1 SAMUEL 21

Dawid kom in Nob aan

1 Dawid het by die priester Agimelek in Nob aangekom. Agimelek was bang toe hy Dawid sien en vra: “Hoekom is jy alleen sonder iemand anders by jou?”

2 “Die koning het my op ’n geheime sending gestuur,” sê Dawid. “Hy het my verbied om vir enigiemand te sê hoekom ek hier is. Ek het my manskappe aangesê om my op ’n bepaalde plek te ontmoet.

3 Maar sê my, wat het julle hier om te eet? Gee vir my vyf brode of enigiets anders wat beskikbaar is.”

4 “Ons het nie gewone brood hier nie,” antwoord die priester. “Ons het net die heilige brode wat julle maar kan kry as jou manne nie onlangs by ’n vrou geslaap het nie.”

5 “Geen probleem nie,” antwoord Dawid. “My manskappe mag nie by vroue kom wanneer ons op ’n veldtog uitgaan nie. Dis die reël vir gewone veldtogte, hoeveel te meer vir hierdie een!”

6 Omdat daar dus nie gewone brood beskikbaar was nie, gee die priester hom die offerbrood wat net daardie dag uit die heiligdom geneem is en met vars brode vervang is.

7 Doëg die Edomiet, hoof van Saul se veewagters, moes dié dag daar in die heiligdom deurbring.

8 Dawid vra vir Agimelek: “Is hier dalk ’n spies of ’n swaard beskikbaar? Die koning se opdrag was so dringend dat ek nie eens tyd gehad het om my wapens te gryp nie!”

9 “Al wat ek hier het,” antwoord Agimelek, “is die swaard van Goliat die Filistyn wat jy in die vallei van die groot boom doodgemaak het. Dit is toegedraai in ’n mantel agter die skouerkleed. Jy kan dit vat as jy wil, want daar is niks anders hier nie.”

“Daar is niks beters as dié swaard nie. Gee dit vir my!” sê Dawid.

Dawid kom by Akis aan

10 Dawid het nog dieselfde dag van Saul af weggevlug en by Akis, die koning van Gat, aangekom.

11 Maar Akis se amptenare het gevra: “Is dit dan nie Dawid, die koning van die land nie? Is dit nie die een wat die mense met danse vereer het en oor wie hulle gesing het:

‘Saul het sy duisende verslaan,

maar Dawid sy tienduisende’ nie?”

12 Dawid het hierdie opmerkings gehoor en was bang dat Akis teen hom sou optree.

13 Daarom het hy gemaak of hy mal is deur teen die poorte te krap en sy spoeg teen sy baard te laat afloop.

14 Toe sê Akis vir sy amptenare: “Kan julle nie sien die man is mal nie? Hoekom bring julle hom na my toe?

15 Het ons nog mal mense nodig dat julle hom na my toe bring om voor my mal te wees? Hoekom moet ek so iemand in my huis toelaat?”

1 SAMUEL 22

Dawid by die Adullamgrot

1 Dawid is daar weg en het in die Adullamgrot gaan skuil. Sy broers en al die ander familielede het dit gehoor en daar by hom aangesluit.

2 Daarna het al meer mense wat in die moeilikheid was, of hulle skuld nie kon betaal nie, of oor iets ontevrede was, by hom aangesluit. Mettertyd was Dawid die leier van omtrent 400 man.

3 Dawid het intussen die koning van Moab in Mispa besoek en vir hom gevra: “Mag my ouers hier by julle kom woon totdat ek weet wat God met my gaan doen?”

4 Die koning het ingestem en Dawid se ma en pa het tydens Dawid se verblyf in die bergskuiling in Moab gewoon.

5 Die profeet Gad sê op ’n dag vir Dawid: “Moenie in die bergskuiling bly nie. Gaan terug na Juda toe.” Dawid gaan toe na die Geretbos.

6 Die nuus van sy aankoms in Juda het gou Saul se ore bereik. Saul het onder ’n tamariskboom op die hoogte by Gibea gesit met sy spies in sy hand en sy offisiere rondom hom.

7 “Luister hier, manne van Benjamin!” roep Saul uit toe hy die nuus hoor. “Sal die seun van Isai ook vir julle landerye en wingerde gee? Sal hy julle hoofde oor duisend en oor honderd in sy leër maak?

8 Julle het almal teen my saamgesweer! Nie een van julle het my vertel dat my eie seun met die seun van Isai teen my saamgesweer het nie. Julle is nie eens jammer vir my nie. Dink daaraan! My eie seun hits my onderdaan aan om my dood te maak!”

Die priesters van Nob uitgemoor

9 Toe antwoord Doëg die Edomiet wat oor Saul se veewagters aangestel was. “Toe ek in Nob was,” sê hy, “het ek gesien die seun van Isai praat met die priester Agimelek seun van Agitub.

10 Agimelek het die Here vir Dawid geraadpleeg om te hoor wat Dawid moes doen. Boonop het hy ook brood en die swaard van Goliat die Filistyn vir Dawid gegee.”

11 Die koning het dadelik Agimelek seun van Agitub en sy hele familie in Nob laat roep.

12 Daar aangekom, sê Saul: “Luister, seun van Agitub!”

“Ek luister, o Koning,” antwoord Agimelek.

13 “Hoekom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer?” vra Saul. “Hoekom het jy vir hom brood en ’n swaard gegee? Hoekom het jy God vir hom geraadpleeg en hom aangemoedig om teen my in opstand te kom sodat ek nou deur hom bedreig word?”

14 “Maar, Koning,” verweer Agimelek hom, “daar is tog niemand onder u amptenare wat so betroubaar is as u skoonseun Dawid nie. Hy is dan die aanvoerder van u lyfwag en ’n geëerde lid van u huishouding!

15 Dis tog nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Moet asseblief nie my en my familie hiervan beskuldig nie, want ek het absoluut niks geweet van ’n komplot teen u nie.”

16 “Jy sal sekerlik sterf, Agimelek, jy en jou hele familie!” roep die koning uit.

17 Toe beveel hy die lyfwagte rondom hom: “Maak die priesters van die Here dood, want hulle is kop in een mus met Dawid. Hulle het geweet dat hy van my af vlug, maar het my nie laat weet nie!”

Maar Saul se wagte het geweier om die priesters van die Here dood te maak.

18 Toe beveel die koning vir Doëg: “Val die priesters aan!” Doëg het die priesters aangeval en 85 mans wat die linneskouerkleed dra, doodgemaak.

19 Daarna is ook Nob, die priesterdorp, aangeval en al die mans, vroue, kinders en babas, asook al die grootvee, donkies en kleinvee afgemaai.

20 Net Abjatar, een van die seuns van Agimelek en kleinseun van Agitub, het ontkom en na Dawid toe gevlug.

21 Toe hy vir Dawid vertel dat Saul al die priesters van die Here doodgemaak het,

22 roep Dawid uit: “Ek het so gedink! Toe ek dié dag vir Doëg die Edomiet daar sien, het ek geweet hy sou alles vir Saul vertel. Ek het die dood van jou pa se hele familie veroorsaak.

23 Bly hier by my en moenie bang wees nie. Die een wat jou wil doodmaak, wil my ook doodmaak. By my is jy egter veilig.”

1 SAMUEL 23

Dawid bevry die dorp Keïla

1 Dit is aan Dawid berig dat die Filistyne teen Keïla veg en hulle dorsvloere plunder.

2 Dawid het vir die Here gevra: “Moet ek die Filistyne gaan aanval?”

“Ja, gaan verdryf die Filistyne en verlos Keïla,” sê die Here vir hom.

3 Sy manskappe sê egter vir hom: “Wag ’n bietjie! Selfs hier in Juda voel ons onveilig. Moet ons dan nou na Keïla toe gaan en die hele Filistynse mag daar teen ons kry?”

4 Dawid vra toe weer vir die Here, en die Here het herhaal: “Gaan na Keïla toe, want Ek sal jou help om die Filistyne te verslaan.”

5 Dawid en sy manskappe het toe na Keïla toe gegaan. Hulle het die Filistyne verslaan, al hulle vee buitgeneem en die inwoners van Keïla bevry.

6 Die priester Abjatar seun van Agimelek wat na Dawid toe gevlug het, het die skouerkleed saamgebring na Keïla toe.

7 Saul het gehoor dat Dawid in Keïla was. “God het hom aan Dawid onttrek!” het hy gesê. “Nou is hy in ons mag, want deur in ’n ommuurde dorp met grendels te skuil, het hy homself opgesluit.”

8 Saul het toe sy hele leër bymekaargemaak om na Keïla te gaan en Dawid en sy manskappe daar te beleër.

9 Maar Dawid het van Saul se planne gehoor. Hy vra toe vir Abjatar om die skouerkleed te bring en by die Here te hoor wat hom te doen staan.

10 Dawid het gebid: “O Here, God van Israel, ek, u dienaar, het gehoor dat Saul kom om Keïla te vernietig omdat ek hier is.

11 Sal die inwoners van Keïla my aan hom uitlewer? En sal Saul regtig kom soos ek verneem het? Here, God van Israel, sê my, asseblief.”

Die Here antwoord hom: “Ja, hy sal kom.”

12 Dawid vra weer: “Sal hierdie inwoners van Keïla my en my mense aan Saul uitlewer?”

En die Here antwoord: “Ja, hulle sal jou verraai.”

Dawid amper gevang in die

Maonwoestyn

13 Dawid en sy manskappe, nou omtrent 600 man, het Keïla verlaat en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid gevlug het, het hy nie na Keïla toe gegaan nie.

14 Dawid het in bergskuilings in die woestyn en in die heuwelagtige landstreek van Sif gaan bly. Saul het hom gedurig gesoek, maar God het nie toegelaat dat Saul hom vang nie.

15 Dawid het besef dat Saul hom nog steeds wou doodmaak; daarom is hy na Goresa toe in die woestyn van Sif.

16 Jonatan het daar na hom toe gekom en hom bemoedig om op God te vertrou.

17 “Moenie bang wees nie,” verseker Jonatan hom. “My pa sal jou nie vang nie. Jy sal koning van Israel word en ek sal onder jou dien. My pa weet dit baie goed.”

18 Die twee het toe hulle ooreenkoms opnuut met ’n eed voor die Here bevestig. Daarna is Jonatan terug huis toe, terwyl Dawid verder in Goresa gebly het.

19 Die mense van Sif gaan toe na Saul in Gibea en sê: “Dawid kruip weg by ons in die skuilplekke van Goresa op die Gakilahoogte wat suid van die woestyn is.

20 As dit vir die koning goed is, kom hierheen, en ons sal hom aan u uitlewer!”

21 “Mag die Here julle seën,” sê Saul. “Daar is tog mense wat vir my omgee.

22 Gaan kyk en maak seker waar hy hom bevind en wie hom gesien het, want ek het verneem hy is baie uitgeslape.

23 Soek sy skuilplek en bring vir my meer inligting. Dan sal ek saam met julle gaan. As hy hoegenaamd in die omgewing is, sal ek hom opspoor onder al die duisende in Juda!”

24 Hulle het toe voor Saul uit teruggegaan na Sif toe. Intussen het Dawid en sy krygers verskuif na die Maonwoestyn in die dorre landstreek suid van die woestyn.

25 Toe Dawid hoor dat Saul en sy leër hom soek, het hy nog dieper die woestyn ingetrek na die groot rots in die woestyn van Maon. Maar Saul het dit gehoor en hom in die Maonwoestyn agtervolg.

26 Saul het aan die een kant om die berg gegaan, en Dawid en sy manskappe aan die ander kant. Dawid het haastig van Saul se leër probeer ontvlug. Net toe Saul en sy magte op die punt was om Dawid en sy manne vas te trek,

27 ontvang Saul ’n dringende boodskap: “Maak gou! Die Filistyne is besig om strooptogte in Israel uit te voer!”

28 Saul moes toe noodgedwonge die agtervolging staak en terugkeer huis toe om die Filistynse inval te keer. Van toe af is daardie plek die Rots van Skeiding genoem.

1 SAMUEL 24

Dawid spaar Saul se lewe

1 Dawid het toe in En-Gedi gaan bly.

2 Toe Saul van die inval van die Filistyne teruggekom het, het hy gehoor dat Dawid in die bergskuilings van En-Gedi is.

3 Saul kom toe met drie afdelings uitgesoekte manskappe van Israel om Dawid en sy manne by die Klipbokkrans te gaan soek.

4 Op pad daarheen, naby skaapkrale, sien Saul ’n grot. Hy gaan toe daar in om ’n draai te loop, onwetend dat Dawid en sy manskappe agter in dieselfde grot is.

5 “Dis nou jou kans!” fluister Dawid se manskappe. “Vandag is die dag waarvan die Here gepraat het toe Hy gesê het: ‘Ek sal Saul sekerlik in jou mag gee sodat jy met hom kan doen wat jy wil!’” Dawid het toe stilletjies vorentoe gekruip en ’n stuk van Saul se mantel afgesny.

6 Maar daarna begin Dawid se gewete hom pla omdat hy ’n stuk van Saul se mantel afgesny het.

7 “Ek het verkeerd gedoen om so teen die gesalfde van die Here op te tree,” sê hy vir sy manne. “Ek mag nie my hand teen hom oplig nie, want hy is die Here se gesalfde.”

8 Dawid het sy manskappe skerp berispe en nie toegelaat dat hulle Saul aanval nie. Saul het uit die grot uitgegaan om sy agtervolging voort te sit.

9 Daarna kom Dawid uit die grot en roep agter hom aan: “Meneer die koning!” Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en diep voor hom gebuig.

10 Hy sê vir Saul: “Hoekom luister u na mense wat sê ek wil u leed aandoen?

11 Vandag kan u met u eie oë sien dat dit nie waar is nie. Want die Here het u daar agter in die grot in my mag gegee. Sommige van my manskappe het gesê dat ek u moet doodmaak. Maar ek het u lewe gespaar, want ek het gedink: ‘Ek sal hom nooit leed aandoen nie, want hy is die gesalfde van die Here.’

12 Kyk, Pa, wat het ek in my hand. Dis ’n stuk van u mantel! Ek het dit afgesny, maar ek het u nie doodgemaak nie. Dit bewys dat ek nie ’n kwaaddoener of ’n opstandeling is nie. Ek het nie teen u gesondig nie. Tog agtervolg u my om my dood te maak.

13 Die Here sal tussen ons twee oordeel. Die Here sal wraak neem oor wat u aan my doen. Ek self sal u egter nooit kwaad aandoen nie.

14 Dis soos die spreekwoord lui:

‘Van slegte mense

kom slegte dinge.’

“Ek self, egter, sal u nooit kwaad aandoen nie.

15 Vir wie wil die koning van Israel nou eintlik vang? Wie is dit wat u agtervolg? ’n Dooie hond? Een enkele vlooi?

16 Die Here is die regter en sal tussen ons uitspraak lewer. Hy sal my saak behartig en my uit u mag bevry!”

17 Nadat Dawid dit gesê het, antwoord Saul: “Is dit regtig jy, my seun Dawid?” Hy het begin huil

18 en sê vir Dawid: “Jy is ’n beter man as ek, want jy het aan my goedgedoen, maar ek wou dit met kwaad vergeld.

19 Deur my nie dood te maak nie het jy vandag bewys dat jy goed wil doen aan my. Die Here het my in jou mag oorgelewer, maar jy het my nie doodgemaak nie.

20 “Wie sal toelaat dat sy vyand wegkom terwyl hy hom in sy mag het? Mag die Here jou beloon omdat jy vandag vir my goed was.

21 Ek weet dat jy sekerlik koning sal word en dat die koningskap in Israel onder jou leiding gevestig sal word.

22 Lê nou ’n eed af voor die Here dat wanneer dit gebeur, jy nie my familie sal uitroei en my naam sal uitwis uit my nageslag nie.”

23 Dawid het toe ’n eed afgelê, en Saul is terug na sy huis toe. Maar Dawid en sy manskappe het na hulle bergskuiling toe teruggegaan.

1 SAMUEL 25

Die dood van Samuel

1 Samuel is toe dood. Die hele Israel het bymekaargekom en oor hom gerou. Hulle het hom by sy huis in Rama begrawe.

Nabal en Dawid

Dawid het na die Maonwoestyn toe getrek.

2 Daar was ’n ryk man in Maon wat ’n plaas in Karmel gehad het. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad. Hy was besig om in Karmel te skeer.

3 Die man se naam was Nabal en sy vrou s’n Abigajil. Sy was ’n verstandige en mooi vrou. Maar Nabal, ’n Kalebiet, was rof en onbeskof in alles wat hy gedoen het.

4 Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal sy skape skeer,

5 stuur hy tien van sy jong manne na Karmel toe met die volgende boodskap: “Gaan na Karmel toe en wanneer julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan.

6 Sê dan vir hom: ‘Mag jy lank in vrede lewe! Voorspoed ook vir jou familie en alles wat aan jou behoort!

7 Ek het gehoor die skeerders is besig om by jou te skeer. Toe jou veewagters by ons was naby Karmel, het ons hulle nooit skade aangedoen nie, en niks is ooit van hulle gesteel nie.

8 Vra maar jou wagters uit, en hulle sal dit as die waarheid bevestig. Daarom, wees asseblief vriendelik teenoor my mense. Kyk! Ons het juis tydens die feesvierings gekom. Gee ons asseblief enigiets wat jy beskikbaar het vir ons en jou vriend Dawid.’”

9 Dawid se jong manne het hierdie boodskap net so aan Nabal oorgedra en op sy antwoord gewag.

10 “Wie is dié man Dawid nogal?” antwoord hy minagtend. “Wie dink hierdie seun van Isai is hy? Daar is deesdae baie slawe wat van hulle meesters af wegloop.

11 Moet ek my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit net so gee vir mense wat van wie weet waar af kom?”

12 Dawid se boodskappers het omgedraai en teruggegaan. Hulle het vir Dawid alles vertel wat Nabal gesê het.

13 “Maak vas julle swaarde!” beveel Dawid terwyl hy sy eie swaard vasbind. Ongeveer 400 man het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om hulle besittings op te pas.

14 Intussen het een van Nabal se veewagters na Abigajil gegaan en vir haar vertel: “Dawid het manne uit die woestyn gestuur om ons meester te groet, maar hy het hulle beledig.

15 Tog was Dawid se manskappe baie goed vir ons. Die hele tyd dat hulle by ons in die veld rondgetrek het, het hulle ons nooit skade berokken nie en is niks van ons gesteel nie.

16 Trouens, hulle was dag en nag soos ’n muur van beskerming om ons en die skape.

17 Nou moet u asseblief vinnig ’n plan maak, want hy sal sekerlik ons meester en sy hele familie daaroor straf. Ons meester is so opvlieënd dat niemand eers met hom daaroor kan praat nie!”

18 Abigajil het dadelik 200 brode bymekaargekry, en ook twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf houers gebraaide koring, 100 trosse rosyntjies en 200 vyekoeke. Sy het dit op donkies laat laai

19 en vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit, en ek sal agterna kom.” Aan haar man het sy egter absoluut niks hiervan gesê nie.

20 Terwyl sy op ’n donkie ’n bergkloof afgaan, sien sy vir Dawid en sy manskappe wat in haar rigting aankom.

21 Dawid het so pas gedink: “Dis verniet dat ons hierdie vent se kuddes in die woestyn beskerm het sodat niks van sy besittings weggeraak het of gesteel is nie. Maar hy het my goedheid met kwaad vergeld.

22 Mag God met my afreken indien selfs net een manlike lid van sy huishouding teen môre-oggend nog lewe!”

Abigajil laat Dawid van sy plan

afsien

23 Toe Abigajil vir Dawid sien, klim sy vinnig van die donkie af. Sy buig laag voor hom.

24 Sy val toe by sy voete neer en sê: “Verskoon my tog asseblief, Meneer. Luister tog na wat ek vertroulik vir u wil sê.

25 Nabal is ’n niksnut. Asseblief, moenie u aan hom steur nie. Hy is soos sy naam lui ’n dwaas. Ek het ongelukkig nooit eens u boodskappers te sien gekry nie.

26 “Maar nou, my heer, so seker as wat die Here leef en u leef, aangesien die Here u weerhou het van bloedvergieting en om self wraak te neem, mag al u vyande word soos Nabal, elkeen wat kwaad teen u beplan.

27 “Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. U kan dit vir u manskappe gee wat saam met u is.

28 Vergewe my asseblief as ek u aanstoot gegee het. Die Here sal u sekerlik beloon met ’n bestendige koningshuis, want u veg die Here se oorloë sonder om iets verkeerd te doen.

29 “Selfs wanneer iemand u agtervolg om u dood te maak, mag u lewe dan veilig wees in die bewaring van die Here u God! Maar mag Hy die lewens van u vyande weggooi soos klippe uit ’n slingervel!

30 “Wanneer die Here al die goeie dinge gedoen het wat Hy u beloof het en u leier van Israel gemaak het,

31 mag hierdie saak nie ’n klad op u naam wees en onskuldige bloedvergieting en wraak op u gewete gaan lê nie. En wanneer die Here hierdie groot dinge aan u gedoen het, onthou my dan asseblief!”

32 Dawid antwoord vir Abigajil: “Prys die Here, die God van Israel wat jou vandag na my toe gestuur het.

33 Geseënd is jy vir jou wyse optrede wat my verhinder het om bloed te vergiet en eiehandig wraak te neem.

34 Want so seker as die Here, die God van Israel leef, wat my weerhou het om jou kwaad aan te doen, as jy nie so gou na my toe gekom het nie, sou nie een van Nabal se manne teen môre-oggend nog gelewe het nie.”

35 Dawid aanvaar toe haar geskenke en sê vir haar: “Gaan gerus in vrede huis toe. Ek het na jou versoek geluister. Ek sal nie jou man doodmaak nie.”

36 Toe Abigajil by haar huis terugkom, was Nabal besig met ’n groot onthaal en het hy soos ’n koning feesgevier. Omdat hy dronk was, het sy vir hom niks gesê voor die volgende oggend nie.

37 Eers die volgende oggend toe hy nugter was, het sy hom vertel wat gebeur het. Toe hy dit hoor, het hy ’n hartaanval gekry sodat hy verlam was.

38 Omtrent tien dae later het die Here hom weer getref en het hy gesterf.

Dawid trou met Abigajil

39 Toe Dawid van Nabal se dood hoor, sê hy: “Prys die Here wat Nabal vergeld het vir die onreg teenoor my en my verhinder het om dit self te doen. Nabal het hierdie straf oor homself gebring.”

Daarna het Dawid boodskappers na Abigajil toe gestuur en gevra dat sy met hom moes trou.

40 Die boodskappers het by Karmel aangekom en vir Abigajil gesê: “Dawid het ons gestuur om te vra of jy met hom sal trou.”

41 Sy het opgestaan, laag na die grond toe gebuig en geantwoord: “Ja, ek is selfs bereid om ’n slavin te wees wat Dawid se manskappe versorg!”

42 Abigajil het toe gou klaargemaak en saam met Dawid se boodskappers gegaan. Sy het op ’n donkie gery terwyl vyf van haar diensmeisies saamgegaan het. So het sy Dawid se vrou geword.

43 Dawid het ook met Aginoam uit Jisreël getrou sodat hy nou twee vroue gehad het.

44 Intussen het Saul sy dogter Mikal, wat reeds Dawid se vrou was, vir ’n man met die naam Palti gegee. Hy was die seun van Lajis uit Gallim.

1 SAMUEL 26

Dawid spaar weer ’n keer Saul

se lewe

1 Mense uit Sif het by Saul in Gibea aangekom en gesê: “Dawid skuil teen die Gakilarant aan die rand van die woestyn.”

2 Saul vat toe drie afdelings uitgesoekte manskappe en vertrek om Dawid in die Sifwoestyn te vang.

3 Saul het kamp opgeslaan langs die pad by Gakilarant, naby die woestyn waar Dawid weggekruip het. Dawid het egter gehoor dat Saul aangekom het.

4 Daarom stuur hy spioene uit om Saul se bewegings dop te hou.

5 Dawid gaan toe na waar Saul se kamp was. Hy het gekyk waar Saul en sy bevelvoerder, Abner seun van Ner, slaap. Saul was in die middel van die kamp met sy manskappe reg rondom hom.

6 “Wie sal saam met my daarheen gaan?” vra Dawid vir Agimelek die Hetiet en Abisai, seun van Seruja, Joab se broer.

“Ek sal saamgaan,” antwoord Abisai.

7 Dawid en Abisai het toe in die nag Saul se kamp binnegesluip terwyl hy vas aan die slaap was. Sy spies het aan sy koppenent in die grond gesteek. Abner en sy manskappe rondom hom het almal vas geslaap.

8 “God het hierdie keer beslis jou vyand aan jou oorgelewer!” fluister Abisai vir Dawid. “Laat ek hom nou met die spies in die grond vassteek. Ek sal dit nie ’n tweede keer hoef te doen nie!”

9 “Nee!” sê Dawid. “Moenie hom doodmaak nie. Hoe kan iemand sy hand teen die gesalfde van die Here laat uitgaan en nog onskuldig wees?

10 So seker as die Here leef, een of ander tyd sal die Here Saul tref: Óf sy tyd sal aanbreek dat hy sterf, óf hy sal in die geveg sterf.

11 Maar mag die Here my daarvan bewaar dat ek sy gesalfde sou doodmaak. Kom ons vat nou die spies by sy koppenent en die waterkruik, dan gaan ons terug!”

12 Dawid neem toe die spies en die waterkruik wat by sy kop gestaan het. Hy en Abisai is daar weg sonder dat iemand hulle gesien het of wakker geword het, want die Here het Saul en sy manskappe baie vas laat slaap.

13 Dawid gaan staan toe op ’n veilige afstand bo-op die hoogte regoor die kamp.

14 Daarvandaan roep hy na die manskappe en vir Abner: “Word wakker, Abner! Hoe antwoord jy dan nie!”

“Wie is dit wat na die koning roep?” vra Abner.

15 “Abner, jy is mos ’n gesiene man, of hoe?” spot Dawid. “Daar is niemand in Israel soos jy nie! Nou hoekom het jy nie jou heer die koning bewaak toe iemand gekom het om hom dood te maak nie?

16 Dis nie ’n goeie ding nie! So waar as die Here leef, jy en jou manskappe verdien die dood omdat julle nie julle koning, die gesalfde van die Here, behoorlik opgepas het nie. Kyk ’n bietjie rond! Waar is die koning se spies en die waterkruik wat by sy kop gestaan het?”

17 Saul het Dawid se stem herken en roep toe: “Is dit jy, my seun Dawid?”

Dawid antwoord hom: “Ja, my heer die koning.

18 Hoekom agtervolg u my? Wat het ek gedoen? Wat is my oortreding?

19 My heer die koning moet tog nou na my luister. As die Here u teen my aangehits het, bied Hom dan ’n offer aan. Maar as dit net mense is, vervloek is hulle voor die Here. Want hulle het my uit my woonplek verdryf asof ek nie meer deel is van die volk van die Here nie. Hulle sê: ‘Gaan dien ander gode!’

20 Moet ek dan op vreemde grond sterf, ver van die teenwoordigheid van die Here? Hoekom het die koning van Israel gekom om na ’n enkele vlooi te soek? Hoekom maak hy jag op my soos op ’n patrys in die berge?”

21 Saul bely toe: “Ek het verkeerd gedoen. Kom terug, my seun. Ek sal nie meer probeer om jou skade te berokken nie, want jy het vandag my lewe gespaar. Ek was ’n dwaas en het baie verkeerd gedoen.”

22 “Hier is u spies, Koning,” antwoord Dawid. “Laat een van die jong manne oorkom en dit kom haal.

23 Die Here beloon elke mens vir regverdigheid en getrouheid. Vandag het die Here u ten volle in my mag geplaas, maar ek het geweier om u dood te maak, want u is die gesalfde van die Here.

24 Mag die Here my lewe ook kosbaar ag soos ek u lewe vandag kosbaar geag het. Mag Hy my uit alle gevare red.”

25 Daarop sê Saul vir Dawid: “Geseënd is jy, my seun Dawid. Jy sal suksesvol wees in wat jy onderneem en seëvier.”

Toe het Dawid weggegaan, en Saul het teruggekeer huis toe.

1 SAMUEL 27

Dawid vestig hom by die

Filistyne

1 Dawid dink toe by homself: “Eendag sal Saul my nog doodmaak. Dis beter dat ek vlug en by die Filistyne gaan woon. Dan sal Saul ophou om my oral in Israel te soek en ek sal veilig wees.”

2 Dawid en sy 600 man het toe met hulle gesinne in Gat onder beskerming van koning Akis seun van Maok gaan woon.

3 Dawid het hom in Gat gevestig met sy twee vroue, Aginoam van Jisreël en Abigajil, Nabal se weduwee uit Karmel.

4 Saul het verneem dat Dawid na Gat toe gevlug het. Hy het toe opgehou om hom te agtervolg.

5 Na ’n tyd sê Dawid vir Akis: “As dit vir u aanvaarbaar is, laat ons liewer in een van die dorpe woon in plaas van in die koninklike stad.”

6 Akis gee hom toe die dorp Siklag, wat tot vandag aan die konings van Juda behoort.

7 Dawid-hulle het ’n jaar en vier maande daar op die platteland van die Filistyne gewoon.

8 Dawid en sy manne het van tyd tot tyd strooptogte op verskillende groepe uitgevoer en die Gesureërs, die Geseriete en die Amalekiete aangeval. Hulle het nog altyd die gebied van Olam af op pad na Sur in die rigting van Egipte bewoon.

9 Dawid het niemand laat oorbly uit die dorpe wat hy aangeval het nie. Hy het hulle kleinvee, beeste, donkies, kamele en klere gebuit. Dan het hy teruggekeer en na Akis toe gegaan.

10 Wanneer Akis vra: “Waar het jy vandag ’n strooptog uitgevoer?” antwoord Dawid: “In die suidland van Juda,” of: “In die suidland van die Jeragmeëliete,” of: “In die suidland van die Keniete.”

11 Hy het niemand laat bly lewe wat na Gat toe kon kom en vertel waar hy regtig was nie. Dit het keer op keer gebeur terwyl hy tussen die Filistyne gewoon het.

12 Akis het Dawid vertrou en gedink: “Teen hierdie tyd is hy sekerlik in onguns by die Israeliete. Nou sal hy hier moet bly en vir altyd my onderdaan wees.”

1 SAMUEL 28

Saul raadpleeg die

dodebesweerder by En-Dor

1 Ongeveer hierdie tyd het die Filistyne hulle troepe saamgetrek vir ’n oorlog teen Israel. Akis sê vir Dawid: “Jy besef seker dat jy en jou manne saam met my oorlog toe sal moet gaan.”

2 “Sekerlik!” sê Dawid. “Dan kan u self sien waartoe ons in staat is.”

Akis sê vir hom: “Goed, ek stel jou permanent aan as my persoonlike lyfwag.”

3 Intussen het Samuel gesterf. Die hele Israel het oor hom gerou. Hy is in Rama, sy tuisdorp, begrawe. En Saul het al die dodebesweerders en waarsêers uit die land verban.

4 Die Filistyne het hulle kamp by Sunem opgeslaan. Saul het al die Israeliete opgeroep en kamp opgeslaan by Gilboa.

5 Toe Saul die groot Filistynse mag sien, het hy wanhopig van vrees geword.

6 Hy het die Here gevra wat hy moes doen, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nie deur drome nie en ook nie deur die Urim of die profete nie.

7 Saul beveel toe sy amptenare: “Soek ’n vrou wat ’n dodebesweerder is sodat ek vir haar kan gaan vra wat om te doen.”

Sy amptenare antwoord: “Daar is ’n dodebesweerder in En-Dor.”

8 Saul het homself vermom en ander klere aangetrek. Vergesel van twee van sy manskappe het hy in die nag na die vrou se huis toe gegaan.

“Raadpleeg vir my die gees van ’n afgestorwene,” sê hy. “Roep die een op wat ek vir jou sal sê.”

9 “Nee!” sê die vrou. “Jy weet mos dat Saul alle dodebesweerders en waarsêers uit die land verban het. Hoekom stel jy vir my ’n strik sodat ek moet sterf?”

10 Maar Saul het ’n eed afgelê in die Naam van die Here en belowe: “So seker as die Here leef, jy sal niks oorkom as jy dit doen nie.”

11 Uiteindelik het sy ingewillig: “Wie se gees moet ek vir jou oproep?”

“Roep Samuel vir my op,” antwoord Saul.

12 Toe die vrou Samuel sien, skreeu sy hard: “U het my mislei! U is dan Saul!”

13 “Moenie bang wees nie!” sê hy vir haar. “Wat sien jy?”

“Ek sien ’n gees wat uit die onderwêreld opkom,” sê sy.

14 “Hoe lyk hy?” vra Saul.

“Dis ’n ou man met ’n mantel aan,” antwoord sy. Saul het besef dis Samuel, en hy het in eerbied voor hom op die grond neergeval.

15 “Hoekom pla jy my deur my op te roep?” vra Samuel.

“Ek is baie beangs,” antwoord Saul. “Die Filistyne maak oorlog teen my en God het my ook verlaat. Hy antwoord my nie meer deur óf profete óf drome nie. Daarom het ek u laat oproep om vir my te sê wat ek moet doen.”

16 Maar Samuel antwoord hom: “Waarom vra jy my dan as die Here jou verlaat het en jou vyand geword het?

17 Die Here het gedoen net soos Hy deur my gesê het Hy sou doen. Hy het die koningskap van jou weggeneem en dit vir iemand anders, vir Dawid, gegee.

18 Die Here doen dit omdat jy nie sy bevele oor die Amalekiete gehoorsaam het en hulle gestraf het nie. Dis hoekom die Here vandag so maak.

19 Trouens, die Here sal Israel saam met jou oorgee in die mag van die Filistyne sodat jy en jou seuns ook môre hier by my sal wees. Die Here sal toesien dat die Filistyne die hele leër van Israel verslaan.”

20 Saul het uitgestrek op die grond neergeval, lam van vrees oor die woorde van Samuel. Hy was ook flou van honger, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie.

21 Toe die vrou sien hoe geweldig ontsteld hy is, sê sy: “My heer, ek het gedoen soos u gevra het en het my lewe gewaag om na u te luister.

22 Doen nou ook wat ek sê. Laat my iets vir u gee om te eet sodat u sterk kan word vir die terugreis.”

23 Maar Saul het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie!”

Die manne saam met hom het soos die vrou hom ook aangepor om te eet. Hy het uiteindelik toegegee en van die grond af opgestaan en op die rusbank gaan sit.

24 Die vrou het ’n vet kalf by haar huis gehad. Sy het dit geslag, deeg geknie en ongesuurde brood gebak.

25 Dit het sy vir Saul en sy manne voorgesit en hulle het geëet.

Daarna het hulle opgestaan en dieselfde nag nog teruggegaan.

1 SAMUEL 29

Die Filistynse leiers stuur Dawid

weg

1 Die hele Filistynse leër het by Afek saamgetrek, terwyl die Israeliete by die fontein in Jisreël kamp opgeslaan het.

2 Die Filistynse bevelvoerders het hulle soldate in groepe van 100 en 1 000 laat uittrek. Dawid en sy manne het die agterhoede van koning Akis gevorm.

3 Toe vra die Filistynse bevelvoerders: “Wat maak hierdie Hebreërs hier?”

Akis sê vir hulle: “Dit is Dawid, die onderdaan van Saul, koning van Israel. Hy is nou al ’n geruime tyd by my. Sedert hy na my toe uitgewyk het, kon ek nog geen fout by hom vind nie.”

4 Maar die Filistynse bevelvoerders was kwaad. “Stuur hom terug na die plek wat jy tot sy beskikking gestel het!” eis hulle. “Hy kan nie saam met ons in die geveg gaan nie. Wat sal gebeur as hy teen ons draai? Daar is mos g’n beter manier vir hom om weer met sy heer versoen te raak as met die koppe van ons vegters nie!

5 Dis mos dieselfde Dawid oor wie die vroue van Israel in hulle koordanse gesing het:

Saul het sy duisende verslaan,

maar Dawid sy tienduisende!”

6 Toe roep Akis vir Dawid. “So waar as die Here leef,” sê hy, “jy is betroubaar en getrou in alles wat jy doen. Vandat jy by my is tot nou toe het jy niks verkeerds gedoen nie. Ek dink julle is reg, maar die Filistynse vorste wil niks van jou weet nie.

7 Moenie hulle verder ontstel nie, en gaan liewer in vrede terug huis toe.”

8 “Wat het ek dan gedoen om hierdie behandeling te ontvang?” vra Dawid. “Wat het ek verkeerd gedoen in al die tyd dat ek by u is? Hoekom kan ek nie saam teen die vyande van my heer die koning gaan veg nie?”

9 Maar Akis antwoord: “Wat my betref, is jy so goed soos ’n boodskapper van God. Maar die bevelvoerders is bang om jou saam met hulle in die geveg toe te laat.

10 “Staan nou môre-oggend vroeg op en vertrek saam met jou manskappe voordat dit lig word.”

11 Dawid en sy manskappe is toe vroegoggend terug na die land van die Filistyne toe, terwyl die Filistynse leër na Jisreël opgetrek het.

1 SAMUEL 30

Dawid wreek hom op die

Amalekiete

1 Drie dae later, toe Dawid en sy manne in Siklag aankom, ontdek hulle dat die Amalekiete ’n strooptog in die Suidland uitgevoer het. Hulle het ook Siklag verower en tot op die grond toe afgebrand.

2 Hulle het die vroue en almal in die stad, klein en groot, as gevangenes weggevoer sonder om iemand dood te maak.

3 Toe Dawid en sy manne die ruïnes sien en besef wat met hulle families gebeur het,

4 het hulle gehuil totdat hulle nie meer kon nie.

5 Dawid se twee vroue, Aginoam van Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel, is ook weggevoer.

6 Dawid was nou in groot moeilikheid, want sy manne was verbitterd omdat hulle hulle vroue en kinders verloor het. Hulle het begin sê dat hulle Dawid met klippe moet doodgooi. Maar die Here sy God het aan Dawid krag gegee.

7 Hy sê toe vir Abjatar die priester: “Bring vir my die skouerkleed!” Abjatar het dit gedoen.

8 Toe vra Dawid vir die Here: “Moet ek hulle agternasit? Sal ek hulle inhaal?”

En die Here het geantwoord: “Ja, agtervolg hulle. Jy sal hulle sekerlik inhaal en almal red.”

9 Dawid en sy 600 man het hulle toe agternagesit tot by die Besorspruit. Sommige het daar agtergebly.

10 200 van sy manne wat te moeg was om deur die spruit te trek, het agtergebly. Met die oorblywende 400 man het Dawid die agtervolging voortgesit.

11 Op pad kom Dawid se manskappe af op ’n Egiptiese man in die veld en bring hom na Dawid toe. Hulle het vir hom kos en water gegee.

12 Hulle het vir hom ook ’n stuk vyekoek en twee trosse rosyntjies gegee, want hy het vir drie dae niks te eet of te drink gehad nie. Kort voor lank het hy sy kragte herwin.

13 “Wie is jy en waar kom jy vandaan?” vra Dawid hom.

“Ek is ’n Egiptenaar,” antwoord hy, “die slaaf van ’n Amalekiet. My meester het my drie dae gelede agtergelaat omdat ek siek geword het.

14 Ons het strooptogte uitgevoer in die Suidland van die Kretense in die gebied van Juda en die Suidland van Kaleb. Ons het ook Siklag afgebrand.”

15 “Sal jy my na hierdie bende stropers toe lei?” vra Dawid.

Die slaaf antwoord: “As u met ’n eed voor God belowe dat u my nie sal doodmaak of aan my meester sal teruggee nie, sal ek u na hulle toe lei.”

16 Die Egiptenaar het hulle toe na die kamp van die Amalekiete gelei. En kyk, toe hulle die bende inhaal, kry hulle die Amalekiete verspreid oor die veld! Hulle het geëet en gedrink en feesgevier met die groot buit wat hulle van die Filistyne en in Juda geroof het.

17 Dawid en sy manskappe het op hulle afgestorm en hulle vanaf skemeraand deur die nag tot die volgende oggend afgemaai. Behalwe 400 jong Amalekiete wat op hulle kamele gevlug het, het niemand ontkom nie.

18 Dawid het alles wat die Amalekiete geroof het, teruggekry. Hy het ook sy twee vroue gered.

19 Hulle het niks verloor nie; klein en groot, seun of dogter, en alles wat die Amalekiete geroof het, het Dawid teruggekry.

20 Hy het beslag gelê op al die kleinvee en beeste. Sy manskappe het dit voor hulle uit aangejaag en gesê: “Dit is Dawid se beloning!”

21 Toe hulle by die Besorspruit kom, het die 200 manskappe wat te moeg was om saam te trek, Dawid en sy mense ingewag. Dawid het toe gevra hoe dit met hulle gaan.

22 Maar al die moeilikheidmakers en twissoekers onder dié wat saam met Dawid was, het gesê: “Hulle het nie met ons saamgegaan nie. Daarom mag hulle niks van die buit kry nie. Gee net hulle vroue en kinders terug en laat hulle gaan.”

23 Maar Dawid sê: “Nee, my broers! Moenie selfsugtig wees oor dit wat die Here vir ons gegee het nie. Hy het ons bewaar en die stroperbende in ons mag oorgegee.

24 Wie sal na so ’n voorstel luister? Nee, ons deel gelykop: dié wat die pakgoed opgepas het, kry net soveel as dié wat gaan veg het.”

25 Van toe af het dit ’n voorskrif vir Israel geword, tot vandag toe.

26 Toe hulle by Siklag aankom, stuur Dawid ’n deel van die buit na sy vriende, die leiers van Juda, en sê: “Hier is ’n geskenk vir julle uit dit wat ons by die vyande van die Here buitgemaak het.”

27 Die geskenke is na die leiers van die volgende stede en dorpe gestuur: Bet-El en Ramot in die Suidland, Jattir,

28 Aroër, Sifmot, Estemoa,

29 Rakal, die dorpe van die Jeragmeëliete, die dorpe van die Keniete,

30 Gorma, Bor-Asan, Atak,

31 Hebron en oral waar Dawid en sy manskappe rondgetrek het.