1 SAMUEL 1

1 Hanna se vernedering

In Rama, in die heuwelgebied van Efraim, het daar ’n Suffiet gewoon met die naam Elkana. Hy was die seun van Jerogam en die kleinseun van Elihu uit die familie van Togu, van die familiegroep van Suf, uit Efrata.

2 Hy het twee vroue gehad, Hanna en Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna was kinderloos.

3 Elke jaar het Elkana en sy gesin na Silo toe gegaan om daar te aanbid en offers vir die Here, die Almagtige, te bring. Die priesters van die Here daar was Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli.

4 Wanneer Elkana sy offers bring, het hy gewoonlik gedeeltes van die offermaaltyd aan Peninna en haar kinders gegee.

5 Al het hy Hanna baie liefgehad, kon hy vir haar net een deel van die offer gee, omdat die Here nie vir haar kinders gegee het nie.

6 Maar Peninna het Hanna oor haar kinderloosheid gespot en verneder.

7 Dit het jaar na jaar gebeur wanneer hulle na die huis van die Here gegaan het. Dit het Hanna so laat huil dat sy nie wou eet nie.

8 “Wat makeer, Hanna?” het Elkana dan gevra. “Hoekom eet jy nie? Hoekom is jy so verdrietig net omdat jy nie kinders het nie? Jy het mos vir mý! Is ek dan nie beter as tien seuns nie?”

Hanna se gebed vir ’n seun

9 Op ’n keer toe hulle weer by Silo was, het Hanna ná die offermaaltyd na die heiligdom van die Here gegaan. Die priester Eli het op sy gewone plek by die ingang gesit.

10 Hanna was baie ontsteld en terwyl sy onbedaarlik huil, het sy tot die Here gebid. Sy het

11 ’n gelofte maak: “O Here, Almagtige, as U tog net my verdriet wil raaksien en my gebed verhoor en vir my ’n seun gee, sal ek hom vir U teruggee. Lewenslank sal hy aan U behoort. As teken daarvan sal sy hare nooit gesny word nie.”

12 Terwyl sy besig was om te bid, het Eli haar dopgehou.

13 Haar lippe het beweeg, maar ’n mens kon niks hoor nie. Hy dink toe sy is dronk.

14 “Moet jy dan besope hier aankom?” sê hy. “Los die drank uit!”

15 “O nee, Meneer!” antwoord sy. “Ek het nie wyn of sterk drank gedrink nie. Ek is net diep bedroef. Ek het maar net my hart voor die Here oopgemaak.

16 Asseblief, moenie dink ek is ’n slegte vrou nie. Ek het so lank gebid omdat ek baie hartseer is.”

17 “Gaan gerus,” sê Eli. “Mag die God van Israel vir jou gee wat jy Hom gevra het.”

18 “Baie dankie, Meneer!” antwoord sy en gaan terug om te eet. Sy was nie meer hartseer nie.

Die geboorte van Samuel

19 Die gesin het vroeg die volgende oggend opgestaan. Nadat hulle die Here aanbid het, is hulle terug huis toe in Rama. Elkana het by Hanna geslaap en die Here het Hanna se versoek onthou.

20 Sy het swanger geword en op die regte tyd geboorte gegee aan ’n seun. Sy het hom Samuel genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom van die Here afgesmeek.”

Hanna vat Samuel na die

heiligdom

21 Die volgende jaar het Elkana, Peninna en haar kinders soos gebruiklik vertrek om vir die Here te gaan offer.

22 Hanna het egter nie saamgegaan nie. Sy het vir haar man gesê: “Wag totdat die kindjie gespeen is. Dan sal ek hom neem om voor die Here te verskyn en lewenslank daar te bly.”

23 “Doen wat jy dink die beste is,” antwoord Elkana. “Bly hier totdat hy gespeen is, en mag die Here sy woord waar maak.” Sy het dus tuis gebly en die baba versorg.

24 Toe die kindjie gespeen is, het Hanna hom na die heiligdom van die Here in Silo geneem. Hulle het ’n driejaaroud bul as offer saamgeneem en ook omtrent sestien kilogram meel en wyn.

25 Nadat hulle die bul geoffer het, neem hulle die seuntjie na Eli toe.

26 “Meneer, onthou u my?” vra Hanna. “Ek is die vrou wat hier gestaan het en tot die Here gebid het.

27 Ek het die Here gevra om my hierdie kind te gee en Hy het my gebed verhoor.

28 Nou gee ek hom terug vir die Here. Hy sal lewenslank aan die Here behoort.” Daarna het hulle die Here daar aanbid.

1 SAMUEL 2

Hanna se lofgebed

1 Toe het Hanna gebid:

“My hart is bly in die Here!

Kyk hoe het die Here

my geseën!

Nou kan ek my vyande

antwoord

terwyl ek my verbly

oor u verlossing.

2 Niemand is heilig

soos die Here nie!

Niemand is U gelyke nie;

daar is geen Rots

soos ons God nie.

3 “Hou op om so hoogmoedig

en trots te wees!

Moenie met sulke verwaandheid

praat nie!

Die Here is ’n God

wat weet van al jou dade;

Hy sal jou oordeel

volgens wat jy gedoen het.

4 Hulle wat magtig was,

is dit nie meer nie;

en hulle wat swak was,

is nou sterk.

5 Hulle wat goed geëet het,

ly nou honger;

en hulle wat honger was,

is nou versadig.

Die kinderlose vrou

het nou sewe kinders,

maar die vrou met baie kinders

kwyn weg.

6 Die Here laat doodgaan

en laat lewe;

Hy bring sommige na die graf,

maar wek ander weer op.

7 Die Here maak een arm

en die ander ryk;

Hy trek een af

en lig ’n ander op.

8 Hy verhef die minderwaardige

uit die stof,

die behoeftige

uit die ashoop!

Hy behandel hulle soos prinse

en laat hulle op ereplekke sit.

“Die onwankelbaarheid

van die aarde

kom van die Here.

Daarop het Hy

die wêreld gebou.

9 Hy beskerm die getroues

op hulle lewenspad,

maar die goddeloses

word in die graf stilgemaak.

Dis nie deur eie krag

dat ’n mens oorwin nie.

10 Hulle wat die Here

weerstaan,

sal vernietig word.

Uit die hemel sal Hy

sy donderende stem

teen hulle laat hoor.

Die Here oordeel

oor die hele aarde.

Hy gee sterkte aan sy koning;

en Hy gee krag

aan sy gesalfde.”

11 Daarna het Elkana en Hanna sonder Samuel teruggegaan na Rama toe. Die seun het die Here onder toesig van die priester Eli gedien.

Eli se seuns

12 Die seuns van Eli was egter slegte mense sonder enige respek vir die Here.

13 Die gebruik van die priesters was dat wanneer iemand ’n offer bring, die dienaar van die priesters met ’n drietandvurk kom sodra die vleis kook

14 en dit in die pot of bak steek. Alles wat aan die vurk vassit, het die priesters dan vir hulle geneem. Dit was die gebruik vir al die Israeliete wat na Silo toe gekom het om te offer.

15 Maar die dienaar van Eli se seuns het gekom nog voordat die vet gebrand is, en het vir die man wat offer, gesê: “Gee vir die priester vleis om te braai! Hy sal nie gekookte vleis aanvaar nie, net rou vleis.”

16 As die een wat offer dan sê: “Vat soveel as wat jy wil hê, maar die vet moet eers gebrand word,” het die dienaar geantwoord: “Nee, gee dit nou vir my, anders vat ek dit met geweld.”

17 Die sondes van hierdie jong manne was vir die Here baie ernstig, want daarmee het hulle die offer van die Here met minagting behandel.

18 Samuel het egter die Here gedien. Hoewel hy nog maar ’n kind was, het hy ’n priesterlike linneskouerkleed gedra.

19 Elke jaar het sy ma vir hom ’n manteltjie gemaak en dit saamgebring wanneer sy saam met haar man gekom het om te offer.

20 Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Mag die Here jou uit hierdie vrou nog kinders gee in die plek van hierdie een wat sy van die Here afgesmeek het.” Daarna het hulle huis toe gegaan.

21 Die Here het Hom oor Hanna ontferm. Sy het weer swanger geword en nog drie seuns en twee dogters in die wêreld gebring. Intussen het Samuel voor die Here grootgeword.

22 Eli was al bejaard, maar hy het geweet wat sy seuns besig was om aan die Israeliete te doen. So het hy geweet dat sy seuns die jong vroue by die ingang van die tent van ontmoeting seksueel misbruik.

23 Dan sê Eli vir hulle: “Die mense kom kla by my oor julle bose dade! Hoekom doen julle sulke dinge?

24 My seuns, julle moet ophou daarmee! Wat ek van die mense hoor, is nie goed nie. Julle maak dat die mense teen die Here oortree.

25 Wanneer iemand teen ’n medemens sondig, kan God oordeel. Maar as iemand teen die Here sondig, wie sal dan vir hom intree?” Maar Eli se seuns wou nie na hulle pa luister nie, want die Here het alreeds besluit dat hulle moet sterf.

26 Soos die jong Samuel groter geword het, het hy ook al meer die guns van die Here en die mense gewen.

’n Waarskuwing aan Eli se gesin

27 Op ’n dag kom ’n man van God by Eli met die volgende boodskap van die Here: “Ek het Myself duidelik aan jou voorouers bekendgemaak toe die Israeliete in Egipte slawe van die farao was.

28 Ek het jou vader Aäron uit al sy bloedverwante gekies om offers op my altaar te offer, om wierook te brand en om die priesterlike skouerkleed te dra wanneer hy My dien. Ek het die vuuroffers van die Israeliete aan jou familie gegee.

29 Hoekom minag julle dan my diere-offer en graanoffer wat Ek in my woning voorgeskryf het? Hoekom het jy meer respek vir jou seuns as vir My? Julle het vet geword van die beste van die offers van my volk Israel!

30 “Daarom, sê die Here, die God van Israel: ‘Ek het inderdaad gesê dat jou huis en jou nageslag altyd my priesters sou wees. Maar nou sê Ek, die Here, dit sal nie gebeur nie! Ek eer net hulle wat My eer, en Ek verag dié wat My verag.

31 Kyk, daar kom ’n tyd wanneer Ek die priesterskap van jou nageslag en die nageslag van jou pa sal wegneem. Niemand in jou pa se huis sal oud word nie.

32 Jy sal in jou ellende na my woning staan en kyk, en sien hoeveel voorspoed Ek vir Israel gee, maar daar sal niemand in jou familie wees wat oud word nie.

33 Tog sal Ek een man spaar om by die altaar te dien. Wanneer jou oë dof word en jou kragte min, sal jou afstammelinge in die fleur van hulle lewe sterf.

34 Om te bevestig dat wat Ek sê, bewaarheid sal word, sal jou twee seuns, Hofni en Pinehas, op dieselfde dag sterf.

35 “Dan sal Ek ’n getroue priester aanstel wat My sal dien. Hy sal doen wat Ek vereis. Ek sal sy nageslag seën en hulle sal lewenslank priesters wees vir my gesalfde.

36 Dan sal jou nageslag voor sy nageslag kom buig en vir geld of ’n stukkie brood bedel. Hulle sal sê: ‘Gee ons asseblief werk in een van die priesterordes sodat ons kos kan hê om te eet.’”

1 SAMUEL 3

Die Here praat met Samuel

1 Intussen het die seun Samuel die Here gedien onder Eli se toesig. In daardie tyd was boodskappe van die Here baie skaars en visioene was seldsaam.

2 Eli was toe al feitlik blind. Een nag terwyl hy nog slaap

3 en die lamp van God nog gebrand het en Samuel in die heiligdom van die Here by die ark van God gelê en slaap het,

4 het die Here geroep: “Samuel!”

“Ek kom!” antwoord Samuel.

5 Hy spring op en hardloop na Eli toe. “Hier is ek. U het my geroep!”

“Nee, ek het jou nie geroep nie,” antwoord Eli. “Gaan maar terug bed toe.” Hy maak toe so.

6 Die Here het hom weer geroep.

Samuel het weer uit die bed gespring en na Eli toe hardloop. “Hier is ek,” sê hy. “U het my geroep.”

“Ek het jou nie geroep nie, my seun,” sê Eli. “Gaan slaap maar weer.”

7 Samuel het nie vooraf geweet dat dit die Here is nie, want die Here het nog nie met hom gepraat nie.

8 Die Here roep hom toe vir die derde keer, en weer hardloop hy na Eli toe. “Hier is ek,” sê hy. “U het my tog geroep.”

Toe besef Eli dat dit die Here is wat die seun geroep het.

9 Daarom sê hy vir Samuel: “Gaan lê en as iemand weer na jou roep, sê dan: ‘Ja, Here, u dienaar luister.’” Samuel is weer terug na sy bed toe.

10 Die Here kom staan toe daar en roep soos die vorige kere: “Samuel, Samuel!”

Samuel het geantwoord: “Ja, Here, u dienaar luister.”

11 Die Here sê vir Samuel: “Ek is op die punt om ’n skokkende ding in Israel te doen.

12 Ek gaan nou al my dreigemente teen Eli en sy gesin uitvoer.

13 Ek het hom voortdurend gewaarsku dat Ek sy gesin gaan straf oor die verkeerde dade van sy seuns. Hy het geweet dat hulle hulle skandelik gedra, maar hy het hulle nie bestraf nie.

14 Daarom lê Ek ’n eed af dat die sondes van Eli en sy seuns nooit deur diere-offers of graanoffers versoen sal word nie.”

Samuel dra God se boodskap

oor

15 Samuel het tot die oggend bly lê. Toe het hy opgestaan en soos gewoonlik die deure van die heiligdom van die Here oopgemaak. Hy was bang om vir Eli te vertel wat die Here vir hom gesê het.

16 Maar Eli het hom geroep: “Samuel, my seun!”

“Hier is ek,” antwoord Samuel.

17 “Wat het die Here vir jou gesê? Moenie iets vir my wegsteek nie. Mag God met jou afreken as jy my nie alles sê wat jy gehoor het nie!”

18 Toe vertel Samuel alles vir Eli. Hy het niks weggesteek nie.

“Dit is die Here se wil,” sê Eli. “Hy is die Here. Laat Hom doen wat Hy dink goed is.”

19 Samuel het grootgeword, en die Here was met hom. Alles wat hy gesê het, het waar geword.

20 Almal in Israel oor die hele land het geweet dat Samuel as profeet van die Here betroubaar was.

21 Die Here het weer in Silo verskyn en daar sy woord aan Samuel geopenbaar.

Samuel se woorde was aan die hele Israel gerig.

1 SAMUEL 4

Die Filistyne neem die ark af

1 Israel het opgetrek om teen die Filistyne oorlog te maak. Hulle het by Eben-Haeser kamp opgeslaan en die Filistyne by Afek.

2 Hulle het stelling ingeneem teenoor Israel. In die geveg het die Filistyne Israel verslaan en 4 000 soldate doodgemaak.

3 Ná die geveg het die Israeliete teruggegaan na hulle kamp toe. Die leiers het gevra: “Hoekom het die Here toegelaat dat die Filistyne ons verslaan? Kom ons kry die verbondsark van die Here wat in Silo is en neem dit saam na die slagveld toe. Dit sal ons red van ons vyande.”

4 Hulle stuur toe mense na Silo en gaan haal die verbondsark van die Here, die Almagtige, Hy wat oor die gerubs troon. Hofni en Pinehas, die seuns van Eli, was by die verbondsark.

5 Toe die Israeliete sien dat die verbondsark van die Here die kamp ingebring word, het hulle gejuig van blydskap. Die gejuig was so hard dat die grond gebewe het.

6 “Wat gaan aan?” het die Filistyne gevra. “Waaroor gaan al die geskreeu in die kamp van die Hebreërs?” Toe hulle hoor dat die verbondsark van die Here daar aangekom het,

7 was hulle paniekbevange. “Hulle God het in hulle kamp aangekom!” het hulle uitgeroep. “Dit is ’n ramp! So iets het nog nooit gebeur nie!

8 Wie kan ons red van hierdie magtige God van Israel? Dit is dieselfde God wat Egipte in die woestyn met allerlei plae geteister het.

9 Filistyne, julle sal met mag en mening moet veg! As julle dit nie doen nie, sal ons die slawe van die Hebreërs word soos hulle ons slawe was!”

10 Die Filistyne het toe desperaat geveg en Israel weereens verslaan. Dit was ’n groot slagting: 30 000 Israeliete het daardie dag gesterf. Dié wat dit oorleef het, het na hulle tente toe gevlug.

11 Die ark van God is ook afgeneem en Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli, is doodgemaak.

Eli se dood

12 Iemand uit die stam van Benjamin het dié dag van die slagveld af na Silo toe gehardloop. Hy het sy klere geskeur en daar was as op sy kop as teken van rou.

13 Eli het langs die pad gesit en wag op nuus van die veldslag, want hy was bekommerd oor die ark van God. Toe die boodskapper daar aankom en vertel wat gebeur het, het die mense in die dorp hulle ontsteltenis uitgeskreeu.

14 “Waaroor is al die geraas en oproer?” het Eli gevra.

Die boodskapper het na Eli toe gehardloop.

15 Eli was 98 jaar oud en byna blind.

16 Hy sê vir Eli: “Ek kom so pas van die oorlogsfront af.”

“Wat het gebeur?” vra Eli.

17 “Israel is verslaan,” antwoord die boodskapper, “en baie Israeliete het gesneuwel. U twee seuns, Hofni en Pinehas, het ook gesneuwel en die ark van God is buitgemaak.”

18 Toe die boodskapper sê wat met die ark gebeur het, het Eli daar by die poort agteroor van sy stoel af geval. Hy het sy nek gebreek en gesterf, want hy was baie oud en oorgewig. Hy het Israel 40 jaar lank gelei.

19 Eli se skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en op haar laaste. Toe sy hoor dat die ark van God geneem is en dat haar man en skoonpa dood is, het geboortepyne haar oorval.

20 Terwyl sy geboorte gee, het sy gesterf. Voordat sy dood is, het die vroedvroue haar probeer opbeur: “Moenie bang wees nie,” sê hulle. “Jy het ’n seuntjie!”

Sy het haar egter nie aan hulle gesteur nie,

21 maar die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Die eer is uit Israel weggeneem.” Daarmee het sy verwys na die ark van God wat gebuit is en omdat haar man en skoonpa dood was.

22 Sy het gesê: “Die eer is weggeneem uit Israel, want die ark van God is buitgemaak.”

1 SAMUEL 5

Die verbondsark by die Filistyne

1 Nadat die Filistyne die ark van God afgevat het, het hulle dit vanaf Eben-Haeser na die stad Asdod toe gedra.

2 Hulle het die ark van God na die tempel van Dagon geneem en dit langs die beeld van Dagon neergesit.

3 Toe die Asdodiete die volgende oggend daar kom, het die beeld van Dagon vooroor geval met sy gesig op die grond voor die ark van die Here! Hulle het die beeld weer regop getel.

4 Maar die volgende oggend het die beeld weereens omgeval gelê. Sy gesig was op die grond voor die ark van die Here. Hierdie keer het die kop en hande van die beeld afgebreek en op die drumpel gelê, met net die lyf wat oorgebly het.

5 Dis hoekom die priesters van Dagon of enigeen wat by die tempel van Dagon ingaan, tot vandag toe nie op die drumpel van die tempel van Dagon in Asdod trap nie.

6 Toe begin die Here die mense van Asdod en die omliggende dorpe met ’n plaag van swere tref.

7 Toe die Asdodiete besef wat gebeur, het hulle gesê: “Ons kan die ark van die God van Israel nie meer hier hou nie! Israel se God is teen ons en Hy sal ons en ons god Dagon swaar straf.”

8 Hulle roep toe die leiers van die vyf Filistynse stede bymekaar en vra hulle: “Wat moet ons doen met die ark van die God van Israel?”

Die leiers het die saak bespreek en geantwoord: “Neem dit na die stad Gat.” Hulle neem toe die ark van die God van Israel na Gat toe.

9 Daar aangekom, het die Here weer die mense, oud en jonk, met ’n plaag getref. Daar het groot paniek geheers.

10 Vervolgens het hulle die ark van God na die stad Ekron toe gestuur. Maar toe die mense van Ekron dit sien aankom, het hulle uitgeroep: “Hulle bring die ark van die God van Israel hiernatoe om ons ook dood te maak!”

11 Hulle roep toe weer die leiers van die Filistyne bymekaar en pleit by hulle: “Asseblief, stuur die ark van die God van Israel terug na sy eie plek, want dit sal ons almal doodmaak.” ’n Dodelik siekte het alreeds uitgebreek sodat die inwoners van die stad baie bang geword het.

12 Dié wat nie gesterf het nie, is deur die plaag getref. ’n Groot noodkreet het in die stad opgegaan.

1 SAMUEL 6

Die Filistyne stuur die ark terug

1 Die ark van die Here was sewe maande lank in die land van die Filistyne.

2 Toe roep die Filistyne hulle priesters en waarsêers bymekaar en vra vir hulle: “Wat moet ons doen met die ark van die Here? Sê vir ons hoe ons dit na sy eie plek toe kan terugstuur.”

3 Die priesters en waarsêers het gesê: “Wanneer julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit nie net so terugstuur nie. Stuur ’n skuldoffer daarmee saam. Wanneer julle gesond word, sal julle weet dat dit Hy was wat julle so swaar getref het.”

4 “Watter soort skuldoffer moet ons stuur?” vra die Filistyne.

“Aangesien die plaag julle en julle vyf heersers getref het,” antwoord hulle, “moet julle vyf goue swere en vyf goue muise maak, net soos dié wat julle land laat swaarkry het.

5 Sodoende sal julle eer betoon aan die God van Israel. Dalk sal Hy dan ophou om julle, julle gode en julle land te teister.

6 Moenie hardkoppig en opstandig wees soos die farao en die Egiptenaars was nie. Hulle wou Israel nie toelaat om te gaan nie totdat God hulle met verskriklike plae getref het.

7 “Bou nou ’n nuwe wa en kry twee koeie wat pas gekalf het en nog nooit ingespan is nie. Span die koeie in, maar hou hulle kalwers op hok.

8 Sit die ark van die Here op die wa. Julle moet die goue muise en swere in ’n houer sit en dit langs die ark op die wa laai. Dan moet julle die koeie toelaat om te gaan waar hulle wil.

9 As hulle oor ons land se grens gaan in die rigting van Bet-Semes, sal ons weet dit was die Here wat hierdie groot ramp oor ons gebring het. As hulle nie soontoe gaan nie, sal ons weet dat die plaag blote toeval was en dat dit glad nie die Here was wat dit gestuur het nie.”

10 Hierdie voorskrifte is uitgevoer. Twee koeie met pasgebore kalwers is voor die wa ingespan en hulle kalwers is op hok gesit.

11 Die ark van die Here en die kis met die goue muise en swere is op die wa gelaai.

12 En sowaar, daar gaan die koeie reguit met die pad na Bet-Semes toe terwyl hulle loop en bulk! Die Filistynse heersers het hulle tot by die grens by Bet-Semes gevolg.

Die ark kom in Bet-Semes aan

13 Die inwoners van Bet-Semes was besig om koring in die vallei te oes. Toe hulle die ark sien, het hulle gejuig.

14 Die wa het tot by die landerye van ’n man met die naam Josua gekom en by ’n groot rots gaan staan. Toe kap die mense die wa stukkend vir vuurmaakhout, slag die koeie en offer dit as ’n brandoffer vir die Here.

15 ’n Aantal manne uit die stam van Levi het die ark van die Here en die kis met goue muise en swere van die wa afgelaai en dit op die rots neergesit. Die mense van Bet-Semes het daardie dag baie brandoffers en ander offers vir die Here geoffer.

16 Die vyf Filistynse heersers het gesien wat gebeur het en het nog dieselfde dag na Ekron toe teruggegaan.

17 Die vyf swere wat die Filistyne as ’n skuldoffer aan die Here gestuur het, was geskenke van elkeen van die heersers van Asdod, Gasa, Askelon, Gat en Ekron.

18 Die goue muise het die vyf Filistynse stede en die omliggende dorpe waar die vyf heersers gesag uitgeoefen het, verteenwoordig. Die groot rots by Bet-Semes waarop hulle die ark van die Here neergesit het, is vandag nog te sien in die landerye van Josua as ’n herinnering aan wat daar gebeur het.

19 Die Here het egter 70 man van Bet-Semes laat sterf omdat hulle die ark van die Here bekyk het. Die inwoners het gerou omdat die Here so baie mense laat sterf het.

20 “Wie kan standhou in die teenwoordigheid van die Here, hierdie heilige God?” het hulle uitgeroep. “Waarheen kan ons die ark stuur?”

21 Hulle stuur toe boodskappers na die inwoners van Kirjat-Jearim en sê vir hulle: “Die Filistyne het die ark van die Here teruggestuur. Kom haal dit asseblief hier!”

1 SAMUEL 7

Die ark gaan na Kirjat-Jearim

1 Die inwoners van Kirjat-Jearim het toe gekom om die ark van die Here weg te neem. Hulle het dit na die huis van Abinadab wat op ’n heuwel gestaan het, gebring. Hulle het ook sy seun Eleaser aangestel om daarna om te sien.

2 Die ark het vir ’n lang tyd, vir twintig jaar, in Kirjat-Jearim gebly.

Samuel lei Israel tot oorwinning

Die hele Israel het by die Here begin kla oor hulle lot.

3 Toe sê Samuel vir die hele volk Israel: “As julle regtig ernstig is om na die Here terug te keer, moet julle ontslae raak van die vreemde gode en die beelde van Astarte. As julle besluit om net die Here te dien, sal Hy julle red van die Filistynse onderdrukking.”

4 Die Israeliete het toe die beelde van Baäl en Astarte verwyder en net die Here gedien.

5 Toe sê Samuel vir hulle: “Die hele Israel moet by Mispa bymekaarkom. Dan sal ek vir julle tot die Here bid.”

6 Hulle het toe daar bymekaargekom. Hulle het water uit ’n put opgetrek en dit voor die Here uitgegooi. Hulle het ook vir ’n dag lank gevas. “Ons het teen die Here gesondig,” het hulle bely. By Mispa het Samuel as rigter in Israel begin optree.

7 Toe die Filistynse heersers hoor dat die hele Israel by Mispa bymekaargekom het, het hulle teen Israel opgetrek. Die Israeliete was baie bang vir die Filistyne.

8 “Bid tog ernstig by die Here ons God om ons van die Filistyne te verlos!” smeek hulle vir Samuel.

9 Samuel neem toe ’n lam, offer dit as ’n brandoffer vir die Here en pleit dat die Here Israel teen die Filistyne sal help. En die Here het sy gebed verhoor.

10 Terwyl Samuel nog besig was om te offer, kom die Filistyne daar aan om teen Israel te veg. Maar die Here het ’n groot donderstorm laat losbars. Dit het die Filistyne verwar sodat Israel hulle verslaan het.

11 Die Israeliete het hulle agtervolg van Mispa af en hulle tot by Bet-Kar afgemaai.

12 Samuel neem toe ’n groot klip en sit dit regop tussen Mispa en Sen. Hy noem dit toe Eben-Haeser, want het hy gesê: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.”

13 Die Filistyne is verslaan en het Israel vir ’n lang tyd nie weer binnegeval nie. Solank Samuel gelewe het, het die Here Israel teen hulle beskerm.

14 Israel het die dorpe wat die Filistyne voorheen beset het vanaf Ekron tot by Gat herower. Israel het ook die grensgebiede bevry van die Filistynse oorheersing. In daardie tyd was daar vrede tussen Israel en die Amoriete.

15 Samuel was rigter in Israel vir die res van sy lewe.

16 Hy het elke jaar rondgegaan, eers by Bet-El, dan by Gilgal en daarna by Mispa, waar hy geskille aangehoor het.

17 Daarna het hy teruggekeer na Rama toe waar hy gewoon het en daar ook as regter opgetree. Samuel het in Rama ’n altaar vir die Here gebou.

1 SAMUEL 8

Israel vra vir ’n koning

1 Toe Samuel ouer begin word, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel.

2 Sy twee oudste seuns, Joël en Abia, was rigters in Berseba.

3 Hulle het anders as Samuel opgetree en was ingestel op eie gewin en omkopery, en selfs in die regspraak was hulle korrup.

4 Die leiers van Israel het toe by Rama bymekaargekom en die saak met Samuel bespreek.

5 “Kyk,” sê hulle vir hom, “u is nou al bejaard en u seuns volg nie u voorbeeld nie. Stel vir ons ’n koning aan soos die gebruik is by al die ander nasies.”

6 Samuel was baie ontsteld oor hierdie versoek en het eers die Here gaan raadpleeg.

7 “Maak soos hulle sê,” antwoord die Here, “want dis nie vir jou wat hulle verwerp nie, maar vir My wat hulle nie meer as hulle koning wil hê nie.

8 Sedert Ek hulle uit Egipte verlos het, het hulle My aanhoudend verwerp en ander gode gedien. Nou maak hulle net so met jou ook.

9 Doen soos hulle vra, maar waarsku hulle ernstig oor wat ’n koning met hulle sal doen.”

Samuel se waarskuwing oor ’n

koning

10 Samuel het toe die waarskuwing van die Here aan die mense oorgedra.

11 “Dis hoe ’n koning met julle sal maak,” sê hy. “Die koning sal die reg hê om julle seuns op te roep vir sy diens, sommige by sy wa en perderuiters, ander om voor sy wa uit te hardloop.

12 “Sommige sal bevelvoerders van sy troepe wees en ander sal sy landerye ploeg en oes; nog ander sal vir hom wapens maak en toerusting vir sy strydwaens.

13 “Julle dogters sal hy vat om vir hom salf te meng, en om te kook en te bak.

14 Hy sal die beste landerye, wingerde en olyfboorde vir hom vat en aan sy amptenare gee.

15 Hy sal ’n tiende van julle oeste neem en dit ook aan sy amptenare en personeel gee.

16 “Julle slawe en slavinne, die beste van julle jong manne en julle donkies sal hy neem en vir sy eie werk gebruik.

17 Hy sal ’n tiende van julle kleinvee vat. Julle sal niks anders as sy slawe wees nie.

18 “Wanneer dit gebeur, sal julle om hulp roep oor die koning wat julle verkies het, maar dan sal die Here julle nie antwoord nie.”

19 Maar die volk wou nie na Samuel se waarskuwings luister nie. “Nee, ons wil nogtans ’n koning hê!” het hulle gesê.

20 “Ons wil soos die nasies om ons wees. Ons koning moet oor ons regeer en ons op die slagveld lei.”

21 Samuel het die Here vertel wat die mense gesê het.

22 Die Here se antwoord was: “Doen soos hulle sê en stel ’n koning oor hulle aan.”

Samuel sê toe vir die manne van Israel: “Gaan nou elkeen na sy huis toe.”

1 SAMUEL 9

Saul ontmoet Samuel

1 Daar was ’n welvarende man uit die stam van Benjamin. Sy naam was Kis. Hy was die seun van Abiël en kleinseun van Seror, uit die familie van Bekorat en die familiegroep van Afiag.

2 Sy seun Saul was baie aantreklik, meer as enigiemand anders in Israel. Hy was van sy skouers af ’n kop langer as enigeen van sy volksgenote.

3 Eendag het die donkies van Kis, Saul se pa, weggeraak. Hy sê toe vir Saul: “Vat een van die jong manne saam met jou en gaan soek na die donkies.”

4 Hulle het oral in die Efraimsberge gesoek, in die Salisa-omgewing, die Saälimgebied en die hele Jeministreek. Hulle kon die donkies egter nêrens kry nie.

5 Toe hulle die gebied van Suf binnegaan, sê Saul vir die jong man: “Kom ons gaan terug huis toe. Teen hierdie tyd sal my pa meer bekommerd wees oor ons as oor die donkies!”

6 Maar die jong man sê: “Wag ’n bietjie, daar is ’n man van God in hierdie dorp. Hy word deur almal hoog geag omdat alles wat hy sê waar word. Laat ons eers na hom toe gaan. Dalk kan hy vir ons sê waar die donkies is.”

7 “Ons kan gaan, maar hoe kan ons hom vergoed?” antwoord Saul. “Selfs ons kos is al op. Ons het niks om vir hom as geskenk te gee nie.”

8 “Kyk,” sê die jong man. “Ek het nog hierdie drie gram silwer in my sak! Ek sal dit vir die man van God gee sodat hy vir ons kan sê waarheen om te gaan.”

9 Destyds, wanneer mense ’n boodskap van God wou kry, is in Israel gesê: “Laat ons na die siener toe gaan.” Vandag se profete is toe sieners genoem.

10 “Dis goed so,” stem Saul in, “kom ons probeer.” Hulle gaan toe na die dorp waar die man van God was.

11 Terwyl hulle teen die steilte opgaan na die dorp toe, kom hulle meisies teë wat op pad was om water te gaan haal. Hulle vra vir die meisies: “Is die siener hier?”

12 “Ja,” antwoord hulle. “Kyk, hy is net daar voor julle in die dorp. Maar maak gou, want hy het vandag hierheen gekom om deel te neem aan die volk se offer op die hoogte.

13 Wanneer julle die dorp binnegaan, sal julle hom kry net voor hy teen die hoogte opgaan om daar te eet. Die mense sal nie eet voordat hy opgedaag het om die offer te seën nie. Daarna sal die genooides eet. Gaan dadelik op daarheen, want hy sal nou daar wees.”

14 Hulle het teen die steilte opgegaan. Toe hulle die dorp binnekom, kom Samuel hulle tegemoet terwyl hy op pad was om op te gaan na die hoogte toe.

15 Die Here het al die vorige dag vertroulik aan Samuel bekendgemaak dat Saul sou kom. Hy het gesê:

16 “Môre omtrent hierdie tyd sal Ek ’n man uit Benjamin na jou toe stuur. Salf hom tot leier van my volk Israel. Hy sal hulle red van die mag van die Filistyne, want Ek het die nood van my volk raakgesien en hulle hulpgeroep gehoor.”

17 Toe Samuel vir Saul sien, sê die Here vir hom: “Dit is die man waarvan Ek jou vertel het. Hy sal oor my volk regeer.”

18 Op daardie oomblik gaan Saul na Samuel toe en vra: “Kan u asseblief vir my sê waar die huis van die siener is?”

19 “Ek is die siener!” antwoord Samuel. “Gaan solank voor my teen die hoogte uit na die offerplek toe. Daar sal ons saam eet. Môre-oggend sal ek vir jou sê wat jy wil weet en jou dan laat gaan.

20 En moet jou nie meer bekommer oor jou pa se donkies wat drie dae gelede weggeraak het nie, want hulle is alreeds gevind. Die hoop van die hele Israel is egter op jou en jou familie gerig.”

21 Saul antwoord hom: “Ek is maar net ’n Benjaminiet, die kleinste stam in Israel. My familie is boonop die geringste van al die families van ons stam! Hoekom praat u so met my?”

22 Samuel neem toe vir Saul en die jong man na die eetvertrek en laat hulle op ’n ereplek sit saam met die ongeveer 30 genooides.

23 Daarna sê Samuel vir die kok: “Bring dit wat ek vir jou gegee het en gevra het om eenkant te sit.”

24 Die kok bring toe die boud vleis en sit dit neer voor Saul. Samuel sê toe: “Eet wat aan jou voorgesit is. Ek het dit vir jou gebêre voordat ek die ander genooi het!” So het Samuel en Saul op dié dag saamgeëet.

25 Daarna, nadat hulle van die hoogte af terug na die dorp toe gegaan het, het Samuel op die dak van die huis met Saul gepraat.

26 Die volgende oggend het hulle vroeg opgestaan. Reeds teen dagbreek het Samuel vir Saul op die dak geroep en gesê: “Staan op sodat ek jou kan afsien!” Saul het opgestaan en hulle het saam buitentoe gegaan.

27 Toe hulle buite die dorp kom, sê Samuel vir hom: “Gee die jong man opdrag om vooruit te loop, maar jy moet hier bly staan, want ek het ’n boodskap van God vir jou.”

1 SAMUEL 10

Samuel salf Saul

1 Samuel neem toe ’n kruik met olie, gooi dit op Saul se kop uit, soen hom en sê: “Die Here het jou gesalf as leier oor sy besitting.

2 Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy twee persone by Ragel se graf naby Selsag op die grens van Benjamin teëkom. Hulle sal vir jou vertel: ‘Die donkies wat jy gesoek het, is gekry. Nou is jou pa oor jou bekommerd en vra: Ek wonder waar is my seun!’

3 “Wanneer jy by die groot boom by Tabor kom, sal jy drie persone sien wat opgaan om God by Bet-El te dien. Een sal drie jong bokkies dra, die tweede drie brode en die derde ’n sak wyn.

4 Hulle sal jou groet en twee brode aanbied. Jy moet dit aanvaar.

5 “Daarna sal jy aankom by Gibea-van-God waar die garnisoen van die Filistyne is. Naby die dorp sal jy ’n klompie profete teëkom op pad vanaf die altaar op die hoogte. Hulle sal met begeleiding van ’n harp, ’n tamboeryn, ’n fluit en ’n lier profeteer.

6 Dan sal die Gees van die Here met krag op jou kom en jy sal soos hulle profeteer en ’n ander mens word.

7 Ná hierdie tekens moet jy doen wat nodig is, want God is met jou.

8 Gaan dan vooruit na Gilgal toe en wag daar vir my. Ná sewe dae sal ek kom om brandoffers en maaltydoffers te bring en verdere opdragte aan jou te gee.”

Is Saul ook tussen die profete?

9 Toe Saul omdraai om te gaan, het God sy hart verander. Al die tekens waarvan Samuel gepraat het, het daardie dag gebeur.

10 Toe Saul en die jong man by Gibea aankom, sien hulle die profete hulle tegemoet kom. Die Gees van God het toe met krag in Saul begin werk sodat hy ook soos ’n profeet opgetree het.

11 Almal wat hom voorheen geken het en gesien het hoe hy soos ’n profeet optree, het vir mekaar gesê: “Wat het dan met die seun van Kis gebeur? Hoe is dit dat Saul ook tussen die profete is?”

12 Iemand uit die omgewing het gevra: “Waarvandaan kom hulle nou eintlik?” Daarom het dit ’n spreekwoord geword: “Is Saul ook onder die profete?”

13 Toe Saul klaar soos ’n profeet opgetree het, het hy na die altaar toe opgegaan.

14 “Waar was jy die hele tyd?” vra sy oom vir hom en die jong man by hom.

“Ons het die donkies gaan soek. Toe ons hulle nie kry nie, het ons na Samuel toe gegaan,” antwoord hy.

15 “Is dit so,” sê sy oom. “Vertel my tog asseblief wat Samuel vir julle gesê het.”

16 “Hy het gesê dat die donkies alreeds gekry is,” antwoord Saul. Saul het egter stilgebly oor wat Samuel van die koningskap gesê het.

Saul as koning aangewys

17 Samuel het die hele volk voor die Here by Mispa bymekaargeroep

18 en die volgende boodskap van die Here God aan die Israeliete oorgedra: “Ek het Israel uit Egipte gelei en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat julle verdruk het.

19 Hoewel Ek julle van al die onheil en ellende verlos het, het julle My verwerp en gesê: ‘Nee, ons wil liewer ’n koning hê!’ Kom stel julle nou op voor die Here volgens julle stamme en familiegroepe.”

20 Samuel het toe die stamleiers nadergeroep voor die Here en die stam van Benjamin is aangewys.

21 Toe het Samuel al die families in die stam van Benjamin nadergeroep voor die Here, en die familie van Matar is aangewys. Daarna is Saul, die seun van Kis aangewys. Maar toe hulle hom soek, kon hulle hom nie kry nie.

22 Hulle vra toe vir die Here: “Maar is die man al hier?”

Toe antwoord die Here: “Hy kruip weg agter die mense se reisgoed.”

23 Hulle het hom daar gekry en vorentoe laat kom. Hy was van sy skouers af ’n kop langer as enigiemand anders.

24 Samuel sê toe vir die volk: “Dit is die man wat die Here gekies het om julle koning te wees. Daar is niemand in Israel wat sy gelyke is nie!”

Toe roep al die mense: “Mag die koning lank lewe!”

25 Daarna het Samuel die mense ingelig oor die regte en verpligtings van ’n koning. Hy het dit op ’n rol neergeskryf en dit voor die Here neergesit. Toe het Samuel die mense huis toe gestuur.

26 Saul het teruggegaan na sy huis in Gibea. Hy was vergesel van ’n groep dapper manne wie se harte deur God aangeraak is.

27 Maar daar was ook sommige kwaadwillige manne wat ontevrede was en gesê het: “Hoe kan hierdie man ons red?” Hulle het hom verag en het geen geskenke vir hom gebring nie. Saul het hom egter nie aan hulle gesteur nie.