1 KONINGS 11

Salomo se buitelandse vroue

verlei hom

1 Koning Salomo het baie buitelandse vroue liefgekry. Benewens die farao se dogter het hy vroue uit Moab, Ammon, Edom, Sidon en uit die Hetiete gehad.

2 Die Here het duidelik vir die Israeliete gesê: “Julle mag nie met hierdie nasies ondertrou nie. Hulle sal julle verlei om hulle gode te aanbid.” Nogtans het Salomo op hulle verlief geraak.

3 Hy het 700 vroue van koninklike afkoms gehad en 300 byvroue. Hierdie vroue het hom toe inderdaad verlei.

4 Toe Salomo oud geword het, het hulle hom verlei om ander gode te dien. Hy het nie meer die Here sy God met soveel toewyding gedien soos sy pa, Dawid, gedoen het nie.

5 Salomo het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike godin van die Ammoniete, aanbid.

6 Dit wat Salomo gedoen het, was verkeerd vir die Here. Hy het nie meer die Here met volle oorgawe gedien soos sy pa, Dawid, nie.

7 Op die heuwel oos van Jerusalem het hy selfs ’n hoogte vir Kemos, die walglike god van Moab, gebou, asook een vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete.

8 Salomo het sulke hoogtes vir al sy buitelandse vroue gemaak sodat hulle daar wierook kon brand en offers aan hulle gode kon bring.

God oordeel Salomo

9 Die Here was baie ontevrede met Salomo omdat hy die Here, die God van Israel wat twee keer aan hom verskyn het, verlaat het.

10 Hy het Salomo uitdruklik gewaarsku om nie ander gode te dien nie. Nogtans het Salomo nie na die bevele van die Here geluister nie.

11 Die Here sê toe vir hom: “Aangesien jy die verbond met My verbreek het en ongehoorsaam was aan my opdragte, sal Ek sekerlik die koninkryk van jou afskeur en dit vir een van jou onderdane gee.

12 Ter wille van jou pa, Dawid, sal Ek dit nie in jou leeftyd doen nie, maar wel wanneer jou seun koning geword het.

13 Ek sal ook nie die hele koninkryk afskeur nie. Ter wille van my dienaar Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ek uitgekies het, sal Ek wel een stam vir jou seun laat oorbly.”

Salomo se vyand Hadad

14 Toe het die Here Hadad die Edomiet, ’n familielid van die koning van Edom, aangepor om teen Salomo in opstand te kom.

15 Jare vantevore het Dawid saam met Joab, die opperbevelhebber van sy leër, na Edom toe gegaan om dié wat gesneuwel het, te begrawe. Dit was nadat die leër van Israel feitlik elke manlike persoon in Edom doodgemaak het.

16 Dit het Joab en sy leër ses maande geneem om al die mans dood te maak.

17 Maar Hadad, wat toe nog maar ’n jong seun was, het saam met sommige Edomiete uit die hofhouding van sy pa in die rigting van Egipte gevlug.

18 Hulle het deur Midian na Paran toe getrek. Daar het nog mense by hulle aangesluit. Hiervandaan het hulle na Egipte toe gegaan, na die farao, die koning van Egipte. Hy het vir hulle woonplek, kos en grond gegee.

19 Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy sy skoonsuster, die suster van sy vrou koningin Tagpenes, vir hom as vrou gegee het.

20 Sy het vir Hadad ’n seun, Genubat, in die wêreld gebring. Tagpenes het hom saam met die farao se eie kinders in die farao se paleis grootgemaak.

21 Toe Hadad in Egipte hoor dat sowel Dawid as Joab, die opperbevelvoerder van sy leër, dood is, sê hy vir die farao: “Laat my gaan sodat ek na my eie land kan terugkeer.”

22 “Hoekom?” vra die farao hom. “Kom jy hier iets kort dat jy nou wil teruggaan?”

“Nee, niks is verkeerd nie,” antwoord hy. “Maar laat my tog teruggaan.”

Reson in opstand teen Salomo

23 God het ook Reson, seun van Eljada, en onderdaan van koning Hadad-Eser van Soba, aangehits om teen Salomo in opstand te kom. Reson het vir die koning gevlug.

24 Hy het ’n klompie manne om hom bymekaargemaak en die leier van die bende geword. In die tyd toe Dawid die magte van Soba verslaan het, het Reson en sy mense na Damaskus toe gevlug. Hy het daar gaan woon en koning geword.

25 Solank Salomo geleef het, was Reson ’n vyand van Israel. Dit was benewens die kwaad wat Hadad aangerig het. Reson was koning van Aram en het Israel intens gehaat.

Agija se boodskap aan

Jerobeam

26 Daar was ook nog ’n ander opstandeling. Sy naam was Jerobeam seun van Nebat, een van Salomo se amptenare. Hy was ’n Efratiet uit Sereda. Sy ma was Serua, ’n weduwee.

27 Sy opstand het soos volg verloop: Salomo was besig om die terras te bou om die opening in die muur van die Dawidstad toe te maak.

28 Jerobeam was ’n baie bekwame man sodat Salomo hom in beheer geplaas het van die dwangarbeid uit die stamme van Efraim en Manasse.

29 In hierdie tyd het die profeet Agija uit Silo Jerobeam net buite Jerusalem langs die pad teëgekom. Agija het ’n nuwe mantel aangehad. Die twee van hulle was alleen in die veld.

30 Agija vat toe die nuwe mantel en skeur dit in twaalf stukke.

31 Toe sê hy vir Jerobeam: “Vat vir jou tien stukke, want die Here, die God van Israel sê: ‘So gaan Ek die koningskap van Salomo afskeur en tien van die stamme vir jou gee.

32 Ek sal een stam vir hom laat oorbly ter wille van my dienaar Dawid, en ter wille van Jerusalem wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het.

33 Dit sal gebeur omdat Salomo My verlaat het en Astarte die godin van die Sidoniërs, Kemos die god van Moab, en Milkom die god van die Ammoniete, aanbid. Hy leef nie meer volgens my wil nie en hy doen wat nie vir My reg is nie. Hy kom nie my gebooie en voorskrifte na soos sy pa Dawid gedoen het nie.

34 “‘Tog sal Ek nie die hele koningskap van hom wegneem nie. Ter wille van my dienaar Dawid, die een wat Ek gekies het en wat my bevele en gebooie gehoorsaam het, sal Ek Salomo toelaat om vir die res van sy lewe te regeer,

35 maar Ek sal die koninkryk van sy seun wegneem en tien van die stamme vir jou gee.

36 Sy seun sal een stam behou sodat die troon van my dienaar Dawid bestendig sal wees in Jerusalem, die stad wat Ek gekies het ter ere van my Naam.

37 Ek sal jou koning maak volgens jou hartsbegeerte sodat jy oor Israel kan regeer.

38 As jy vir My luister en volgens my wil lewe en doen wat Ek as reg beskou; as jy my gebooie en bepalings gehoorsaam soos my dienaar Dawid gedoen het, dan sal Ek altyd by jou wees. Ek sal ’n blywende koningshuis vir jou oprig soos Ek vir Dawid gemaak het en Ek sal Israel vir jou gee.

39 Maar die nageslag van Dawid sal Ek verneder weens die sonde van Salomo, hoewel dit nie vir altyd sal wees nie.’”

40 Salomo het Jerobeam probeer doodmaak, maar hy het na koning Sisak van Egipte gevlug en daar gewag tot Salomo se dood.

Die einde van Salomo

41 Die ander gebeurtenisse tydens Salomo se regering, wat hy gedoen het en sy wysheid, is opgeteken inDie boek van die handelinge van Salomo.

42 Salomo het 40 jaar lank in Jerusalem oor die hele Israel regeer.

43 Toe hy sterf, is hy in die stad van sy pa, Dawid, begrawe. Sy seun Rehabeam het hom opgevolg.

1 KONINGS 12

Die noordelike stamme breek

weg

1 Rehabeam het na Sigem toe gegaan waar die hele Israel vergader het om hom tot koning te kroon.

2 Jerobeam seun van Nebat was nog in Egipte waarheen hy vir Salomo gevlug het. Toe hy hiervan hoor, het hy uit Egipte teruggekom.

3 Die leiers van Israel het Jerobeam laat kom en hy het saam met die hele Israel na Rehabeam toe gegaan.

4 “U pa het ons ’n swaar las laat dra,” het hulle gesê. “Verminder tog die arbeidslas wat u pa op ons gelê het sodat die juk wat ons dra ligter kan wees. Dan sal ons u onderdane bly.”

5 Rehabeam het geantwoord: “Gee my drie dae en kom dan terug vir my antwoord.” Die volk het toe teruggegaan.

6 Daarna het koning Rehabeam die ouer mense geraadpleeg wat sy pa Salomo van raad bedien het. “Wat beveel julle aan?” vra hy. “Hoe moet ek die mense antwoord?”

7 Die ouer raadgewers het geantwoord: “As u vandag na die volk luister en hulle tevrede stel met ’n gunstige antwoord, sal hulle altyd u onderdane bly.”

8 Maar Rehabeam het die advies van die ouer raadsmanne verwerp. Hy vra toe raad by die jonger manne wat saam met hom grootgeword het en nou in sy diens was.

9 “Wat dink julle moet ek hierdie mense antwoord?” vra hy hulle. “Hulle wil hê dat ek die laste wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.”

10 Die jong manne wat saam met hom grootgeword het, het hom geantwoord: “Jy moet soos volg reageer teenoor die mense wat gesê het: ‘U pa het ons ’n swaar las laat dra. Verminder tog die arbeidslas.’ Só moet jy vir hulle sê:

‘My pinkie is dikker

as my pa se middellyf.

11 My pa het ’n swaar las

op julle gelê;

maar ek gaan die las

nog swaarder maak!

My pa het julle

met swepe geslaan;

maar ek sal julle met

skerpioene teister!’”

12 Drie dae later het Jerobeam en die hele volk teruggekom volgens die koning se bevel: “Kom oor drie dae terug.”

13 Maar Rehabeam het die volk ’n harde antwoord gegee omdat hy die raad van die ouer manne verwerp het

14 en die volk geantwoord het volgens die raad van die jonger manne:

“My pa het ’n swaar las

op julle gelê;

ek gaan die las

nog swaarder maak!

My pa het julle

met swepe geslaan;

maar ek sal julle met

skerpioene teister!”

15 Die koning het nie toegegee aan die versoek van die volk nie. Hierdie wending was die werk van die Here volgens sy boodskap aan Jerobeam seun van Nebat deur die profeet Agija uit Silo.

16 Toe die Israeliete besef dat die koning hulle versoek verwerp het, het hulle geskreeu:

“Wat het ons aan Dawid

en sy koningshuis?

In die seun van Isai

het ons geen aandeel nie!

Gaan terug na julle huise toe,

Israel!

Sorg julle nou maar vir julleself,

huis van Dawid!”

Die volk het toe teruggegaan na hulle huise toe.

17 Rehabeam het bly regeer oor die Israeliete wat in die Judese stede gewoon het.

18 Koning Rehabeam stuur toe vir Adoniram wat oor die dwangarbeid was, na Israel toe. Die Israeliete het hom egter met klippe doodgegooi. Koning Rehabeam kon net betyds in sy strydwa kom en na Jerusalem toe vlug.

19 So het die noordelike stamme van Israel teen die koningshuis van Dawid in opstand gekom. Dit is tot vandag toe nog so.

20 Na die volk van Israel gehoor het dat Jerobeam terug was uit Egipte, het hulle hom na ’n vergadering laat kom en hom koning oor die hele Israel gemaak. Net die stam van Juda het getrou gebly aan die afstammelinge van Dawid.

Die boodskap van Semaja

21 Toe Rehabeam in Jerusalem terugkom, het hy die leër van Juda en Benjamin opgeroep. Daar was 180 000 uitgesoekte soldate wat teen die leër van Israel kon optrek om die koningskap vir hom terug te wen.

22 Maar God het vir Semaja, die man van God, beveel:

23 “Gaan sê vir Rehabeam, die koning van Juda, seun van Salomo, en vir die hele Juda en Benjamin en die res van die volk:

24 ‘Dis wat die Here sê: Moenie teen jou bloedverwante, die Israeliete, gaan veg nie. Gaan terug huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.’” Hulle het die boodskap van die Here gehoorsaam en terug huis toe gegaan soos die Here beveel het.

Jerobeam maak aanbiddings-

plekke in die noorde

25 Jerobeam het Sigem in die Efraimsberge herbou en dit sy hoofstad gemaak. Hy het later verhuis en Pniël herbou.

26 Jerobeam het by homself gedink:

27 “Die koningskap kan maklik weer teruggaan na die koningshuis van Dawid. As hierdie volk aanhou om Jerusalem toe te gaan om daar by die tempel van die Here te offer, sal hulle weer vertroue kry in koning Rehabeam van Juda. Hulle sal my doodmaak en teruggaan na Rehabeam, die koning van Juda.”

28 Op advies van sy raadgewers het die koning toe twee goue beelde van kalwers gemaak.

Hy sê toe: “Julle het nou lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel. Hier is die gode wat julle uit Egipte gebring het!”

29 Hy het een kalwerbeeld in Bet-El opgerig en die ander een in Dan.

30 Dit het die volk tot sonde verlei. Die volk het selfs saam in die optog na Dan toe gegaan.

31 Jerobeam het heiligdomme op die hoogtes gebou, en het mense uit die volk wat nie uit die stam van Levi was nie, as priesters aangestel.

32 Jerobeam het ’n fees in die middelherfs in Bet-El gehou net soos die een in Juda. In Bet-El het hy op die altaar offers gebring vir die kalwerbeelde wat hy gemaak het. Hy het ook priesters aangestel vir die hoogtes in Bet-El.

33 Op die bepaalde dag in middelherfs het Jerobeam offers gebring op die altaar in Bet-El.

Hy het self besluit oor die datum van die fees wat hy vir die Israeliete ingestel het.

’n Man van God veroordeel

Jerobeam

Hy het na die altaar gegaan om te offer.

1 KONINGS 13

1 Skielik daag daar ’n man van God uit Juda by Bet-El op. Dit was op bevel van die Here. Hy het daar aangekom net toe Jerobeam by die altaar gaan staan het om te offer.

2 Op bevel van die Here roep hy toe uit: “Altaar, altaar! Dit is wat die Here sê: ‘’n Seun met die naam Josia sal uit die nageslag van Dawid gebore word. Hier op jou sal hy die priesters van die hoogtes offer wat nou wierookoffers op jou bring. Hier sal mensbene op jou verbrand word.’”

3 Die man van God het ook ’n teken aangekondig om sy boodskap te bevestig. Hy het gesê: “Die Here het hierdie teken gegee: Hierdie altaar sal uitmekaarbreek en die as daarop sal op die grond val.”

4 Koning Jerobeam was woedend vir die man van God omdat hy teen die altaar gepraat het. Hy het sy hand na die man uitgesteek en gesê: “Gryp hom!” Maar die koning se hand het dadelik styf geword sodat hy dit nie weer kon terugtrek nie.

5 Terselfdertyd het die altaar uitmekaargebreek en die as het op die grond geval. Dit het net so gebeur soos wat die man van God op bevel van die Here gesê het.

6 Die koning vra toe vir die man van God: “Asseblief, bid tot die Here jou God om my hand te herstel!” Die man van God het tot die Here gebid en die koning se hand het herstel soos tevore.

7 Toe sê die koning vir die man van God: “Kom saam na die paleis toe en kom eet sodat ek jou kan beloon.”

8 Maar die man van God sê vir die koning: “Selfs al sou u my die helfte van u besittings gee, kan ek nie saam met u gaan nie. Ek mag niks in hierdie plek eet of water drink nie.

9 Die Here het my beveel: ‘Jy mag geen kos eet of water drink terwyl jy daar is nie. En moenie met dieselfde pad terugkom as wat jy gegaan het nie.’”

10 Daarna het hy weggegaan uit Bet-El en met ’n ander pad huis toe gegaan.

Die man van God en die ou

profeet

11 In Bet-El het daar ’n ou profeet gewoon. Toe sy seuns by die huis kom, het hulle hom vertel wat die man van God daardie dag in Bet-El gedoen het. Hulle het ook vertel wat hy vir die koning gesê het.

12 Die ou profeet vra toe vir hulle: “Met watter pad het hy vertrek?” Hulle het gesien met watter pad die man van God uit Juda teruggegaan het en het dit vir hom gesê.

13 “Saal gou die donkie vir my op,” sê hy vir sy seuns. Hulle het dit gedoen en hy is daar weg

14 agter die man van God aan. Hy het hom gekry waar hy onder ’n groot boom gesit het.

Die ou profeet vra hom: “Is jy die man van God wat uit Juda gekom het?”

“Ja,” antwoord hy, “ek is.”

15 Die ou profeet sê toe vir hom: “Kom saam met my huis toe en eet ’n bietjie.”

16 “Nee, ek mag nie saam met jou teruggaan nie,” antwoord hy. “Ek mag geen kos of water in hierdie plek drink nie,

17 want die Here het my uitdruklik beveel: ‘Jy mag geen kos eet of water drink terwyl jy daar is nie, en jy mag nie met dieselfde pad terugkom as waarlangs jy gegaan het nie.’”

18 Maar die ou profeet het geantwoord: “Ek is ook ’n profeet, net soos jy. ’n Engel het my hierdie boodskap van die Here gegee: ‘Bring hom na jou huis toe en gee hom kos om te eet en water om te drink.’” Maar die ou profeet het vir hom ’n leuen vertel.

19 Die man van God het nogtans saam teruggegaan en by die profeet se huis kos geëet en water gedrink.

20 Terwyl hulle nog aan tafel was, kom daar ’n boodskap van die Here na die ou profeet.

21 Hy sê vir die man van God uit Juda: “Dit is wat die Here sê: ‘Jy het in verset gekom teen die Here se opdrag en was ongehoorsaam aan die bevele wat die Here jou God jou gegee het.

22 Jy het na hierdie plek toe teruggekom en kos geëet en water gedrink terwyl Hy jou belet het om iets te eet of water te drink. Daarom sal jou liggaam nie in jou familiegraf begrawe word nie.’”

23 Nadat die man van God klaar geëet en gedrink het, het die profeet wat hom laat afdraai het, die donkie vir hom opgesaal.

24 Die man van God het toe vertrek. Op pad het ’n leeu hom aangeval en doodgemaak. Sy liggaam het daar in die pad gelê, terwyl die donkie en die leeu albei langs die liggaam bly staan het.

25 Mense wat verbygekom het, het die lyk gesien wat in die pad lê, en ook die leeu wat daar langsaan staan. Hulle het dit in Bet-El, waar die ou profeet gewoon het, gaan vertel.

26 Toe die ou profeet wat hom laat afdraai het, dit hoor, sê hy: “Dit is die man van God wat ongehoorsaam was aan die Here se opdrag. Dis die Here wat die leeu gestuur het om hom aan te val en dood te maak, soos Hy gesê het.”

27 Die profeet sê toe vir sy seuns: “Saal vir my die donkie op!” en hulle het dit gedoen.

28 Hy het gegaan en die liggaam gekry waar dit in die pad lê. Die donkie en die leeu het nog steeds daar gestaan. Die leeu het glad nie aan die liggaam gevreet of die donkie aangeval nie.

29 Die profeet het die liggaam van die man van God op die donkie gelaai en dit na Bet-El toe teruggebring om oor hom te treur en hom te begrawe.

30 Hy het die liggaam in sy eie grafkelder neergelê, oor hom getreur en bedroef uitgeroep: “Ag, my broer!”

31 Daarna sê die profeet vir sy seuns: “Wanneer ek sterf, moet julle my in dieselfde graf begrawe waar die man van God begrawe is. Sit my bene langs sy bene.

32 Die boodskap van die Here wat hy oor die altaar in Bet-El en oor die hoogtes in Samaria aangekondig het, sal sekerlik presies so gebeur.”

33 Maar selfs ten spyte van hierdie gebeurtenis het Jerobeam nie sy bose dinge laat vaar nie. Hy het voortgegaan om sommer uit die volk priesters vir die hoogtes aan te stel. Hy het enigeen wat ’n priester wou wees as priester by die hoogtes aangestel.

34 Dit was die sonde van Jerobeam en sou lei tot die ondergang en totale vernietiging van sy koningshuis.

1 KONINGS 14

Jerobeam verwerp

1 In hierdie tyd het Jerobeam se seun Abia baie siek geword.

2 Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Vermom jouself sodat niemand jou as Jerobeam se vrou kan herken nie. Gaan dan na die profeet Agija in Silo, die man wat gesê het dat ek koning oor hierdie volk sou word.

3 Vat vir hom tien brode, koeke en ’n kruik vol heuning saam. Hy sal vir jou sê wat met die seun sal gebeur.”

4 Jerobeam se vrou het toe na Agija se huis in Silo gegaan. Teen hierdie tyd kon hy nie meer sien nie omdat die ouderdom sy oë ingehaal het.

5 Maar die Here het reeds vir Agija ingelig: “Jerobeam se vrou kom hiernatoe en sal haar voordoen as iemand anders. Sy sal navraag doen oor haar seun, want hy is baie siek. Antwoord haar soos Ek vir jou sê.”

6 Toe Agija haar voetstappe by die deur hoor, roep hy: “Kom binne, vrou van Jerobeam! Hoekom gee jy voor dat jy iemand anders is? Ek het slegte nuus vir jou.

7 Gaan sê vir Jerobeam: ‘Dit is wat die Here, die God van Israel sê: Ek het jou uit die gewone mense geneem en jou heerser van Israel gemaak.

8 Ek het die koningskap afgeskeur van die Dawidshuis en dit vir jou gegee. Maar jy was nie soos my dienaar Dawid wat my bevele gehoorsaam het, My ten volle gedien het en volgens my eise gelewe het nie.

9 Jy het meer kwaad gedoen as almal voor jou. Jy het ander gode gemaak en My met jou goue kalwers uitgetart. Omdat jy jou rug op My gedraai het,

10 sal Ek rampe oor jou koningshuis laat kom. Ek sal elke manlike uit die nageslag van Jerobeam uitroei uit Israel, of dit slawe of vry mense is. Ek sal jou koningshuis verbrand soos ’n mens rommel verbrand totdat daar niks oor is nie.

11 Die honde sal elkeen wat aan Jerobeam behoort en wat in die stad sterf, opvreet, en dié wat in die veld sterf, sal die roofvoëls verslind. Dit sal gebeur, want die Here het dit gesê.’

12 “Jy kan nou maar huis toe gaan. Wanneer jy die stad binnekom, sal die kind sterf.

13 Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe. Hy is die enigste van die familie van Jerobeam wat begrawe sal word, want hierdie kind is die enigste een in die familie van Jerobeam in wie die Here, die God van Israel, iets goeds gekry het.

14 Die Here sal vir Hom ’n koning oor Israel aanstel wat die hele familie van Jerobeam sal uitwis. Dit sal binnekort, sonder versuim, gebeur!

15 Dan sal die Here Israel tref soos vloedwater ’n riet tref. Hy sal die mense van Israel uitruk uit hierdie goeie land wat Hy vir hulle voorouers gegee het en hulle verstrooi tot anderkant die Eufraatrivier, want hulle het die Here uitgetart met pale wat aan Asjera gewy was.

16 Hy sal Israel prysgee oor die sonde van Jerobeam, en omdat hy die hele Israel laat sondig het.”

17 Jerobeam se vrou het na Tirsa toe teruggegaan. Toe sy oor die paleis se drumpel stap, het die kind gesterf.

18 Hulle het hom begrawe en die hele Israel het oor hom gerou soos die Here deur Agija die profeet gesê het.

19 Die ander gebeurtenisse tydens Jerobeam se regering, al sy oorloë en hoe hy regeer het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

20 Jerobeam het twintig jaar lank in Israel regeer. Toe Jerobeam later sterf, het sy seun Nadab hom as koning opgevolg.

Rehabeam regeer in Juda

21 Intussen het Rehabeam oor Juda regeer. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was sewentien jaar lank koning in Jerusalem, die stad wat die Here uit al die stamme van Israel gekies het as die plek waar sy Naam vereer moet word. Rehabeam se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou.

22 Gedurende die regering van Rehabeam het die Judeërs gedoen wat verkeerd was vir die Here. Met hulle sondes het hulle die Here meer getart as wat hulle voorouers gedoen het.

23 Hulle het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom hoogtes gebou en klippilare en pale gewy aan Asjera opgerig.

24 Daar was ook manlike tempelprostitute in die land. Die Judeërs het dieselfde afskuwelike praktyke beoefen as die heidennasies wat die Here ter wille van die Israeliete uit die land verdryf het.

Sisak val Jerusalem aan

25 In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam het koning Sisak van Egipte gekom en Jerusalem aangeval.

26 Hy het die tempel van die Here en die koninklike paleis geplunder. Hy het alles gevat, selfs die goue skilde wat Salomo laat maak het.

27 Daarna het Rehabeam skilde van brons gemaak om dit te vervang, en het dit in die sorg van die hoof van die lyfwagte by die ingang van die paleis geplaas.

28 Elke keer wanneer die koning na die tempel van die Here gegaan het, het die wagte die skilde saamgedra en dit daarna weer in die wagte se kamer gebêre.

Rehabeam kom te sterwe

29 Die ander gebeurtenisse tydens Rehabeam se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda.

30 Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam.

31 Toe Rehabeam sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou. Sy seun Abia het hom as koning opgevolg.

1 KONINGS 15

Abia regeer in Juda

1 In die agtiende regeringsjaar van Jerobeam seun van Nebat het Abia koning van Juda geword.

2 Hy het drie jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Maäka, dogter van Abisalom.

3 Hy het dieselfde sondes gepleeg as sy pa voor hom. Hy het nie die Here sy God met oorgawe gedien soos sy voorsaat Dawid nie.

4 Maar ter wille van Dawid het die Here sy God sy koningshuis in Jerusalem laat voortbestaan deur vir hom ’n seun te gee om ná hom in Jerusalem te regeer en die stad in stand te hou.

5 Dit was so omdat Dawid gedoen het wat die Here se goedkeuring geniet het en die voorskrifte van die Here sy lewe lank gehoorsaam het, behalwe in die geval van Urija die Hetiet.

6 Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam, al die dae van Rehabeam se lewe.

7 Die ander gebeurtenisse tydens Abia se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda. Daar was ook oorlog tussen Abia en Jerobeam.

8 Toe Abia sterf, is hy in die Dawidstad begrawe. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg.

Asa se stryd met Baesa

9 Asa het in die twintigste regeringsjaar van Jerobeam van Israel koning van Juda geword.

10 Hy het 41 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Maäka, dogter van Abisalom.

11 Asa het gedoen wat die Here se goedkeuring geniet het net soos sy voorvader Dawid.

12 Hy het die tempelprostitute uit die land verban en al die afgode wat sy voorgangers gemaak het, weggeneem.

13 Hy het selfs sy ma Maäka onthef van haar posisie as koninginmoeder omdat sy ’n afskuwelike beeld ter ere van Asjera laat maak het. Hy het dit stukkend gekap en in die Kidrondal verbrand.

14 Hoewel die hoogtes nie verwyder is nie, het Asa nogtans gedurende sy hele lewe aan die Here getrou gebly.

15 Hy het ook die silwer en goue offergereedskap wat hy en sy pa aan God gewy het, na die tempel toe gebring.

16 Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.

17 Koning Baesa van Israel het Juda binnegeval en Rama versterk om sodoende te verhoed dat enigiemand koning Asa van Juda se gebied kon binnekom of verlaat.

18 Asa het toe die silwer en goud wat nog in die skatkamers van die Here se tempel en die koninklike paleis was, geneem. Hy het amptenare gestuur om dit na Ben-Hadad seun van Tabrimmon en kleinseun van Gesjon, die koning van Aram in Damaskus, weg te vat. Hy het hom laat weet:

19 “Laat ons ’n ooreenkoms sluit soos wat daar tussen u pa en my pa was. Kyk, ek stuur vir u ’n geskenk van silwer en goud. Verbreek tog u ooreenkoms met koning Baesa van Israel sodat hy van my af kan wegtrek.”

20 Ben-Hadad het na Asa se versoek geluister. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val. Hulle het die dorpe Ijon, Dan, Abel-Bet-Maäka en die hele Gennesaret en ook die hele gebied van Naftali verower.

21 Toe Baesa van Israel hoor wat besig is om te gebeur, het hy die bouwerk by Rama laat staan en in Tirsa gaan woon.

22 Daarna het koning Asa die hele Juda opgeroep. Elkeen sonder uitsondering moes help om die klippe en hout wat Baesa vir die bouwerk in Rama gebruik het, weg te dra. Asa het hierdie boumateriaal gebruik vir bouwerk by Geba in Benjamin en by Mispa.

23 Die ander gebeurtenisse tydens Asa se regering, al sy dapper dade, alles wat hy gedoen het, en die stede wat hy gebou het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Juda. In sy ouderdom het hy egter ’n siekte aan sy voete opgedoen.

24 Toe Asa sterf, is hy in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Josafat het hom as koning opgevolg.

Baesa vermoor Nadab

25 Nadab seun van Jerobeam het in die tweede regeringsjaar van koning Asa in Juda koning oor Israel geword. Hy het twee jaar oor Israel regeer.

26 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het die voorbeeld van sy pa gevolg en Israel dieselfde sonde laat doen.

27 Baesa seun van Agija uit die stam Issaskar, het saamgesweer teen Nadab en hom vermoor terwyl hy en die leër van Israel die Filistynse dorp Gibbeton beleër het.

28 Baesa het hom in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda vermoor en het koning van Israel geword.

29 Hy het onmiddellik al die nasate van koning Jerobeam uitgemoor. Nie een van die koninklike familie het oorgebly nie.

Dit was presies wat die Here deur die profeet Agija uit Silo oor Jerobeam gesê het.

30 Dit het gebeur omdat Jerobeam die Here die God van Israel uitgetart het met die sondes wat hy gedoen het en daardeur Israel ook laat sondig het.

31 Die ander gebeurtenisse tydens Nadab se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

Baesa loop dieselfde pad as

Jerobeam

32 Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.

33 Baesa het in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda koning oor die hele Israel geword. Baesa het 24 jaar in Tirsa regeer.

34 Hy het gedoen wat vir die Here verkeerd was. Hy het die voorbeeld van Jerobeam nagevolg deur dieselfde sonde te doen waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het.

1 KONINGS 16

1 Die Here het die volgende boodskap aan koning Baesa gestuur. Dit is deur Jehu seun van Ganani oorgedra:

2 “Ek het jou uit die stof opgetel om koning oor my volk Israel te wees, maar jy het die voorbeeld van Jerobeam gevolg. Jy het My uitgetart deurdat jy my volk laat sondig het.

3 Daarom gaan Ek jou en jou familie wegvee net soos Ek met die nageslag van Jerobeam seun van Nebat gedoen het.

4 Die honde sal die een van jou familie wat in die stad omkom, opvreet; en dié een wat in die veld omkom, sal die roofvoëls verslind.”

5 Die ander gebeurtenisse tydens sy regering en ook sy dapper dade is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

6 Toe Baesa sterf, is hy in Tirsa begrawe. Sy seun Ela het hom as koning opgevolg.

7 Die oordeel van die Here oor Baesa en sy familie is deur die profeet Jehu seun van Ganani aangekondig. Dit was omdat Baesa gedoen het wat verkeerd was vir die Here: Hy het net soos die nageslag van Jerobeam die Here uitgetart. Boonop het hy Jerobeam se familie uitgemoor.

Simri vermoor Ela

8 Ela seun van Baesa het in die 26ste regeringsjaar van koning Asa van Juda in Tirsa koning van Israel geword. Hy het twee jaar oor Israel geheers.

9 Simri, een van sy onderdane en bevelvoerder oor die helfte van die koninklike strydwaens, het teen hom saamgesweer. Op ’n dag het Ela dronk geword in die huis van Arsa, die opsigter van die paleis in Tirsa.

10 Simri het ingekom en hom doodgemaak. Dit het gebeur in die 27ste regeringsjaar van koning Asa van Juda. Simri het hom as koning opgevolg.

11 Simri het dadelik die hele koningshuis van Baesa uitgewis, selfs die bloedverwante en vriende van Baesa. Hy het elke manlike persoon in Baesa se familie doodgemaak.

12 Simri het so die hele koningshuis van Baesa uitgewis soos die Here deur sy profeet Jehu aangekondig het.

13 Dit het gebeur weens die sonde van Baesa en sy seun Ela, en omdat hulle Israel laat sondig het en die Here die God van Israel met hulle afgodery uitgetart het.

14 Die ander gebeurtenisse tydens Ela se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

Simri buig die knie voor Omri

15 Simri het in die 27ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword. Hy het net sewe dae in Tirsa regeer. Die leër van Israel was besig om die Filistynse dorp Gibbeton aan te val.

16 Die leër het gehoor van Simri se sameswering teen die koning, en dat hy die koning doodgemaak het. Hulle het toe nog dieselfde dag vir Omri, bevelvoerder van die leër, tot nuwe koning uitgeroep.

17 Omri het die beleëring van Gibbeton gestaak en Tirsa beleër.

18 Toe Simri sien dat die stad ingeneem gaan word, het hy na die paleis se versterkte vesting gevlug, die paleis om hom aan die brand gesteek en in die vlamme gesterf.

19 Dit het gebeur omdat hy gesondig het en gedoen het wat verkeerd was vir die Here. Hy het die voorbeeld van Jerobeam gevolg deur voort te gaan met die sonde van afgodery wat Jerobeam die volk laat doen het.

20 Die ander gebeurtenisse tydens Simri se regering en sy sameswering is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

Omri regeer in Israel

21 Teen hierdie tyd was daar twee groepe in Israel. Een helfte wou Tibni seun van Ginat as koning hê, en die ander helfte het Omri ondersteun.

22 Gaandeweg het Omri se aanhang sterker geword as dié van Tibni seun van Ginat. Tibni het gesterf en Omri het koning geword.

23 Omri het in die 31ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword. Hy het twaalf jaar regeer, ses daarvan in Tirsa.

24 Omri het die Samariaheuwel vir 68 kilogram silwer van Semer gekoop. Hy het ’n stad bo-op die heuwel gebou en dit Samaria genoem ter ere van Semer, die vorige eienaar van die heuwel.

25 Omri het egter gedoen wat verkeerd was vir die Here, selfs nog meer as sy voorgangers.

26 Hy het die voorbeeld van Jerobeam seun van Nebat nagevolg en voortgegaan met die sonde van afgodery wat Jerobeam Israel laat doen het. Hulle het die Here die God van Israel met hulle afgodsbeelde uitgetart.

27 Die ander gebeurtenisse tydens Omri se regering, sy dapperheid en alles wat hy gedoen het, is opgeteken inDie boek van die handelinge van die konings van Israel.

28 Toe Omri sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Agab het hom as koning opgevolg.

Agab word koning in Israel

29 Agab seun van Omri het in die 38ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword van Israel. Hy het 22 jaar lank in Samaria regeer.

30 Agab het egter gedoen wat verkeerd was vir die Here, selfs meer as enige van die konings voor hom.

31 Asof dit nie genoeg was nie, het hy met Isebel, die dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs, getrou en Baäl begin dien en aanbid.

32 Eers het hy ’n tempel en ’n altaar vir Baäl in Samaria gebou.

33 Daarna het hy ’n paal wat aan Asjera gewy is, opgerig. Hy het die Here die God van Israel meer uitgetart as al die konings van Israel voor hom.

34 Gedurende sy regering het Giël uit Bet-El die stad Jerigo herbou. Toe hy die fondamente gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf. Toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste seun, Segub, gesterf. Dit het gebeur net soos die woord van die Here deur Josua seun van Nun lank te vore oor Jerigo gesê het.

1 KONINGS 17

Elia kondig ’n droogte aan

1 Elia die Tisbiet het hom tydelik in Gilead gevestig. Hy het vir Agab gesê: “So seker as wat die Here die God van Israel leef, die God wat ek dien, in die volgende aantal jare sal daar geen dou of reën val nie behalwe wanneer ek so sê.”

2 Toe sê die Here vir Elia:

3 “Gaan ooswaarts van hier en kruip weg by die Kritspruit, net anderkant die Jordaanrivier.

4 Jy kan uit die spruit water drink en Ek sal die kraaie beveel om vir jou kos te bring.”

5 Elia het gemaak soos die Here hom beveel het en by Kritspruit anderkant die Jordaanrivier gaan wegkruip.

6 Die kraaie het soggens en saans vir hom brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink.

7 Na ’n tyd het die spruit egter opgedroog, want daar het geen reën in die opvanggebied geval nie.

Die weduwee van Sarfat

8 Toe sê die Here vir Elia: “Gaan bly in die dorp Sarfat naby die stad Sidon. Daar woon ’n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg.”

9 Elia het na Sarfat toe gegaan. By die poort van die dorp aangekom, sien hy ’n weduwee wat hout bymekaarmaak. Hy vra haar:

10 “Bring tog asseblief vir my ’n bietjie water om te drink!”

11 Terwyl sy wegloop om dit te gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring tog ook vir my ’n stukkie brood!”

12 Maar sy antwoord hom: “Ek verseker jou voor die Here jou God dat ek nie ’n stukkie brood in my huis het nie. Ek het net ’n hand vol meel oor in die kruik en ’n klein bietjie kookolie in die erdekan. Ek was juis besig om hout bymekaar te maak om hierdie laaste maaltyd vir my en my seun gaar te maak. Daarna moet ons maar sterf.”

13 Elia sê vir haar: “Moenie bekommerd wees nie! Gaan aan en doen soos jy sê, maar bak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit vir my. Daarna kan jy vir jou en jou seun sorg.

14 So sê die Here die God van Israel: ‘Die meel in die kruik sal nie opraak nie en die olie in die erdekan sal nie minder word nie totdat die Here weer oor die land laat reën het.’”

15 Sy het gedoen soos Elia gesê het. Voortaan het hulle al drie elke dag genoeg gehad om te eet.

16 Die kruik was altyd vol meel en die olie in die erdekan het nie opgeraak nie. Dit was net soos die Here deur Elia beloof het.

17 ’n Tyd later het die vrou se seun siek geword. Hy het al sieker geword en gesterf.

18 Sy sê toe vir Elia: “Man van God, kyk wat het jy aan my gedoen! Het jy gekom om my aan my sondes te herinner en om my seun dood te maak?”

19 Maar Elia antwoord: “Gee jou seun vir my.” Hy het die seun uit haar arms geneem en hom na die bokamer waar hy gebly het, geneem en op sy bed neergelê.

20 Elia pleit toe by die Here: “O Here my God, moes U hierdie ramp oor die vrou bring by wie ek bly en haar seun laat sterf?”

21 Hy het homself drie keer oor die kind uitgestrek en by die Here gepleit: “O Here my God, laat hierdie kind tog weer lewe.”

22 Die Here het Elia se gebed verhoor en die kind het weer lewendig geword.

23 Toe bring Elia die kind uit die bokamer af ondertoe en gee hom terug vir sy ma en sê: “Kyk, jou seun lewe!”

24 Die weduwee sê toe vir Elia: “Nou weet ek vir seker dat jy ’n man van God is en dat die Here regtig die waarheid deur jou praat.”

1 KONINGS 18

Elia ontmoet Agab

1 Na ’n lang tyd, tydens die derde jaar van droogte, sê die Here vir Elia: “Gaan na koning Agab toe en sê vir hom Ek sal dit binnekort laat reën.”

2 Elia het na Agab toe gegaan.

Intussen het die hongersnood in Samaria toegeneem.

3 Agab het vir Obadja die paleisopsigter laat kom. Obadja was ’n toegewyde volgeling van die Here.

4 Toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het, het Obadja 100 van hulle in grotte versteek, 50 in elke grot. Daar het hy hulle van kos en water voorsien.

5 Agab het vir Obadja gesê: “Ons moet deur die hele land gaan en na elke fontein en spruit gaan kyk of ons nie êrens weiding vir minstens sommige van my perde en muile kan kry nie. Dan sal dit nie nodig wees om hulle dood te maak nie.”

6 Hulle het toe die land tussen hulle twee verdeel. Agab het in een rigting gegaan en Obadja in ’n ander rigting.

7 Obadja was nog op pad en dáár kom Elia hom tegemoet! Obadja het hom dadelik herken en voor hom neergebuig. “Is dit dan nie my heer Elia nie?” vra hy.

8 “Ja, ek is Elia,” antwoord hy. “Gaan sê vir die koning ek is hier.”

9 “Maar, Meneer,” maak Obadja beswaar. “Watter kwaad het ek dan gedoen dat u my na Agab, na my dood toe stuur?

10 So seker as die Here u God leef, die koning het by elke nasie en koninkryk op aarde na u laat soek. Elke keer as hy hoor ‘Elia is nie hier nie,’ het Agab die koning van daardie volk met ’n eed laat bevestig dat dit inderdaad so is.

11 En nou sê u vir my: ‘Gaan sê vir die koning Elia is hier!’

12 Dit kan wees dat as ek van u weggaan die Gees van die Here u dalk kan wegvoer na wie weet waar. As ek dan vir Agab vertel ek het u gesien, maar hy kry u nie, sal hy my doodmaak. En dit ten spyte daarvan dat ek my lewe lank ’n getroue volgeling van die Here is!

13 Het niemand vir u vertel van die keer toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het nie? Ek het toe 100 van hulle in twee groepe van 50 in elkeen van twee grotte weggesteek en hulle van kos en water voorsien.

14 En nou sê u vir my: ‘Gaan en sê vir die koning Elia is hier!’ Hy sal my mos doodmaak!”

15 Maar Elia antwoord hom: “So seker as die Here, die Almagtige, leef, in wie se diens ek staan, Agab sal my sekerlik vandag nog sien.”

16 Obadja het toe gegaan en vir Agab vertel dat Elia gekom het. Agab het toe vir Elia gaan ontmoet.

17 “Is dit jy, jou moeilikheidmaker in Israel?” vra Agab toe hy hom sien.

18 “Ek het geen moeilikheid vir Israel gemaak nie,” antwoord Elia. “Jy en jou familie is die moeilikheidmakers, want julle het nie die gebooie van die Here gehoorsaam nie en eerder die Baäls aanbid.

19 Maar laat die volk van Israel op Karmelberg bymekaarkom. Ook die 450 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera wat Isebel onderhou, moet daar wees.”

Die gebeure op Karmelberg

20 Agab het toe gestuur en die hele volk en die profete op Karmelberg bymekaar laat kom.

21 Elia het voor hulle gaan staan en gesê: “Hoe lank gaan julle nog weier om kant te kies? As die Here God is, volg Hom! Maar as dit Baäl is, volg hóm!” Die volk het egter niks geantwoord nie.

22 Toe sê Elia vir die volk: “Ek is die enigste profeet van die Here wat nog oor is, terwyl daar 450 profete van Baäl is.

23 Bring nou twee bulle. Die profete van Baäl kan een kies, hom in stukke opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Hulle moet dit egter nie aan die brand steek nie. Ek sal die ander bul opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Ek sal dit ook nie aan die brand steek nie.

24 Dan moet julle julle god aanroep en ek sal die Here aanroep. Die een wat met vuur antwoord, is die ware God!” Die hele volk het met hierdie reëling saamgestem.

25 Elia sê toe vir die profete van Baäl: “Kies julle nou ’n bul en kry dit gereed, want daar is baie van julle. Roep dan julle god aan, maar moenie die vuur aan die brand steek nie.”

26 Hulle het een van die bulle gekies en gereed gekry. Toe roep hulle Baäl aan. Hulle het die hele oggend geroep: “O Baäl, antwoord ons!” Daar was egter geen reaksie nie en niemand het geantwoord nie. Hulle het selfs al om die altaar wat hulle gemaak het, gedans.

27 Teen die middag het Elia hulle begin spot. “Julle moet nog harder roep,” spot hy. “Hy is mos ’n god! Dalk is hy in gedagte, of dalk het hy ’n draaitjie gaan loop. Miskien is hy weg op reis, of slaap hy en moet wakker gemaak word!”

28 Hulle het toe al harder geroep en – soos hulle gebruik was – hulleself met messe en swaarde stukkend gesny totdat die bloed geloop het.

29 Hulle het die hele namiddag so aangehou totdat die tyd vir die aandoffer aangebreek het. Maar steeds was daar geen geluid nie, geen antwoord nie, niemand wat gereageer het nie.

30 Toe roep Elia die volk: “Kom nader!” Hulle het almal rondom hom kom staan terwyl hy die altaar van die Here wat afgebreek was, herstel het.

31 Hy het twaalf klippe gevat, een vir elke stam van die nageslag van Jakob vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.”

32 Hy het die klippe gebruik om die vervalle altaar van die Here reg te maak. Daarna grawe hy ’n sloot rondom die altaar. Dit was groot genoeg om ongeveer vyftien liter te hou.

33 Hy het hout op die altaar gesit, die bul in stukke gesny en dit op die hout neergelê.

34 Toe beveel hy: “Vat vier groot waterkruike, maak hulle vol water en gooi dit uit oor die offer en die hout.” Nadat hulle dit gedoen het, sê hy: “Doen dit weer!” Hulle maak toe so, maar hy sê: “Doen dit ’n derde keer!” Hulle het weer gemaak soos hy gesê het.

35 Die water het oor die altaar gestroom en selfs die sloot rondom vol water gemaak.

36 Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia na die altaar toe gegaan en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, wys tog vandag dat U God is in Israel en dat ek u dienaar is wat alles op u bevel gedoen het.

37 Here, antwoord my! Antwoord my sodat hierdie volk kan erken dat U, Here, God is en dat dit U is wat hulle weer na U toe laat omdraai.”

38 Onmiddellik het daar vuur van die Here gekom en die offer verbrand, asook die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgedroog!

39 Toe die volk dit sien, val hulle op die grond en roep uit: “Die Here is God! Die Here is God!”

40 Elia beveel hulle toe: “Gryp die profete van Baäl. Moenie dat ’n enkele een van hulle wegkom nie!” Die volk het hulle gegryp en Elia het hulle na die Kisonspruit laat afneem. Hy het hulle daar doodgemaak.

’n Klein wolkie word ’n

reënstorm

41 Elia sê toe vir Agab: “Gaan eet en drink, want ek hoor die gedruis van groot reën!”

42 Agab het toe gaan eet en drink, maar Elia het tot op die top van Karmelberg geklim. Daar het hy met sy kop tussen sy knieë op die grond neergebuig.

43 Hy sê toe vir sy dienaar: “Gaan kyk uit oor die see.”

Die dienaar het gekyk, na Elia toe teruggekom en gesê: “Ek sien niks nie.” Elia sê vir hom: “Gaan kyk weer!” Sewe keer het Elia hom gestuur.

44 Die sewende keer kom sê die dienaar: “Ek sien ’n klein wolkie so groot soos ’n man se hand wat uit die see opkom.”

Toe sê Elia: “Maak gou! Gaan sê vir Agab: ‘Span jou wa in en gaan af na jou huis toe anders sal die reën jou vaskeer!’”

45 Spoedig was die lug donker van onweerswolke. ’n Sterk wind het ’n groot reënstorm gebring. Agab het dadelik na Jisreël toe vertrek.

46 Die Here het Elia krag gegee. Hy het sy gordel vasgemaak en toe voor Agab se wa uit gehardloop tot by Jisreël.

1 KONINGS 19

Elia slaan op vlug

1 Agab het vir Isebel alles vertel wat Elia gedoen het, en dat hy die profete van Baäl doodgemaak het.

2 Toe stuur Isebel vir Elia ’n boodskap: “Mag die gode my met die dood straf as ek nie teen môre hierdie tyd jou lewe neem soos jy met die profete gemaak het nie.”

3 Elia het baie bang geword en vir sy lewe gevlug. Hy het na Berseba, ’n dorp in Juda, gegaan en sy dienaar daar agtergelaat.

4 Hy self het die woestyn ’n dagreis ver binnegegaan. Hy het toe onder ’n besembos gaan sit en gewens dat hy liewer maar moet sterf.

“Ek het nou genoeg gehad, Here,” het hy gesê. “Neem nou maar my lewe, want ek is niks beter as my voorouers nie.”

5 Hy het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ’n engel het hom wakker geskud en vir hom gesê: “Staan op en eet!”

6 Hy kyk op en dáár sien hy by sy kop ’n roosterkoek wat op warm klippe gebak is en ’n kruik vol water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.

7 Die engel het weer gekom, aan hom geskud en gesê: “Staan op en eet weer, anders sal die pad vir jou te lank wees.”

8 Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Die kos het hom genoeg krag gegee sodat hy 40 dae en 40 nagte lank tot by Horeb, die berg van God, kon loop.

9 Daar het hy by ’n grot ingegaan en die nag daar deurgebring.

Die Here praat met Elia

Maar die Here het met hom gepraat: “Wat maak jy hier, Elia?”

10 Elia antwoord: “Ek het U met toewyding gedien, Here God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.”

11 “Kom buitekant toe en gaan staan voor My by die berg,” sê die Here vir hom.

Terwyl Elia daar staan, het die Here by hom verbygegaan en ’n geweldige rukwind het die berg uitmekaargeruk en die rotse gebreek voor die Here. Tog was die Here nie in die wind nie. Na die wind was daar ’n aardbewing, maar die Here was nie in die aardbewing nie.

12 Na die aardbewing was daar ’n vuur, maar die Here was nie in die vuur nie. Na die vuur was daar die geluid van ’n sagte gesuis.

13 Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak. Hy het by die ingang van die grot gaan staan.

’n Stem het gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”

14 Hy het weer geantwoord: “Ek het U met toewyding gedien, Here God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en al u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.”

15 Toe sê die Here vir hom: “Draai net hier om en gaan na die woestyn van Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael salf tot koning van Aram.

16 Dan moet jy Jehu seun van Nimsi salf tot koning oor Israel. Jy moet ook Elisa seun van Safat uit Abel-Megola salf om jou as my profeet op te volg.

17 Dan sal sake só verloop: Die een wat Gasael se swaard ontvlug, sal Jehu doodmaak; en die een wat Jehu se swaard ontvlug, sal Elisa doodmaak.

18 Nogtans sal Ek die 7 000 in Israel laat oorbly wat nie voor Baäl gebuig en hom vereer het nie.”

Elia roep Elisa

19 Elia het van daar af vertrek en Elisa seun van Safat teëgekom waar hy besig was om met twaalf spanne van twee osse elk ’n landery om te ploeg. Hy was besig om met die twaalfde span te ploeg.

Elia het na hom toe geloop en sy mantel oor sy skouers gegooi.

20 Elisa het die osse net daar laat staan en agter Elia aangehardloop. Hy sê vir hom: “Laat ek tog net my pa en ma groet, dan sal ek saam met u gaan.”

Elia antwoord hom: “Gaan maar! Ek staan nie in jou pad nie!”

21 Elisa het toe teruggegaan en twee osse geslag. Hy het die jukke opgekap vir brandhout en die vleis gebraai. Hy het die vleis gegee aan die ander wat saam met hom geploeg het en hulle het geëet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.

1 KONINGS 20

’n Onderonsie tussen Agab en

Ben-Hadad

1 Koning Ben-Hadad van Aram het sy leër opgeroep. Hy is gesteun deur 32 konings met hulle perde en strydwaens. Hulle het Samaria, die hoofstad van Israel, beleër en dit aangeval.

2 Ben-Hadad het boodskappers die stad in gestuur na koning Agab van Israel

3 en vir hom laat weet: “Ben-Hadad sê: ‘Jou silwer en goud behoort aan my, ook die mooiste van jou vroue en kinders.’”

4 “Dis goed so, my heer,” antwoord Agab terug. “Ek en alles wat ek besit, behoort aan u!”

5 Ben-Hadad se boodskappers het weer by Agab gekom en gesê: “Ben-Hadad laat weet: ‘Ek het reeds geëis dat jy jou silwer en goud, jou vroue en kinders vir my moet gee.

6 Maar môre omtrent hierdie tyd stuur ek my amptenare om jou paleis en die wonings van jou onderdane te deursoek. Hulle sal alles vat wat jy as waardevol beskou.’”

7 Die koning van Israel roep toe al die leiers van die land bymekaar en sê: “Let op hoe hierdie man nou moeilikheid soek! Ek het reeds ingestem toe hy my vroue en kinders, my silwer en goud opgeëis het.”

8 Die leiers en die hele volk sê egter: “Moenie luister nie, en moenie toegewings maak nie!”

9 Agab sê toe vir Ben-Hadad se boodskappers: “Sê vir my heer, die koning: ‘Ek sal vir u alles gee waarvoor u die eerste keer gevra het. Aan die laaste eis kan ek egter nie toegee nie.’” Die boodskappers het teruggegaan en die antwoord oorgedra.

10 Ben-Hadad stuur toe die volgende boodskap vir Agab: “Mag die gode onheil oor my bring as daar nog genoeg stof van Samaria oorbly dat ek vir elkeen van my manskappe ’n hand vol kan gee.”

11 Die koning van Israel antwoord hom: “Hulle sê: ’n Soldaat wat nog aantrek vir die geveg moenie spog soos een wat alreeds oorwin het nie.”

12 Toe Ben-Hadad hierdie antwoord hoor, was hy en die ander konings besig om in die tente te drink. “Maak julle klaar om aan te val,” sê Ben-Hadad vir sy offisiere. Hulle het toe voorberei vir die aanval.

Agab oorwin Ben-Hadad

13 ’n Profeet het na koning Agab toe gekom en vir hom gesê: “Dit is die boodskap van die Here: ‘Sien jy hierdie groot menigte? Ek sal hulle vandag in jou mag oorgee. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.’”

14 Agab vra toe: “Hoe sal die Here dit doen?”

Die profeet het geantwoord: “Dit is wat die Here sê: ‘Deur die jong soldate van die distrikshoofde.’”

“Wie moet eerste aanval?” vra Agab.

“U moet,” antwoord die profeet.

15 Agab het toe die jong soldate van die distrikshoofde opgestel. Daar was 232 van hulle. Hy het ook die res van sy leër van 7 000 man agter hulle opgestel.

16 Teen ongeveer die middag, terwyl Ben-Hadad en die konings van die 32 bondgenote nog besig was om in hulle tente te drink,

17 het die jong soldate van die distrikshoofde aan die voorpunt uit die stad opgeruk. Soos hulle naderkom, is Ben-Hadad ingelig: “Daar kom troepe uit Samaria.”

18 “Of hulle nou kom vir vrede of vir oorlog, vang hulle lewendig!” beveel Ben-Hadad.

19 Teen hierdie tyd het die jong soldate van die distrikshoofde reeds uit die stad getrek, met die leër agter hulle aan.

20 Elke Israelitiese soldaat het sy Aramese opponent doodgemaak. Die hele Aramese leër het paniekbevange gevlug, met die Israeliete agter hulle aan. Koning Ben-Hadad en ’n klompie ander het egter op perde gevlug.

21 Die koning van Israel het uit die stad gekom en die perderuiters en strydwamagte verslaan. Die Arameërs is in groot getalle afgemaai.

22 Daarna het die profeet weer gekom en vir koning Agab gesê: “Tref voorbereidings en beplan vir nog ’n aanval, want oor ’n jaar sal die koning van Aram weer teen u optrek.”

Ben-Hadad verloor ’n tweede

keer

23 Daarna het Ben-Hadad se raadgewers vir hom gesê: “Die gode van die Israeliete is berggode. Dis hoekom hulle gewen het. Maar as ons die oorlog op die vlaktes voer, sal ons hulle verslaan.

24 Ons moet net die volgende verandering maak: Onthef die konings van hulle bevelsposisies en vervang hulle met gewone bevelvoerders.

25 U moet self weer ’n leër op die been kry soos die een wat verslaan is. Laat daar net soveel perderuiters, strydwaens en manne wees soos voorheen. Dan pak ons hulle op die vlaktes. Daar is geen twyfel dat ons hulle dan sal verslaan nie.” Koning Ben-Hadad het toe gemaak soos hulle voorgestel het.

26 Die volgende jaar het hy die Aramese leër opgeroep en na Afek opgetrek om teen Israel te veg.

27 Israel het hulle leër opgeroep en goed voorbereid teen die vyand opgetrek. Die Israeliete het teenoor die Arameërs kamp opgeslaan. Hulle het egter soos twee troppe bokke gelyk in vergelyking met die groot Aramese mag wat oor die vlakte verspreid was.

28 Die man van God het weer na die koning van Israel gegaan en gesê: “Dit is wat die Here sê: ‘Die Arameërs het gesê die Here is ’n berggod en nie ’n god van die vlaktes nie. Daarom gee Ek hierdie groot leër oor in julle mag. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.’”

29 Die twee leërs het sewe dae lank so teenoor mekaar opgestel gestaan. Op die sewende dag het die geveg uitgebreek. Die Israeliete het 100 000 Aramese voetsoldate op een dag doodgemaak.

30 Die res het na die stad Afek gevlug. Toe val die muur om op 27 000 man. Ben-Hadad het die stad in gevlug en van huis tot huis weggekruip.

31 Ben-Hadad se offisiere sê toe vir hom: “Ons het gehoor die konings van Israel is baie genadig. Kom ons trek rouklere aan en maak toue om ons koppe vas. Dan gee ons ons oor aan die koning van Israel. Miskien sal hy u lewe spaar.”

32 Hulle trek toe rouklere aan en sit toue om hulle koppe. So het hulle na die koning van Israel gegaan en hom gesmeek: “U dienaar Ben-Hadad sê: ‘Laat my asseblief lewe!’”

Die koning van Israel antwoord: “Lewe hy nog? Hy is my broer!”

33 Die boodskappers het gou na hierdie strooihalm van hoop gegryp, en geantwoord: “Ja, Ben-Hadad ís u broer!”

“Gaan haal hom dan,” sê die koning van Israel. Toe Ben-Hadad daar kom, het Agab hom genooi om op sy strydwa te klim.

34 Ben-Hadad sê vir hom: “Ek sal al die dorpe wat my pa van jou pa afgevat het, teruggee. Jy kan ook ’n handelsbuurt in Damaskus inrig soos my pa in Samaria gedoen het.”

Agab sê toe: “As jy ’n ooreenkoms met my sluit, sal ek jou vrylaat.” Hulle het toe ’n ooreenkoms aangegaan en hy het Ben-Hadad laat gaan.

’n Profeet veroordeel Agab

35 In opdrag van die Here het een profeet vir ’n ander een gesê: “Slaan my!” Maar die man het geweier om dit te doen.

36 Toe sê die profeet vir hom: “Kyk, omdat jy ongehoorsaam was aan die woord van die Here sal ’n leeu jou doodmaak sodra jy van my af weggaan.” Toe hy weggaan, het ’n leeu hom dan ook teëgekom en hom verskeur.

37 Daarna gaan die profeet na iemand anders en sê: “Slaan my!” Hy het so gemaak, hom geslaan en selfs verwond.

38 Die profeet het ’n verband oor sy oë gedraai om homself te vermom en langs die pad die koning ingewag.

39 Toe die koning verbykom, roep die profeet na hom en sê: “My heer, terwyl ek in die geveg was, bring iemand ’n gevangene na my toe. Hy het gesê: ‘Pas hierdie man op. As hy om enige rede ontsnap, sal jy vir hom moet instaan of ’n boete van 30 kilogram silwer betaal.’

40 Maar terwyl ek met iets anders besig was, het die gevangene weggekom!”

“Nou, dan is dit jou fout,” antwoord die koning van Israel. “Jy het die oordeel oor jouself gebring.”

41 Toe ruk die profeet die verband van sy oë af en die koning het hom as een van die profete herken.

42 Die profeet sê vir hom: “Dit is wat die Here sê: ‘Jy het die lewe gespaar van die man wie se lewe Ek geëis het. Daarom sal jy in sy plek sterf en jou volk in die plek van sy volk.’”

43 Die koning van Israel het bedruk en woedend na sy huis toe gegaan en in Samaria aangekom.