MARKUS 15

Jesus deur Pilatus verhoor

1 Pas vroegoggend het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifkenners – trouens, die volle Sanhedrin – tot ’n besluit gekom. Hulle het Jesus geboei en toe aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig.

2 Pilatus het Jesus begin ondervra: “Is jy die Koning van die Jode?”

Jesus het hom geantwoord: “Ja, dit is soos u sê.”

3 Die priesterhoofde het baie beskuldigings teen Jesus ingebring.

4 Pilatus het weer ’n vraag aan Hom gestel: “Antwoord jy dan niks nie? Wat van al hierdie beskuldigings teen jou?”

5 Maar tot Pilatus se verbasing het Jesus op geen enkele beskuldiging gereageer nie.

6 Die goewerneur was gewoond om elke jaar tydens Paasfees een gevangene vir die volk vry te laat – dié een waarvoor hulle gevra het.

7 Een van die destydse gevangenes was Barabbas. Hy was saam met ander veroordeel weens ’n moord wat hulle tydens ’n opstand gepleeg het.

8 Die skare het oproerig geword en van Pilatus begin eis om soos gewoonlik ’n gevangene vry te laat.

9 “Moet ek vir julle die Koning van die Jode vrylaat?” vra hy hulle toe –

10 hy het immers besef dat die priesterhoofde Jesus uit naywer laat arresteer het.

11 In hierdie stadium het die priesterhoofde die skare egter aangehits om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moes vrylaat.

12 Pilatus het toe weer vir hulle gevra: “Maar as ek Barabbas vrylaat, wat moet ek dan doen met hierdie mens wat julle die Koning van die Jode noem?”

13 Hulle het teruggeskree: “Kruisig hom!”

14 “Hoekom dan?” het Pilatus by hulle aangedring. “Watter misdaad het hy gepleeg?”

Maar die skare het al hoe harder geskree: “Kruisig hom!”

15 Omdat Pilatus die skare graag hulle sin wou gee, het hy toe vir Barabbas vrygelaat, maar vir Jesus het hy aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig.

Die soldate gésel en bespot Jesus

16 Die soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier gebring. Toe roep hulle die hele regiment bymekaar en

17 trek vir Hom ’n pers mantel aan. Hulle vleg toe ook ’n kroon van dorings en sit dit op sy kop.

18 Daarop begin hulle Hom salueer met die woorde: “Ons groet u, o Koning van die Jode!”

19 Hulle slaan Hom toe met ’n riet teen sy kop, spoeg op Hom en maak kniebuigings asof hulle eer aan Hom wil betoon.

20 Toe hulle moeg geword het om die spot met Hom te dryf, het hulle die pers mantel uitgetrek en Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig.

Jesus word gekruisig

21 ’n Man met die naam Simon, wat van Sirene afkomstig was, kom toe juis van buite die stad af by hulle verby – hy was die pa van Aleksander en Rufus. Die soldate kommandeer hom toe op om Jesus se kruis te dra.

22 Toe bring hulle Hom na ’n plek met die naam Golgota – dit beteken Kopbeenplek.

23 Hulle wou Hom toe wyn wat met mirre gekruie was, gee om te drink, maar Hy wou dit nie neem nie.

24 Daarna het hulle Hom gekruisig. Hulle het sy klere verdeel deur met dobbelsteentjies daaroor te beslis.

25 Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het.

26 ’n Plakkaat bokant Jesus se kop het die rede vir sy veroordeling uitgespel: “Die Koning van die Jode.”

27 Saam met Hom het hulle ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant.

29 Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou: “Ha-ha, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou!

30 Red jouself nou, en kom van die kruis af!”

31 Die priesterhoofde en die skrifkenners het ook onder mekaar met Jesus gespot en gesê: “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie.

32 Hy is dan glo die Messias, die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons sien en glo!” Selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.

Jesus sterf en ’n Romeinse

offisier verklaar dat Hy die Seun

33 Om twaalfuur het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur daardie middag.

34 Dit was toe dat Jesus baie hard uitgeskreeu het:“Eloï, Eloï, lemá sabagtani?”As ’n mens dit vertaal, beteken dit: “My God, my God, hoekom het U My verlaat?”

35 Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep die profeet Elia.

36 Toe hardloop iemand, maak ’n spons vol suur wyn, sit dit op ’n riet en gee dit vir Hom om te drink. Hy sê toe: “Wag, kom ons kyk of Elia hom kom afhaal!”

37 Maar Jesus het hard uitgeroep en sy laaste asem uitgeblaas.

38 Daarna het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder.

39 Toe die Romeinse offisier oor honderd wat reg voor Hom gestaan het, Jesus só sien sterf, was sy woorde: “Waarlikwaar, hierdie man was die Seun van God!”

40 Daar was ook vroue wat alles op ’n afstand dopgehou het, onder andere Maria Magdalena, Maria – die ma van Jakobus junior en Joses – en Salome.

41 Hulle was volgelinge van Jesus en het vir Hom gesorg toe Hy in Galilea was. Baie ander vroue wat saam met Jesus Jerusalem toe gekom het, was ook daar.

Jesus se liggaam in ’n geëerde

raadslid se graf

42 Dit alles het gebeur op die Vrydag, die dag van die voorbereiding vir die Sabbat. Omdat dit reeds amper aand was,

43 het Josef van Arimatea, ’n geëerde raadslid, ’n man wat self verlang het na die begin van God se koningsheerskappy, moed bymekaargeskraap om na Pilatus toe te gaan en te vra of hy Jesus se liggaam kon kry.

44 Pilatus kon nie glo dat Jesus al dood was nie. Hy laat toe die offisier roep en vra hom of Jesus al lankal gesterf het.

45 Toe die offisier dit bevestig, het Pilatus Jesus se liggaam goedgunstiglik vir Josef gegee.

46 Josef het ’n lang strook linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en in ’n graf neergelê wat in die rots uitgekap was. Toe het hy ’n klip voor die ingang van die graf gerol.

47 Maria Magdalena en Maria, die ma van Joses, het gestaan en toekyk waar Jesus neergelê word.

MARKUS 16

Jesus word opgewek!

1 Die volgende aand, toe die Sabbat verby was, het Maria Magdalena en Maria, Jakobus se ma, en Salome aromatiese olie gaan koop om Jesus se liggaam daarmee te behandel.

2 Baie vroeg Sondagmôre, net toe die son opkom, kom hulle by die graf aan.

3 Op pad soontoe het hulle nog onder mekaar gewonder wie die klip voor die ingang van die graf vir hulle sou wegrol.

4 Maar toe hulle daar aankom en opkyk, sien hulle dat die klip – dit was ’n baie groot een – reeds weggerol was.

5 Hulle gaan toe in die graf in en daar op die regterkant sien hulle ’n jong man in wit klere sit. Hulle was heeltemal verskrik.

6 Hy sê toe vir hulle: “Moenie so skrik nie. Julle soek vir Jesus van Nasaret, die Een wat gekruisig is. Hy is nie hier nie. Hy is opgewek uit die dood! Kyk, hier is die plek waar hulle sy liggaam neergelê het.

7 Maar gaan sê julle vir sy dissipels, Petrus ingesluit: Hy gaan julle solank vooruit na Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien soos Hy vir julle gesê het.”

8 Die vroue het toe van die graf af weggevlug, want hulle was vol vrees en ontsteltenis. Hulle het egter vir niemand iets gesê nie, want hulle was bang.

[Korter slot]

Maar die vroue het hierdie opdragte kortliks aan Petrus en dié by hom vertel.

Hierna het Jesus hulle self van die ooste tot die weste uitgestuur met die heilige en onfeilbare boodskap wat ewige verlossing skenk. Amen.

[Langer slot]

9 Dit was vroeg die Sondagmôre wat Jesus uit die dood opgestaan het. Hy het eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy sewe duiwels gedryf het.

10 Sy het dit toe gaan vertel aan die dissipels wat besig was om te rou en te huil.

11 Maar toe hulle hoor dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, wou hulle haar nie glo nie.

12 Daarna het Hy in ’n ander gedaante aan twee van hulle verskyn wat van Jerusalem op pad was na die platteland.

13 Hulle het toe teruggegaan en dit vir die ander dissipels vertel, maar dié het selfs vir hulle nie geglo nie.

14 Nog later het Hy aan die elftal self verskyn terwyl hulle besig was om saam te eet. Hy het hulle aangespreek oor hulle ongeloof – hulle koppige onwilligheid om dié te glo wat Hom ná sy opstanding gesien het.

15 Toe het Hy hulle beveel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die Goeie Nuus aan almal, oral.

16 Elkeen wat glo en gedoop word, sal verlos word. Maar elkeen wat nie glo nie, sal veroordeel word.

17 Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo: Hulle sal duiwels in my Naam uitdryf, en hulle sal in nuwe tale praat.

18 Hulle sal slange ongedeerd kan hanteer en as hulle iets giftigs drink, sal dit hulle nie affekteer nie. Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word.”

19 Nadat die Here Jesus klaar met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy op die ereplek aan God se regterhand gaan sit.

20 Die dissipels het toe die Goeie Nuus oral gaan verkondig, en die Here het saam met hulle gewerk en hulle boodskap bevestig deur die wondertekens wat daarmee gepaardgegaan het.

LUKAS 1

1 ’n Noukeurig nagevorste

verhaal

Hooggeagte Teofilus:

Baie mense het probeer om ’n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons gebeur het.

2 Hulle het as inligtingsbron die verhale gebruik wat die eerste ooggetuies en dienaars van die Woord aan ons oorgelewer het.

3 Nadat ek al hierdie verhale van voor af noukeurig ondersoek het, het ek besluit om ’n getroue samevatting daarvan vir u neer te skryf.

4 Dit is om u te verseker van die betroubaarheid van alles wat u geleer is.

Johannes die Doper se geboorte

aangekondig

5 Dit het alles begin by ’n Joodse priester, Sagaria, gedurende die tyd toe Herodes koning van Judea was. Hy was lid van die diensgroep van Abia. Sy vrou, Elisabet, het ook uit die priesterlyn van Aäron afgestam.

6 Sagaria en Elisabet het reg gelewe voor God: hulle het al die Here se bevele en voorskrifte nagekom.

7 Hulle het nie kinders gehad nie omdat Elisabet onvrugbaar was en hulle albei al oud was.

8 Eendag was Sagaria besig om God in die tempel te dien, want sy diensgroep was dié week aan diens.

9 Volgens die gewoonte van priesters is hy deur die lot aangewys om die heiligdom in te gaan en wierook op die altaar te brand.

10 Terwyl die wierook gebrand het, het ’n groot skare buite gestaan en bid.

11 Terwyl Sagaria in die heiligdom was, verskyn ’n engel van die Here aan hom, regs van die wierookaltaar.

12 Sagaria het hom lam geskrik toe hy die engel sien.

13 Maar die engel sê: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want God het jou gebed gehoor en jou vrou, Elisabet, sal vir jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.

14 Julle sal vreugde en jubelende blydskap hê en baie mense sal saam met julle bly wees oor sy geboorte,

15 want hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy moet nooit aan wyn of sterk drank raak nie en hy sal nog voor sy geboorte met die Heilige Gees vervul wees.

16 Hy sal baie Israeliete oortuig om om te draai na die Here hulle God toe.

17 Hy sal die gees en krag hê van Elia, die profeet van ouds, om voor die Here uit te gaan, om pa’s met hulle kinders te versoen, om ongehoorsames op die regte pad te bring en om só vir die koms van die Here ’n volk gereed te maak.”

18 Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek weet dat dié dinge gaan gebeur? Ek is al ’n ou man en my vrou is ook al op gevorderde leeftyd.”

19 Toe sê die engel: “Ek is Gabriël. Ek staan in God se eie teenwoordigheid. Hy het my gestuur om die goeie nuus aan jou te bring!

20 En omdat jy nie geglo het wat ek sê nie, sal jy nie kan praat nie, totdat die kind gebore is. Want my woorde sal op die bestemde tyd beslis waar word.”

21 Intussen het die mense vir Sagaria gewag om uit te kom, en hulle het begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly.

22 Toe hy uiteindelik uit die tempel kom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle het afgelei dat hy ’n gesig in die tempel gesien het. Hy het aanmekaar vir hulle beduie en stom gebly.

23 Hy het by die tempel gebly totdat sy diensbeurt om was, en toe is hy huis toe.

24 Kort daarna het sy vrou, Elisabet, swanger geword en sy het vir vyf maande in afsondering gegaan.

25 “Hoe goed is die Here!” het sy uitgeroep. “Hy het die skande van my kinderloosheid van my af weggevat!”

Die Seun van God se geboorte

aangekondig

26 Toe Elisabet ses maande swanger was, het God die engel Gabriël na Nasaret, ’n dorp in Galilea, gestuur

27 na ’n jong meisie met die naam Maria. Sy was verloof aan ’n man met die naam Josef, ’n afstammeling van koning Dawid.

28 Gabriël het aan haar verskyn en gesê: “Ek groet jou, geseënde vrou! Die Here is met jou!”

29 Verward en ontsteld het Maria gewonder wat die engel se begroeting kon beteken.

30 “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën!

31 Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem.

32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee.

33 Hy sal vir ewig oor Israel regeer; en sy koningsheerskappy sal nooit eindig nie!”

34 Maria het vir die engel gevra: “Maar hoe kan ek ’n kind hê? Ek was nog nooit by ’n man nie.”

35 Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word.

36 Meer nog, jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword! Mense het altyd gesê sy is onvrugbaar, maar sy is al in haar sesde maand,

37 want niks is onmoontlik vir God nie.”

38 Maria het geantwoord: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.”

Toe het die engel weggegaan.

Maria en Elisabet deel in

mekaar se blydskap

39 ’n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek, na die dorp waar Sagaria gewoon het.

40 Sy is die huis in en het vir Elisabet gegroet.

41 Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul.

42 Sy het met ’n harde stem teenoor Maria uitgeroep: “Jy is bo alle ander vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd.

43 Wat ’n eer is dit dat die ma van my Here my besoek!

44 Toe jy ingekom en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor!

45 Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het.”

Maria se loflied

46 Maria het geantwoord:

“Ek prys die Here.

47 Ek juig in God my Verlosser!

48 Want Hy het omgesien

na sy nederige diensmeisie,

en nou sal geslag na geslag

my geseënd noem.

49 Want Hy, die magtige Een,

het groot dinge vir my gedoen.

Heilig is sy Naam!

50 Sy ontferming strek

van geslag tot geslag

oor almal wat Hom eer.

51 Sy kragtige arm

doen geweldige dinge!

Hy verstrooi die trotse

en hooghartige mense!

52 Hy het prinse onttroon

en nederiges verhef.

53 Hy het dié wat gebrek ly,

met goeie dinge versadig,

en die rykes

met leë hande weggestuur.

54 Hy het sy dienaar Israel gehelp!

Hy het nie sy belofte vergeet

om ontferming te bewys nie.

55 Want Hy het ons voorvaders

beloof

– vir Abraham en sy kinders –

om vir altyd goed te wees

teenoor hulle.”

56 Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en toe is sy huis toe.

Hy moet Johannes genoem word

57 Toe die tyd aangebreek het vir Elisabet se kind om gebore te word, het sy ’n seun in die wêreld gebring.

58 Die nuus het vinnig onder haar bure en familie versprei dat die Here Hom oor haar ontferm het en almal was saam met haar bly.

59 Toe die kindjie agt dae oud was, het al die familie en vriende bymekaargekom vir sy besnydenis. Hulle wou hom Sagaria noem, na sy pa.

60 Maar Elisabet het gesê: “Nee! Sy naam is Johannes!”

61 “Maar daar is dan niemand in jou familie met die naam nie,” het hulle gesê.

62 Met gebare vra hulle toe die kindjie se pa.

63 Daarop beduie hy dat ’n skryfbordjie gebring moet word, en tot almal se verbasing skryf hy: “Sy naam is Johannes!”

64 Hy kon dadelik weer praat, en hy het God onmiddellik begin prys.

65 Die hele buurt is met ontsag vervul en die nuus oor wat gebeur het, het oral deur die Judese heuwelland versprei.

66 Almal wat daarvan gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal eendag van hierdie kindjie word?” Want die hand van die Here was duidelik op hom.

Sagaria juig oor die koms van

die Verlosser

67 Sy pa, Sagaria, is hierna met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:

68 “Prys die Here,

die God van Israel,

want Hy het sy volk opgesoek

en hulle gered.

69 Hy het vir ons

’n magtige Redder gestuur

uit die koninklike geslag

van sy dienaar Dawid,

70 soos Hy lank gelede

deur sy heilige profete

beloof het.

71 Nou sal ons van ons vyande

gered word

en van almal wat ons haat.

72 Hy was genadig

teenoor ons voorvaders

en Hy het sy heilige verbond

met hulle onthou,

73 die eed wat Hy teenoor Abraham

ons voorvader gesweer het

dat Hy sou sorg dat ons,

74 gered van ons vyande,

Hom sonder vrees kan dien

75 in toewyding en geregtigheid

vir altyd.

76 En jy, kindjie,

sal ’n profeet

van die Allerhoogste

genoem word,

want jy sal die pad

van die Here voorberei.

77 Jy sal sy volk vertel

hoe om verlos te word:

deurdat hulle sonde

vergewe word.

78 Vanweë God

se tere ontferming

is die lig van die hemel

op die punt om oor ons te skyn,

79 om lig te bring aan hulle

wat in donkerheid

en die skaduwee

van die dood lewe,

en om ons te lei

op die pad van vrede.”

80 Johannes het groot en sterk geword in die Gees. Hy het in die woestyn gewoon totdat hy sy bediening onder Israel begin het.

LUKAS 2

Die Verlosser word in Betlehem

gebore

1 Gedurende daardie tyd het die Romeinse keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n sensus deur die hele Romeinse Ryk gehou moes word.

2 Dit was die eerste sensus wat gehou is toe Sirenius goewerneur van Sirië was.

3 Almal het teruggegaan na hulle eie dorpe om vir die sensus te registreer.

4 En omdat Josef ’n afstammeling van koning Dawid was, moes hy vanaf die dorp Nasaret in Galilea na Judea gaan, na Betlehem, Dawid se tuisdorp.

5 Hy het sy verloofde, Maria, wat swanger was, saamgeneem om te gaan registreer.

6 Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word.

7 Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

’n Engel van die Here verras die

skaapwagters in die veld

8 Daardie nag was daar skaapwagters wat in die veld buite die dorpie hulle skape opgepas het.

9 Skielik het ’n engel van die Here aan hulle verskyn en die glans van die Here het om hulle geskyn. Hulle het vreeslik bang geword,

10 maar die engel het hulle gerusgestel: “Moenie bang wees nie!” het hy gesê. “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou!

11 Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem, die tuisdorp van Dawid, gebore!

12 En dit is hoe julle Hom sal herken: Julle sal ’n Kindjie vind wat in ’n krip lê en in doeke toegedraai is!”

13 Skielik was daar saam met die engel ’n groot menigte ander engele, ’n leërskare uit die hemel, wat God prys:

14 “Eer aan God in die hoogste

hemel,

en vrede op aarde

vir almal in wie Hy

’n welbehae het.”

15 Toe die engele teruggegaan het na die hemel, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan Betlehem toe om te sien watter wonderlike ding gebeur het, soos die Here dit aan ons bekendgemaak het.”

16 Hulle het toe na die dorp toe gehardloop en vir Maria en Josef gekry, en die Kindjie wat in die krip lê.

17 Toe het die skaapwagters vir almal gaan vertel wat gebeur het, en wat die engel vir hulle oor die Kindjie gesê het.

18 Almal wat die skaapwagters se verhaal gehoor het, was verbaas,

19 maar Maria het stilweg hierdie dinge in haar hart bewaar en dikwels daaroor nagedink.

20 Die skaapwagters het teruggegaan na die veld en hulle kuddes terwyl hulle God loof en prys oor wat die engele vir hulle vertel het, en omdat hulle die Kind gesien het, net soos die engel gesê het.

Jesus word aan die Here gewy

21 Agt dae later, toe die tyd aangebreek het om die kindjie te besny, is Hy Jesus genoem. Dit is die naam wat die engel nog voordat Hy verwek is aan Hom gegee het.

22 Daarna was dit tyd vir die reinigingsoffer, soos die wet van Moses ná die geboorte van ’n kind vereis het; daarom het sy ouers Hom na Jerusalem toe gevat om Hom aan die Here te wy.

23 Die wet van die Here sê: “As ’n vrou se eerste kind ’n seun is, moet hy aan die Here gewy word.”

24 Hulle het ’n offer gebring volgens wat die wet van die Here vereis het: “óf ’n paar tortelduiwe óf twee jong duiwe.”

Simeon sien die Gesalfde van

die Here

25 Daar was ’n man met die naam Simeon wat in Jerusalem gewoon het. Hy was wetsgetrou en baie toegewyd. Hy was met die Heilige Gees vervul en het gretig uitgesien na Israel se bevryding.

26 Die Heilige Gees het aan hom bekendgemaak dat hy nie sou sterf voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie.

27 Daardie dag het die Gees hom na die tempel toe gelei. Toe Maria en Josef opdaag om die Kindjie Jesus aan die Here te wy, soos die wet vereis het,

28 was Simeon daar. Hy het die Kind in sy arms geneem en God geprys:

29 “Here, nou kan u dienskneg

in vrede sterf

soos U my beloof het,

30 want ek het die verlossing gesien

31 wat U voorberei het

voor die oë van alle volke,

32 ’n lig om God aan die nasies

bekend te maak,

en die glorie van u volk Israel!”

33 Josef en Maria was verbaas oor wat van Jesus gesê is.

34 Toe het Simeon hulle geseën en vir Maria gesê: “Hierdie Kind is bestem tot ’n val en opstanding van baie in Israel, en ’n teken wat weerspreek sal word. Hy sal ’n teken wees waaroor mense sal verskil.

35 So sal die diepste gedagtes van baie harte bekend word. Maar wat jou betref – daar sal ’n swaard deur jou siel gaan.”

Die profetes Anna is oorstelp

oor die koms van die beloofde

36 Anna, ’n profetes, was ook daar in die tempel. Sy was die dogter van Fanuel uit die stam van Aser, en sy was baie oud. Sy was ’n weduwee; haar man is oorlede toe hulle nog maar net sewe jaar getroud was.

37 Sy was nou 84 jaar oud. Sy was nooit weg van die tempel af nie en het dag en nag daar gebly en God gedien met vas en gebed.

38 Sy het daar aangekom net toe Simeon met Maria en Josef gepraat het, en sy het God begin prys. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat verlang het na die bevryding van Jerusalem.

39 Toe Jesus se ouers al die vereistes van die wet van die Here nagekom het, het hulle teruggekeer na hulle dorp, Nasaret in Galilea.

40 Daar het die Kindjie sterk en gesond grootgeword. Hy was vervul met wysheid, en God se guns was op Hom.

Die twaalfjarige Jesus praat met

die skrifkenners

41 Elke jaar het Jesus se ouers Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees.

42 Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle soos gewoonlik die fees bygewoon.

43 Ná die feesviering het hulle na Nasaret vertrek, maar Jesus het in Jerusalem agtergebly sonder dat sy ouers daarvan geweet het.

44 Sy ouers het Hom eers nie vermis nie omdat hulle gedink het Hy was by ander vriende in die reisgeselskap. Maar toe Hy die aand nog nie sy opwagting gemaak het nie, het hulle by familie en vriende na Hom begin soek.

45 Toe hulle Hom nie kon kry nie, is hulle terug na Jerusalem om daar na Hom te soek.

46 Drie dae later het hulle Hom uiteindelik gekry. Hy het in die tempel tussen die leermeesters gesit terwyl Hy na hulle luister en hulle uitvra.

47 Almal wat na Hom geluister het, was verbaas oor sy insig en antwoorde.

48 Toe sy ouers Hom sien, het hulle nie geweet wat om daarvan te dink nie. “Kind,” het sy ma vir Hom gesê, “waarom het jy so met ons gemaak? Ek en jou pa het rasend van bekommernis na jou gesoek!”

49 “Maar hoekom was dit nodig om te soek?” het Hy gevra. “Julle moes geweet het Ek sou in my Vader se huis wees.”

50 Maar hulle het nie verstaan wat Hy bedoel nie.

51 Hy is toe saam met hulle terug na Nasaret en was gehoorsaam aan hulle. Sy ma het al hierdie dinge in haar hart bewaar.

52 En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het.

LUKAS 3

Johannes die Doper – ’n stem

wat roep in die woestyn

1 Dit was nou die vyftiende regeringsjaar van Tiberius, die Romeinse keiser. Pilatus was goewerneur in Judea, Herodes Antipas was heerser in Galilea, sy broer Filippus was heerser oor Iturea en Tragonitis, en Lisanias was heerser oor Abilene.

2 Annas en Kajafas was die hoofpriesters.

In dié tyd het ’n boodskap van God gekom na Johannes, seun van Sagaria, wat in die woestyn gebly het.

3 Johannes het van plek tot plek aan albei kante van die Jordaanrivier beweeg en gepreek dat mense gedoop moes word om te wys dat hulle tot inkeer gekom het, en so vergifnis van sonde ontvang het.

4 Jesaja het van Johannes gepraat toe hy gesê het:

“Hy is ’n stem wat uitroep

in die woestyn:

‘Kry die Here se pad gereed.

Maak vir Hom ’n hoofweg.

5 Vul die valleie op,

en maak die berge en heuwels

gelyk!

Maak die krom paaie reguit,

en maak die ruwe plekke gelyk!

6 En al die mense sal die verlossing

sien

wat van God kom.’”

7 Hier is ’n voorbeeld van Johannes se prediking aan die skares wat gekom het om gedoop te word: “Julle broeisel slange! Wie het julle gewaarsku om God se komende oordeel te ontvlug?

8 Bewys deur julle lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het. Moenie eers daaraan dink om te sê: ‘Ons is veilig – ons is afstammelinge van Abraham’ nie. God kan hierdie klippe in kinders van Abraham verander.

9 Die byl van God se oordeel is reeds gereed om julle wortels af te kap. Ja, elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, sal afgekap en in die vuur gegooi word.”

10 Die skare het gevra: “Wat moet ons dan doen?”

11 Johannes het geantwoord: “As jy twee kledingstukke het, gee een vir die armes. As jy kos het, deel dit met hulle wat honger is.”

12 Selfs tollenaars het gekom om gedoop te word en gevra: “Leermeester, wat moet ons doen?”

13 “Wys julle eerlikheid,” het hy geantwoord. “Maak seker dat julle nie méér belasting invorder as wat vereis word nie.”

14 “Wat moet óns doen?” het die soldate gevra.

Johannes het geantwoord: “Moenie geld afpers nie, en moet niemand afdreig of vals beskuldig nie. En wees tevrede met julle salaris.”

15 Almal het verwag dat die Messias gou sou kom en hulle was gretig om te weet of dit dalk Johannes is.

16 Hy het hulle vrae beantwoord deur te sê: “Ek doop met water, maar Iemand wat groter is as ek, kom binnekort – Iemand soveel groter dat ek nie eens werd is om sy slaaf te wees nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

17 “Hy is gereed om met sy gaffel die kaf van die koring te skei. Hy sal dan die dorsvloer skoonmaak en die graan in sy skuur bêre en die kaf met onblusbare vuur verbrand.”

18 Johannes het baie sulke waarskuwings gebruik in sy verkondiging van die Goeie Nuus aan die mense.

19 Johannes het ook vir Herodes Antipas, heerser van Galilea, openlik aangespreek omdat hy Herodias, sy broer se vrou, gevat het, en ook oor baie ander verkeerde dinge wat hy gedoen het.

20 Daarop het Herodes vir Johannes in die tronk gegooi, en dié sonde by al sy ander sondes gevoeg.

Die openbare bekendstelling van

Jesus se bediening: sy doop

21 Eendag toe die skares gedoop word, is Jesus self ook gedoop. Terwyl Hy bid, het die hemel oopgegaan,

22 en die Heilige Gees het fisies soos ’n duif op Hom neergedaal. En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.”

Jesus se geslagsregister,

teruggevoer tot by Adam

23 Jesus was omtrent 30 jaar oud toe Hy met sy bediening begin het.

Hy was bekend as die seun van

Josef.

Josef was die seun van Eli.

24 Eli die seun van Mattat,

Mattat die seun van Levi,

Levi die seun van Melgi,

Melgi die seun van Jannai,

Jannai die seun van Josef,

25 Josef die seun van Mattatias,

Mattatias die seun van Amos,

Amos die seun van Nahum,

Nahum die seun van Hesli,

Hesli die seun van Naggai,

26 Naggai die seun van Mahat,

Mahat die seun van Mattatias,

Mattatias die seun van Semeïn,

Semeïn die seun van Josek,

Josek die seun van Joda,

27 Joda die seun van Johanan,

Johanan die seun van Resa,

Resa die seun van Serubbabel,

Serubbabel die seun van Sealtiël,

Sealtiël die seun van Neri,

28 Neri die seun van Melgi,

Melgi die seun van Addi,

Addi die seun van Kosam,

Kosam die seun van Elmadam,

Elmadam die seun van Er,

29 Er die seun van Josua,

Josua die seun van Eliëser,

Eliëser die seun van Jorim,

Jorim die seun van Mattat,

Mattat die seun van Levi,

30 Levi die seun van Simeon,

Simeon die seun van Juda,

Juda die seun van Josef,

Josef die seun van Jonam,

Jonam die seun van Eljakim,

31 Eljakim die seun van Melea,

Melea die seun van Menna,

Menna die seun van Mattata,

Mattata die seun van Natan,

Natan die seun van Dawid,

32 Dawid die seun van Isai,

Isai die seun van Obed,

Obed die seun van Boas,

Boas die seun van Sala,

Sala die seun van Nagson,

33 Nagson die seun van

Amminadab,

Amminadab die seun van Admin,

Admin die seun van Arni,

Arni die seun van Gesron,

Gesron die seun van Peres,

Peres die seun van Juda,

34 Juda die seun van Jakob,

Jakob die seun van Isak,

Isak die seun van Abraham,

Abraham die seun van Tera,

Tera die seun van Nahor,

35 Nahor die seun van Serug,

Serug die seun van Rehu,

Rehu die seun van Peleg,

Peleg die seun van Heber,

Heber die seun van Sala,

36 Sala die seun van Kenan,

Kenan die seun van Arpagsad,

Arpagsad die seun van Sem,

Sem die seun van Noag,

Noag die seun van Lameg,

37 Lameg die seun van Metusalag,

Metusalag die seun van Henog,

Henog die seun van Jered,

Jered die seun van Mahalalel,

Mahalalel die seun van Kenan,

38 Kenan die seun van Enos,

Enos die seun van Set,

Set die seun van Adam,

Adam die seun van God.

LUKAS 4

Die Seun van God word versoek

1 Jesus het vol van die Heilige Gees die Jordaanrivier verlaat. Hy is deur die Gees na die woestyn toe gelei,

2 waar die duiwel Hom vir 40 dae lank versoek het. Hy het die hele tyd niks geëet nie en aan die einde daarvan was Hy baie honger.

3 Die duiwel het toe vir Hom gesê: “As jy die Seun van God is, verander hierdie klip in ’n brood.”

4 Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee! Die Skrif sê: ‘’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe.’”

5 Daarna het die duiwel Hom na ’n hoogte geneem en in ’n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys.

6 Die duiwel het vir Hom gesê: “Ek sal vir jou die glorie en die mag oor al hierdie koninkryke gee, want hulle is myne om vir enigeen te gee vir wie ek wil.

7 Ek sal dit vir jou gee as jy neerbuig en my aanbid.”

8 Jesus het geantwoord: “Die Skrif sê:

‘Jy moet die Here jou God aanbid

en Hom alleen dien.’”

9 Toe het die duiwel Hom na Jerusalem geneem, na die hoogste punt van die tempel, en gesê: “As jy die Seun van God is, spring hier af!

10 Want die Skrif sê:

‘God sal aan sy engele

opdrag gee

om jou te beskerm.

11 “En:

‘hulle sal jou

op die hande dra

sodat jy nie dalk jou voet

teen ’n klip stamp nie.’”

12 Jesus het hom geantwoord: “Die Skrif sê ook: ‘Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’”

13 Toe die duiwel Jesus klaar versoek het, het hy Hom verlaat tot die volgende geleentheid.

Jesus se tuisdorp verwerp Hom

14 Hierna het Jesus, gevul met die krag van die Heilige Gees, na Galilea teruggegaan. Hy het deur die hele omgewing bekend geword.

15 Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.

16 Toe Hy kom in sy tuisdorp Nasaret waar Hy grootgeword het, het Hy soos gewoonlik op die Sabbat na die sinagoge gegaan en opgestaan om die Skrif te lees.

17 Die boekrol wat Jesaja die profeet bevat, is aan Hom gegee en Hy het dit oopgerol tot by die plek waar dit sê:

18 “Die Gees van die Here is op My

omdat Hy My aangestel het

om die Goeie Nuus

vir die armes aan te kondig.

Hy het My gestuur om aan te

kondig

dat gevangenes vrygelaat sal

word,

dat blindes sal sien,

dat onderdruktes bevry sal word

van hulle verdrukkers,

19 en dat die tyd van die Here

se goedheid gekom het.”

20 Hy het die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge het stip na Hom gekyk.

21 Toe sê Hy: “Hierdie Skrif is vandag bewaarheid onderwyl julle daarna geluister het!”

22 Almal wat daar was, het goed van Hom gepraat en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. “Hoe is dit moontlik?” het hulle gevra. “Is hy dan nie Josef se seun nie?”

23 Toe het Jesus gesê: “Miskien sal julle die spreekwoord vir My aanhaal: ‘Geneesheer, genees jouself’ met die bedoeling: ‘Waarom doen jy nie hier in jou tuisdorp die wonderwerke wat jy in Kapernaum gedoen het nie?’

24 Maar die waarheid is, ’n profeet word nie in sy tuisdorp aanvaar nie.

25 “Daar was sekerlik baie weduwees in Israel wat hulp nodig gehad het in Elia se tyd toe dit drie en ’n half jaar nie gereën het nie en hongersnood in die land geheers het.

26 Tog is Elia nie na enige van hulle gestuur nie, maar wel na ’n weduwee in Sarfat – ’n vreemdeling in die gebied van Sidon.

27 Of dink aan die profeet Elisa wat Naäman die Siriër genees het, eerder as die baie mense in Israel wat aan ernstige velsiektes gely het.”

28 Toe die mense in die sinagoge dít hoor, was hulle woedend.

29 Hulle het opgespring, Hom omsingel en Hom uit die dorp geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was.

Hulle wou Hom oor die krans stoot,

30 maar Hy het tussen die skare deurgeglip en weggegaan.

Jesus maak ’n duiwelbesetene in

Kapernaum gesond

31 Jesus is toe na Kapernaum, ’n dorp in Galilea, en het die mense elke Sabbatdag daar in die sinagoge geleer.

32 Die mense daar was ook verbaas oor die dinge wat Hy gesê het, want Hy het met gesag gepraat.

33 Op ’n dag toe Hy in die sinagoge was, het ’n man in wie daar die gees van ’n onrein demoon was, begin skree:

34 “Gaan weg! Waarom pla jy ons, Jesus van Nasaret? Het jy gekom om ons te vernietig? Ek weet wie jy is: Die Heilige wat deur God gestuur is!”

35 Jesus het hom kortgevat. “Bly stil!” het Hy vir die duiwel gesê. “Kom uit die man uit!” Die duiwel het die man daar voor almal op die vloer gegooi; toe het die duiwel uit hom gegaan sonder om hom verder seer te maak.

36 Die mense het verbaas uitgeroep: “Watter gesag en mag het hierdie man se woorde nie! Selfs bose geeste gehoorsaam hom en vlug op sy bevel!”

37 Die berig oor wat Jesus gedoen het, het soos ’n veldbrand deur die hele streek versprei.

Jesus maak Petrus se skoonma

en baie ander siekes gesond

38 Nadat Hy die sinagoge verlaat het, is Jesus na Simon se huis waar Simon se skoonma baie siek met ’n hoë koors was. “Maak haar asseblief gesond,” het almal gesmeek.

39 Hy het by haar bed gaan staan, die koors bestraf, en sy het dadelik gesond geword. Sy het onmiddellik opgestaan en ’n maaltyd vir hulle voorberei.

40 Met sononder daardie dag het almal hulle siekes na Jesus toe gebring. Ongeag watter siektes hulle gehad het, Jesus het hulle aangeraak en almal genees.

41 Sommige was van duiwels besete en die duiwels het op sy bevel uitgekom terwyl hulle skree: “U is die Seun van God.” Maar omdat hulle geweet het dat Hy die Messias is, het Hy hulle tereggewys en verbied om daaroor te praat.

Jesus preek in die sinagoge

42 Vroeg die volgende môre het Jesus na ’n verlate plek vertrek. Die skares het oral na Hom gesoek, en toe hulle Hom uiteindelik kry, het hulle Hom gesmeek om hulle nie te verlaat nie.

43 Maar Hy het geantwoord: “Ek moet die Goeie Nuus van die koningsheerskappy van God in ander plekke ook verkondig, want dit is waarvoor Ek gestuur is.”

44 Hy het dus voortgegaan om in die Joodse sinagoges te preek.

LUKAS 5

Jesus roep sy eerste dissipels

1 Eendag was Jesus op die strand van die See van Galilea besig om te preek, en groot menigtes het na Hom toe gebeur om na die woord van God te luister.

2 Hy het twee leë skuite aan die waterkant gesien waar vissermanne dit gelos het om hulle nette te was.

3 Jesus het in een van die skuite geklim en die eienaar, Simon, gevra om dit ’n entjie in die water te stoot. Hy het in die boot gaan sit en die skares van daar af geleer.

4 Toe Hy klaar gepraat het, het Hy vir Simon gesê: “Vaar nou dieper in en gooi julle nette uit om te vang.”

5 “Meneer,” het Simon geantwoord, “ons het die hele nag hard gewerk en het niks gevang nie. Maar as u so sê, sal ons weer probeer.”

6 En hierdie keer was hulle nette so vol dat dit begin skeur het!

7 Hulle het hul maats in die ander skuit geroep om te kom help en gou was albei skuite so vol vis dat dit amper gesink het.

8 Toe Simon Petrus besef wat gebeur het, val hy op sy knieë voor Jesus en sê: “Here, gaan asseblief weg van my af – ek is ’n te groot sondaar.”

9 Want hy was verbyster deur die groot visvangs, net soos die ander by hom.

10 Sy kollegas, Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, was net so verbaas.

Jesus het vir Simon geantwoord: “Moenie bang wees nie! Van nou af sal jy mense vang!”

11 En toe hulle aan wal kom, het hulle alles net so laat lê en Jesus gevolg.

Jesus genees ’n man met ’n

ernstige velsiekte

12 In een van die dorpe het Jesus ’n man met ’n gevorderde velsiekte raakgeloop. Toe die man Jesus sien, het hy diep voor Hom neergebuig en gesmeek om genees te word. “Here,” het hy gesê, “as U wil, kan U my gesond maak.”

13 Jesus het sy hand uitgesteek en die man aangeraak. “Ek wil,” het Hy gesê. “Word gesond!” En net daar het sy velsiekte verdwyn.

14 Toe het Jesus hom beveel om niemand te vertel wat gebeur het nie. “Gaan reguit na die priester toe en laat hy jou ondersoek. Vat die offer saam wat deur die wet van Moses vereis word vir iemand wat van so ’n velsiekte gereinig is sodat almal die bewys van jou genesing kan sien.”

15 Tog, ten spyte van Jesus se bevele, het die berig oor sy mag selfs vinniger versprei en groot skares het gekom om Hom te hoor preek en van hulle siektes genees te word.

16 Maar Jesus het Hom gereeld in ’n verlate plek afgesonder om te bid.

Jesus genees ’n verlamde man

17 Eendag terwyl Jesus besig was om mense te leer, het sommige Fariseërs en leermeesters van die wet van Moses daar naby gesit. Hulle het gekom uit elke dorpie van Galilea en Judea, en ook so ver as Jerusalem. En die Here se genesende krag was sterk in Jesus aan die werk.

18 ’n Paar mans het daar aangekom terwyl hulle ’n verlamde man op ’n slaapmat dra. Hulle het deur die skare probeer dring om by Jesus uit te kom,

19 maar hulle kon nie daarin slaag nie. Hulle het dus op die dak geklim, ’n paar teëls losgemaak en die verlamde man deur die opening laat sak, tussen die mense in, tot reg voor Jesus.

20 Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die man: “Mens, jou sondes is vergewe.”

21 “Wie dink hierdie man is hy?” het die skrifkenners en Fariseërs vir mekaar gevra. “Dit is godslasterlik! Wie behalwe God kan sondes vergewe?”

22 Jesus het geweet wat hulle dink, en vra toe vir hulle: “Wat redeneer julle so by julleself?

23 Wat is makliker om te sê: ‘Jou sondes is vergewe’ of ‘staan op en loop’?

24 Ek sal vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die mag het om op aarde sondes te vergewe.” Jesus draai toe na die verlamde man en sê: “Ek sê vir jou, staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.”

25 En dadelik, terwyl almal nog toekyk, het die man opgespring, sy slaapmat opgetel en huis toe gegaan terwyl hy God prys.

26 Almal is aangegryp met groot verwondering en eerbiedige vrees. Hulle het God geprys en oor en oor gesê: “Ons het vandag verstommende dinge gesien!”

Jesus roep Levi die tollenaar tot

dissipel

27 Later, toe Jesus die dorp verlaat, het Hy ’n tollenaar met die naam Levi by sy tolhokkie sien sit. “Kom, word my dissipel!” het Jesus vir hom gesê.

28 Levi het opgestaan, alles net so gelos en Jesus gevolg.

29 Kort daarna het Levi ’n feesmaal in sy huis aangebied met Jesus as die eregas. Baie van Levi se medetollenaars en ander gaste was daar.

30 Maar die Fariseërs en skrifkenners wat aan die Fariseërparty behoort, het by Jesus se dissipels gaan kla: “Waarom eet en drink julle saam met sulke immorele karakters?”

31 Jesus het hulle geantwoord: “Gesonde mense het nie ’n dokter nodig nie – siek mense wel.

32 Ek het gekom om sondaars te roep om tot inkeer te kom, nie om my tyd te verwyl met hulle wat dink dat hulle reeds goed genoeg is nie.”

Die nuwe en die oue

33 Die godsdienstige leiers sê toe vir Jesus: “Johannes die Doper se dissipels vas en bid gereeld en so ook die dissipels van die Fariseërs. Hoekom vier jou dissipels altyd fees?”

34 Jesus het gevra: “Vas huweliksgaste dan terwyl hulle saam met die bruidegom feesvier?

35 Eendag sal die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas.”

36 Toe het Jesus vir hulle ’n gelykenis vertel om sy punt te illustreer: “Niemand skeur tog ’n stuk materiaal van ’n nuwe kledingstuk af en lap ’n ou kledingstuk daarmee nie. Want dan sal die nuwe kledingstuk geskeur word en boonop sal die nuwe lap nie eens by die ou kledingstuk pas nie.

37 En niemand gooi nuwe wyn in ou wynsakke nie. Die nuwe wyn sal die ou wynsakke laat bars en die wyn uitstort en die wynsakke vernietig.

38 Nuwe wyn moet in nuwe wynsakke gegooi word.

39 Maar niemand wat die ou wyn drink, wil blykbaar die nuwe wyn hê nie. ‘Die oue is beter,’ sê hulle.”

LUKAS 6

Jesus neem ferm standpunt in

oor die Sabbat

1 Een Sabbatdag toe Jesus deur graanlande loop, het sy dissipels koringare afgebreek, dit in hulle hande uitgevryf en die koringkorrels geëet.

2 Maar sommige Fariseërs het gesê: “Julle moenie dit doen nie! Dis teen die wet om op die Sabbat te werk en graan te oes.”

3 Jesus het geantwoord: “Het julle nooit in die Skrif gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manskappe honger was nie?

4 Hy het selfs in die huis van God ingegaan en die offerbrood wat vir die priesters alleen bedoel was, geëet en daarvan vir sy manskappe gegee. Daardeur is die wet mos ook verbreek.

5 “En,” voeg Jesus by, “Ek, die Seun van die Mens, is Here oor die Sabbat.”

Jesus genees op die Sabbat ’n

man met ’n misvormde hand

6 Op ’n ander Sabbatdag was daar ’n man met ’n gebreklike regterhand in die sinagoge terwyl Jesus die mense geleer het.

7 Die skrifkenners en Fariseërs het Jesus fyn dopgehou om te sien of Jesus die man op die Sabbat sou genees, want hulle was gretig om ’n klag teen Hom te lê.

8 Maar Jesus het geweet wat hulle dink. Hy sê toe vir die man met die misvormde hand: “Kom staan hier waar almal jou kan sien.” Die man het toe vorentoe gegaan.

9 Toe sê Jesus vir sy kritici: “Ek het ’n vraag om aan julle te stel. Is dit wetlik reg om goeie dade op die Sabbat te doen, of is dit ’n dag om kwaad te doen? Is hierdie ’n dag om lewens te red of om dit te vernietig?”

10 Hy het hulle almal in die rondte aangekyk en sê toe vir die man: “Steek jou hand uit.” Die man het sy hand uitgesteek en dit het weer normaal geword!

11 Hieroor was Jesus se vyande buite hulleself van woede en het onder mekaar bly redeneer oor wat om met Hom te doen.

Twaalf van Jesus se dissipels

word as apostels gekies

12 Eendag kort hierna het Jesus na ’n berg gegaan om te bid, en Hy het die hele nag in gebed deurgebring.

13 Teen dagbreek het Hy al sy dissipels bymekaargeroep en twaalf van hulle gekies om apostels te wees. Hier is hulle name:

14 Simon (Hy het hom ook Petrus

genoem),

Andreas (Petrus se broer),

Jakobus,

Johannes,

Filippus,

Bartolomeus,

15 Matteus,

Tomas,

Jakobus (seun van Alfeus),

Simon (die Yweraar),

16 Judas (seun van Jakobus),

Judas Iskariot (wat Hom later

uitgelewer het).

Vanuit alle oorde kom die

skares om te sien en te luister

17 Toe hulle teen die berghang afgekom het, het die dissipels saam met Jesus op ’n groot gelykte gaan staan, omring deur baie ander volgelinge en die skares. Daar was mense van oral oor Judea en Jerusalem en so ver noord as die kusgebied van Tirus en Sidon.

18 Hulle het gekom om na Hom te luister en om genees te word, en Jesus het baie bose geeste uitgedryf.

19 Almal het aan Hom probeer raak, want genesende krag het van Hom uitgegaan, en hulle is almal genees.

Gelukkig is hulle wat arm,

honger en gehaat is

20 Jesus het na sy dissipels gekyk en gesê:

“Gelukkig is julle wat arm is,

want die koninkryk van God

is júlle deel.

21 Gelukkig is julle wat nou

honger is,

want julle sal versadig word.

Gelukkig is julle wat nou huil,

want die tyd sal kom

dat julle van blydskap sal lag.

22 Gelukkig is julle wanneer

die mense

julle haat,

en wanneer hulle julle uitsluit

en beskimp

en julle naam deur die modder

sleep

ter wille van My,

die Seun van die Mens.

23 “Wanneer dit gebeur, verheug julle! Ja, spring rond van vreugde! Want ’n groot beloning wag vir julle in die hemel. Onthou, die profete van vroeër is net so deur julle voorvaders behandel.”

Oppas vir kortstondige en

tydelike rykdom, voorspoed en

24 “Ellende wag op julle wat nou

ryk is,

want julle het julle enigste geluk

reeds nou.

25 Ellende wag op julle

wat nou versadig

en voorspoedig is,

want vir julle kom daar ’n tyd

van ontsettende hongersnood.

Ellende wag op julle

wat sorgeloos lag,

want julle gelag

sal in rou en treur verander.

26 Ellende wag op julle

wat deur die skares

geprys word,

want hulle voorvaders

het ook die vals profete

geprys.”

Wees lief vir jou vyand!

27 “Maar as julle gewillig is om te luister, sê Ek julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan dié wat julle haat.

28 Seën dié wat julle vervloek. Bid vir hulle wat julle seermaak.

29 As iemand jou op die wang klap, draai ook die ander wang. As iemand jou bo-kleed vra, bied ook jou onderkleed aan.

30 Gee wat jy het aan enigiemand wat dit van jou vra; en as iets van jou weggeneem word, moenie dit probeer terugkry nie.

31 Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen.

32 “Dink julle julle is verdienstelik as julle net dié liefhet wat vir julle lief is? Selfs die sondaars doen dit!

33 En as julle net goeddoen aan dié wat aan julle goeddoen, is dit dan so wonderlik? Die sondaars doen dit tog ook.

34 En as julle geld leen net aan dié wat julle kan terugbetaal, is dit iets besonders? Selfs sondaars leen aan sondaars om die volle bedrag terug te kry.

35 “Nee, julle moet ook julle výande liefhê! Doen goed aan hulle! Leen aan hulle! En moenie bekommerd wees dat hulle julle dalk nie kan terugbetaal nie. Dan sal julle beloning in die hemel baie groot wees, en julle sal werklik optree as kinders van die Allerhoogste, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes.

36 Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.”

Vergewe eerder en laat staan jou

kritiek

37 “Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word.

38 As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang.”

39 Jesus het toe die volgende voorbeeld gebruik: “Hoe kan ’n blinde persoon ’n ander blinde lei? Die eerste sal in ’n sloot val en die ander een saam aftrek.

40 ’n Leerling is nie belangriker as sy leermeester nie. Maar die leerling wat hard werk, sal net soos sy leermeester word.

41 “En waarom sien jy die splinter in jou vriend se oog raak en sien nie die yslike stomp in jou eie oog nie?

42 Hoe kan jy dan vir jou vriend sê: ‘Vriend, laat ek jou help om die splinter uit jou oog te kry,’ terwyl jy nie verby die stomp in jou eie oog kan sien nie? Skynheilige! Raak eers ontslae van die stomp in jou eie oog, dan sal jy goed genoeg kan sien om die splinter uit jou vriend se oog te haal.”

’n Boom word aan sy vrugte geken

43 “’n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie.

44 ’n Boom word geken aan die soort vrugte wat hy dra. Vye groei tog nie aan doringbosse, of druiwe aan braambosse nie.

45 ’n Goeie mens bring goeie dade voort uit ’n goeie hart, en ’n slegte mens bring slegte dade voort uit ’n bose hart. Wat ook al in jou hart leef, bepaal wat jy sê.”

Die twee soorte huise

46 “Waarom noem julle My dan ‘Here’ as julle My nie gehoorsaam nie?

47 Ek sal aan julle verduidelik hoe dit is wanneer iemand na My toe kom, na my onderrig luister en My gehoorsaam.

48 Dis soos ’n man wat ’n huis bou op ’n sterk fondament wat op ’n rotsbasis gelê is. Wanneer die vloedwater styg en die huis tref, staan dit stewig, want dit is goed gebou.

49 Maar enigeen wat luister en nie gehoorsaam nie, is soos ’n man wat ’n huis sonder fondament bou. Wanneer die vloedwater teen daardie huis aanbruis, sal dit tot ’n puinhoop inmekaarstort.”

LUKAS 7

Die geloof van ’n Romeinse

offisier

1 Toe Jesus al die dinge klaar gesê het, het Hy na Kapernaum toe teruggegaan.

2 ’n Romeinse offisier oor honderd het ’n slaaf gehad wat siek en sterwend was. Die slaaf was vir hom baie werd.

3 Die offisier het van Jesus te hore gekom en ’n paar gerespekteerde Joodse leiers na Hom gestuur om te vra dat Hy die slaaf gesond sal kom maak.

4 Hulle het ernstig by Jesus aangedring om saam met hulle te kom en die man te help. “As enigiemand u hulp verdien, dan is dit hý,” het hulle gesê,

5 “want hy het die Jode lief en het selfs ’n sinagoge vir ons gebou.”

6 Jesus het dus saam met hulle gegaan. Maar net voordat hulle by die huis aangekom het, het die offisier ’n paar vriende gestuur om te sê: “Here, moenie moeite doen om na my huis toe te kom nie, want ek verdien nie so ’n eer nie.

7 Ek is nie eers waardig om U te kom ontmoet nie. Sê maar net ’n woord, en my slaaf sal gesond word.

8 Ek weet, want ek staan onder die gesag van my bevelvoerende offisiere, en ek voer gesag oor my soldate. Ek hoef net te sê: ‘Gaan,’ en hulle gaan: of ‘Kom,’ en hulle kom. En as ek vir my slawe sê: ‘Doen dit of dat,’ dan doen hulle dit.”

9 Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom oor die man verwonder. Hy draai toe om na die skare wat Hom volg, en sê: “Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek nie só ’n geloof teëgekom nie!”

10 En toe die offisier se vriende by die huis terugkom, was die slaaf heeltemal gesond.

Jesus wek ’n weduwee se enigste

seun en steunpilaar op

11 Kort hierna het Jesus en sy dissipels na die dorp Nain gegaan met ’n groot skare wat Hom volg.

12 Toe Jesus die dorpsingang nader, het ’n begrafnisstoet uitgekom. Die jong man wat gesterf het, was die enigste seun van ’n weduwee, en baie rouklaers van die dorp was saam met haar.

13 Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry. “Moenie huil nie!” het Hy gesê.

14 Toe het Hy na die draagbaar toe geloop en daaraan geraak, en die draers het gaan staan. “Jong man,” het Hy gesê, “Ek sê vir jou, staan op!”

15 Toe het die dooie regop gesit en met die mense om hom begin praat! En Jesus het hom aan sy ma teruggegee.

16 Groot vrees het die skare oorweldig – hulle het God geprys en gesê: “’n Magtige profeet het onder ons opgestaan!” en: “God het besluit om na sy mense om te sien!”

17 Die berig oor wat Jesus die dag gedoen het, het deur die hele Judea en selfs oor die grense heen versprei.

Johannes vra of Jesus werklik

die Messias is

18 Johannes die Doper se dissipels het hom alles vertel wat Jesus gedoen het. Johannes het dus twee van sy dissipels geroep

19 en hulle na die Here toe gestuur om te vra: “Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?”

20 Johannes die Doper se twee dissipels het Jesus gekry en vir Hom gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om te vra: ‘Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?’”

21 Op daardie oomblik het Jesus baie mense van verskeie siektes genees, en Hy het bose geeste uitgewerp en blindes se sig herstel.

22 Hy het vir Johannes se dissipels gesê: “Gaan terug na Johannes, en vertel hom wat julle gesien en gehoor het – blindes sien, verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word genees, dowes hoor, dooies word tot die lewe opgewek, en die Goeie Nuus word aan die armes verkondig.

23 En sê vir hom: ‘Gelukkig is hulle wat nie aan My aanstoot neem nie.’”

24 Nadat hulle weg is, het Jesus met die skare oor Johannes gepraat. “Wie is hierdie man in die woestyn na wie julle gaan kyk het? Het julle hom soos ’n riet gevind wat deur elke windvlagie beweeg word?

25 Of het julle verwag om ’n man geklee in deftige klere te sien? Nee, mense wat mooi klere dra en in luuksheid lewe, word in paleise gevind, nie in die woestyn nie.

26 Het julle na ’n profeet gesoek? Ja, en hy is meer as ’n profeet.

27 Johannes is die man na wie die Skrif verwys wanneer dit sê:

‘Kyk, Ek stuur my boodskapper

voor jou uit,

en hy sal die pad voor jou

gereedmaak.’

28 “Ek sê vir julle, van almal wat ooit geleef het, is niemand groter as Johannes nie. Tog is selfs die geringste persoon in die koninkryk van God groter as hy!”

29 Toe hulle dit hoor, het al die mense, ook die tollenaars, saamgestem dat God se plan reg was, want hulle is deur Johannes gedoop.

30 Maar die Fariseërs en wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, want hulle het geweier om deur Johannes gedoop te word.

31 “Hoe sal Ek hierdie geslag mense beskryf?” het Jesus gevra. “Waarmee sal Ek hulle vergelyk?

32 Hulle is soos ’n groep kinders wat ’n spel op die dorpsplein speel. Hulle kla teenoor hulle vriende:

‘Ons het vir julle

’n bruilofslied gespeel,

maar julle

wou nie dans nie.

Ons het ’n begrafnislied gesing,

maar julle het geweier

om te huil.’

33 “Want Johannes die Doper het soos ’n askeet gelewe – nie wyn gedrink nie en dikwels gevas – en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’

34 “En Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink – en julle sê: ‘Hy is ’n vraat en ’n dronkaard, en ’n vriend van die slegste soort sondaars!’

35 Maar die wysheid kom tot sy reg in die lewe van hulle wat dit navolg.”

’n Sondige vrou salf Jesus se

voete

36 Een van die Fariseërs het Jesus na sy huis genooi vir ’n maaltyd, en Jesus het dit aanvaar en aangelê om te eet.

37 En kyk, ’n sekere vrou van losse sedes het gehoor dat Hy daar is en het ’n albaste fles met duur aromatiese olie gebring.

38 Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval en sy het dit met haar hare afgevee. Sy het sy voete bly soen en die aromatiese olie daaraan gesmeer.

39 Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: “Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ’n sondaar!”

40 Jesus het toe gereageer en vir Simon geantwoord. “Simon,” het Hy vir die Fariseër gesê, “Ek het iets om vir jou te sê.”

“Reg, Meneer,” het Simon geantwoord, “sê maar.”

41 Jesus vertel hom toe die volgende verhaal: “’n Man het vir twee mense geld geleen – 500 rand vir die een, en 50 vir die ander.

42 Maar nie een van die twee kon hom terugbetaal nie; hy het dus maar al twee oorgesien en hulle skuld afgeskryf. Wie dink jy het hom daarna die meeste liefde bewys?”

43 Simon het geantwoord: “Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste skuld afgeskryf het.”

“Dis reg,” het Jesus gesê.

44 Hy het toe na die vrou gedraai en vir Simon gesê: “Kyk na hierdie vrou. Toe Ek jou huis ingekom het, het jy My nie water aangebied om die stof van my voete af te was nie, maar sy het hulle met haar trane gewas en met haar hare afgedroog.

45 Jy het My nie met ’n soen verwelkom nie, maar sy het my voete weer en weer gesoen vandat Ek hier ingekom het.

46 Jy het nie my kop met gewone olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met kosbare olie gesalf.

47 Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, omdat sy baie liefde aan My bewys het. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!”

48 Toe sê Jesus vir die vrou: “Jou sondes is vergewe.”

49 Die mans aan tafel sê toe onder mekaar: “Wie dink hierdie man is hy om rond te gaan en sondes te vergewe?”

50 En Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.”

LUKAS 8

Vrouedissipels van Jesus

1 Nie lank hierna nie het Jesus begin met ’n reis deur al die dorpe en kleiner plekkies om die Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God bekend te maak. Hy het sy twaalf dissipels saamgeneem,

2 asook ’n paar vroue wat Hy gesond gemaak het en uit wie Hy bose geeste gedryf het. Onder hulle was Maria Magdalena uit wie Hy sewe bose geeste gedryf het,

3 Johanna, die vrou van Gusa, Herodes se sakebestuurder, Susanna en baie ander wat uit hulle eie middele bygedra het om Jesus en sy dissipels te onderhou.

Die gelykenis van die boer en sy

saad

4 Eendag het Jesus hierdie gelykenis vertel aan ’n groot skare wat uit baie dorpe gekom het om na Hom te luister:

5 “’n Boer het uitgegaan om saad te saai. Terwyl hy dit oor die land gestrooi het, het ’n deel op ’n voetpad geval waarop getrap word en die voëls het dit kom eet.

6 ’n Ander deel het in vlak grond op ’n klipbank geval. Hierdie saad het begin groei, maar het gou verlep en verdroog omdat daar nie vog was nie.

7 Nog ’n deel het geval waar dorings opgeskiet en die nuwe blare versmoor het.

8 En ’n ander deel het in vrugbare grond geval. Hierdie saad het gegroei en het ’n oes gelewer 100 maal soveel as wat geplant is.” Toe Hy dit sê, roep Hy uit: “Enigeen wat wil hoor, moet luister en verstaan!”

9 Sy dissipels het Hom gevra wat die gelykenis beteken.

10 Hy het geantwoord: “God het dit aan julle gegee om die geheime van sy koningsheerskappy te verstaan. Maar vir buitestanders is die gelykenisse raaisels, sodat dit waar word wat die Skrif sê:

‘Hulle sien wat Ek doen,

maar eintlik sien hulle nie;

hulle hoor wat Ek sê,

maar hulle verstaan nie.’

11 “Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is God se boodskap.

12 Die saad wat op die harde pad geval het, is die mense wat die boodskap hoor, maar dan kom die duiwel en steel dit en verhoed hulle om te glo en verlos te word.

13 “Die klipperige grond is mense wat die boodskap met blydskap aanhoor. Maar soos jong plantjies in sulke grond het hulle nie diep wortels nie. Hulle glo wel vir ’n rukkie, maar hulle verlep wanneer die warm winde van beproewing waai.

14 “Die saad tussen die onkruid is mense wat die boodskap hoor en ook aanvaar, maar tog te gou word dit verdring deur die sorge en rykdom en plesiere van hierdie lewe. En só groei hulle nooit tot volwassenheid nie.

15 “Maar die saad wat in goeie grond val, is mense met ’n goeie en opregte hart wat God se boodskap hoor, daaraan vashou en konstant ’n groot oes oplewer.”

Wat geheim is, sal bekend word

16 “Niemand steek ’n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder ’n bed nie. Nee, lampe word op ’n lampstaander geplaas waar mense wat ’n huis binnekom, dit kan sien.

17 Want alles wat weggesteek is, sal sigbaar word en alles wat geheim is, sal uiteindelik aan die lig kom vir almal om te sien.

18 Gee daarom aandag aan wat jy hoor. Aan dié wat hulle oopstel vir my lering, sal groter begrip gegee word. Maar dié wat nie luister nie, van hulle sal selfs dit wat hulle dink hulle het, weggeneem word.”

Die nuwe geestelike gesinslede

van Jesus

19 Eenkeer toe Jesus se ma en broers gekom het om Hom te besoek, kon hulle vanweë die skare nie by Hom uitkom nie.

20 Iemand het vir Jesus gesê: “U ma en broers is hier buite en wil U graag sien.”

21 Jesus het geantwoord: “My ma en broers is al die mense wat die boodskap van God hoor en dit gehoorsaam.”

Jesus kalmeer ’n storm

22 Eendag het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons vaar oor na die ander kant van die meer.” Hulle het in ’n skuit geklim en begin oorvaar.

23 Op pad oorkant toe het Jesus gaan lê om te slaap, en terwyl Hy slaap, het die wind begin opsteek. ’n Hewige storm het losgebars wat hulle wou laat ondergaan. Hulle was in lewensgevaar.

24 Die dissipels het Hom wakker geskud en geskree: “Leermeester, ons is besig om onder te gaan!”

Jesus het die siedende wind en golwe bestraf. Die storm het bedaar en alles was weer kalm.

25 Toe vra Hy vir hulle: “Waar is julle geloof?”

En hulle was vervul met ontsag en verbasing. Hulle het vir mekaar gesê: “Wie is hierdie Man tog dat Hy selfs die wind en die golwe opdrag gee en hulle Hom gehoorsaam?”

Jesus genees ’n duiwelbesete

man

26 Hulle het toe in die land van die Geraseners aangekom, aan die oorkant van die See van Galilea.

27 Terwyl Jesus uit die skuit klim, het ’n man wat van duiwels besete was en vroeër in die plaaslike dorp gewoon het, na Hom toe gekom. Hy was kaal en het nie ’n huis gehad nie; hy het vir ’n lang tyd in ’n begraafplaas gebly.

28 Net toe hy Jesus sien, het hy gegil en op die grond voor Hom geval en geskreeu: “Waarom steur U my, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Asseblief, ek smeek U, moet my nie martel nie!”

29 Want Jesus het alreeds die bose gees beveel om hom te verlaat. Die gees het hom dikwels beetgepak. Selfs al was hy met kettings geboei, het hy dit eenvoudig gebreek en in die woestyn ingehardloop, heeltemal in die mag van die bose gees.

30 “Wat is jou naam?” het Jesus gevra.

“Legio,” het hy geantwoord, want hy was van baie bose geeste besete.

31 Die bose geeste het Jesus aanhou smeek om hulle nie na die onderaardse diepte te stuur nie.

32 ’n Groot trop varke het teen die berghang daar naby gewei, en die bose geeste het gesmeek om in die varke in te vaar. Jesus het hulle toegelaat.

33 Die bose geeste het toe uit die man uitgekom en in die varke gevaar, en die hele trop het teen die hang afgestorm die see in en versuip.

34 Toe die wagters dit sien, het hulle na die dorp daar naby en sy omliggende gebiede gehardloop en die nuus versprei so ver hulle gehardloop het.

35 Daar het gou ’n skare rondom Jesus vergader, want hulle wou self sien wat gebeur het. Hulle het die man wat voorheen van duiwels besete was, by Jesus se voete sien sit, geklee en by sy volle verstand; en die hele skare het bang geword.

36 Toe het die mense wat gesien het wat gebeur het, die ander vertel hoe die duiwelbesete man genees is.

37 En al die mense in daardie omgewing het Jesus gesmeek om weg te gaan en hulle uit te los, want groot vrees het hulle beetgepak.

Jesus het toe in die skuit geklim en na die oorkant van die meer teruggekeer.

38 Die man wat van duiwels besete was, het gesoebat om ook saam te gaan, maar Jesus het gesê:

39 “Nee, gaan terug na jou familie toe en vertel vir hulle al die wonderlike dinge wat God vir jou gedoen het.”

Hy het toe deur die hele dorp loop en vertel watter groot ding Jesus vir hom gedoen het.

Jesus maak ’n vrou gesond wat

aan chroniese bloeding ly, en

40 By sy terugkeer het die skares Jesus met ope arms ontvang omdat hulle vir Hom gewag het.

41 ’n Man met die naam Jaïrus, ’n leier van die plaaslike sinagoge, het gekom en voor Jesus se voete neergeval en Hom gesoebat om saam met hom na sy huis te gaan.

42 Sy enigste kind, ’n dogter van twaalf, was sterwend.

Terwyl Jesus saam met hom gegaan het, is Hy deur skares omring.

43 Daar was ’n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan chroniese bloeding gely het. Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie.

44 Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop.

45 “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra.

Almal het dit ontken, en Petrus het gesê: “Meneer, die hele skare stoot en druk voortdurend teen U.”

46 Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, iemand het My opsetlik aangeraak, want Ek het genesende krag uit My voel vloei.”

47 Toe die vrou besef dat Jesus weet, het sy begin bewe en op haar knieë voor Hom neergeval. Die hele skare het haar hoor vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.

48 “Dogter,” het Hy vir haar gesê, “jou geloof het jou genees. Gaan in vrede.”

49 Terwyl Hy nog met haar praat, het ’n boodskapper van Jaïrus se huis af gekom met die nuus: “Jou dogter is dood. Dis nie meer nodig om die Leermeester te pla nie.”

50 Maar toe Jesus hoor wat gebeur het, sê Hy vir Jaïrus: “Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar.”

51 Toe hulle by die huis aankom, wou Jesus niemand saam met Hom laat ingaan nie, behalwe Petrus, Jakobus en Johannes, en die dogtertjie se pa en ma.

52 Die huis was vol mense wat gehuil en getreur het, maar Jesus sê: “Hou op huil! Sy is nie dood nie; sy slaap net.”

53 Die skare het Hom uitgelag, want almal het geweet sy is dood.

54 Jesus vat haar toe aan die hand en sê hardop: “Staan op, my kind!”

55 En op daardie oomblik het die lewe in haar teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan! Jesus vra hulle toe om haar iets te ete te gee.

56 Haar ouers was oorstelp, maar Jesus het daarop aangedring dat hulle niemand vertel wat gebeur het nie.