1 TIMOTEUS 1

1 Paulus skryf aan sy geloofskind

Timoteus en stuur ’n seëngroet

Hierdie brief kom van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus, aangestel op bevel van God ons Verlosser en Christus Jesus ons hoop.

2 Ek skryf aan Timoteus, my ware kind in die geloof.

Mag die genade, die ontferming en die vrede van God ons Vader en Christus Jesus ons Here met jou wees.

Wakkerloop vir allerlei vals

leerstellings!

3 Toe ek na Masedonië vertrek het, het ek by jou aangedring om daar in Efese te bly en dié wat vals leerstellings verkondig, te verbied.

4 Moenie dat mense tyd mors met eindelose spekulasies oor mites en geslagsregisters nie. Want hierdie dinge veroorsaak net twisgesprekke; dit bevorder nie ’n lewenspatroon van geloof in God nie.

5 Die doel van my opdrag is dat al die Christene daar vervul sal wees met liefde wat uit ’n rein hart, ’n skoon gewete en opregte geloof kom.

6 Maar sommige leermeesters het hiervan afgewyk en bestee hulle tyd aan argumente en verval in dwase praatjies.

7 Hulle wil bekend wees as leermeesters van die wet van Moses, maar hulle verstaan nie wat hulle sê nie.

8 Ons weet dat die wet goed is as ’n mens dit gebruik soos God dit bedoel het

9 en besef die wet is nie soseer gemaak vir mense wat reg optree nie, maar eerder vir mense wat ongehoorsaam en opstandig is, wat teen God is en sondig, wat niks as heilig beskou nie en dit wat heilig is, besoedel; wat hulle vader of moeder of ander mense doodmaak.

10 Die wet is vir mense wat seksueel immoreel is, vir seksuele perverte, vir slawehandelaars, vir leuenaars, eedbrekers en vir hulle wat enigiets anders doen wat die gesonde leer weerspreek –

11 dié leer wat ooreenstem met die heerlike Goeie Nuus wat aan my toevertrou is deur ons goeie God.

God se genade het my ’n

voorbeeld van sy geduld

12 Hoe dankbaar is ek teenoor Christus Jesus ons Here. Hy het my krag gegee en betroubaar geag om my in sy diens te stel,

13 selfs al het ek voorheen die Naam van Christus belaster. Ek het sy mense vervolg en hulle mishandel. Maar God het sy genade aan my bewys omdat ek dit uit onkunde en ongeloof gedoen het.

14 Hoe oorvloedig was die onverdiende goedheid van ons Here nie en hoe het Hy my nie oorlaai met geloof en met die liefde wat ons deel word wanneer ons aan Christus Jesus verbind word nie.

15 Dit is ’n betroubare boodskap, een wat verdien om ten volle aanvaar te word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red, en ek was die ergste van hulle almal.

16 Maar juis daartoe was God my genadig dat Christus Jesus aan my, die ergste sondaar van almal, God se groot geduld kon illustreer en my as voorbeeld kon gebruik vir hulle wat nog sal glo en só die ewige lewe sal ontvang.

17 Aan die ewige Koning, die onsterflike, onsigbare, enigste God, die eer en die heerlikheid vir ewig en altyd. Amen.

Timoteus, hou vas aan jou

geloof in Christus!

18 Timoteus, my kind, hiermee gee ek my opdrag aan jou, gegrond op die profetiese woorde wat voorheen oor jou uitgespreek is. Mag daardie woorde jou die selfvertroue gee om goed te veg in die Here se veldslae.

19 Hou styf vas aan jou geloof, en hou altyd jou gewete skoon. Want sommige mense het opsetlik hulle gewete eenkant gestoot en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely.

20 Himeneus en Aleksander is twee voorbeelde hiervan. Ek het hulle aan Satan oorgegee sodat hulle sal leer om God nie te belaster nie.

1 TIMOTEUS 2

Bid vir alle mense, ook vir

almal in gesagsposisies

1 Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid met smeking, voorbidding en danksegging.

2 Bid só vir konings en alle ander in gesagsposisies sodat ons in vrede en rustigheid, toewyding en eerbaarheid kan lewe.

3 So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser,

4 want Hy wil dat almal verlos word en die waarheid verstaan.

5 Want daar is net een God

en een Middelaar

wat God en mens kan versoen.

Hy is die mens Christus Jesus.

6 Hy het sy lewe gegee

om vryheid vir elkeen te koop.

Dit is die boodskap wat God

aan die wêreld gegee het

op die bestemde tyd.

7 En ek is gekies – dit is die absolute waarheid – as ’n prediker en apostel om die nie-Joodse nasies te onderrig in geloof en waarheid.

Mans en vroue moet op gepaste

wyse aan byeenkomste

8 Waar julle ook al vergader, wil ek hê mans moet bid met hulle hande opgehef na God, vry van woede en twis.

9 En ek wil hê vroue moet beskeie wees in hulle voorkoms. Hulle behoort ordentlike en paslike klere te dra en nie die aandag op hulleself te vestig deur die manier waarop hulle hulle hare tooi of goud of pêrels of duur klere dra nie.

10 Want vroue wat aanspraak daarop maak om toegewy aan God te lewe behoort hulleself aantreklik te maak deur die goeie dinge wat hulle doen.

11 Vroue behoort te luister en moet stil en onderdanig leer.

12 Ek laat vroue nie toe om mans te onderrig of oor hulle gesag uit te oefen nie. Laat hulle eerder stilweg luister.

13 Want God het Adam eerste gemaak en daarna Eva.

14 En dit was die vrou, nie Adam nie, wat deur Satan verlei is, en sonde was die gevolg.

15 Maar vroue sal gered word deur hulle rol as moeders te aanvaar en deur volhardend te leef in geloof, liefde, toewyding aan God en beskeidenheid.

1 TIMOTEUS 3

Ouderlinge en diakens vervul

albei ’n besondere rol in die

1 Dit is ’n betroubare woord dat as iemand ’n ouderling wil wees, hy ’n eerbare verantwoordelikheid begeer.

2 Want ’n ouderling moet ’n man wees teen wie se lewe niks ingebring kan word nie. Hy moet aan sy vrou getrou wees. Hy moet selfbeheersing aan die dag lê, met wysheid lewe en ’n goeie reputasie hê. Hy moet gasvry wees en onderrig kan gee.

3 Hy moet hom nie aan drank vergryp of gewelddadig wees nie. Hy moet sagmoedig en vredeliewend wees; hy moet ook nie geldgierig wees nie.

4 Hy moet sy eie huisgesin goed kan bestuur en op waardige wyse oor sy kinders gesag uitoefen.

5 Want as ’n man nie sy eie huisgesin kan bestuur nie, hoe kan hy vir God se gemeente sorg?

6 ’n Ouderling moet nie ’n onlangse bekeerling wees nie, want as hy so gou gekies word, kan hy dalk verwaand raak, en die duiwel sal dié verwaandheid gebruik om hom tot ’n val te bring.

7 Die buitestanders moet ook goed van hom praat sodat hy nie in die duiwel se strik trap en tot skande kom nie.

8 Op dieselfde manier moet diakens mense wees wat gerespekteer word. Hulle moenie dubbelpraters wees, hulle aan drank vergryp of geldgierig wees nie.

9 Hulle moet verbind wees aan die geopenbaarde waarheid van die Christelike geloof, en hulle moet met ’n skoon gewete leef.

10 Voordat hulle as diakens aangestel word, moet hulle eers getoets word. As dit blyk dat hulle onbesproke is, kan hulle as diakens dien.

11 Net so moet hulle vroue gerespekteer word en nie kwaad praat van ander nie. Hulle moet selfbeheersing openbaar en getrou wees in alles wat hulle doen.

12 ’n Diaken moet getrou wees aan sy vrou, en hy moet sy kinders en huishouding goed beheer.

13 Dié wat goeie diens lewer as diakens, sal beloon word met respek van ander en sal groter vrymoedigheid ontwikkel in hulle geloof in Christus Jesus.

Die hartklop van geloof in Jesus

Christus

14 Ek skryf dié dinge nou aan jou alhoewel ek hoop om binnekort by jou te wees.

15 Ingeval ek vir ’n tydjie nog nie kan kom nie, sal jy weet hoe mense hulle moet gedra in die huishouding van God – dit is die kerk van die lewende God wat die pilaar en stut van die waarheid is.

16 Sonder enige twyfel is dít die geopenbaarde waarheid van ons geloof:

Christus het as mens verskyn

en is deur die Gees

as regverdig bewys.

Hy het aan engele verskyn

en is aan die nasies verkondig.

Hy is in die wêreld geglo

en is opgeneem

in heerlikheid.

1 TIMOTEUS 4

Wees versigtig vir dwaalleraars

in die laaste tye!

1 Die Heilige Gees leer ons duidelik dat in die laaste tye sommige mense sal wegdraai van wat ons glo; hulle sal leuengeeste volg en leerstellings wat van bose geeste af kom.

2 Hierdie dwaalleraars is skynheiliges en leuenaars. Hulle gee voor om godsdienstig te wees, maar hulle gewete is dood.

3 Hulle sal sê dit is verkeerd om getroud te wees en verkeerd om sekere kosse te eet. Maar God het daardie kosse geskep om met danksegging geëet te word deur mense wat die waarheid ken en glo.

4 Aangesien alles wat God geskep het goed is, moet ons nie enigiets daarvan verwerp nie. Ons moet dit met blydskap ontvang, met dankbare harte.

5 Want ons weet dit word deur die woord van God en gebed aan God toegewy.

Wees ’n waardige dienaar in jou

onderrig en leefstyl!

6 As jy dit aan die broers en susters voorhou, sal jy jou plig doen as ’n waardige dienaar van Christus Jesus, een wat gevoed word deur die boodskap van geloof en die ware leringe wat jy navolg.

7 Moenie tyd verkwis met redenasies oor goddelose idees en ouvroustories nie. Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid.

8 Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou die belofte in van beloning, sowel in hierdie lewe as in die volgende.

9 Dit is ’n betroubare boodskap, een wat verdien om ten volle aanvaar te word.

10 Hiervoor swoeg en veg ons, want ons hoop is op die lewende God wat die Verlosser is van alle mense, en veral van dié wat glo.

11 Gee instruksies oor hierdie dinge en onderrig die mense daarvolgens.

12 Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ’n voorbeeld vir alle gelowiges deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde, jou geloof en jou integriteit.

13 Totdat ek daar opdaag, konsentreer daarop om die Skrif aan die gemeente voor te lees, die gelowiges te bemoedig en om hulle te onderrig.

14 Moenie die geestelike gawe verwaarloos wat jy ontvang het deur die profesieë wat oor jou uitgespreek is toe die ouderlinge van die gemeente jou die hande opgelê het nie.

15 Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien.

16 Let goed op jouself en jou leer. Bly getrou aan wat reg is, en jy sal jouself red sowel as almal wat na jou luister.

1 TIMOTEUS 5

1 Moet nooit onbeskof met ’n ouer man praat nie, maar spoor hom met respek aan asof hy jou eie pa is. Praat met die jonger mans soos wat jy met jou eie broers sou praat.

2 Vermaan die ouer vroue soos jou ma, en vermaan die jonger vroue met alle eerbied soos jou eie susters.

Advies oor werklik behoeftige

weduwees

3 Respekteer en versorg dié weduwees wat niemand anders het om na hulle om te sien nie.

4 Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet dié leer om hulle praktiese godsdiens heel eerste tuis te beoefen en hulle ouers en grootouers te vergoed deur hulle te versorg. Dit is iets wat God baie bly maak.

5 ’n Vrou wat ’n egte weduwee is, iemand wat werklik alleen in die wêreld is, het haar hoop op God geplaas. Dag en nag vra sy God om hulp, en bestee baie tyd in gebed.

6 Maar die weduwee wat net vir plesier leef, is geestelik dood.

7 Gee hierdie opdragte aan die gemeente sodat die weduwees wat julle onderhou, nie berispe word nie.

8 Dié wat nie hulle eie familie versorg nie, veral dié wat in dieselfde huishouding woon, verloën wat ons glo. Sulke mense is slegter as ongelowiges.

9 ’n Weduwee wat op die lys vir dienende weduwees kom, moet ’n vrou van ten minste 60 jaar oud wees. Sy moes getrou aan haar man gewees het.

10 Sy moet gerespekteer wees deur almal vanweë die goeie dade wat sy gedoen het. Het sy haar kinders goed opgevoed? Was sy gasvry teenoor vreemdelinge? Het sy ander gelowiges nederig gedien? Het sy dié wat in die moeilikheid was, gehelp? Het sy altyd reggestaan om goed te doen?

11 Die jonger weduwees moenie op die lys kom nie, want hulle liggaamlike behoeftes sal hulle toewyding aan Christus bedreig, en hulle sal wil hertrou.

12 Dan sal hulle skuldig wees aan die verbreking van hulle vorige belofte.

13 Buitendien word hulle waarskynlik lui en bestee hulle tyd deur van huis tot huis te skinder, hulle te bemoei met ander mense se besigheid en dinge te sê wat kon gebly het.

14 Daarom raai ek hierdie jonger weduwees aan om te hertrou, kinders te hê en hulle eie huise te versorg. Dan sal hulle die vyand geen aanleiding gee om ons te beskinder nie.

15 Want ek is bevrees dat sommige van hulle alreeds afgedwaal het en nou Satan volg.

16 As ’n Christenvrou weduwees in haar familie het, moet sy hulle versorg en nie die verantwoordelikheid op die gemeente afskuif nie. Dan kan die gemeente dié weduwees versorg wat werklik alleen is.

Nog advies oor ouderlinge,

siekte, en slawe

17 Ouderlinge wat hulle werk goed doen, moet ook goed betaal word, veral dié wat hard werk in prediking én lering.

18 Want die Skrif sê: “Moenie ’n os verhinder om te eet terwyl hy die graan uittrap nie.” En op ’n ander plek: “Dié wat werk, verdien hulle loon.”

19 Moenie na klagtes teen ’n ouderling luister nie, tensy daar twee of drie getuies is wat hom aankla.

20 Enigeen wat sondig, moet voor die hele gemeente berispe word sodat die ander ook op hulle hoede kan wees.

21 In die teenwoordigheid van God en Christus Jesus en die heilige engele beveel ek jou ernstig om hierdie opdragte uit te voer sonder om kant te kies of besondere guns aan enigeen te bewys.

22 Moet nooit oorhaastig ’n ouderling aanstel nie. Moenie aan ander se sondes deel hê nie. Hou jou rein van die sonde.

23 Moenie aanhou om net water te drink nie; drink ’n bietjie wyn ter wille van jou maag omdat jy so dikwels siek word.

24 Onthou, sommige mense lei openlik sondige lewens, en almal weet dat hulle geoordeel sal word. Ander weer se sondes sal eers later aan die lig kom.

25 Net só weet almal hoeveel goed sommige mense doen; ander weer se goeie dade is minder sigbaar, maar hulle kan nie verborge bly nie.

1 TIMOTEUS 6

1 Gelowiges wat slawe is, moet aan hulle eienaars volle respek betoon sodat die Naam van God en sy leringe nie beskaam word nie.

2 As jou eienaar ’n mede-Christen is, is die feit dat julle geloofsbroers is, geen verskoning om oneerbiedig op te tree nie. Julle behoort dan selfs harder te werk, want dan is dit gelowiges en geliefdes wat uit julle kwaliteitwerk voordeel trek.

In kontras met die vals

leerstellings bring die ware

Onderrig hierdie waarhede, Timoteus, en moedig almal aan om dit te gehoorsaam.

3 Sommige vals leraars ontken dalk hierdie dinge, maar dit is die gesonde, heilsame leer van die Here Jesus Christus en dit is die fondament vir ’n godvresende lewe.

4 Enigiemand wat enigiets anders leer, is nie net verwaand nie, maar ook dom. Só ’n mens het ’n ongesonde begeerte om oor die betekenis van woorde te kibbel. Dit veroorsaak argumente wat eindig in jaloesie, stryd, beledigings en bose agterdog.

5 Hierdie mense veroorsaak altyd moeilikheid. Hulle gedagtes is korrup, en hulle praat nie die waarheid nie. Vir hulle is godsdiens net ’n manier om ryk te word.

6 Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ’n groot rykdom.

7 Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie.

8 As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees.

9 Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort.

10 Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor.

Waak met ’n heilige erns oor

wat God aan jou toevertrou het!

11 Maar jy, Timoteus, man van God; vlug weg van al hierdie bose dinge, en volg na wat reg en goed is. Beywer jou vir ’n lewe volgens die wil van God, gekenmerk deur toewyding, geloof, liefde, volharding en deernis.

12 Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo. Hou stewig vas aan die ewige lewe wat God jou gegee het, en wat jy so opreg bely het voor baie getuies.

13 En voor God wat aan alles lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius Pilatus afgelê het, druk ek dit jou op die hart

14 dat jy jou opdrag stiptelik en onberispelik uitvoer totdat ons Here Jesus Christus weer verskyn.

15 Want op die bestemde tyd sal God Jesus Christus openbaar,

Hý, die geseënde en alleen Magtige,

die Koning van die konings

en die Heer van die here.

16 Hy alleen besit onsterflikheid,

en bewoon die ontoeganklike lig.

Niemand het Hom ooit gesien

of kan Hom sien nie.

Hom kom toe die eer

en die ewige krag.

17 Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld om nie trots te wees en op hulle geld te vertrou wat spoedig sal verdwyn nie. Maar hulle vertroue moet in die lewende God wees wat aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet.

18 Sê hulle moet hulle geld gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel.

19 Deur dit te doen, sal hulle vir hulle ’n skat opbou – ’n goeie fondament vir die toekoms sodat hulle die egte lewe kan ontvang.

20 Timoteus, waak oor wat God aan jou toevertrou het. Vermy goddelose, dwase praatjies met hulle wat jou met hulle sogenaamde kennis teenstaan.

21 Sommige mense het van die geloof afgedwaal deur sulke dwaasheid na te volg.

Mag God se genade met julle almal wees.