1 TESSALONISENSE 1

1 Paulus en sy kollegas skryf aan

die gemeente in Tessalonika en

Hierdie brief kom van Paulus, Silvanus en Timoteus.

Ons skryf aan die gemeente in Tessalonika wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.

Genade en vrede vir julle.

Paulus dank God vir die

gelowiges in Tessalonika

2 Wanneer ons bid, dank ons God altyd vir almal van julle.

3 Ons onthou voortdurend hoe julle geloof dade word, hoe hard julle liefde julle laat werk en hoe julle aanhou hoop op ons Here Jesus Christus. In ons gebede noem ons hierdie dinge voor God ons Vader.

4 God het julle lief, broers en susters. Ons weet dat Hy julle uitgekies het,

5 want die Goeie Nuus wat ons gebring het, het tot julle gekom, nie net met woorde nie, maar ook deur die krag van die Heilige Gees en met groot oortuiging. Julle weet mos hoe voorbeeldig ons optrede by julle was, en dít ter wille van julle.

6 Julle het mense geword wat ons voorbeeld – en ook die Here s’n – volg, toe julle onder baie moeilike omstandighede die woord aangeneem het met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom.

7 Hierdeur het julle op julle beurt ’n voorbeeld vir al die gelowiges in Masedonië en Agaje geword,

8 want van julle af het die Here se boodskap nie net in Masedonië en Agaje weerklink nie, nee, óral het julle geloof in God bekend geword! Die gevolg is dat óns eintlik niks hoef te sê nie,

9 want die mense praat self oor hoe positief julle ons ontvang het en hoe julle van die afgode af weggedraai het na God toe om die lewende en ware God te dien,

10 en om sy Seun uit die hemel te verwag. Hierdie Seun is Jesus wat God uit die dood opgewek het. Dit is Hý wat ons verlos van die oordeel wat kom.

1 TESSALONISENSE 2

Paulus herinner die

Tessalonisense aan sy

1 Julle weet self, broers en susters, dat ons besoek aan julle nie tevergeefs was nie.

2 Ondanks die mishandeling en beledigings wat ons, soos julle weet, vroeër in Filippi moes verduur, het ons vertroue op ons God ons moed gegee om te midde van sterk teenkanting sy Goeie Nuus aan julle te verkondig.

3 Ons prediking destyds het immers nie uit misleiding, onsuiwer motiewe of bedrog voortgevloei nie.

4 Nee, ons praat omdat God ons gekeur het. Hy het die Goeie Nuus aan ons toevertrou. Ons doel is nie om mense tevrede te stel nie, maar God. Hy ondersoek die motiewe van ons harte.

5 Julle weet dat ons nie destyds besig was met ’n gevleiery of ’n skelm geldmakery nie. God is ons getuie!

6 Ons het ook nie by mense eer gesoek nie; nie by julle nie en ook nie by ander mense nie.

7 Al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het, was ons soos babatjies teenoor julle. Of soos ’n ma wat haar eie kinders aan haar laat drink,

8 só het ons oor julle gevoel. Ons was heeltemal bereid om nie net God se Goeie Nuus met julle te deel nie, maar ook ons eie lewe, want ons het julle liefgekry.

9 Broers en susters, julle onthou mos nog hoe hard ons gewerk en geswoeg het. Terwyl ons dag en nag gewerk het om nie vir enigeen van julle ’n las te wees nie, het ons God se Goeie Nuus aan julle verkondig.

10 Julle én God is getuies van hoe toegewyd, opreg en onberispelik ons in ons optrede was teenoor julle wat glo.

11 Julle weet ook hoe ons – soos ’n pa met sy eie kinders maak – julle elkeen

12 aangespoor en aangemoedig het om tot eer van God te lewe. Hy roep julle om deel te hê aan sy koningsheerskappy en heerlikheid.

13 Verder sal ons God aanhou dank dat julle sy woord, wat julle by ons gehoor het, aangeneem het nie as mensewoorde nie, maar soos dit werklik is, as Gód se woord. Dié woord is aan die werk in julle wat glo.

14 Broers en susters, julle het navolgers geword van God se gemeentes in Judea – dit wil sê die Christene daar. Julle het net so swaar onder julle volksgenote gely as wat hulle onder die Jode gely het.

15 Die Jode het die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg. Verder stel hulle God nie tevrede nie, ja, hulle is gekant teen alle mense

16 deur te probeer keer dat ons aan die nie-Joodse nasies vertel hoe om verlos te word. Deur dit te doen, is hulle gedurig besig om hulle sondes meer te maak. God se oordeel het egter nou uiteindelik oor hulle gekom.

Timoteus se positiewe berig oor

die gemeente

17 Broers en susters, nadat ons ’n kort rukkie van julle geskei was – wel uit die oog, maar nie uit die hart nie – het ons hard probeer om julle persoonlik weer te sien omdat ons baie na julle verlang.

18 Ons wóú dus na julle toe kom – ek, Paulus, meer as een keer – maar Satan het ons gekeer.

19 Immers, as ons met Jesus ons Here se terugkeer voor Hom moet staan, wie sal ons vooruitsig of blydskap of erekrans wees, as dit nie julle is nie?

20 Júlle is mos ons eer en ons blydskap!

1 TESSALONISENSE 3

1 Daarom, toe ons dit nie langer kon uithou nie, het ons besluit om alleen in Atene agter te bly

2 en Timoteus na julle toe te stuur. Hy is ons broer en werk saam met ons vir God deur die Goeie Nuus oor Christus te verkondig. Ons het hom gestuur om julle in die geloof te versterk en aan te spoor

3 sodat niemand onder dié vervolging sou begin wankel nie. Julle weet self dat ons vir vervolging bestem is.

4 Ook toe ons nog by julle was, het ons vooraf vir julle gesê dat ons op die punt staan om vervolg te word. En, soos julle weet, het dit toe ook gebeur.

5 Daarom, toe ek ook nie langer kon uithou nie, het ek Timoteus gestuur om oor julle geloof uit te vind of die verleier julle nie op ’n manier verlei het en ons harde werk op niks uitgeloop het nie.

6 Maar nou het Timoteus van julle af by ons teruggekom met goeie nuus oor julle geloof en liefde. Hy het ook vertel dat julle altyd goeie herinneringe aan ons het en dat julle net so baie na ons verlang as ons na julle.

7 Daarom, broers en susters, deur júlle geloof is ons in al ons nood en swaarkry oor julle gerusgestel.

8 Want toe dit blyk dat julle sterk staan in julle verhouding met die Here, het ons weer begin lééf!

9 Hoe kan ons God ooit genoeg vir julle dank? Wat kan ons vir Hom terugdoen vir al die vreugde oor julle waarmee ons voor ons God bly is?

10 Dag en nag vra ons ernstig om julle weer persoonlik te sien en om die tekorte van julle geloof aan te vul.

11 Mag God ons Vader en Jesus ons Here self ons pad na julle toe oopmaak.

12 En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense so groot en oorvloedig maak dat dit net soos ons liefde vir julle sal wees.

13 Mag Hy julle geestelike lewe so sterk maak dat julle volkome in julle toewyding voor ons God en Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met almal wat aan Hom behoort.

1 TESSALONISENSE 4

Julle moet tot eer van God lewe

1 Ten slotte, broers en susters, vra ons julle en spoor ons julle aan om as deel van julle verhouding met die Here Jesus julle leefstyl in te rig volgens die voorskrifte wat julle van ons ontvang het oor hoe julle moet lewe om God gelukkig te maak. Julle doen dit ook, maar lê julle nóg meer daarop toe.

2 Julle onthou mos nog die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle gegee het.

3 Dis God se wil dat julle aan Hom toegewy moet lewe. Weerhou julle van seksuele sondes.

4 Elkeen van julle moet weet hoe om op te tree wanneer julle ’n vrou soek. Tree op soos mense wat aan God behoort en wat sy eer soek.

5 Moenie uit seksuele drange ’n vrou soek soos die ongelowiges wat God nie ken nie.

6 Niemand moet in hierdie opsig sy medegelowige benadeel of misbruik nie, want die Here wreek al sulke dinge. So het ons ook vroeër vir julle gesê en julle ernstig gewaarsku.

7 God het ons mos nie geroep tot ’n onrein lewe nie. Hy het ons geroep om onsself al hoe meer aan Hom toe te wy.

8 Iemand wat hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie ’n mens nie, maar God wat sy Heilige Gees aan julle gee!

9 Ek hoef nie vir julle te skryf oor die liefde wat ons vir mekaar moet hê nie, want julle is deur God self geleer om mekaar lief te hê.

10 Julle tree inderdaad so teenoor alle medegelowiges in Masedonië op.

Nogtans spoor ons julle aan, broers en susters: Lê julle nog meer daarop toe

11 en laat dit vir julle ’n saak van eer wees om rustig te lewe, met julle eie sake besig te wees en met julle eie hande te werk. Hierdie riglyne het ons al vroeër aan julle gegee

12 sodat die buitestanders agting vir julle leefstyl sal kry, en julle in geen opsig gebrek sal ly nie.

Ons uitsig op die opstanding

13 Broers en susters, ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ’n toekomsvooruitsig nie.

14 Want aangesien ons glo dat Jesus gesterf én opgestaan het, moet ons ook glo dat God die dooies wat in Jesus geglo het, saam met Jesus sal terugbring.

15 Wat ons nou vir julle gaan sê, is ’n uitspraak van die Here: Ons wat bly lewe tot wanneer die Here terugkeer, het glad nie ’n voorsprong bo dié wat dan al gesterf het nie.

16 Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan. Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ’n bevel gee en God se trompet weerklink.

17 Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees.

18 Troos mekaar dan met hierdie woorde.

1 TESSALONISENSE 5

1 Broers en susters, dis nie nodig dat ek vir julle skryf oor die presiese dag en datum wanneer hierdie dinge gaan gebeur nie.

2 Julle weet mos self dat die Dag van die Here soos ’n dief in die nag kom.

3 Wanneer die mense nog sê: “Alles is rustig en veilig,” dan skielik, soos geboortepyne ’n swanger vrou oorval, oorval ondergang hulle. Hulle sal dit beslis nie vryspring nie.

4 Maar júlle, broers en susters, leef nie in die duisternis sodat dié dag julle soos ’n dief sal oorval nie.

5 Julle is tog almal kinders van die lig en van die dag. Ons hoort nie by die nag of die duisternis nie.

6 Laat ons daarom nie soos die ander mense aan die slaap gevang word nie. Laat ons wakker en nugter wees.

7 Dié wat slaap, slaap snags, en dié wat hulle dronk drink, drink snags.

8 Ons wat by die dag hoort, moet egter nugter bly deur geloof en liefde as ’n borsharnas aan te trek en as helm die vooruitsig op ons verlossing.

9 God se bedoeling met ons is nie dat ons gestraf moet word nie, maar dat ons deur ons Here Jesus Christus verlos word!

10 Jesus het in ons belang gesterf sodat ons, of ons nog lewe of reeds dood is, saam met Hom mag lewe.

11 Daarom, soos julle reeds doen, moet julle aanhou om mekaar moed in te praat en geestelik op te bou.

Verskillende voorskrifte

12 Broers en susters, ons vra julle om erkenning te gee aan die mense wat hard onder julle werk. Hulle is julle leiers in die Here se werk en hou julle op die regte pad.

13 Ter wille van die taak wat hulle het, moet julle met liefde baie eerbied aan hulle betoon. Leef in vrede met mekaar.

14 Broers en susters, ons druk julle dit op die hart: Wys die leeglêers tereg, praat die kleinmoediges moed in, ondersteun die swakkes, wees geduldig met almal.

15 Kyk dat niemand weerwraak neem nie, maar streef eerder altyd die goeie na – vir mekaar en vir alle mense.

16 Wees altyd vol blydskap.

17 Moenie ophou bid nie.

18 Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God van julle verwag omdat julle met Christus Jesus verenig is.

19 Moenie die Gees uitblus nie.

20 Moenie profesieë geringskat nie,

21 maar ondersoek alles wat gesê word en behou wat goed is.

22 Bly weg van elke vorm van kwaad.

Paulus se groetwoord

23 Mag die God van vrede julle volkome aan Hom toewy. Ja, mag God julle so bewaar dat julle na gees, siel en liggaam volkome vlekkeloos sal wees wanneer ons Here Jesus Christus terugkom.

24 Hy wat julle roep, is getrou. Hy sál dit doen!

25 Broers en susters, bid ook vir ons.

26 Groet al die broers en susters met die soen van Christelike liefde.

27 Ek vra namens die Here dat dié brief aan al die broers en susters voorgelees sal word.

28 Mag die genade van ons Here Jesus Christus met julle wees.