1 KORINTIËRS 11

1 Volg julle dan my voorbeeld, soos ek Christus s’n volg.

Paulus gee riglyne vir die

erediens

2 Ek wil julle daarvoor prys dat julle in alles aan my dink en dat julle bly vashou aan ons geloofsoortuigings soos ek dit aan julle oorgedra het.

3 Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus hoof is oor elke man, dat die man hoof is oor sy vrou en dat God hoof is oor Christus.

4 Elke man wat met ’n kopbedekking bid of profeteer, doen Christus oneer aan.

5 En elke vrou wat bid of profeteer sonder dat sy haar kop bedek, doen haar man oneer aan, want dis dieselfde as wanneer haar hare afgeskeer sou wees.

6 Ja, as sy weier om ’n kopbedekking te dra, kan sy ewe goed haar hare ook maar afsny. Maar aangesien dit ’n skande vir ’n vrou is as haar hare afgesny of haar kop kaalgeskeer is, behoort sy ’n kopbedekking te dra.

7 ’n Man behoort egter nie ’n kopbedekking op te hê wanneer hy aanbid nie, want hy is God se beeld en sieraad. Die vrou is weer die man se sieraad.

8 Die eerste man is immers nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man.

9 Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man.

10 Die vrou moet dus ’n kopbedekking op hê as ’n teken van haar man se gesag oor haar, want die engele is besig om toe te kyk.

11 Tog, voor die Here is die vrou aangewese op die man en die man is weer aangewese op die vrou.

12 Want alhoewel die eerste vrou uit die man afkomstig was, is alle mans sedertdien uit vroue gebore. En uiteindelik is alles van God afkomstig.

13 Oordeel julle nou maar self. Is dit ordentlik vir ’n vrou om in die erediens met ’n onbedekte kop tot God te bid?

14 Leer julle gevoel van ordentlikheid nie vir julle dat dit vir ’n man oneervol is as hy ’n kopbedekking opsit,

15 maar dat ’n bedekking vir ’n vrou juis ’n sieraad is nie? Lang hare is immers as ’n bedekking vir haar gegee.

16 Maar as iemand hieroor wil argumenteer – ons het in elk geval nie so ’n gebruik nie en ook nie die ander gemeentes van God nie.

Hoe ’n mens aan die nagmaal

moet deelneem

17 Wanneer ek nou hierdie volgende saak ophaal, kan ek julle nie prys nie, want as julle as gemeente bymekaarkom, doen dit meer kwaad as goed.

18 Wat vir my vooropstaan, is dat ek verneem dat daar groepvorming onder julle is wanneer julle as gemeente bymekaarkom, en in ’n mate glo ek dit.

19 (Sulke verdelings onder julle kan selfs nodig wees in dié sin dat dit sal uitwys wie die staatmakers onder julle is.)

20 As julle dan as gemeente bymekaarkom, is dit duidelik nie die Here se maaltyd wat julle eet nie.

21 Want by die gemeenskaplike maaltyd eet elkeen haastig sy eie ete met die gevolg dat die een honger bly en die ander een weer dronk word.

22 Hoe is dit moontlik? Het julle dan nie julle eie huise waar julle kan eet en drink nie? Het julle geen respek vir die gemeente van God nie? Of wil julle die arm mense verneder? Wat verwag julle moet ek hieroor sê? Julle wil tog seker nie hê ek moet julle hieroor prys nie? Wel, dit sal ek sekerlik nie doen nie!

23 Dít is wat die Here self gesê het en wat ek destyds aan julle oorgedra het net soos ek dit ontvang het. In die nag waarin Jesus verraai is, het Hy brood geneem

24 en nadat Hy God gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam, dit is vir júlle. Gebruik dit ter herinnering aan My.”

25 Net so het Hy die wynbeker ná die maaltyd geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat verseël is deur my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, ter herinnering aan My.”

26 Want elke keer as julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die Here se dood totdat Hy terugkom.

27 As enigiemand dan op ’n onwaardige manier van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal daardie persoon skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here.

28 Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink.

29 Want as julle van die brood eet en uit die beker drink, eet en drink julle ’n oordeel oor julleself as julle nie die nodige respek teenoor Christus se liggaam betoon nie.

30 Dit is waarom daar baie swakkes en siekes onder julle is, en heelwat onder julle reeds oorlede is.

31 As ons onsself egter vooraf ondersoek, sal ons nie onder God se oordeel kom nie.

32 Maar selfs as ons God se oordeel en dissipline moet verduur, sal ons nie saam met die wêreld veroordeel word nie.

33 Daarom, my broers en susters, as julle vir die maaltyd van die Here bymekaarkom, wag vir mekaar.

34 As julle werklik honger is, eet liewer vooraf by die huis sodat julle nie ’n oordeel oor julleself bring wanneer julle bymekaarkom nie. Die ander kwessies sal ek hanteer wanneer ek by julle aankom.

1 KORINTIËRS 12

Oor die regte gebruik van die

gawes van die Gees

1 En nou, broers en susters, kom ek by julle volgende navraag, naamlik oor die gawes van die Gees. Ek wil hê julle moet hieroor goed ingelig wees sodat julle julle gawes reg sal gebruik.

2 Julle weet hoe julle destyds toe julle nog ongelowiges was, onder die aantrekkingskrag van die verskillende afgode herwaarts en derwaarts rondgesleep is – en dit nogal deur beelde wat nie ’n woord kan praat nie!

3 Daarom wil ek nou hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus,” definitief nie onder die invloed van die Gees van God praat nie.

Aan die ander kant is dit net die Heilige Gees wat dit vir iemand moontlik maak om te verklaar: “Jesus is die Here.”

4 Daar is ’n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees.

5 En daar is ’n hele verskeidenheid bedienings, maar ons dien dieselfde Here.

6 Daar is talle aktiwiteite in die gemeente, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge kragtig in ons almal aktiveer.

7 Elkeen van ons ontvang ’n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel.

8 Aan die een gee die Gees die bekwaamheid om goddelike wysheid te verkondig, aan ’n ander gee Hy die gawe van spesiale kennis.

9 Aan iemand anders gee hierdie selfde Gees ’n heel besondere geloof, aan nog een gee Hy gawes van genesing,

10 aan ’n volgende een die vermoë om wonders te verrig, aan ’n ander die gawe van profesie, aan nog een die vermoë om te onderskei tussen geeste, aan iemand anders die gawe van praat in tale, aan nog een die bekwaamheid om die tale uit te lê.

11 Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind.

Die kerk is een liggaam wat uit

baie ledemate bestaan, elkeen

12 Die menslike liggaam het baie ledemate, maar hierdie baie ledemate vorm almal saam net een liggaam. So is dit ook met Christus se liggaam.

13 Party van ons is Jode, ander Grieke, ander weer slawe en nog ander vry mense. Maar ons is almal gedoop sodat ons nou die een liggaam van Christus is. En ons is almal van die een Gees deurdrenk.

14 Ja, die liggaam bestaan nie net uit een ledemaat nie, maar uit baie.

15 As die voet sou sê: “Omdat ek nie die hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog nie minder deel van die liggaam nie.

16 En as die oor sou sê: “Omdat ek maar net ’n oor is en nie ’n oog nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” maak dit hom tog geensins minder deel van die liggaam nie.

17 Veronderstel ’n mens se hele liggaam sou uit ’n oog bestaan – hoe sal jy dan hoor? Of as jou hele liggaam net een groot oor sou wees – hoe sou jy enigiets kon ruik?

18 Maar nou het God dit so beskik dat daar verskillende ledemate sal wees en dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind.

19 As alles net een ledemaat was, dan sou daar mos geen liggaam kon wees nie!

20 Ja, daar is baie lede, maar net een liggaam.

21 Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek kan sonder jou klaarkom” nie. En op sy beurt kan die kop nie vir die voete sê: “Ek kan sonder julle klaarkom” nie.

22 Om die waarheid te sê, juis daardie liggaamsdele wat vir ons onbelangrik lyk, is des te meer noodsaaklik.

23 En die dele van ons liggaam wat ons as minder eervol beskou, beklee ons met groter sorg. Op hierdie manier beskerm ons daardie dele waarvoor ons skaam is, vir die oë van ander,

24 terwyl ons ander lede dit nie nodig het nie. God het dus ons liggaam so kunstig saamgestel dat daardie liggaamsdele wat eer kortkom, juis dubbele eer kry.

25 Gevolglik heers daar harmonie in ons liggaam en al die liggaamsdele sorg saam vir mekaar.

26 As een ledemaat swaarkry, kry al die ledemate saam swaar, en as een ledemaat vereer word, juig al die lede saam.

27 Julle is Christus se liggaam en elkeen van julle is ’n noodsaaklike liggaamsdeel.

28 Hier volg nou ’n lys van sommige van die “liggaamsdele” wat God aan sy gemeente gegee het: eerstens die apostels, tweedens die profete, derdens dié wat onderrig gee, dan dié wat wonders doen, dié met gawes van genesing, dié wat ander ondersteun, dié wat leiding gee, dié wat in tale praat.

29 Ons is mos nie almal apostels nie. Ons is nie almal profete nie. Ons het nie almal die gawe om onderrig te gee nie. Ons het nie almal die vermoë om wonders te verrig nie.

30 Ons het nie almal gawes van genesing nie. Ons kan nie almal in tale praat nie. Ons kan nie almal tale uitlê nie.

31 In alle geval – konsentreer op die nuttigste gawes. Maar laat ek julle nou eers vertel waar die eintlike geheim lê.

1 KORINTIËRS 13

Hoe onontbeerlik die liefde is

1 Al sou ek enige taal op aarde

of selfs in die hemel kon

praat,

maar ek kom die liefde kort,

het ek ’n galmende trom

of ’n klinkende simbaal geword.

2 En al sou ek die gawe van profesie hê,

en sou ek alle geheime kon ontrafel,

en al die kennis ter wêreld hê,

en al sou ek genoeg geloof hê

om berge te verskuif,

maar ek kom die liefde kort,

sou ek ’n ronde nul wees.

3 En al sou ek al my besittings

vir die armes gee

en selfs my liggaam opoffer

sodat ek my daarop kon beroem,

maar ek kom die liefde kort,

sou dit my niks help nie.

4 Die liefde is geduldig en vriendelik,

die liefde is nie jaloers nie,

die liefde blaas nie sy eie beuel nie,

is nie vol van homself nie.

5 Dit tree nie onwaardig op nie,

stel nie sy eie belange voorop nie,

is nie kort van draad nie,

hou nie boek van die kwaad

wat hom aangedoen word nie.

6 Dit treur oor die onreg

wat plaasvind,

en juig as die waarheid seëvier.

7 Die liefde bly stil oor ander se foute,

dit bly steeds vertrou,

dit hou aan met hoop,

dit verduur alles.

8 Die liefde sal nooit vergaan nie.

Maar profesieë sal tot niet gaan,

die spreek in tale sal ophou,

en kennis sal verouder raak.

9 Ons ken maar net ten dele

en ons profeteer maar net ten dele.

10 Wanneer die volmaakte

egter gekom het,

sal al die onvolmaakte

uitgedien wees.

11 Toe ek nog klein was,

het ek gepraat soos ’n kind,

gedink soos ’n kind,

geredeneer soos ’n kind.

Maar noudat ek volwasse is,

het ek die dinge van ’n kind

ontgroei.

12 Nou sien ons dinge nog net vaagweg

soos in ’n dowwe spieël,

maar eendag sal alles vir ons

glashelder wees.

Nou verstaan ek net ten dele,

maar eendag sal ek ten volle

verstaan,

net soos God my nou ten volle

verstaan.

13 Al wat altyd sal bly,

is geloof, hoop en liefde – hierdie drie.

Maar die grootste hiervan

bly steeds die liefde!

1 KORINTIËRS 14

Profesie is nuttiger vir

gemeente-opbou as praat in tale

1 Lê julle toe op die liefde. Bly egter ook entoesiasties oor die gawes van die Gees, veral oor die gawe om te profeteer.

2 As jy in tale praat, rig jy jou nie tot mense nie, maar tot God, want mense sal jou nie verstaan nie. Deur die werking van die Gees praat jy immers diep en onbegryplike dinge.

3 Maar as jy profeteer, bou jou woorde mense op en bemoedig en vertroos hulle.

4 Iemand wat in tale praat, word self geestelik opgebou, maar die persoon wat profeteer, bou die gemeente op.

5 Ek sou bly wees as julle almal in tale praat, maar nog blyer as julle sou profeteer. Want om te profeteer, is ’n belangriker en nuttiger gawe as die spreek in tale, tensy iemand sou verduidelik wat jy sê sodat die gemeente daardeur opgebou kan word.

6 Broers en susters, sê nou maar ek sou na julle toe kom en ek praat net in tale, hoe sou dit vir julle iets kon beteken? Maar as ek vir julle ’n Goddelike openbaring of ’n spesiale insig of ’n profesie sou bring, of julle sou iets besonders van my leer, dan sou dit tog sekerlik baie vir julle beteken.

7 Selfs lewelose musiekinstrumente soos die fluit en die harp wys vir ons hoe noodsaaklik dit is om in verstaanbare taal te praat. Want as die note nie duidelik onderskeibaar is nie, hoe sal ons hulle melodie herken?

8 En as die trompet nie ’n helder klank laat hoor nie, watter soldaat sal vir die geveg gereedmaak?

9 Dieselfde geld vir julle. As julle in ’n taal praat waarvan ’n mens nie die woorde kan onderskei nie, hoe sal iemand verstaan wat julle sê? Julle sal soos mense wees wat in die wind praat.

10 Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld en hulle maak almal van klanke gebruik.

11 Maar as ek nie sin kan maak van die klanke nie, sal ek vir die spreker onverstaanbaar wees en die spreker sal vir my ’n brabbelaar wees.

12 So moet julle ook, as julle julle toelê op die gawes van die Gees, daarop konsentreer om uit te munt in dié gawes wat die gemeente opbou.

13 Daarom moet elkeen wat in tale praat, ook bid vir die gawe van verduideliking.

14 Want wanneer ek in ’n taal bid, is dit my gees wat bid, maar my verstand bly onaktief.

15 Wat sê dit? Ek sal albei doen. Ek sal nie net bid met my gees nie, maar ek sal ook bid in verstaanbare woorde. Ek sal nie net lofsing met my gees nie, maar ook in verstaanbare woorde.

16 Want as jy God net met jou gees prys, hoe sal hulle wat onkundig is oor wat jy sê, jou lofprysing met hulle “Amen” bevestig? Hulle verstaan tog nie wat jy sê nie.

17 Jy het wel voortreflik gebid, maar jou medegelowiges word nie in hulle geloof opgebou nie.

18 Ek dank God dat ek meer in tale praat as julle almal.

19 Maar in ’n byeenkoms van die gemeente sal ek liewer vyf verstaanbare woorde praat waaruit ander iets kan leer as tienduisend in ’n onbekende taal.

20 Broers en susters, julle moenie soos naïewe kindertjies wees in julle denke oor hierdie dinge nie. Wees liewer babatjies wat die kwaad aanbetref, maar volwassenes in julle denke.

21 Daar staan in die Skrif dat die Here sê:

“Ek sal deur andertaliges

en deur die mond

van onbekende mense

met my eie volk praat.

Maar selfs dan sal hulle

nie na My luister nie.”

22 Beteken dit dus dat die praat in tale ’n teken is, nie vir gelowiges nie, maar vir ongelowiges en dat profesie daarenteen nie vir ongelowiges is nie, maar vir gelowiges?

23 Inteendeel, as die hele gemeente bymekaarkom en almal praat in tale en daar kom onkundiges of ongelowiges in, sal hulle nie sê julle is die kluts skoon kwyt nie?

24 Maar as almal profeteer en daar kom ongelowiges of onkundiges in en hulle word deur almal oortuig van sonde, en hulle lewens word deur almal ondersoek,

25 en hulle hartsgeheime word blootgelê, dan sal hulle net daar op hulle knieë val en God aanbid en verklaar: “Werklikwaar, God is hier by julle!”

26 Wel, broers en susters, kom ons vat saam. As julle bymekaarkom, kom die een met ’n loflied, die ander een wil oor ’n saak onderrig gee, nog ’n ander een wil vertel van ’n openbaring wat hy of sy ontvang het, nog een wil in tale praat en ’n ander een wil dit uitlê. Goed so, maar laat alles so gedoen word dat dit tot opbou van die gemeente dien.

27 As daar persone is wat in tale wil praat, gee aan twee of hoogstens drie die geleentheid om dit te doen en laat iemand dit uitlê.

28 Maar as daar niemand teenwoordig is wat die praat in tale kan uitlê nie, laat hulle in die gemeentebyeenkoms stilbly en hulle tuis op hulle eie tot God rig.

29 Wat die profete betref, laat twee of drie aan die woord kom en die ander dan beoordeel wat gesê is.

30 Maar as iemand besig is om te profeteer en iemand anders wat daar sit, ontvang ’n openbaring, moet eersgenoemde ophou praat.

31 So kan julle almal, een na die ander, ’n beurt kry om te profeteer en almal leer uit wat gesê word, en almal aangespoor word.

32 Onthou, mense wat profeteer, is in beheer van hulle gees en kan hulle beurt afwag.

33 God is nie ’n God van wanordelikheid nie, maar van onderlinge harmonie soos dit die geval is in al die gemeentes.

34 Die vroue moet in julle gemeente-byeenkomste stilbly. Dit pas hulle nie om daar te praat nie. Hulle moet onderdanig wees soos die wet ook sê.

35 As een van hulle ’n vraag wil stel, moet hulle hulle mans tuis daarna vra, want dit pas nie ’n vrou om in die gemeentebyeenkomste te praat nie.

36 Dink julle regtig dat die ware insig aangaande God se woord sy oorsprong by julle het of dat dit net by julle uitgekom het? Dan maak julle ’n groot fout.

37 As jy daarop aanspraak maak dat jy ’n profeet is of dat jy ’n geestelike mens is, behoort jy te erken dat wat ek skryf, ’n opdrag van die Here is.

38 Maar as jy dit ontken, sal die Here jou ook nie erken nie.

39 Dus, my broers en susters, wees entoesiasties om te profeteer en moenie die spreek in tale teëgaan nie.

40 Maar laat alles in goeie styl en ordelik plaasvind.

1 KORINTIËRS 15

Jesus Christus het beslis

opgestaan!

1 Broers en susters, ek herinner julle aan die Goeie Nuus wat ek tevore reeds aan julle verkondig het. Julle het dit aangeneem en hierdie boodskap vorm die vaste basis van julle geloof.

2 Deur hierdie Goeie Nuus word julle verlossing bewerk, dit wil sê as julle daaraan vashou soos ek dit oorspronklik aan julle verkondig het – anders was julle geloof heeltemal nutteloos.

3 Die kern van die boodskap wat ek destyds aan julle deurgegee het, en wat ek weer van hulle voor my ontvang het, was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het.

4 Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan.

5 Verder dat Hy aan Petrus verskyn het en daarna ook aan die twaalf apostels.

6 Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge tegelyk verskyn. Van hulle leef die meeste nou nog, maar party is reeds dood.

7 Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en later aan al die apostels.

8 Heel laaste van almal het Hy ook aan my verskyn, asof ek ontydig gebore is.

9 Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ’n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het.

10 Maar deur God se genade is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het.

11 Maak ook nie saak wie gepreek het nie. Die belangrike feit is dat dít die Goeie Nuus is wat ons verkondig en wat julle in die geloof aangeneem het.

Die dooies sal beslis opstaan

12 Sê vir my, as ons verkondig dat God Christus uit die dood laat opstaan het, hoe is daar dan sommige van julle wat beweer dat daar nie so iets soos die opstanding uit die dood bestaan nie?

13 As daar werklik geen opstanding uit die dood is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.

14 Maar as Christus nie opgewek is nie, sou dit beteken dat ons verkondiging geen substansie het nie en dat julle geloof ook platval.

15 Dan sou ons as leuenaars omtrent God aan die kaak gestel word. Dan het ons mos teen die waarheid van God in getuig dat Hy Christus opgewek het, terwyl Hy dit in werklikheid nie gedoen het nie – dit wil nou sê, as die dooies nie opgewek word nie.

16 Ek sê weer, as die dooies nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.

17 En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof waardeloos en is julle nog vasgevang in julle sondes.

18 In daardie geval is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore!

19 As ons egter op niks meer sou kon hoop as dat Christus ’n verskil sal maak aan ons huidige lewe nie, sou ons definitief die bejammerenswaardigste mense onder die son wees!

Christus se opwekking

waarborg die gelowiges se

20 Maar nou is die werklikheid totaal anders! God hét Christus uit die dood laat opstaan! Dit gee ons die waarborg dat ook die ander dooies sal opstaan.

21 Julle sien, soos die dood deur ’n mens, naamlik Adam, in die wêreld ingekom het, so het die opstanding uit die dood ook deur ’n mens werklikheid geword.

22 Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word.

23 Maar daar is ’n bepaalde volgorde hieraan verbonde: Christus was die eerste Een; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense opgewek word.

24 Vervolgens sal die einde kom wanneer Jesus die koningsheerskappy aan God die Vader sal teruggee nadat Hy elke vyandige mag wat daar kan wees, onderwerp het.

25 Want Christus moet aan bewind bly totdat Hy alle vyande finaal verslaan en aan Hom onderdanig gemaak het.

26 Die laaste van hierdie vyande wat vernietig moet word, is die dood.

27 Die Skrif sê mos: “God het aan Hom gesag oor alles gegee.” (Natuurlik, wanneer die Skrif sê dat God aan Hom die gesag oor alles gegee het, is God wat aan Christus hierdie gesag gegee het self uitgesluit.)

28 Wanneer die Seun dan alles aan Homself onderwerp het, sal Hy Hom ook self aan God onderwerp. So sal God dan, wat aan sy Seun die gesag oor alles gegee het, uiteindelik die absolute Koning oor alles en almal wees.

29 As die dooies hoegenaamd nie opgewek word nie, watter sin het dit dan dat mense hulle vir die dooies laat doop? Waarom sou hulle dit nog vir die dooies doen as hulle in elk geval nie weer opgewek word nie?

30 En waarom sal ons ons lewens uur na uur in gevaar stel?

31 Dag na dag verkeer ons op die randjie van die dood. Dit is die absolute waarheid, broers en susters, net so seker as dat julle ons trots is oor wat Christus Jesus ons Here vir julle gedoen het.

32 Verder, waarom sou ek as’t ware met wilde diere in Efese geveg het as dit alles verniet was? As daar geen opwekking van die dooies is nie,

“laat ons feesvier en dronk word,

want môre sterf ons”.

33 Moenie toelaat dat mense wat sulke dinge sê, julle vir die gek hou nie, want

“slegte geselskap

bederf goeie gewoontes”.

34 Kom tot julle sinne en moenie langer sondig nie. Tot julle beskaming moet ek vir julle sê dat party van julle heeltemal tekort skiet wat julle kennis van God betref.

Paulus beskryf hoe gelowiges se

opstandingsliggaam sal wees

35 Nou kan iemand vra: “Hoe sal die dooies wees wanneer hulle opgewek word? Watter soort liggame sal hulle hê?”

36 Jou onverstandige mens, as jy saad in die grond sit, ontkiem dit tog nie tot nuwe lewe as dit nie eers self doodgegaan het nie.

37 Wat jy in die grond sit, is nie die plant wat gaan groei nie, maar bloot ’n droë koringkorreltjie of watter ander saad jy ook al plant.

38 Dan gee God daaraan ’n nuwe liggaam – presies soos Hy dit bepaal het. Van elke soort saad groei daar ’n ander soort plant.

39 En net soos daar verskillende soorte saad en plante is, so is daar ook verskillende soorte vleis – dié van mense en diere en voëls en visse is almal verskillend.

40 Verder is daar ook hemelse liggame en aardse liggame. Die prag van die hemelliggame verskil van dié van aardse liggame.

41 Die stralende prag van die son verskil van dié van die maan, en die sterre het weer hulle eie prag. Die een ster se prag verskil ook weer van die ander een.

42 Dieselfde is die geval met die opstanding van die dooies. Ons aardse liggame, wat gewoonweg sal sterf en vergaan, sal anders wees wanneer hulle opgewek word, want hulle sal nooit weer sterf nie.

43 Daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid. Daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.

44 ’n Fisiese liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Ja, net soos daar fisiese liggame is, so is daar ook geestelike liggame.

45 Die Skrif sê vir ons: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende, fisiese persoon geword.” Maar die laaste Adam – dit is Christus – het ’n lewendmakende geestelike Persoon geword.

46 Die natuurlike, fisiese liggaam het eerste gekom, daarna die geestelike een.

47 Adam, die eerste mens, was uit die stof van die aarde gemaak, terwyl Christus, die tweede mens, van die hemel kom.

48 Elke menslike wese het ’n aardse liggaam, net soos dié van Adam, maar ons hemelse liggame sal net soos dié van Christus wees.

49 Net soos ons nou ewebeelde van Adam is, die mens uit die aarde, so sal ons eendag ewebeelde van Christus wees, die mens uit die hemel.

50 Wat ek wil sê, broers en susters, is dat ’n gewone mens van vleis en bloed nie net so aan die koninkryk van God kan deel kry nie. Wat verganklik is, kan nie deel kry aan wat onverganklik is nie.

51 Ek wil aan julle ’n diep waarheid vertel wat God aan ons bekendgemaak het. Dit is dat ons nie almal sal sterf nie, maar ons almal sal verander word.

52 Dit sal dadelik, ja, in ’n oogwink gebeur, wanneer die laaste trompet weerklink. Want as die trompet sy klank laat hoor, sal die dooies met onverganklike liggame opgewek word. En dan sal ons ook verander word.

53 Want ons verganklike aardse liggame moet in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie.

54 Wanneer dit gebeur – wanneer ons verganklike aardse liggame in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie – dan uiteindelik sal die Skrifwoord waar word:

“Die dood is totaal uitgewis,

want dit is heeltemal oorwin.”

55 “O dood, waar is jou oorwinning?

Dood, wat het van jou angel

geword?”

56 Want sonde is die angel wat die dood veroorsaak. En dit is die wet wat aan die sonde sy slaankrag gee.

57 Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning oor die sonde en die dood gee deur Jesus Christus ons Here!

58 Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.

1 KORINTIËRS 16

Paulus tref reëlings vir die

Jerusalemkollekte

1 Wat die geld betref wat ons vir die gelowiges in Jerusalem insamel, moet julle dieselfde reëling volg wat ek met die gemeentes in Galasië getref het.

2 Op elke Dag van die Here moet elkeen van julle na vermoë tuis iets opsy sit en dit spaar sodat daar nie eers insamelings plaasvind wanneer ek kom nie.

3 Wanneer ek kom, sal ek die persone waarop julle besluit, met aanbevelingsbriewe stuur om julle gawe in Jerusalem af te lewer.

4 As dit wenslik sou blyk dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.

5 Ek sal na julle toe kom nadat ek deur Masedonië gereis het. Ek reis deur Masedonië

6 en sal miskien by julle vertoef of dalk selfs oorwinter. Dan kan julle my help na my volgende bestemming, waar dit ook mag wees.

7 Ek wil julle nie nou bloot in die verbygaan sien nie, maar ek hoop om ’n rukkie by julle deur te bring as die Here my sal toelaat.

8 Intussen bly ek in Efese tot Pinkster,

9 want hier staan nou ’n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat op die evangelie reageer. Daar is egter ook baie teenstanders.

10 As Timoteus by julle aankom, help hom om met volle vrymoedigheid by julle op te tree. Hy doen die Here se werk, net soos ek.

11 Kyk dat niemand hom intimideer nie. En help hom om sy reis voorspoedig voort te sit op pad na my toe. Ek verwag hom saam met die ander broers.

12 Wat ons broer Apollos betref – ek het sterk by hom aangedring om saam met die ander broers na julle toe te kom, maar hy het glad nie kans gesien om nou te kom nie. Hy sal kom wanneer die tyd daarvoor reg is.

13 Wees waaksaam! Staan vas in wat julle glo! Wees moedig! Wees sterk!

14 Alles wat julle doen, moet in liefde geskied.

15 Julle weet dat Stefanas en sy huisgesin die eerste bekeerlinge in Suid-Griekeland was en dat hulle hulle lewe wy aan die diens van ander Christene. Ek vra julle ernstig

16 dat julle hulle sal respekteer en ander soos hulle wat met groot toewyding vir die Here werk.

17 Ek is so bly dat Stefanas, Fortunatus en Agaïkus hier aangekom het. Hulle het vergoed vir julle afwesigheid.

18 Hulle het my gees weer opgebeur, soos ook julle s’n. Respekteer mense soos hulle.

Paulus dra groete oor

19 Die gemeentes hier in die provinsie Asië groet julle hartlik in die Here, saam met Akwila en Priscilla en al die ander gemeentelede wat in hulle huis bymekaarkom.

20 Al die broers en susters hier het my gevra om julle namens hulle te groet. Groet mekaar met die soen van Christelike liefde.

21 Hier is my eie groet. Ek is Paulus, en ek skryf dit met my eie hand.

22 As iemand die Here nie liefhet nie – laat hom vervloek wees. Kom, ons Here!

23 Mag die genade van ons Here Jesus met julle wees.

24 Mag my liefde met julle almal in Christus Jesus bly.