1 KONINGS 1

1 Dawid word baie oud

Koning Dawid het baie oud geword. Hy kon nie meer warm word nie, al het hulle hom met baie komberse toegemaak.

2 Sy raadgewers sê toe vir hom: “Laat ons ’n jong meisie soek wat u kan bedien en versorg. Sy kan by u slaap sodat u warm kan word.”

3 Hulle het deur die hele gebied van Israel na ’n mooi meisie gesoek. In Sunem het hulle vir Abisag gekry en haar na die koning toe gebring.

4 Sy was ’n baie mooi meisie. Sy het die koning bedien en hom versorg. Die koning het egter geen geslagsgemeenskap met haar gehad nie.

Adonia laat homself as koning

uitroep

5 In hierdie tyd het Dawid se seun Adonia, wie se ma Gaggit was, homself begin verbeel: “Ek gaan een van die dae die koning wees.” Hy het ’n strydwa en ruiters aangeskaf, asook 50 man wat voor hom uit gehardloop het.

6 Sy pa, koning Dawid, het hom van kleins af nooit gedissiplineer of selfs vir hom gevra: “Wat doen jy nou?” nie. Adonia was die tweede oudste seun ná Absalom. Hy was baie aantreklik.

7 Hy het Joab seun van Seruja, en Abjatar die priester in sy vertroue geneem. Hulle het ingestem om hom te steun.

8 Maar Sadok die priester, Benaja seun van Jojada, Natan die profeet, Simeï, Reï en Dawid se persoonlike lyfwag het nie vir Adonia gesteun nie.

9 Adonia het na die Sogeletrots by die Rogelfontein gegaan en daar skape, beeste en vetgemaakte kalwers geoffer. Hy het al sy broers, die ander seuns van Dawid, uitgenooi, en ook al die manskappe van Juda in Dawid se diens.

10 Maar hy het nie die profeet Natan, die koning se lyfwag Benaja, of sy broer Salomo genooi nie.

11 Natan gaan toe na Salomo se ma Batseba toe en vra haar: “Het jy geweet Gaggit se seun Adonia het homself tot koning uitgeroep sonder dat ons heer Dawid dit weet?

12 As jy jou en jou seun Salomo se lewe wil red, moet jy nou maak soos ek sê.

13 Gaan dadelik na koning Dawid toe en sê vir hom: ‘My heer, het u dan nie vir my met ’n eed belowe dat my seun Salomo ná u koning sal wees en op u troon sal sit nie? Hoekom het Adonia dan nou koning geword?’

14 Terwyl jy nog met hom praat, sal ek kom en alles bevestig wat jy sê.”

15 Batseba het toe in die koning se slaapkamer ingegaan. Hy was teen hierdie tyd reeds baie oud. Abisag, die Sunemmitiese meisie, het hom versorg.

16 Batseba het laag voor hom gebuig.

“Wat kan ek vir jou doen?” vra die koning haar.

17 Sy het geantwoord: “My heer, u het my voor die Here u God met ’n eed belowe: ‘Jou seun Salomo sal beslis ná my koning word en op my troon sit.’

18 Maar nou het Adonia die nuwe koning geword, sonder dat u iets daarvan weet!

19 Hy het baie beeste, vetgemaakte kalwers en skape geoffer. Boonop het hy al die koning se seuns, die priester Abjatar, en die opperbevelvoerder van die leër Joab uitgenooi. Maar hy het nie vir Salomo uitgenooi nie.

20 Nou wag die hele Israel op u om te beslis wie dan ná u koning sal word.

21 Indien u nie uitspraak lewer nie, sal ek en my seun Salomo soos misdadigers behandel word sodra u sterf.”

22 Terwyl sy nog met die koning praat, kom die profeet Natan ook daar aan.

23 Daar is vir die koning aangekondig: “Natan die profeet is hier.”

Natan het in die kamer ingekom en diep voor die koning gebuig.

24 Hy vra toe: “My heer, het u gesê dat Adonia ná u die koning sal wees en op u troon sal sit?

25 Hy het vandag baie beeste, vetgemaakte kalwers en skape geoffer. Hy het ook al die koning se seuns, die bevelvoerders van die leër en Abjatar die priester vir die feesvierings genooi. Hulle is besig om saam met hom te eet en te drink. Hulle het uitgeroep: ‘Lank lewe koning Adonia!’

26 Maar vir my het hy nie uitgenooi nie; ook nie vir Sadok die priester, Benaja seun van Jojada, of vir Salomo nie.

27 Het my heer dit regtig goedgekeur? Indien wel, dan het u nie vir óns gesê wie ná u koning moet wees nie.”

Salomo volg Dawid op

28 “Roep vir Batseba!” sê Dawid. Sy het ingekom en voor die koning gaan staan.

29 Die koning lê toe ’n eed af: “So seker as wat die Here leef wat my uit elke gevaar gered het,

30 soos ek tevore met ’n eed voor die Here, die God van Israel, vir jou belowe het, bevestig ek dit vandag dat jou seun Salomo ná my koning sal word en op my troon sal sit.”

31 Batseba buig toe weer laag voor hom en sê: “Mag my heer koning Dawid vir altyd lewe!”

32 Toe beveel Dawid: “Roep vir Sadok die priester, vir Natan die profeet en Benaja seun van Jojada.” Met hulle aankoms voor die koning

33 sê hy vir hulle: “Neem Salomo en my lyfwagte saam met julle na die Gihonspruit toe. My seun Salomo moet op my eie muil ry.

34 Sadok die priester en Natan die profeet moet hom daar as koning oor Israel salf. Blaas dan op die ramshoring en roep uit: ‘Lank lewe koning Salomo!’

35 Bring hom dan weer terug hierheen sodat hy kan ingaan en op my troon kan sit, want hy sal my as koning opvolg. Ek het hóm aangewys as heerser oor Israel en Juda.”

36 “Laat dit so wees!” antwoord Benaja seun van Jojada. “En mag die Here u God dit ook bevestig.

37 Mag die Here by Salomo wees soos Hy by u was, en mag Hy die regering van Salomo selfs groter maak as u regering!”

38 Sadok die priester, Natan die profeet, Benaja seun van Jojada en die koning se lyfwag het Salomo na die Gihonspruit toe geneem. Hy het op Dawid se muil gery.

39 Sadok die priester het ’n horing vol olie uit die heiligdom saamgeneem en Salomo daarmee gesalf. Toe blaas hulle op die ramshoring en al die mense roep uit: “Lank lewe koning Salomo!”

40 Almal het agter Salomo aan teruggegaan stad toe terwyl hulle op fluite speel en juig dat die aarde dreun.

Adonia vrees vir sy lewe

41 Adonia en sy gaste was net besig om klaar te maak met hulle feesmaal toe hulle die groot feesvierings hoor. Toe Joab die ramshoring hoor, vra hy: “Wat gaan aan? Hoekom is daar so ’n lawaai in die stad?”

42 Terwyl hy nog praat, kom Jonatan seun van Abjatar daar aan. “Kom nader,” sê Adonia vir hom, “want jy is ’n gerekende man en bring goeie tyding.”

43 “Glad nie!” antwoord Jonatan. “Koning Dawid het Salomo koning gemaak!

44 Die koning het hom saam met Sadok die priester, Natan die profeet en Benaja seun van Jojada, en die koning se lyfwag gestuur. Hulle het hom op die koning se muil laat ry,

45 en Sadok die priester en Natan die profeet het hom by die Gihonspruit tot koning gesalf. Hulle het daarvandaan met groot gejuig teruggekom en daar is groot blydskap in die stad. Dis waaroor al die geraas gaan.

46 Salomo sit nou op die troon.

47 Al die koninklike amptenare het na koning Dawid toe gegaan en hom gelukgewens en gesê: ‘Mag u God Salomo se roem selfs nog groter maak as u eie. Mag Salomo se koninkryk selfs groter wees as u koninkryk!’ Toe het die koning op sy bed sy kop in aanbidding gebuig.

48 Hy het gesê: ‘Prys die Here, die God van Israel, wat vandag iemand gegee het om op my troon te sit terwyl ek dit met my eie oë kan sien.’”

49 Toe het al Adonia se gaste in paniek van die feesmaal opgespring en elkeen sy koers gegaan.

50 Adonia self was bang vir Salomo. Hy het na die heiligdom toe gegaan en die horings van die altaar vasgegryp.

51 Dis aan Salomo meegedeel: “Adonia is bang vir koning Salomo, en hy hou aan die horings van die altaar vas. Hy pleit: ‘Laat koning Salomo vandag nog onder eed verklaar dat hy my nie sal doodmaak nie!’”

52 Salomo het geantwoord: “As hy bewys lewer dat hy betroubaar is, sal hy niks oorkom nie. Maar as hy dit nie doen nie, sal hy sterf.”

53 Koning Salomo het Adonia ontbied, en hy is van die altaar af gebring. Hy het voor die koning gebuig en Salomo het gesê: “Gaan na jou huis toe.”

1 KONINGS 2

Dawid se laaste opdragte aan

Salomo

1 Toe dit duidelik word dat Dawid se dood voor die deur is, het hy sy seun Salomo beveel:

2 “Dis tyd dat ek die pad van alle mense moet gaan. Wees sterk en dapper.

3 Volg die vereistes van die Here jou God en leef daarvolgens. Wees gehoorsaam aan sy gebooie, bevele, opdragte en bepalings soos dit opgeteken is in die voorskrifte van Moses. Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen en waar jy ook al gaan.

4 As jy só lewe, sal die Here sy beloftes aan my vervul. Hy het gesê: ‘As jou afstammelinge in waarheid voor My lewe en My met algehele toewyding getrou navolg, sal daar altyd een van hulle op die troon van Israel wees.’

5 “Dan is daar ook nog iets anders. Jy weet dat Joab seun van Seruja my twee bevelvoerders, Abner seun van Ner en Amasa seun van Jeter, vermoor het. Hy het hulle in vredestyd doodgemaak asof dit oorlog was. Hy het die gordel om sy lyf en die skoene aan sy voete met bloed bevlek.

6 Maak met hom soos wat jy goeddink, maar moenie dat hy in vrede sterf net omdat hy oud is nie.

7 “Wees goed vir die seuns van Barsillai uit Gilead. Laat hulle in jou huis bly, want hulle het my versorg toe ek voor jou broer Absalom moes vlug.

8 “Onthou ook vir Simeï seun van Gera, die man uit Bagurim in Benjamin. Hy het my vreeslik gevloek toe ek na Maganajim toe gevlug het. Toe hy my by my terugkeer by die Jordaanrivier kom ontmoet het, het ek voor die Here onderneem dat ek hom nie met die swaard sou doodmaak nie.

9 Maar hy is nie onskuldig nie. Jy is ’n wyse man. Jy sal weet hoe om hom in sy oudag met geweld te laat sterf.”

10 Daarna het Dawid gesterf en is in die Dawidstad begrawe.

11 Hy het 40 jaar lank oor Israel regeer, sewe jaar in Hebron en 33 jaar in Jerusalem.

12 Salomo het sy pa, Dawid, opgevolg en het sy koningskap stewig gevestig.

Salomo laat Adonia doodmaak

13 Op ’n dag kom Adonia seun van Dawid en Gaggit na Batseba, Salomo se ma toe. “Kom jy in vrede?” vra sy.

“Ja,” sê hy.

14 “Ek wil net met u praat. Trouens, ek wil u ’n guns vra.”

“Praat gerus,” sê sy.

15 Hy antwoord: “Soos u weet, was die koningskap eintlik vir my bedoel, en almal het ook verwag dat ek die volgende koning sou wees. Maar sake het anders verloop en die Here het bepaal dat my broer koning moet wees.

16 Nou vra ek net een guns van u. Moet dit asseblief nie weier nie.”

“Wat is dit?” vra sy.

17 Hy antwoord: “Praat asseblief met koning Salomo, want ek weet hy sal enigiets doen wat u vra. Vra hom om Abisag, die meisie uit Sunem, vir my as vrou te gee.”

18 “Goed,” sê Batseba. “Ek sal vir jou voorspraak doen by die koning.”

19 Batseba gaan toe na koning Salomo om Adonia se versoek te stel. Die koning het opgestaan om haar te ontmoet en het voor haar gebuig. Hy het weer op sy troon gaan sit en beveel dat daar ’n troon aan sy regterkant vir sy ma neergesit word.

20 “Ek wil een klein gunsie van jou vra,” sê sy. “Ek hoop jy sal my nie weier nie.”

“Wat is dit, Ma?” vra hy. “U weet ek sal u niks weier nie.”

21 “Laat dan toe dat jou broer Adonia met Abisag, die meisie uit Sunem, trou,” antwoord sy.

22 “Hoe kan u hoegenaamd vra dat ek Abisag vir Adonia gee?” roep Salomo uit. “U kan netsowel vra dat ek die hele koninkryk vir hom moet gee! U weet dat hy my ouer broer is en dat hy Abjatar die priester en Joab seun van Seruja aan sy kant het.”

23 Toe lê koning Salomo ’n eed af voor die Here: “Mag God my straf as ek Adonia nie oor hierdie versoek teregstel nie.

24 So seker as die Here leef, Hy wat my stewig op die troon van my pa, Dawid, gevestig het en vir my ’n koningshuis geskep het soos Hy beloof het – net so seker moet Adonia vandag nog tereggestel word!”

25 Koning Salomo stuur toe vir Benaja seun van Jojada na Adonia toe en hy het hom doodgemaak.

Salomo reken af met Abjatar

26 Daarna sê die koning vir Abjatar die priester: “Gaan terug na jou landerye in Anatot! Jy verdien die dood, maar ek sal jou nie nou teregstel nie, want jy het die ark van die oppermagtige Here voor my pa gedra, en jy het baie ontberings saam met hom meegemaak.”

27 Salomo het Abjatar as priester van die Here ontslaan. So het die oordeel van die Here by Silo oor die afstammelinge van Eli in vervulling gegaan.

Salomo reken af met Joab

28 Hoewel Joab destyds nie met Absalom saamgewerk het nie, het hy tog die opstand van Adonia gesteun. Toe Joab van Adonia se dood hoor, vlug hy na die heiligdom toe en gryp die horings van die altaar vas.

29 Toe Salomo dit hoor, stuur hy vir Benaja seun van Jojada om hom dood te maak.

30 Benaja het in die heiligdom van die Here ingegaan en vir Joab gesê: “Die koning beveel jou om uit te kom!”

Maar Joab antwoord: “Nee, ek wil hiér sterf.”

Benaja het toe teruggegaan na die koning toe en hom vertel wat Joab gesê het.

31 “Maak soos hy gesê het,” antwoord die koning. “Maak hom langs die altaar dood en begrawe hom. Dit sal die skuld van sy sinlose moorde wegneem van my en my pa se familie.

32 So sal die Here hom vergeld vir die moord op twee manne wat regverdiger en beter was as hy. Want my pa het geen deel gehad aan die dood van Abner seun van Ner en bevelvoerder van die leër van Israel nie, en ook nie aan dié van Amasa seun van Jeter en bevelvoerder van die leër van Juda nie.

33 Mag die skuld vir hierdie moorde vir altyd op Joab en sy nageslag rus, maar mag die Here vir altyd vrede gee aan Dawid, aan sy nageslag en aan sy troon.”

34 Benaja het toe teruggegaan en Joab in die heiligdom doodgemaak. Joab is begrawe by sy huis in die wildernis.

35 Die koning het vir Banaja seun van Jojada in die plek van Joab as bevelvoerder van die leër aangestel. Hy het ook vir Sadok die priester in die plek van Abjatar aangestel.

Salomo reken af met Simeï

36 Daarna het die koning Simeï laat kom en vir hom gesê: “Bou vir jou ’n huis hier in Jerusalem en kom woon hier. Maar jy mag nie uit die stad weggaan om enigiets elders te doen nie.

37 Die dag as jy oor die Kidronspruit gaan, sal jy sekerlik doodgemaak word. Daarvoor sal jy net jouself moet blameer.”

38 Simeï het geantwoord: “Ek aanvaar u uitspraak. Ek sal doen soos die koning my beveel.” Simeï het toe ’n geruime tyd lank net in Jerusalem gebly.

39 Ongeveer drie jaar later het twee van Simeï se slawe weggeloop na koning Akis seun van Maäka, koning van Gat. Toe Simeï dit hoor,

40 het hy sy donkie opgesaal en na Gat toe gegaan om hulle te gaan soek. Toe hy hulle kry, het hy hulle na Jerusalem toe teruggebring.

41 Salomo het verneem dat Simeï uit Jerusalem na Gat toe gegaan en teruggekom het.

42 Hy laat roep toe vir Simeï en vra: “Ek het jou tog voor die Here ’n eed laat aflê dat jy nêrens sou gaan nie, want dan sal jy sekerlik sterf. En jy het toe geantwoord: ‘Ek aanvaar die uitspraak. Ek sal maak soos u sê.’

43 Hoekom was jy dan nie getrou aan jou eed voor die Here nie? Hoekom het jy nie my bevel gehoorsaam nie?”

44 Die koning het verder vir Simeï gesê: “Jy onthou sekerlik al die slegte dinge wat jy teenoor my pa, koning Dawid, gedoen het. Mag die Here jou daarvoor straf.

45 Maar mag ek die ryke seëninge van die Here ontvang, en mag daar altyd een van Dawid se afstammelinge op hierdie troon sit.”

46 Op bevel van die koning het Benaja seun van Jojada toe vir Simeï buitentoe geneem en hom doodgemaak.

47 Nou het Salomo ten volle beheer oor die koninkryk gehad.

1 KONINGS 3

Salomo vra vir wysheid om te

regeer

1 Salomo het ’n verdrag gesluit met Farao, die koning van Egipte. Hy het met een van sy dogters getrou en haar na die Dawidstad toe gebring. Hy het haar daar laat woon totdat hy sy paleis, die tempel van die Here en die muur rondom die stad voltooi het.

2 Toe het die Israeliete nog oral op die hoogtes geoffer omdat daar nog nie ’n tempel tot eer van die Naam van die Here was nie.

3 Salomo het die Here liefgehad en het volgens die voorskrifte van sy pa, Dawid, gelewe. Hy het egter ook nog op die hoogtes geoffer.

4 Die belangrikste van hierdie altare was by Gibeon. Daarom het die koning daarheen gegaan en 1 000 brandoffers geoffer.

5 Daardie nag het die Here in Gibeon in ’n droom aan Salomo verskyn en God het gesê: “Vra wat jy wil hê en Ek sal dit vir jou gee!”

6 Salomo het geantwoord: “U was baie goed vir my pa, Dawid, omdat hy eerlik, opreg en getrou aan U was. U was besonder goed deur boonop vir hom ’n seun te gee wat hom kon opvolg.

7 O Here my God, U het my koning gemaak in die plek van my pa, Dawid. Maar ek is soos ’n klein seuntjie wat nog nie weet hoe om op te tree nie.

8 Hier is ek tussen die mense van die volk wat U uitverkies het, ’n volk so talryk dat hulle nie getel kan word nie!

9 Gee my tog die vermoë om met verstandigheid en regverdigheid oor u volk te regeer, want wie kan op sy eie oor hierdie groot volk van U regeer?”

10 Die Here was tevrede met Salomo se antwoord en was bly dat hy hierdie dinge gevra het.

11 Die Here het hom geantwoord: “Omdat jy dit gevra het en nie vir ’n lang lewe of rykdom of die dood van jou vyande nie, maar vir onderskeiding om met insig te kan oordeel;

12 daarom sal Ek vir jou gee wat jy gevra het. Ek sal jou die vermoë gee van wysheid en insig soos niemand voor jou gehad het of na jou sal hê nie!

13 Daarby gee Ek vir jou ook dit waarvoor jy nie gevra het nie, naamlik rykdom en aansien. So lank as wat jy leef, sal geen koning met jou vergelyk kan word nie.

14 As jy My dien en gehoorsaam is aan my voorskrifte en bepalings soos jou pa, Dawid, sal Ek jou ’n lang lewe gee.”

15 Toe het Salomo wakker geword en besef dat dit ’n droom was. Hy het na Jerusalem toe teruggekeer en voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers en maaltydoffers gebring. Daarna het hy al sy amptenare op ’n groot feesmaal trakteer.

Salomo se wysheid word bekend

16 ’n Tyd daarna het twee prostitute na die koning toe gekom vir beslegting van ’n geskil.

17 “Asseblief, my heer die koning,” het die een gesê, “ek en hierdie vrou bly saam in dieselfde huis. Ek het ’n baba in die wêreld gebring terwyl sy by my in die huis was.

18 Drie dae later het sy ook ’n baba gehad. Ons was alleen, en daar was geen ander persoon nie. Dis net die twee van ons wat in die huis was.

19 Een nag het haar seuntjie gesterf toe sy op hom gelê het.

20 In die middel van die nag het sy opgestaan terwyl ek nog geslaap het en my seuntjie gevat. Sy neem toe haar dooie kind, lê hom in my arms en neem myne om by haar te slaap.

21 Toe ek in die oggend my kind wou laat drink, ontdek ek dat hy dood is! Maar toe ek hom later in die oggend goed bekyk, merk ek dat dit glad nie my seun is nie.”

22 Die ander vrou val haar toe in die rede: “Nee! Die een wat lewe, is my seun! Die dooie een is beslis jou seun!”

“Nee,” sê die eerste vrou, “die seuntjie wat dood is, is joune en die lewende een is myne!” So het hulle voor die koning met mekaar gestry.

23 Toe sê die koning: “Albei van julle maak aanspraak op die lewende kind, en albei sê die dooie een is die ander een s’n.

24 Goed, bring vir my ’n swaard.” Iemand het vir hom ’n swaard gebring.

25 Hy sê toe: “Sny die lewende kind in twee en gee ’n helfte vir elkeen van hulle!”

26 Maar die ma van die lewende kind roep toe uit: “Nee, my heer! Gee dan liewer die lewende kind vir haar, maar moenie hom doodmaak nie!”

Maar die ander vrou sê: “Dis goed so, dan sal hy nóg myne nóg joune wees. Sny hom deur!”

27 Toe sê die koning: “Moenie die kind doodmaak nie. Gee die lewende kind aan die eerste vrou. Sy is die regte ma!”

28 Die koning se uitspraak het in die hele Israel bekend geword. Hulle het groot respek vir die koning gekry, want hulle het besef dat God besondere wysheid aan hom gegee het om regverdig te kan oordeel.

1 KONINGS 4

Salomo se administrasie

1 Koning Salomo het nou oor die hele Israel regeer.

2 Sy hoofamptenare was die volgende:

Asarja seun van Sadok

was die hoëpriester.

3 Eligoref en Agija,

die seuns van Sisa,

was hofsekretarisse.

Josafat seun van Agilud

was die geskiedskrywer.

4 Benaja seun van Jojada

was opperbevelvoerder

van die leër.

Sadok en Abjatar

was die priesters.

5 Asarja seun van Natan

was oor die streekbestuurders.

Sabud seun van Natan

was ’n priester

en die koning se persoonlike

raadgewer.

6 Agisar was die paleisopsigter.

Adoniram seun van Abda

was oor die dwangarbeiders.

7 Salomo het ook twaalf streekbestuurders deur die hele Israel aangestel om lewensmiddele vir die koning en sy huishouding in te samel. Elkeen was verantwoordelik vir die voorraad van een maand in die jaar.

8 Die name van die twaalf streekbestuurders was:

Ben-Gur in die bergland

van Efraim.

9 Ben-Deker in Makas, Saälbim,

Bet-Semes

en Elon-Bet-Ganan.

10 Ben-Gesed in Arubbot,

insluitend Soko

en die hele Geferstreek.

11 Ben-Abinadab

in die bergland van Dor.

Hy was getroud met Tafat,

een van Salomo se dogters.

12 Baäna seun van Agilud

in Taänak en Megiddo

en ook in Bet-San,

wat grens aan Saretan

onderkant Jisreël,

vanaf Bet-San

tot by Abel-Megola

en tot anderkant Jokmoam.

13 Ben-Geber in Ramot-Gilead,

asook die tentdorpe

van Jaïr seun van Manasse

in Gilead,

die Argobgebied van Basan,

asook 60 ommuurde stede

met poortgrendels van brons.

14 Aginadab seun van Iddo

in Maganajim.

15 Agimaäs in Naftali.

Hy was getroud met Basemat,

’n ander dogter van Salomo.

16 Baäna seun van Gusai

in Aser en Alot.

17 Josafat seun van Paruag

in Issaskar.

18 Simeï seun van Ela

in Benjamin.

19 Geber seun van Uri

in die Gileadstreek

waar Sihon koning was

van die Amoriete,

en Og

die koning van Basan.

Daar was net een bestuurder

in hierdie streek.

Salomo heers van die

Eufraatrivier tot in Egipte

20 Die inwoners van Juda en Israel was so baie soos die sand by die see. Hulle het genoeg gehad om te eet en te drink, en was gelukkig en tevrede.

21 Koning Salomo het regeer oor al die koninkryke vanaf die Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne, en so ver suid as die grens van Egipte. Hierdie lande het belasting aan Salomo betaal en was aan hom onderdanig solank hy gelewe het.

22 Die daaglikse kosvoorraad vir Salomo se paleis was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel,

23 tien vetgemaakte beeste, twintig beeste uit die veld, 100 kleinvee, asook takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee.

24 Salomo se ryk het al die koninkryke wes van die Eufraatrivier ingesluit, vanaf Tifsag tot by Gasa. Deur die hele landstreek het daar vrede geheers.

25 Gedurende die leeftyd van Salomo het Juda en Israel in veiligheid gelewe. Vanaf Dan in die noorde tot by Berseba in die suide het hulle veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom.

26 Salomo het 4 000 stalle vir sy strydwaens se perde gehad en 12 000 ryperde.

27 Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar gesorg dat daar genoeg kos vir koning Salomo en sy hofhouding was.

28 Hulle het ook gars en hooi vir die ryperde en die trekperde op die bestemde plekke besorg.

Salomo se onoortreflike wysheid

29 God het vir Salomo baie wysheid en onderskeiding gegee, en ook kennis wat soos die sand aan die see nie gemeet kan word nie.

30 Trouens, sy wysheid het dié van die wyse manne van die ooste en dié van Egipte ver oortref.

31 Hy was wyser as enigiemand anders, meer as Etan die Esragiet en Heman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Sy naam het bekend geword onder al die omliggende nasies.

32 Hy het 3 000 spreuke geskryf en 1 005 liedere gedig.

33 Hy kon met gesag praat oor bome en plante, van die groot seders van die Libanon tot die kleinste hisop wat uit die mure groei. Hy kon ook praat oor diere, voëls, reptiele en visse.

34 Mense het van oral af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. Al die konings van die wêreld wat van sy wysheid gehoor het, het gesante gestuur.

1 KONINGS 5

Salomo kry boumateriaal vir

die tempel

1 Koning Hiram van Tirus was al die jare ’n getroue vriend van Dawid. Toe hy verneem dat Dawid se seun Salomo as koning van Israel gesalf is, het hy gesante gestuur om hom geluk te wens.

2 Salomo het vir hom die volgende boodskap gestuur:

3 “U weet dat my pa, Dawid, nie ’n tempel tot eer van die Naam van die Here sy God kon bou nie omdat hy reg rondom oorloë moes voer totdat die Here hom die oorhand gegee het.

4 Maar nou het die Here my God vir my aan alle kante vrede gegee. Daar is geen vyande of gevaar wat my bedreig nie.

5 Daarom beplan ek om ’n tempel tot eer van die Naam van die Here my God te bou. Dit is soos die Here my pa belowe het toe Hy gesê het: ‘Jou seun wat Ek in jou plek op die troon sal sit, sal ’n tempel tot eer van my Naam bou.’

6 Nou versoek ek u dat u asseblief vir my seders op die Libanon sal laat afkap. Laat my arbeiders saam met u arbeiders werk. Ek sal vir u arbeiders betaal wat u vra. Soos u weet, kan niemand van ons mense bome kap soos die Sidoniërs kan nie!”

7 Toe Hiram hierdie boodskap van Salomo kry, was hy baie in sy skik en het gesê: “Loof die Here wat vir Dawid ’n wyse seun gegee het om koning te wees van die groot volk Israel.”

8 Hy het die volgende antwoord aan Salomo gestuur: “Ek het u versoek ontvang en sal u voorsien van sowel sederhout as sipreshout soos u versoek het.

9 My arbeiders sal die stompe van die Libanonberge na die see toe bring en dit in vlotte aanmekaarbind. Ons sal hulle dan al seelangs laat dryf tot by die plek wat u verkies. Ons sal daar die vlotte opbreek en die hout aan u oorhandig. U kan my dan betaal deur my met die kos te voorsien wat ek vir my huishouding nodig het.”

10 Op dié manier het Hiram vir Salomo soveel seder- en sipreshout verskaf soos wat hy nodig gehad het.

11 Salomo het jaarliks vir Hiram se hofhouding 3 300 ton koring en 4 400 liter suiwer olyfolie voorsien.

12 Die Here het aan Salomo wysheid gegee soos Hy belowe het. Daar was ’n goeie verhouding tussen Hiram en Salomo. Hulle het ook ’n vredesverdrag gesluit.

13 Koning Salomo het dwangarbeid in Israel ingestel. Daar was altesaam 30 000 dwangarbeiders.

14 Hy het hulle in skofte na die Libanon toe gestuur. Groepe van 10 000 het om die beurt vir ’n maand daar gewerk en dan vir twee maande huis toe gekom. Adoniram was in beheer van die dwangarbeid.

15 Salomo het ook 70 000 draers en 80 000 klipkappers in die berge gehad.

16 Hy het verder 3 300 opsigters aangestel wat oor die arbeiders moes toesig hou.

17 Die koning het beveel dat die klipkappers groot blokke van goeie gehalte klip moes uitkap sodat die fondament vir die tempel van gekapte klip kon wees.

18 Mense uit Gebal het saam met Salomo en Hiram se werkers die hout en die klippe vir die bou van die tempel voorberei.

1 KONINGS 6

Salomo bou die tempel

1 Ongeveer in die middel van die lente, vier jaar nadat hy koning geword het, het Salomo die tempel van die Here begin bou. Dit was 480 jaar nadat die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos is.

2 Die tempel wat koning Salomo vir die Here gebou het, was 30 meter lank, tien meter breed en vyftien meter hoog.

3 Die voorportaal aan die voorkant van die tempel was tien meter lank, net so breed as wat die tempel was. Dit was vyf meter breed.

4 Salomo het ook vir die tempel vensters met kosyne en traliewerk ingebou.

5 Aan die buitekant van die mure rondom die voorste en die binneste heiligdom, het hy ’n platform gebou met drie vlakke:

6 die onderste vlak was twee en ’n half meter breed, die tweede drie meter en die boonste drie en ’n half meter. Elke vlak het op balke in die mure gerus sodat dit nie nodig was om dit in die tempelmuur self vas te bou nie.

7 Die klippe vir die bou van die tempel is reeds by die steengroef reg gekap. Gevolglik kon die hele gebou opgerig word sonder die geluid van hamers, beitels of enige ander ysterwerktuig.

8 Die ingang na die onderste vlak was aan die suidekant van die tempel. Daar was wenteltrappe waarmee ’n mens na die tweede vlak kon opgaan, en van daar na die boonste een.

9 Nadat Salomo die tempel voltooi het, het hy ’n dak van sederhoutbalke en planke gemaak.

10 Die vlakke op die platform buite om die gebou was elkeen twee en ’n half meter bo mekaar. Dit was met sederbalke in die tempelmuur vasgesit.

11 Die woord van die Here het weer na Salomo toe gekom:

12 “Jy bou nou hierdie tempel vir My, maar as jy al my bepalings en voorskrifte hou en my gebooie gehoorsaam, sal Ek vir jou doen wat Ek aan jou pa, Dawid, belowe het.

13 Ek sal tussen die Israeliete woon en nooit my volk in die steek laat nie.”

Die binnekant van die tempel

14 Salomo het die tempel voltooi.

15 Hy het al die mure en die plafon aan die binnekant met sederplanke bedek. Die vloer het hy van sipreshout gemaak.

16 Hy het aan die agterkant in die tempel ’n afskorting van die vloer tot teen die plafon gebou met sederplanke tien meter lank. Dit was die binneste heiligdom, genoem die Allerheiligste.

17 Die groter deel aan die binnekant van die tempel was die heiligdom. Dit was twintig meter lank.

18 Al die klipmure van die tempel aan die binnekant was beslaan met sederplanke waarop daar kalbasse en blomme uitgesny was. Alles was met sederhout bedek sodat niks van die klip sigbaar was nie.

19 Salomo het die binneste heiligdom agter in die tempel ingerig as die plek waar die ark van die Here gesit kon word.

20 Die afmetings van die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Die mure en plafon en ook die altaar met sederhout is met suiwer goud oorgetrek.

21 Daarna het hy die res van die tempel aan die binnekant met suiwer goud bedek. Hy het ook goue kettings gespan voor die ingang na die binneste heiligdom, wat ook met goud bedek was.

22 Hy het die hele tempel, asook die altaar in die binneste heiligdom met goud bedek.

23 In die binneste heiligdom het Salomo twee gerubs van olyfhout gesit. Elkeen was vyf meter hoog.

24 Elke vlerk was twee en ’n half meter lank en die vlerkspan van elke gerub was vyf meter van punt tot punt.

25 Die twee gerubs was identies in vorm en grootte,

26 elkeen vyf meter hoog.

27 Salomo het hulle langs mekaar in die binneste heiligdom van die tempel gesit. Hulle uitgespreide vlerke het van muur tot muur gestrek: die vlerk van die een het teen die muur geraak, terwyl die vlerk van die ander teen die ander muur geraak het. In die middel van die vertrek het hulle vlerke aan mekaar geraak.

28 Hy het die twee gerubs met goud oorgetrek.

29 Rondom teen al die mure van die binneste heiligdom en die hoofvertrek het hy uitgesnyde gerubs, palmbome en blomme laat aanbring.

30 Hy het ook die vloere van albei die vertrekke met goud oorgetrek.

31 Salomo het dubbeldeure van olyfhout by die ingang van die binneste heiligdom gemaak. Hulle kosyne was vyfkantig.

32 Op hierdie deure van olyfhout het hy gerubs en palmbome uitgekerf en met goud oorgetrek.

33 Daarna het hy kosyne van olyfhout gemaak vir die ingang van die tempel. Hulle was vierkantig.

34 Dié dubbeldeure was van sipreshout. Op elke deur was sirkels uitgesny.

35 Hierdie deure is verder versier met gerubs, palmbome en blomme wat daarop uitgekerf was. Alles is met goud oorgetrek.

36 Hy het die binneste hof met drie lae gekapte klip en een laag sederhoutbalke gebou.

37 Die fondamente van die Here se tempel is in die middel van die lente van die vierde regeringsjaar van Salomo gelê.

38 In die middel van die herfs, tydens sy elfde regeringsjaar, is die hele gebou tot in die fynste besonderhede en volgens die planne voltooi. Dit het dus sewe jaar geneem om die tempel te bou.

1 KONINGS 7

Die ander geboue van Salomo

1 Salomo het ook vir hom ’n paleis gebou. Dit het dertien jaar geneem om dit te voltooi.

2 Een van die geboue wat hy opgerig het, is die Libanonsbosgebou genoem. Dit was 50 meter lank, 25 meter breed en vyftien meter hoog. Dit het vier rye sederhoutpilare gehad waarop daar sederbalke gerus het.

3 Dit het ’n sederhoutdak gehad wat op 45 pilare gerus het, drie rye met vyftien in ’n ry.

4 Daar was drie rye vensters wat in groepe van drie teenoor mekaar aangebring was.

5 Al die deurkosyne was reghoekig. Hulle was in stelle van drie teenoor mekaar.

6 Salomo het ook ’n pilaargang gebou. Dit was 25 meter lank en vyftien meter breed. Voor was daar ’n voorportaal met ’n afdak wat op pilare gerus het.

7 Dan was daar die troonsaal, ook genoem die regsgebou, waar Salomo regsake verhoor het. Dit het van die vloer tot teen die plafon panele van sederhout gehad.

8 Salomo se paleis was aan die binneplein agter die troonsaal. Hulle is al twee op dieselfde manier gebou. Hy het ’n soortgelyke paleis vir sy vrou, die dogter van die farao, gebou.

9 Al hierdie geboue was van die fondament tot by die dak opgerig met goeie gehalte klip wat volgens presiese afmetings gekap en met ’n saag aan die voor- en agterkant afgewerk is.

10 Die fondamente is van groot, goeie gehalte klippe van vyf meter by vier meter gebou.

11 Bo-op was blokke klip van goeie gehalte, volgens maat gekap, asook sederhoutbalke.

12 Die mure van die groot voorhof is gebou van drie lae gekapte klip vir elke laag sederhoutbalke, net soos die mure van die groot voorhof van die Here se tempel en die voorportaal van die paleis.

Die toebehore van die tempel

13 Koning Salomo het Hiram van Tirus in diens geneem.

14 Hy was ’n vakman in bronswerk. Hy het oor die vaardigheid, begrip en kennis beskik om enigiets te maak wat aan hom opgedra was. Sy ma was ’n weduwee uit die stam Naftali en sy pa was ’n vakman in bronswerk uit Tirus.

15 Hiram het twee bronspilare gegiet, elkeen nege meter hoog en ses meter in omtrek.

16 Hy het ook twee kapitele uit brons gegiet om bo-op die pilare te sit. Elkeen was twee en ’n half meter hoog.

17 Elke kapiteel was versier met sewe stelle ineengevlegte kettings.

18 Hy het ook twee rye granate gemaak wat rondom die netwerke gegaan het om die kapitele te verfraai. Dit het hy met elke kapiteel gedoen.

19 Die kapitele op die pilare in die voorportaal was in die vorm van blomkelke. Hulle was twee meter hoog.

20 Aan die bokant van elke kapiteel, waar die blomkelke begin dikker word en net bokant die netwerk, was daar 200 granate in twee rye.

21 Hiram het die pilare by die voorportaal van die tempel opgestel. Die een was aan die suidekant en die ander aan die noordekant. Die een aan die suidekant het hy Jakin genoem en die een aan die noordekant Boas.

22 Die kapitele op die pilare was in die vorm van blomkelke. Daarmee is die werk aan die pilare afgehandel.

23 Hiram het ook ’n groot ronde waterbak gegiet, vyf meter in die deursnee, twee en ’n half meter diep en omtrent vyftien meter in die omtrek.

24 Rondom die waterbak, net onder die rand van die waterbak, was daar twee rye kalbasse gegiet in een stuk saam met die waterbak. Daar was tien in elke halwe meter.

25 Die waterbak het op twaalf beeste gerus wat uit brons gegiet is. Drie het noord gekyk, drie wes, drie suid en drie oos. Die waterbak het op hulle gerus. Hulle agterkante was onder die bak na binne gerig.

26 Die dikte van die wande van die waterbak was omtrent nege sentimeter en sy rand was soos ’n beker se rand, in die vorm van ’n leliekelk. Dit kon ongeveer 44 kiloliter hou.

27 Hiram het ook tien waentjies van brons gemaak. Elkeen was twee meter lank, twee meter breed en ’n halwe meter hoog.

28 Hulle is gemaak met sypanele wat aan die rame vasgesit is.

29 Sowel die sypanele as die rame is versier met leeus, beeste en gerubs. Aan die bokant en onderkant van die leeus en die beeste is dit met kranse versier.

30 Daar was vier wiele aan asse van brons by die vier voetstukke van elke waentjie. Die waskom het op staanders gerus wat met kransies aan die kante gegiet is.

31 Die bokant van elke waentjie het ’n ronde raam waarin die wasbak gepas het. Dit het ’n halwe meter bokant die bopunt van die waentjie uitgesteek en was ’n driekwart meter in deursnee. Rondom was daar graveerwerk. Die sypanele van die waentjies was vierkantig en nie rond nie.

32 Onder die sypanele was daar vier wiele wat aan die asse vas was.

33 Elke wiel was ’n driekwart meter in deursnee en was soos strydwawiele gemaak. Die asse, speke en nawe was alles in een stuk gegiet.

34 Op elkeen van die hoeke van die waentjies was daar staanders wat in een stuk met die waentjie gemaak is.

35 Rondom die bokant van elke waentjie was daar ’n ronde staander, ’n kwart meter hoog, met staanders en sypanele wat die kante toegemaak het.

36 Die sypanele en staanders het Hiram oral waar daar ruimte daarvoor was, versier met gerubs, leeus en palmbome, en met kranse reg rondom.

37 Al tien waentjies was eenders en van dieselfde grootte, want elkeen is in dieselfde gietvorm gemaak.

38 Hiram het ook tien waskomme van brons gemaak, een vir elke waentjie. Elkeen was twee meter in deursnee en kon 880 liter hou.

39 Hy het vyf waentjies aan die suidekant van die tempel gesit en die ander vyf aan die noordekant. Die waterbak het hy by die suidoostelike hoek van die tempel gesit.

40 Verder het hy ook wasbakke, grawe en komme vir besprinkeling gemaak.

So het Hiram alles voltooi wat koning Salomo aan hom opgedra het vir die bou van die tempel vir die Here. Dit was:

41 twee pilare, twee komvormige skywe bo-op die pilare, twee rye kettings rondom wat die kapitele versier het;

42 400 granate wat aan die kettings van die kapitele gehang het (dit is twee rye granate vir elke ry kettings wat rondom die kapitele bo-op die pilare gehang het);

43 die tien waterwaentjies met hulle tien wasbakke;

44 die waterbak met die twaalf beeste daaronder;

45 die potte, grawe en komme vir besprinkeling.

Al hierdie toebehore wat Hiram vir die tempel van die Here vir Salomo gemaak het, was van gepoleerde brons.

46 Die koning het dit van gepoleerde brons in kleivorms gegiet in die Jordaanvallei tussen Sukkot en Saretan.

47 Salomo het nie al hierdie toebehore geweeg nie, want daar was te veel van hulle. Die gewig van die brons kon nie bepaal word nie.

48 Salomo het ook al die toebehore van die tempel van die Here laat maak: die goue altaar en goue tafel vir die offerbrood;

49 die kan- delare van suiwer goud, vyf aan die suidekant en vyf aan die noordekant, voor die binneste heiligdom; die blomkelke, lampe en pithouers, alles van goud;

50 die bakke, skêre, en komme vir besprinkeling, panne en die vuurbakke, alles van suiwer goud; die skarniere aan die deure van die binneste vertrek, die Allerheiligste, en aan die deure van die voorste heiligdom − dit alles was van goud.

51 Salomo het al die werk aan die tempel van die Here afgehandel. Daarna het Salomo al die geskenke wat sy pa, Dawid, aan die Here gewy het in die voorraadkamers van die Here se tempel gebêre. Dit het bestaan uit silwer, goud en toebehore.

1 KONINGS 8

Die ark word in die tempel gesit

1 Salomo roep toe die leiers van Israel, al die stamhoofde en familiehoofde, bymekaar in Jerusalem. Hulle moes die verbondsark van die Here uit die Dawidstad, ook bekend as Sion, na die tempel oorbring.

2 Op die feesdag in die vroeë herfs het almal in Israel by koning Salomo bymekaargekom.

3 Toe al die leiers van Israel daar was, het die priesters die ark opgetel.

4 Die priesters en Leviete het die ark van die Here, die tent van ontmoeting en al die gewyde toebehore uit die tent van ontmoeting gedra.

5 Koning Salomo en die hele gemeente van Israel was saam voor die ark bymekaar. Hulle het kleinvee en beeste voor die ark geoffer. Daar was so baie dat niemand dit kon tel of bereken nie.

6 Daarna het die priesters die verbondsark van die Here na die binneste heiligdom van die tempel, die Allerheiligste, gebring en dit onder die vlerke van die gerubs neergesit.

7 Die gerubs se vlerke was bo-oor die ark en die drahoute uitgesprei.

8 Die drahoute was so lank dat die punte vanaf die voorkant van die binneste heiligdom gesien kon word, maar nie van buite af nie. Hulle is vandag nog daar.

9 Daar was niks in die ark nie, behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het. Dit was toe die Here tydens die uittog uit Egipte ’n verbond met die Israeliete gemaak het.

10 Toe die priesters uit die heiligdom kom, het ’n wolk die tempel van die Here gevul.

11 Omdat die magtige teenwoordigheid van die Here die tempel gevul het, kon die priesters nie met hulle werk voortgaan nie.

Salomo praat met die mense

12 Toe het Salomo gebid:

“Die Here het gesê

Hy wil in digte duisternis woon.

13 Ek het nou vir U ’n glansryke tempel gebou waarin U vir altyd kan woon!”

14 Terwyl die hele vergadering van Israel voor hom gestaan het, het die koning hom na hulle toe gedraai en hulle geseën.

15 Hy het gesê: “Loof die Here, die God van Israel wat met sy mond beloftes gemaak het en met sy hand dit aan my pa, Dawid, vervul het deur te sê:

16 ‘Vandat Ek my volk Israel uit Egipte gebring het, het Ek nie onder die stamme van Israel ’n stad gekies waar ’n tempel tot eer van my Naam gebou sou word nie. Maar Ek het wel Dawid gekies as koning oor my volk.’

17 “My pa, Dawid, wou hierdie tempel tot eer van die Naam van die Here, die God van Israel bou,

18 maar die Here het vir hom gesê: ‘Dis goed dat jy beplan om ’n tempel tot eer van my Naam te bou,

19 maar jy is nie die een wat dit sal bou nie. Jou eie seun wat jy sal verwek, hý is die een wat dit sal doen.’

20 “Nou het die Here gedoen wat Hy belowe het, want ek het volgens die belofte van die Here in my pa se plek koning van Israel geword. Ek het hierdie tempel tot eer van die Naam van die Here, die God van Israel gebou.

21 Ek het ook ’n plek ingeruim vir die ark wat die verbond bevat wat die Here tydens die uittog uit Egipte met ons voorvaders gemaak het.”

Salomo se tempelgebed

22 Daarna het Salomo in die teenwoordigheid van die hele vergadering van Israel voor die altaar van die Here gaan staan en sy hande na die hemel toe uitgestrek.

23 Hy het gebid: “Here, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde bly betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien.

24 U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul.

25 En nou, Here, God van Israel, laat tog ook u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, waar word. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy geleef het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’

26 Nou, God van Israel, bevestig tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid.

27 “Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het!

28 Luister tog na my gebed en smeking, Here my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar vandag tot U rig.

29 Hou tog dag en nag ’n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig.

30 Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog.

31 “As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en hy moet voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld kom aflê,

32 hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry.

33 “As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek,

34 luister dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u volk en bring hulle terug na hierdie land wat U aan hulle voorouers gegee het.

35 “As die hemele toegesluit bly en daar geen reën val nie omdat u volk teen U gesondig het; en as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, en hulle bekeer van hulle sondes omdat U hulle gestraf het,

36 hoor dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u dienaars, u volk Israel. Leer hulle om te doen wat reg is, en stuur die reën oor die land wat U aan u volk as eiendom gegee het.

37 “Indien daar hongersnood in die land kom, of pes in die land uitbreek, of heuningdou of skimmel, of treksprinkane, of indien die vyande van u volk die stede beleër, watter ramp of siekte hulle ook al tref,

38 luister dan. Luister na die gebed en die smeking van die enkelinge of die hele volk Israel, soos elkeen sy behoefte bekendmaak en die hande na hierdie tempel toe uitstrek.

39 Luister dan uit die hemel waar U is en vergewe en gryp in. U wat elke mens se binnekant ken, gee tog aan elkeen wat hy nodig het, want net U weet wat in die mens se gemoed aangaan.

40 Dan sal hulle aan U gehoorsaam wees, solank hulle woon in die land wat U aan ons voorouers gegee het.

41 “Ook as vreemdelinge wat nie van u volk Israel is nie, van U hoor en uit verre lande kom ter wille van u groot Naam –

42 want hulle sal van U hoor en van u kragtige dade en u mag – as hulle na hierdie tempel toe bid,

43 hoor dan uit die hemel waar U woon en gee dit wat hulle vra. Dan sal al die mense van die aarde U leer ken en eerbied vir U hê net soos u eie volk Israel. Hulle sal ook weet dat hierdie tempel wat ek gebou het aan u Naam gewy is.

44 “As u volk op u bevel uittrek om oorlog teen hulle vyande te maak en hulle tot U, die Here, bid in die rigting van hierdie stad wat U uitgekies het en na hierdie tempel wat ek vir u Naam gebou het,

45 luister dan in die hemel na hulle gebede en smekinge, en gee aan hulle die oorwinning.

46 “As hulle teen u sondig – want wie sondig nie – kan U ontevrede word en hulle oorgee aan hulle vyande wat hulle as gevangenes wegvoer na ’n vreemde land, ver of naby.

47 As hulle egter in daardie land van gevangenskap hulle dalk in berou tot U bekeer en tot U smeek: ‘Ons het oortree, ons het gesondig, ons het kwaad gedoen,’

48 luister tog na hierdie gebede. As hulle hulle heelhartig en in opregtheid tot U bekeer in die land van gevangenskap; as hulle tot U bid in die rigting van die land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van hierdie stad wat U gekies het, en van hierdie tempel wat ek tot eer van u Naam gebou het,

49 luister dan tog in die hemel waar U woon na hulle gebede en smeking, en wees genadig.

50 Vergewe dan u volk wat teen U gesondig het, vergewe al die opstand teen U. Laat dié wat hulle gevange geneem het genade aan hulle betoon,

51 want hulle is u volk, u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gebring het.

52 “Wees tog ontvanklik vir my versoeke en die smekinge van u volk Israel. Luister en antwoord hulle wanneer hulle na U roep.

53 Want toe U ons voorouers uit Egipte gebring het, oppermagtige Here, het U vir Moses u dienaar gesê dat U Israel afgesonder het uit al die nasies op die aarde om u eiendom te wees.”

Salomo seën die gemeente

54 Nadat Salomo klaar gebid het en hierdie dinge van die Here gevra het, het hy opgestaan van waar hy voor die altaar van die Here met sy hande uitgestrek na die hemel toe gekniel het.

55 Hy het gaan staan en die hele gemeente van Israel hardop soos volg geseën:

56 “Loof die Here wat vir sy volk Israel rus gegee het soos Hy beloof het. Nie een woord van al die goeie beloftes wat Hy vir Moses gegee het, het onvervuld gebly nie.

57 Mag die Here ons God met ons wees soos Hy met ons voorouers was. Mag Hy ons nooit verlaat of ons laat vaar nie.

58 Mag Hy ons die gewilligheid gee om in alles sy wil te doen en om al sy gebooie, bevele en bepalings wat Hy vir ons voorouers gegee het, te gehoorsaam.

59 En mag hierdie woorde wat ek voor die Here gebid het voortdurend, dag en nag, by Hom wees sodat die Here ons God my saak en die saak van sy volk Israel volgens ons daaglikse behoeftes in stand sal hou.

60 Dan sal mense oor die hele wêreld weet dat die Here God is en dat daar geen ander god is nie.

61 En mag julle ten volle toegewy wees aan die Here ons God sodat julle altyd sy bevele en gebooie gehoorsaam soos wat julle dit vandag doen.”

Die tempel feestelik ingewy

62 Daarna het die koning en die hele Israel saam met hom offers aan die Here gebring.

63 Salomo het 22 000 beeste en 120 000 kleinvee as maaltydoffers aan die Here gebring. So het die koning en die hele Israel die tempel van die Here ingewy.

64 Daardie dag het die koning die middelste deel van die voorhof, wat voor die tempel van die Here was, aan Hom opgedra. Hy het brandoffers, graanoffers en die vet van die maaltydoffers daar geoffer omdat die bronsaltaar voor die tempel van die Here te klein was vir al die baie offers.

65 Toe het Salomo en die hele Israel sewe dae lank feesgevier voor die Here. Dit was ’n groot byeenkoms, want hulle het so ver gekom as van Lebo-Hamat in die noorde tot by die Egiptespruit in die suide. Daarna het hulle nog sewe dae lank feesgevier, altesaam veertien dae.

66 Die dag daarna het Salomo die volk huis toe gestuur. Hulle het die koning met ’n seën gegroet en vertrek, vol vreugde en bly dat die Here goed was vir sy dienaar Dawid en vir sy volk Israel.

1 KONINGS 9

Die Here verskyn ’n tweede keer aan Salomo

1 Salomo het die tempel van die Here en die koninklike paleis klaar gebou. Hy het alles voltooi soos hy beplan het.

2 Toe verskyn die Here vir ’n tweede keer aan Salomo soos voorheen by Gibeon.

3 Die Here sê vir hom: “Ek het jou gebed en jou smeking gehoor. Hierdie tempel wat jy gebou het, heilig Ek sodat my Naam altyd daar vereer sal word. Ek sal voortdurend ’n wakende oog daaroor hou en dit onder my sorg neem.

4 Wat jou betref: Dien My met opregtheid en vroomheid soos jou pa, Dawid, gedoen het, doen alles wat Ek beveel het en voer my bevele en voorskrifte uit.

5 Dan sal Ek jou koningskap oor Israel bevestig soos Ek aan jou pa, Dawid, belowe het: ‘Daar sal altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel wees.’

6 “Maar as jy of jou nageslag My verlaat en nie my bevele en gebooie gehoorsaam nie, as julle ander gode dien en voor hulle buig,

7 dan sal Ek Israel uitruk uit hierdie land wat Ek vir hulle gegee het. Ek sal hierdie tempel wat Ek tot eer van my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal Israel tot ’n voorwerp van spot en hoon onder die volke maak.

8 Al is dit so dat hierdie tempel nou ’n indrukwekkende gebou is, sal dit dan ’n ontstellende gesig word vir almal wat verbygaan. Hulle sal smalend spot en vra: ‘Hoekom het die Here sulke verskriklike dinge aan sy land en sy tempel gedoen?’

9 En daar sal geantwoord word: ‘Omdat hulle die Here hulle God wat hulle voorouers uit Egipte gebring het, vaarwel toegeroep het, ander gode vereer het, voor hulle gebuig en hulle gedien het. Dis hoekom die Here al hierdie rampe oor hulle gebring het.’”

Salomo stel Hiram nie tevrede nie

10 Dit het Salomo twintig jaar geneem om die tempel van die Here en die koninklike paleis te bou.

11 Toe het hy twintig dorpe in Galilea as betaling vir Hiram van Tirus gegee vir al die sederhout, sipreshout en goud wat hy vir die bouprojek nodig gehad het.

12 Hiram het uit Tirus kom kyk hoe die dorpe lyk wat Salomo vir hom gegee het, maar hy was nie daarmee tevrede nie.

13 “Watter soort dorpe is dit wat jy vir my gegee het, my broer?” het hy gevra. “Hierdie dorpe is tog waardeloos!” Daarom word dit tot vandag toe Kabulstreek genoem.

14 Hiram het meer as vier ton goud aan Salomo gelewer.

Salomo se verskillende projekte

15 Salomo het dwangarbeid gebruik om die volgende projekte te bou: die tempel van die Here, die koninklike paleis, die terras en die muur van Jerusalem. Hy het ook die stede Hasor, Megiddo en Geser met hulle herbou.

16 Die farao, koning van Egipte, het Geser verower, die Kanaänitiese inwoners doodgemaak en die stad verbrand. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter gegee toe sy met Salomo getrou het.

17 Daarom het Salomo Geser herbou, asook Bet-Goron-Onder,

18 Baälat en Tamar in die woestyn van Juda.

19 Verder het hy voorraadstede gebou en stede waar sy strydwaens en berede mag gehuisves was. Hy het in Jerusalem, die Libanon en dwarsdeur sy hele ryk alles voltooi wat hy hom voorgeneem het om te bou.

20 In die land was daar nog inwoners wat nie Israeliete was nie. Hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en die Jebusiete.

21 Hulle was die afstammelinge van die volke wat Israel nie volledig uitgeroei het nie. Salomo het hulle opkommandeer om dwangarbeid vir hom te doen. Dis vandag nog so.

22 Salomo het egter geen Israeliet vir dwangarbeid gebruik nie. Hulle was sy soldate, sy lyfwag, sy staatsamptenare, offisiere in sy leër, aanvoerders van sy strydwaens en sy berede magte.

23 Verder het hy 550 van hulle as beamptes aangestel om toesig te hou oor al die verskillende projekte.

24 Nadat die dogter van die farao uit die Dawidstad oorgetrek het na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het, het hy ook die terras gebou.

25 Salomo het drie keer per jaar brandoffers en maaltydoffers gebring op die altaar wat hy vir die Here gebou het. Hy het ook wierookoffers vir die Here gebrand. So het hy al sy verpligtings in die tempel nagekom.

26 Koning Salomo het ook skepe gebou by Esjon-Geber, ’n hawe naby Elat aan die kus van die Rietsee in Edom.

27 Hiram het ook vir hom skepe gestuur met gesoute bemanningslede. Hulle het saam met Salomo se matrose

28 na Ofir gevaar en daar vir Salomo meer as veertien ton goud gaan haal.

1 KONINGS 10

Die besoek van die koningin

uit Skeba

1 Toe die koningin van Skeba van Salomo se aansien en van die Naam van die Here hoor, het sy self gekom om hom met moeilike vrae te toets.

2 Sy het in Jerusalem aangekom saam met ’n groot gevolg en kamele belaai met speserye, baie goud en kosbare edelstene. Sy het met Salomo oor alles gepraat wat in haar gemoed was.

3 Salomo het ’n antwoord op elkeen van haar vrae gehad. Niks was vir die koning te moeilik om te verduidelik nie.

4 Die koningin van Skeba was beïndruk met Salomo se wysheid, die paleis wat hy gebou het,

5 die kos op sy tafel, hoe hy sy amptenare laat aansit het, die bediening en die uniforms van sy tafelbediendes en sy kelners, asook die brandoffers wat Salomo by die tempel van die Here geoffer het. Dit alles het haar na haar asem laat snak.

6 Sy sê toe vir die koning: “Alles wat ek in my land van u en u wysheid gehoor het, is waar!

7 Ek kon dit nie glo voordat ek hier aangekom het en dit self met my eie oë gesien het nie. Trouens, ek het nie eers van die helfte daarvan gehoor nie! U wysheid en voorspoed is baie meer as waarvan ek gehoor het.

8 Hoe bevoorreg is hierdie volk! Wat ’n voorreg vir u amptenare om in u diens te staan en hier dag vir dag u wysheid aan te hoor!

9 Die Here u God kom die lof toe omdat Hy soveel liefde aan u bewys het en u op die troon van Israel gesit het. Dis omdat die Here Israel eindeloos liefhet dat Hy u koning oor Israel gemaak het sodat u in reg en geregtigheid kan regeer.”

10 Toe gee sy vir die koning ’n geskenk van meer as vier ton goud, baie speserye en waardevolle edelstene. Nooit weer is so baie speserye die land ingebring soos wat die koningin van Skeba vir Salomo gegee het nie.

11 Toe Hiram se skepe goud uit Ofir gebring het, het hulle ook baie jenewerhout en waardevolle edelstene saamgebring.

12 Die koning het die jenewerhout gebruik om relings vir die tempel van die Here en die koninklike paleis te maak, en liere en harpe vir die musikante. Nooit tevore of daarna is sulke pragtige jenewerhout gesien nie.

13 Koning Salomo het vir die koningin van Skeba alles gegee waarvoor sy gevra het. Dit was bo en behalwe die ander geskenke wat hy as koning gegee het. Daarna het sy en haar gevolg vertrek en na haar eie land toe teruggegaan.

Salomo se rykdom

14 Salomo se inkomste was jaarliks ongeveer 23 ton goud.

15 Dit is afgesien van die inkomste wat hy van reisigers en handelaars, al die konings van Arabië en die streeksbestuurders in Israel ontvang het.

16 Koning Salomo het 200 groot skilde van bladgoud gemaak. Hy het ongeveer sewe kilogram goud vir elke skild gebruik.

17 Hy het ook 300 klein skilde van bladgoud gemaak en ongeveer twee kilogram goud vir elkeen gebruik. Die koning het hierdie skilde in die Libanonsbosgebou geplaas.

18 Die koning het ook ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

19 Die troon het ses trappies gehad en die kopstuk agter was rond. Aan albei kante van die troon was daar armleunings met ’n beeld van ’n leeu langsaan.

20 Twaalf beelde van leeus het op die ses trappies gestaan, een aan weerskante van ’n trappie. Daar was geen gelyke hiervan in enige ander koninkryk nie.

21 Koning Salomo se drinkbekers was van goud. So ook al die gebruiksartikels in die Libanonsbosgebou. Niks is van silwer gemaak nie omdat dit in Salomo se tyd geen waarde gehad het nie.

22 Die koning het ’n Tarsisvloot gehad wat saam met dié van Hiram uitgevaar het. Elke drie jaar het hierdie Tarsisvloot teruggekeer, belaai met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane.

23 Koning Salomo het al die konings op aarde oortref in rykdom en wysheid.

24 Mense oor die hele wêreld wou hom besoek om die wysheid te hoor wat God vir hom gegee het.

25 Elkeen wat hom besoek het, het vir hom geskenke van silwer en goud, klere, wapens, speserye, perde en muile saamgebring. Dit het jaar na jaar gebeur.

26 Salomo het ’n groot mag van strydwaens en ruiters opgebou. Hy het 1 400 strydwaens gehad en 12 000 perderuiters. Hy het hulle in die strydwastede geplaas en sommige by die koning in Jerusalem.

27 Silwer was so volop soos klippe in Jerusalem en sederhout was so algemeen soos wildevye in die Laeveld van Juda.

28 Sy perde het hy uit Egipte en Kewé ingevoer. Die koninklike handelaars het hulle daar teen ’n bepaalde prys aangekoop.

29 Egiptiese strydwaens het sewe kilogram silwer elk gekos en ’n perd sowat een en ’n driekwart kilogram silwer. ’n Perd is teen dieselfde prys aan die konings van die Hetiete en die konings van Aram verkoop. Die transaksies is deur middel van die handelaars gedoen.