SAGARIA 11

1 Maak oop jou deure,

Libanon,

sodat vuur jou sederbome

kan verbrand.

2 Huil, sipresbome,

want die sederboom het geval,

die grootste en die mooiste

van almal.

Huil, eikebome van Basan,

as jy toekyk hoe digte bosse

afgekap word.

3 Luister na die gehuil

van die herders,

want hulle rykdom is weg.

Luister na die gebrul

van jong leeus,

want hulle pragtige bosse

langs die Jordaanvallei

is verwoes.

Goeie en slegte herders

4 Dit is wat die Here my God sê: “Gaan en sorg vir ’n trop slagskape.

5 Die kopers sal hulle skape slag sonder enige skuldgevoel. Die verkopers sal sê: ‘Prys die Here, nou is ek ryk!’ Selfs die herders het geen meegevoel met hulle nie.

6 Net so sal Ek ook nie meer meegevoel hê met die inwoners van die land nie,” sê die Here. “Ek laat hulle in mekaar se kloue val en in die kloue van hulle koning. Hulle sal die land in ’n wildernis verander en Ek sal hulle nie red nie.”

7 Ek het toe die skape wat bedoel is om geslag te word, opgepas – veral die onderdrukte skape. Ek het twee herderskieries gevat, die een het ek Guns en die ander een Eenheid genoem.

8 In een maand het ek van drie slegte herders ontslae geraak. Ek het ongeduldig met die skape geword en hulle het ook vir my moeg geword.

9 Ek sê toe vir hulle: “Ek wil nie meer julle herder wees nie. Dié wat wil doodgaan, moet doodgaan. Laat dié wat wegraak, wegraak. Laat dié wat oorbly, mekaar verslind!”

10 Ek het toe my herderskierie “Guns” gevat en dit middeldeur gebreek. Daarmee wou ek wys dat ek die verbond wat ek met al die nasies gehad het, verbreek.

11 Dit was die einde van die ooreenkoms met hulle. Dié wat skape gekoop en verkoop het, het my dopgehou en geweet dat die Here deur my handelinge met hulle gepraat het.

12 Ek het toe vir hulle gesê: “As julle dink dit is reg, gee my my regmatige loon, maar net as julle wil.” Hulle het toe 30 stukke silwer as my loon afgetel.

13 Die Here het toe vir my gesê: “Gooi dit vir die pottebakker!” Dit was die buitengewone prys waarmee hulle my geëvalueer het! Ek het toe die 30 muntstukke geneem en dit in die tempel van die Here vir die pottebakker gegooi.

14 Toe breek ek my ander herderskierie, “Eenheid”, om daarmee te wys dat die verbond van eenheid tussen Juda en Israel verbreek was.

15 Die Here het vir my gesê: “Gaan weer en maak soos ’n nikswerd herder.

16 Dit sal wys hoe Ek vir die nasie ’n herder sal gee wat nie omgee vir skape wat vergaan nie, wat nie die lammers gaan soek, of die beseerde skape versorg, of die gesonde skape kos gee nie. Inteendeel, hierdie herder sal die vleis van die vetste skaap eet en die ander se kloue afruk.

17 “So ’n nikswerd herder

wat sy trop verlaat,

sal verseker veroordeel word!

Mag die swaard sy arm afkap

en sy regteroog deurboor!

Sy arm sal onbruikbaar word

en sy regteroog

heeltemal blind!”

SAGARIA 12

Die toekomstige verlossing vir

Jerusalem

1 Hierdie boodskap wat gaan oor die lot van Israel kom van die Here: “So sê die Here wat die hemelkoepel oopgespan het, wat die fondamente van die aarde gelê het en wat die gees in mense gevorm het.

2 Ek sal Jerusalem en Juda maak soos ’n bedwelmende drank. Jerusalem sal beleër word, en al die dorpe van Juda.

3 Op daardie dag sal Ek Jerusalem ’n swaar klip maak, ’n las vir al die nasies. Nie een van die nasies wat probeer om die klip op te tel, sal ongedeerd daarvan afkom nie.

4 “Op daardie dag, sê die Here, sal Ek elke perd laat skrik en elke ruiter sal waansinnig raak. Ek sal waghou oor die volk van Juda, maar Ek sal die perde van die vyand verblind.

5 Die stamme van Juda sal by hulleself sê: ‘Die inwoners van Jerusalem vind hulle krag in die Here, die Almagtige, hulle God.’

6 “Op daardie dag sal Ek die stamme van Juda maak soos ’n vuur onder ’n hoop hout, of soos ’n brandende fakkel tussen afgesnyde graan. Hulle sal al die naburige nasies na alle kante toe verbrand, terwyl Jerusalem veilig sal wees.

7 Die Here sal die oorwinning eers aan die res van Juda gee, nog voor Jerusalem, sodat die inwoners van Jerusalem en die koninklike lyn van Dawid nie groter eer as die res van Juda ontvang nie.

8 “Op dié dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Die swakste onder hulle sal so sterk wees soos koning Dawid! Die koninklike afstammelinge sal soos God wees, soos die engel van die Here wat voor hulle uitgaan.

9 “My plan is om al die nasies wat teen Jerusalem saamtrek, te vernietig.

10 “Dan sal Ek ’n gees van genade en smeekgebede uitgiet op die familie van Dawid en die inwoners van Jerusalem. Hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het en hulle sal oor hom treur soos ’n mens treur oor ’n enigste seun. Hulle sal oor hom rou soos ’n mens rou oor ’n eersgebore seun wat gesterf het.

11 Die hartseer en rou op dié dag in Jerusalem sal wees soos die gehuil van Hadad-Rimmon in die Megiddovlakte.

12 “Die hele Israel sal treur, elke familie afsonderlik, met die mans en vroue in verskillende groepe. Die familie van Dawid sal saam met die familie van Natan treur,

13 die familie van Levi en die familie van Simi.

14 Elkeen van die families wat oorleef het, sal afsonderlik treur met die mans en vroue apart van mekaar.”

SAGARIA 13

’n Fontein van reiniging

1 “Op daardie dag sal daar ’n oop fontein vir die koningshuis van Dawid en die inwoners van Jerusalem wees, ’n fontein om hulle skoon te maak van al hulle sonde en vuilheid.

2 “Daardie dag, sê die Here, die Almagtige, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei. Selfs die name van die afgode gaan nie meer onthou word nie. Ek gaan ook die vals profete en die onrein geeste wat hulle inspireer, verwyder.

3 As iemand weer begin profeteer, sal sy eie pa en ma vir hom sê: ‘Jy mag nie lewe nie, want jy het leuens in die Naam van die Here geprofeteer.’ Dan sal sy eie pa en ma hom doodsteek.

4 “Op daardie dag sal niemand spog met sy gawe van profesie nie. Niemand sal profeteklere dra met die doel om ander te bedrieg nie.

5 Hy sal sê: ‘Ek is nie ’n profeet nie; ek is ’n boer. Ek het my bestaan uit die grond gemaak vandat ek nog baie jonk was.’

6 “As iemand dan vra: ‘Wat is daardie wonde aan jou hande?’ sal hy sê: ‘Ek het die wonde gekry by die huis van my vriende!’”

Die verstrooiing van die skape

7 “Swaard, word wakker

teen my skaapwagter,

teen die man

wat so naby aan My is,

sê die Here, die Almagtige.

Tref die skaapwagter

sodat die skape

verstrooi kan word

en Ek teen die lammers

kan optree.

8 Twee derdes van die inwoners

van die land

sal afgesny word en omkom,

sê die Here.

Een derde sal oorbly in die land.

9 Ek sal daardie groep

deur vuur laat gaan

en hulle suiwer,

net soos silwer en goud

deur vuur gesuiwer word.

Hulle sal my Naam aanroep

en Ek sal hulle antwoord.

Ek sal sê: ‘Hulle is my volk,’

en hulle sal sê:

‘Die Here is ons God.’”

SAGARIA 14

Die Here sal oor die aarde

regeer

1 Kyk, die Dag van die Here kom wanneer al jou besittings reg voor jou geplunder gaan word.

2 Op daardie dag sal Ek al die nasies bymekaarmaak om teen Jerusalem oorlog te maak. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue sal verkrag word. Die helfte van die stad se inwoners sal in ballingskap gaan en die ander helfte sal oorleef tussen die ruïnes van die stad.

3 Dan sal die Here oorlog voer teen daardie nasies, net soos Hy in die verlede gedoen het.

4 Op daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, aan die oostekant van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en so sal ’n vallei wat van oos na wes loop, gevorm word, want die een helfte van die berg sal noord skuif en die ander helfte van die berg sal suid skuif.

5 Julle sal deur hierdie vallei vlug, want dit sal tot by Asal strek. Ja, julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda. Dan sal die Here my God kom en al die heiliges saam met Hom.

6 Op daardie dag sal daar geen lig wees nie, ook nie koue of ryp nie.

7 Tog sal dit aanhoudend dag wees! Net die Here weet hoe dit kan gebeur! Daar sal geen normale dag of nag wees nie, want teen die aand se kant sal dit steeds lig wees.

8 Op daardie dag sal daar lewegewende water uit Jerusalem vloei, een deel in die rigting van die Dooie See en ’n ander deel na die Middellandse See, somer en winter sal dit so wees.

9 Die Here sal koning wees oor die hele aarde. Op daardie dag sal daar een Here wees en net sy Naam sal aanbid word.

10 Die hele land van Geba af tot by Rimmon, suid van Jerusalem, sal een groot plein word, maar Jerusalem sal gelig word tot sy oorspronklike posisie en sal bewoon word vanaf die Benjaminpoort tot by die plek waar die ou poort was, dan tot by die Hoekpoort, en van die Gananelpoort af tot by die koning se wynperse.

11 Jerusalem sal bewoon word, ’n veilige plek en wat nooit weer vervloek of verwoes sal word nie.

12 Die Here gaan al die nasies wat teen Jerusalem veg, met ’n plaag tref. Hulle sal soos wandelende lyke word terwyl hulle vleis wegvrot. Hulle oë sal wegkrimp in hulle oogkasse en hulle tonge sal wegvrot in hulle monde.

13 Op daardie dag sal hulle paniekbevange raak. Die Here sal hulle tref met ’n groot verwarring. Hulle sal mekaar te lyf gaan.

14 Juda sal ook in Jerusalem veg. Die rykdom van al die naburige volke sal bymekaargemaak word, groot hoeveelhede goud en silwer en klere.

15 Dieselfde plaag sal ook die perde, muile, kamele, donkies en al die ander diere in die vyand se kampe tref.

16 Uiteindelik sal die vyande van Jerusalem wat die plaag oorleef het, elke jaar optrek na Jerusalem toe om die Koning, die Here, die Almagtige, te aanbid en om die Huttefees te vier.

17 Enige nasie iewers in die wêreld wat weier om na Jerusalem te kom om die Koning, die Here, die Almagtige, te aanbid, sal nie reën kry nie.

18 As die volk van Egipte weier om die fees by te woon, sal die Here hulle straf met dieselfde plaag waarmee Hy ander nasies wat geweier het om te kom, tref.

19 Egipte en die ander nasies sal almal gestraf word as hulle nie die Huttefees vier nie.

20 Op daardie dag sal daar selfs op die klokke van die perde se tuie geskryf staan: Heilig vir die Here. Die potte in die tempel van die Here sal net so heilig wees as die bakke wat langs die altaar gebruik word.

21 Elke pot in Jerusalem en Juda sal heilig vir die Here, die Almagtige, wees. Enigiemand wat kom offer, sal vry wees om enige pot te gebruik waarin hulle offers kan kook. Op daardie dag sal daar nie meer handelaars in die tempel van die Here, die Almagtige, wees nie.

MALEAGI 1

1 Die Here het vir Maleagi ’n boodskap gegee om aan Israel oor te dra.

Die Here se liefde vir Israel

2 Die Here sê: “Ek het julle lief.”

Julle reaksie was: “Hoe het U ons liefgehad?”

Hierop het die Here geantwoord: “Is Esau nie Jakob se broer nie? Tog het Ek Jakob liefgehad,

3 maar Esau verwerp. Ek het sy heuwelagtige grondgebied verlate gemaak en sy erfdeel verander in ’n woestyn, bestem vir jakkalse.”

4 Toe het Esau se afstammelinge, die mense van Edom hierop gereageer en gesê: “Ons is platgeslaan, maar ons sal die bouvalle weer opbou.”

Die Here, die Almagtige, het so daarop geantwoord: “Hulle kan maar probeer om herstelwerk te doen. Ek sal dit net weer vernietig! Hulle land sal bekend staan as ‘Die Land van Boosheid’ en die volk as ‘Die volk vir wie die Here vir altyd kwaad sal wees’.

5 As julle die vernietiging met julle eie oë sien, sal julle sê: ‘Die grootheid van die Here strek baie verder as ons landsgrense!’”

Nuttelose offers

6 Vir die priesters sê die Here, die Almagtige:

“’n Seun eer sy pa

en ’n slaaf sy meester.

Ek is julle Vader en julle Meester,

maar waar is die eer en respek

wat My toekom?

Julle het My geminag!

Maar julle vra:

‘Op watter wyse

het ons U geminag?’

7 Julle bring vir My offers

van voedsel wat besoedeld is.

Dan vra julle:

‘Hoe het ons u offer onrein

gemaak?’

Julle het dit gedoen deur te sê

die Here se altaar

kan maar geminag word.”

8 Die Here, die Almagtige, sê:

“Is dit nie verkeerd

as julle blinde diere bring

om te offer nie?

Is dit nie ook verkeerd

om lam en siek diere

te offer nie?

Bring ’n bietjie sulke geskenke

vir julle goewerneur

en kyk of hy daarmee tevrede sal wees

en julle vriendelik sal ontvang!

9 Roep God aan en smeek Hom

om julle genadig te wees!

Maar as dit die soort offers is

wat julle bring,

hoekom sal Ek

julle goedgesind wees?”

vra die Here, die Almagtige.

10 “Ek wens iemand van julle wil die tempeldeure toesluit sodat julle nie meer nuttelose offers kan bring nie! Ek is glad nie tevrede met julle nie. Ek stel nie in julle offers belang nie,” sê die Here, die Almagtige.

11 “Daar is nasies wat My eer van waar die son opkom tot waar dit weer ondergaan. Oral eer hulle My deur wierookoffers en rein offers te bring. Die nasies het groot ontsag vir my Naam,” sê die Here, die Almagtige.

12 “Julle bewys nie respek deur dit wat julle doen nie. Met die veragtelike offers wat julle bring, sê julle eintlik dat julle die altaar van die Here minag.

13 Julle sê: ‘Dit is moeilik om Hom te dien’ en dan trek julle ook nog julle neuse daarvoor op,” sê die Here, die Almagtige!

“Julle bring gesteelde, lam en siek diere en bied dit as offers aan! Moet Ek nou tevrede wees met dit wat julle bring?” vra die Here.

14 “Daar rus ’n vloek op die bedrieërs wat beloof om ’n ram uit hulle kudde te gee, maar dan ’n verminkte dier aan die Here offer.” Die Here, die Almagtige, sê: “Is Ek nie ’n groot Koning nie? Selfs die nasies het groot ontsag vir My!”

MALEAGI 2

’n Waarskuwing aan die

priesters

1 “Luister, priesters, hierdie opdrag is vir julle!”

2 Die Here, die Almagtige, sê:

“Luister na My,

maak groot erns daarmee.

Julle moet my Naam eer!

As julle dit nie doen nie,

sal Ek ’n vloek oor julle bring.

Selfs julle voorspoed

sal Ek verander in ’n vloek.

Trouens, Ek het dit alreeds vervloek,

want aan my waarskuwing

steur julle julle nie.

3 Ook julle nageslag sal Ek straf.

Ek gaan die mis

van die offerdiere

by julle feeste

oor julle gesigte smeer.

Julle sal op die mishoop beland.

4 Dan sal julle besef dat dit Ek is

wat hierdie opdrag gestuur het

sodat my verbond met die Leviete

kan voortbestaan,”

sê die Here, die Almagtige.

5 “Die doel van my verbond met die

Leviete was om lewe en vrede

te bring.

Dit is wat Ek vir die Leviete gegee het.

Hulle moes My eer en respekteer

en dis presies wat hulle gedoen het.

Hulle het My met diep ontsag bejeën,

6 mense in my waarheid onderrig

en nie leuens vertel nie.

In vrede en opregtheid

het hulle saam met My geloop.

Hulle het ook baie mense gehelp

om weg te draai van die sonde.

7 “Die priester moet waak

oor die kennis wat hy meedeel.

Hy moet die volk kan leer

wat my wil is,

want hy is die boodskapper

van die Here, die Almagtige.

8 Maar dit was nie so met julle nie!”

Die Here, die Almagtige, sê:

“Julle het van my pad afgedwaal.

Julle sogenaamde onderrig

het baie mense laat struikel.

Julle het skade aangerig

aan my verbond met die Leviete.

9 “Julle het nie gelewe soos

Ek vereis nie

en was partydig

in julle toepassing van my voorskrifte.

Daarom het Ek veroorsaak

dat julle by die hele volk

verag en verneder word.”

’n Oproep om getrouheid

10 Is ons nie kinders van dieselfde

Vader nie?

En is ons nie almal deur een God

geskep nie?

Hoekom bedrieg julle mekaar dan,

verbreek julle die verbond

wat God met ons voorouers

gemaak het?

11 In Israel en Jerusalem

het iets afstootliks gebeur:

Juda was ontrou!

Die Here het die tempel baie lief,

maar die mans van Juda

het dit ontheilig

deur te trou met vroue

wat vreemde gode aanbid.

12 Mag die Here alle mense

wat so iets doen

uit die gemeenskap van

Israel verwyder,

selfs al bring hulle gereeld offers

aan die Here, die Almagtige.

13 Daar is nog iets wat julle doen.

Julle stort trane by die Here se altaar.

Julle huil en kerm,

maar Hy aanvaar nie julle offers

met goeie guns nie.

14 Julle roep uit: “Hoekom nie?”

Dis omdat die Here ’n getuie was

toe jy en jou vrou

julle beloftes aan mekaar gemaak het.

Maar jy was ontrou aan haar

ten spyte daarvan dat sy

getrou as jou metgesel gebly het,

die vrou aan wie jy jou

huweliksbeloftes gemaak het.

15 Het die Here dan nie man en vrou

een gemaak nie,

een in liggaam en gees?

Hoekom het Hy hulle een gemaak?

Omdat God wou hê daar moet

kinders vir Hom voortspruit.

Wees op julle hoede.

Moenie ontrou wees

aan die vrou van jou jeug nie.

16 Die Here, die God van Israel, sê:

“Ek haat egskeiding!

Om te skei is net so gewelddadig

soos om ’n slagoffer

se bebloede baadjie aan te trek.”

Die Here, die Almagtige, sê:

“Wees verantwoordelik

en moenie ontrou wees nie!”

17 Julle het die Here moeg gemaak

met julle baie gepraat

en dan vra julle:

“Hoe het ons Hom moeg gemaak?”

Julle het Hom vermoei

deur te sê

dat almal wat kwaad doen

eintlik vir die Here aanvaarbaar is

en dat Hy met hulle tevrede is.

Julle het Hom vermoei deur te vra:

“Waar is die God

wat reg moet laat geskied?”

MALEAGI 3

Die dag van oordeel is naby

1 Die Here, die Almagtige, sê:

“Kyk, Ek stuur my boodskapper

wat die pad voor My gereedmaak.

Die Here na wie julle soek,

sal skielik na sy tempel toe kom.

Die boodskapper van die verbond

na wie julle so uitsien, kom beslis.

2 Maar wie sal die dag van sy koms

kan deurstaan?

Wie sal kan standhou

wanneer Hy verskyn?

Hy sal wees soos vuur

wat metaal suiwer

of soos seep wat klere spierwit was.

3 Hy sal gaan sit en oordeel

soos iemand wat silwer smelt

en suiwer maak.

Hy sal die Leviete suiwer

en hulle soos goud en silwer louter.

Dan sal hulle weer

vir die Here aanvaarbare

offers bring.

4 Dan sal die Here

weer offers aanvaar

van Juda en Jerusalem se mense,

soos vroeër.”

5 Die Here, die Almagtige, sê:

“Ek kom om julle te oordeel.

Ek sal dadelik gereed wees

om teen die towenaars,

egbrekers en leuenaars te getuig.

Ek sal getuig teen mense

wat hulle werkers

met lone bedrieg

en weduwees en weeskinders

onderdruk.

Verder sal Ek ook getuig

teen hulle wat vreemdelinge

tussen julle laat swaarkry

en teen hulle

wat My nie respekteer nie.”

Keer terug na die Here

6 “Ek is die Here, Ek verander nie.

Daarom, nageslag van Israel,

is julle nie heeltemal uitgewis nie.

7 Van die tyd van julle voorouers af

het julle afgewyk

van my voorskrifte

en hulle nie gehoorsaam nie.”

Die Here, die Almagtige, sê:

“Keer terug na My toe

en Ek sal na julle toe terugkeer.

Maar julle vra:

‘Hoe moet ons terugkeer?’

8 “Sal mense God ooit besteel?

Tog het julle My bedrieg!

Julle vra: ‘Wat bedoel U?

Wanneer het ons U ooit bedrieg?’

Julle het die tiendes

en offerandes gesteel!

9 Daar rus ’n vloek op julle,

want julle hele volk besteel My.”

10 Die Here, die Almagtige, sê:

“Bring al die tiendes

na die stoorkamers

sodat daar genoeg kos

in my tempel kan wees.

Toets My hierin of Ek nie vir julle

die vensters van die hemel

sal oopmaak nie.

Ek sal voorspoed op julle laat reën

wat meer as genoeg

vir julle sal wees!”

11 Die Here, die Almagtige, sê:

“Ek sal sorg dat insekte

julle oes nie verwoes nie

en julle wingerde op die landerye

nie misluk nie.

12 Dan sal al die nasies

julle as geseënd beskou

omdat julle land begeerlik is.”

Dit is wat die Here, die Almagtige, sê.

13 Die Here sê:

“Julle sê verskriklike dinge van My.

Maar julle sê:

‘Wat het ons van U gesê?’

14 Julle het gesê:

‘Dis tevergeefs om God te dien.

Wat het ons daarby gebaat

om sy voorskrifte na te kom

of om die Here, die Almagtige, te wys

dat ons berou het oor ons sonde?

15 Kwaaddoeners word ryk,

en mense wat God uitdaag,

kom skotvry daarvan af.

Daarom sal ons voortaan sê:

Verwaande mense is gelukkig.’”

Belofte van genade

16 Die mense wat die Here dien,

het toe met mekaar gepraat.

Die Here het na hulle geluister

en gehoor wat hulle sê.

Hulle het ’n gedenkboek

in sy teenwoordigheid geskryf.

Dit het die name bevat van mense

wat die Here met ontsag dien

en graag aan Hom dink.

17 Die Here, die Almagtige, sê:

“Die dag as Ek ingryp,

sal hulle my kosbare besitting wees.

Ek sal sagkens met hulle werk,

soos ’n pa met sy kind

wat lojaal aan hom is.

18 Dan sal julle weer die verskil sien

tussen mense wat reg doen

en goddelose mense,

die verskil tussen mense wat God dien

en dié wat Hom nie dien nie.”

MALEAGI 4

Naderende oordeel

1 Die Here, die Almagtige, sê:

“Die dag kom

en dit brand soos ’n vuuroond.

Op dié dag sal alle verwaande,

alle goddelose mense

soos kaf deur vuur verteer word.

Niks sal oorbly nie,

nie wortel of tak nie.

2 “Maar die Son van Geregtigheid,

met genesing in sy vlerke,

sal opkom vir julle

wat eerbied en respek

vir My het.

Julle sal uitgaan en vrolik rondspring

soos kalwers

wat uit die kraal kom.”

3 Die Here, die Almagtige, sê:

“Op dié dag sal julle

die goddeloses vertrap

asof hulle stof onder julle voete is.

4 “Moenie vergeet om die voorskrifte

van my dienskneg Moses

te gehoorsaam nie.

Dit behels al die reëls en regulasies

wat Ek hom op Sinai beveel het

om vir die hele Israel te gee.

5 “Kyk, voordat die groot

en angswekkende Dag van die Here

aanbreek,

stuur Ek die profeet Elia na julle toe.

6 Hy sal ouers

met hulle kinders versoen

en kinders met hulle ouers.

As dit nie gebeur nie,

sal Ek die land tref

met vernietiging.”

MATTEUS 1

1 Die voorouers van Jesus, die

Messiaskoning

Hier volg die familieregister van Jesus Christus. Hy was die Seun van Dawid, en uit die nageslag van Abraham.

2 Abraham was die pa van Isak,

Isak die pa van Jakob,

Jakob die pa van Juda en sy broers.

3 Juda was die pa van Peres en Serag

by Tamar.

Peres was die pa van Gesron,

Gesron die pa van Ram,

4 Ram die pa van Amminadab,

Amminadab die pa van Nagson,

Nagson die pa van Salmon.

5 Salmon was die pa van Boas

by Ragab,

Boas die pa van Obed by Rut,

Obed die pa van Isai,

6 Isai die pa van koning Dawid.

Dawid was die pa van Salomo

by die vrou van Urija,

7 Salomo die pa van Rehabeam,

Rehabeam die pa van Abia,

Abia die pa van Asa,

8 Asa die pa van Josafat,

Josafat die pa van Joram,

Joram die pa van Ussia,

9 Ussia die pa van Jotam,

Jotam die pa van Agas,

Agas die pa van Hiskia,

10 Hiskia die pa van Manasse,

Manasse die pa van Amon,

Amon die pa van Josia,

11 Josia die pa van Jojagin en sy

broers.

Teen hierdie tyd het die Babiloniese

ballingskap begin.

12 Tydens die Babiloniese

ballingskap het

Jojagin die pa geword van Sealtiël.

Sealtiël was die pa van Serubbabel,

13 Serubbabel die pa van Abihud,

Abihud die pa van Eljakim,

Eljakim die pa van Asor,

14 Asor die pa van Sadok,

Sadok die pa van Agim,

Agim die pa van Elihud,

15 Elihud die pa van Eleasar,

Eleasar die pa van Mattan,

Mattan die pa van Jakob.

16 Jakob was die pa van Josef,

die man van Maria.

Sy was die ma van Jesus, wat die

Messias genoem word.

17 Daar was dus altesaam veertien geslagte van Abraham tot by Dawid; veertien van Dawid tot by die Babiloniese ballingskap; en veertien van die Babiloniese ballingskap tot by Jesus die Messias.

Jesus die Messiaskoning – sy

herkoms uit God én uit mens

18 Dit is hoe Jesus Christus gebore is: Maria, sy ma, was verloof aan Josef. Nog voor hulle getroud is en hulle intiem verkeer het, het dit geblyk dat sy verwagtend was deur die Heilige Gees.

19 Josef, haar verloofde, was in ’n dilemma. Aan die een kant was hy ’n wetsgehoorsame man; aan die ander kant wou hy haar die openbare skande spaar. Daarom het hy hom voorgeneem om die verlowing privaat te verbreek.

20 Met hierdie dinge in gedagte het hy aan die slaap geraak. Daarop verskyn ’n engel van die Here in ’n droom aan hom en sê: “Moenie huiwer om voort te gaan met jou huwelik met Maria nie. Die Kindjie wat sy dra, is verwek deur die Heilige Gees.

21 Sy sal aan ’n Seun geboorte gee, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes red.”

22 Dit alles het gebeur om die Here se boodskap deur die profeet te laat uitkom:

23 “Die maagd sal swanger word!

Sy sal aan ’n Seun geboorte gee.

En die mense sal Hom

Immanuel noem.”

(Hierdie naam beteken: God is by ons.)

24 Toe Josef wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het. Hy het Maria as sy vrou by hom in die huis geneem,

25 maar hy het nie intiem met haar verkeer totdat haar Seun gebore is nie. En hy het Hom Jesus genoem.

MATTEUS 2

Geleerdes uit ’n nie-Joodse land

aanbid die Messiaskoning

1 Jesus is in die dorp Betlehem in Judea gebore tydens die regeringstyd van koning Herodes die Grote. Omstreeks daardie tyd het daar sterrekundiges uit die ooste in Jerusalem opgedaag. Hulle doen toe navraag:

2 “Waar is die pasgebore Koning van die Jode? Ons het sy ster sien verskyn en gekom om Hom te aanbid.”

3 Toe koning Herodes hiervan hoor, het dit hom hewig ontstel; so ook die hele Jerusalem.

4 Hy roep toe al die priesterhoofde en skrifkenners bymekaar en hoor by hulle waar die Messias gebore sou word. Hulle het hom geantwoord:

5 “In Betlehem in Judea, want die profeet het soos volg geskryf:

6 ‘En jy, Betlehem, in die

landstreek van Juda,

jy is beslis nie

die onbeduidendste dorpie

in Juda nie;

want uit jou sal daar

’n leier voortkom

wat my volk Israel sal versorg

soos ’n skaapwagter sy skape.’”

7 Daarop het Herodes ’n geheime boodskap na die sterrekundiges gestuur om hulle na hom te ontbied. Hy het toe noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster oorspronklik verskyn het.

8 Daarna laat hy hulle na Betlehem gaan met die opdrag: “Gaan vind alles noukeurig oor die Kindjie uit. As julle Hom kry, kom sê vir my dat ek Hom ook kan gaan aanbid.”

9 Nadat hulle die koning aangehoor het, het die sterrekundiges vertrek. En, werklikwaar, die ster wat hulle in die ooste sien verskyn het, is weer daar en dit beweeg voor hulle uit totdat dit bokant die plek gaan staan waar die Kindjie was.

10 Met dié dat hulle die ster sien, het ’n wonderlike blydskap oor hulle gekom.

11 Toe hulle in die huis ingaan, sien hulle die Kindjie by Maria, sy ma, en hulle val voor Hom neer en aanbid Hom. Toe maak hulle hulle kissies met kosbaarhede oop en gee aan Hom geskenke van goud en wierook en mirre.

12 Maar omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie weer na Herodes terug te gaan nie, het hulle met ’n ander roete huis toe vertrek.

Josef vlug met sy gesin Egipte toe

13 Ná die vertrek van die sterrekundiges verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê: “Staan op en vlug met die Kindjie en sy ma na Egipte toe. Bly daar tot ek vir jou sê om terug te kom, want Herodes gaan die Kindjie probeer doodmaak.”

14 Josef het toe opgestaan en nog daardie selfde nag met die Kindjie en sy ma na Egipte toe vertrek.

15 En hulle het daar gebly tot Herodes se dood. So is vervul wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”

Herodes vermoor alle seuntjies

onder twee jaar

16 Toe Herodes agterkom dat die sterrekundiges hom uitoorlê het, was hy siedend van woede. Hy het soldate gestuur om in en rondom Betlehem al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe te bring. Hy het die twee jaar bereken volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het.

17 Daarmee is Jeremia se uitspraak vervul:

18 “’n Smartkreet word gehoor

in Rama,

’n gesnik en ’n bitter geklaag.

Ragel huil oor haar kinders.

Sy wil maar net nie

vertroos word nie,

want hulle is dood.”

Josef keer met sy gesin uit

Egipte terug

19 Ná Herodes se dood verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê vir hom:

20 “Staan op en neem die Kindjie en sy ma terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie om die lewe wou bring, is dood.”

21 Josef het dadelik met die Kindjie en sy ma vertrek en hy het in die land Israel aangekom.

22 Toe hy egter hoor dat Argelaus koning geword het in sy pa, Herodes, se plek, het hy bang geword om na Judea te reis. Omdat God hom in ’n droom so beveel het, het hy toe na die omgewing van Galilea vertrek.

23 En so het hy hom gaan vestig in ’n dorp met die naam Nasaret. Daarmee is die uitspraak van die profete vervul dat die Messias ’n Nasarener genoem sou word.