MATTEUS 23

Jesus waarsku teen die

godsdienstige leiers

1 Daarop het Jesus die menigte en sy dissipels soos volg toegespreek:

2 “Die skrifkenners en die Fariseërs is die amptelike vertolkers van die wet van Moses.

3 Doen en gehoorsaam dus alles wat hulle julle beveel, maar hulle voorbeeld moet julle nie volg nie. Hulle preek, maar leef nie self daarvolgens nie.

4 Hulle oorlaai die mense met absoluut onmoontlike godsdienstige verpligtings, maar verroer nie ’n vinger om dit self uit te voer nie.

5 “Alles wat hulle doen, is vir die uiterlike vertoon. Daarvoor dra hulle op hulle arms en voorkoppe ekstra groot gebedsdosies met Skrifverse daarin en hulle maak die tossels aan hulle klere opvallend groot.

6 En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke by feesmaaltye en in die sinagoges nie!

7 Hulle geniet dit om spesiaal op straat gegroet te word en om deur die mense as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8 Maar julle moet julleself nooit as ‘rabbi’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leermeester en julle is almal broers en susters.

9 En moenie enige geestelike leier hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want julle het net een Vader: julle Vader wat in die hemel is.

10 En julle moet julleself nie as ‘leier’ laat aanspreek nie, want julle het net een Leier: die Messias self.

11 Die belangrikste een onder julle moet die een wees wat dien.

12 Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder. Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer.”

Jesus stel die skynheiligheid van

die Joodse godsdienstige leiers

13 “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle blokkeer die koninkryk van God vir die mense. Julle gaan self nie daar in nie en boonop verhinder julle dié wat wel probeer ingaan.

15 Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle trek rond oor see en land om één proseliet te werf en dan maak julle van hom iemand wat op pad is hel toe, twee maal erger as julleself.

16 “Ellende wag vir julle, julle blinde gidse wat beweer: ‘As iemand by die heiligdom sweer, het dit geen bindende krag nie, maar as hy by die goud van die tempel sweer, dan is dit bindend.’

17 Julle blinde dwase! Wat is die belangrikste, die goud of die tempel waardeur die goud geheilig word?

18 Verder sê julle: ‘As iemand by die altaar sweer, het dit geen bindende krag nie, maar as hy by die offer bo-op die altaar sweer, is dit bindend.’

19 Hoe blind kan julle tog wees! Wat is immers belangriker, die offer of die altaar waardeur die offer geheilig word?

20 Wanneer jy by die altaar sweer, sweer jy tog nie net daarby nie, maar ook by alles wat daarop is.

21 En wanneer jy by die tempel sweer, sweer jy tog nie net daarby nie, maar ook by Hom wat daarin woon.

22 Net so, wanneer jy sweer by die hemel, sweer jy ook by die troon van God en boonop by Hom wat op die troon sit.

23 “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle gee noukeurig tiendes van die nietigste deeltjies van julle inkomste, maar julle ignoreer die eintlik belangrike dinge waarom dit in die wet gaan: om te doen wat reg is, om ontferming te betoon en om mense van julle woord te wees. Julle behoort die tiendes te gee, maar die belangriker dinge mag julle ook nie nalaat nie.

24 Blinde gidse! Julle sif die muggie uit julle drinkwater, maar die kameel sluk julle sonder meer af!

25 “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle maak die buitekant van die beker en die skottel blinkskoon, maar aan die binnekant is julle vuil van grypsug en selfsug.

26 Blinde Fariseër, was die beker eers aan die binnekant, en die buitekant sal vanself skoon word.

27 “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle is soos grafte wat aan die buitekant spierwit gekalk is, maar aan die binnekant vol is van doodsbeendere en allerlei onreinheid.

28 So lyk julle ook van buite vir die mense baie vroom, maar van binne is julle vol skynheiligheid en minagting van die wet.

29 “Ellende wag vir julle, julle skynheilige skrifkenners en Fariseërs! Want julle rig grafstene op vir die profete en julle versier die gedenkstene van die vromes.

30 “Julle verklaar: ‘As ons in ons vaders se tyd gelewe het, sou ons nie by die moord op die profete betrokke gewees het nie.’

31 Daarmee wys julle die vinger na julleself, want julle erken ronduit dat julle die nageslag is van dié wat die profete vermoor het.

32 En júlle – maak julle dan maar die maat van julle voorouers vol!

33 Julle slange! Julle addernes! Hoe sal julle ooit die oordeel van die hel kan ontvlug?

34 Let op, Ek sal vir julle profete en wyses en skrifkenners stuur. Julle sal sommige van hulle vermoor en kruisig en julle sal ander in julle sinagoges met swepe slaan en van die een dorp na die ander vervolg.

35 “So sal julle skuldig word aan die moord op al die vromes, van die regverdige Abel af tot by Sagaria, die seun van Berekja, wat julle by die tempel, tussen die heiligdom en die altaar vermoor het.

36 “Ek verseker julle, al die opgehoopte oordeel sal losbars oor hierdie generasie.”

Jesus treur oor Jerusalem

37 “O Jerusalem, stad wat die profete doodmaak en God se boodskappers stenig! Hoeveel maal wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar jy wou My dit nie toelaat nie!

38 “Julle moet besef, julle woning word vir julle verlate agtergelaat.

39 Ek verseker julle, julle sal My van nou af nooit weer sien nie tot op die dag wanneer julle sal sê: ‘Geseënd is die Een wat kom in die Naam van die Here!’”

MATTEUS 24

Jesus se profesie-preek: Wees

altyd waaksaam

1 Terwyl Jesus besig was om die tempelterrein te verlaat, het sy dissipels nadergestaan om vir Hom die verskillende tempelgeboue uit te wys.

2 Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, al hierdie dinge wat julle voor julle sien, sal so totaal gesloop word dat nie een klip bo-op die ander een sal bly staan nie.”

Jesus se profesie-preek: Rampe

en vervolging

3 Later, nadat Jesus teen die hang van die Olyfberg gaan sit het, kom vra sy dissipels Hom vertroulik: “Vertel vir ons wanneer sal al hierdie dinge gebeur. En wat sal die voorteken van u koms en van die einde van die wêreld wees?”

4 Jesus het vir hulle gesê: “Wees versigtig dat niemand julle op ’n dwaalspoor bring nie.

5 Baie mense sal in my Naam met die aanspraak kom: ‘Ek is die Messias,’ en hulle sal baie op ’n dwaalspoor bring.

6 Julle sal van oorloë hoor, hier naby en daar ver. Maar moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie.

7 Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar en daar sal wydverspreide hongersnode en aardbewings wees.

8 Maar dit alles sal nog maar net die begin van die swaarkry wees.

9 “Dan sal hulle julle arresteer, vervolg en doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle mý mense is.

10 “In daardie tyd sal baie mense hulle geloof afsweer en mekaar uitlewer en haat.

11 Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ’n dwaalspoor bring.

12 Die sonde sal so toeneem dat baie se liefde sal afkoel.

13 Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word.

14 “Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.”

Jesus se profesie-preek: Die

groot verdrukking

15 “Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak en waarvan die profeet Daniël gepraat het, in die tempel sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! –

16 “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug.

17 As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers in die huis ingaan om in te pak nie.

18 As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie.

19 Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog borsvoed nie!

20 En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter of op die Sabbat te vlug nie.

21 Dit sal ’n tyd van groot verdrukking wees, erger as enigiets wat die wêreld ooit tevore beleef het of hierna sal beleef.

22 Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense sal dit wel verkort word.”

Jesus se profesie-preek: die vals

messiasse

23 “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie.

24 Want daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal indrukwekkende tekens en wonders doen om, as dit moontlik sou wees, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei.

25 Let goed op, Ek het julle vooraf gewaarsku.

26 As mense dan vir julle sou sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn,’ moenie gaan kyk nie. Of as hulle sou sê: ‘Kyk, Hy kruip in ’n geheime plek weg,’ moet hulle nie glo nie.

27 Want soos die weerlig in die ooste uitslaan en sy lig tot in die weste laat skyn, so sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die Mens, kom.

28 Net soos ’n versameling aasvoëls die teenwoordigheid van ’n karkas aandui, so sal hierdie tekens wys dat die einde naby is.”

Jesus se profesie-preek: die

koms van die Seun van die

29 “Onmiddellik na hierdie tyd van swaarkry

‘sal die son donker word,

en die maan nie meer lig gee nie.

Die sterre sal van die hemel val

en die kragte

wat die hemelruim saambind,

sal geskud word.’

30 “Dan uiteindelik sal daar ’n teken teen die hemel verskyn om aan te dui dat Ek, die Seun van die Mens, aan die kom is. Daarop sal al die nasies van die aarde geskok en ontsteld wees. Hulle sal My, die Seun van die Mens, met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom.

31 Ek sal my engele met die magtige klank van ’n basuin uitstuur en hulle sal my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaarmaak, ja, selfs vanaf die verste uithoeke van die wêreld.”

Jesus se profesie-preek: die

voorbeeld van die vyeboom

32 “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, besef julle dat die somer op hande is.

33 Net so kan julle, wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, weet dat die einde op hande is.

34 Ek verseker julle, die mense wat vandag leef, sal nog nie uitgesterf het wanneer al hierdie dinge gebeur nie.

35 Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan.”

Jesus se profesie-preek: die

presiese tyd van die einde van

36 “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader.

37 “Wanneer Ek, die Seun van die Mens, verskyn, sal dit gaan soos in die tyd van Noag.

38 Destyds, voor die groot vloedwater gekom het, het die mense soos gewoonlik voortgegaan om fees te vier en oor en weer te trou, selfs nog totdat Noag in die ark ingegaan het.

39 Hulle het eers besef wat aan die gang was toe die vloedwater kom en hulle almal verswelg het. Net so sal die koms van die Seun van die Mens wees.

40 “Twee persone sal saam op die land werk. Die een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word.

41 Twee vroue sal saam by die meul koring maal. Die een sal saamgeneem en die ander een sal agtergelaat word.

42 Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie.

43 “Julle besef tog goed, as ’n huiseienaar vooraf weet hoe laat in die nag die dief gaan kom, sal hy op sy hoede bly en nie toelaat dat daar by sy huis ingebreek word nie.

44 Daarom moet julle ook voorbereid wees, want die Seun van die Mens kom op ’n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.”

Jesus se profesie-preek: die

verstandige en slegte slaaf

45 “Wie van julle sal dan soos die betroubare en verstandige slaaf wees aan wie die huisheer die verantwoordelikheid toevertrou om sy huishouding te bestuur en aan sy mense hulle kos op die regte tyd te gee?

46 As die huisheer terugkom en vind dat daardie slaaf sy plig goed uitgevoer het, sal hy hom goed beloon.

47 Ek verseker julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.

48 Maar as die slaaf sleg is en by homself redeneer: ‘Dis nog lank voordat my huisheer kom,’

49 en hy begin die ander slawe aanrand en saam met die drinkers fuifpartye hou,

50 sal die heer van daardie slaaf terugkom op ’n dag en tyd waarop hy nie voorbereid is nie.

51 Dan sal hy hom ’n wrede dood laat sterf en hom laat deel in die lot van alle skynheiliges. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.”

MATTEUS 25

Die gelykenis van die tien

meisies

1 “In daardie tyd sal dit met die koninkryk van God gaan soos met tien meisies wat met hulle lampe die bruidegom gaan inwag het.

2 Vyf van hulle was dwaas, maar die ander vyf was verstandig.

3 Die vyf dwase meisies het wel hulle lampe saamgeneem, maar geen ekstra olie nie.

4 Die ander vyf daarenteen was verstandig genoeg om, afgesien van hulle lampe, ook nog ekstra olie in houers saam te vat.

5 Toe die bruidegom lank wegbly, het almal vaak geword en aan die slaap geraak.

6 Dit was al teen middernag toe ’n geroep hulle wakker maak: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan verwelkom hom!’

7 “Daarop het al die meisies opgespring en hulle lampe begin regkry.

8 Die dwases vra toe vir die verstandiges: ‘Help ons asseblief met ’n bietjie van julle olie, want ons lampe is aan die doodgaan.’

9 Maar die verstandiges het geantwoord: ‘Nee, ons kan nie. Daar is nie genoeg vir ons almal nie. Gaan koop liewer vir julle by die winkel.’

10 “Terwyl die onverstandiges weg was om olie te gaan koop, het die bruidegom opgedaag. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilofsfees en die deur van die feesvertrek is gesluit.

11 Later kom die ander meisies toe ook en roep van buite af: ‘Meneer, Meneer, maak asseblief vir ons oop!’

12 Maar hy het teruggeroep: ‘Ek ken julle glad nie!’

13 “Wees dus altyd wakker en gereed, want julle ken nie die presiese datum of tyd van my koms nie.”

Die gelykenis van die drie slawe

en die goue muntstukke

14 “Verder is God se koningsheerskappy soos iemand wat op reis wou gaan. Hy roep toe sy slawe bymekaar en vertrou sy geld aan hulle toe om daarmee te woeker terwyl hy weg is.

15 Vir die eerste slaaf het hy vyf kosbare goue muntstukke gegee, vir die tweede slaaf twee, en vir die derde slaaf een – vir elkeen volgens sy spesifieke bekwaamheid – en toe het hy vertrek. Dadelik

16 het die een wat die vyf goue muntstukke ontvang het, daarmee aan die werk gespring en dit spoedig verdubbel.

17 Net so het die een wat twee goue muntstukke ontvang het, ook sy geld verdubbel.

18 Maar die een wat net een goue muntstuk ontvang het, het ’n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

19 “Na ’n lang tyd het daardie slawe se eienaar van sy reis teruggekeer en hulle gevra om te rapporteer wat hulle met sy geld gedoen het.

20 Die slaaf wat die vyf goue muntstukke ontvang het, verskyn toe voor hom en bring die vyf ekstra goue muntstukke saam. ‘Meneer,’ sê hy, ‘u het vir my vyf goue muntstukke gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’

21 Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees!’

22 “Die een wat die twee goue muntstukke ontvang het, verskyn toe ook voor hom en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’

23 Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.’

24 “Daarna verskyn die een wat die een goue muntstuk ontvang het ook voor hom en sê: ‘Meneer, ek het besef dat u ’n veeleisende persoon is wat wil oes waar u nie self gesaai het nie en wil insamel waar u niks ingesit het nie.

25 Daarom was ek te bang om iets te waag en het maar liewer u muntstuk in die grond gaan wegsteek. Hier is u geld nou.’

26 “Maar sy eienaar het hom geantwoord: ‘Jou slegte slaaf! Jou lamsak! So, jy het geweet dat ek ’n veeleisende mens is wat wil oes waar ek nie self gesaai het nie en wil insamel waar ek niks ingesit het nie?

27 Dan moes jy mos my geld in die bank belê het en ek sou by my terugkoms ten minste my geld met rente kon terugkry.’

28 “Hy sê toe vir die ander: ‘Vat die muntstuk by hom en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.

29 Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word. Ja, hulle sal oorvloed hê. Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.

30 En daardie nikswerd slaaf – gooi hom uit in die donkerte daar buite. Dáár sal hulle bitterlik huil en van selfverwyt op die tande kners.’”

Die gelykenis van die bokke en

skape by die eindoordeel

31 “Wanneer die Seun van die Mens in sy heerlikheid kom en al sy engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit.

32 “Al die nasies sal voor Hom bymekaargebring word en Hy sal hulle van mekaar skei soos ’n skaapwagter die skape van die bokke skei.

33 Hy sal die skape aan sy regterkant laat staan en die bokke aan sy linkerkant.

34 Daarop sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom julle, want my Vader het julle geseën. Kom ontvang julle erfenis – die koninkryk wat my Vader reeds van voor die begin van die wêreld af vir julle gereed gemaak het.

35 Want toe Ek honger was, het julle vir My kos gegee; toe Ek dors was, het julle vir My iets gegee om te drink; toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My in julle huise ontvang;

36 toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle vir My klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek.’

37 “Daarop sal dié wat God se wil uitgevoer het Hom antwoord: ‘Maar wanneer het ons U dan honger gesien, en vir U kos gegee? Of dors, en vir U iets gegee om te drink?

38 En wanneer het ons gesien dat U ’n hawelose vreemdeling was, en U in ons huise ontvang? Of dat U niks gehad het om aan te trek nie, en ons het vir U klere gegee?

39 En wanneer het ons U siek gesien of in die tronk, en U opgesoek?’

40 En die Koning sal vir hulle antwoord: ‘Ek verseker julle: As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen.’

41 “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, want God het julle vervloek! Gaan na die ewige vuur wat gereed gemaak is vir die duiwel en sy bose engele!

42 Want toe Ek honger was, het julle nie vir My kos gegee nie; toe Ek dors was, het julle nie vir My iets gegee om te drink nie;

43 toe Ek ’n hawelose vreemdeling was, het julle My nie in julle huise ontvang nie; toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle nie vir My klere gegee nie; toe Ek siek en in die tronk was, het julle nie na My omgesien nie.’

44 “Daarop sal hulle vra: ‘Here, wanneer het ons U ooit honger of dors of haweloos of sonder klere of siek of in die tronk gesien, en nagelaat om U te versorg?’

45 Dan sal Hy hulle antwoord: ‘Ek verseker julle, as julle versuim het om een van die eenvoudigstes van my broers of susters te help, het julle versuim om Mý te help.’

46 “Hulle sal dan in die ewige straf ingaan, maar dié wat God se wil uitgevoer het, in die ewige lewe.”

MATTEUS 26

Die volksleiers sweer saam om

Jesus dood te maak

1 Nadat Jesus al hierdie uitsprake afgehandel het, het Hy vir sy dissipels gesê:

2 “Julle weet dat dit oor twee dae Paasfees is. Dan sal Ek, die Seun van die Mens, oorgegee word om gekruisig te word.”

3 Juis in daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde in die huis van Kajafas, die hoofpriester, vergader

4 en saam beraadslaag oor hoe hulle Jesus in die geheim kon vang en uit die weg ruim.

5 Hulle het egter saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders kom daar ’n oproer onder die volk.”

’n Vrou vereer Jesus met duur

olie

6 Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse.

7 Terwyl Hy aan tafel was, kom daar ’n vrou na Hom toe met ’n albaste fles vol duur aromatiese olie en gooi dit op sy kop uit.

8 Toe die dissipels dit sien, het hulle hulle daaroor opgewerk. “Watter vermorsing,” het hulle onder mekaar gesê,

9 “sy kon dit vir ’n yslike bedrag verkoop en die geld vir die armes gegee het!”

10 Jesus het dit egter agtergekom en vra hulle toe: “Waarom maak julle dit so moeilik vir hierdie vrou? Sy het immers ’n weldaad aan My gedoen.

11 Die armes sal julle altyd by julle hê, maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie.

12 Toe sy hierdie olie op My uitgegooi het, het sy eintlik my liggaam vir my begrafnis voorberei.

13 Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!”

Judas onderneem om Jesus aan

die volksleiers uit te lewer

14 Toe het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan

15 en gevra: “Wat is julle bereid om my te betaal as ek Jesus aan julle besorg?” Hulle het hom toe 30 silwer geldstukke aangebied.

16 Van toe af was hy op die uitkyk vir ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer.

Jesus stel die nagmaal by sy

laaste paasmaaltyd in

17 Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels vir Jesus kom vra: “Waar wil U hê moet ons die paasmaaltyd vir U voorberei?”

18 Hy antwoord toe: “Gaan stad toe na so en so en sê vir hom: ‘Jesus die Leermeester sê: My tyd het gekom. Ek wil by jou die paasmaaltyd saam met my dissipels eet.’”

19 Die dissipels het toe gedoen soos Jesus hulle beveel het en die paasete voorberei.

20 Teen die aand was Jesus saam met die twaalf aan tafel.

21 Terwyl hulle besig was om te eet, het Hy gesê: “Ek verseker julle, een van julle gaan My uitlewer.”

22 Hulle was geweldig geskok en het Hom die een na die ander gevra: “Dit is tog seker nie ek nie, Here?”

23 Daarop het Jesus gesê: “Dit is die een wat sy hand hier saam met My in die skottel steek, wat My gaan uitlewer.

24 Ek, die Seun van die Mens, moet sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met daardie man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!”

25 Judas, die een wat Hom sou uitlewer, reageer toe en vra: “Dit is tog seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Daar sê jy dit self.”

26 Terwyl hulle besig was om te eet, neem Jesus brood en vra God se seën daarop. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.”

27 En Hy het die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee met die woorde: “Drink almal daaruit,

28 want dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet sodat hulle sondes vergewe kan word.

29 Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek van nou af nie weer wyn sal drink nie totdat Ek opnuut die feeswyn saam met julle sal drink in die koninkryk van my Vader.”

30 Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe.

Jesus voorspel dat Petrus gaan

ontken dat hy sy dissipel is

31 Jesus het toe vir hulle gesê: “Vannag gaan julle almal aanstoot aan My neem. Daar staan immers geskryf:

‘Ek sal die skaapwagter doodmaak

en die skape van die trop

sal uitmekaargejaag word.’

32 “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.”

33 Petrus verseker Hom toe: “Al laat almal U in die steek – ék sal dit nooit doen nie.”

34 Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.”

35 Petrus sê toe vir Hom: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal dit beslis nooit doen nie!” Al die dissipels het dieselfde verklaar.

Jesus se gebedsworsteling in

Getsemane

36 Jesus kom toe saam met hulle by ’n olyftuin met die naam Getsemane en Hy sê: “Sit julle hier, terwyl Ek daar anderkant gaan bid.”

37 Hy neem toe vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom. Daarop oorval ’n groot ontsteltenis en benoudheid Hom.

38 Hy sê toe vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe. Bly julle hier, en waak saam met My.”

39 Hy het toe ’n entjie verder neergeval en met sy gesig plat teen die grond gebid: “O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil.”

40 Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie?

41 Wees waaksaam en bid sodat julle nie in die versoeking kom nie. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”

42 Weer het Hy van hulle af weggegaan en gebid: “My Vader! As hierdie beker nie van My kan weggaan sonder dat Ek dit moet drink nie, laat u wil dan uitgevoer word.”

43 Hy het toe teruggegaan en kry hulle weer aan die slaap. Hulle was so vaak dat hulle oë eenvoudig nie wou oopbly nie.

44 Hy het hulle toe daar gelos en weer weggegaan en dieselfde gebed vir die derde keer gebid.

45 Toe kom Hy na sy dissipels toe en sê: “Slaap en rus julle nog steeds? Die tyd het aangebreek! Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense.

46 Staan op, ons moet gaan! Kyk, my verraaier is hier.”

Jesus word gearresteer

47 Jesus was nog besig om te praat, toe kom Judas, een van die twaalf dissipels, al daar aan, en saam met hom ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk.

48 Sy verraaier het vir hulle ’n uitkenningsteken gegee en gesê: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom!”

49 Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Gegroet, Rabbi!” Toe soengroet hy Hom.

50 Jesus het vir hom gesê: “Vriend, gaan voort met dit waarvoor jy gekom het.” Die ander het toe nadergekom, Jesus gegryp en Hom gearresteer.

51 Skielik het een van Jesus se mense sy swaard uitgepluk, die slaaf van die hoofpriester getref, en sy oor afgekap.

52 “Bêre jou swaard,” sê Jesus vir hom. “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vernietig word.

53 Besef jy nie dat Ek ’n ganse leërmag engele van my Vader sou kon vra en Hy sal hulle oombliklik stuur nie?

54 Maar as Ek dit sou doen, hoe sou die Skrifwoord dan vervul word waarvolgens dit juis op hierdie manier moet gebeur?”

55 Daarop vra Jesus vir die klomp mense: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer waar Ek dag na dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie?

56 Maar dit alles gebeur sodat wat die profete geskryf het, vervul kan word.”

Dit was toe dat al Jesus se dissipels Hom net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom.

Jesus word deur die Joodse Raad

verhoor

57 Die groep wat Jesus gearresteer het, het Hom toe na die woning van Kajafas, die hoofpriester, gebring waar die skrifkenners en die familiehoofde bymekaar was.

58 Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg totdat hy uiteindelik in die binnehof van die hoofpriester se woning beland het. Daar het hy by die dienspersoneel gaan sit om te sien wat gaan gebeur.

59 Die priesterhoofde, trouens die hele Joodse Raad, het vals getuienis teen Jesus probeer kry wat tot sy doodstraf sou lei.

60 En, alhoewel baie hulle kom aanmeld het om vals getuienis teen Jesus te gee, kon hulle geen afdoende getuienis teen Hom kry nie. Eindelik het daar twee gekom

61 en getuig: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan die tempel afbreek en binne drie dae weer opbou.’”

62 Daarop het die hoofpriester opgestaan en vir Jesus gevra: “Het jy niks te sê op hierdie aanklag nie? Wat is hierdie ding wat hulle teen jou getuig?”

63 Maar Jesus het bly swyg.

Toe sê die hoofpriester: “Ek eis nou van jou in die Naam van die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Messias, die Seun van God is.”

64 Jesus het geantwoord: “Ja, dit is soos u sê. Ek verseker julle:

Julle sal My, die Seun van die

Mens,

sien sit aan die regterhand

van God, die Magtige,

en hoe Hy terugkom

op die wolke van die hemel.”

65 Toe skeur die hoofpriester sy klere om te wys hoe geskok hy is en hy roep uit: “Lasterlik! Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het tog nou self hierdie lastering teen God gehoor.

66 Wat is julle bevinding?”

“Hy is skuldig,” antwoord hulle, “hy verdien die doodstraf.”

67 Daarop spoeg hulle Hom in die gesig en slaan Hom met hulle vuiste. Party het Hom geklap en

68 gesê: “Profeteer vir ons, geagte Messias! Wie is dit wat jou nou net geslaan het?”

Petrus ontken dat hy Jesus se

dissipel is

69 Petrus het nog steeds buite in die binnehof gesit. ’n Diensmeisie kom toe nader en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Galileër?”

70 Hy het dit egter voor almal ontken. “Ek weet nie waarvan jy praat nie,” het hy verklaar.

71 Later, toe hy op pad was na die uitgang, sien ’n ander diensmeisie hom raak en sê vir die omstanders: “Hierdie man was ook saam met Jesus van Nasaret.”

72 Weer het hy dit ontken, hierdie keer met ’n eed: “Ek ken hierdie man glad nie!”

73 Nog ’n klein rukkie later kom sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: “Jy is definitief een van hulle; jou aksent verklap jou.”

74 Daarop het Petrus hewig begin vloek en gesê: “Ek sweer voor God, ek ken hierdie man hoegenaamd nie!” Onmiddellik het die haan begin kraai.

75 Skielik het Jesus se woorde deur Petrus se gedagtes geflits: “Voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.” Daarop het hy buitentoe gegaan en hartstogtelik gehuil.

MATTEUS 27

Judas pleeg selfmoord

1 Baie vroeg daardie oggend het al die priesterhoofde en die familiehoofde saam teen Jesus beraadslaag oor hoe hulle moes optree om sy dood te bewerk.

2 Hulle het Hom toe in boeie weggeneem en aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig.

3 Toe Judas, sy verraaier, besef dat Jesus ter dood veroordeel is, het hy bitter spyt gekry en die 30 silwer geldstukke na die priesterhoofde en die familiehoofde teruggevat

4 met die woorde: “Ek het verkeerd gedoen. Ek het ’n onskuldige man uitgelewer!”

Hulle het geantwoord: “Dit raak ons nie. Dis jou probleem.”

5 Judas gooi toe die geld op die tempelvloer neer, draai om en gaan hang homself op.

6 Die hoofpriesters het die geld toe geneem en gesê: “Ons mag dit nie in die tempelskatkis gooi nie, want die bloed van ’n mens kleef aan hierdie geld.”

7 Na ’n samespreking het hulle besluit om die stuk grond van die pottebakker daarmee te koop en dit te gebruik as ’n begraafplaas vir vreemdelinge.

8 Dit is waarom daardie stuk grond nog steeds Bloedgrond genoem word.

9 Daarmee het die woord van die profeet Jeremia in vervulling gegaan: “Hulle het die 30 silwer geldstukke geneem – die prys waarteen hy deur die volk Israel gewaardeer is –

10 en die pottebakker se grond daarmee gekoop, soos die Here my beveel het.”

Jesus deur Pilatus verhoor

11 Jesus het voor Pilatus, die Romeinse goewerneur, verskyn. Die goewerneur het Hom gevra: “Is jy die Koning van die Jode?”

Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”

12 Maar terwyl die priesterhoofde en die familiehoofde beskuldigings teen Hom inbring, het Hy niks geantwoord nie.

13 “Hoor jy dan nie al die ernstige aanklagte teen jou nie?” het Pilatus Hom gevra.

14 Maar tot die goewerneur se uiterste verbasing het Hy Hom op geen enkele punt verweer nie.

15 Dit was gebruiklik dat die goewerneur tydens elke Paasfees een gevangene vir die skare vrylaat. Hulle kon self kies wie dit moes wees.

16 Juis in hierdie tyd was daar ’n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas.

17 Terwyl die skare gevaarlik begin saamdrom, vra Pilatus hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat: Jesus Barabbas of Jesus, die sogenaamde Messias?”

18 Hy het goed besef dat die Joodse leiers Jesus uit naywer aan hom uitgelewer het.

19 Terwyl Pilatus daar op die regbank sit, laat sy vrou hom weet: “Los daardie onskuldige man uit. Ek het laas nag ’n aaklige nagmerrie oor hom gehad.”

20 Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die skare oorreed om te vra dat Barabbas vrygelaat moet word en dat Jesus die doodstraf kry.

21 Toe die goewerneur dus weer vir hulle vra: “Wie van hierdie twee moet ek vir julle vrylaat?” het hulle geskree: “Barabbas!”

22 “Maar as ek Barabbas vir julle vrylaat,” het Pilatus hulle gevra, “wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?” Hulle roep almal: “Hy moet gekruisig word!”

23 “Hoekom?” vra Pilatus. “Watter misdaad het hy dan begaan?”

Maar hulle het al hoe harder begin skree: “Hy moet gekruisig word!”

24 Pilatus het gemerk dat dit hopeloos was, en dat daar ’n oproer aan die kom was. Gevolglik het hy ’n skottel water laat kom en sy hande ten aanskoue van die skare gewas met die woorde: “Ek is onskuldig aan die dood van hierdie man. Dit is op julle rekening.”

25 Die hele volk het teruggeskree: “Ons neem verantwoordelikheid vir sy dood – ons en ons nageslag.”

26 Toe het hy Barabbas vir hulle vrygelaat, maar hy het Jesus aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig.

Die soldate gésel en bespot Jesus

27 Die goewerneur se soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier geneem en die hele regiment teen Hom bymekaargemaak.

28 Hulle stroop Hom toe van sy klere en hang vir Hom ’n pers mantel om.

29 Hulle het ook ’n krans van dorings gevleg en dit op sy kop gesit, en ’n rietsepter in sy regterhand. Toe maak hulle kniebuigings voor Hom en roep spottend: “Ons groet u, o Koning van die Jode!”

30 Boonop het hulle Hom bespoeg en die riet by Hom gegryp en Hom daarmee teen die kop geslaan.

31 Toe hulle moeg geword het van spot dryf met Hom, het hulle die mantel uitgetrek en vir Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig.

Jesus word gekruisig

32 Op pad kom hulle ’n man met die naam Simon teë. Hy was van Sirene afkomstig. Hulle het hom opgekommandeer om Jesus se kruis te dra.

33 Hulle kom toe by die plek aan wat Golgota genoem word – dit beteken Kopbeenkoppie.

34 Hulle gee toe vir Hom ’n mengsel van wyn en bitter kruie om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35 Nadat hulle Jesus gekruisig het, het die soldate sy klere verdeel deur die gooi van dobbelsteentjies.

36 Hulle het daar rondgesit en Hom bewaak.

37 Hulle het ’n plakkaat, met die rede vir Jesus se kruisiging daarop, bokant sy kop vasgesit. Dit het gelui: “Dit is Jesus, die Koning van die Jode.”

38 Daarop het hulle saam met Jesus ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant.

39 Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou:

40 “Toe nou, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou! As jy dan God se Seun is, red jouself en kom van die kruis af!”

41 Die priesterhoofde tesame met die skrifkenners en die familiehoofde het ook gespot en gesê:

42 “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie. Hy is mos die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons in hom glo!

43 Hy het mos op God staatgemaak – as God so danig lief is vir hom, laat Hy dit nou bewys deur hom te red! Hy het tog self beweer: ‘Ek is God se Seun!’”

44 In hierdie selfde trant het selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig.

Jesus sterf

45 Van twaalfuur af het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur die middag.

46 Teen drie-uur het Jesus baie hard uitgeskreeu: “Eli, Eli, lemá sabagtani,” wat beteken: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

47 Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep na die profeet Elia.

48 Een van hulle hardloop toe gou, vat ’n spons, maak dit vol suur wyn en steek dit op die punt van ’n riet om Hom te laat drink.

49 Die ander het egter gesê: “Los hom. Kom ons kyk of Elia hom kom red.”

50 Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

51 Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars.

52 Selfs die grafte het oopgegaan en God het die liggame van baie gelowiges wat reeds dood was, weer lewendig gemaak.

53 Hulle het uit die grafte gegaan, en ná Jesus se opstanding het hulle die heilige stad Jerusalem binnegegaan en aan baie mense verskyn.

54 Die Romeinse offisier oor honderd en die ander soldate wat Jesus bewaak het, het baie beangs geword toe hulle die aardbewing en die ander gebeurtenisse sien, en hulle het gesê: “Hierdie man was werklikwaar die Seun van God!”

55 Baie vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het, het alles op ’n afstand dopgehou.

56 Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die ma van Jakobus en Josef, en die vrou van Sebedeus, die ma van Jakobus en Johannes.

Jesus word in ’n rykmansgraf

begrawe

57 Laat daardie middag het Josef, ’n ryk man van Arimatea, daar opgedaag. Hy was self ook ’n dissipel van Jesus.

58 Hy het Pilatus genader en gevra of hy Jesus se liggaam kon kry. Pilatus het toe ’n bevel uitgereik dat dit aan hom oorhandig moes word.

59 Josef het Jesus se liggaam toe in ontvangs geneem en dit in ’n nuwe stuk linne toegedraai.

60 Hy het dit in sy eie, nuwe graf gelê wat hy in die rots laat uitkap het. En nadat hy ’n groot klip voor die ingang gerol het, het hy weggegaan.

61 Intussen het Maria Magdalena en die ander Maria daar reg voor die graf se ingang bly sit.

Jesus se graf word bewaak

62 Die volgende dag – dit was die dag ná die Vrydag – het die priesterhoofde en die Fariseërs met Pilatus gaan praat.

63 Hulle het vir hom gesê: “U Edele, ons onthou hierdie bedrieër het, toe hy nog gelewe het, gesê: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opstaan.’

64 Daarom versoek ons u om opdrag te gee dat die graf vir drie dae bewaak word. Dit sal sy dissipels verhinder om sy liggaam te kom steel en vir almal te vertel: ‘God het Hom uit die dood opgewek.’ As dit gebeur, sal dinge nog slegter daaraan toe wees as voorheen.”

65 Pilatus het geantwoord: “Hier is ’n wag vir julle. Gaan beveilig die graf so goed moontlik.”

66 Hulle het toe die graf gaan beveilig deur die klip te verseël en dit deur die wagte te laat oppas.

MATTEUS 28

Jesus het opgestaan!

1 Vroeg Sondagmôre, terwyl dit begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.

2 Skielik was daar ’n geweldige aardbewing omdat daar ’n engel van die hemel af gekom, die klip voor die graf weggerol en daarop gaan sit het.

3 Sy gesig het geblink soos weerlig en sy klere was sneeuwit.

4 Die wagte het van angs begin bewe oor die engel en toe soos dooies bewusteloos neergeslaan.

5 Daarop het die engel die vroue aangespreek met die woorde: “Julle hoef nie bang te wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.

6 Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het. Kom kyk, hier het sy liggaam gelê.

7 En gaan sê nou dadelik vir sy dissipels: ‘Jesus is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle solank vooruit Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien.’ Julle kan reken op wat ek vir julle sê.”

8 Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan. Oorstelp van skok, maar nog meer van ’n ontsaglike blydskap, het hulle gehardloop om die boodskap aan sy dissipels te gaan gee.

9 En toe, meteens, daar staan Jesus voor die vroue, en Hy sê: “Goeiedag, almal!” Hulle hardloop na Hom toe, gryp sy voete vas en aanbid Hom.

10 Daarop sê Jesus vir hulle: “Julle hoef nie bang te wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet Galilea toe gaan en hulle sal My daar sien.”

Die wagte versprei die storie dat

Jesus se liggaam gesteel is

11 Terwyl die vroue op pad was, het sommige lede van die wag in die stad ingegaan en vir die priesterhoofde alles vertel wat gebeur het.

12 Hulle het toe saam met die familiehoofde beraadslaag.

13 Hulle het vir die soldate ’n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: “Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel.’

14 As die goewerneur hiervan hoor, sal ons hom gerusstel. Ons sal sorg dat julle julle nie hoef te kwel nie.”

15 Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is. Hierdie storie is toe onder die Jode versprei en word oorvertel tot vandag toe.

Jesus gee sy finale opdrag aan

sy dissipels

16 Die elf dissipels het toe na Galilea gegaan, na die berg soos Jesus hulle beveel het.

17 Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, alhoewel party van hulle nog getwyfel het.

18 Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels: “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.

19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

MARKUS 1

1 Johannes die Doper maak die

pad vir die Seun van God gereed

Hier begin die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus, die Seun van God.

2 In die boek van die profeet Jesaja staan geskryf:

“Kyk, Ek stuur my boodskapper

voor jou uit.

Hy sal die pad vir jou

regmaak.

3 Hy is ’n stem wat uitroep

in die woestyn:

‘Kry die Here se pad gereed.

Maak vir Hom ’n hoofweg.’”

4 Hierdie boodskapper was Johannes die Doper. Hy het in die woestyn opgetree en gepreek dat die mense hulle moes laat doop as teken dat hulle tot inkeer gekom het en so vergifnis van sonde ontvang het.

5 Skares mense van Jerusalem en van oor die hele Judea het na Johannes toe gekom, en nadat hulle hulle sondes bely het, het hy hulle in die Jordaanrivier gedoop.

6 Johannes se klere was van kameelhaar en hy het ’n leerbelt om sy middel gedra. Hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.

7 Hy het aangekondig: “Daar kom Iemand ná my wat belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers werd is om soos ’n slaaf te buk en sy sandale los te maak nie.

8 Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Jesus word deur Johannes

gedoop

9 Ongeveer daardie tyd het Jesus van Nasaret in Galilea af gekom en is Hy deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop.

10 Dadelik toe Jesus uit die water opstaan, sien Hy hoe die hemel oopgaan en die Heilige Gees soos ’n duif na Hom toe afkom.

11 En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.”

Jesus word deur Satan versoek

12 Dadelik hierna het die Heilige Gees Jesus na die woestyn laat gaan.

13 Hy was daar vir 40 dae terwyl Hy deur Satan versoek is. Hy was daar saam met die wilde diere, en engele het Hom versorg.

Jesus maak vissers sy eerste

dissipels

14 Later, nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea toe gegaan om God se Goeie Nuus aan te kondig.

15 Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek. God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin! Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus!”

16 Op ’n dag terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy hoe Simon en sy broer Andreas hulle visnette in die see uitgooi, want hulle was vissers van beroep.

17 Jesus het na hulle geroep: “Kom, word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak!”

18 En hulle het dadelik hulle nette gelos en saam met Hom gegaan.

19 ’n Entjie verder langs die strand het Jesus die twee seuns van Sebedeus, Jakobus en Johannes, in ’n skuit gesien terwyl hulle besig was om hulle nette heel te maak.

20 Hy het hulle ook geroep, en dadelik het hulle hulle pa en sy werksmense net so gelos en saam met Jesus gegaan.

Jesus genees iemand met ’n

onrein gees

21 Jesus en sy dissipels het in Kapernaum aangekom. Op die Sabbatdag het Hy dadelik na die sinagoge toe gegaan en Hy was besig om daar onderrig te gee.

22 Hulle was verbaas oor sy onderrig, want Hy het onderrig gegee soos iemand met ware gesag – heeltemal anders as die skrifkenners.

23 Skielik was daar in hulle sinagoge ’n man met ’n onrein gees wat begin uitroep:

24 “Los ons uit, Jesus van Nasaret! Het jy gekom om ons te vernietig? Ek ken jou – jy is die Heilige van God!”

25 Maar Jesus het hom bestraf en beveel: “Bly stil, en gaan uit hom uit!”

26 Daarop het die onrein gees hom stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en uit hom uitgegaan.

27 Hulle was almal verstom en het mekaar opgewonde begin uitvra: “Wat gaan hier aan? Watter nuwe soort lering is dit hierdie? Dit het soveel gesag! Selfs onrein geeste luister na sy opdragte!”

28 Die nuus oor wat Jesus gedoen het, het dadelik deur die hele omgewing van Galilea versprei.

Jesus maak Petrus se skoonma

en baie ander siekes gesond

29 Nadat Jesus en sy dissipels uit die sinagoge gekom het, het hulle dadelik na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle.

30 Simon se skoonma was siek in die bed vanweë ’n hoë koors. Hulle het dadelik vir Jesus van haar vertel.

31 Hy het toe na haar bed toe gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors was weg en sy het vir hulle ’n ete voorberei.

32 Teen sononder daardie aand is baie siekes en mense wat onder die mag van bose geeste was, na Hom gebring.

33 Die hele Kapernaum het by die deur saamgedrom om alles te sien.

34 Jesus het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie duiwels uit die mense gedryf, maar omdat hulle geweet het wie Hy is, het Hy hulle die swye opgelê.

Jesus preek deur die hele Galilea

35 Nog voor dagbreek die volgende oggend het Jesus opgestaan en alleen op ’n stil plek gaan bid.

36 Later het Simon en die ander mense by hom agter Jesus aan gegaan

37 en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal vra na U.”

38 Jesus het egter geantwoord: “Ons moet ook nog verder gaan na die omliggende dorpe sodat Ek ook daar kan preek. Dit is immers waarvoor Ek gekom het.”

39 So het Hy dan deur die hele Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedryf.

Jesus maak ’n melaatse man

gesond

40 ’n Man met ’n ernstige velsiekte het na Hom toe gekom, voor Hom gekniel en Hom gesmeek met die woorde: “As U wil, kan U my gesond maak.”

41 Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak met die woorde: “Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!”

42 Net daar het die ernstige velsiekte verdwyn – die man was gesond.

43 Jesus het hom toe dadelik weggestuur nadat Hy hom ernstig aangespreek het met die woorde:

44 “Sorg dat jy met niemand langs die pad praat nie. Gaan reguit na die priester. Laat hy jou ondersoek. En bring die offer wat die wet van Moses vereis vir ernstige velsiektes wat genees is. So sal almal ’n duidelike bewys hê van jou genesing.”

45 Maar die man het weggegaan en die nuus van wat met hom gebeur het, oral versprei. Gevolglik het soveel mense Jesus begin omring dat dit vir Hom onmoontlik geword het om openlik in enige dorp in te gaan. Hy moes buite in afgeleë plekke bly. Tog het mense steeds van oral na Hom toe gekom.

MARKUS 2

Jesus vergewe en genees ’n

verlamde persoon

1 Toe Jesus ná ’n hele aantal dae na Kapernaum terugkeer, het dit rugbaar geword dat Hy weer by die huis is.

2 Gou-gou was die huis so vol mense dat daar vir niemand meer plek was nie, selfs nie voor die deur nie. Jesus was besig om die Goeie Nuus aan hulle te vertel.

3 Daar daag toe vier mans by Hom op wat ’n verlamde persoon op ’n mat dra.

4 As gevolg van die baie mense kon hulle hom nie tot by Jesus bring nie. Daarom het hulle ’n gat deur die dak bokant Jesus se kop gemaak. Toe laat hulle die mat waarop die sieke gelê het, deur die dak sak.

5 Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man: “My seun, jou sondes word vergewe.”

6 Maar party van die skrifkenners wat daar gesit het, het by hulleself gedink:

7 “Wat? Dis tog laster! Net God kan sondes vergewe!”

8 Jesus het sonder meer geweet wat hulle dink en sê toe vir hulle: “Waarom dink julle dit is laster?

9 Wat is makliker – om vir die verlamde te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op, tel jou bed op en loop’?

10 Ek gaan nou vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die gesag het om sondes op aarde te vergewe.” Daarop sê Jesus vir die verlamde man:

11 “Ek beveel jou, staan op, vat jou mat en gaan na jou huis toe!”

12 Net daar het die man opgespring, sy mat geneem en voor almal se oë buitentoe gegaan. Hulle was almal verstom en het God geprys en uitgeroep: “So iets het ons nog nooit tevore gesien nie!”

Jesus roep vir Levi die tollenaar

om sy dissipel te word

13 Jesus het toe weer na die strand toe gegaan. ’n Hele skare mense het na Hom toe gekom, en Hy was besig om hulle te onderrig.

14 Terwyl Hy aanstap, sien Hy vir Levi, die seun van Alfeus, by die tolhokkie sit en Hy sê vir hom: “Kom, word my dissipel.” Hy het opgestaan en ’n dissipel van Jesus geword.

15 Levi het Jesus en sy dissipels genooi om saam met sy medetollenaars en ander berugte sondaars by hom te kom eet. (Daar was baie van hierdie mense wat agter Jesus aan gekom het.)

16 Toe sommige van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs sien dat Hy saam met sulke berugte sondaars en tollenaars eet, het hulle vir sy dissipels gesê: “Hoe kan julle leermeester saam met sulke immorele karakters eet?”

17 Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: “Gesonde mense het die dokter nie nodig nie – die siekes wel. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.”

Jesus se mense moenie vas nie,

maar feesvier

18 Johannes se dissipels en die Fariseërs het gereeld gevas. Daar kom toe mense vir Jesus vra: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs gereeld, maar jou dissipels vas nie?”

19 Jesus het hulle geantwoord: “Dis tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal vas terwyl die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Hulle kan nie vas solank hulle die bruidegom by hulle het nie.

20 Maar daar kom ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas.

21 Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat.

22 Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, gaan die wyn die sakke laat skeur en die wyn sowel as die sakke sal daarmee heen wees. Nee, nuwe wyn hoort in nuwe sakke!”

Mense is baie belangriker as

sabbatswette

23 Een Sabbatdag, terwyl Jesus deur die koringlande geloop het, het sy dissipels so al lopende are afgepluk om te eet.

24 Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Kyk wat doen hulle! Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.”

25 Jesus se reaksie was: “Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy in die nood verkeer het en hy en sy mense honger was nie?

26 Hy het tydens die hoofpriesterskap van Abjatar in die huis van God gegaan en wederregtelik van die offerbrood geëet wat vir die priesters bedoel was; en hy het ook daarvan vir sy mense gegee.”

27 Toe sê Hy vir hulle: “Die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie.

28 Daarom het Ek, die Seun van die Mens, seggenskap ook oor die Sabbat.”

MARKUS 3

Jesus maak iemand op die

Sabbat gesond

1 Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was ’n man met ’n misvormde hand.

2 Omdat dit op die Sabbat was, het Jesus se vyande Hom fyn dopgehou. Sou Hy die man se hand op die Sabbat gesond maak? Indien wel, sou hulle Hom kon aankla.

3 Hy sê toe vir die man met die misvormde hand: “Kom staan hier in die middel.”

4 Daarna sê Hy vir sy teenstanders: “Mag ’n mens goeddoen op die Sabbat of kwaad? Is hierdie dag bedoel om ’n lewe te red of te vernietig?” Maar hulle wou Hom nie antwoord nie.

5 Terwyl hulle so rondom Hom staan, het Hy hulle die een na die ander met verontwaardiging aangekyk, diep bedroef oor die gevoelloosheid van hulle harte. Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.”

Hy het dit uitgesteek, en sy hand het gesond geword.

6 Dadelik het die Fariseërs uitgegaan en saam met Herodes se ondersteuners gaan beplan hoe hulle Jesus gaan doodmaak.

Groot skares kom na Jesus toe

7 Jesus het saam met sy dissipels na die see toe gegaan. ’n Groot skare het agter Hom aangekom – van Galilea, Judea,

8 Jerusalem, Idumea, oorkant die Jordaan, en selfs van so ver as Tirus en Sidon. Die nuus van wat Hy gedoen het, het wyd versprei en ’n groot menigte mense het na Hom toe gekom.

9 Jesus het aan sy dissipels opdrag gegee om ’n bootjie vir Hom gereed te hou om te voorkom dat die skare Hom vertrap.

10 Hy het daardie dag baie mense gesond gemaak met die gevolg dat almal met die een of ander kwaal Hom oorval het sodat hulle aan Hom kon raak.

11 Telkens wanneer dié wat van onrein geeste besete was Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskree: “Jy is die Seun van God!”

12 Maar Jesus het hulle streng gewaarsku om nie te sê wie Hy is nie.

Jesus kies twaalf apostels om

koninkrykswerk te doen

13 Hierna het Jesus teen ’n berg opgegaan en dié na Hom toe geroep wat Hy by Hom wou hê. En hulle het na Hom toe gekom.

14 Hy het twaalf gekies om gereeld by Hom te wees en hulle apostels genoem. Hy wou hulle stuur om te gaan preek,

15 en om met volmag duiwels uit te dryf.

16 Hier volg die name van die twaalf wat Hy gekies het:

Simon (Jesus het sy naam verander

na Petrus),

17 Jakobus en Johannes (die seuns

van Sebedeus, maar Jesus het hulle

die bynaam “Seuns van die

Donder” gegee),

18 Andreas,

Filippus,

Bartolomeus,

Matteus,

Tomas,

Jakobus (die seun van Alfeus),

Taddeus, Simon (die Yweraar),

19 Judas Iskariot (wat Hom later

uitgelewer het).

Jesus se vyande beweer Hy is

van die duiwel besete

20 Toe Jesus huis toe gaan, het daar weer ’n skare saamgedrom sodat Hy en sy dissipels nie eers meer tyd kon kry om te eet nie.

21 Toe Jesus se familie daarvan hoor, wou hulle Hom wegvat, want hulle het gesê: “Hy is skoon van sy verstand af.”

22 Die skrifkenners wat van Jerusalem af gekom het, het egter gesê: “Beëlsebul, die baasduiwel, is in hom. Dit is deur hierdie baasduiwel dat hy die bose geeste uitdryf.”

23 Jesus het die mense nadergeroep en deur middel van gelykenisse op hierdie beskuldiging gereageer. “Hoe kan Satan homself uitdryf?” het Hy gevra.

24 “’n Koninkryk wat teen homself stryd voer, kan tog nie staande bly nie!

25 En as daar onderlinge stryd in ’n huisgesin heers, kan daardie huisgesin dit tog nie oorleef nie!

26 Net so, as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld raak, kan hy nie bly staan nie; dit sal klaar wees met hom.

27 Jy kan tog sekerlik nie sommer in die huis van ’n sterk man ingaan om sy besittings te roof tensy jy hom vooraf vasbind nie. Eers as jy dit gedoen het, sal jy hom kan beroof.

28 “Ek verseker julle, elke sonde, ja, selfs elke lastering wat mense uitspreek, sal hulle vergewe word,

29 maar wie teen die Heilige Gees laster, sal tot in ewigheid nie vergifnis kry nie. So iemand sal vir altyd skuldig bly.”

30 Dit het Jesus gesê omdat hulle beweer het dat daar ’n onrein gees in Hom was.

Jesus se ware gesinslede is hulle

wat aan God gehoorsaam is

31 Jesus se ma en broers het juis toe daar aangekom. Hulle het buite bly staan en vir Hom laat weet dat Hy na hulle toe moes kom.

32 Daar het ’n skare rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u ma en u broers en u susters staan buite en vra na U!”

33 Jesus het geantwoord: “Wie is regtig my ma en my broers?”

34 Daarop kyk Hy na dié wat so rondom Hom sit, en Hy sê: “Julle is my ma en my broers.

35 Elkeen wat aan God gehoorsaam is, is my eintlike gesinslede.”

MARKUS 4

Gelykenis van die boer en sy

saad

1 Jesus het toe weer die mense op die strand begin onderrig. Daar drom toe so ’n reuse skare om Hom saam dat Hy in ’n skuit wat op die water vasgemeer was, gaan sit het terwyl die hele menigte op die strand was.

2 Hy het hulle toe breedvoerig deur middel van gelykenisse onderrig. Hier volg ’n tipiese gelykenis:

3 “Luister nou goed,” het Jesus gesê. “’n Boer het eendag lande toe gegaan om te saai.

4 In die saaiproses het party van die saad op ’n voetpaadjie geval en die voëls het dit kom oppik.

5 ’n Ander deel het weer op klipperige aarde sonder enige diepte geval. As gevolg van die vlak grond het dit vinnig opgeskiet.

6 Maar toe die son warm begin bak, het dit verlep en omdat dit nie diep wortelgeskiet het nie, het dit toe heeltemal verdroog.

7 Nog ’n deel het tussen die dorings geval. Toe die dorings opkom, het dit die koring verstik en dit het geen oes voortgebring nie.

8 Nog ander saad het op goeie grond geval. Dit het opgekom, gegroei en ’n oes voortgebring – tot 30 en 60 en 100 maal wat oorspronklik gesaai is.

9 Elkeen wat kan hoor,” het Jesus gesê, “moet goed luister na wat Ek sê.”

Waarom Jesus gelykenisse

gebruik

10 Later, toe Jesus alleen was saam met die twaalf dissipels en sy ander mense, het hulle Hom uitgevra: “Wat beteken hierdie gelykenisse?”

11 Jesus het hulle geantwoord: “Julle word bevoorreg om die geheim van God se koningsheerskappy te verstaan. Maar vir die buitestanders bly hierdie dinge blote gelykenisse sodat die Skrifwoord vervul kan word:

12 ‘Sodat hulle sien wat Ek doen,

maar nie die bedoeling daarvan

verstaan nie;

sodat hulle my woorde hoor,

en dit tog nie begryp nie;

sodat hulle nie van hulle

sondes wegdraai

en vergewe word nie.’”

Jesus verklaar die gelykenis van

die saaier

13 Hy sê toe vir hulle: “As julle nie hierdie gelykenis verstaan nie, hoe sal julle al die ander begryp wat Ek vir julle gaan vertel?

14 Die boer waarvan Ek julle vertel het, is die een wat die saad van die woord uitstrooi.

15 Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, staan vir die mense wat die woord hoor, maar dan kom Satan dadelik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg.

16 En hulle by wie op klipperige grond gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor en dit dadelik vol blydskap aanneem.

17 Maar soos dit met jong plantjies in sulke grond gaan, skiet hulle nie diep wortel nie. Hulle hou net vir ’n rukkie. Sodra daar probleme of vervolging ter wille van die Goeie Nuus kom, struikel hulle dadelik in die geloof.

18 Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, staan vir die mense wat die woord hoor,

19 maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die woord, en dit bly sonder vrug.

20 Maar hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is die mense wat die woord hoor en dit aanneem en ’n groot oes oplewer – party 30, party 60, party selfs 100 maal wat oorspronklik gesaai is.”

’n Lamp wat brand, moet gesién

word

21 Jesus het vir hulle gesê: “’n Lamp is tog sekerlik nie bedoel om onder ’n emmer of onder ’n bed gesit te word nie. Dis mos bedoel om op ’n lampstaander gesit te word waar dit sy lig kan versprei.

22 “Alles wat nou geheim is, sal bekendgemaak word. Alles wat nou verborge is, sal aan die lig kom.

23 Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê.”

24 Hy het ook vir hulle gesê: “Maak seker dat julle goed aandag gee aan wat julle van My hoor. Hoe meer julle luister, hoe meer sal julle verstaan – en julle sal boonop nog meer ontvang.

25 Wie hulle oopstel vir my onderrig – vir hulle sal nog meer gegee word. Maar wie dit nie doen nie – van hulle sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.”

Die gelykenis van die saad wat

stilweg groei

26 Jesus het ook gesê: “God se koningsheerskappy is soos ’n boer wat saad op sy land saai.

27 Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie.

28 Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar.

29 En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar.”

Die gelykenis van die

mosterdsaad

30 “Waarmee kan Ek die koningsheerskappy van God vergelyk?” het Jesus gevra. “En met watter gelykenis sal ons dit toelig?

31 Dis soos ’n mosterdsaadjie wat wel die kleinste van alle sade is,

32 maar nadat dit geplant is, skiet dit op en word groter as al die plante in die tuin. Dit maak takke wat so groot word dat die voëls veilig daarin kan kom nes maak.”

Jesus se onderrig bestaan uit

gelykenisse

33 Jesus het baie sulke gelykenisse gebruik om die woord aan die mense te bedien volgens wat hulle kon verstaan.

34 Eintlik het Hy in sy openbare onderrig net gelykenisse gebruik, maar wanneer Hy agterna alleen was saam met sy dissipels, het Hy alles vir hulle verder verduidelik.

Jesus kalmeer die storm

35 Teen die aand sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”

36 Hulle het die skare toe agtergelaat en Jesus – Hy was immers alreeds in die skuit – sommer net so saamgeneem (alhoewel daar ander skuite agternagekom het).

37 Daar het ’n hewige stormwind opgekom. Groot golwe het teen die skuit gebreek, met die gevolg dat dit alreeds vol water begin word het.

38 Jesus het agter in die skuit gelê en slaap met sy kop op ’n kussing. Sy dissipels maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Leermeester, gee U nie om dat ons besig is om te vergaan nie?”

39 Jesus het opgestaan, die stormwind ernstig aangespreek en vir die see gesê: “Bedaar! Word kalm!” Toe het die wind gaan lê en daar het ’n groot rustigheid gekom.

40 Hy vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?”

41 Hulle was heeltemal oorweldig en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see luister na Hom!”