwyl hulle skreeu: “Jehu is koning!”

Jehu maak Joram en Ahasia

dood

14 Jehu seun van Josafat en kleinseun van Nimsi het saamgesweer teen koning Joram. Joram was saam met die hele leër van Israel by Ramot in Gilead, besig om Israel teen koning Gasael van Aram te verdedig.

15 Maar Joram het na Jisreël toe teruggegaan om te herstel van die wonde wat hy opgedoen het in die geveg teen Gasael van Aram. Jehu sê vir die manskappe by hom: “As julle met my saamstem, sorg dan dat niemand wegkom uit die stad om dit in Jisreël te vertel nie.”

16 Jehu het toe op sy strydwa geklim en na Jisreël toe gery. Koning Joram het daar van sy wonde herstel en koning Ahasia van Juda het hom daar gaan besoek.

17 Terwyl die wag op die toring van Jisreël gestaan het, sien hy Jehu en sy geselskap naderkom. Hy sê: “Ek sien ’n afdeling soldate aankom!”

“Stuur ’n perderuiter uit om vas te stel of hulle in vrede kom,” antwoord Joram.

18 Die perderuiter het Jehu tegemoetgegaan en gesê: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”

Jehu antwoord hom: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”

Die wag sê toe vir die koning: “Die boodskapper het by hulle aangekom, maar hy kom nie terug nie.”

19 Toe stuur die koning ’n tweede perderuiter. Hy het tot by hulle gery en gevra: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”

Jehu het weer geantwoord: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”

20 Die wag sê weer: “Die perderuiter het by hulle aangekom, maar hy kom ook nie terug nie! Die een wat voor ry, lyk soos Jehu seun van Nimsi, want hy ry soos ’n besetene.”

21 “Gou, kry my strydwa gereed!” beveel koning Joram.

Die perde is ingespan en koning Joram van Israel het hom tegemoetgegaan. Koning Ahasia van Juda het ook op sy wa geklim en saamgery. Hulle het Jehu by die grond wat aan Nabot van Jisreël behoort het, ontmoet.

22 Toe koning Joram vir Jehu sien, vra hy: “Kom jy in vrede, Jehu?”

Jehu antwoord: “Wat praat jy van vrede terwyl jou ma, Isebel, al hierdie afgodery en toordery beoefen?”

23 Toe draai koning Joram sy strydwa om en vlug terwyl hy vir koning Ahasia skree: “Verraad, Ahasia!”

24 Maar Jehu het sy boog gespan en Joram tussen sy blaaie getref. Die pyl het sy hart deurboor sodat hy op sy strydwa inmekaargesak het.

25 Jehu beveel toe vir Bidkar, sy luitenant: “Vat hom en gooi hom op die grond van Nabot van Jisreël. Onthou jy toe ek en jy saam agter sy pa, Agab, aangery het? Die Here het toe hierdie uitspraak gemaak:

26 ‘So seker as Ek gister die bloed van Nabot en sy seuns gesien het, so seker sal Ek hom hier op dieselfde stuk grond vergeld.’ Daarom, vat hom en gooi hom op Nabot se grond soos die Here gesê het.”

27 Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, vlug hy in die rigting van Bet-Gan. Jehu het hom agternagesit en geskreeu: “Skiet hom ook!” By die hoogte van Gur naby Jibleam het hulle hom op sy strydwa gewond. Hy kon tot by Megiddo vlug, maar het daar gesterf.

28 Sy dienaars het hom op ’n strydwa na Jerusalem toe geneem en hom daar in die familiegraf in die Stad van Dawid begrawe.

29 Ahasia het in die elfde jaar van koning Joram se bewind in Israel koning van Juda geword.

Die dood van Isebel

30 Toe Isebel, die koninginmoeder, hoor dat Jehu na Jisreël toe gekom het, het sy haar oë geverf, haar hare mooi gemaak en by ’n venster uitgekyk.

31 Toe Jehu die poort binnekom, roep sy na hom: “Kom jy in vrede, jou moordenaar? Jy is nes Simri wat sy koning vermoor het.”

32 Jehu het opgekyk en toe hy haar by die venster sien, roep hy: “Wie is aan my kant? Ja, wie?” Twee of drie paleisamptenare het afgekyk na hom toe.

33 “Gooi haar af!” skree Jehu. Hulle gooi haar toe daar af sodat haar bloed teen die muur en die perde gespat het. Die perde het haar daar vertrap.

34 Jehu het toe die paleis binnegegaan en daar geëet en gedrink. Daarna sê hy: “Iemand moet tog aandag gee aan hierdie vervloekte vrou. Gaan begrawe haar. Sy is immers ’n koningsdogter.”

35 Hulle het gegaan om haar te begrawe, maar net haar kopbeen, voete en handpalms gekry.

36 Toe hulle terugkom en dit vir Jehu vertel, sê hy: “Dis volgens die woord van die Here toe Hy deur sy dienaar, Elia die Tisbiet, gesê het: ‘By die stuk grond in Jisreël sal die honde Isebel opvreet.

37 Haar liggaam sal soos mis verstrooi word op die stuk grond in Jisreël sodat niemand haar meer sal kan herken nie.”

2 KONINGS 10

Jehu roei Agab se familie uit

1 Agab het 70 seuns gehad wat in Samaria gewoon het. Jehu skryf toe briewe en stuur dit na Samaria toe, na die regeerders van Jisreël, na die leiers en na die oppassers van koning Agab se seuns. In die brief sê hy:

2 “Die koning se seuns is daar by julle en julle het strydwaens, perde, ’n versterkte stad en wapens. Sodra julle hierdie brief ontvang,

3 moet julle die beste en bekwaamste van koning Agab se seuns as koning aanwys. Wees dan gereed om vir Agab se koningshuis te veg.”

4 Maar hulle was doodbang en sê: “Twee konings kon nie teen hierdie man weerstand bied nie! Hoe sal ons dit kan doen?”

5 Gevolglik het die paleisbestuurder en die persoon in beheer van die stad, asook die ander leiers en die oppassers van die koning se seuns die volgende brief aan Jehu gestuur:

“Ons is u dienaars en sal enigiets doen wat u ons beveel. Ons sal niemand koning maak nie. Doen wat u dink die beste is.”

6 Jehu het ’n tweede brief gestuur:

“As julle aan my kant is en vir my wil luister, moet julle môre teen hierdie tyd die koppe van die koning se seuns na my toe bring in Jisreël.”

Die 70 seuns van die koning is versorg deur vooraanstaandes van die stad wat hulle moes grootmaak.

7 Toe die leiers die brief ontvang, het hulle die koning se seuns geneem en al 70 doodgemaak. Hulle het die koppe in mandjies gesit en dit na Jehu in Jisreël gestuur.

8 Die boodskapper het gekom en gesê: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring.” Jehu beveel toe: “Sit dit in twee hope by die poort van die stad en los dit daar tot môre-oggend.”

9 Die volgende oggend gaan hy buitentoe en gaan staan daar in die poort. Hy sê vir die groeiende skare: “Julle is onskuldig. Kyk, dis ek wat teen die koning saamgesweer en hom doodgemaak het. Maar wie het al hierdie mense doodgemaak?

10 Weet dan dat niks van wat die Here aangaande Agab se familie gesê het, onvervul sal bly nie. Die Here het gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia aangekondig het.”

11 Daarna het Jehu al Agab se bloedverwante wat nog in Jisreël oor was, doodgemaak, asook al die vooraanstaandes, sy vriende en sy priesters. So het dit gebeur dat daar vir Agab niemand oorgebly het nie.

12 Toe het Jehu na Samaria toe vertrek. Op pad, by Bet-Eked-Roïm,

13 kom hy bloedverwante van koning Ahasia van Juda teë. “Wie is julle?” vra hy.

Hulle antwoord hom: “Ons is naasbestaandes van koning Ahasia. Ons is op pad om die seuns van die koning en van die koninginmoeder te besoek.”

14 “Vang hulle lewendig!” beveel Jehu. Hulle het toe al 42 gevang en net daar by die put van Bet-Eked doodgemaak. Nie een van hulle het oorgebly nie.

15 Toe Jehu verder gaan, kry hy vir Jonadab seun van Rekab wat hom tegemoetkom. Nadat hy hom gegroet het, sê Jehu vir hom: “Is jy lojaal aan my soos ek lojaal is aan jou?”

“Ja, ek is,” antwoord Jonadab.

“As jy is,” sê Jehu, “gee my dan jou hand.” Jonadab gee hom toe sy hand en Jehu het hom op sy wa laat klim.

16 Daarna sê Jehu: “Kom saam met my en jy sal my toewyding aan die Here sien.” Jonadab het toe saam met hom gery.

17 Toe Jehu in Samaria aankom, het hy almal doodgemaak wat nog oor was van Agab se bloedverwante. Hy het hulle uitgeroei soos die Here deur Elia gesê het.

Jehu maak die profete van Baäl

dood

18 Daarna het Jehu al die inwoners van die stad bymekaargeroep en gesê: “Agab se verering van Baäl is niks in vergelyking met wat ek sal doen nie!

19 Roep nou al die profete en aanbidders van Baäl, asook al die priesters na my toe. Niemand mag wegbly nie, want ek gaan ’n groot offer aan Baäl bring. Enigeen wat nie opdaag nie, sal doodgemaak word.” Maar eintlik was Jehu van plan om al die Baälaanbidders uit te roei.

20 Toe beveel Jehu: “Heilig ’n byeenkoms ter ere van Baäl!” Hulle het dit gedoen.

21 Hy het boodskappers deur die hele Israel gestuur om die Baälaanbidders op te roep. Hulle almal het gekom; niemand het weggebly nie. Hulle het ingegaan in die Baältempel sodat dit van hoek tot kant vol was.

22 Jehu het aan die persoon in bevel van die klerekamer gesê: “Maak seker dat elke aanbidder van Baäl een van hierdie kledingstukke aanhet.” Daar is toe aan hulle klere uitgedeel.

23 Daarna het Jehu saam met Jonadab seun van Rekab die tempel binnegegaan. Toe sê Jehu vir die Baälaanbidders: “Kyk goed dat net aanbidders van Baäl hier is. Sorg dat geen aanbidder van die Here hier inkom nie!”

24 Toe hulle ingaan in die tempel om offers en brandoffers te bring, het Jehu 80 van sy manne buitekant opgestel. Hy het hulle beveel: “As julle enigeen toelaat om te vlug, sal julle met julle eie lewens daarvoor boet.”

25 Net nadat Jehu die brandoffer gebring het, beveel hy die hardlopers en offisiere: “Gaan in en maak hulle almal dood. Nie een van hulle mag uitkom nie!” Hulle het hulle toe met die swaard doodgemaak en die wagte en offisiere het die liggame buitentoe gesleep. Daarna het hulle ingegaan in die binneste heiligdom van die Baältempel,

26 die Asjerapaal uit die Baältempel uitgebring en verbrand.

27 Hulle het die heilige klippilaar van Baäl stukkend geslaan, die tempel van Baäl verwoes en dit omskep in toilette, soos dit vandag nog is.

28 So het Jehu elke teken van Baälaanbidding in Israel uitgeroei.

29 Hy het egter nie die goue kalwers in Bet-El en Dan vernietig nie. Daarom het Israel die verering daarvan voortgesit, net soos Jerobeam seun van Nebat gedoen het.

30 Nogtans het die Here vir Jehu gesê: “Jy het goed gedoen deur my bevele uit te voer, naamlik om die familie van Agab uit te roei. Omdat jy reg gedoen het, sal Ek toesien dat jou kinders tot in die vierde geslag konings van Israel sal wees.”

31 Maar Jehu het nie die bevele van die Here, die God van Israel, heelhartig gehoorsaam nie. Hy het nie weggedoen met die afgodery wat Jerobeam Israel laat doen het nie.

Jehu se dood

32 Ongeveer hierdie tyd het die Here begin om Israel se gebied kleiner te maak. Koning Gasael het verskeie dele van die land verower.

33 Dit was die streke oos van die Jordaanrivier, die hele Gilead, insluitend die stamme Gad, Ruben en Manasse, vanaf die dorp Aroër by die Arnonrivier, sowel Gilead as Basan.

34 Die ander gebeurtenisse tydens Jehu se bewind, wat hy gedoen het en sy dapper dade, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

35 Toe Jehu sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Joahas het hom as koning opgevolg.

36 Jehu het altesaam 28 jaar in Samaria oor Israel geheers.