MATTEUS 3

Johannes die Doper berei die

Koning se pad voor

1 Op ’n dag verskyn Johannes die Doper in die woestyn van Judea en kondig God se boodskap aan

2 deur te sê: “Kom tot inkeer! God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!”

3 Jesaja het juis van Johannes gepraat toe hy gesê het:

“Hy is ’n stem wat uitroep

in die woestyn:

‘Kry die Here se pad gereed!

Maak vir Hom ’n hoofweg!’”

4 Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra, met ’n leerbelt om sy middel. Hy het van sprinkane en veldheuning gelewe.

5 Kort voor lank begin daar toe mense uit Jerusalem en uit die hele Judea en Jordaanomgewing na hom toe stroom.

6 En nadat hulle hulle sondes bely het, het hy hulle in die Jordaanrivier gedoop.

7 Toe Johannes besef hoeveel Fariseërs en Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, het hy hulle soos volg berispe: “Julle broeisel slange! Wie het julle wysgemaak dat julle God se dreigende oordeel kan vryspring?

8 Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het.

9 En moet tog nie julleself mislei nie met die gedagte: ‘Ons is veilig. Ons is mos die nageslag van Abraham.’ Weet verseker, God kan selfs die klippe wat hier rondlê in kinders van Abraham verander.

10 “Die byl van God se oordeel lê al teen die bome se wortel, gereed om julle heeltemal uit te kap. God gaan elke boom wat nie gesonde vrugte dra nie, afkap en in die vuur gooi.

11 “Ek doop julle wel met water as teken van julle bekering. Maar ná my kom daar Iemand wat baie belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers goed genoeg is om soos ’n slaaf sy sandale vir Hom aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

12 Sy oesvurk is in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deeglik skoonmaak. Hy sal sy koring in sy skuur bymekaarmaak, maar die kaf sal Hy in die vuur verbrand wat nooit geblus sal word nie.”

Jesus word gedoop

13 Op ’n dag het Jesus van Galilea af by die Jordaanrivier aangekom om deur Johannes gedoop te word.

14 Maar Johannes wou Hom keer. “Ú behoort mý tog veel eerder te doop,” het hy gesê. “Dit is ongehoord dat U nou na my toe kom!”

15 Maar Jesus het hom geantwoord: “Wag nou! Ons moet God se wil juis op hierdie manier gehoorsaam.” Daarop het Johannes ingestem en Hom gedoop.

16 Ná Jesus se doop het Hy dadelik uit die water geklim. Net daar gaan die hemel toe vir Hom oop, en Hy sien hoe die Gees van God soos ’n duif op Hom afdaal.

17 Daar kom toe ’n stem uit die hemel wat sê: “Hý is my geliefde Seun, ’n Kind so na my hart.”

MATTEUS 4

Jesus weerstaan die duiwel

1 Daarop het die Gees Jesus die woestyn ingelei om deur die duiwel versoek te word.

2 Nadat Hy vir 40 dae en 40 nagte gevas het, het Hy naderhand baie honger begin word.

3 Toe kom die versoeker na Hom toe en sê vir Hom: “As jy dan die Seun van God is, beveel hierdie klippe om brode te word.”

4 Maar Jesus het hom geantwoord: “Nee! Daar staan in die Skrif geskryf:

‘’n Mens het meer as brood nodig

om van te lewe.

Wat jy eintlik nodig het,

is om te leef van elke woord

uit God se mond.’”

5 Daarna neem die duiwel Hom Jerusalem toe en laat Hom op die hoogste spits van die tempel staan.

6 Toe sê hy vir Hom: “As jy regtig die Seun van God is, spring dan hier af. Daar staan mos in die Skrif geskryf:

‘God sal aan sy engele opdrag gee

om jou te beskerm.

En hulle sal jou op die hande

dra

sodat jy nie dalk jou voet

teen ’n klip stamp nie.’”

7 Jesus het hom geantwoord: “Daar staan ook geskrywe:

‘Jy mag die Here jou God

nie versoek nie.

En Hom alleen moet jy dien.’”

8 Vervolgens neem die duiwel Hom na die top van ’n baie hoë berg en wys vir Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en praal.

9 Daarop sê hy vir Jesus: “Dit alles sal ek vir jou gee. Al wat jy moet doen, is om neer te kniel en my te aanbid.”

10 Toe sê Jesus vir hom: “Trap, Satan! Daar staan in die Skrif: ‘Jy moet die Here jou God aanbid en Hom alleen dien.’”

11 Daarna het die duiwel die aftog geblaas. En daar het engele na Hom toe gekom en Hom versorg.

Jesus begin met sy bediening

12 Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes gearresteer het, het Hy Judea verlaat en na Galilea teruggekeer.

13 Hy het uit Nasaret weggetrek en gaan woon in Kapernaum aan die See van Galilea, in die gebied van Sebulon en Naftali.

14 So is die woord van die profeet Jesaja vervul:

15 “Die land van Sebulon

en die land van Naftali

langs die See van Galilea

en die Transjordaan:

Galilea waar so baie

nie-Jode woon –

16 die volk wat in die donker sit,

het ’n helder lig gesien.

En vir dié in die skemerland

van die dood –

vir hulle het ’n lig

opgegaan.”

17 Van toe af het Jesus begin om God se boodskap aan te kondig met die woorde: “Kom tot inkeer! God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!”

Jesus kies sy eerste dissipels

18 Op ’n dag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers, Simon, ook bekend as Petrus, en sy broer Andreas. Hulle was besig om nette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep.

19 Daarop sê Hy vir hulle: “Kom! Word my dissipels, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

20 Dadelik het hulle hulle nette gelos en Jesus se dissipels geword.

21 ’n Entjie verder het Hy twee ander broers gesien: Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in die boot besig om saam met hulle pa aan hulle nette te werk. Daarop roep Hy hulle om ook te kom.

22 Sommer net daar het hulle die boot en hulle pa gelos en Jesus se dissipels geword.

23 Jesus het deur die hele Galilea rondgegaan. Hy het die mense in hulle sinagoges onderrig, die Goeie Nuus van God se koningsheerskappy aangekondig en elke siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.

24 Kort voor lank het die nuus oor Hom oor die hele provinsie van Sirië versprei. Die mense het almal wat siek was na Hom toe gebring: dié wat geteister was deur allerhande siektes en pyne, dié in wie daar duiwels was, epileptici, verlamdes – en Hy het hulle gesond gemaak.

25 ’n Groot skare uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en die Transjordaan het Hom begin volg.

MATTEUS 5

Jesus se Bergpreek

1 Toe Jesus die groot skare mense bymekaar sien, het Hy teen die berg uitgeklim. Toe Hy gaan sit, kom sy dissipels na Hom toe.

2 Hy het begin om hulle soos volg te onderrig:

Hoe burgers van God se

koninkryk lyk

3 “Gelukkig is dié mense

wat weet hoe nodig hulle God

het,

want die koninkryk van die

hemele is húlle deel.

4 Gelukkig is die treurendes,

want God sal self hulle trane

afvee.

5 Gelukkig is dié wat sag van hart is,

want die nuwe aarde

sal hulle erfporsie wees.

6 Gelukkig is dié wat honger

en dors na wat voor God reg is,

want Hy sal hulle

hartsverlange bevredig.

7 Gelukkig is dié wat met ontferming

uitreik na mense in nood,

want God sal Hom

oor húlle ontferm.

8 Gelukkig is dié wie se harte

volkome op God gerig is,

want hulle sal vir God sien.

9 Gelukkig is die vredemakers,

want God sal vir hulle sê:

‘Julle is mý kinders.’

10 Gelukkig is dié wat vervolg word

ter wille van wat voor God reg is,

want die koninkryk van die

hemele is húlle deel.

11 “Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is.

12 Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon. Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.”

Die taak van Jesus se volgelinge

13 “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word.

14 Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!

15 ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.

16 Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Jesus se volgelinge en God se

wet

17 “Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ’n streep deur die wet of die profete te trek nie. Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom.

18 Ek verseker julle, al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is.

19 “As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se koninkryk. Maar as jy God se wet tot in sy kleinste detail respekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in sy koninkryk.

20 “Want Ek sê vir julle, as julle nie die skrifkenners en die Fariseërs oortref in hoe julle God se wil uitleef nie, sal julle beslis nie toegelaat word in sy koninkryk nie.”

Oor kwaad word en vrede maak

21 “Julle het gehoor dat vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie. As jy moord pleeg, sal jy voor die regbank rekenskap moet gee.’

22 Maar Ek sê vir julle, elkeen wat vir sy medemens kwaad bly, sal al klaar voor die regbank moet verantwoording doen. As jy vir iemand sê ‘jou gek’, sal jy jou voor die hoogste regbank moet verantwoord. En as jy vir iemand sê ‘jou onnosel’, sal jy jou in die hel moet verantwoord.

23 “As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ’n grief teen jou koester,

24 los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer.

25 “Sorg dat jy baie gou op goeie voet met jou teenstander kom; anders gaan daardie persoon jou aan die regter oorhandig, en die regter oorhandig jou aan die hofbeampte en jy word in die tronk gegooi.

26 “Ek verseker jou, jy gaan beslis nie daar uitkom voordat jy elke sent afbetaal het nie.”

Huweliksontrou begin by jou

oog

27 “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’

28 Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ’n wellustige oog na ’n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg.

29 En as jou regteroog jou laat struikel, pluk dit liewer uit en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter dat een van jou liggaamsdele tot niet gaan as dat jou hele liggaam in die hel eindig.

30 Net so, as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om net een van jou liggaamsdele te verloor as dat jou hele liggaam in die hel eindig.”

Egskeiding is ’n uiters ernstige

saak

31 “Daar is gesê: ‘Al wat ’n man nodig het om van sy vrou te skei is om aan haar ’n skeisertifikaat te oorhandig.’

32 Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor huweliksontrou, veroorsaak dat sy egbreuk pleeg. En elkeen wat met so ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Wees mense van julle woord

33 “Verder het julle gehoor dat daar vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie ’n vals eed aflê nie. Jy moet ’n eed wat jy voor die Here gesweer het, nakom.’

34 Maar Ek sê vir julle, julle moet glad nie sweer nie.

“As jy sê: ‘Ek sweer by die hemel,’ dan is dit nog steeds ’n heilige eed omdat die hemel God se troon is.

35 As jy sê ‘by die aarde’, is dit heilig omdat die aarde ’n rusplek vir God se voet is. En as jy sê ‘by Jerusalem’, is dit heilig omdat Jerusalem die stad van God, die groot Koning, is.

36 Moet selfs nie sê: ‘Ek sweer by my kop’ nie, want jy kan nie eers een haar daarvan wit of swart maak nie.

37 “Sorg dat julle ja altydjably en julle nee altydnee. Enigiets meer as dit is uit die bose.”

Moenie wraak neem nie –

oorwin die kwaad met die goeie

38 “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’

39 Maar Ek sê vir julle, julle moet julle nie teen ’n slegte mens verset nie. As mense jou op jou regterwang klap, draai vir hulle ook jou ander wang.

40 En gee vir hulle wat jou hof toe wil vat omdat hulle jou onderkleed wil hê, ook jou bo-kleed.

41 As ’n soldaat jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer ver.

42 “Géé vir die een wat iets van jou vra, en moenie jou rug draai op iemand wat by jou wil leen nie.”

Julle liefde moet sonder grense

wees

43 “Julle het gehoor dat gesê is: ‘Jy moet jou eie mense liefhê, maar jy hoef nie jou vyand lief te hê nie.’

44 Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg.

45 Só sal julle optree soos ware kinders van julle hemelse Vader. Hy laat immers sy son opgaan oor slegtes en goeies. En Hy laat sy reën val op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen.

46 “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter beloning is daar dan vir julle? Selfs korrupte tollenaars doen presies dieselfde.

47 En as julle net julle eie mense groet, wat besonders doen julle dan? Doen die ongelowiges nie ook maar dieselfde nie?

48 “Wees julle dan volkome in julle liefde, soos julle hemelse Vader volkome in sý liefde is. Hy het mos álle mense lief.”

MATTEUS 6

Sonder groot vertoon uitreik na

mense in nood

1 “Wees versigtig! Moenie julle praktiese godsdiens in die openbaar beoefen sodat almal julle bewonder nie. Anders gaan julle julle beloning by julle hemelse Vader misloop.

2 Wanneer jy iemand in nood help, moenie ’n groot okkasie daarvan maak nie. Dis wat die skynheiliges in die sinagoges en op die strate doen om deur die mense opgehemel te word. Ek verseker julle, dis al beloning wat hulle ooit sal kry.

3 Maar as jy mense in nood help, doen dit sonder groot vertoon.

4 So sal jou hulpbetoon geheim bly, en jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon.”

Hoe julle moet bid

5 “En nou wat die gebed betref: Moenie soos die skynheiliges wees wat daarvan hou om in die sinagoges en op die straathoeke te bid sodat die mense hulle kan sien nie. Ek verseker julle, dit is al beloning wat hulle ooit sal kry.

6 Wanneer jy bid, gaan na die stilste vertrek in die huis en maak die deur agter jou toe sodat jy daar in jou alleenheid tot jou Vader kan bid. En jou Vader wat alles weet, sal jou beloon.

7 “Wanneer julle bid, moenie met woorde mors soos die ongelowiges nie. Hulle dink hulle stortvloed woorde sal maak dat hulle gebede beantwoord word.

8 Moenie soos hulle maak nie, want julle Vader weet presies wat julle behoeftes is, selfs nog voordat julle Hom vra!

9 Bid dan soos volg:

Ons Vader in die hemel,

laat u Naam geheilig word.

10 Laat u koninkryk kom.

Laat u wil hier op aarde

uitgevoer word soos in die hemel.

11 Gee ons die porsie brood

wat ons vir vandag nodig het.

12 En vergeef ons ons sondeskuld

soos ons ook óns skuldenaars

vergewe het.

13 Bewaar ons sodat ons

nie aan verleiding sal toegee nie;

maar bevry ons van die greep

van die Bose.

14 “As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

15 Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.

16 “Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges ’n martelaarshouding aanneem nie. Hulle loop met lang gesigte rond sodat die mense duidelik kan sien dat hulle vas. Ek verseker julle, dit is al beloning wat hulle ooit sal kry.

17 Maar wanneer jy vas, versorg jou hare, was jou gesig.

18 Dan sal niemand agterkom dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat alle geheime ken. En jou Vader wat alle geheime ken, sal jou beloon.”

Aardse skatte of kos en klere

moenie prioriteit wees nie

19 “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie.

20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie.

21 Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

22 “Jou oog is ’n lamp vir jou liggaam. ’n Suiwer oog laat die lig instroom sodat jou binneste geheel en al lig word.

23 Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker. As die lig wat jy gedink het jy het, in werklikheid donkerte is, hoe pikswart is jou donker dan nie!

24 “Niemand kan tegelyk twee base dien nie. Hy sal óf ’n renons in die een hê en van die ander een hou; óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een geringskat. Om God én die geldgod saam te dien, is onmoontlik.

25 “Daarom sê Ek vir julle, hou op om julle te bekommer oor julle daaglikse lewe – wat julle sal eet of drink; of oor julle liggame – wat julle sal aantrek. Is die lewe nie baie belangriker as kos nie? En is ’n mens se liggaam nie baie belangriker as klere nie?

26 Hou die voëls wat daar vlieg dop. Hulle saai nie, hulle oes nie, en hulle maak nie in skure bymekaar nie. Dit is onnodig, want julle hemelse Vader gee aan hulle hulle kos. Besef julle dan nie dat julle vir God nog baie kosbaarder is as hulle nie?

27 “Kan al julle bekommernis julle lewe een sekonde langer rek?

28 “En wat klere betref – wat bekommer julle julle daaroor? Leer hierdie les van die veldlelies wat so pragtig in die blom staan. Hulle sloof hulle nie af om vir hulleself klere te maak nie.

29 En tog sê Ek vir julle, selfs Salomo in al sy glorie was nie so pragtig aangetrek soos een van hulle nie.

30 “As God dan die veldplante wat vandag daar is en môre verbrand word, so mooi aantrek, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Is julle geloof dan so klein?

31 “Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie.

32 Dit is die ongelowiges wat oor hierdie soort dinge begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.

33 “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg.

34 “Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse bring. Vandag se moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.”

MATTEUS 7

Moenie met ’n vergrootglas na

ander se foute kyk nie

1 “Hou op om ’n oordeel oor ander uit te spreek. Dan sal God ook nie ’n oordeel oor julle uitspreek nie.

2 Hy sal julle beoordeel soos julle ander beoordeel. Die kriterium waarmee julle oordeel, sal ook vir júlle gebruik word.

3 En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar jy merk die yslike stomp in jou eie oog nie op nie?

4 Of hoe sal jy vir jou medemens sê: ‘Kom, laat ek daardie splintertjie uit jou oog haal,’ terwyl daar ’n yslike stomp in jou eie oog sit?

5 Jou skynheilige, haal eers die stomp uit jou eie oog uit. Dan sal jy ook duidelik kan sien om die splinter uit jou medemens se oog te haal.

6 “Moenie wat heilig is vir onheilige mense gee nie. Hulle sal dit nie respekteer nie. Hulle sal soos honde omspring en julle verskeur. Moet ook nie julle kosbare pêrels vir elke morsige hierjy aanbied nie. Hulle sal dit nie waardeer nie, maar dit vertrap soos varke onder hulle pote.”

Wees seker van gebedsverhoring

7 “Hou aan met vra en God sal vir julle gee. Hou aan met soek en julle sal kry. Hou aan klop en God sal die deur vir julle oopmaak.

8 Elkeen wat so volhardend vra, ontvang; en wie aanhou soek, kry; en vir elkeen wat aanhou klop, sal God oopmaak.

9 Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie.

10 Of as hulle vis vra, vir hulle slange gee nie.

11 As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!”

Die goue lewensreël

12 “Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen. Dit is die kern van die wet en die profete.”

Die twee lewenspaaie

13 “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne. Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan.

14 Hoe nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie! Min is die mense wat dit kry!”

Loop wakker vir vals profete

15 “Pas op vir die vals profete. Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammetjies, maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe.

16 Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ’n mens ’n boom aan sy vrugte kan uitken. ’n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse, of vye van dissels nie.

17 ’n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ’n siek boom slegte vrugte.

18 ’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n siek boom nie goeie vrugte nie.

19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

20 “So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”

Vroom praatjies tel nie in God

se koninkryk nie

21 “Nie almal wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.

22 Baie sal vir My op die oordeelsdag sê: ‘Here, Here, ons het dan in u Naam gepreek en in u Naam duiwels uitgedryf en in u Naam baie wonders verrig!’

23 Dan sal Ek hulle antwoord: ‘Julle was nog nooit werklik mý mense nie. Gaan weg van My af! Julle het nie gedoen wat voor God reg is nie.’”

Bou op ’n soliede fondament

24 “Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ’n verstandige persoon wie se huis op rots gebou is.

25 Al val daar ’n stortbui, en al kom die vloedwater af, en al woed daar stormwinde teen die huis, sal dit nie inmekaarstort nie, want sy fondament is stewig op die rots vas.

26 Maar elkeen wat na my woorde luister en dit nie doen nie, sal wees soos ’n dwaas wie se huis op die sand gebou is.

27 Wanneer daar ’n stortbui val, en die vloedwater afkom, en die stormwinde waai, sal daardie huis heeltemal inmekaarstort.”

28 Toe Jesus sy rede voltooi het, was die skare diep onder die indruk van sy onderrig.

29 Dit was immers gesagvol – heeltemal anders as dié van hulle eie skrifkenners.

MATTEUS 8

Jesus maak ’n man met ’n

ernstige velsiekte gesond

1 Toe Jesus van die berg af kom, het ’n groot skare Hom gevolg.

2 Daar kom toe onverwags ’n man met ’n ernstige velsiekte nader en val voor Jesus neer met die woorde: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”

3 Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: “Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!” En dadelik het sy velsiekte verdwyn.

4 Jesus sê toe vir hom: “Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie. Maar gaan wys vir die priester dat jy gesond is, en bring die offer wat Moses voorgeskryf het.

“So sal jy vir almal duidelik bevestig dat jy gesond geword het.”

’n Romeinse offisier se groot

geloof

5 Toe Hy in Kapernaum aankom, kom pleit daar ’n Romeinse offisier oor honderd by Hom:

6 “Here, my slaaf lê verlam by my huis en hy verduur verskriklike pyn.”

7 Jesus sê vir hom: “Ek sal hom kom gesond maak.”

8 Maar die offisier antwoord Hom: “Here, ek is nie goed genoeg dat U onder my dak inkom nie. Spreek maar net die woord, en my slaaf sal gesond word.

9 Ek staan self onder die gesag van senior offisiere, en ek het weer soldate wat onder my gesag staan. Ek sê vir hierdie een: ‘Gaan,’ en hy gaan, en vir die ander een: ‘Kom,’ en hy kom. En vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit,’ en hy maak so.”

10 Toe Jesus dit hoor, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir die skare wat besig was om Hom te volg: “Ek verseker julle, só ’n sterk geloof het Ek nog nêrens in Israel teëgekom nie.

11 Glo My, daar sal baie mense van oor die hele wêreld kom, en saam met Abraham, Isak en Jakob die feesmaaltyd in God se koninkryk geniet.

12 Maar die Israeliete, die mense wat daardie koninkryk eintlik moes beërwe het, sal uitgegooi word in die donker daarbuite. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.”

13 Daarop sê Jesus vir die Romeinse offisier: “Gaan huis toe. Soos jy geglo het, sal dit vir jou gebeur.” En op daardie presiese oomblik het sy slaaf gesond geword.

Jesus maak Petrus se skoonma

en baie ander gesond

14 Toe Jesus by Petrus se huis kom, sien Hy dat Petrus se skoonma met ’n hoë koors siek in die bed lê.

15 Hy het haar hand aangeraak en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien.

16 Teen die aand het hulle baie duiwelbesetenes na Hom toe gebring. Hy het daardie bose geeste uitgedryf deur hulle aan te spreek en Hy het almal wat siek was, gesond gemaak.

17 So het die uitspraak van Jesaja waar geword wat lui:

“Hy het ons kwale weggevat,

en ons siektes

het Hy weggedra.”

Wat dit vra om Jesus se dissipel

te word

18 Toe Jesus die baie mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee dat hulle na die oorkant van die see moes vertrek.

19 ’n Skrifkenner kom toe na Hom toe en sê vir Hom: “Leermeester, ek sal U volg, maak nie saak waarheen U gaan nie!”

20 Maar Jesus het vir hom gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het geen tuiste waar Ek my kop kan neerlê nie.”

21 Een van sy ander dissipels het vir Hom gesê: “Here, U sal my moet toelaat om eers terug te gaan en my pa te begrawe.”

22 Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, jy moet My nóú volg. Laat die geestelik dooies maar na mekaar omsien.”

Jesus maak die storm stil

23 Jesus het toe in die skuit geklim en sy dissipels het Hom gevolg.

24 Skielik het daar ’n hewige storm oor die see opgekom sodat reuse golwe oor die boot gebreek het. Maar Jesus het gelê en slaap.

25 Hulle gaan maak Hom toe wakker en sê: “Here, red ons! Dis klaar met ons!”

26 Maar Jesus sê vir hulle: “Waarom is julle so verskrik? Is julle geloof dan regtig so klein?”

Daarna het Hy opgestaan, die winde en die see streng aangespreek en daar het ’n groot kalmte gekom.

27 Die dissipels was oorweldig. “Watter soort mens is Hy dat selfs die winde en die see na Hom luister?”

Jesus bevry twee persone met

bose geeste

28 Toe Jesus oorkant die see in die land van die Gadareners aankom, kom twee duiwelbesetenes uit die begraafplaas Hom tegemoet. Hulle was sulke woestaards dat niemand dit kon waag om daarlangs verby te gaan nie.

29 Meteens begin hulle hard uitskreeu: “Los ons uit, Seun van God! Het U hiernatoe gekom om ons voor die tyd te pynig?”

30 ’n Hele ent daarvandaan was daar ’n groot trop varke aan die wei.

31 Die bose geeste het Jesus aangehou smeek: “As U ons wil uitdryf, stuur ons dan in die trop varke in.”

32 Hy het vir hulle gesê: “Maak dan dat julle wegkom!” Hulle het toe uit die twee mense gegaan en in die varke ingevaar. Meteens het die hele trop teen die skuinste af die see ingestorm en in die golwe versuip.

33 Hulle oppassers het weggehardloop dorp toe en alles gaan vertel, ook wat met die besetenes gebeur het.

34 Daarop het die hele dorp Jesus tegemoetgegaan. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom gesoebat om uit hulle gebied weg te gaan.

MATTEUS 9

Jesus vergewe en genees ’n

verlamde man

1 Jesus het in ’n skuit geklim en oor die see teruggevaar. En Hy het in sy tuisdorp aangekom.

2 Hulle bring toe vir Hom ’n verlamde man wat bedlêend was. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Jongman, skep moed! Jou sondes word jou vergewe.”

3 Party van die skrifkenners dink toe by hulleself: “Dit is absolute laster!”

4 Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vra toe: “Waarom dink julle sulke slegte dinge in julle harte?

5 Want wat is makliker – om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of: ‘Staan op en loop’?

6 Ek gaan nou vir julle bewys dat Ek, die Seun van die Mens, die gesag het om op aarde sondes te vergewe.” Daarna sê Hy vir die verlamde man: “Staan op, vat jou slaapmat en gaan huis toe.”

7 Hy het opgestaan en huis toe gegaan.

8 Toe die skare dit sien, het ’n eerbiedige vrees oor hulle gekom en hulle het God geprys omdat Hy aan ’n méns soveel gesag gegee het.

Jesus roep Matteus as dissipel

9 Toe Jesus daarvandaan verder gaan, sien Hy ’n man met die naam Matteus by die tolhokkie sit. Hy sê toe vir hom: “Kom! Word my dissipel!” Matteus het opgestaan en Jesus se dissipel geword.

10 Matteus het toe ’n groot ete aangebied en, werklikwaar, baie van sy medetollenaars en ander berugte sondaars het gekom en die tafel met Jesus en sy dissipels gedeel.

11 Toe die Fariseërs dit agterkom, vra hulle vir Jesus se dissipels: “Hoe kan julle leermeester met sulke immorele karakters saameet?”

12 Toe Jesus dit hoor, sê Hy: “Gesonde mense het die dokter nie nodig nie; die siekes wel.

13 Gaan leer wat dit beteken as die Skrifwoord sê: ‘Ontferming is vir My baie belangriker as offerandes.’ Ek het gekom om sondaars na die koninkryk te nooi, nie mense wat dink dat hulle alreeds goed genoeg is nie.”

Nie nou tyd vir vas nie, maar vir

feesvier

14 By geleentheid het die dissipels van Johannes die Doper na Jesus toe gekom en Hom gevra: “Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas glad nie?”

15 Jesus het geantwoord: “Dit is tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal treur solank die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Daar kom egter ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas.

16 Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat.

17 Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, sal die sakke skeur en die wyn uitloop. Dan is die sakke ook nog daarmee heen. Nee, ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe leersakke; dan hou al twee goed.”

Jesus maak ’n siek vrou gesond

en ’n dooie dogtertjie lewend

18 Jesus was nog besig om met hulle te praat toe daar ’n vername Joodse leier na Hom toe kom en voor Hom neerval met die woorde: “My dogter is nou net dood. Kom tog en sit u hand op haar en sy sal weer lewe.”

19 Jesus het opgestaan en saam met sy dissipels agter die man aan gegaan.

20 Onderweg het ’n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter af na Jesus toe gekom en aan die soom van sy bo-kleed geraak,

21 want sy het by haarself gedink: “Al kan ek tog maar net aan sy bo-kleed raak, sal ek gesond word.”

22 Toe Jesus omdraai en haar sien, het Hy vir haar gesê: “Skep moed, my dogter. Omdat jy so vas geglo het, is jy nou gesond.” En die vrou was van daardie oomblik af heeltemal genees.

23 Toe Jesus by die vername man se huis aankom, kry Hy daar mense wat begrafnismusiek maak en ’n hele klomp wat kerm en huil.

24 Daarop sê Hy vir hulle: “Gaan buitentoe; die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.” Maar hulle het Hom uitgelag.

25 Nadat die klomp buitentoe gejaag is, het Jesus in die dogtertjie se kamer gegaan, haar hand gevat, en sy het opgestaan.

26 Hierdie nuus het soos ’n veldbrand deur die hele omgewing versprei.

Twee blindes sien en ’n stom

persoon praat

27 Toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes agter Hom aan gekom. Hulle het hardop geskreeu: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

28 Nadat Jesus in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle regtig Ek kan julle gesond maak?” Hulle sê vir Hom: “Ja, Here, ons glo U kan dit doen.”

29 Hy raak toe hulle oë aan en sê: “Soos julle geglo het, sal dit vir julle gebeur.”

30 Daarop kon hulle sien! Jesus het hulle toe ernstig gewaarsku: “Maak seker dat julle niemand hiervan vertel nie.”

31 Ten spyte daarvan het hulle weggegaan en oral gaan vertel hoe wonderlik Jesus is.

32 Die twee wat gesond gemaak is, was nog besig om te vertrek toe mense iemand na Hom toe bring wat stom was omdat ’n bose gees beheer oor hom gehad het.

33 Nadat Jesus die duiwel uit hom gejaag het, het die stom man begin praat. Die skare was oorweldig en het gesê: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie!”

34 Maar die Fariseërs se reaksie was: “Dit is die baasduiwel wat Hom help om duiwels uit mense uit te jaag.”

’n Groot oes en te min werkers

35 Jesus het deur al die dorpe en kleiner plekkies rondbeweeg. Hy het die mense in hulle sinagoges onderrig, die Goeie Nuus van God se koningsheerskappy aangekondig en elke siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.

36 Toe Jesus na die baie mense kyk, het Hy ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid. Hulle was soos skape sonder ’n wagter.

37 Daarop sê Hy vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die werkers is min.

38 Hierdie oes is die Here s’n. Vra Hom dan om werkers vir sy oesland te voorsien.”

MATTEUS 10

Jesus stuur sy dissipels uit

1 Jesus het sy twaalf dissipels na Hom toe geroep en aan hulle die volmag gegee om onrein geeste uit mense te dryf en elkeen met ’n siekte of kwaal gesond te maak.

2 Hier volg die name van die twaalf apostels:

eerstens Simon (ook bekend as

Petrus),

en Andreas (sy broer),

vervolgens Jakobus (die seun van

Sebedeus)

en Johannes (sy broer),

3 Filippus en Bartolomeus,

Tomas en Matteus (die tollenaar),

Jakobus (die seun van Alfeus)

en Taddeus,

4 Simon (die Yweraar)

en Judas Iskariot (wat Jesus sou

uitlewer).

Jesus gee opdragte aan sy

dissipels

5 Jesus het hierdie twaalf uitgestuur met die volgende instruksies: “Moenie afdraai na gebiede waar die nie-Jode woon of in ’n Samaritaanse dorp ingaan nie.

6 Gaan liewer na die verdwaalde skape van die huis van Israel.

7 Gaan kondig aan: ‘God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!’

8 Maak siekes gesond, laat dooies opstaan, reinig dié met ernstige velsiektes, dryf duiwels uit. Julle het hierdie volmag verniet ontvang. Doen daarom julle werk ook verniet.

9 “Moenie enige kontant in julle beursies saamvat nie.

10 Ook nie ’n reissak vir die pad of ’n ekstra drarok of ekstra sandale of selfs ’n kierie nie. ’n Werker verdien tog sekerlik om versorg te word.

11 As julle in ’n dorp of kleiner plekkie ingaan, maak seker by wie julle welkom is en bly daar totdat julle weer vertrek.

12 As julle in ’n huis ingaan, begroet sy inwoners met die vredesgroet.

13 As julle in daardie huis welkom is, sal God se vrede daarop bly. Maar as julle nie welkom is nie, moet julle julle vredesgroet terugtrek.

14 As hulle julle nie wil ontvang of wil luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp uit en skud die stof van julle voete af.

15 Ek verseker julle, op die oordeelsdag sal dit met die sondige stede Sodom en Gomorra beter gaan as met daardie dorp.”

Die dissipels sal vervolg word

16 “Let op, Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in. Wees dan waaksaam soos die slange, maar terselfdertyd opreg soos die duiwe.

17 Pas op vir die mense! Hulle sal julle aan die howe oorgee en in hulle sinagoges met gésels slaan.

18 Julle sal voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van My. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om voor hulle en die volke van My te getuig.

19 Wanneer hulle julle oorgee, moenie julle bekommer oor wat julle ter verdediging moet sê nie, want die regte woord sal op die regte tyd vir julle gegee word.

20 Dit sal nie júlle wees wat die praatwerk doen nie, maar die Gees van julle Vader wat julle as sy spreekkanale sal gebruik.

21 “Die een broer sal die ander een oorgee om doodgemaak te word en ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers optree en so hulle dood veroorsaak.

22 Julle sal deur almal gehaat word omdat julle mý mense is. Maar elkeen wat sal volhou tot die einde toe, sal verlos word.

23 As hulle julle in die een dorp vervolg, vlug dan na die ander een toe. Ek verseker julle, julle sal nie klaarkry met die dorpe van Israel voordat Ek, die Seun van die Mens, kom nie.

24 “’n Leerling is nie verhewe bo sy onderwyser nie. ’n Slaaf ook nie bo sy baas nie.

25 ’n Leerling behoort tevrede daarmee te wees as dit met hom gaan soos met sy onderwyser, en die slaaf soos met sy baas. As hulle My, die hoof van die huishouding, as die baasduiwel uitskel, watter nare dinge sal hulle dan nie van julle, my huismense, sê nie!”

Moenie vir ménse bang wees nie

26 “Moenie vir hulle bang wees nie! Die tyd kom wanneer alles wat op die oomblik nog weggesteek word, aan die lig sal kom en alles wat nou nog geheim is, bekendgemaak sal word.

27 Wat Ek vir julle vertroulik sê, vertel dit vir almal. En wat in julle ore gefluister word, basuin dit van die dakke af.

28 Moenie bang wees vir hulle wat julle wil doodmaak nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak; aan julle eintlike menswees kan hulle nie raak nie. Wees veel eerder bang vir Hom wat julle liggaam én eintlike menswees in die hel kan vernietig.

29 Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarby betrokke is nie.

30 Wat julle betref, is elke haar op julle kop getel.

31 Wees daarom nie bang nie. Julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies.

32 “As julle My openlik erken voor die mense, sal Ek julle ook openlik erken voor my hemelse Vader.

33 Maar as julle My verloën voor die mense, sal Ek julle ook verloën voor my hemelse Vader.”

Jesus bring nie vrede nie, maar

stryd

34 “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie! Nee, Ek het nie vrede gebring nie, maar stryd.

35 Ek het gekom om skeiding te bring

tussen ’n man en sy pa

en ’n dogter en haar ma,

tussen ’n skoondogter en haar

skoonma.

36 Selfs ’n mens se eie familie

sal jou vyande wees.

37 “As jy jou pa of jou ma liewer het as vir My, verdien jy nie om een van my mense te wees nie. Of as jy jou seun of jou dogter liewer het as vir My, verdien jy nie om een van my mense te wees nie.

38 As jy weier om jou kruis op jou skouers te neem en My te volg, verdien jy nie om een van my mense te wees nie.

39 As jy selfsugtig aan jou eie lewe vasklou, sal jy dit verloor. Maar as jy dit ter wille van My opoffer, sal jy werklik voluit lewe.”

Belonings vir hulle wat God se

gestuurdes goed behandel

40 “Elkeen wat julle verwelkom, verwelkom My. En wie My verwelkom, verwelkom die Vader wat My gestuur het.

41 As jy ’n profeet verwelkom omdat hy God se boodskap bring, sal jy dieselfde beloning kry as ’n profeet. En as jy iemand wat reg lewe, verwelkom omdat hy reg lewe, sal jy dieselfde beloning as hy ontvang.

42 Selfs as jy ’n beker koue water aan een van my geringste dissipels sou gee bloot omdat hy ’n dissipel is, verseker Ek jou dat jy jou beloning nie sal misloop nie.”

MATTEUS 11

Johannes die Doper se ernstige

vrae oor Jesus

1 Nadat Jesus hierdie instruksies aan sy twaalf dissipels gegee het, het Hy daarvandaan vertrek om in die dorpe van Galilea onderrig te gee en te preek.

2 Johannes het in die tronk gehoor wat Jesus doen – werke soos dié wat die verwagte Messias sou doen. Hy stuur toe van sy dissipels om vir Jesus te vra:

3 “Is U werklik die Messias wat sou kom, of moet ons tog iemand anders verwag?”

4 Jesus het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien –

5 blindes sien en verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word gesond en dowes hoor, dooies word opgewek en armes hoor die Goeie Nuus.

6 En sê vir hom: ‘Gelukkig is elkeen vir wie Ek nie ’n struikelblok is nie.’”

7 Ná hulle vertrek het Jesus met die skare oor Johannes begin praat. “Wat het julle verwag toe julle uitgegaan het om hierdie man in die woestyn te gaan sien? Tog seker nie iemand wat soos ’n riet deur die wind heen en weer gewaai word nie?

8 Tog seker ook nie iemand wat in weelderige klere uitgevat is nie? Die mense wat so aantrek, woon immers in paleise, nie in die woestyn nie.

9 Het julle nie veel eerder uitgegaan omdat julle ’n profeet verwag het nie? Natuurlik! Ek verseker julle, hy was selfs meer as ’n profeet.

10 Dit is hý van wie in die Skrif geskryf staan:

‘Kyk, Ek stuur my boodskapper

voor jou uit.

Hy sal die pad vir jou

gereedmaak.’

11 “Ek verseker julle, onder al die mense wat ooit geleef het, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. Tog is selfs die onbelangrikste mensie in God se koninkryk nog belangriker as hy!

12 Vandat Johannes die Doper begin preek het tot nou toe is God se koninkryk besig om vir homself ’n pad oop te breek en mense wat al hulle kragte daarop toespits, maak dit hulle eie.

13 Al die profete en die wet, tot Johannes self, het geprofeteer aangaande die huidige tyd.

14 As julle bereid is om te aanvaar wat Ek vir julle sê – hý is die Elia wat sou kom.

15 Elkeen wat kan hoor, moet goed luister na wat Ek sê!

16 “Waarmee sal Ek vandag se mense vergelyk? Hulle is soos kinders wat op die dorpsplein speel en mekaar verwyt

17 deur te sê:

‘Ons het vir julle ’n bruilofslied

gespeel,

maar julle wou nie dans nie.

Ons het vir julle ’n begrafnislied

gesing,

maar julle het geweier

om te huil.’

18 “Want Johannes het soos ’n askeet gelewe – hy het dikwels gevas en nie wyn gedrink nie. Toe het julle gesê: ‘Hy is van die duiwel besete.’

19 Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink wyn – en julle sê: ‘Hy’s ’n vraat en ’n dronklap, ’n vriend van die slegste soort sondaars.’ Ja, die toets vir die wysheid is die resultate wat dit voortbring.”

Jesus spreek die onboetvaardige

dorpe aan

20 Jesus het die dorpe waar die meeste van sy wonderdade plaasgevind het, ernstig aangespreek omdat hulle hulle nie bekeer het nie:

21 “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! Want as in die nie-Joodse stede Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal sakke aangetrek en as op hulle koppe uitgegooi het om te wys dat hulle tot inkeer gekom het.

22 Ek verseker julle dat dit vir Tirus en Sidon makliker sal wees op die oordeelsdag as vir julle.

23 En jy, Kapernaum,

jy dink tog seker nie

jy sal hemelhoog

verhoog word nie?

Die realiteit is dat jy

in die doderyk sal beland.

“Want as in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou dit tot vandag toe bly voortbestaan het.

24 Ek verseker jou, dit sal vir die land Sodom makliker wees op die oordeelsdag as vir jou.”

Kom na My toe!

25 Toe het Jesus hierdie gebed gebid:

“Vader, Here van die hemel

en die aarde,

Ek sê vir U dankie

dat U die insig in hierdie dinge

van die slimmes en intelligentes

weerhou het

en dit oopgemaak het vir hulle

wat soos kinders geword het.

26 Ja, Vader, want U verkies

hierdie manier van doen!

27 “My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader. En niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun die Vader wil bekendmaak.

28 “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik.

29 Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.

30 Want my juk sal sag op julle skouers rus en my las is lig om te dra.”

MATTEUS 12

Mense is baie belangriker as

sabbatswette

1 In dié tyd het Jesus op ’n Sabbatdag deur koringlande geloop. Sy dissipels het honger geword en begin om are te pluk en van die koring te eet.

2 Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk wat doen jou dissipels. Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.”

3 Jesus het hulle egter geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy mense honger geword het nie?

4 Hoe hy selfs in die huis van God gegaan en hy en sy manne wederregtelik van die offerbrood geëet het wat vir die priesters gereserveer was.

5 Of het julle nooit in die wet van Moses gelees dat die priesters wat op die Sabbatdag in die tempel diens doen en die Sabbat sodoende ‘ontheilig’, tog skotvry bly nie?

6 Dít verseker Ek julle, Iemand groter as die tempel is hier by julle.

7 As julle die Skrifwoord wat sê: ‘Ontferming is vir My belangriker as offers,’ werklik verstaan het, sou julle nie hierdie onskuldige mense veroordeel het nie.

8 Ek, die Seun van die Mens, het immers ook seggenskap oor die Sabbat.”

Jesus genees ’n man met ’n

misvormde hand

9 Jesus het daarvandaan vertrek en in een van hulle sinagoges ingegaan.

10 Daar sien Hy ’n man met ’n misvormde hand. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n mens iemand op die Sabbat gesond maak?” (Hulle het natuurlik gehoop Hy sou ja antwoord sodat hulle ’n klag teen Hom kon lê.)

11 Daarop antwoord Hy hulle: “Sou enigeen van julle, as sy enigste skaap op die Sabbatdag in ’n sloot val, versuim om hom te gryp en uit te trek? Natuurlik nie!

12 Hoeveel kosbaarder is ’n mens nie as ’n skaap nie! Daarom is dit mos niks meer as reg om op die Sabbat goed te doen nie.”

13 Daarna sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.” Hy het dit uitgesteek, en dit het gesond geword. Dit was normaal net soos die ander een.

14 Daarop het die Fariseërs uitgegaan en gaan beplan hoe hulle Jesus uit die weg sou ruim.

God het Jesus spesiaal uitgekies

15 Toe Jesus dit hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. ’n Groot skare het agter Hom aan gekom. Hy het al die siekes onder hulle gesond gemaak.

16 Hy het hulle ernstig verbied om oral uit te basuin wie Hy is.

17 So het die uitspraak van die profeet in vervulling gegaan:

18 “Hier is my Dienskneg

wat Ek uitgekies het.

Hom het Ek lief.

Hy maak my hart baie bly.

Ek sal my Gees op Hom laat rus

en Hy sal my besluit

aan die nasies bekendmaak.

19 Hy sal nie met mense stry

of ’n groot lawaai maak nie.

Hy sal nie sy stem

in die openbaar verhef nie.

20 Hy sal dié wat reeds geknak is,

nie nog verder verbrysel nie

en die vonkie hoop

wat nog oorgebly het,

sal Hy nie uitblus nie,

totdat Hy my besluit laat seëvier.

21 Ja, op Hom sal die nasies

hulle hoop vestig.”

Jesus word beskuldig dat Hy

met Satan saamwerk

22 Hulle het ’n man na Hom toe gebring in wie daar ’n duiwelse gees was. Die man was blind én stom. Jesus het hom gesond gemaak sodat hy kon sien en ook kon praat.

23 Die hele menigte was verstom en het gesê: “Is Hy nie dalk tog die Seun van Dawid, die Messias, nie?”

24 Toe die Fariseërs egter van die wonder hoor, het hulle geskimp: “Geen wonder dat Hy duiwels kan uitdryf nie. Hy kry sy krag immers van Beëlsebul, die baasduiwel.”

25 Jesus het egter hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Enige koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde. En geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal bly staan nie.

26 As Satan Satan uitdryf, is hy mos teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan kan staande bly?

27 En as Ek met die krag van Beëlsebul die duiwels uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Daarom sal hulle julle regters wees.

28 “Maar as dit die Gees van God is wat My in staat stel om die duiwels uit te dryf, moet julle besef dat die koningsheerskappy van God nou by julle is.

29 Dis tog onmoontlik vir iemand om in ’n sterk man se huis in te gaan en hom van sy goed te beroof as hy daardie sterk man nie eers vooraf vasgebind het nie. Eers dan sal hy sy huis kan beroof.

30 “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar.

31 “Dít verseker Ek julle: God sal elke sonde of lastering vergewe, maar lastering teen die Heilige Gees sal Hy nie vergewe nie.

32 Enigiemand wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê – dit sal daardie persoon vergewe word. Maar wie die Heilige Gees belaster, sal nooit vergewe word nie, nie in hierdie wêreld nie en ook nie in die toekomstige een nie.

33 “’n Boom word aan sy vrugte geken. ’n Goeie boom kan nie anders as om goeie vrugte te dra nie. En ’n slegte boom kan nie anders as om slegte vrugte te dra nie.

34 “Julle nes van adders! Julle is sleg. Daarom is dit vir julle onmoontlik om goeie dinge te praat. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

35 ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn.

36 Dít verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige woord wat julle sê.

37 Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word.”

Jona dien as wonderteken om te

bewys dat Jesus van God af kom

38 Daarop het sommige van die skrifkenners en Fariseërs Hom geantwoord: “Leermeester, ons wil graag ’n wonderteken van U sien om te bewys dat U van God af kom.”

39 Jesus het egter geantwoord: “Dit is net slegte en goddelose mense wat ’n wonderteken as bewys wil hê. Die enigste teken wat julle sal kry, is dié van die profeet Jona.

40 Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees.

41 Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met vandag se mense opstaan en teen hulle getuig. Hulle het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom. Iemand baie belangriker as Jona is nou hier by julle, en tog kom julle nie tot inkeer nie.

42 Die koningin van Skeba sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van ’n baie ver land gekom om na die wysheid van Salomo te kom luister. Iemand baie belangriker as Salomo is nou hier by julle; tog weier julle om na Hom te luister!

43 “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens gaan, swerf hy deur dor plekke op soek na ’n rusplek, maar hy kry dit nie.

44 Dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my vorige blyplek.’ Wanneer hy gaan, kry hy dit onbewoon, uitgevee en netjies aan die kant.

45 Daarna gaan neem hy sewe ander geeste, slegter as hyself, saam met hom en trek in daardie persoon in. Uiteindelik sal dit met daardie mens baie slegter gaan as aan die begin. Dieselfde sal gebeur met die slegte mense van vandag.”

Jesus se eintlike gesinslede

46 Jesus was nog besig om met die skare te praat, toe staan sy ma en sy broers buitekant. Hulle wou met Hom praat.

47 Iemand sê toe vir Jesus: “U ma en broers staan hier buite en hulle wil met U praat.”

48 Hy antwoord die een wat met Hom praat: “Weet julle wie is my ma en wie is my broers?”

49 Daarop wys Hy na sy dissipels en sê: “Daar is my ma en my broers.

50 Elkeen wat aan die wil van my hemelse Vader gehoorsaam is, is my eintlike gesinslede.”