1 JOHANNES 1

1 Die betroubare Woord wat lewe gee

Die Een wat van die heel begin af bestaan het, is die Een wat ons gehoor en met ons eie oë gesien het. Ons het Hom aandagtig waargeneem, en Hom met ons hande aangeraak. Dit gaan oor die Woord wat lewe gee.

2 Dié lewe het sigbaar verskyn en ons het dit gesien en getuig daarvan en deel dit aan julle mee – dit is die ewige lewe wat by die Vader was, maar nou aan ons bekendgemaak is.

3 Ons deel julle mee wat ons gesien en gehoor het sodat julle ook saam met ons daarin kan deel. Ons het saam deel aan die Vader en die Seun, Jesus Christus.

4 Ons skryf hierdie dinge sodat ons blydskap tot sy volle verwesenliking kan kom.

Maak dit die moeite werd: leef in

die lig

5 Dit is dan die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle meedeel: God is lig en daar is hoegenaamd geen duisternis in Hom nie.

6 As ons dan sê dat ons deel het aan Hom, maar in geestelike duisternis leef, lieg ons. Ons optrede weerspieël nie die waarheid nie.

7 As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van elke sonde.

8 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.

9 As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.

10 As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot ’n leuenaar. Dit beteken ook dat sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie.

1 JOHANNES 2

1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie moet sonde doen nie. As iemand egter sonde doen, ons het ’n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.

2 Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes. Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom.

3 En hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken: as ons sy opdragte gehoorsaam.

4 As iemand sê: “Ek leef in ’n persoonlike verhouding met God,” maar nie sy opdragte gehoorsaam nie, voer só ’n persoon ’n leuenlewe en het die waarheid nie plek in sy lewe nie.

5 Wie egter sy woord gehoorsaam, in só ’n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan Hom verbind is.

6 Dié wat beweer dat hulle in ’n noue verbintenis met Hom leef, moet self ook leef soos Hy geleef het.

Die liefdesopdrag is al oud,

maar tog ook nuut

7 Geliefdes, ek stuur nie aan julle ’n nuwe opdrag nie, maar ’n ou een wat julle nog altyd gehad het. Dié ou opdrag is die boodskap wat julle reeds lankal gehoor het.

8 Tog is dit ook ’n nuwe opdrag wat ek aan julle gee. Hierdie opdrag is betroubaar en van toepassing op julle verhouding tot Christus en tot mekaar. Die duisternis is immers aan die verbygaan en die lig wat die waarheid bring, skyn alreeds.

9 As iemand sê: “Ek leef in ’n hegte verhouding met die lig,” maar ’n medegelowige haat, verkeer so ’n mens nog steeds in die duisternis.

10 Enigeen wat sy medegelowiges liefhet, leef in ’n verbintenis met die lig en is nie ’n bron van struikeling vir ander nie.

11 Wie egter ’n medegelowige haat, is nog in die duisternis en leef in ’n noue verbintenis met die duisternis. Sulke persone besef nie waarheen hulle op pad is nie omdat die duisternis hulle oë verblind het.

Leef volgens julle identiteit as

Christene!

12 Ek skryf aan julle, kinders:

Julle sondes is vergewe

op grond van wat Jesus

vir ons gedoen het.

13 Ek skryf aan julle, pa’s:

Julle leef van die heel begin af

in ’n persoonlike verhouding

met Hom.

Ek skryf aan julle, jonges:

Julle het as oorwinnaars

oor die bose

uit die stryd getree.

14 Ek skryf aan julle, kinders:

Julle leef in ’n persoonlike

verhouding met die Vader.

Ek skryf aan julle, pa’s:

Julle leef van die heel begin af

in ’n persoonlike verhouding

met Hom.

Ek skryf aan julle, jonges:

Julle is kragtig

en die woord van God is deel

van julle bestaan

en julle het as oorwinnaars

oor die bose

uit die stryd getree.

15 Hou op om die wêreld en die dinge van die wêreld lief te hê. As iemand die wêreld liefhet, is hy beslis nie ook lief vir die Vader nie.

16 Wat ook al in die wêreld bestaan, alles wat tipies is van die menslike begeerte, die begeerte vir alles wat die oog sien, en die vals roem op besittings, kom nie van die Vader nie, maar het sy oorsprong in die wêreld.

17 Dié wêreld én sy begeerlikhede is aan die verbygaan. Wie die wil van God uitvoer, leef egter vir altyd.

Die finale toets is hóé ons glo en

lewe

18 Kinders, dit is nou die laaste uur. Soos julle al gehoor het, is die antichris aan die kom. Ook nou het baie antichriste alreeds hulle opwagting gemaak. Daaruit lei ons af dat dit die laaste uur is.

19 Hulle het uit ons geledere gekom, maar was nooit regtig deel van ons nie. As hulle regtig deel van ons was, sou hulle nou nog by ons gebly het. Hulle het uit ons geledere weggegaan sodat dit aan die lig sou kom dat hulle nie regtig deel van ons was nie.

20 Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees.

21 Ek het aan julle geskryf, nie omdat julle nie kennis dra van die waarheid nie, maar juis omdat julle die waarheid ken en ook weet dat geen leuen uit die waarheid kan kom nie.

22 Wie is die groot leuenaar? Dit is die een wat aanhou ontken dat Jesus die Messias is. So ’n persoon is die antichris, wat nie die Vader en die Seun erken nie.

23 Elkeen wat nie die Seun erken nie, het ook nie deel aan die Vader nie. Elkeen wat die Seun egter erken, het ook deel aan die Vader.

24 Hou vol met dit wat julle van die heel begin af gehoor het. As julle leef volgens dit wat julle van die heel begin af gehoor het, sal julle ook verbonde bly aan die Seun en die Vader.

25 En dít is die belofte wat Hy self aan ons gemaak het: die ewige lewe.

26 Hierdie dinge het ek aan julle geskryf oor die mense wat julle probeer verlei.

27 Julle het immers die Heilige Gees ontvang van Hom wat in ’n hegte verhouding met julle leef; daarom het julle nie behoefte daaraan dat iemand julle onderrig nie. Sy Gees lig julle immers oor alles in, en wat Hý sê, is die waarheid en nie ’n leuen nie. En soos Hy julle geleer het, moet julle ook in ’n hegte verhouding met Hom leef.

28 En nou, kinders, leef in ’n hegte verhouding met Hom sodat, wanneer Hy ook al verskyn, ons die vrymoedigheid kan hê om nie beskaamd te staan by sy koms nie.

29 As julle dan met die wete leef dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat reg leef, deur Hom verwek is.

1 JOHANNES 3

Dis julle herkoms wat saak

maak, kinders van God!

1 Kyk net hoe ’n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook. Daarom ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.

2 Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.

3 Almal wat uit hierdie Christusverwagting leef, hou hulleself vlekkeloos soos Hy vlekkeloos is.

4 Elkeen wat aanhou sonde doen, doen ook wat teen die wet is, want sonde is wetteloosheid.

5 Julle weet tog dat Hy verskyn het om die sonde weg te neem en dat daar geen sonde in Hom is nie.

6 Elkeen wat in ’n hegte verhouding met Hom leef, hou nie aan sonde doen nie. Elkeen wat aanhou sonde doen, het Hom nie gesien nie en het ook nie ’n begrip van Hom nie.

7 Kinders, moenie dat iemand julle hieroor mislei nie: Elkeen wat reg leef, is regverdig, net soos Hy regverdig is.

8 Elkeen wat aanhou sonde doen, is familie van die duiwel omdat die duiwel van die heel begin af sonde gedoen het. Juis daarvoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die duiwel te vernietig.

9 Elkeen wat deur God verwek is, hou nie aan sonde doen nie omdat God se saad in hulle bly. Hulle kan ook nie aanhou sonde doen nie omdat hulle deur God verwek is.

10 Op hierdie manier is dit duidelik wie die kinders van God en wie die kinders van die duiwel is. Almal wat nie reg optree nie en ook nie hulle medegelowiges liefhet nie, is nie uit God nie.

Liefhê en haat loop nie saam nie

11 Dít is die boodskap wat ons van die heel begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê.

12 Ons moet nie soos Kain optree wat uit die bose was en sy broer doodgemaak het nie. Om watter rede het hy hom doodgemaak? Omdat sy eie optrede boos was en sy broer s’n reg.

13 Broers en susters, moet nie verbaas wees as die wêreld julle haat nie.

14 Ons leef in die wete dat ons reeds uit die dood oorgegaan het in die lewe omdat ons ons broers en susters liefhet. Wie nie liefhet nie, bly eenvoudig in die dood vasgevang.

15 Elkeen wat sy broer of suster haat, is ’n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar deel het aan die ewige lewe nie.

16 Ons het die volmaakte liefde leer ken: dit is dat Christus sy lewe ter wille van ons afgelê het. Só moet ons ook ons lewens prysgee ter wille van ons broers en susters.

17 Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broer of suster sien gebrek ly, maar weier om ’n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon?

18 Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of gepratery nie, maar eerder deur ons optrede, en met opregte bedoelings.

19 Deur ons optrede sal ons weet dat ons getrou aan die waarheid lewe en dat ons ons gewete voor Hom tot rus kan bring.

20 Maar selfs wanneer ons gewete ons sou aankla – God is groter as ons gewete en Hy weet alles.

21 Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan.

22 Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak.

23 En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het.

24 Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.

1 JOHANNES 4

Die Gees van die waarheid

teenoor die gees van misleiding

1 Geliefdes, moenie sommer almal glo wat daarop aanspraak maak dat hulle deur die Gees optree nie. Toets hulle om te bepaal of dié bepaalde gees sy oorsprong by God het, want daar het reeds baie vals profete die wêreld ingekom.

2 Hieraan herken julle die Gees van God: Elkeen wat erken dat Jesus Christus werklik ten volle mens geword het, is van God afkomstig.

3 Elkeen wat Jesus nie erken nie, is nie van God afkomstig nie. Dit is tipies van die antichris. Julle het mos gehoor dat hy aan die kom is, en hy is nou reeds in die wêreld aanwesig.

4 Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon.

5 Hierdie mense het die wêreld as oorsprong; daarom praat hulle uit ’n wêreldse oogpunt en luister die wêreld na hulle.

6 Ons is egter van God afkomstig; daarom luister dié wat God persoonlik ken, na ons. Elkeen wat nie van God afkomstig is nie, luister nie na ons nie. Dít is hoe ons weet wie die Gees van die waarheid het, en wie die gees van misleiding het.

Omdat God ons só liefgehad het,

moet ons ook mekaar liefhê

7 Geliefdes, laat ons mekaar

aanhou liefhê,

want volmaakte liefde

is van God afkomstig.

Elkeen wat só liefhet,

is uit God gebore

en ken God persoonlik.

8 Elkeen wat nie só liefhet nie,

ken God nie persoonlik nie

omdat God liefde self is.

9 Op hierdie manier het God

sy volmaakte liefde

aan ons bekendgemaak

toe Hy sy enigste Seun

na die wêreld toe gestuur het

sodat ons deur Hom

die lewe kan ontvang.

10 Dít is volmaakte liefde:

nie dat ons vir God

liefgehad het nie,

maar dat Hy ons liefgehad het

en sy Seun as versoeningsoffer

gestuur het

om ons sondes weg te neem.

11 Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê.

Wanneer God se liefde ten volle

verwesenlik word

12 Niemand het God nog ooit gesien nie; as ons egter mekaar werklik aanhou liefhê, leef God in ons optrede en het sy liefde in ons optrede ten volle tot verwesenliking gekom.

13 Hieraan weet ons dat ons in ’n hegte verhouding met Hom leef en dat Hy ook in ’n hegte verhouding met ons leef: aan sy Gees wat Hy aan ons gegee het.

14 Verder, ons het dit fyn raakgesien en ons hou aan daarvan getuig dat die Vader die Seun gestuur het as Verlosser van die mensdom.

15 Almal wat openlik erken dat Jesus die Seun van God is – God handhaaf ’n hegte verhouding met hulle en hulle met God.

16 Ons leef uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet. God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ’n hegte verhouding met God en God met hulle.

17 Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik, dat ons vrymoedigheid kan hê op die oordeelsdag. Ons leef immers op dieselfde wyse as Christus in hierdie wêreld – sonder vrees.

18 Volmaakte liefde het nie plek vir vrees nie; volmaakte liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volmaakte liefde bemeester nie.

Ons liefde vir God word sigbaar

in ons liefde vir ons naaste

19 Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het.

20 As enigeen beweer: “Ek het God lief,” maar ’n broer of suster haat, is só ’n persoon ’n leuenaar, want as ons ’n broer of suster wat ons elke dag sien, nie liefhet nie, kan ons mos nie vir God liefhê wat ons nie kan sien nie.

21 Hierdie opdrag het ons van Hom ontvang: As ons God liefhet, moet ons ook ons broer en suster liefhê.

1 JOHANNES 5

Geloof in die Seun van God

oorwin die wêreld

1 Elkeen wat glo en bely dat Jesus die Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook sy kinders lief.

2 Hieraan weet ons dat ons moet aanhou om die kinders van God lief te hê: wanneer ons God liefhet en sy opdragte uitvoer.

3 Die liefde vir God bestaan daaruit dat ons sy opdragte gehoorsaam, en sy opdragte is nie moeilik nie,

4 want elkeen wat God as Vader het, oorwin die wêreld. Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof.

5 Wie anders kan dit wees wat die wêreld verower as die een wat bely dat Jesus die Seun van God is?

6 Dit is Hy wat deur die water en die bloed gegaan het, nie slegs deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die Een wat daaroor getuienis aflê omdat die Gees die waarheid is.

7 Daarom is daar dié drie wat getuienis aflê:

8 die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens.

9 As ons dan die getuienis van mense as betroubaar aanvaar – die getuienis van God dra soveel groter gewig. Hierdie getuienis kom van God af; sy getuienis oor sy eie Seun staan vas.

10 Almal wat glo in die Seun van God, dra dié getuienis in hulle eie hart; wie nie glo nie, het God as ’n leuenaar uitgemaak omdat hulle nie glo in die getuienis wat God oor sy Seun gelewer het nie.

11 En dit is die inhoud van sy getuienis: God het aan ons die ewige lewe gegee, en dié lewe bestaan in ’n hegte verhouding met sy Seun.

12 Hy wat deel het aan die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie nie deel het aan die Seun van God nie, het ook nie deel aan die ewige lewe nie.

Slot: Leef uit julle sekerhede

13 Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle met die wete kan leef dat julle nou reeds deel het aan die ewige lewe, julle wat aanhou glo in die persoon van die Seun van God.

14 Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.

15 As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, toestaan.

16 As jy sien dat jou broer of suster aanhou sonde doen – sonde wat nie tot die dood lei nie – moet jy ernstig bid en God sal aan hulle lewe gee. Dit geld vir dié sondes wat nie tot die dood lei nie. Daar is ook sonde wat tot die dood lei; ek sê nie dat jy daarvoor moet bid nie.

17 Elke optrede wat nie reg is nie, is sonde, maar nie elke sonde lei tot die dood nie.

18 Ons leef egter met die wete dat elkeen wat deur God verwek is, nie aanhou sonde doen nie. God bewaar dié een wat uit Hom gebore is en die bose kry nie vatplek aan hom nie.

19 Ons weet dat ons van God afkomstig is en dat die hele wêreld in die mag van die bose vasgevang lê.

20 Ons leef ook met die wete dat die Seun van God gekom het en aan ons die vermoë gegee het om die ware Een te herken. En ons leef in ’n hegte verhouding met Hom, die Ware Een, naamlik God se Seun, Jesus Christus. Hy ís die ware God, en Hy is die ewige lewe.

21 Kinders, loop tog wakker vir die afgode!