JEREMIA 37

Sedekia soek raad by Jeremia

1 Sedekia was ’n seun van Josia. Koning Nebukadnesar van Babel het hom as koning oor Juda aangestel in die plek van Jojagin seun van Jojakim.

2 Nie Sedekia, sy amptenare of die gewone mense van die land het hulle gesteur aan wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het nie.

3 Tog het koning Sedekia vir Jukal seun van Selemja saam met die priester Sefanja seun van Maäseja na die profeet Jeremia gestuur om te vra: “Bid namens ons tot die Here ons God.”

4 Jeremia was in dié tyd nog nie in die tronk opgesluit nie. Hy kon nog kom en gaan soos hy wou tussen die mense.

5 Die leër van die farao het uit Egipte opgetrek teen die Babiloniese leër wat Jerusalem omsingel het. Toe hulle hoor van die Egiptiese opmars, het die Babiloniërs van Jerusalem af teruggetrek.

6 Die Here het vir die profeet Jeremia ’n boodskap gegee:

7 “Die Here, die God van Israel, sê: Jeremia, die koning van Juda het jou mos na My toe gestuur om uit te vind wat gaan gebeur. Sê vir hom die leër van die farao is op pad terug Egipte toe. Sy plan was eintlik om julle te kom help.

8 Dan sal die Babiloniërs terugkom en weer teen hierdie stad kom veg. Hulle sal die stad inneem en afbrand.

9 “Die Here sê: Moenie julleself bedrieg en sê: ‘Die Babiloniërs sal ons uitlos’ nie. Hulle sal nie!

10 Selfs al kry julle dit reg om die Babiloniese leër te verslaan sodat net ’n paar gewondes in hulle tente oorbly, sal dit niks help nie. Hulle sal uit hulle tente strompel en hierdie stad aan die brand kom steek.”

Jeremia word opgesluit

11 Nadat die Babiloniese leër teruggetrek het van Jerusalem af omdat die leër van die farao op pad was,

12 het Jeremia van Jerusalem af weggegaan na die grondgebied van Benjamin. Hy wou die eiendom wat hy gekoop het, gaan besigtig.

13 Maar toe hy by die Benjaminpoort wou uitgaan, het ’n kaptein van die wagte met die naam Jirija hom gearresteer en beskuldig: “Jy wil oorloop na die Babiloniërs toe!” Jirija was ’n seun van Selemja en ’n kleinseun van Gananja.

14 Jeremia het hom geantwoord en gesê: “Dit is nie die waarheid nie! Ek het geen planne om na die Babiloniërs oor te loop nie.” Maar Jirija wou nie na hom luister nie. Hy het Jeremia gearresteer en hom na die amptenare toe gebring.

15 Die amptenare was woedend vir Jeremia en het hom laat slaan. Daarna het hulle hom in die sekretaris Jonatan se huis laat opsluit. Hulle het sy huis in ’n tronk verander.

16 Jeremia is in ’n ondergrondse sel gesit waar hy ’n baie lang tyd gebly het.

17 Later het koning Sedekia Jeremia in die geheim na sy paleis laat kom. Die koning wou van hom weet: “Het jy enige boodskappe van die Here vir my?”

Jeremia het hom geantwoord: “Ja, ek het! U sal in die mag van die koning van Babel beland.”

18 Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Wat het ek verkeerd gedoen? Wat het ek aan u, u amptenare of aan die mense gedoen dat julle my in die tronk gegooi het?

19 Waar is julle profete nou wat geprofeteer het dat die koning van Babel nie teen julle of hierdie land sal optrek nie?

20 Meneer, ek smeek u: Luister asseblief na my nederige versoek! Moet my asseblief nie na Jonatan se huis terugstuur nie. Ek sal daar doodgaan.”

21 Koning Sedekia het opdrag gegee dat hulle Jeremia na die gedeelte van die paleis moes neem waar die wagte bly. Hulle moes ook elke dag vir Jeremia ’n brood gee wat van die bakkery af kom solank daar nog brood in die stad te kry was. So het Jeremia dan in die wagte se kwartiere gebly.

JEREMIA 38

Jeremia in ’n put

1 Sefatja seun van Mattan, Gedalja seun van Pasgur, Jukal seun van Selemja en Pasgur seun van Malkija het gehoor wat Jeremia vir die mense gesê het:

2 “Die Here sê: ‘Mense wat in hierdie stad agterbly, sal as gevolg van die oorlog, hongersnood of siektes sterf. Maar as mense hulle aan die Babiloniërs oorgee, sal hulle met hulle lewe daarvan afkom.’

3 Ek, die Here sê verder: ‘Julle kan verseker weet dat hierdie stad in die mag van die koning van Babel sal val. Hy sal die stad inneem.’”

4 Die amptenare het vir die koning gesê: “Hierdie man moet doodgemaak word! Die dinge wat hy sê, breek die moed van die soldate wat nog in die stad oor is asook van die gewone mense. Hierdie man se bedoelings is nie goed nie. Hy is ’n verraaier.”

5 Koning Sedekia het toegegee en gesê: “Dit is reg so, hy is in julle hande. Ek sal niks doen om julle te keer nie.”

6 Hulle het Jeremia toe gevat en hom in die put van Malkija seun van die koning gegooi. Die put was in die gedeelte van die paleis waar die wagte gebly het. Hulle het toue gebruik om Jeremia te laat afsak. Daar was nie water onder in die put nie, net modder. Jeremia het in die modder weggesink.

7 ’n Baie belangrike amptenaar in die koning se paleis, Ebed-Melek die Etiopiër, het gehoor dat Jeremia in die put was. Die koning het toe in die Benjaminpoort gesit.

8 Ebed-Melek het van die paleis af na die koning gegaan en vir hom gesê:

9 “Meneer die koning, hierdie mans het ’n verkeerde ding gedoen deur vir Jeremia in die put te gooi. Hy sal gou van honger doodgaan, want omtrent al die brood in die stad is op.”

10 Die koning het vir Ebed-Melek beveel: “Vat 30 mense saam met jou en trek Jeremia uit die put op voordat hy doodgaan.”

11 Ebed-Melek het toe die manne saam met hom geneem na ’n pakkamer onder die stoorkamer van die paleis. Hulle het lappe en ou klere daar gevind, wat hulle na die put toe geneem het. Hulle het dit met ’n tou na Jeremia toe laat afsak.

12 Ebed-Melek die Etiopiër het na Jeremia geroep en gesê: “Sit die lappe en ou klere onder jou arms sodat die toue jou nie seermaak nie.” Jeremia het toe so gemaak.

13 Hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die put gehaal. Daarna het Jeremia weer in die paleis se gevangenis gebly.

Sedekia vra raad by Jeremia

14 Op ’n dag het koning Sedekia die profeet Jeremia laat haal. Hulle het mekaar by die derde ingang van die tempel ontmoet. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou ’n vraag vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.”

15 Jeremia het Sedekia geantwoord: “As ek die waarheid praat, sal u my doodmaak. En as ek vir u raad gee, sal u in elk geval nie na my luister nie.”

16 Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia gesweer: “So seker as die Here leef wat vir ons lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie. Ek sal jou ook nie oorlewer aan die mense wat jou dood wil sien nie.”

17 Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: As u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Hulle sal dan ook nie die stad met vuur verbrand nie.

18 Maar as u weier om oor te gee aan die offisiere van die Babiloniese koning, sal u nie ontsnap nie! Die stad sal in die mag van die Babiloniërs val en hulle sal dit aan die brand steek.”

19 Hierop het koning Sedekia geantwoord: “Ek is bang die Babiloniërs lewer my uit aan die Judeërs wat reeds na die Babiloniërs toe oorgeloop het. En wat sal hulle dan aan my doen?”

20 Jeremia het geantwoord: “U sal nie aan hulle uitgelewer word nie. Wees gehoorsaam aan die Here en doen wat ek sê. Dit sal dan met u goed gaan en hulle sal u lewe spaar.

21 Die Here het my gewys wat sal gebeur as u weier om oor te gee:

22 Hulle sal al die vroue wat in die paleis van die koning van Juda agtergebly het, vir die offisiere van die Babiloniese koning gee. En hulle sal u dan spot:

“‘U sogenaamde vriende

het u in die steek gelaat!

Hulle het u mislei.

Noudat u voete

in die modder gesink het,

waar is u vriende nou?’

23 “Hulle sal al u vroue en kinders na die Babiloniërs toe uitlei. U sal self ook nie ontsnap nie. Die koning van Babel sal u vang en die stad afbrand.”

24 Sedekia sê toe vir Jeremia: “Jy moet niemand vertel wat jy vir my gesê het nie. Doen jy dit, is jy dood!

25 My amptenare kan daarvan te hore kom dat ek met jou gepraat het. Hulle sal sê: ‘Ons wil weet waaroor jy en die koning gepraat het. Wat het jy vir hom gesê? Jy moet niks vir ons wegsteek nie! As jy ons nie wil vertel nie, sal ons jou doodmaak.’

26 As dit so gebeur, sê vir hulle jy het my kom smeek om jou nie na die tronk by Jonatan se huis terug te stuur nie. Sê jy is bang jy gaan daar dood.”

27 Die amptenare het toe ook na Jeremia toe gekom. Hulle wou weet hoekom die koning hom laat kom het. Maar Jeremia het geantwoord soos die koning hom beveel het om te sê. Hulle is by hom weg sonder om die waarheid uit te vind. Niemand het gehoor wat tussen die koning en Jeremia gesê is nie.

28 Jeremia het in die wagkwartiere van die paleis gebly tot Jerusalem die dag ingeneem is.

JEREMIA 39

Die val van Jerusalem

1 In Januarie van die negende jaar wat Sedekia koning van Juda was, het koning Nebukadnesar en sy leër teruggekom en Jerusalem beleër.

2 Twee en ’n half jaar later, op 18 Julie, het hulle dit reggekry om ’n gat in die stadsmuur te breek.

3 Al die offisiere van die koning van Babel het in die stad ingekom en by die Middelhek gaan sit. Onder hulle was Nergal-Sareser van Sinmagir en Nebu-Sarsekim, ’n hoofoffisier, verder ook Nergal-Sareser, die koning se adviseur en baie ander.

4 Toe koning Sedekia en sy soldate die Babiloniërs by die stadsingang sien, het hulle gevlug toe dit donker was. Hulle het deur die koning se tuin gegaan en by die hek tussen die twee mure uit die stad gegaan. Van daar het hulle in die rigting van die Jordaanvallei gegaan.

5 Maar die Babiloniërs het hom agtervolg en koning Sedekia op die vlaktes by Jerigo ingehaal. Hulle het hom gevang en hom na Nebukadnesar, koning van Babel, toe gebring. Nebukadnesar was in Ribla in die Hamatgebied. Daar het hy vir Sedekia gesê hoe hy hom gaan straf.

6 Daar in Ribla het die koning van Babel Sedekia se seuns voor sy oë doodgemaak. Hy het ook die leiers van Juda daar doodgemaak.

7 Daarna het hy Sedekia se oë uitgesteek. Hy het hom met kettings geboei en hom na Babel weggevoer.

8 Die Babiloniërs het toe die paleis en die mense se huise afgebrand. Hulle het ook die stadsmure afgebreek.

9 Nebusaradan was die bevelvoerder van die koning van Babel se persoonlike wagte. Hy het die mense wat in die stad oorgebly het, die res van die mense van Juda en dié wat reeds na die Babiloniërs oorgeloop het, na Babel toe weggevoer.

10 Maar Nebusaradan het van die armste mense in Juda agtergelaat. Hy het by dié geleentheid vir hulle wingerde en landerye gegee.

Jeremia se omstandighede

verander

11 Koning Nebukadnesar van Babel het aan Nebusaradan, bevelvoerder van die koninklike lyfwag, opdragte oor Jeremia gegee. Hy het gesê:

12 “Kyk goed na Jeremia en sorg dat hy niks oorkom nie. As hy iets vra, gee dit vir hom.”

13 Nebusaradan, bevelvoerder van die koninklike lyfwag, het die senior offisier Nebusasban en Nergal-Sareser, die koning se adviseur, en ook nog ander offisiere gestuur.

14 Hulle moes Jeremia uit die tronk haal. Hulle het hom in die sorg van Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, geplaas. Hy het Jeremia na sy huis toe gevat. So kon Jeremia weer tussen sy mense bly.

15 Terwyl Jeremia nog in die tronk was, het die Here vir hom ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

16 “Sê vir Ebed-Melek die Etiopiër die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Ek gaan alles aan Jerusalem doen wat Ek gedreig het om te doen. Vir die stad wag daar nie goeie nie, maar slegte dinge. As die tyd kom, sal jy dit sien gebeur.

17 Dan sal Ek jou red, sê die Here. Jy sal nie oorgelewer word in die mag van dié mense vir wie jy so bang is nie.

18 Omdat jy My vertrou, sal Ek jou lewe spaar. Jy sal nie in die oorlog sterf nie, Ek sal sorg dat jy veilig is. Dit is wat Ek, die Here, sê sal gebeur!’”

JEREMIA 40

Jeremia in Gedalja se sorg

1 Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee nadat Nebusaradan, hoof van die koning se lyfwagte, hom by Rama vrygelaat het. Hy het Jeremia gekry waar hy geboei gesit het tussen ’n groep gevangenes van Jerusalem en Juda wat in ballingskap op pad was na Babel.

2 Die hoof van die lyfwagte het Jeremia na hom toe laat kom en gesê: “Die Here jou God het bepaal dat onheil hierdie plek sal tref.

3 Dit is presies wat nou gebeur. Die rede hiervoor is omdat hulle teen die Here gesondig het en Hom nie gehoorsaam het nie.

4 Ek gaan nou jou boeie afhaal en dan is jy vry. Jy is welkom om saam met my na Babel toe te gaan. Ek sal goed vir jou sorg. Maar as jy verkies om hier in Jerusalem te bly, is dit ook goed. Jy is nou vry om te gaan net waar jy wil in die land.

5 As jy kies om te bly, gaan dan na Gedalja seun van Agikam, die kleinseun van Safan. Hy is deur die koning van Babel as goewerneur van die dorpe in Juda aangestel. Jy kan daar by hom bly tussen die mense oor wie hy aangestel is. Maar dit is jou keuse, jy kan gaan net waar jy wil.”

Nebusaradan het toe vir Jeremia kos en geld gegee. Daarna het hy hom laat gaan.

6 Jeremia het toe na Gedalja in Mispa gegaan. Hy het saam met hom tussen die paar mense van Juda wat in die land agtergebly het, gaan bly.

Gedalja bestuur Juda

7 Daar was nog offisiere en soldate van Juda wat in die plattelandse gebiede agtergebly het. Hulle het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja seun van Agikam as goewerneur van Juda aangestel het. Hy moes toesig hou oor die mans, vroue en kinders, die arm mense wat nie uit Juda na Babel weggevoer is nie.

8 Hulle het na Gedalja toe gekom waar hy in Mispa was. Hulle was Ismael seun van Netanja, Joganan en Jonatan, seuns van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa en Jaäsanja uit Maäka.

9 Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, het die offisiere en hulle manskappe verseker: “Julle hoef nie bang te wees om die Babiloniërs te dien nie. Bly hier in die land en dien die koning van Babel, en dit sal goed gaan met julle.

10 Ek sal hier in Mispa bly en namens julle met die Babiloniërs wat ons kom besoek, onderhandel. Bly in die dorpe wat julle oorgeneem het en oes julle druiwe, vrugte en olywe en stoor dit in houers.”

11 Die Judeërs wat in Moab, Ammon en Edom en ook in ander buurlande was, het gehoor dat die koning van Babel ’n groep mense in Juda agtergelaat het. Toe hulle verder ook gehoor het dat hy Gedalja as goewerneur van Juda aangestel het,

12 het hulle uit al die plekke waarheen hulle gevlug het, na die land Juda teruggekeer. Hulle het eers na Gedalja in Mispa gegaan. Daarna het hulle ’n groot oes van druiwe en somervrugte begin insamel.

’n Komplot teen Gedalja

13 Kort hierna het Joganan seun van Kareag en die ander offisiere van die manskappe in die platteland na Gedalja in Mispa gekom.

14 Hulle het vir hom gesê: “Weet u dat die Ammonitiese koning Baälis vir Ismael seun van Netanja gestuur het om u te vermoor?” Maar Gedalja wou hulle nie glo nie.

15 Kort hierna het Joganan in die geheim met Gedalja in Mispa gaan praat. Hy het aangebied om Ismael dood te maak sonder dat iemand daarvan sal weet. Hy het gesê: “Hoekom sal ons hom toelaat om u te vermoor? As dit gebeur, sal al die Judeërs wat teruggekom het, net weer uitmekaargedryf word en die groep mense wat in Juda agtergebly het, sal tot niet gaan.”

16 Maar Gedalja het vir Joganan gesê: “Jy mag Ismael nie gaan vermoor nie. Wat jy oor hom sê, is nie die waarheid nie.”

JEREMIA 41

Gedalja word vermoor

1 In die middel van herfs daardie jaar het Ismael en tien van sy mense by Gedalja in Mispa aangekom. Ismael was die seun van Netanja en die kleinseun van Elisama. Hy was van koninklike afkoms en een van die koning se offisiere. Terwyl hulle in Mispa saam met Gedalja geëet het,

2 het Ismael en sy manskappe opgespring en Gedalja met ’n swaard doodgesteek. Die koning van Babel het Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, as goewerneur oor die land aangestel.

3 Ismael het al die Jode wat daar by Gedalja in Mispa was, doodgemaak. Hy het ook die Babiloniese soldate wat by Gedalja was, vermoor.

4 Die volgende dag, nog voordat iemand iets van Gedalja se moord gehoor het,

5 het 80 mans uit Sigem, Silo en Samaria aangekom. Hulle baarde was afgeskeer, hulle klere in repies geskeur en hulle het hulleself gesny soos hulle gerou het. Hulle was op pad na die tempel toe om vir die Here graanoffers te bring en ook wierook te brand.

6 Ismael het uit Mispa gegaan om hulle te ontmoet terwyl hy droewig gehuil het. Toe hy by hulle kom, sê hy: “Kom kyk wat het met Gedalja seun van Agikam gebeur!”

7 Toe hulle in die middel van die stad aankom, het Ismael en die manne saam met hom 70 van die 80 doodgemaak. Hulle het die lyke in ’n put gegooi.

8 Die tien wat oorgebly het, het Ismael gesmeek om hulle nie dood te maak nie. Hulle het belowe dat hulle vir hom die koring, gars, olie en heuning sou gee wat hulle in die veld versteek het. Hy het hulle toe nie doodgemaak nie.

9 Koning Asa het Mispa destyds versterk om homself teen koning Baesa van Israel te beskerm. Hy het toe ’n groot put gegrawe om water op te vang. Ismael seun van Netanja het al die lyke van die mense wat hy by Gedalja vermoor het, in hierdie put gegooi. Die put was vol lyke.

10 Ismael het ook die res van die mense in Mispa gevang. Onder hulle was die koning se dogters. Nebusaradan, hoof van die koninklike lyfwag, het al hierdie mense onder die sorg van Gedalja in Mispa gelaat. Ismael het hulle saam met hom gevat en in die rigting van die Ammoniete begin trek.

11 Maar Joganan seun van Kareag en die groep soldate wat saam met hom was, het gehoor van die gruwels wat Ismael gedoen het.

12 Hulle het toe al die mans saam met hulle geneem om teen Ismael te veg. Hulle het hom by die groot dam naby Gibeon aangetref.

13 Toe die mense wat Ismael gevang het Joganan en sy offisiere sien, was hulle baie bly.

14 Al die mense wat Ismael in Mispa gevange geneem het, het ontsnap en na Joganan toe oorgeloop.

15 Intussen het Ismael en agt van sy volgelinge Joganan ontglip en na die Ammoniete gevlug.

16 Joganan en sy offisiere het al die mense weggelei wat hulle uit Ismael se hande gered het. Hierdie was mense wat in Mispa oorleef het nadat Ismael Gedalja seun van Agikam doodgemaak het. Onder hulle was soldate, vroue, kinders en paleisamptenare wat hy uit Gibeon saamgebring het.

17 Hulle het vertrek en by Gerut-Kimham naby Betlehem oorgebly. Van daar sou hulle na Egipte toe gaan.

18 Hulle was bang vir wat die Babiloniërs sou doen omdat Ismael Gedalja vermoor het. Dit was dan juis die Babiloniese koning wat vir Gedalja as goewerneur van Juda aangestel het.

JEREMIA 42

Waarskuwing om in Juda te bly

1 Al die weermagoffisiere, ook Joganan seun van Kareag en Asarja seun van Hosaja, asook nog mense uit elke vlak van die samelewing het gekom

2 en vir die profeet Jeremia gesê: “Bid ernstig en tree vir ons in by die Here jou God. Soos jy kan sien, is ons maar net ’n klein groepie mense wat oor is van die volk wat ons eers was.

3 Vra die Here jou God wat ons moet doen en waarheen ons moet gaan.”

4 Hierop het Jeremia gereageer en gesê: “Goed, ek hoor wat julle wil hê. Ek sal tot die Here julle God bid, soos julle versoek. Ek sal dan vir julle sê presies wat sy antwoord is. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.”

5 Hulle het vir Jeremia gesê: “Mag die Here ’n betroubare getuie teen ons wees as ons weier om te doen wat die Here u God u gestuur het om aan ons oor te dra.

6 Of dit nou goed of sleg is, ons sal die Here ons God gehoorsaam. Ons het jou na Hom gestuur om raad te vra. Dit sal met ons goed gaan as ons Hom gehoorsaam en doen wat Hy sê.”

7 Na tien dae het die Here vir Jeremia ’n antwoord gegee.

8 Jeremia het Joganan seun van Kareag, die weermagoffisiere en ook die gewone mense uit alle vlakke van die samelewing laat roep.

9 Hy het vir hulle gesê: “Julle het my na die Here, die God van Israel gestuur om julle versoek voor Hom te stel. Die Here sê:

10 ‘Bly hier in die land. As julle dit doen, sal Ek julle opbou en nie afbreek nie. Ek sal julle plant en nie ontwortel nie. Ek is jammer oor al die ellende wat Ek julle moes aandoen.

11 Moenie langer vir die koning van Babel bang wees nie, sê die Here. Ek sal julle nie in die steek laat nie. Ek is by julle teenwoordig. Ek sal julle van sy oorheersing vrymaak.

12 Ek sal meegevoel hê met julle sodat hy ook meegevoel met julle sal hê. Dan sal hy julle in julle land laat bly.’

13 “Maar julle sal aan die Here julle God ongehoorsaam wees as julle sê: ‘Ons wil nie in hierdie land bly nie.

14 Nee, ons wil in Egipte gaan bly! Daar sal ons vry wees van oorlog en die geluid van die ramshoring wat mense oproep vir oorlog of hongersnood aankondig.’

15 “Luister dan gerus na wat die Here sê oor die mense wat in Juda oorgebly het.

“Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘As julle volhou om na Egipte te gaan en daar te gaan woon,

16 sal die oorloë wat julle vrees julle daar in Egipte tref. En die hongersnood waarvoor julle bang is, sal julle agtervolg. En uiteindelik sal julle in Egipte doodgaan.

17 “Dit is wat vir elkeen van julle wag as julle aandring om in Egipte te gaan bly. Julle sal daar in die oorlog sterf of van honger omkom of ’n siekte-epidemie sal julle tref. Niemand van julle sal ontvlug of die rampe oorleef wat Ek oor julle sal bring nie.’

18 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Net soos Ek my woede en my toorn op die inwoners van Jerusalem uitgestort het, net so sal Ek maak met elke persoon wat na Egipte toe gaan. Julle sal ’n vloek wees, iets afgrysliks. Hulle sal met julle spot en julle naam gebruik om ander mee te vloek. En julle sal julle eie land nooit weer sien nie.’

19 “Die Here sê vir julle wat in Juda oorgebly het: Moenie na Egipte toe gaan nie! Onthou hierdie waarskuwing wat Ek vandag vir julle gee.

20 “Julle het ’n fatale fout gemaak toe julle my gestuur het om tot die Here julle God te bid en te sê: ‘Sê net vir ons wat die Here sê en ons sal dit doen.’

21 Vandag het ek presies vir julle gesê wat Hy sê, maar julle sal nie gehoorsaam wees nie, nes julle nog nooit gedoen het wat die Here julle God gesê het nie.

22 Julle hou mos aan dat julle in Egipte wil gaan woon. Julle kan verseker wees dat julle daar in oorlog, of van honger, of van siekte sal doodgaan.”

JEREMIA 43

Jeremia in Egipte

1 Toe Jeremia klaar die hele boodskap van die Here hulle God aan al die mense gegee het,

2 het Asarja die seun van Hosaja en Joganan seun van Kareag en al die arrogante mans by hulle vir Jeremia gesê: “Jy lieg! Die Here ons God het jou nie gestuur om vir ons te sê ons mag nie in Egipte gaan woon nie!

3 Dit is Baruk seun van Nerija wat jou teen ons opgesteek het sodat ons in die mag van die Babiloniërs kan beland. Hulle sal ons doodmaak of in ballingskap na Babel toe neem.”

4 Joganan en al die weermagoffisiere en ook die gewone mense wou nie die Here se opdrag gehoorsaam om in Juda te bly nie.

5 Joganan en die offisiere het toe al die mense van Juda wat oorgebly het nadat hulle teruggekeer het uit die lande waarheen hulle gevlug het, saam met hulle geneem.

6 Onder die groep mense was mans, vroue, kinders en ook koning Sedekia se dogters asook al die mense wat Nebusaradan, hoof van die koninklike lyfwag, onder die sorg van Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan gelaat het, asook van Jeremia en Baruk seun van Nerija.

7 Die mense het hulle nie gesteur aan wat die Here gesê het nie en Egipte toe gegaan. Hulle het tot by die stad Tagpanges gegaan.

8 By Tagpanges het die Here weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

9 “Gaan na die ingang van die farao se paleis in Tagpanges. Vat ’n paar groot klippe en druk hulle in die klei wat tussen die stene van die plaveisel is. Doen dit waar die mense van Juda jou kan sien.

10 Sê vir die mense van Juda die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Julle kan julle maar klaarmaak. Ek gaan my kneg Nebukadnesar, die koning van Babel, hier na Egipte toe laat kom. Ek sal sy troon neersit op hierdie klippe wat Ek weggesteek het. Hy sal sy koninklike tent bo-oor dit opslaan.

11 Nebukadnesar sal kom en Egipte aanval. Wie bestem is om dood te gaan, sal doodgaan. Wie in ballingskap moet gaan, sal gaan. En wie deur geweld moet sterf, sal so sterf.

12 Hy sal die tempels van die Egiptiese gode aan die brand steek en die afgode met vuur verbrand of as buit wegvat. Hy sal Egipte skoonmaak soos ’n herder van insekte in sy klere ontslae raak. Daarna sal hy rustig daarvandaan weggaan.

13 Hy sal die pilare voor die tempel van die son in Egipte afbreek en die tempels van die Egiptiese gode afbrand.’”

JEREMIA 44

Straf vir die Jode in Egipte

1 Jeremia het ’n boodskap ontvang oor die Judeërs wat in Egipte gewoon het. Hulle was in Migdol, Tagpanges, Memfis en in die Patrosstreek.

2 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Julle het al die rampe gesien waarmee Ek Jerusalem en die dorpe van Juda getref het. Hulle lê nou verwoes; niemand woon meer daar nie.

3 Al die slegte dinge wat hulle gedoen het, het My baie kwaad gemaak. Hulle het ander gode aanbid en vir hulle wierook gebrand. En dit nog vir gode wat nie hulle of hulle voorouers ooit geken het nie!

4 “Hoeveel keer het Ek nie my diensknegte – die profete – gestuur om hulle te smeek en te sê: Moenie hierdie afskuwelike dinge doen wat Ek so haat nie.

5 Maar hulle wou nie luister of gehoor gee en ophou om verkeerd te doen nie. Hulle het net aangehou om wierook vir ander gode te brand.

6 Daarom het my woede oorgeborrel en gevlam teen die dorpe van Juda en die strate van Jerusalem. Nou is hierdie plekke net verlate bouvalle.

7 “En nou vra die Here, die Almagtige, die God van Israel, vir julle: Hoekom bring julle so ’n groot onheil oor julleself? Nie een van julle sal oorleef nie, nie enige man, vrou, kind of suigeling wat van Juda af kom nie. Niemand sal oorbly nie.

8 Hoekom maak julle My kwaad met afgode wat julle self gemaak het? En dan brand julle ook nog wierook vir ander gode, hier in Egipte waar julle kom woon het! In die proses vernietig julle julleself. Die volke van die wêreld sien julle as ’n vloek of spot met julle.

9 Het julle al klaar die kwaad vergeet wat julle voorouers gedoen het? Het julle vergeet van die slegte dinge wat die konings van Juda en hulle vroue gedoen het? En wat van die verkeerde goed wat julle en julle vroue in Juda en Jerusalem gedoen het?

10 Tot vandag toe het hulle nie gewys dat hulle daaroor spyt of bang is nie. Niemand steur hulle ook aan my voorskrifte en hoe Ek dinge gedoen wil hê nie. Ek het dit vir julle en julle voorouers gegee om te doen, maar hulle het nie.

11 “Daarom sê die Here, die Almagtige, die God van Israel: Ek het besluit om julle almal te vernietig! Ek gaan van die hele Juda ontslae raak.

12 Ek sal die groep mense wat in Juda oorgebly het, maar aandring om in Egipte te woon, uitwis. Hulle sal in Egipte sterf, deur oorloë of van hongersnood. Almal, klein en groot, sal sterf. Dit sal mense met afgryse vervul. Die volke van die wêreld sal julle as ’n vloek beskou en met julle spot.

13 Ek sal hulle in Egipte straf net soos Ek hulle in Jerusalem gestraf het, deur oorloë, hongersnood en siektes.

14 Sommige van die mense wat in Juda oorgebly het en in Egipte kom woon het, het gehoop om weer na Juda terug te keer en daar te leef. Niemand sal weer daar gaan woon nie, behalwe ’n paar wat sal ontsnap.”

15 ’n Groot groep van die Judeërs wat in Patros in Egipte gewoon het, was bymekaar. Die groep het bestaan uit mans wat geweet het dat hulle vroue wierook vir ander gode gebrand het, en die vroue wat daar rondgestaan het. Hulle almal het Jeremia geantwoord en gesê:

16 “Ons sal nie luister na die boodskap wat jy sê van die Here af kom nie!

17 Ons sal doen wat ons wil. Ons sal wierook brand vir die koningin van die hemel en drank uitgiet om haar te vereer. Ons het dit nog altyd gedoen en ook ons voorouers voor ons. Ons konings en ons leiers het dit ook gedoen. Ons almal het dit gedoen in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem. En toe het ons volop kos gehad, dit het eintlik sommer baie goed gegaan met ons! Ons het nie probleme gehad nie!

18 Maar vandat ons opgehou het om wierook vir die koningin van die hemel te brand en drank uit te gooi, het ons alles verloor. Ons het in oorloë en van honger doodgegaan.”

19 Die vroue het bygevoeg: “Dit is so, ons het wierook vir die koningin van die hemel gebrand en drank ter wille van haar uitgegooi as ’n offer. Ons het selfs koekies gebak wat haar vorm het. Maar dink jy ons het dit gedoen sonder die medewete en hulp van ons mans?”

20 Nadat hulle Jeremia geantwoord het, het hy aan al die mans en die vroue gesê:

21 “Dink julle die Here het nie geweet wat julle en julle voorouers in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem gedoen het nie? Natuurlik het Hy geweet dat julle en julle voorouers, julle konings en leiers en al die ander mense wierook vir die afgode gebrand het.

22 Die Here kon dit nie langer verduur dat julle hierdie slegte en ver-werplike dinge doen nie; daarom het Hy julle soos ’n vloekwoord gemaak. Dit is ook hoekom julle land vandag ’n bouval is. Dit is ’n verlate plek, sonder enige mense wat daarin woon.

23 Die Here bring hierdie onheil oor julle omdat julle wierook gebrand het. Julle het ook teen die Here gesondig deur aan Hom ongehoorsaam te wees. Hy het vir julle sekere reëls en riglyne gegee waarvolgens julle moes lewe, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.”

24 Jeremia het vir al die mense, die vroue ingesluit, gesê: “Luister na die boodskap van die Here, julle wat in Egipte woon.

25 Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Julle en julle vroue het mos gesê dat julle nooit sal ophou om die godin van die hemel te vereer nie. Dit is duidelik uit alles wat julle sê en doen. Hou by julle beloftes aan haar en doen wat julle gesê het julle gaan doen!

26 “Ek sê weer, luister na die Here se boodskap vir al die Judeërs wat in Egipte woon. Hy sê: ‘Ek het ’n eed afgelê en Ek is so ernstig daaroor dat Ek my Naam en reputasie op die spel plaas. Die mense van Juda wat in Egipte woon, sal my Naam nooit weer gebruik nie. Julle mag nie my Naam gebruik as julle ’n eed neem om krag aan julle woorde te verleen nie. Julle mag nooit weer sê: So waar as die oppermagtige Here lewe nie!

27 Ek sal sorg dat dit met julle sleg gaan. Niks goeds gaan met julle gebeur nie; oorloë en hongersnood sal julle tref. Dit sal aanhou totdat niemand van julle meer in Egipte oor is nie.

28 Net ’n baie klein klompie sal die dood vryspring en uit Egipte na Juda terugkeer. Die groepie Judeërs wat na Egipte gevlug het, sal uitvind wie die waarheid gepraat het en wie nie.

29 “‘Die bewys daarvan sal wees dat alles wat Ek gedreig het om te doen, met julle sal gebeur. Ja, Ek sal julle hier in Egipte straf.

30 Ek gee farao Hofra, koning van Egipte, oor aan sy vyande wat hom wil doodmaak, nes Ek koning Sedekia van Juda oorgegee het aan koning Nebukadnesar van Babel, wat hom wou doodmaak.’ Dit is wat die Here sê!”

JEREMIA 45

’n Belofte aan Baruk

1 Jeremia het ’n boodskap vir Baruk seun van Nerija gegee. Dit was in die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was. Dit was net nadat Baruk alles neergeskryf het wat Jeremia vir hom dikteer het. Hy het gesê:

2 “Baruk, die Here, die God van Israel, sê:

3 Jy het gesê: ‘Dit is klaarpraat met my! Ek kry alreeds so swaar en dan maak die Here my pyn net nog meer. Ek is al so moeg van my eie gesug, ek kan net nie rus vind nie.’

4 “Sê vir hom die Here sê: Ek is nou besig om hierdie volk af te breek wat Ek opgebou het. Wat Ek geplant het, gaan Ek ontwortel. So sal dit oor die hele land gebeur.

5 Het jy die ambisie om ver in die lewe te kom? Moet dit liewer nie hê nie! Ek bring onheil oor alle mense, sê die Here. Maar Ek sal jou lewe bewaar, waar jy ook al gaan.”

JEREMIA 46

Boodskappe vir die nasies

1 Die Here het vir die profeet Jeremia boodskappe oor die nasies gegee.

Boodskappe oor Egipte

2 Hy het die boodskap oor Egipte ontvang in die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was. Dit gaan oor die Egiptiese koning, farao Neko, en sy leër. Koning Nebukadnesar van Babel het hom en sy leër by Karkemis langs die Eufraatrivier verslaan:

3 “Kry julle wapens gereed,

ruk op vir die geveg!

4 Saal die perde op,

bestyg hulle, ruiters!

Neem julle posisies in,

sit julle helms op.

Maak julle spiese blink,

trek julle wapenrusting aan!

5 Maar wat sien Ek?

Die Egiptiese leër is verskrik,

hulle het teruggedraai.

Hulle beste vegters is verslaan

en kies die hasepad

sonder om eers terug te kyk.

Hulle word van alle kante

bedreig,

sê die Here.

6 Selfs nie die vinnigstes

kan wegkom nie.

Die sterkste soldate

kan nie ontsnap nie.

Aan die noordekant,

by die walle

van die Eufraatrivier,

struikel hulle en val.

7 “Wie is dit wat sy walle

oorstroom

soos die water van die Nyl,

soos riviere bruisende water?

8 Dit is die Egiptiese leër.

Hy spog dat hy sy walle oorstroom,

soos die water van die Nyl,

soos riviere bruisende waters.

Hulle sê:

‘Ons sal optrek

en die aarde bedek.

Ons sal stede en hulle inwoners

saam verwoes.’

9 Laat die perde optrek

en die strydwaens opruk!

Laat die vegters uittrek,

die mense uit Etiopië en Libië,

vaardig met skilde,

en die mense uit Lidia,

bedrewe met die boog.

10 Hierdie is

die Dag van

die oppermagtige Here,

die Almagtige.

Dit is ’n dag van vergelding,

om jou te wreek

op jou vyande.

Die swaard sal doodmaak

totdat dit genoeg het,

versadig is van julle bloed!

Dit is ’n offer vir

die oppermagtige Here,

die Almagtige,

in die noordelike gebied,

langs die Eufraatrivier.

11 “Egipte, jy is soos ’n jong meisie.

Gaan na Gilead en kry salf!

Dit is eintlik tevergeefs,

want daar is geen medisyne

wat jou kan genees nie.

12 Die nasies het gehoor

van jou skande.

Jou uitroepe vul die aarde.

Soldate val oor mekaar,

hulle slaan saam neer.”

13 Die Here het weer vir die profeet Jeremia ’n boodskap gegee. Dit gaan oor koning Nebukadnesar se planne om Egipte aan te val.

14 “Kondig dit aan in Egipte!

Maak dit bekend in Migdol.

Maak dit bekend in Memfis

en Tagpanges!

Sê: Maak julle reg,

wees voorbereid,

want die geweld van oorlog

sal almal om julle tref.

15 Waarom het jou soldate gevlug?

Hulle kan nie staan

voor die Here wat hulle

weggedryf het nie.

16 Hulle struikel

en val oor mekaar en sê:

‘Kom ons gaan terug

na ons eie mense en

na waar ons gebore is.

Laat ons wegkom

van die swaard

van die vyand!’

17 Hulle sal sê:

‘Farao, die koning van Egipte,

het ’n groot mond

wat ’n kans deur sy vingers

laat glip het!’”

18 Die Koning wie se Naam

die Here, die Almagtige, is, sê:

“So waar as wat Ek lewe,

iemand sal kom

wat soos Tabor tussen die berge

of soos Karmel bo die see is.”

19 Pak julle goed vir ballingskap,

inwoners van Egipte!

Memfis sal vernietig lê,

’n bouval sonder inwoners.

20 “Egipte is soos ’n mooi jong

verskalf.

Maar ’n steekvlieg is op pad

uit die noorde.

21 Egipte se huursoldate

is soos vetgemaakte kalwers.

Hulle bied nie weerstand

teen die vyand nie,

hulle draai om en hardloop weg.

Die dag van straf

het aangebreek.

22 Egipte seil saggies weg

soos ’n slang wegseil,

want die vyand marsjeer

met mag en mening.

Hulle kom soos houtkappers

met byle teen haar.”

23 Die Here sê:

“Hulle sal haar bos afkap,

al lyk dit ondeurdringbaar.

Want hulle is meer as sprinkane,

ontelbaar!

24 Hulle sal die mense van Egipte

verneder

en oorlewer in die mag

van die mense uit die noorde.”

25 Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Ek sal Amon, die god van Tebes straf, asook vir die farao en Egipte en al die ander gode. Ek gaan ook haar konings straf, ja, vir die farao en almal wat op hom vertrou.

26 Ek sal hulle oorgee in die mag van dié wat hulle baie graag wil doodmaak, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en sy offisiere. As dit verby is, sal mense weer soos vantevore in Egipte kom woon.” Die Here sê dit sal gebeur!

27 “Maar my dienskneg Jakob,

moenie bang wees nie,

moenie mismoedig wees nie,

Israel.

Al is julle ver weg,

sal Ek julle red.

Ek sal jou nageslag

uit ballingskap

terugbring.

Israel sal terugkom

en rus en vrede hê.

Niemand sal hulle bangmaak nie.”

28 Die Here sê:

“Moenie bang wees nie,

my dienskneg Israel.

Ek sal altyd by julle wees.

Ek sal die nasies waarheen

Ek julle verdryf het,

heeltemal vernietig.

Maar vir julle

sal Ek nie vernietig nie!

Ek sal julle egter nie ongestraf laat nie.

Ek moet julle dissiplineer,

maar op regverdige wyse.”