AMOS 3

1 Luister na hierdie boodskap wat Ek, die Here, oor julle te sê het, mense van Israel. Dit raak die hele volk wat Ek uit Egipte laat trek het.

2 “Ek het net vir julle gekies

uit al die volke

op die aarde.

Daarom sal Ek julle straf

vir al julle sondes.”

Getuies teen Israel

3 Sal twee mense

saam op reis gaan

sonder om eers af te spreek

om dit te doen?

4 Sal ’n leeu in ’n bos brul

sonder dat hy ’n prooi het?

Sal ’n leeu grom

in die ruigtes

as hy niks gevang het nie?

5 Sal ’n voël gevang word

as ’n wip nie gestel is nie?

Sal ’n wip toeklap op die grond

as dit nie

iets gevang het nie?

6 As die oorlogstrompet blaas,

sal mense dan nie skrik nie?

As ’n ramp ’n stad tref,

het die Here

dit dan nie veroorsaak nie?

7 Die oppermagtige Here

doen niks

sonder om sy diensknegte,

die profete,

daaroor in te lig nie.

8 Die leeu het gebrul,

wie sal nie bang wees nie?

Die oppermagtige Here

het gepraat!

Wie sal weier om as profeet

op te tree?

9 Kondig die volgende boodskap in die paleise in Asdod en in Egipte aan: “Kom bymekaar op die heuwels rondom Samaria en aanskou die groot misdade en onderdrukking wat in hierdie stad aangaan.”

10 Die Here sê:

“Hierdie mense het vergeet

wat dit beteken

om reg te laat geskied.

Hulle luukse blyplekke

is vol rykdom,

deur diefstal en geweld

in die hande gekry.”

11 Die oppermagtige Here

sê verder:

“Daarom is ’n vyand op pad!

Hy sal die vestings afbreek

en jou paleise plunder.”

12 Die Here sê:

“’n Skaapwagter

sal twee bene

of miskien ’n stukkie oor red

uit ’n leeu se bek.

Net so sal die Israeliete

gered word,

hulle wat in Samaria

op gemaklike banke sit

en op ’n rusbank

in Damaskus.”

13 Luister hierna en kondig dit aan deur die hele Israel, sê die oppermagtige Here die almagtige God:

“Luister na My

en waarsku Jakob se nageslag.

14 Die dag as Ek

Israel se oortredings straf,

sal Ek ook die heidense altare

in Bet-El vernietig.

Die afgebreekte horings

van die altaar

sal op die grond val.

15 Ek sal winterhuise

en somerhuise verwoes.

Ek sal die ivoorversierde huise

afbreek,

niks sal van al hierdie plekke

oorbly nie.”

Dit is wat die Here sê!

AMOS 4

Israel leer nie

1 Luister na hierdie boodskap,

ryk vroue van Samaria.

Julle leef in weelde

soos vet koeie

wat in Basan wei.

Julle buit die armes uit

en vertrap behoeftige mense.

Julle sê vir julle mans:

“Skink sodat ons kan drink!”

2 Die oppermagtige Here

het ’n eed geneem:

“Die dag sal kom

wanneer hulle

julle aan hoeke sal wegsleep,

elkeen van julle

soos ’n vis aan ’n hoek!

3 Julle sal reguit

deur die openinge

in die stadsmuur gaan.

Hulle sal julle wegvat

na Hermonberg toe.”

Dit is wat die Here sê!

4 “Kom na Bet-El

en oortree daar teen God.

Gaan na Gilgal

en doen nog meer kwaad.

Bring julle offers in die môre,

gee elke derde dag

julle tiendes.

5 Bring maar julle dankoffer

van suurdeegbrood.

Spog gerus openlik

met julle vrywillige offers!

Julle Israeliete hou mos daarvan

om dit te doen!

Dit is wat die oppermagtige Here sê!

6 “Honger en hongersnood

het Ek in elke dorp gebring.

Nogtans het julle nie

na My toe teruggekeer nie.

7 “Ek het gesorg

dat dit nie reën wanneer julle

dit die nodigste het nie.

Ek het vir een dorp reën gegee,

en dit van ’n ander weerhou.

Een stuk grond het reën gekry,

’n ander een het uitgedroog.

8 Mense van twee of drie dorpe

het na ’n stad toe gesteier

om water te drink,

maar sonder sukses.

Nogtans het julle

nie na My teruggekeer nie.”

Dit is wat die Here sê.

9 “Ek het julle tuine verskroei

en julle wingerde met roes getref.

Julle vyebome en olyfbome

het die sprinkane afgevreet.

Nogtans,” sê die Here,

“het julle

nie na My toe teruggekeer nie.

10 “Ek het plae oor julle laat kom

soos destyds oor Egipte.

Ek het julle jong mans

in die oorlog laat sterf

en julle perde afgemaai.

Die reuk van dood

het oor julle gehang.

Nogtans,” sê die Here,

“het julle nie teruggekeer

na My toe nie.

11 “Ek het julle dorpe verwoes

soos Ek Sodom en Gomorra

verwoes het.

Dié wat oorleef het,

was soos ’n stuk hout

wat uit ’n vuur gepluk is.

Nogtans wou julle steeds

nie na My toe terugkeer nie.”

Dit is wat die Here sê.

12 “Daarom, Israel,

sal Ek al hierdie dinge

wat Ek gesê het

met jou laat gebeur.

Staal jou, Israel,

om jou God te ontmoet!”

13 Weet dit: Hy is die Een

wat die berge vorm,

die wind skep,

en sy gedagtes

aan mense bekendmaak.

Hy verander die oggendlig

in donkerte.

Hy loop op die bergtoppe

van die aarde.

Sy Naam is: Die Here God,

die Almagtige!

AMOS 5

’n Treurlied oor Israel

1 Volk van Israel, luister na die woorde van die treurlied wat ek oor julle sing:

2 “Die jong meisie Israel

het geval.

Sy sal nie weer opstaan nie!

Sy lê verlate op die grond

met niemand

om haar op te help nie.”

3 So sê die oppermagtige Here:

“As ’n stad in Israel

1 000 manskappe uitstuur,

sal net 100 oorleef.

As ’n stad

100 manskappe uitstuur,

sal net tien dit oorleef.”

4 Verder sê die Here

vir die volk Israel:

“Kom terug na My toe, en leef!

5 Moenie afgode raadpleeg

in Bet-El nie.

Moet ook nie na Gilgal gaan

of na Berseba toe nie.

Die mense van Gilgal

sal in ballingskap gaan.

Niks sal oorbly

van die mense van Bet-El nie.”

6 Kom terug na die Here toe

en leef!

As julle dit nie doen nie,

sal Hy soos vuur

deur die nageslag van Josef trek.

Die vlamme sal Bet-El verteer

sonder dat iemand dit blus.

7 Julle verdraai die reg tot onreg,

regverdigheid verwerp julle.

8 Hy, die Skepper

van die Sewester en Orion,

sy Naam is Here.

Hy verander

donkernag in môrelig

en die dag in nag.

Hy roep die water uit die see

en giet dit weer oor die aarde.

9 In ’n oogwink

oorweldig Hy magtige mense

en vernietig Hy vestings.

10 Julle haat eerlike regters.

Julle verafsku mense

wat die waarheid praat.

11 Julle vertrap die armes

en eis ’n deel van hulle graan.

Daarom, omdat julle dit doen,

sal julle nooit kan woon

in die deftige steenhuise

wat julle bou nie.

Julle het wingerde aangeplant,

maar julle sal nooit drink

van die wyn wat dit oplewer nie.

12 Ek weet hoeveel oortredings

julle het

en hoe groot julle sondes is.

Julle onderdruk goeie mense

deur omkoopgeld te eis.

Julle ontneem die armes

van hulle reg in die howe.

13 ’n Verstandige mens

bly in hierdie tyd eerder stil

omdat dit ’n tyd vol onreg is.

14 Doen wat goed is

en vlug vir die kwaad,

dan sal julle lewe!

Dan sal Hy, die Here God,

die Almagtige, by julle wees

soos julle gesê het dat Hy is.

15 Julle moet die bose haat

en die goeie liefhê.

Sorg dat regverdigheid

in die howe seëvier.

Miskien sal die Here God,

die Almagtige, nog genade hê

vir dié wat oorgebly het

van Josef se nageslag.

16 Die Here God,

die Almagtige, die Here, sê:

“Omdat dit gebeur het,

sal mense op die pleine

en op al die strate

uitroep van smart.

Roep die boere op

om saam met julle te huil

en die gehuurde rouklaers

om te kla.

17 Selfs in die wingerde

sal mense huil,

want Ek beweeg onder julle

om julle te straf,”

sê die Here.

Die Dag van die Here

18 Daar wag ’n ontnugtering

op julle wat uitsien

na die Dag van die Here.

Waarom wens julle

dat die Dag van die Here

moet kom?

Dit gaan ’n donker dag wees,

nie ’n dag van lig nie.

19 Dit sal wees soos iemand

wat weghardloop vir ’n leeu,

maar hom vasloop teen ’n beer.

En wanneer hy by die huis kom

en met sy hand leun

teen die muur,

word hy deur ’n slang gepik.

20 Die Dag van die Here

sal ’n donker dag wees,

sonder enige lig van hoop.

’n Somber en uitsiglose dag!

21 “Ek haat, Ek verafsku

julle feeste.

Ek vind geen plesier

in julle samekomste nie.

22 Ek sal nie

julle brandoffers

en graanoffers

aanvaar nie.

Ek sal My nie eers steur

aan die vetgemaakte diere

wat julle as offers bring nie.

23 Hou op om lofliedere te sing,

dit is net ’n geraas!

Ek sal ook nie na die melodieë

van julle harpe luister nie.

24 Ek wil liewer ’n vloed

van regverdigheid sien,

’n eerlike leefwyse

soos ’n stroom water

wat nie ophou vloei nie.

25 “Israel, was dit vir My

dat julle 40 jaar lank

brandoffers en graanoffers

in die woestyn gebring het?

26 Nee, dit was eerder

vir die koninggod Sikkut

en die stergod Kijun

wat julle self gemaak

en saamgedra het.

27 Daarom sal Ek julle wegstuur

in ballingskap,

na ’n land oos van Damaskus.”

Dit sê Hy wat genoem word

die Here God, die Almagtige.

AMOS 6

1 Teëspoed

wag op julle wat dink

julle is sorgvry en veilig

in Jerusalem en Samaria.

Julle word beskou

as vooraanstaande

en belangrike mense van Israel.

Die mense van die volk

kom na julle vir hulp.

2 Gaan na Kalne

en kyk wat het daar gebeur.

Gaan van daar

na die groot stad Hamat

en nog verder af

na Gat van die Filistyne.

Julle is tog nie beter

as hierdie stede nie.

Julle grondgebied

is nie groter as hulle s’n nie.

3 Julle wil nie glo

dat die dag van teëspoed

naby is nie.

Maar julle optrede bring self

die tyd van geweld nader.

4 Julle lê ontspanne

op julle ivoorversierde

beddens en rusbanke.

Julle eet die sagte vleis

van uitgesoekte lammers

en kalwers.

5 Julle sing liedjies

saam met die harp.

Soos Dawid ontwerp julle

musiekinstrumente.

6 Julle drink bekers vol wyn

en smeer uitsoekolies aan.

Maar oor die ondergang

van Israel

ontstel julle julle nie.

7 Julle sal die eerstes wees

om in ballingskap te gaan.

Verby is die tyd

vir uitspattige feesvierings.

8 Die oppermagtige Here

het ’n eed geneem

en dit is wat die Here God,

die Almagtige,

gesê het:

“Ek verag Israel se trots

en haat hulle spoghuise.

Ek sal die stad met alles daarin

aan hulle vyande oorgee.

9 “As tien mense oorbly

in een huis,

sal hulle almal sterf.

10 As ’n familielid kom

om die lyke te verbrand,

die huis binnegaan

om die lyke weg te vat,

en vra of daar enige oorlewendes is:

‘Is daar nog iemand

saam met jou?’

en die persoon antwoord:

‘Nee!’

Dan sal die familielid sê:

‘Bly stil!

Moenie eers

die Here se Naam

fluister nie.

Hy kan jou dalk hoor!’

11 As die Here die opdrag gee,

sal van die grootste

tot die kleinste huise

tot stukke en brokke

afgebreek word.

12 “Perde kan tog nie

oor rotse galop nie!

’n Mens gebruik mos nie osse

om rotse om te ploeg nie!

Tog het julle

wat reg is

in iets giftigs verander,

en wat regverdig is

in iets wat bitter is.

13 Julle spog oor Lo-Dabar

en sê:

‘Het ons nie Karnajim

op eie krag ingeneem nie?’”

14 Die Here God,

die Almagtige, sê:

“O volk van Israel,

Ek sal ’n vyandige volk

oor julle laat heers.

Hulle sal julle onderdruk

vanaf Lebo-Hamat

in die noorde

tot by die Arabaspruit

in die suide.”

AMOS 7

’n Visioen van sprinkane

1 Die oppermagtige Here het my ’n visioen laat sien. Ek het gesien dat Hy besig was om ’n swerm sprinkane gereed te maak. Dit was net toe die graan weer begin opkom het nadat die koning se deel afgeoes was.

2 Ek het gesien hoe die sprinkane alles wat groen was, afgevreet het. Toe het ek gesê: “Oppermagtige Here, vergewe ons tog, asseblief! Israel is maar ’n klein volkie en sal nie oorleef as U nie vergewe nie.”

3 Die Here het hulle jammer gekry en gesê: “Ek sal dit nie laat gebeur nie.”

’n Visioen van vuur

4 Die oppermagtige Here het my weer ’n visioen laat sien. Ek het gesien dat Hy sy volk wou straf deur ’n groot vuur te stuur. Die vuur het eers die diep onderaardse water laat opdroog en was besig om die hele land te verteer.

5 Toe het ek gesê: “Oppermagtige Here, moet dit asseblief nie doen nie. Israel is maar ’n klein volkie en sal dit nie oorleef nie.”

6 Die oppermagtige Here het weer vir hulle jammer gevoel en gesê: “Ek sal dit ook nie laat gebeur nie.”

’n Visioen van ’n skietlood

7 Ek het nog ’n visioen gesien.

Die Here het

by ’n loodregte muur gestaan

met ’n skietlood in sy hand.

8 Die Here vra toe vir my:

“Wat sien jy, Amos?”

Ek het geantwoord:

“’n Skietlood.”

Toe sê die Here:

“Ek gaan my volk Israel

met ’n skietlood toets.

Ek gaan hulle verkeerde optrede

nie meer oorsien nie.

9 Ek gaan die aanbiddingsplekke

wat Isak opgerig het

en die heiligdomme van Israel

vernietig.

Ek gaan oorlog laat uitbreek

teen die koningshuis

van Jerobeam.”

Amos en die priester Amasia

10 Amasia was ’n priester in Bet-El. Toe hy hoor wat Amos sê, het hy vir Jerobeam, die koning van Israel, ’n boodskap gestuur: “Amos is besig om ’n komplot teen Israel te smee. Al hierdie dinge wat hy sê, sal die land net skade aandoen.”

11 Amos het gesê:

“Jerobeam sal binnekort

gewelddadig sterf

en Israel sal in ballingskap gaan.

Hulle sal uit hulle land

weggevoer word.”

12 Amasia het toe vir Amos gesê: “Siener, gee pad! Gaan liewer terug na die land Juda toe. Gaan verdien jou brood daar en profeteer daar!

13 Moenie langer hier in Bet-El jou profetiese boodskappe bring nie. Dit is die koning se aanbiddingsplek, die heiligdom van sy koninkryk.”

14 Maar Amos het Amasia geantwoord en gesê: “Ek is nie ’n professionele profeet nie en ek is ook nie ’n seun van ’n profeet nie. Ek is maar net ’n skaapboer, en ek kweek wildevyebome.

15 “Maar die Here het my geroep waar ek skape opgepas het en gesê: ‘Gaan na my volk Israel en profeteer vir hulle.’

16 “Maar luister nou na hierdie boodskap van die Here! Jy sê mos:

“‘Moenie teen Israel profeteer nie.

Hou op om te preek

teen die nageslag van Isak.’

17 “Maar die Here sê:

‘In hierdie stad sal jou vrou

’n prostituut word

en jou seuns en dogters

sal in die oorlog sterf.

Hulle sal jou grondgebied

in stukke verdeel

en jy sal in ’n vreemde land sterf.

Sonder twyfel

sal hulle die mense van Israel

uit hulle land

in ballingskap wegvat.’”

AMOS 8

’n Visioen van ’n mandjie vrugte

1 Die oppermagtige Here het my weer ’n visioen laat sien. Dit was ’n mandjie vol ryp vrugte.

2 Hy het vir my gevra: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “’n Mandjie vol ryp vrugte.”

Toe sê die Here vir my:

“My volk Israel

is soos hierdie vrugte,

ryp vir straf!

Ek gaan hulle straf

nie langer uitstel nie.”

3 Die oppermagtige Here sê:

“Wanneer daardie dag aanbreek,

sal die liedere

wat hulle in die paleis sing

’n huiltoon hê.

Lyke sal in groot getalle

oral rondlê.

Bly liewer stil!”

4 Julle wat die armes besteel

en die behoeftiges vertrap,

luister hierna!

5 Julle kan nie wag

dat die Nuwemaanfees

of die Sabbat verby is

sodat julle graan kan verkoop nie.

Julle meet graan

met ’n vals maatbak

en bedrieg deur skaalgewigte

swaarder te maak.

6 Die koring wat julle verkoop,

meng julle met kaf!

Julle koop armes vir geld

en behoeftiges

vir ’n paar sandale.

7 Die Here, die Trots van Israel,

het ’n eed gesweer:

“Ek sal nooit vergeet

wat Israel gedoen het nie!

8 Julle dade sal die aarde skud,

almal op die aarde sal huil.

Die wêreld sal opstyg soos die Nyl

en wegsak soos die rivier

van Egipte.”

9 Die oppermagtige Here sê:

“In dié tyd sal Ek die son

teen die middag laat sak,

en dit donker laat word

terwyl dit nog dag is.

10 Ek sal julle feeste

tye maak van rou

en julle vrolike sang

tot ’n klaagsang.

Soos iemand rou oor die dood

van ’n enigste kind,

so sal julle rouklere dra

en julle koppe kaal skeer.

Dit sal ’n bitter dag wees!”

11 Die oppermagtige Here sê:

“Die tyd kom

dat Ek hongersnood

oor die land sal stuur.

Nie ’n honger na brood

of water nie,

maar om te hoor wat Ek sê.

12 Mense sal angstig soek

na die woorde van die Here.

Hulle sal soek van see tot see,

van die noorde tot die ooste,

maar dit nie kry nie.

13 In dié tyd

sal jong meisies en jong mans

flou word van dors.

14 Dié wat sweer by die afgode

van Samaria;

hulle sal sê:

‘Die God van Dan leef verseker!’

en:

‘Daar is beslis ’n pad

na Berseba toe.’

Hulle sal almal neerval

op die grond

en nooit weer opstaan nie.”

AMOS 9

’n Visioen van die Here by die

altaar

1 Ek het die Here langs die altaar sien staan. Hy het gesê:

“Slaan die bopunte van die pilare

so hard

dat die fondamente skud.

Laat die dak van die gebou

neertuimel

op die mense onder.

Die mense wat bly leef,

sal Ek in ’n geveg laat sterf.

Nie een sal kan ontvlug nie!

2 Selfs al sou hulle grawe

tot diep in die doderyk,

Ek sal hulle daar uithaal.

Al klim hulle op na die hemel,

Ek sal hulle van daar af bring.

3 Al kruip hulle weg

op die kruin van Karmelberg,

Ek sal hulle daar gaan haal

en laat afkom.

Selfs al kruip hulle weg

op die bodem van die see,

Ek sal die seeslang stuur

om hulle te byt.

4 Al voer hulle vyande hulle weg

as gevangenes,

Ek sal hulle met ’n swaard

laat sterf.

My ingesteldheid teenoor hulle

is sleg,

nie goed nie.”

5 Die Here is die Here,

die Almagtige.

As Hy aan die aarde raak,

smelt dit weg.

Dit laat al die bewoners

op die aarde treur.

Soos die Nyl in Egipte

in vloedtyd

styg alles op en sak weer terug.

6 Die Here bou sy bovertrekke

in die hemel

en lê die fondament van die

hemelkoepel

op die aarde.

Hy roep die waters uit die see

en giet die reën oor die aarde.

Sy Naam is: “Die Here!”

7 Is julle wat Israeliete is

nie maar net soos die Kussiete nie?

vra die Here.

Het Ek nie vir Israel

uit Egipte laat trek,

maar ook die Filistyne uit Kaftor

en die Arameërs uit Kir nie?

8 “Ek, die oppermagtige Here,

hou die sondige koninkryk dop.”

Hy sê:

“Ek sal hulle verwyder

van hulle grond.

Tog sal Ek nie

die nageslag van Jakob

heeltemal uitwis nie.

9 Kyk, Ek het beveel dat Israel

rondgeskud moet word

tussen al die nasies

soos koring in ’n sif.

Maar nie een korrel

sal op die grond val nie.

10 Al die sondaars van my volk

sal omkom deur die swaard,

hulle wat sê:

‘Rampe sal ons nie inhaal nie.

Niks slegs

sal met ons gebeur nie.’”

’n Belofte van herstel

11 “As dié dag aanbreek,

sal Ek

die vervalle huis van Dawid

weer herstel.

Ek sal die stukkende mure

weer opbou,

al lyk dit nou

soos ’n vervalle huis.

Ek sal dit herstel

sodat dit lyk soos voorheen.

12 Israel sal heers

oor wat oorgebly het

van Edom.

Hulle sal ook heers

oor al die nasies

wat my Naam dra.”

Dit, sê die Here, sal Hy doen!

13 Verder sê Hy:

“’n Dag sal kom

wanneer die graan en die druiwe

vinniger sal groei

as wat hulle kan oes.

Die sap sal afdrup

van die wingerde

teen die berghange,

dit sal teen die skuinstes afvloei.

14 Ek sal my volk Israel

uit ballingskap

laat terugkom.

Hulle sal die verwoeste dorpe

weer opbou en bewoon.

Hulle sal wingerde plant

en die wyn daarvan drink.

Hulle sal boorde aanplant

en die vrugte daarvan eet.”

15 Die Here hulle God sê:

“Ek sal hulle

in hulle land hervestig.

Ek sal nooit weer toelaat

dat iemand hulle wegneem

uit die land

wat Ek vir hulle

gegee het nie.”

OBADJA 1

1 Dit is wat Obadja gesien het: Die oppermagtige Here sê die volgende oor die land Edom.

’n Boodskap van oordeel oor

Edom

Ons het ’n boodskap gehoor wat van die Here af kom. ’n Verteenwoordiger is na die nasies gestuur om te sê: “Maak julle almal slaggereed! Kry julle leërs bymekaar en laat ons Edom aanval!”

2 Die Here sê: “Edom, Ek maak jou

’n klein volkie onder die nasies.

Jy sal niksseggend en veragtelik wees.

3 Jy is hooghartig

omdat jy in ’n klipvesting woon

en jou blyplek hoog in die berge is.

Vol hoogmoed vra jy:

‘Wie sal ons ooit hierbo kan bereik?’

Maar moenie jouself bedrieg nie!

4 “Ek, die Here, sê:

Al sweef jy so hoog soos arende

en bou jy neste tussen die sterre,

Ek sal jou met ’n slag

aarde toe bring.

5 As diewe in die nag inbreek,

vat hulle nie alles nie.

Die mense wat druiwe pluk,

los van die trossies oor.

Maar jou vyande

sal jou heeltemal uitwis!

6 Elke hoek en kant van Edom

sal deursoek word.

Alles wat waardevol is,

sal gevat word.

7 Al jou bondgenote sal teen jou draai.

Hulle sal help

om jou uit jou eie land te verjaag.

Hulle maak beloftes van vrede

terwyl hulle jou ondergang beplan.

Mense wat van jou afhanklik was,

sal vir jou ’n lokval stel

sonder dat jy enigiets vermoed.”

8 Die Here sê:

“Die dag as dit gebeur,

sal daar nie meer

’n enkele verstandige mens

in die hele Edom oor wees nie!

Ek sal al die slim

en verstandige mense

uitwis in die berggebiede van

Edom.

9 Jou dapper soldate uit Teman

sal vreesbevange wees

en al die mense

bo in die berge van Edom

sal doodgemaak word.”

Die rede vir Edom se straf

10 “Hoekom sal dit gebeur?

Omdat jy gewelddadig was

teenoor Israel

wat eintlik jou bloedverwante is.

Die vernedering daaroor

sal jy vir altyd moet dra.

Jy sal heeltemal uitgewis word.

11 Toe Israel ’n tyd beleef het

toe hulp regtig nodig was,

het jy jou bloedverwante

in die steek gelaat.

Jy het afsydig gestaan en toekyk

toe vreemde invallers

Jerusalem binnegeval het.

Jy het nie ’n vinger gelig om te help

toe hulle rykdom weggedra

en lootjies getrek het

om die stad te verdeel nie.

Jy het soos een van Israel se vyande

opgetree.

12 Jy het verkeerd opgetree!

Jy moes jou nie verlekker het

toe hulle jou bloedverwante

in ballingskap weggevoer het

na verafgeleë lande nie.

Jy moes nie so bly gewees het

oor die ongeluk

wat hulle getref het nie.

Dit was nie vir jou nodig

om met minagting

op hulle neer te sien

oor hulle ellende nie.

13 Jy moes nie

die poorte van my volk ingeval het

terwyl so ’n groot ramp

hulle getref het nie.

Jy moes nie

met genoegdoening toegekyk het

terwyl hulle ondergegaan het nie.

Jy moes nie

hulle goed gesteel het

toe so ’n ramp hulle getref het nie.

14 Jy moes nie

by die kruisings gaan staan het

om die vlugtelinge dood te maak nie.

Jy moes ook nie

in hierdie rampspoedige tyd

die oorlewendes van die aanval

aan hulle vyande uitgelewer het

nie.”

Edom verwoes, Israel herstel

15 “Die dag is naby dat Ek, die Here,

met die goddelose nasies

sal afreken!

Edom, soos jy met ander gemaak het,

so sal met jou gedoen word.

Jy sal terugbetaal word

vir alles wat jy

aan ander gedoen het.

16 My volk moes op my heilige berg

die beker van straf drink.

Net so sal jy

en die nasies in die omgewing

die straf moet drink

wat Ek op julle gaan uitstort.

Die nasies sal drink en rondslinger,

totaal uit die geskiedenis verdwyn.

Dit sal wees asof julle

nooit bestaan het nie.

17 “Jerusalem sal

’n toevlugsoord wees.

Dit sal ’n heilige plek wees.

Die mense van Israel

sal weer terugkom

om hulle erfdeel op te eis.

18 “Ek, die Here sê:

Israel sal wees soos vuur

en Josef se nageslag

soos ’n vlam wat brand.

Edom sal wees

soos ’n veld vol droë gras.

Die vuur sal versprei

soos ’n veldbrand en alles verteer.

Niemand van die mense van Edom

sal oorleef nie.

19 Die mense wat in die Suidland bly,

sal die berglande van Edom beset.

Dié wat kom van die heuwels

van Juda

sal die Filistyne se kusvlakte kry.

Nog ander

sal die velde van Efraim oorneem

en ook dié van Samaria.

Die mense van Benjamin

sal die Gileadgebied inpalm.

20 Die mense van Israel

sal uit ballingskap

na hulle land toe terugkom.

Hulle sal Kanaän

tot so ver noord soos Sarfat

in besit neem.

Mense wat uit Jerusalem weggevat is

en nou ballinge is in Sefarad,

sal na hulle land toe terugkom

en weer kom woon

in die dorpe van die Suidland.

21 Die bevryders van Jerusalem

sal na die Sionsberg toe gaan

en oor die bergland Edom regeer.

Die Here sal Koning wees!”

JONA 1

1 Opdrag aan Jona

Die Here het die volgende boodskap vir Jona, die seun van Amittai, gegee:

2 “Maak klaar en gaan na die groot stad Nineve toe! Praat ernstig met hulle, want Ek het hulle slegte lewenswyse raakgesien.”

3 Maar Jona het in die teenoorgestelde rigting gegaan om van die Here af weg te kom. Hy het afgegaan na die kus toe, na die hawe Joppe. Daar het hy ’n skip gekry wat Tarsis toe sou vaar. Hy het ’n kaartjie gekoop en aan boord gegaan. Jona het gehoop dat as hy in ’n westelike rigting gaan, hy van die Here af sou wegkom.

Jona veroorsaak ’n seestorm

4 Tydens die vaart het die Here skielik ’n sterk wind oor die see laat opkom. Daar het ’n hewige storm ontstaan en gedreig om die skip te laat sink.

5 Uit vrees vir hulle lewens het die matrose tot hulle gode om hulp geroep. Hulle het van die vrag oorboord gegooi om die skip ligter te maak. Terwyl dit alles gebeur het, het Jona afgegaan na die vragruim van die skip en daar gelê en geslaap.

6 Die kaptein van die skip het afgegaan na Jona toe en vir hom geskreeu: “Hoe kan jy in sulke omstandighede slaap? Staan op en bid tot jou god! Miskien sal hy ons genadig wees en ons lewens spaar.”

7 Die matrose sê toe vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan vasstel wie hierdie krisis veroorsaak het.” Hulle het dit gedoen en Jona is uitgewys.

8 Toe vra hulle hom: “Wat het jy gedoen om hierdie storm oor ons te laat losbars? Wie is jy en wat is jou beroep? Waar kom jy vandaan? Wat is jou nasionaliteit?”

9 Jona het geantwoord: “Ek is ’n Hebreër. Ek aanbid die Here, die God van die hemel wat die see en die land gemaak het.

10 Ek is besig om van die Here af weg te vlug.”

Toe het groot vrees die matrose beetgepak. Hulle het uitgeroep: “Hoekom doen jy dit?”

11 Die storm het al hoe hewiger geword; daarom het hulle hom gevra: “Wat moet ons met jou doen sodat die see kan bedaar?”

12 Jona het hulle geantwoord: “Gooi my in die see en dit sal kalm word. Ek weet ék is die oorsaak van hierdie groot storm.”

13 Die matrose het egter nog harder geroei en die land probeer bereik. Hulle was nie suksesvol nie, want die see het net al hoe onstuimiger geword.

14 Hulle het die Here aangeroep en gesê: “Ag, Here, moet tog nie dat ons weens hierdie man vergaan nie. Moet ons nie verantwoordelik hou vir sy dood nie. Here, U het gedoen soos U wou.”

15 Toe het die matrose Jona opgetel en in die see gegooi. Die onstuimige see het dadelik kalm geword.

16 Groot vrees vir die Here het die matrose aangegryp. Hulle het ’n offer vir die Here gebring en ’n belofte gemaak om Hom te dien.

17 Toe stuur die Here ’n groot vis om Jona in te sluk. Jona was vir drie dae en drie nagte in die vis.

JONA 2

Jona se gebed

1 Jona het uit die ingewande van die vis tot die Here sy God gebid.

2 Hy het gesê:

“In my groot nood

het ek die Here aangeroep

en Hy het my geantwoord.

Ek het uit die doderyk geroep

en U het my gehoor!

3 In die diepte van die oseaan

het U my gegooi.

Ek het tot in die hart

van die see gesink.

Strome het rondom my gekolk.

U het golf na golf oor my laat spoel.

4 Ek het gesê:

‘Uit u teenwoordigheid

het U my verdryf.

Hoe sal ek ooit weer

u heilige tempel sien?’

5 “Water het my verswelg,

die diepwaters het my omring.

Seegras was om my kop gedraai.

6 Ek het afgesak tot waar

die berge begin.

Ek was afgesluit van die lewe,

vasgevang in die land van die dooies.

Maar U, Here my God, het my gered

uit die oop kake van die dood!

7 “Toe ek alle hoop verloor het,

het ek weer aan die Here gedink.

In u heilige tempel

het U my gebed gehoor.

8 Wie vals gode aanbid,

minag God se goedheid.

9 Ek sal met lofliedere

vir U ’n offer bring.

Ek sal doen

wat ek beloof het.

Net die Here bring verlossing!”

10 Toe het die Here die vis beveel en hy het Jona op die strand uitgespoeg.