1 PETRUS 1

1 Die apostel Petrus skryf aan

God se uitverkore volk in

Hierdie brief kom van Petrus, ’n apostel van Jesus Christus.

Ek skryf aan God se uitverkore volk wat as uitlanders verstrooid leef in Pontus, Galasië, Kappadosië, die provinsie Asië en Bitinië.

2 God die Vader het julle lank gelede al uitgekies en deur die Gees aan Homself toegewy. Die gevolg is dat julle gehoorsaam is aan Hom en deur die bloed van Jesus Christus skoongemaak is.

Mag God se genade en vrede steeds meer en meer julle deel wees.

Alle eer aan God vir die nuwe

lewe en die wonderlike

3 Alle eer aan die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want sonder dat ons dit verdien, het Hy sy ontferming aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons weergeboorte uitgeloop het. Nou het ons regtig hoop omdat Jesus Christus uit die dood opgestaan het.

4 God het inderdaad ’n kosbare erfporsie vir sy kinders. Hierdie erfporsie kan nie tot niet gaan of besmet word of verwelk nie; God hou dit veilig by Hom.

5 En God sal ook júlle deur sy krag veilig bewaar sodat julle die verlossing sál ontvang deurdat julle op Hom vertrou. Julle verlossing sal in die eindtyd vir almal sigbaar word.

6 Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ’n rukkie laat swaarkry.

Beproewings laat die egtheid

van geloof blyk

7 Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word; en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud wat vergaan. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word.

8 Hóm het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie. Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom; julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde bring nie.

9 Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale verlossing, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry.

Julle is meer bevoorreg as die

profete

10 Oor hierdie verlossing wou die profete meer weet. Hulle het oor God se genade wat vir julle bedoel is, geprofeteer, al het hulle baie vrae oor die bedoeling daarvan gehad.

11 Hulle het probeer uitvind wat die Gees van Christus in hulle bedoel het toe Hy vooruit vir hulle vertel het van Christus se lyding en dat Hy daarna verheerlik sou word. Hulle het gewonder met wie en wanneer dit alles sou gebeur.

12 God het aan hulle openbaar dat dit wat hulle geprofeteer het, nie vir hulle eie tyd bedoel was nie, maar vir julle s’n. Dié Goeie Nuus is nou by julle aangekondig deur dié wat vir julle gepreek het met die krag wat die Heilige Gees gee. God self het die Gees gestuur. Dit is só wonderlik dat selfs die engele dit alles fyn dophou.

God se kinders moet volkome

toegewy aan Hom lewe

13 Sien daarom met verwagting uit na die genade wat vir julle gebring word wanneer Jesus Christus weer verskyn. Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe.

14 Wees gehoorsaam aan God, want julle is sy kinders. Moenie weer soos vroeër julle natuurlike neigings die oorhand laat kry nie. Julle het destyds nie van beter geweet nie.

15 Soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel ook heilig wees.

16 Hy het immers self gesê: “Wees heilig, want Ék is heilig!”

God het julle losgekoop.

Stel daarom al julle vertroue

17 En onthou dat die Vader tot wie julle bid, niemand voortrek wanneer Hy beoordeel nie. Hy beoordeel elke mens volgens sy dade. Daarom moet julle julle eerbied vir Hom wys met julle leefstyl, al is julle uitlanders.

18 Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinlose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het. En dié losprys was nie dinge wat vergaan, soos goud of silwer nie.

19 Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus, soos dié van ’n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

20 God het Hom lank voor die skepping al hiervoor bestem. God het Hom egter eers in hierdie eindtyd vir almal sigbaar gemaak. En Hy het dit vir júlle gedoen.

21 Christus maak dat julle al julle vertroue op God stel. God het Christus uit die dood opgewek en heerlikheid aan Hom gegee. Daarom stel julle al julle vertroue en hoop op God.

As gereinigde mense moet julle

mekaar van harte liefhê

22 Julle is van julle sondes gereinig toe julle die waarheid van die Goeie Nuus aanvaar het. Julle kan mekaar dus as medegelowiges regtig liefhê. Daarom moet julle sorg dat julle mekaar van harte liefhet, al vra dit inspanning.

23 God het immers die proses begin waardeur julle weergebore is. Hierdie weergeboorte is nie deur julle aardse ouers bewerk nie, want die lewe wat hulle julle gegee het, loop op die dood uit. Die nuwe lewe wat God gegee het, is vir ewig, want dit kom van die ewige en lewende woord van God.

24 Soos die profeet sê:

“Elke liggaam is soos gras;

al sy skoonheid is soos ’n

veldblom.

Die gras verskroei,

en die blom verlep.

25 Maar die woord van die Here

hou vir ewig.”

En hierdie woord is as Goeie Nuus aan julle verkondig.

1 PETRUS 2

Elke gelowige moet groei deur

die regte geestelike voedsel in te

1 Julle moet julleself distansieer van alle slegte gedrag, van elke vorm van valsheid, van voorgee wat julle nie is nie, van jaloesie en alle kwaadpratery.

2 Hiervoor moet julle genoeg geestelike melk inkry. Smag daarom na hierdie voeding soos pasgebore babatjies na hulle ma se melk sodat julle daardeur kan groei tot volwasse verlostes.

3 Julle het mos net ná julle weergeboorte klaar geproe hoe goed die Here is.

Julle plig om as medegelowiges

sáám te groei

4 Julle het na Christus toe gekom, Hy wat die lewende hoekklip is van God se geestelike tempel. Die mense het Hom afgekeur as hoekklip, maar God het Hom vir dié ereplek uitgekies.

5 Laat julle as lewende klippe inbou in God se geestelike tempel. Julle taak as tempel is om heilige priesters te wees wat geestelike offers bring. God aanvaar hierdie offers juis omdat Jesus Christus die hoekklip is.

6 Soos dit in die Skrif staan:

“Ek lê in Sion ’n hoekklip,

uitgekies vir dié ereplek.

Elkeen wat op Hom vertrou,

sal nóóit verneder word nie.”

7 Hierdie eer is dus bedoel vir julle wat glo. Vir dié wat egter nie glo nie, geld die volgende woorde:

“Juis daardie klip wat deur die

bouers afgekeur is,

het die sluitklip

van die gebou geword.”

8 Die volgende Skrifdeel geld ook vir dié wat nie glo nie:

“Hy is ’n klip waaroor

mense struikel,

’n rots wat jou laat val.”

Hulle struikel omdat hulle nie aan God se woord gehoorsaam is nie. Hulle was vir hierdie struikeling bestem.

9 Dit geld egter nie vir julle nie, want God het júlle as sy volk gekies. Julle is ’n koninkryk wat uit priesters bestaan, ’n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ’n volk wat heeltemal God s’n is. Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het.

10 “Vroeër was julle nie ’n volk nie;

nou is julle egter die volk van

God.

Vroeër het God geen ontferming

aan julle bewys nie;

nou hét julle egter sy

ontferming.”

Handhaaf ’n voorbeeldige

leefstyl teenoor die

11 Geliefdes, omdat julle uitlanders en bywoners is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike neigings toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe.

12 Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra.

Respekteer die landsowerheid

en lééf kritici stil

13 Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar – die koning as staatshoof

14 én die amptenare wat die koning benoem het. Die koning het ’n mandaat aan hulle gegee om dié wat kwaad doen, te straf, en erkenning te gee aan dié wat goeddoen.

15 Dit is God se wil dat julle goeie gedrag die mense wat uit onkunde van julle kwaadpraat, sal stilmaak.

16 Dis waar: Julle is nie slawe nie; julle ís vry mense. Maar moenie julle vryheid as dekmantel misbruik om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God se diensknegte te wees.

17 Julle moet alle mense respekteer. Julle moet al die lede van die huisgesin van God liefhê. Betoon ontsag aan God. Respekteer die koning.

Huiswerkers moet soos Christus

onbillike behandeling verdra

18 Huiswerkers, julle moet die gesag van julle werkgewers volledig aanvaar. Dóén wat hulle vir julle sê – of hulle nou goedhartig en vriendelik is, of onredelik.

19 Dit is immers genade as jy, omdat jy in gedagte hou wat God wil hê, onverdiende houe vat, al maak dit jou seer.

20 Daar is natuurlik geen verdienste daarin as julle die houe vat vir ’n oortreding nie. Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dít is iets besonders voor God.

21 Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Volg in sý spore.

22 Hy het nooit sonde gedoen

en geen leuen vertel nie.

23 Toe Hy beledig is, het Hy nie terugbeledig nie; toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie. Hy het alles oorgelaat aan God wat altyd regverdig oordeel.

24 Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Só is ons vry van die sonde. Nou kan ons lewe omdat God ons verhouding met Hom herstel het. Deur sý wonde is julle genees!

25 Vroeër was julle soos verdwaalde skape. Nou het God julle egter teruggebring na julle Herder, die Bewaker van julle lewe.

1 PETRUS 3

Riglyne vir

huweliksverhoudings

1 En julle, vroue, julle moet julle eie mans se gesag oor julle aanvaar, selfs as hulle nie die Goeie Nuus glo nie. Sonder dat julle ’n woord hoef te sê, sal julle leefstyl hulle vir Christus wen.

2 Hulle sal immers sien hoe eerbiedig en onberispelik julle lewe.

3 Moenie dink dis bloot uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en pragtige klere wat julle mooi maak nie.

4 Julle skoonheid moet veral innerlik wees: blywende beskeidenheid en ’n gemoed wat kalm en rustig is. Dit is vir God kosbaar.

5 Dis presies hoe die gelowige vroue in die ou dae hulle mooi gemaak het. Hulle het op God gehoop en hulle mans se gesag oor hulle aanvaar.

6 Sara, byvoorbeeld, was aan haar man, Abraham, gehoorsaam deur hom “Meneer” te noem. Julle het haar dogters geword omdat julle doen wat goed is en julle nie laat afskrik deur enige intimidasie nie.

7 En julle, mans, behandel julle vroue met respek.

Leef saam met jou vrou in die besef dat, al is sy fisiek swakker as jy, sy saam met jou deel in die lewe wat God as geskenk gee.

As jy haar só behandel, sal jou gebede nie geblokkeer word nie.

Riglyne vir die verhouding met

die naaste in die algemeen

8 ’n Laaste woord oor julle verhoudings: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig.

9 Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ’n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën.

10 Want die Skrif sê:

“As jy die lewe wil liefhê

en goeie dae wil beleef,

moet jy jou tong weghou

van kwaadpraat

en jou lippe van leuens.

11 Bly weg van die kwaad af,

ja, doen wat goed is.

Soek vrede,

ja, jaag dit na!

12 Die Here sorg vir dié

wat reg doen,

en Hy luister na hulle gebede.

Maar die Here is teen dié

wat kwaad doen.”

Nét Christus moet seggenskap

in julle lewe hê

13 Verder, wie sal julle sleg behandel as julle uit julle pad gaan om goed te doen?

14 Maar as dit inderdaad gebeur dat julle swaarkry omdat julle doen wat reg is, sal God sy seën op julle laat rus. Moet dus nie dat mense julle bangmaak of afskrik nie.

15 Inteendeel, erken in julle harte Christus as die een wat seggenskap het. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer.

16 Doen dit egter taktvol en eerbiedig. Sorg dat julle gewete skoon bly. Wanneer mense dan sleg van julle praat, sal hulle skaam kry wanneer hulle agterkom hoe voorbeeldig julle leefstyl is omdat julle aan Christus behoort.

17 Hou in gedagte: As God beskik dat julle moet ly omdat julle goeddoen, is dit beter as om te ly omdat julle kwaad doen.

Wees bemoedig: Christus hét

oorwin en regeer nou oor alles

18 Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie.

Ook Christus het só gely

toe Hy eens en vir altyd

vir ons sondes gesterf het.

Hy het nooit enige sonde gedoen nie;

tog het Hy vir sondaars gesterf

om julle by God te laat tuiskom.

Wat sy liggaam betref,

het Hy gesterf,

maar wat sy gees betref,

is Hy lewend gemaak.

19 Só het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en sy oorwinning daar aangekondig.

20 Hierdie geeste is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy baie geduldig met hulle was. Dit het gebeur in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net agt mense is uit die verskriklike vloed gered.

21 Die redding in die ark is ’n voorteken van die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop red julle deur die opstanding van Jesus Christus. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n pleit voor God dat jou gewete skoon bly.

22 Christus hét die hemel binnegegaan. Hy sit nou aan die regterhand van God, met die engele, magte en kragte onder sy beheer.

1 PETRUS 4

Wees bereid om te ly volgens

Christus se voorbeeld

1 Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julleself met dieselfde gedagte bewapen, en self bereid wees om liggaamlik te ly. As julle bereid is om liggaamlik te ly, het julle met die sonde afgereken.

2 Sodat julle, so lank as wat julle nog ’n aardse liggaam het, nie meer aan julle natuurlike neigings vrye teuels gee nie, maar sal leef soos God dit wil hê.

3 In die verlede het julle lank genoeg soos nie-Christene geleef. Julle het vrye teuels gegee aan losbandigheid en natuurlike neigings, julle het wilde en uitspattige dronkpartytjies gehou en afskuwelike afgodery bedryf.

4 Natuurlik vind nie-Christene dit vreemd dat julle nie meer met hierdie stroom losbandigheid saamgaan nie, en praat hulle sleg van julle.

5 Hulle sal egter verantwoording moet doen aan Hom wat klaarstaan om oor die lewendes en die dooies te oordeel.

6 Dis juis hoekom die Goeie Nuus aan die dooies verkondig is toe hulle nog gelewe het. Hulle kon toe besef dat hulle volgens God se geestelike maatstawwe kan lewe, hoewel hulle volgens aardse, menslike maatstawwe veroordeel was om die fisiese dood te sterf.

7 Die einde van alles is naby.

Hoe julle wat weet dat die einde

naby is, moet leef

Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees; dan sal julle kan bid.

8 Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê. Sulke liefde maak baie sondes toe.

9 Tweedens: Ontvang mekaar in julle huise sonder om te kla.

10 Derdens: God het aan elkeen van julle ’n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk genade deur julle na mekaar toe kan vloei.

11 Het jy die gawe ontvang om te preek? Dan moet jy só preek dat Gód deur jou praat. Het jy die gawe ontvang om ander te dien? Doen dit met die krag en energie wat Gód gee. Só moet God verheerlik word deur dit wat Jesus Christus moontlik gemaak het. Aan Hom behoort alle heerlikheid en krag tot in alle ewigheid! Amen.

Vertrou jou lewe toe aan God,

en hou aan góéddoen

12 Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef wat oor julle kom nie. Dis nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.

13 Dit moet julle liewer bly maak, want só deel julle in die lyding van Christus. Later sal julle wonderlike vreugde ervaar wanneer sy heerlikheid bekendgemaak word en julle daarin deel.

14 Beskou julleself gelukkig wanneer julle beledig word omdat julle Christene is. Dit is ’n bewys dat die Gees wat heerlikheid bewerk, die Gees van God, in julle bly.

15 As een van julle swaarkry, moet dit nie wees omdat hy ’n moordenaar is of ’n dief of ’n misdadiger of ’n kwaadstoker nie.

16 As jy egter swaarkry omdat jy ’n Christen is, is dit geen skande nie. Inteendeel, prys God vir die voorreg om hierdie Naam te dra!

17 Die tyd vir die oordeel het inderdaad aangebreek, en dit begin by die huisgesin van God. As selfs ons Christene geoordeel word en dit is nog maar die begin, hoe verskriklik sal dit nie uiteindelik gaan met dié wat God se Goeie Nuus nie wou aanvaar nie?

18 En:

“As iemand wat reg lewe voor God

met moeite verlos word,

hoe sal dit dan gaan

met ’n goddelose

en ’n sondaar?”

19 As julle dus ly omdat julle doen wat God wil hê, moet julle aanhou goeddoen en julle lewe oorlaat aan God wat julle gemaak het. Hy sal julle nooit in die steek laat nie.

1 PETRUS 5

Die ouderlinge moet God se

kudde as herders goed oppas

1 Nou rig ek my tot die ouderlinge onder julle. Ek is self mede-ouderling én getuie van die lyding van Christus. Ek sal self ook deel hê aan sy heerlikheid wat geopenbaar gaan word. As ’n mede-ouderling doen ek ’n beroep op julle:

2 As herders moet julle die kudde van God goed oppas; hulle is aan julle toevertrou. Hou gewillig toesig oor hulle, nie omdat julle gedwing word nie, maar omdat julle wil doen wat God wil hê; nie om julleself finansieel te verryk nie, maar omdat julle graag in God se diens staan.

3 Moenie baasspeel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar stel die voorbeeld vir die kudde.

4 En wanneer die Hoofherder verskyn, sal julle deel kry aan sy heerlikheidskroon wat nooit vergaan nie.

Die jong manne moet hulle taak

in alle nederigheid uitvoer

5 En julle, jong manne, erken die gesag van die ouderlinge. Trouens, almal moet nederig in mekaar se diens staan, want:

“God is téén dié wat te veel van

hulleself dink,

maar dié wat besef hoe afhanklik

hulle van Hom is,

aan húlle

gee Hy sy genade.”

6 Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak.

7 Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.

Wees op julle hoede vir die

duiwel en dink aan die komende

8 Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

9 Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding.

10 In sy genade het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle ’n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel; Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak.

11 Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.

Die doel van die brief, groete en

seëngroet

12 Ek skryf hierdie kort briefie aan julle met Silvanus se hulp. Hy is ’n getroue broer. Die doel met my brief is om julle te bemoedig en te verseker dat die genade van God met julle is, ongeag wat met julle gebeur.

13 Julle susterskerk hier in Rome stuur vir julle groete. Markus, my seun, stuur ook vir julle groete.

14 Groet mekaar met ’n soen van Christelike liefde.

Vrede vir julle almal wat aan Christus verbind is!