MARKUS 5

Jesus genees iemand met baie

bose geeste

1 Hulle het toe oorkant die see in die gebied van die Geraseners aangekom.

2 Net toe Jesus uit die skuit klim, het ’n man met ’n onrein gees Hom van die begraafplaas af tegemoetgehardloop.

3 Hy het tussen die grafte gebly. Hy kon op geen manier beheer word nie – selfs nie met ’n ketting nie.

4 Hy is dikwels met voet- en handboeie vasgemaak; dan het hy die handboeie oopgeforseer en die voetboeie uitmekaargeruk. Gevolglik kon net mooi niemand hom beheer nie.

5 Die hele tyd, dag en nag, was hy tussen die grafte en op die hoogtes aan die skree terwyl hy homself met klippe stukkend kap.

6 Hy het Jesus van ver af raakgesien. Toe hardloop hy nader en val voor Hom neer.

7 Hy het met ’n harde stem geskreeu: “Los my uit, Jesus, Seun van God die Allerhoogste! In Godsnaam, moenie my seermaak nie!”

8 (Die rede hiervoor was dat Jesus alreeds vir hom gesê het: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”)

9 Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?”

“My naam is Legio,” antwoord hy, “want ons is baie.”

10 Daarna het die onrein geeste Jesus gesmeek om hulle nie heeltemal landuit te stuur nie.

11 Teen die heuwel was daar ’n groot trop varke aan die wei.

12 Die onrein geeste smeek Hom toe: “Stuur ons in die varke in. Laat ons in hulle invaar.”

13 Jesus het hulle dit toegelaat. Die onrein geeste het uit die man gegaan en in die varke in. Die trop van omtrent 2 000 hardloop toe teen die skuinste af die see in, waar hulle versuip het.

14 Hulle wagters het weggehardloop en die nuus in die dorp en op die plase gaan vertel. Daarop het die mense gekom om self te sien wat gebeur het.

15 Toe hulle by Jesus kom en die man wat die menigte bose geeste gehad het daar sien sit, behoorlik aangetrek en by sy volle positiewe, was hulle verskrik.

16 Die mense wat dit gesien het, vertel toe vir hulle wat met die besetene en die varke gebeur het.

17 Hulle het vir Jesus gesoebat om uit hulle omgewing weg te gaan.

18 Toe Jesus weer terug was in die skuit, het die man wat voorheen besete was, Hom gesmeek om saam met Hom te mag gaan.

19 Jesus het egter vir hom gesê: “Nee, gaan huis toe na jou mense toe. Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het, en hoe goed Hy vir jou was.”

20 Hy het wyd en syd in die Tien Stede-gebied gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. En almal was verwonderd oor wat hy aan hulle vertel het.

Jesus verwag dat mense Hom

vir genesing sal vertrou

21 Daarna het Jesus weer per skuit die see oorgesteek. Daar het ’n groot skare op die strand om Hom saamgedrom.

22 ’n Leier van die plaaslike sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe na Hom toe. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer

23 en pleit ernstig by Hom: “My dogtertjie is op haar laaste. Kom sit tog u hande op haar sodat sy gesond kan word en bly lewe.”

24 Jesus het toe saam met hom gegaan. ’n Groot klomp mense het agter Hom aangekom en teen Hom saamgedrom.

25 Daar was ’n vrou onder hulle wat vir twaalf jaar aan bloedvloeiing gely het.

26 Sy het baie swaargekry onder die baie dokters wat haar behandel het, en om haar dokterskostes te dek het sy alles bestee wat sy gehad het. Tog het sy niks beter geword nie, maar eerder agteruitgegaan.

27 Toe sy van Jesus hoor, het sy deur die skare gebeur en van agter aan sy klere geraak.

28 Sy het gedink: “As ek net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.”

29 Die bloeding het dadelik gestop en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy gesond is.

30 Jesus het dadelik agtergekom dat daar genesingskrag van Hom uitgegaan het. Daarom het Hy so tussen die baie mense omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31 Sy dissipels protesteer toe: “U sien tog hoe die massa U verdring. Hoe kan U vra: ‘Wie het aan my klere geraak?’”

32 Maar Jesus het bly rondkyk om te sien wie dit gedoen het.

33 Onder die besef van wat met haar gebeur het, het die vrou, bewend van angs, voor Hom kom neerval en vir Hom alles openhartig vertel.

34 Hy het vir haar gesê: “My dogter, omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword. Gaan in vrede en wees vir altyd genees van jou kwaal.”

35 Terwyl Hy nog besig was om met haar te praat, kom daar boodskappers van Jaïrus se huis af met die boodskap: “Jou dogter is dood. Dit sal nie help om die leermeester langer lastig te val nie.”

36 Jesus het die boodskap egter gehoor en vir Jaïrus gesê: “Moet jou nie ontstel nie; vertrou net.”

37 Jesus het die menigte gestop en niemand toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en sy broer Johannes.

38 Toe hulle by die huis van die leier van die sinagoge aankom, sien Jesus die hele gedoente van mense wat huil en klaagkrete laat hoor.

39 Hy gaan toe in die huis in en sê vir die mense: “Waarom lawaai en huil julle so? Die kind is nie dood nie; sy slaap net.”

40 Die klomp het Hom uitgelag. Maar Hy het almal buitentoe gestuur. Toe vat Hy die kindjie se pa en ma en die drie dissipels na die vertrek waar sy lê.

41 Terwyl Hy haar hand vat, sê Hy vir die kind: “Dogtertjie, staan op!”

42 Onmiddellik het die dogtertjie op haar voete gekom en begin rondstap – sy was immers al twaalf jaar oud. Haar ouers was absoluut in ekstase.

43 Maar Jesus het hulle opdrag gegee om dit heeltemal stil te hou en vir haar iets te ete te gee.

MARKUS 6

Sy eie dorp se mense wil niks

van Jesus weet nie

1 Jesus het uit daardie omgewing vertrek en met sy dissipels in Nasaret aangekom waar Hy grootgeword het.

2 Op die Sabbat het Hy in die sinagoge met onderrig begin. Baie van sy toehoorders was heeltemal uit die veld geslaan. Hulle het gevra: “Waarvandaan kry hy al hierdie dinge – hierdie besondere wysheid en die buitengewone krag om sulke wonders te verrig?

3 Hy is tog maar net ’n blote timmerman, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon! En sy susters woon dan hier onder ons!” Hulle het ernstig aanstoot geneem aan sy optrede.

4 Toe sê Jesus vir hulle: “’n Profeet word oral geëer behalwe in sy tuisdorp en deur sy familie en sy huisgesin.”

5 Vanweë hulle vyandigheid kon Hy daar in Nasaret geen besondere wonder verrig nie, behalwe dat Hy sy hande op ’n paar siekes gesit en hulle gesond gemaak het.

6 Hy was absoluut verstom oor hulle ongeloof.

Jesus stuur sy twaalf dissipels

op ’n sending uit

Jesus het toe in die omliggende dorpies rondgegaan en die mense onderrig.

7 Hy het sy twaalf dissipels nadergeroep en hulle twee-twee uitgestuur. Hy het ook aan hulle die gesag gegee om bose geeste uit te dryf.

8 Verder het Hy aan hulle opdrag gegee om niks behalwe ’n kierie saam te neem nie – geen kos, geen rugsak, geen geld nie.

9 Hulle kon wel sandale aantrek, maar moes klaarkom met die klere aan hulle lyf.

10 Verder het Hy vir hulle gesê: “Wanneer julle in ’n bepaalde dorp in ’n huis ontvang word, bly in daardie huis totdat julle weer daarvandaan vertrek.

11 Maar as ’n plek julle nie wil ontvang of na julle wil luister nie, skud sy stof van julle voete af wanneer julle weggaan. Dit sal dien as teken dat julle daardie plek aan sy lot oorlaat.”

12 Hulle het gaan verkondig dat die mense tot inkeer moet kom.

13 Hulle het ook baie duiwels uitgedryf en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.

Johannes die Doper word deur

Herodes vermoor

14 Herodes Antipas, die koning, het ook van Jesus gehoor, want almal het van Hom gepraat. Party het gesê: “Hy moet Johannes die Doper wees wat uit die dood opgestaan het. Dit verklaar waarom Hy sulke wonderwerke kan doen.”

15 Ander het weer gesê dat Hy Elia is; nog ander dat Hy ’n profeet is en soos een van die groot profete uit die verlede optree.

16 Toe Herodes egter daarvan hoor, het hy verklaar: “Johannes, die einste man wat ek onthoof het, het uit die dood teruggekom.”

17 Herodes het voorheen, as ’n guns vir Herodias, soldate gestuur en Johannes laat arresteer en in die tronk opgesluit. Sy was na regte die vrou van sy broer Filippus, maar Herodes het haar as sy vrou gevat.

18 Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is onwettig van u om u broer se vrou te vat.”

19 Om hierdie rede het Herodias ’n wrok teen Johannes gekoester. Sy wou hom uit die weg ruim, maar sonder Herodes se toestemming was sy magteloos.

20 Herodes het baie ontsag vir Johannes gehad, want hy het besef dat hy ’n goeie en ’n heilige man is. Hy het hom beskerm en graag na hom geluister, al het Johannes se woorde hom dikwels ongemaklik laat voel.

21 Herodias se kans het uiteindelik gekom toe Herodes op sy verjaarsdag ’n geselligheid vir sy amptenare en die weermagoffisiere en die hoëlui van Galilea gereël het.

22 Sy dogter, wie se naam ook Herodias was, het in die feessaal ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en al die gaste gevind. “Vra my enigiets wat jy graag wil hê,” het Herodes vir die meisie gesê, “en ek sal dit vir jou gee.”

23 Hy het herhaaldelik gesweer: “Ek sal enigiets wat jy van my vra vir jou gee, selfs tot die helfte van my koninkryk!”

24 Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gaan vra: “Waarvoor moet ek vra?” Daarna het haar ma gesê: “Vra vir die kop van Johannes die Doper!”

25 Sy is dadelik na die koning toe en het hom gevra: “Ek wil dadelik die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord hê.”

26 Die koning was baie ontsteld hieroor, maar omdat hy nie sy eed wou verbreek nie – dit boonop nog voor sulke belangrike gaste – wou hy die meisie nie weier nie.

27 Hy het toe maar dadelik ’n soldaat gestuur met die opdrag om Johannes se kop te bring. Dié het Johannes toe in die tronk gaan onthoof

28 en sy kop op ’n skinkbord gebring en vir die meisie kom gee. Sy het dit toe weer vir haar ma gegee.

29 Toe Johannes se dissipels hiervan hoor, het hulle sy liggaam kom haal en dit begrawe.

Jesus gee vir meer as vyfduisend

mense kos

30 Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het.

31 Omdat daar voortdurend talle mense gekom en gegaan het sodat hulle selfs nie kans gekry het om te eet nie, het Jesus toe vir hulle gesê: “Kom julle nou self eenkant toe na ’n stil plek en skep ’n bietjie asem.”

32 Hulle het toe per skuit na ’n stil plek vertrek waar hulle alleen kon wees.

33 Maar baie mense het hulle sien vertrek en agtergekom waarheen hulle op pad was. Hulle het toe te voet van al die dorpe daarheen aangehardloop gekom en Jesus en sy dissipels ingewag.

34 Toe Jesus uit die skuit klim en die groot klomp mense sien, het Hy ’n diep deernis vir hulle gevoel, want hulle was soos skape sonder ’n wagter. Daarom het Hy hulle uitvoerig begin onderrig.

35 Toe dit alreeds laatmiddag begin word, kom sê sy dissipels vir Jesus: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al.

36 Stuur die mense weg sodat hulle op die omliggende plase en in die dorpies iets kan gaan koop om te eet.”

37 Hierop antwoord Jesus: “Gee julle vir hulle kos.”

Hulle sê toe vir Hom: “Dit sal ’n yslike bedrag kos om brood te gaan koop om vir hulle te ete te gee!”

38 Hy sê toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan vind uit.”

Toe hulle dit vasgestel het, sê hulle: “Vyf brode en twee visse.”

39 Daarna sê Jesus vir die mense om groepe te vorm en op die groen gras te gaan sit.

40 Hulle het toe in groepe van 100 en 50 gaan sit.

41 Jesus het die vyf brode en die twee visse gevat, na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën. Toe breek Hy die brood en gee dit vir sy dissipels om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel.

42 Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het.

43 Later het hulle twaalf mandjies vol oorskietbrood en -vis opgetel.

44 ’n Volle 5 000 mans het van daardie vyf brode geëet!

Jesus loop op die water

45 Dadelik hierna het Jesus sy dissipels aangesê om weer in die skuit te klim en solank voor Hom uit na die oorkant, na Betsaida toe, te vaar terwyl Hy self die skare huis toe stuur.

46 Daarna het Hy alleen teen die berg op gegaan om te bid.

47 Later die nag was die skuit al ver weg die see in en Hy was alleen op die land.

48 Hy sien toe hoe swaar hulle aan die roei was, want die wind was teen hulle. Kort voor dagbreek die volgende oggend kom Jesus op die see na hulle toe aangeloop. Hy wou by hulle verbygaan.

49 Toe hulle Hom so op die see sien loop, het hulle hard begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook.

50 Hulle was almal verskrik toe hulle Hom sien. Maar Jesus het hulle dadelik gerusgestel en gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.”

51 Hy het toe by hulle in die skuit geklim en die wind het gaan lê. Hulle was baie verbaas oor wat hulle beleef het.

52 Selfs ná die broodwonder het hulle nog nie begryp wie Hy werklik was nie; daarvoor was daar nog te veel weerstand in hulle harte.

53 Hulle het die see oorgesteek en by Gennesaret geland en anker gegooi.

54 Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Jesus dadelik herken.

55 Hulle het toe in die ganse omgewing rondgehardloop en die siekes op slaapmatte begin aandra oral waar hulle gehoor het dat Hy was.

56 En waar Hy ook al gegaan het – in kleiner of groter dorpe, of op plase – het hulle die siekes by die bymekaarkomplekke neergesit en gesoebat om aan Hom te kon raak, al was dit maar net aan die rand van sy bo-kleed. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.

MARKUS 7

God se opdrag is belangriker as

enige tradisie

1 Op ’n dag het daar Fariseërs en sekere skrifkenners van Jerusalem af opgedaag om Jesus te konfronteer.

2 Hulle het agtergekom dat party van sy dissipels nie die gebruiklike Joodse ritueel gevolg het om hulle hande voor ete te was nie.

3 (In navolging van hulle voorvaderlike tradisie eet die Jode, en in besonder die Fariseërs, nie voordat hulle hulle hande deeglik gewas het nie.

4 Net so eet hulle niks wat van die mark af kom as hulle nie eers hulle hande gewas het nie. Daar is ook nog baie ander tradisies waaraan hulle vashou – dinge soos die seremoniële reiniging van drinkbekers, kruike, bakke en eetbankies.)

5 Die Fariseërs en skrifkenners vra Jesus toe: “Waarom volg jou dissipels nie die tradisie van ons voorvaders nie? Hulle eet dan sonder om vooraf hulle hande seremonieel te was.”

6 Hy het hulle geantwoord: “Julle skynheiliges! Die profeet Jesaja het dit raak gestel toe hy van julle geskryf het:

‘Hierdie volk eer My

met hulle lippe,

maar hulle hart

is ver van My af.

7 Hulle godsdiens is blote skyn,

want hulle hou menslike dogmas

voor as wette van God.’

8 “Julle ignoreer God se opdrag en hou ten koste daarvan aan menslike tradisies vas.”

9 Hy sê toe weer vir hulle: “Julle verstaan die fyn kuns om God se opdrag opsy te skuif sodat julle julle tradisie kan handhaaf!

10 Moses het byvoorbeeld vir julle hierdie opdrag van God gegee: ‘Behandel jou ouers met respek,’ en: ‘Iemand wat sy pa of ma vloek, moet doodgemaak word.’

11 Julle sê egter dit is heeltemal in orde as jy vir jou ouers sê: ‘Jammer, ek kan Pa en Ma nie help nie. Ek het alles waarmee ek vir Pa en Ma kon gehelp het, reeds aan die Here toegewy.’

12 “So veroorsaak julle dat hy sy ouers heeltemal verwaarloos

13 en verbreek julle God se opdrag ten gunste van julle tradisie. Dit is maar net een voorbeeld. Daar is baie meer.”

14 Daarna roep Jesus die skare weer na Hom toe en sê: “Julle moet almal luister en probeer verstaan wat Ek nou gaan sê.

15 Wat van buite af in jou ingaan, kan jou nie onrein maak nie; wat uit jou uitgaan, dít is wat jou onrein maak.”

17 Toe het Jesus in ’n huis ingegaan om van die skare weg te kom. Daarna vra sy dissipels Hom uit na die bedoeling van sy stelling.

18 “Verstaan julle dit nie? Begryp julle nie dat wat ’n mens eet jou nie onrein kan maak nie?

19 Kos gaan nie na jou hart nie, maar na jou maag en gaan weer uit jou liggaam uit.” (Daarmee het Jesus gewys dat ’n mens enige soort kos mag eet.)

20 En toe voeg Hy by: “Wat uit ’n mens uitgaan, dít is wat jou onrein maak.

21 Want uit jou binneste, uit jou hart, kom slegte gedagtes, soos onsedelikheid, diefstal, moord,

22 huweliksontrou, gierigheid, slegte bedoelings, skelmstreke, ongedissiplineerdheid, jaloesie, vloekery, hoogmoed en dwaasheid.

23 Al hierdie slegte dinge kom van binne af. Dít is wat jou voor God onrein maak.”

Jesus reageer positief op die

besondere geloof van ’n

24 Jesus het van Galilea noordwaarts vertrek na die omgewing van Tirus. Hy het Hom in ’n huis teruggetrek en wou dit stil hou, maar dit was onmoontlik.

25 Sommer gou het ’n vrou in wie se dogtertjie ’n onrein gees was, van Hom gehoor en voor sy voete kom neerval.

26 Sy was ’n Griekse vrou wat van Siro-Fenisië afkomstig was. Sy het Jesus aanhou smeek om die duiwel uit haar dogter te dryf.

27 Jesus sê toe vir haar: “Ek moet eers my eie mense, die Jode, help. Dis glad nie mooi om die kinders se kos weg te vat en dit vir die huishondjies te gooi nie.”

28 Waarop sy toe antwoord: “Here, die hondjies eet tog darem onder die tafel van die kinders se krummels.”

29 “Uitstekend!” het Jesus vir haar gesê. “Omdat jy My so goed geantwoord het, kan jy maar huis toe gaan. Die duiwel het jou dogter verlaat.”

30 Tuisgekom kry sy toe haar kind rustig op die bed lê, heeltemal gesond.

Jesus maak ’n dowe man gesond

31 Op pad terug van die omgewing van Tirus het Jesus oor Sidon en deur die Tien Stede-gebied na die See van Galilea gegaan.

32 Hulle bring toe ’n dowe man met ’n spraakgebrek na Hom toe en soebat Hom om sy hand op die man te sit om hom gesond te maak.

33 Jesus het hom opsy geneem, heeltemal weg van al die mense af. Toe steek Hy sy vingers in die man se ore en smeer spoeg aan sy tong.

34 Terwyl Hy na die hemel toe opkyk, sug Hy swaar en beveel toe: “Gaan oop!”

35 Oombliklik kon die man hoor en normaal praat!

36 Jesus het hulle toe opdrag gegee om dit vir niemand te vertel nie, maar hoe meer Hy by hulle daarop aangedring het, hoe meer het hulle dit oral vertel.

37 Hulle was absoluut oorweldig.

“Hy het alles so wonderlik gedoen,” het hulle gesê. “Hy maak selfs dowe en stom mense gesond!”

MARKUS 8

Jesus gee vir vierduisend mense

kos

1 Ongeveer dieselfde tyd was daar weer ’n groot menigte mense by Jesus. Omdat hulle nie kos gehad het nie, het Jesus sy dissipels nadergeroep met die woorde:

2 “Ek is baie jammer vir hierdie mense, want hulle is nou al drie dae by My en het niks om te eet nie.

3 As Ek hulle met leë mae huis toe stuur, gaan hulle langs die pad van honger doodgaan. Party van hulle kom ook nog van ver af.”

4 Sy dissipels antwoord Hom toe: “Hoe op aarde sal ons in hierdie verlate wêreld kos kry vir al hierdie mense?”

5 “Hoeveel brode het julle?” het Hy gevra. “Sewe,” was hulle antwoord.

6 Hy sê toe almal moet op die grond gaan sit. Daarop neem Jesus die sewe brode, dank God daarvoor, breek dit en gee dit aan sy dissipels, wat dit weer onder die skare uitdeel.

7 Hulle het ook ’n paar vissies gehad. Nadat Jesus die seën oor die vissies uitgespreek het, het Hy gesê dat dit ook uitgedeel moes word.

8 Hulle het geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog sewe mandjies vol opgetel.

9 Daar was omtrent 4 000 mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur.

10 Toe het Hy dadelik saam met sy dissipels in die boot geklim en die see oorgesteek na die omgewing van Dalmanuta.

Jesus weier ’n versoek vir ’n

wonderteken

11 Toe die Fariseërs hoor van Jesus se aankoms, het hulle met Hom begin argumenteer.

Om die egtheid van Jesus se aansprake te toets dring hulle toe by Hom aan op ’n goddelike wonderteken.

12 Jesus sug toe diep en sê: “Waarom wil julle mense so graag ’n wonderteken hê? Ek verseker julle, Ek gaan aan hierdie bose geslag mense geen teken gee nie.”

13 Hy het hulle toe net daar gelos, in die skuit geklim en weer na die oorkant toe vertrek.

Oppas vir die invloed van die

Fariseërs en Herodes!

14 Die dissipels het vergeet om brood te koop. Hulle het net een brood by hulle in die skuit gehad.

15 Jesus waarsku hulle toe: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en Herodes.”

16 Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood by ons het nie.”

17 Jesus het geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom argumenteer julle onder mekaar omdat julle nie brood het nie? Sal julle nooit leer of verstaan nie? Is daar nog steeds soveel weerstand in julle harte?

18 Julle het oë – kan julle dan nie sien nie? Julle het ore – kan julle dan nie hoor nie? Onthou julle dan glad nie?

19 Toe Ek die vyf brode vir die 5 000 gebreek het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?”

Hulle antwoord Hom: “Twaalf.”

20 “En toe Ek die 4 000 met sewe brode gevoed het, hoeveel mandjies vol oorskiet het julle opgetel?”

“Sewe,” het hulle geantwoord.

21 “Verstaan julle selfs nou nog nie?” het Hy hulle gevra.

Jesus maak ’n blinde man in

Betsaida gesond

22 Toe hulle in Betsaida aankom, het mense ’n blinde man na Jesus toe gebring en gesoebat dat Hy sy hand op hom moes sit en hom gesond maak.

23 Jesus neem die blinde man toe aan die hand en lei hom uit die dorpie. Toe spoeg Hy op die man se oë, sit sy hande op hom en vra vir hom: “Kan jy iets sien?”

24 Die man kyk toe op en sê: “Ja, ek sien mense, maar hulle is baie dof. Hulle lyk soos bome wat rondloop.”

25 Toe het Jesus sy hande weer ’n keer op die man se oë gesit. Sy oë het begin fokus en sy sig is volkome herstel. Hy kon nou alles duidelik sien.

26 Jesus het hom toe beveel: “Gaan reguit huis toe. Moenie indraai dorp toe nie.”

Petrus bely dat Jesus die

Messias is

27 Jesus en sy dissipels het Galilea verlaat en na die dorpies van Sesarea-Filippi gegaan. Op pad vra Hy sy dissipels toe: “Wie, sê die mense, is Ek werklik?”

28 “Wel,” antwoord hulle Hom, “party meen U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander die een of ander profeet.”

29 Hy sê vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”

Petrus antwoord: “U is die Messias.”

30 Maar Jesus het aan hulle streng opdrag gegee om dit vir niemand te vertel nie.

Jesus kondig sy komende dood

vir die eerste keer aan

31 Jesus het toe by hulle begin tuisbring dat God bepaal het dat Hy, die Seun van die Mens, baie dinge moet ly: Hy sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Hy sal doodgemaak word, maar sal ná drie dae weer opstaan.

32 Hy het dit reguit vir hulle vertel. Maar Petrus vat Hom toe eenkant toe en begin Hom ernstig bestraf.

33 Jesus het Hom egter omgedraai, na sy dissipels gekyk en vir Petrus bestraf met die woorde: “Gee pad agter My, jou satan! Jy dink soos mense dink. Jy dink nie soos God dink nie.”

34 Toe roep Jesus sy dissipels en die skare na Hom toe en sê vir hulle: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis opneem en agter My aan kom.

35 As julle probeer om julle lewe selfsugtig vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My en ter wille van die Goeie Nuus prysgee, sal julle dit juis red.

36 Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade?

37 Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie.

38 As jy jou vir My en vir my boodskap skaam te midde van vandag se ontroue en sondige mense, sal Ek, die Seun van die Mens, My ook vir jou skaam wanneer Ek terugkeer met die heilige engele, beklee met die heerlikheid van my Vader.”

MARKUS 9

1 Jesus gaan toe voort: “Ek verseker julle, party van julle wat nou hier staan, sal nog voor hulle dood sien hoe die koningsheerskappy van God op ’n magtige manier begin.”

Jesus word verheerlik

2 Ses dae later neem Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes teen ’n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. En daar, terwyl hulle na Jesus gekyk het, het sy voorkoms verander.

3 Sy klere het helder wit begin skitter – so wit soos geen aardse proses dit kan maak nie.

4 Toe verskyn Elia en Moses en hulle het met Jesus gepraat.

5 Petrus sê daarop vir Jesus: “Leermeester, dis wonderlik om hier te wees! Kom ons bou drie skuilings: vir U een, vir Moses een en een vir Elia.”

6 Eintlik het hy nie geweet wat om te sê nie, want hulle het groot geskrik.

7 Daarna het ’n wolk hulle oordek en ’n stem het uit die wolk gesê: “Hý is my Seun, die Een wat Ek liefhet. Doen wat Hy vir julle sê.”

8 Skielik, toe hulle begin rondkyk, sien hulle niemand anders meer by hulle nie, net Jesus.

9 Toe hulle van die berg af gaan, het Jesus hulle beveel: “Julle moet vir niemand vertel wat julle gesien het totdat Ek, die Seun van die Mens, uit die dood opgestaan het nie.”

10 Hulle het dit toe vir hulleself gehou, maar hulle het onder mekaar bly redekawel oor wat hierdie “opstaan uit die dood” waarvan Jesus praat, beteken.

11 Hulle het Hom toe uitgevra: “Waarom hou die skrifkenners vol dat Elia eers moet terugkeer voordat die Messias sal verskyn?”

12 Jesus het geantwoord: “Elia kom inderdaad eers om alles weer in orde te kry. Hoe staan daar dan oor My, die Seun van die Mens, geskryf dat Ek baie moet ly en verneder moet word?

13 Tog sê Ek vir julle, Elia het reeds gekom en hulle het met hom gemaak net wat hulle wou, presies soos daar van hom in die Skrif geskryf staan.”

’n Seun met ’n bose gees word

genees

14 Toe hulle weer by die ander dissipels terugkom, sien hulle ’n groot klomp mense om hulle en skrifkenners wat met hulle argumenteer.

15 Net toe al die baie mense Jesus sien, het hulle Hom verras tegemoet gehardloop en begroet.

16 Hy vra die skrifkenners toe: “Waaroor stry julle met my dissipels?”

17 Iemand uit die skare het Hom geantwoord: “Leermeester, ek het my kind na U toe gebring omdat hy ’n bose gees het wat hom stom maak.

18 Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom teen die grond; hy kry skuim om sy mond en hy kners op sy tande; en hy word stokstyf. Ek het vir u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon dit nie regkry nie.”

19 Jesus sê toe vir hulle: “Julle ongelowige mense! Hoe lank moet Ek nog by julle wees voordat julle glo? Hoe lank moet Ek dit nog uithou met julle? Bring die kind hier.”

20 Hulle bring hom toe vir Jesus. Toe die gees Jesus sien, het hy die seun dadelik stuiptrekkings laat kry, en hy het op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond.

21 Jesus vra toe vir die pa: “Hoe lank gebeur dit nou al met hom?”

“Van kleins af,” was sy antwoord.

22 “Die gees het hom al baie keer probeer doodmaak deur hom in die vuur of in die water te laat val. Kry ons tog jammer en help ons as U kan!”

23 “As Ek kan, sê jy,” het Jesus hom geantwoord. “As ’n mens glo, is álles moontlik!”

24 “Ek glo!” roep die kind se pa dadelik uit. “Help my tog om nie meer te twyfel nie!”

25 Toe Jesus sien dat daar ’n massa mense aangehardloop kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Gees, jy wat hierdie kind stom en doof maak, Ek beveel jou, gaan uit hom uit en moet nooit weer terugkom nie.”

26 Die gees het toe geskree en die kind hewige stuiptrekkings laat kry voordat hy uit hom uitgegaan het. Die kind het daar vir dood bly lê sodat baie mense gesê het: “Hy ís dood!”

27 Jesus het hom egter aan die hand gevat om hom op te help, en hy het opgestaan.

28 Later, toe Jesus in die huis was, het sy dissipels Hom persoonlik kom vra: “Waarom kon ons nie daardie onrein gees uitdryf nie?”

29 Waarop Hy hulle geantwoord het: “Hierdie soort kan net deur gebed uitgedryf word.”

Jesus kondig weer sy komende

dood aan

30 Hulle het toe daarvandaan vertrek en deur Galilea gereis. Jesus wou dit egter nie rugbaar laat word nie,

31 want Hy wou tyd hê om sy dissipels te onderrig. Sy woorde aan hulle was: “Die Seun van die Mens gaan aan die mag van mense oorgegee word. Hulle sal Hom doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.”

32 Hulle het dit nie verstaan nie, maar was te bang om Hom daaroor uit te vra.

Wie die belangrikste in God se

koninkryk is

33 Hulle het toe in Kapernaum aangekom. In die huis waar hulle sou oorbly, vra Hy sy dissipels: “Waaroor het julle op pad geredeneer?”

34 Hulle bly toe stil, want hulle het mekaar langs die pad aangevat oor wie van hulle die belangrikste is.

35 Daarop gaan sit Jesus en roep die twaalf na Hom toe. Toe sê Hy vir hulle: “As jy die vernaamste wil wees, moet jy agter almal inval en almal se dienaar wees.”

36 Toe laat Hy ’n kindjie tussen hulle staan en slaan sy arms om hom met die woorde:

37 “As jy een van hierdie kindertjies in my Naam verwelkom, verwelkom jy vir My. En as jy My verwelkom, verwelkom jy nie net vir My nie; jy verwelkom ook my Vader wat My gestuur het.”

Wie nie teen ons is nie, is vir ons

38 Johannes sê toe vir Hom: “Leermeester, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om bose geeste uit te dryf, maar ons het hom probeer keer, want hy is nie een van ons groep nie.”

39 “Moenie hom keer nie,” het Jesus gesê, “want niemand wat wonders doen in my Naam sal van My kan kwaadpraat nie.

40 Wie nie teen ons is nie, is vir ons.

41 Ek verseker julle, as enigiemand vir julle ’n beker water gee omdat julle van die Messias se mense is, sal God hom beslis daarvoor beloon.”

Waarskuwing teen

struikelblokke

42 “Maar as enigiemand een van hierdie kleintjies wat in My glo, in sy geloof laat struikel, sal dit vir daardie persoon beter wees om in die see gegooi te word met ’n swaar meulsteen vasgemaak om sy nek.

43 En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is vir jou beter om met een hand te lewe as om met twee hande en al in die hel te beland waar die vuur nooit geblus word nie.

45 En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is vir jou beter om met net een voet te lewe as om met twee voete en al in die hel te beland.

47 En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is vir jou beter om met een oog in God se koninkryk in te gaan, as om met twee oë en al in die hel te beland

48 waar die wurm nooit doodgaan nie en die vuur nooit geblus word nie.

49 “Beproewing sal die soutkarakter van julle lewe versterk.

50 Sout doen goeie werk. Maar as dit sy krag verloor het, hoe sal jy dit weer sout kan maak? Julle lewe moet soutkwaliteit hê, en julle moet in vrede saam met mekaar lewe.”

MARKUS 10

Jesus verduidelik God se wil oor

die huwelik

1 Daarna het Jesus Kapernaum verlaat en suidwaarts vertrek na die omgewing van Judea en die gebied aan die oostekant van die Jordaan. Weereens het daar ’n groot skare mense by Hom vergader en soos altyd het Hy hulle weer onderrig.

2 ’n Paar Fariseërs wat Jesus in ’n strik wou laat trap, kom toe na Hom toe met die volgende vraag: “Laat die wet ’n man toe om van sy vrou te skei?”

3 “Wat het Moses julle beveel?” was Jesus se reaksie.

4 Hulle het geantwoord: “Moses het dit wel toegelaat. ’n Man moes net eers ’n egskeidingsdokument opstel en dan kon hy van sy vrou skei.”

5 Maar Jesus het vir hulle gesê: “Moses het hierdie reëling bloot getref as ’n toegewing aan die sondige verhardheid van julle harte.

6 God se bedoeling is egter duidelik van die begin van die skepping af, want daar staan geskryf: ‘Manlik en vroulik het Hy hulle geskep.’

7 En: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg.

8 So sal hulle tot een liggaam verenig word.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam.

9 Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaar haal nie.”

10 Toe hulle later weer alleen tuis is, het sy dissipels Hom verder oor hierdie onderwerp uitgevra.

11 Hy sê toe vir hulle: “’n Man wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, pleeg egbreuk teenoor sy vrou.

12 En as sy van haar man skei en met iemand anders trou, pleeg sy egbreuk.”

Jesus seën kindertjies

13 Ouers het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak en seën, maar sy dissipels het hulle daaroor aangespreek.

14 Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom. Moenie hulle keer nie. Want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.

15 Ek verseker julle, wie God se koninkryk nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.”

16 Toe het Hy sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën.

’n Ryke sien nie kans vir die eis

van dissipelskap nie

17 Toe Jesus weer op pad was, hardloop iemand Hom tegemoet, val voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

18 “Waarom noem jy My goed?” het Jesus hom gevra. “Net God is werklik goed.

19 Maar wat jou vraag betref – jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuienis gee nie; jy mag niemand benadeel nie; respekteer jou pa en ma.’”

20 “Leermeester,” was sy reaksie, “ek het al hierdie gebooie van my kinderdae af nagekom.”

21 Jesus het hom aandagtig aangekyk en liefgekry. “Jy kom net een iets kort,” het Hy vir hom gesê. “Gaan verkoop alles wat jy het en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my volgeling.”

22 Hy was heeltemal verslae en het ontsteld weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23 Jesus het toe rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik is dit nie vir ryk mense om in God se koninkryk te kom nie!”

24 Sy dissipels was verbaas hieroor. Jesus reageer toe en sê weer vir hulle: “Kinders, dit is bitter moeilik om in die koninkryk van God te kom.

25 Dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te kom as vir ’n ryke om in God se koninkryk te kom.”

26 Die dissipels was heeltemal verbysterd hieroor en het vir mekaar gesê: “As dit só is, wie kan dan verlos word?”

27 Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar tog nie by God nie. Alles is by God moontlik!”

28 Petrus begin toe ophaal wat hulle alles opgeoffer het: “U besef dat ons alles agtergelaat het om U te volg.”

29 Daarop het Jesus geantwoord: “Ek verseker julle, elkeen wat ’n huis of broers of susters of ma of pa of kinders of eiendom ter wille van My en die Goeie Nuus prysgegee het,

30 sal in hierdie tyd honderd maal soveel aan huise en broers en susters en ma’s en kinders en eiendom ontvang; ook nog vervolging, maar in God se nuwe wêreld die ewige lewe!

31 Baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”

Vir die derde keer kondig Jesus

sy komende dood aan

32 Hulle was nou op pad na Jerusalem. Jesus het voor hulle uit geloop, en sy dissipels was vol angs. Ook die mense wat agter hulle aan gekom het, was met vrees vervul. Jesus het weer die twaalf eenkant geneem en vir hulle begin vertel wat met Hom sou gebeur:

33 “Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. En hulle sal My uitlewer aan die nie-Jode.

34 Hulle sal My bespot en op My spoeg; hulle sal My gésel en doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek opstaan.”

Wie ’n leier wil wees, moet

ander dien

35 Daarop het Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Leermeester, ons wil van U ’n guns vra.”

36 “Wat moet Ek vir julle doen?” het Hy gevra.

37 “In u koninklike heerlikheid – mag ons op die ereplekke regs en links van U sit?” het hulle gevra.

38 Jesus het vir hulle gesê: “Julle besef nie wat julle vra nie. Sien julle kans om die bitter lydensbeker te drink wat Ek binnekort gaan drink? Sien julle kans vir die lydensdoop waarmee Ek gedoop moet word?”

39 Hulle sê vir Hom: “Ja, ons sien daarvoor kans.”

“Dis waar,” sê Hy vir hulle. “Julle sal inderdaad van my beker drink en met my doop gedoop word,

40 maar Ek beskik nie oor wie langs My op my troon sal sit nie. Daardie plekke is bestem vir hulle vir wie God dit gereedgemaak het.”

41 Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee wou hê, het hulle bitterlik verontwaardig teenoor Jakobus en Johannes geword.

42 Jesus roep hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die sogenaamde maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle.

43 Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort almal te dien.

44 En wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees.

45 Selfs Ek, die Seun van die Mens, het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en so selfs my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”

Jesus maak die blinde

Bartimeus gesond

46 So het hulle Jerigo bereik. Later, toe Jesus en sy dissipels vergesel van ’n groot skare Jerigo verlaat, het ’n blinde bedelaar met die naam Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit.

47 Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

48 Baie mense het hom toe aangespreek en gesê hy moet stilbly, maar hy het net nog harder aanhou roep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

49 Jesus het toe gaan staan en gesê: “Roep hom.” Hulle roep toe die blinde en sê vir hom: “Wees bly! Staan op, Jesus roep jou.”

50 Hy het sy bo-kleed eenkant gegooi, opgespring en na Jesus toe gekom.

51 “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” het Jesus gevra. Hy het gesê: “O Leermeester, dat ek kan sien!”

52 Toe het Jesus vir hom gesê: “Gaan maar. Omdat jy so vas geglo het, het jy gesond geword.” Dadelik kon hy sien en hy het op die pad agter Jesus aan gegaan.

MARKUS 11

Jesus gaan Jerusalem

triomfantlik binne

1 Toe hulle naby Jerusalem kom, het Jesus en sy dissipels eers die dorpies Betfage en Betanië, wat teen die Olyfberg lê, bereik. Daarop het Hy twee van sy dissipels vooruit gestuur

2 met die opdrag: “Gaan na die dorpie hier reg voor julle en nes julle daar ingaan, sal julle ’n jong donkie wat nog nooit gery is nie, vasgemaak sien staan. Maak dit los en bring dit hierheen.

3 As iemand vir julle sê: ‘Wat maak julle daar?’ sê dan: ‘Die Here het die donkie nodig; Hy sal hom nou-nou terugstuur.’”

4 Die twee dissipels het toe vertrek en hulle het ’n jong donkie gekry wat buite in die straat by die ingang van ’n huis vasgemaak staan. Terwyl hulle hom losmaak,

5 het van die omstanders beswaar gemaak en vir hulle gesê: “Wat dink julle doen julle? Hoe kan julle die donkie sommerso losmaak?”

6 Hulle het toe geantwoord soos Jesus hulle beveel het, en die mense het hulle toe laat begaan.

7 Daarna bring hulle die jong donkie na Jesus toe. Hulle sit toe hulle bo-klere op die donkie en Jesus gaan sit op hom.

8 Baie van die skare het toe hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi, ander weer groen takkies wat hulle in die veld gekap het.

9 Met Jesus in die middel van die optog het hulle uitgeroep:

“Prys God!

10 Geseënd is die Een wat kom

in die Here se Naam!

Geseënd is die

koningsheerskappy

van ons voorvader Dawid

wat aan die kom is!

Prys God in die hoogste hemel!”

11 So het Jesus toe in Jerusalem aangekom en na die tempel toe gegaan waar Hy alles rondom bekyk het. Omdat dit alreeds laat was, het Hy toe saam met die twaalf dissipels uitgegaan na Betanië toe.

Jesus vervloek ’n vyeboom wat

nie vrugte het nie

12 Toe hulle die volgende dag uit Betanië vertrek, het Jesus honger geword.

13 Toe Hy in die verte ’n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan om te kyk of Hy enige vye daaraan sou kry. Maar toe Hy by die boom kom, kry Hy niks meer as blare nie omdat dit nog te vroeg in die seisoen vir vye was.

14 Hy sê toe vir die boom: “Mag niemand ooit weer ’n vrug van jou eet nie!” Sy dissipels het gehoor wat Hy sê.

Jesus maak die tempel skoon

15 Hulle kom toe in Jerusalem. Jesus het die tempelterrein binnegegaan en die handelaars en hulle kliënte begin uitjaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stalletjies van die duiweverkopers omgegooi

16 en gekeer dat iemand ’n voorwerp oor die tempelarea ronddra.

17 Hy onderrig hulle toe: “Staan daar nie in die Skrif geskryf nie

‘My tempel sal ’n huis van gebed

wees

vir al die nasies’?

“Maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak!”

18 Die priesterhoofde en skrifkenners het hiervan gehoor en allerhande planne begin oorweeg om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was immers bang vir Hom en moes daarmee rekening hou dat die massa gaande was oor sy lering.

19 Teen die aand het Jesus en sy dissipels die stad verlaat.

20 Toe hulle die volgende oggend by die vyeboom verbygaan wat Jesus vervloek het, sien hulle dat dit tot in sy wortels verskrompel het.

21 Petrus het onthou wat die vorige dag gebeur het, en sê vir Hom: “Leermeester, die vyeboom wat U vervloek het, het werklikwaar verdor!”

22 Jesus het hulle toe geantwoord: “Julle moet geloof hê in God.

23 Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie.

24 Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou.

25 Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teen wie julle ’n grief koester. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe.”

Jesus se gesag word uitgedaag

27 Teen hierdie tyd het hulle weer in Jerusalem aangekom. Terwyl Jesus op die tempelterrein rondbeweeg, kom die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde na Hom toe

28 met die vraag: “Watter soort gesag het jy om mense uit die tempel te jaag? Of wie het aan jou die volmag gegee om hierdie dinge te doen?”

29 Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal vir julle sê deur watter gesag Ek hier-die dinge doen. Maar dan moet julle eers een vraag beantwoord:

30 Kom Johannes se doop van God af, of was dit maar bloot ’n menslike saak?”

31 Hulle het toe onder mekaar beraadslaag: “As ons sê dat dit van God af kom, sal Hy sê: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’

32 Maar as ons sê dit was bloot ’n menslike saak, is ons ook in die moeilikheid.” Hulle was bang vir die skare, want almal het geglo dat Johannes ’n profeet was.

33 Gevolglik het hulle Jesus toe geantwoord: “Ons weet nie.”

Jesus antwoord toe op sy beurt: “Dan gaan Ek julle ook nie sê waar Ek die gesag vandaan kry om so op te tree nie.”

MARKUS 12

Gelykenis van die slegte

druiweboere

1 Toe het Jesus vir hulle begin gelykenisse vertel: Daar was ’n man wat ’n wingerd geplant het. Hy het ’n klipmuur daar rondom gebou, ’n parskuip uitgekap en ’n uitkyktoring opgerig. Toe het hy die wingerd aan boere verhuur en na die buiteland vertrek.

2 Met oestyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur om ’n deel van die druiwe-oes te gaan haal.

3 Maar hulle het hom gegryp en geslaan en met leë hande teruggestuur.

4 Die eienaar het toe nog ’n slaaf gestuur, maar hulle het dié oor die kop geslaan en beledig.

5 Die volgende een het hulle doodgemaak. Hy het nog baie ander gestuur – sommige het hulle geslaan en ander vermoor.

6 Uiteindelik was daar nog net een persoon oor – sy seun vir wie hy innig lief was. Einde ten laaste stuur hy hom na hulle toe met die gedagte: “Hulle sal tog sekerlik my seun spaar.”

7 Maar toe sê daardie boere vir mekaar: “Hy is mos die erfgenaam. Kom ons maak hom dood, dan is die erfdeel ons s’n.”

8 Hulle het hom doodgemaak en sy liggaam buitekant die wingerd weggegooi.

9 “Wat dink julle sal die eienaar van die wingerd doen?” vra Jesus. “Ek sal vir julle sê: Hy sal kom en hulle om die lewe bring en die wingerd aan ander mense verhuur.

10 Julle het tog sekerlik al in die Skrif gelees:

‘Juis daardie klip

wat die bouers afgekeur het,

Hý het die hoekklip

van die gebou geword.

11 Dit is die Here wat dit gedoen het

en dit is vir ons wonderlik!’”

12 Die Joodse leiers wou Jesus toe arresteer, want hulle het besef dat Hy hierdie gelykenis op hulle gemik het. Maar hulle was lugtig vir die skare en het Hom toe daar gelaat en weggegaan.

Behoort mense belasting te

betaal?

13 Die leiers het ’n aantal Fariseërs en ondersteuners van Herodes gestuur om Jesus in ’n strik te laat trap.

14 Hulle kom vra Hom toe: “Leermeester, ons weet hoe absoluut eerlik u is. U ontsien niemand nie, want u word nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie. Inteendeel, u leer mense wat God van ons verwag sonder om doekies om te draai. Sê nou vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of nie?”

15 Jesus het egter deur hulle onderduimsheid gesien en sê vir hulle: “Hoekom probeer julle My uitvang? Bring vir My ’n Romeinse muntstuk dat Ek daarna kan kyk.”

16 Toe hulle dit vir Hom bring, vra Hy vir hulle: “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?”

Hulle het Jesus geantwoord: “Die keiser s’n.”

17 “Wel,” het Hy gesê, “gee dan aan die keiser wat hom toekom. Maar gee aan God alles wat Hóm toekom.” Hulle was stomverbaas oor Hom.

Daar is beslis ’n opstanding

18 Toe kom die Sadduseërs na Hom toe. Hulle is ’n groep Jode wat die opstanding uit die dood ontken. Hulle vra Hom toe die volgende:

19 “Leermeester, Moses het vir ons ’n wet gegee wat bepaal dat as iemand sterf en sy vrou kinderloos agterlaat, sy broer met die weduwee moet trou en so vir hom ’n nageslag verwek.

20 Nou was daar sewe broers. Die eerste een het getrou en kinderloos gesterf.

21 Die tweede een het toe met haar getrou, maar ook kinderloos gesterf. So ook die derde een.

22 So het dit aangegaan totdat al sewe gesterf het sonder om kinders agter te laat. Laaste van almal is die vrou ook dood.

23 Sê nou vir ons wie se vrou sal sy by die opstanding wees. Al sewe was tog met haar getroud.”

24 Jesus het hulle geantwoord: “Julle probleem is dat julle nie die Skrif ken nie. Julle besef ook nie hoe magtig God is nie.

25 Want ná die opstanding uit die dood sal daar nie meer huwelike bestaan nie. Mense sal soos engele in die hemel wees.

26 En wat die kwessie van die opstanding van die dooies betref – het julle nie raakgelees wat daar in die boek van Moses staan, by die gedeelte oor die brandende doringbos nie? Lank nadat Abraham en Isak en Jakob reeds dood was, het God immers vir Moses gesê: ‘Ek is die God van Abraham en Isak en Jakob.’

27 Hy is duidelik die God van lewende mense, nie van dooies nie. Julle is dus totaal verkeerd.”

Liefde is die heel belangrikste

opdrag

28 Een van die skrifkenners het nadergestaan en geluister na die argument. Beïndruk deur Jesus se goeie antwoord aan die Sadduseërs, vra hy Hom toe: “Watter gebod is die heel belangrikste?”

29 Jesus het hom geantwoord: “Die belangrikste gebod is die volgende: ‘Luister, o Israel, die Here ons God is die énigste Here.

30 Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag.’

31 Die tweede gebod is net so belangrik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Hierdie twee vorm saam die allerbelangrikste opdrag.”

32 Die skrifkenner sê toe vir Hom: “Leermeester, u het dit pragtig gestel. U het tereg gesê dat daar net een God is.

33 En ek stem volkome saam dat ek Hom moet liefhê met my hele hart, met my volle denke en met al my krag, en my naaste soos myself. Dit is belangriker as al die brandoffers en ander offers.”

34 Beïndruk deur die man se insig het Jesus vir hom gesê: “Jy is inderdaad naby aan God se koninkryk!” Hierna het niemand Hom weer met ’n strikvraag in ’n hoek probeer dryf nie.

Jesus stel ook ’n strikvraag

35 Later, toe Jesus besig was om die mense by die tempel te onderrig, het Hy die volgende vraag gestel: “Hoe is dit dan dat die skrifkenners beweer dat die Messias die seun van Dawid is?

36 Dawid het tog self deur die Heilige Gees gesê:

‘Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand

totdat Ek jou vyande

heeltemal aan jou

onderwerp het.’

37 “Dawid noem Hom tog self Here. Hoe kan Hy terselfdertyd sy seun wees?”

Die groot skare het dit geniet om na Hom te luister.

Jesus waarsku teen die

skrifkenners

38 In sy onderrig het Jesus ook nog gesê: “Oppas vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met swierige klere te paradeer en om op die dorpspleine begroet te word.

39 En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke in die sinagoges en by feesmaaltye nie!

40 Hulle beroof die weduwees skaamteloos van hulle huise en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal hulle ekstra swaar gestraf word.”

’n Brandarm weduwee se

kosbare gawe

41 Jesus het regoor die offerkis gaan sit en gekyk hoe die skare hulle geld in die kis gooi. In die proses het baie welgesteldes groot bedrae geld ingegooi.

42 Toe kom daar ’n brandarm weduwee en sy gooi net twee klein geldstukkies in.

43 Daarop roep Jesus sy dissipels na Hom toe en sê vir hulle: “Weet vir seker, hierdie arm weduwee het meer in die offerkis gegooi as al die ander.

44 Julle sien, almal het ingegooi vanuit hulle oorvloed, maar sy het, arm soos sy is, alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

MARKUS 13

Jesus se profesie-preek: Wees

altyd waaksaam

1 Terwyl Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Leermeester, kyk net na hierdie massiewe klippe in die mure! En die ontsaglike geboue!”

2 Daarop het Jesus hom geantwoord: “Hierdie groot geboue wat jy sien, sal so volledig tot op die grond afgebreek word dat daar nie een klip op die ander sal oorbly nie.”

3 Later, toe Jesus teen die hang van die Olyfberg regoor die tempel sit, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom vertroulik:

4 “Wanneer sal hierdie dinge gebeur? En watter teken sal daar wees om vir ons te waarsku dat hierdie dinge vervul sal word?”

5 Jesus het geantwoord: “Wees versigtig dat niemand julle op ’n dwaalspoor bring nie.

6 Baie mense sal in my Naam met die aanspraak kom: ‘Ek is die Messias,’ en hulle sal baie op ’n dwaalspoor bring.

7 Wanneer julle van oorloë hoor, hier naby en daar ver, moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie.

8 Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar. Daar sal wydverspreide aardbewings wees; daar sal hongersnood wees. Hierdie dinge sal nog maar net die begin van die swaarkry wees.

9 “Wees op julle hoede! Hulle sal julle aan die howe uitlewer. Julle sal in die sinagoges geslaan word. En julle sal voor goewerneurs en konings verskyn omdat julle my volgelinge is. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om voor hulle van My te getuig.

10 Ja, die Goeie Nuus moet eers verkondig word aan al die nasies.

11 Maar wanneer hulle julle voor die owerhede bring, moet julle julle nie bekommer oor wat julle ter verdediging sal sê nie. Sê maar net wat God in daardie uur vir julle sal gee om te sê. Julle sal wel die woorde uitspreek, maar eintlik is dit die Heilige Gees wat deur julle praat.

12 “Die een broer sal die ander een oorgee om doodgemaak te word en ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers optree en so hulle dood veroorsaak.

13 Julle sal deur almal gehaat word omdat julle mý mense is. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word.

14 “Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak op ’n ontoelaatbare plek sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! – “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug.

15 As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers ondertoe gaan en in jou huis gaan om in te pak nie.

16 As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie.

17 Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog hulle kinders laat drink nie!

18 En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter te vlug nie.

19 Dit sal ’n tyd van swaarkry wees, erger as enigiets wat gebeur het sedert God die wêreld gemaak het of wat hierna sal gebeur.

20 Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense het Hy die tyd wel verkort.

21 “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie.

22 Daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei.

23 Wees op julle hoede. Ek het julle vooraf oor alles gewaarsku.

24 “In daardie tyd, wanneer die groot swaarkry verby is,

sal die son donker word

en die maan sal nie meer lig gee nie.

25 Die sterre sal van die hemel val

en die kragte wat die hemelruim

saambind,

sal geskud word.

26 “En dan sal die mense vir My, die Seun van die Mens, in geweldige krag en heerlikheid op die wolke sien kom.

27 Dan sal Ek my engele uitstuur om my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaar te maak – ja, vanaf die verste uithoeke van die aarde.

28 “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, weet julle dat die somer naby is.

29 Net so kan julle, wanneer julle hierdie dinge wat Ek beskryf het, sien gebeur, weet dat die einde naby is, voor die deur.

30 Ek verseker julle, die mense wat vandag leef, sal nog nie uitgesterf het wanneer al hierdie dinge gebeur nie.

31 Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan.

32 “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele in die hemel of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader.

33 Omdat julle dan nie weet wanneer die tyd daar is nie, wees oplettend en voortdurend waaksaam.

34 “Die koms van die Seun van die Mens kan vergelyk word met ’n man wat van sy huis vertrek om op reis te gaan. Hy vertrou sy eiendom aan sy werksmense toe. Vir elkeen het hy instruksies gegee oor die werk wat hy moes doen, maar vir die deurwagter het hy opdrag gegee om noulettend wag te hou.

35 Waak julle dan voortdurend, want julle weet nie wanneer die baas van die huis terugkom nie – teen die aand of teen middernag of met hanekraai of vroegdag.

36 Moenie dat hy julle aan die slaap kry as hy onverwags opdaag nie.

37 Wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: ‘Bly voortdurend waaksaam!’”

MARKUS 14

’n Vrou vereer Jesus met

aromatiese olie

1 Dit was twee dae voor die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood. Die priesterhoofde en die skrifkenners was nog op soek na ’n geleentheid om Jesus in die geheim te vang en dood te maak.

2 Want hulle het saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders ontstaan daar oproer onder die volk.”

3 Intussen was Jesus in Betanië by die huis van Simon, die man wat van ’n ernstige velsiekte genees is. Tydens die ete kom daar ’n vrou in met ’n albaste fles vol egte, baie duur aromatiese olie. Sy breek toe die seël van die fles en gooi die olie oor Jesus se kop uit.

4 Sommige van dié wat saam aan tafel was, was verontwaardig daaroor. “Hoekom hierdie verkwisting van duur olie?” het hulle gesê.

5 “Ons kon dit vir ’n yslike bedrag verkoop het en die geld vir die armes gegee het.” En hulle het haar uitgetrap.

6 Jesus het hulle egter geantwoord: “Laat haar met rus! Waarom maak julle dit vir haar so moeilik? Sy het ’n weldaad aan My gedoen.

7 Die armes sal julle altyd by julle hê, en julle kan enige tyd wanneer julle so voel, aan hulle goeddoen. Maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie.

8 Sy het haar allerbeste vir My gedoen. Sy het my liggaam vooruit gesalf vir my begrafnis.

9 “Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!”

Judas onderneem om Jesus uit

te lewer

10 Daarop het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan om met hulle reëlings te tref oor hoe hy Jesus aan hulle sou uitlewer.

11 Toe hulle dit hoor, was hulle verheug en het hulle hom ’n bedrag geld beloof. Hy was toe op die uitkyk na ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer.

Jesus stel die nagmaal by sy

laaste paasmaaltyd in

12 Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood – die dag waarop hulle die paaslammers geslag het – sê Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons vir U die paasete gaan voorberei?”

13 Hy stuur toe twee van sy dissipels met die opdrag: “Gaan stad toe. Daar sal julle ’n man sien wat ’n kruik water dra. Gaan agter hom aan

14 en waar hy indraai, moet julle vir die huiseienaar sê: ‘Die Leermeester vra: Waar is die gastekamer waar Ek die Paasfees saam met my dissipels kan geniet?’

15 Dan sal hy vir julle ’n groot bovertrek wys wat klaar gereed staan. Dáár kan julle vir ons die maaltyd voorberei.”

16 Toe het die twee vooruit gegaan stad toe, en hulle het alles presies gekry soos Jesus vir hulle gesê het. En hulle het die paasmaaltyd voorberei.

17 Teen die aand het Jesus toe saam met die twaalf dissipels daar aangekom.

18 Terwyl hulle besig was om te eet, sê Jesus: “Ek sê nou vir julle, een van julle gaan My uitlewer, een van julle wat nou hier saam met My eet.”

19 Geweldig geskok vra hulle toe een vir een vir Hom: “Dit kan tog sekerlik nie ek wees nie?”

20 Jesus het hulle geantwoord: “Hy is een van julle twaalf, een wat saam met My sy brood in die bak week.

21 Ek, die Seun van die Mens, moet inderdaad sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met die man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!”

22 Terwyl hulle besig was om te eet, het Jesus brood geneem en God se seën daarop gevra. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.”

23 Hy het ook die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee en hulle het almal daaruit gedrink.

24 Hy sê toe vir hulle: “Dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet.

25 Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek nie weer wyn sal drink nie tot op daardie dag wanneer Ek opnuut die feeswyn sal drink in die koninkryk van God.”

26 Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe.

Jesus voorspel dat Petrus gaan

ontken hy is sy dissipel

27 Jesus sê toe vir hulle: “Julle gaan almal julle rug op My draai. Daar staan immers geskryf:

‘Ek sal die skaapwagter doodmaak,

en die skape sal

uitmekaargejaag word.’

28 “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.”

29 Petrus verseker Hom toe: “Al draai almal hulle rug op U – ék sal dit nie doen nie!”

30 Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voor die tweede kraai van die haan, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.”

31 Maar Petrus het heftig aanhou sê: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal U beslis nooit verloën nie!” En almal van hulle het dit beaam.

Jesus se gebedsworsteling in

Getsemane

32 Hulle kom toe by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit julle hier terwyl Ek gaan bid.”

33 Daarop neem Hy Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom. Toe pak ’n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom

34 en Hy sê vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe! Bly hier en waak!”

35 Hy het toe ’n entjie verder gegaan en op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik was, die verskriklike uur wat aan die kom was, by Hom sou verbygaan.

36 “Abba”– dit beteken Vader – het Hy gebid, “vir U is alles moontlik. Neem tog hierdie beker van lyding van My weg. Maar doen nogtans nie wat Ék wil nie, maar wat Ú wil.”

37 Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “Simon, slaap jy werklikwaar? Kon jy nie een uur waak nie?

38 Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”

39 Hy het toe weer weggegaan en dieselfde gebed gebid.

40 Toe Hy weer terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want hulle was so vaak dat hulle hulle oë net nie kon oophou nie. Hulle was te verleë om Hom te antwoord.

41 Toe Hy die derde keer by hulle terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Dis nou genoeg! Die tyd het aangebreek. Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense.

42 Staan op, ons moet gaan. Kyk, my verraaier is hier.”

Jesus word gearresteer

43 Dadelik hierna – Jesus was nog besig om te praat – kom Judas, een van die twaalf dissipels, daar aan met ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde.

44 Sy verraaier het reeds vooraf vir hulle ’n uitkenningsteken gegee met die woorde: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom en vat hom onder bewaking weg.”

45 Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Leermeester,” en Hom gesoengroet.

46 Toe het die ander Hom gegryp en gearresteer.

47 Maar een van die omstanders het ’n swaard getrek, dit geswaai en die slaaf van die hoofpriester se oor afgekap.

48 Toe vra Jesus vir hulle: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang?

49 Hoekom het julle My nie gearresteer toe Ek dag vir dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? Maar hierdie dinge gebeur sodat wat in die Skrif staan, vervul kan word.”

50 Dit was toe dat almal Jesus net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom.

51 Daar was ook ’n jong man wat saam met Jesus na die tuin gekom het. Hy het net ’n naghemp om sy lyf gehad. Hulle probeer hom toe ook vang,

52 maar hy het die naghemp net daar in hulle grypende hande gelos en kaal weggehardloop.

Jesus word deur die Joodse Raad

verhoor

53 Hulle het Jesus toe na die hoofpriester se woning toe gebring, waar al die priesterhoofde, die familiehoofde en die skrifkenners bymekaargekom het.

54 Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg tot in die binnehof van die hoofpriester se woning. Hy het ’n ruk lank daar by die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak.

55 Binne die huis het die priesterhoofde, en trouens die hele Joodse Raad, getuienis teen Jesus probeer verkry wat tot sy doodstraf sou kon lei, maar hulle kon niks vind nie.

56 Daar het inderdaad baie gekom om vals getuienis teen Hom af te lê, maar hulle het mekaar weerspreek.

57 Daar staan toe sekere persone op wat bedrieglik die volgende teen Hom getuig:

58 “Ons het hierdie man hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat met mensehande gebou is, afbreek en in drie dae sal Ek ’n ander een oprig wat sonder mensehande gebou is.’”

59 Maar selfs só het hulle getuienis nie geklop nie.

60 Toe staan die hoofpriester in die vergadering op en vra vir Jesus: “Het jy geen verweer teen hierdie getuienis wat hulle teen jou inbring nie?”

61 Maar Jesus het net bly swyg. Hy het hulle glad nie geantwoord nie. Die hoofpriester vra toe nog ’n keer vir Hom: “Is jy die Messias, die Seun van die lofwaardige God?”

62 Jesus se antwoord was: “Ja, Ek is,

en julle sal vir My, die Seun van die

Mens,

sien sit aan die regterhand van

God,

die Magtige,

en hoe Ek terugkom met die

wolke

van die hemel.”

63 Toe skeur die hoofpriester sy klere uit verontwaardiging en sê: “Watter ander getuies het ons nog nodig?

64 Julle het sy godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?”

Hulle het eenparig verklaar: “Hy is skuldig. Hy verdien die doodstraf.”

65 Sommige het op Hom begin spoeg en Hom geblinddoek. Daarna het hulle Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ’n slag!” Selfs die dienspersoneel het Hom in die gesig geklap toe hulle Hom wegvat.

Petrus verloën Jesus

66 Petrus was nog steeds onder in die binnehof. Een van die diensmeisies wat vir die hoofpriester gewerk het, kom toe daar aan

67 en sien vir Petrus waar hy hom by die vuur warm maak. Sy kyk toe stip na hom en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Nasarener.”

68 Hy het dit egter ontken en gesê: “Ek weet glad nie waarvan jy praat nie.” Hy staan toe verder weg na die voorportaal se kant toe. Net op daardie oomblik kraai daar toe ’n haan.

69 Die diensmeisie kyk toe na hom en begin weer vir dié wat daar rondstaan, sê: “Hierdie man is ook een van hulle!”

70 Petrus het dit weer ontken. ’n Klein rukkie later sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: “Jy is definitief een van hulle. Jy is ook ’n Galileër.”

71 Petrus het hewig begin vloek en sweer: “Die Here weet, ek ken hierdie man van wie julle praat, glad nie!”

72 Direk daarna het die haan vir die tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval dat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan twee keer kraai, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.” Toe het hy in trane uitgebars.