1 KRONIEKE 11

Dawid word koning oor die hele

Israel

1 Die hele Israel het na Dawid in Hebron gegaan en vir hom gesê: “Ons is almal deel van u familie.

2 Vir ’n lang tyd al, selfs terwyl Saul koning was, was u die een wat in werklikheid Israel gelei het. Die Here u God het vir u gesê: ‘Jy sal die herder vir my volk Israel wees. Jy sal hulle leier wees.’”

3 Dawid het voor die Here ’n ooreenkoms met die leiers van Israel gesluit. Hulle het hom as koning oor Israel gesalf, net soos die Here deur Samuel belowe het.

Dawid neem Jerusalem in

4 Dawid en die hele Israel het opgetrek teen Jerusalem, of soos dit vroeër genoem is, Jebus. Die Jebusiete, oorspronklike bewoners van die land, het daar gewoon.

5 Die inwoners van Jebus het vir Dawid gesê: “Jy sal nooit hier inkom nie.” Maar Dawid het die bergvesting Sion ingeneem. Dit is wat nou die stad van Dawid genoem word.

6 Dawid het vir sy soldate gesê: “Wie ook al die aanval teen die Jebusiete lei, sal hoof van my weermag wees!” Joab, die seun van Dawid se suster Seruja, het die aanval gelei. So het hy hoof van Dawid se weermag geword.

7 Dawid het die bergvesting sy woning gemaak; daarom noem hulle dit die Stad van Dawid.

8 Hy het die stad uitgebrei van die Millo af reg in die rondte, terwyl Joab die res van die stad herbou het.

9 En Dawid het al magtiger geword omdat die Here, die Almagtige, altyd met hom was.

Dawid se magtigste manne

10 Dit is die leiers van Dawid se magtigste manne. Hulle was getrou aan Dawid en het hom saam met die hele Israel koning gemaak, net soos die Here vir Israel belowe het.

11 Hier is die lys van Dawid se magtigste manne: Die eerste is Jasobam, die Gakmoniet, die aanvoerder van die Drie, die drie grootste soldate tussen Dawid se manne. Hy het eenkeer met sy spies 300 soldate van die vyand in ’n enkele geveg doodgemaak.

12 Volgende tussen die Drie was Eleasar, seun van Dodo, ’n afstammeling van Agoag.

13 Hy was saam met Dawid in die geveg teen die Filistyne by Efes-Dammim. Die geveg het plaasgevind in ’n stuk land vol gars, en die Israelitiese soldate het vir die Filistyne gevlug.

14 Maar hulle het in die middel van die stuk land gaan staan en die Filistyne teruggejaag. So het die Here hulle deur ’n groot oorwinning gered.

15 Eenkeer terwyl Dawid naby die grot van Adullam was, het die Filistynse weermag in die Refaimvallei uitgekamp. Die Drie, deel van die Dertig wat Dawid se elitegevegsgroep was, het afgetrek om by hom te wees.

16 Dawid het toe in die bergvesting gaan bly, want ’n deel van die Filistynse leër het Betlehem beset.

17 Dawid het verlangend gesê: “Ag, hoe wens ek dat ek van die goeie water van die put in Betlehem kan kry, die put by die ingang!”

18 Die Drie het toe deur die laer van die Filistyne gebreek, water uit die put van Betlehem wat by die poort was, geskep en dit vir Dawid gebring. Dawid het geweier om dit te drink. Hy het dit voor die Here uitgegiet.

19 “Mag God my daarvan bewaar dat ek dit sou drink!” het hy uitgeroep. “Hierdie water is net so kosbaar as die bloed van die manne wat hulle lewe gewaag het om dit vir my te bring.” Dawid het dit nie gedrink nie. Dit is ’n voorbeeld van wat die Drie gedoen het.

Dawid se dertig magtigste

manne

20 Abisai, die broer van Joab, was die leier van die Dertig. Hy het eenkeer met sy spies 300 soldate van die vyand doodgemaak. Dit was oor sulke kordaatstukke dat hy net so bekend geword het as die Drie.

21 Abisai was die bekendste van die Dertig en was hulle aanvoerder, alhoewel hy nie een van die Drie was nie.

22 Dan was daar ook Benaja, seun van Jojada, ’n dapper soldaat uit Kabseël. Hy het baie heldhaftige dinge gedoen. So het hy twee van Moab se grootste helde doodgemaak. ’n Ander keer het hy ’n leeu in ’n gat afgejaag. Ten spyte daarvan dat daar sneeu geval het, het hy die leeu gevang en doodgeslaan.

23 Op ’n ander keer het hy ’n Egiptiese soldaat wat amper twee en ’n half meter lank was en wie se spies so dik soos ’n wewersbalk was, met net ’n stok doodgemaak. Benaja het die spies uit sy hand geruk en hom met sy eie spies doodgesteek.

24 Dit is een van die heldedade wat Benaja so bekend soos die Drie gemaak het.

25 Hy was meer geëerd as die ander lede van die Dertig, maar hy was nie een van die Drie nie. Dawid het hom aanvoerder van sy lyfwag gemaak.

26 Hierdie manne is ook ingesluit onder die magtige manne van Dawid: Asael, die broer van Joab; Elganan, seun van Dodo, uit Betlehem;

27 Samma van Garod; Geles van Pelet;

28 Ira, seun van Ikkes van Tekoa; Abiëser van Anatot;

29 Sibbekai van Gusa; Ilai van Agoag;

30 Marai van Netofa; Geled, seun van Baäna van Netofa;

31 Itai, seun van Ribai, uit Gibea van die stam van Benjamin; Benaja van Piraton;

32 Hiddai, van naby Nagale-Gaäs; Abi-Albon, die Arabatiet;

33 Asmawet van Bagurim; Eljagba van Saälbon.

34 Die seuns van Jasen van Gison; Jonatan, seun van Sage van Harar;

35 Agiam, seun van Sarar van Harar; Elifal, seun van Ur;

36 Gefer van Mekera; Agija van Pelon;

37 Gesro van Karmel; Naärai, seun van Esbai;

38 Joël, broer van Natan; Mibgar, seun van Hagri;

39 Selek van Ammon; Nagrai van Beërot, wapendraer van Joab, seun van Seruja;

40 Ira van Jeter; Gareb van Jeter;

41 Urija, die Hetiet; Sabad, seun van Aglai;

42 Adina, seun van Sisa, die Rubeniet, leier van 30 manne saam met hom;

43 Ganan, seun van Maäka; Josafat van Mitna;

44 Ussia van Astarot; Sama en Jeïel, seuns van Gotam van Aroër;

45 Jediael, seun van Simri; Joga, sy broer van Tis;

46 Eliël van Magawi; Jeribai en Josauja, seuns van Elnaäm; Jitma van Moab;

47 Eliël en Obed; Jaäsiël van Soba.

1 KRONIEKE 12

Soldate sluit by Dawid se leër

aan

1 Die volgende manne het by Dawid in Siklag aangesluit terwyl hy nog vir Saul, seun van Kis, weggekruip het. Hulle was tussen die soldate wat langs Dawid in die oorlog geveg het.

2 Hulle was almal vaardige boogskutters, wat ewe goed met die regter- en linkerhand slingerstene kon gooi en met pyl en boog kon skiet. Hulle was almal familie van Saul uit die stam van Benjamin.

3 Hulle leier was Agiëser, seun van Semaä van Gibea. Sy broer Joas was tweede in bevel. Die ander soldate was: Jesiël en Pelet, seuns van Asmawet; Beraka en Jehu van Anatot;

4 Jismaja van Gibeon, ’n bekende soldaat en leier oor die Dertig; Jeremia, Jagasiël, Joganan en Josabad van Gedera;

5 Elusai, Jerimot, Bealja, Semarja en Sefatja van Garif;

6 Elkana, Jissija, Asarel, Joëser en Jasobam, wat Koragiete was;

7 Joëla en Sebadja, seuns van Jerogam van Gedor.

8 Sommige van die dapper en ervare soldate van die stam van Gad het ook na Dawid oorgeloop terwyl hy in die bergvesting in die wildernis gebly het. Hulle was ervare met skild en spies, so sterk soos leeus en so vinnig soos bokke op die berge.

9 Eser was hulle leier. Obadja was tweede in bevel. Eliab was derde.

10 Mismanna was vierde. Jeremia was vyfde.

11 Attai was sesde. Eliël was sewende.

12 Joganan was agtste. Elsabad was negende.

13 Jeremia was tiende. Makbannai was elfde.

14 Hierdie soldate uit Gad was aanvoerders van die leër. Die swakste onder hulle was opgewasse teen 100 soldate, en die sterkste teen 1 000 van hulle.

15 Hulle het oor die Jordaan gegaan terwyl dit aan die begin van die jaar in vloed was en het al die bewoners verjaag wat in die laagtes aan die oostelike en westelike oewers gewoon het.

16 Ander van Benjamin en Juda het ook na Dawid in die bergvesting gekom.

17 Dawid het uitgegaan om hulle te ontmoet, en vir hulle gesê: “As julle in vrede gekom het om my te help, is ons vriende. Maar as julle gekom het om my aan my vyande te verraai terwyl ek onskuldig is, mag die God van ons voorouers dit sien en tussen ons oordeel!”

18 Die Gees het toe oor Amasai gekom. Hy het later ’n leier oor die Dertig geword. Hy het gesê:

“Ons is joune, Dawid!

Ons is aan jou kant,

seun van Isai.

Mag vrede en voorspoed

by jou wees,

en sukses vir almal wat jou help.

Want jou God is die Een

wat jou help!”

Dawid het hulle toe by hom laat aansluit, en hy het hulle offisiere van sy soldate gemaak.

19 Manne uit Manasse het ook uit die Israelitiese leër na Dawid oorgeloop toe hy saam met die Filistyne teen Saul kom veg het. Soos dit gebeur het, het die Filistynse leiers geweier dat Dawid en sy manne saam met hulle gaan. Ná baie bespreking het hulle hulle teruggestuur, want hulle het gesê: “Dit sal ons lewens kos as Dawid sy lojaliteit omswaai agter Saul aan en teen ons draai.”

20 Hier is ’n lys van die manne uit Manasse wat na Dawid oorgeloop het toe hy na Siklag teruggekeer het: Adnag, Josabad, Jediael, Migael, Josabad, Elihu en Silletai. Elkeen was die aanvoerder van 1 000 troepe uit die stam van Manasse.

21 Hulle het Dawid gehelp om bendes rowers te jag, want hulle was almal dapper en ervare soldate wat aanvoerders in sy leër geword het.

22 Dag na dag het meer manne in Hebron by Dawid aangesluit totdat hy ’n groot leër gehad het, soos ’n leër van God.

23 Dit is die getalle gewapende soldate wat by Dawid in Hebron aangesluit het. Hulle was almal angstig dat Dawid koning word in die plek van Saul, soos die Here belowe het.

24 Van die stam van Juda was daar 6 800 soldate gewapen met skild en spies.

25 Van die stam van Simeon was daar 7 100 soldate.

26 Van die stam van Levi was daar 4 600 soldate.

27 Dit het Jojada ingesluit, wat leier van die familie van Aäron was, met 3 700 onder sy bevel.

28 Dit het ook Sadok ingesluit, ’n jong soldaat, met 22 lede van sy familie wat almal offisiere was.

29 Van die stam van Benjamin, Saul se familie, was daar 3 000 soldate. Die meeste Benjaminiete het lojaal aan Saul gebly.

30 Van die stam van Efraim was daar 20 800 soldate, elkeen bekend in sy eie groep.

31 Van die halwe stam van Manasse wat wes van die Jordaan gebly het, is daar 18 000 manne gestuur met die doel om Dawid koning te maak.

32 Van die stam van Issaskar was daar 200 leiers met hulle families. Hierdie manne het die tye verstaan en geweet wat vir Israel die beste pad is.

33 Van die stam van Sebulon was daar 50 000 ervare soldate. Hulle was gewapen en gereed vir die geveg, en heeltemal lojaal aan Dawid.

34 Van die stam van Naftali was daar 1 000 offisiere en 37 000 soldate, gewapen met skild en spies.

35 Van die stam van Dan was daar 28 600 soldate, almal gereed vir die geveg.

36 Van die stam van Aser was daar 40 000 opgeleide soldate, almal gereed vir die geveg.

37 Van die oostekant van die Jordaan af, waar die stamme van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse gebly het, het 120 000 soldate gekom, gewapen met elke soort wapen.

38 Al hierdie manne het in slagordes na Hebron gekom met die enkele doel om Dawid koning van Israel te maak. Al die ander Israeliete het saamgestem dat Dawid hulle koning moes wees.

39 Hulle het daar saam met Dawid drie dae lank feesgevier en gedrink, want hulle familielede het die voorbereidings vir hulle aankoms getref.

40 En selfs mense so ver weg as Issaskar, Sebulon en Naftali het kos op esels, kamele, muile en beeste gebring. Groot hoeveelhede meel, vyekoeke, rosyntjies, wyn, olyfolie, beeste en skape is vir die fees gebring. Daar was groot blydskap in die land Israel.

1 KRONIEKE 13

Dawid probeer die ark skuif

1 Dawid het al sy amptenare, insluitend die aanvoerders en offisiere van sy leër, om raad gevra.

2 Hy het ook die hele vergadering van Israel toegespreek: “As julle dit goedkeur en dit die wil van die Here ons God is, laat ons boodskappers na al die Israeliete deur die hele land stuur, ook na die priesters en die Leviete in die stede met hulle weiveld. Laat ons hulle nooi om by ons aan te sluit.

3 Want nou is die tyd dat ons die ark van ons God na ons toe terugbring, want ons het dit in die dae van Saul verwaarloos.”

4 Die hele vergadering het saamgestem, want die volk kon sien dat dit die regte ding is om te doen.

5 Dawid het al die mense van Israel bymekaargebring, van een kant van die land na die ander kant toe, om die ark van God uit Kirjat-Jearim te bring.

6 Toe het Dawid en die hele Israel na Baäla gegaan wat in Juda is, wat ook Kirjat-Jearim genoem word. Hulle het die ark van God daarvandaan gaan haal. Dit is die ark wat die naam dra van die Here wat tussen die gerubs woon.

7 Hulle het die ark van God vanaf die huis van Abinadab op ’n nuwe wa vervoer, met Ussa en Agjo wat dit lei.

8 Dawid en almal van Israel het voor God feesgevier met al hulle mag. Hulle het gesing en op allerlei musiekinstrumente gespeel, op siters, harpe, tamboeryne, simbale en trompette.

9 Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, het die osse gestruikel. Ussa wou keer en het sy hand uitgesteek om die ark te keer.

10 Die woede van die Here het teen Ussa ontbrand, en Hy het hom doodgeslaan omdat hy sy hand op die ark gesit het. Ussa het daar in die teenwoordigheid van God gesterf.

11 Dawid was ontevrede omdat die Here se woede teen Ussa ontbrand het. Hy het daardie plek Peres-Ussa genoem, wat “uitbraak teen Ussa” beteken. Dit word tot vandag toe so genoem.

12 Omdat Dawid toe vir God bang was, het hy gevra: “Hoe kan ek ooit die ark van God terugneem in my sorg?”

13 Daarom het Dawid besluit om nie die ark na die Stad van Dawid te verskuif nie. Hy het dit na die huis van Obed-Edom, die Gittiet, laat gaan.

14 Die ark van God het vir drie maande by Obed-Edom se familie in sy huis gebly. Die Here het hom en sy hele huishouding geseën.

1 KRONIEKE 14

Dawid se paleis en familie

1 Hiram, koning van Tirus, het boodskappers na Dawid toe gestuur en ook sederhout, messelaars en skrynwerkers om vir hom ’n paleis te bou.

2 Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel aangestel het en sy koninkryk groot gemaak het ter wille van sy volk Israel.

3 Dawid het met meer vroue in Jerusalem getrou, en hy het baie seuns en dogters gehad.

4 Dit is die name van Dawid se seuns wat in Jerusalem gebore is: Sima, Sobab, Natan, Salomo,

5 Jibgar, Elisua, Elpelet,

6 Noga, Nefeg, Jafia,

7 Elisama, Eljada en Elifelet.

Dawid verslaan die Filistyne

8 Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor die hele Israel gesalf is, het hulle al hulle magte gemobiliseer om Dawid te vang. Dawid het daarvan gehoor. Hy en sy manne het teen hulle uitgetrek.

9 Die Filistyne het aangekom in die Refaimdal en dit geplunder.

10 Dawid het God gevra: “Moet ek uitgaan en teen die Filistyne gaan veg? Sal U hulle aan my oorgee?”

Die Here het geantwoord: “Ja, gaan voort! Ek gee hulle aan jou oor.”

11 Dawid en sy soldate het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar verslaan. “God het dit gedoen!” het Dawid uitgeroep. “Hy het my gebruik om soos ’n watervloed deur my vyande te bars. Daarom is daardie plek Baäl-Perasim genoem, wat “die Here wat deurbars” beteken.

12 Die Filistyne het hul afgode daar gelos. Dawid het beveel dat dit met vuur verbrand moes word.

13 Maar na ’n ruk het die Filistyne teruggekom en die dal weer geplunder.

14 Dawid het weereens vir God gevra wat hy moet doen.

“Moenie hulle van voor af aanval nie,” het God geantwoord. “In plaas daarvan, trek agter hulle om en val hulle dan naby die balsembosse aan.

15 As jy die geluid hoor soos van voete wat marsjeer in die toppe van die balsembosse, val aan! Dit is vir jou die teken dat God voor jou uit gaan om die Filistyne plat te loop.”

16 Dawid het gedoen wat God hom beveel het. Hy het die Filistynse leër verslaan al die pad van Gibeon af tot by Geser.

17 Dawid het wêreldwyd beroemd geword. Die Here het gesorg dat al die nasies bang was vir Dawid.

1 KRONIEKE 15

Voorbereidings om die ark te

skuif

1 Dawid het verskillende geboue vir homself in die Stad van Dawid gebou. Hy het ook ’n plek gereed gekry vir die ark van God. Hy het ’n spesiale tent daarvoor opgeslaan.

2 Daarna het Dawid die volgende instruksies gegee: “Wanneer ons die ark van God dié keer vervoer, mag niemand behalwe die Leviete dit dra nie. Die Here het hulle gekies om die ark van die Here te dra en Hom vir altyd te bedien.”

3 Dawid het toe die hele Israel in Jerusalem laat bymekaarkom om die ark van die Here na die plek te bring wat hy daarvoor gereedgemaak het.

4 Hierdie is die priesters en Leviete wat saamgeroep is:

5 Daar was 120 van die Kehatgroep, met Uriël as hulle leier.

6 Daar was 220 van die Merarigroep, met Asaja as hulle leier.

7 Daar was 130 van die Gersongroep, met Joël as hulle leier.

8 Daar was 200 van die Elisafangroep, met Semaja as hulle leier.

9 Daar was 80 van die Hebrongroep, met Eliël as hulle leier.

10 Daar was 112 van die Ussiëlgroep, met Amminadab as hulle leier.

11 Dawid het ook vir Sadok en Abjatar, die priesters, en die Leviete Uriël, Asaja, Joël, Semaja, Eliël en Amminadab ontbied.

12 Hy het vir hulle gesê: “Julle is die leiers van die Levietefamilies. Julle moet julleself en julle mede-Leviete afsonder sodat julle die ark van die Here, die God van Israel, na die plek kan bring wat ek daarvoor gereedgemaak het.

13 Omdat julle Leviete nie die eerste keer die ark gedra het nie, het die woede van die Here ons God teen ons ontbrand. Ons het God nie gevra hoe om dit op die regte manier te verskuif nie.”

14 Die priesters en die Leviete het hulleself afgesonder sodat hulle die ark van die Here, die God van Israel, na Jerusalem kon bring.

15 Die Leviete het die ark van God met die drahoute op hulle skouers gedra, soos die Here vir Moses gesê het.

16 Dawid het die leiers van die Leviete beveel om ’n Levietekoor van sangers en musikante met harpe, siters en simbale aan te stel sodat hulle saam lofliedere kon sing.

17 Die Leviete het Heman, seun van Joël, Asaf, seun van Berekja, en Etan, seun van Kusaja uit die Merarigroep aangestel om die musikante te lei.

18 Die volgende manne is as hulle assistente aangewys: Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Benaja, Maäseja, Mattitja, Elifele, Mikneja asook die poortwagters Obed-Edom en Jeïel.

19 Heman, Asaf en Etan is gekies om met kopersimbale musiek te maak.

20 Sagaria, Jaäsiël, Semiramot, Jegiël, Unni, Eliab, Maäseja en Benaja het die liere gespeel.

21 Mattitja, Elifele, Mikneja, Obed-Edom, Jeïel en Asasja is gekies om met harpe te speel.

22 Kenanja, die leier van die Leviete, is as koorleier gekies omdat hy bekwaam was.

23 Berekja en Elkana is gekies om die ark te beskerm.

24 Sebanja, Josafat, Netanel, Amasai, Sagaria, Benaja en Eliëser, almal priesters, is gekies om die trompette te blaas terwyl hulle voor die ark van God uitloop. Obed-Edom en Jegija is gekies om die ark te beskerm.

Die ark na Jerusalem

25 Dawid en die leiers van Israel en die hoofde van die weermag het na Obed-Edom se huis gegaan om die ark van die Here se verbond in feestelike stemming te gaan haal.

26 Omdat God die Leviete gehelp het terwyl hulle die verbondsark van die Here gedra het, het hulle sewe bulle en sewe ramme geoffer.

27 Dawid het ’n mantel van fyn linne aangehad, nes die Leviete wat die ark gedra het, die sangers en Kenanja, die sangleier. Dawid het ook ’n linneskouerkleed aangehad.

28 Die hele Israel het die verbondsark van die Here opgeneem na Jerusalem toe met uitroepe van blydskap, die geblaas van horings en trompette, die slag van simbale en harde klank van harpe en siters.

29 Terwyl die verbondsark van die Here die Stad van Dawid inkom, het Mikal, Saul se dogter, deur haar venster gekyk. Toe sy sien hoe koning Dawid dans en van vreugde spring, het sy hom in stilte verag.

1 KRONIEKE 16

1 So het hulle die ark na die spesiale tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het, gevat. Hulle het brandoffers en dankoffers vir God gebring.

2 Toe hulle klaar was met die offers, het Dawid die volk geseën in die Naam van die Here.

3 Hy het ’n geskenk van kos vir elke man en vrou in Israel gegee: ’n sny brood, ’n dadelkoek en ’n rosynekoek.

4 Dawid het die volgende Leviete aangestel om die volk in aanbidding voor die ark van die Here te lei deur sy seën te vra en die Here die God van Israel te dank en te prys.

5 Asaf, die leier van die groep, het die simbale geslaan. Sy assistente was Sagaria, tweede in bevel, Jeïel, Semiramot, Jegiël, Mattitja, Eliab, Benaja, Obed-Edom en Jeïel. Hulle het harpe en siters bespeel.

6 Benaja en Jagasiël, die priesters, het aanhoudend trompette voor die verbondsark van God geblaas.

Dawid se loflied

7 Daardie dag het Dawid vir Asaf en sy mede-Leviete hierdie danklied vir die Here gegee:

8 Dank die Here,

roep sy Naam aan.

Laat die nasies weet

wat Hy gedoen het.

9 Sing vir Hom, ja, besing sy lof!

Vertel van sy wonderwerke.

10 Juig oor sy heilige Naam.

Aanbidders van die Here,

wees bly!

11 Soek na die Here en sy krag.

Hou aan om Hom te soek.

12 Dink oor die wonders

wat Hy gedoen het,

die wonderwerke en die oordele

wat Hy uitgespreek het.

13 Kinders van Israel,

God se kneg,

afstammelinge van Jakob,

God se verkore een!

14 Hy is die Here ons God.

Sy heerskappy

is oor die hele aarde.

15 Hy staan by sy verbond –

sy belofte

aan duisend geslagte.

16 Dit is sy verbond

wat Hy met Abraham gesluit het,

die eed wat Hy aan Isak

gesweer het.

17 Hy het dit aan Jakob

as insetting bevestig,

aan Israel as ’n verbond vir altyd:

18 “Ek gee julle die land Kanaän

as julle eiendom en erfdeel.”

19 Hy het dit gesê

toe hulle min was in getal,

’n klein groepie vreemdelinge.

20 Hulle het rondgetrek

tussen nasies,

van een koninkryk na die ander.

21 Hy het nie toegelaat

dat iemand hulle verdruk nie.

Hy het konings

oor hulle gewaarsku:

22 “Moenie vat

aan my gesalfdes nie,

moenie my profete beseer nie.”

23 Laat almal vir die Here sing!

Vertel elke dag dat Hy red.

24 Vertel vir die nasies van Hom.

Vertel almal

van sy wonderdade.

25 Want die Here is groot,

waardig om geprys te word!

Bo al die gode

moet Hy geëer word.

26 Die gode van die volke

is maar net afgode,

maar die Here

het die hemel gemaak!

27 Eer en heerskappy

omring Hom,

krag en vreugde

is in sy woonplek.

28 Gee aan die Here,

families van die volke,

gee aan die Here

eer en krag.

29 Gee aan die Here

die eer wat Hom toekom!

Bring jou offers en aanbid Hom.

Aanbid die Here

in sy heilige heerlikheid.

30 Laat die aarde voor Hom bewe.

Die wêreld is gevestig

en kan nie wankel nie.

31 Laat die hemel bly wees

en die aarde juig!

Sê vir die volke:

Die Here is Koning.

32 Laat die see weergalm

en alles daarin!

Laat die veld bly wees

en alles daarin!

33 Laat die bome van die bos

jubel voor die Here!

Want Hy kom

om die aarde te oordeel.

34 Dank die Here,

want Hy is goed!

Sy troue liefde duur vir altyd.

35 Julle moet uitroep:

“Red ons, God van ons heil!

Versamel en red ons

van die nasies,

sodat ons u heilige Naam

kan dank,

sodat ons kan bly wees,

en U kan prys!”

36 Prys die Here,

die God van Israel,

vir altyd en altyd!

Al die mense het “Amen!” uitgeroep en die Here geprys.

Aanbidding by Jerusalem en

Gibeon

37 Dawid het gereël dat Asaf en sy mede-Leviete gereeld voor die verbondsark van die Here diens doen soos elke dag vereis word.

38 Hierdie groep sluit ook Obed-Edom, seun van Jedutun, en Gosa en 68 ander Leviete in. Hulle was poortwagters.

39 Intussen het Dawid vir Sadok, die priester, en sy medepriesters by die tabernakel van die Here op die Gibeonhoogte gestasioneer.

40 Hulle het elke môre en aand die gereelde brandoffers aan die Here geoffer op die altaar wat daarvoor afgesonder is. Hulle het alles gedoen wat geskryf is in die bepalings wat die Here vir Israel gegee het.

41 Dawid het ook Heman, Jedutun en die ander aangestel wat uitgesoek is om dank aan die Here te bring, “want sy getroue liefde duur vir altyd!”

42 Hulle het hulle trompette, simbale en ander instrumente gebruik om lofliedere aan God te sing. Die seuns van Jedutun is as poortwagters aangestel.

43 Die hele volk het na hulle huise toe teruggegaan, en Dawid het teruggegaan om sy familie te seën.

1 KRONIEKE 17

Die Here se belofte aan Dawid

1 Toe Dawid in sy paleis gevestig is, het hy vir Natan die profeet gesê: “Hier bly ek in hierdie pragtige sederhoutpaleis, maar die verbondsark van die Here is buitekant in ’n tent!”

2 Natan het geantwoord: “Gaan voort met wat u in gedagte het, want God is met u!”

3 Daardie selfde nag het God vir Natan gesê:

4 “Gaan sê vir my kneg Dawid: Dit is wat die Here sê: Jy is nie die een wat vir My ’n tempel sal bou om in te woon nie.

5 Vanaf die dag dat Ek Israel uit Egipte gelei het tot vandag toe het Ek nooit in ’n tempel gewoon nie. My huis was nog altyd ’n tent, terwyl Ek van een plek na die volgende gegaan het.

6 Ek het nie een keer teenoor Israel se leiers, my volk se herders, gekla nie, waar Ek ook al gegaan het. Ek het hulle ook nooit gevra nie: ‘Waarom het julle nie vir My ’n pragtige sederhouttempel gebou nie?’

7 “Gaan sê dan vir my kneg Dawid: So sê die Here, die Almagtige: Ek self het jou gekies om my volk Israel te lei toe jy nog maar in die veld skape opgepas het.

8 Ek was met jou waar jy ook al gegaan het, en Ek het al jou vyande vernietig. Nou gaan Ek jou ook nog deur die hele wêreld beroemd maak!

9 En Ek het ’n permanente blyplek vir my volk Israel gegee en hulle daar gevestig, ’n veilige plek waar hulle nie langer gepla sal word nie. Dit sal hulle eie land wees waar bose nasies hulle nie soos in die verlede kan verdruk nie,

10 selfs toe Ek rigters aangestel het om oor my volk te regeer. Ek sal al jou vyande onderwerp.

“Ek verklaar nou vir jou dat Ek, die Here, vir jou ’n huis sal bou, ’n koningshuis.

11 Wanneer jy oud geword het en sterf, sal Ek een van jou seuns aanstel, en Ek sal sy koninkryk sterk maak.

12 Hy is die een wat ’n huis, ’n tempel vir My sal bou. En Ek sal sy troon vir baie lank bevestig.

13 Ek sal vir hom soos ’n pa wees, en hy sal vir My soos ’n seun wees. Ek sal nie my troue liefde van hom wegvat soos Ek dit van Saul wat voor jou regeer het, weggevat het nie.

14 Ek sal hom vir baie lank oor my koningshuis en koninkryk aanstel, en sy troon sal vasstaan vir baie lank.”

15 Natan het teruggegaan na Dawid toe en hom alles vertel wat die Here gesê het.

Dawid se dankgebed

16 Koning Dawid het toe ingegaan en voor die Here gaan sit en gebid: “Wie is ek, Here God, en wat is my familie dat U my tot sover gebring het?

17 En dit was maar nog net iets kleins vir U, o God. Daarom het U ook gepraat van my koningshuis wat lank ná my sal bestaan! U praat asof ek iemand groots is, Here God!

18 Wat meer kan ek sê van die manier waarop U my geëer het? U weet hoe ek eintlik is!

19 Ter wille van my, o Here, en volgens u wil het U al hierdie groot dinge gedoen en dit ook bekendgemaak.

20 “Here, daar is niemand soos U nie. Daar is geen ander God nie. Ons het nog nooit eers gehoor van ’n ander god soos U nie!

21 Watter ander nasie op aarde is soos Israel? Watter ander nasie, o God, het U gered uit slawerny om u volk te wees? U het ’n groot Naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het. U het wonderdade gedoen en die nasies wat in u pad gestaan het, uitgedryf.

22 U het Israel gekies om u volk vir altyd te wees en U, o Here, het hulle God geword.

23 “En nou, Here, doen soos U belowe het oor my en my familie. Mag dit ’n belofte wees wat vir altyd geld!

24 En mag u Naam altyd gevestig en geëer word sodat die hele wêreld sal sê: ‘Die Here, die Almagtige, is God oor Israel!’ En mag die koningshuis van u kneg Dawid in u teenwoordigheid gevestig wees.

25 “O my God, ek was dapper genoeg om hierdie gebed tot U te bid omdat U openbaar het dat U ’n huis vir my sal bou, ’n ewige koningshuis!

26 Want U is God, o Here. En U het hierdie goeie dinge oor my, u kneg, belowe.

27 Dit het U behaag om my en my familie te seën sodat ons koningshuis vir altyd voor U sal bestaan. Want wanneer U seën, o Here, is dit ’n ewige seën!”

1 KRONIEKE 18

Dawid se militêre oorwinnings

1 Hierna het Dawid die Filistyne onderwerp en hulle verneder toe hy Gat met sy omringende dorpies verower het.

2 Dawid het ook die Moabiete verslaan, en die Moabiete het Dawid se onderdane geword en belasting betaal.

3 Toe koning Hadad-Eser van Soba uitmarsjeer het om sy mag al langs die Eufraat te versterk, het Dawid ook die soldate van Hadad-Eser tot so ver as Hamat verslaan.

4 Dawid het van hom 1 000 strydwaens, 7 000 perderuiters en 20 000 voetsoldate gevang. Hy het al die trekperde se hakskeensenings afgesny, behalwe vir 100 trekperde.

5 Toe die Arameërs van Damaskus opdaag om vir koning Hadad-Eser van Soba te help, het Dawid 22 000 van hulle doodgemaak.

6 Hy het ook verskeie wagposte in Damaskus, die Aramese hoofstad, gestasioneer. Die Arameërs het Dawid se onderdane geword en aan hom belasting betaal. Die Here het vir Dawid die oorwinning gegee waar hy ook al gegaan het.

7 Dawid het die goue skilde wat Hadad-Eser se offisiere gedra het, na Jerusalem gebring.

8 Hy het ook baie koper gebring uit Hadad-Eser se stede, Tibgat en Kun. Later het Salomo dit gesmelt en vir die tempel gebruik. Hy het die kopersee, pilare en kopergereedskap daarvan gemaak.

9 Toe koning Toï van Hamat hoor dat Dawid die hele weermag van koning Hadad-Eser van Soba vernietig het,

10 het hy sy seun Joram na koning Dawid gestuur om hom te groet en geluk te wens met sy sukses oor Hadad-Eser. Hadad-Eser en Toï was lank vyande, en daar was baie oorloë tussen hulle. Joram het ook vir Dawid baie geskenke van goud, silwer en koper saamgebring.

11 Koning Dawid het al hierdie geskenke aan die Here geheilig, en so ook al die silwer en die goud wat hy afgeneem het van die nasies wat hy onderwerp het. Dit was Edom, Moab, Almon, die Filistyne en Amalek.

12 Abisai, seun van Seruja, het 18 000 Edomiete in die Soutdal verslaan.

13 Hy het wagposte deur die hele Edom geplaas, en al die Edomiete het Dawid se onderdane geword. Dit was nog ’n voorbeeld van hoe die Here aan Dawid die oorwinning gegee het waar hy ook al gegaan het.

14 Dawid het oor die hele Israel regeer. Hy het almal regverdig behandel.

15 Joab, seun van Seruja, was hoof van die leër. Josafat, seun van Agilud, was die koning se historikus.

16 Sadok, seun van Agitub, en Agimelek, seun van Abjatar, was die priesters. Sausa was die hofsekretaris.

17 Benaja, seun van Jojada, was kaptein van die koning se lyfwag. Dawid se seuns het as die koning se hoofassistente gedien.

1 KRONIEKE 19

Dawid verslaan die Ammoniete

1 ’n Ruk later het koning Nagas van die Ammoniete gesterf, en sy seun Ganun het in sy plek koning geword.

2 Dawid het gesê: “Ek gaan Ganun goed behandel omdat sy pa, Nagas, my altyd goed behandel het.” Dawid het ambassadeurs gestuur om simpatie met Ganun te betoon oor sy pa se dood.

Maar toe Dawid se ambassadeurs in die land van Ammon aankom,

3 het Ganun se adviseurs vir hom gesê: “Dink u regtig hierdie manne het gekom om u oor u pa te eer? Nee! Dawid het hulle gestuur om op die land te spioeneer sodat hy kan kom en dit verower!”

4 Ganun het toe Dawid se ambassadeurs gevange geneem en hulle baarde afgeskeer, hulle klere in die helfte by hulle heupe afgesny, en hulle in skaamte na Dawid toe teruggestuur.

5 Toe Dawid hoor wat gebeur het, het hy boodskappers gestuur om vir die manne te sê: “Bly in Jerigo totdat julle baarde uitgegroei het en kom dan eers terug.” Die ambassadeurs was verneder.

6 Die Ammoniete het besef dat hulle Dawid kwaad gemaak het. Ganun en die Ammoniete het toe 34 ton silwer gestuur om vir hulle strydwaens en perderuiters uit Aram-Nagarajim, Aram-Maäka en Soba te huur.

7 Hulle het ook 32 000 waens gehuur, asook die koning van Maäka met sy leër. Hierdie magte het by Medeba uitgekamp waar die Ammoniete wat Ganun uit sy eie stede opgeroep het, by hulle aangesluit het.

8 Toe Dawid dit hoor, het hy Joab en al sy soldate gestuur om teen hulle te veg.

9 Die Ammoniete se soldate het hulle in slagorde opgestel by die poort van die stad terwyl die ander konings hulleself in die oop veld opgestel het vir die geveg.

10 Joab het gesien dat hy aan twee kante sal moet veg. Toe kies hy die beste soldate in sy leër en laat hulle onder hom veg. Hy het hulle uitgelei om teen die Arameërs in die oop veld te gaan veg.

11 Die res van die leër het hy onder die bevel van sy broer Abisai gesit, en hulle moes die Ammoniete aanval.

12 Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk word, kom dan oor en help my. En as die Ammoniete vir jou te sterk word, sal ek jou kom help.

13 Wees vol moed! Laat ons ons krag gebruik om te veg vir ons volk en die stede van ons God. Mag die Here doen wat Hy wil!”

14 Toe Joab en sy soldate aanval, het die Arameërs begin weghardloop.

15 En toe die Ammoniete sien die Arameërs hardloop weg, het hulle ook voor Abisai, sy broer, weggehardloop en in die stad gaan wegkruip. Joab het teruggegaan Jerusalem toe.

16 Die Arameërs het nou besef dat Israel hulle behoorlik verslaan het. Toe het hulle weer ambassadeurs gestuur en nog meer Aramese soldate van oorkant die Eufraat gaan huur. Hierdie soldate was onder leiding van Sobak, die hoof van Hadad-Eser se weermag.

17 Dawid het gehoor wat gebeur het, en hy het die hele Israel gemobiliseer. Hulle het deur die Jordaan getrek en hy het sy soldate in gevegsformasie opgestel. Hy het die Aramese soldate begin aanval, en hulle het teen hom geveg.

18 Weereens het die Arameërs voor die Israeliete gevlug. Hierdie keer het Dawid se soldate 7 000 trekperde en 40 000 soldate doodgemaak, insluitende Sobak, die hoof van die weermag.

19 Toe die amptenare van Hadad-Eser besef dat Israel hulle verslaan het, het hulle hulle aan Dawid oorgegee en sy onderdane geword. Hierna was die Arameërs nie weer bereid om die Ammoniete te help nie.

1 KRONIEKE 20

Rabba beset

1 Die volgende lente, die tyd wanneer die konings gaan oorlog maak, het Joab die Israelitiese leërmag gelei. Hulle het die stede en dorpe van die Ammoniete verwoes. In die proses het hulle die stad Rabba beleër en dit vernietig. Dawid het in Jerusalem agtergebly.

2 Toe Dawid in Rabba aankom, het hy die kroon van die koning se kop afgehaal en dit is op Dawid se kop gesit. Die kroon was van goud met juwele daarin, en dit het 34 kilogram geweeg. Dawid het ook ’n baie groot buit uit die stad gevat.

3 Hy het van die mense van Rabba slawe gemaak en hulle gedwing om met sae, pikke en byle te werk. So het Dawid al die mense van die Ammonitiese stede behandel. Hierna het Dawid en sy leër na Jerusalem toe teruggegaan.

Oorloë teen die Filistyne

4 Hierna het daar by Geser oorlog teen die Filistyne uitgebreek. Terwyl hulle veg, het Sibbekai van Gusa vir Sippai, ’n afstammeling van die reuse, verslaan. Die Filistyne is onderwerp.

5 In ’n volgende geveg met die Filistyne het Elganan, seun van Jaïr, vir Lagmi, broer van Goliat uit Gat, doodgemaak. Die handvatsel van Lagmi se spies was so dik soos ’n wewersbalk!

6 In nog ’n geveg met die Filistyne by Gat was daar ’n reuse man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, 24 in totaal, ’n afstammeling van die reuse.

7 Hy het Israel uitgedaag. Maar Jonatan, seun van Dawid se broer Samma, het hom doodgemaak.

8 Hierdie Filistyne was afstammelinge van die reuse van Gat, maar hulle is deur Dawid en sy soldate doodgemaak.