EKSODUS 1

1 Israel word meer in Egipte

Jakob se seuns en hulle gesinne het saam met hom na Egipte toe gegaan. Hulle was

2 Ruben, Simeon, Levi, Juda,

3 Issaskar, Sebulon, Benjamin,

4 Dan, Naftali, Gad en Aser.

5 Josef was toe alreeds in Egipte. Jakob het op daardie stadium alreeds 70 nasate gehad.

6 Josef en sy broers en daardie hele geslag is met verloop van tyd dood.

7 Die Israeliete was egter vrugbaar en het baie kinders gehad. Om die waarheid te sê, hulle was naderhand so baie en invloedryk dat hulle oor die hele land gewoon het.

8 Daar het toe ’n nuwe koning in Egipte aan bewind gekom. Hy het niks van Josef geweet nie.

9 Hy het vir sy mense gesê: “Hierdie Israeliete is vir ons ’n gevaar. Hulle het meer en sterker as ons geword.

10 Ons moet ’n plan maak om hulle getalle te beperk. As iemand teen ons oorlog maak, sal hulle by ons vyand aansluit. Hulle sal van oral in die land uit die land ontsnap.”

11 Die Egiptenaars het die Israeliete toe gedwing om vir hulle te werk. Hulle het opsigters oor hulle aangestel. Hulle het die Israeliete harde werk laat doen om hulle te laat swaarkry. Die Israeliete moes die stede Pitom en Rameses vir die farao bou om sy voorrade daarin te stoor.

12 Hoe swaarder die Egiptenaars hulle egter laat werk het, hoe vinniger het hulle meer geword en al verder uitgebrei.

Die Egiptenaars het bang geword vir die Israeliete.

13 Hulle het toe die Israeliete met geweld verplig om soos slawe te werk.

14 Hulle het die lewe bitter swaar gemaak vir die Israeliete. Die Israeliete moes stene maak en klippe kap en buite in die veld werk.

15 Die verpleegsters wat die Israelitiese vroue gehelp het om geboorte te gee se name was Sifra en Pua. Die koning van Egipte het vir hulle gesê:

16 “Wanneer julle die Hebreeuse vroue help om geboorte te gee, moet julle elke seuntjie wat gebore word net daar doodmaak. As dit ’n dogtertjie is, mag sy maar bly lewe.”

17 Omdat hierdie vroue die Here gedien het, het hulle nie gedoen wat die koning van Egipte gesê het nie. Hulle het die seuntjies laat bly lewe.

18 Die koning het die vroue toe laat roep en vir hulle gevra: “Hoekom maak julle so? Hoekom laat julle die seuntjies bly lewe?”

19 “Meneer,” het die vroue geantwoord, “die Hebreeuse vroue is baie sterk. Teen die tyd dat die kraamverpleegster by hulle kom, het hulle alreeds geboorte gegee. Hulle is nie so stadig om geboorte te gee soos die vroue van Egipte nie.”

20 God het dit goed laat gaan met die kraamverpleegsters. Die Israeliete het steeds al meer en al sterker geword.

21 Omdat hierdie vroue in die Here geglo het, het Hy vir hulle ook huisgesinne van hulle eie gegee.

22 Die farao het toe aan al sy mense opdrag gegee: “Elke Israelitiese seuntjie wat gebore word, moet julle in die Nylrivier verdrink. Julle kan die dogtertjies maar laat lewe.”

EKSODUS 2

Moses word gebore

1 In hierdie tyd het ’n man uit die stam van Levi met ’n vrou uit dieselfde stam getrou.

2 Die vrou het verwag en ’n seun in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi hy is, het sy hom vir drie maande lank weggesteek.

3 Toe sy hom nie langer kon wegsteek nie, het sy ’n mandjie van riet gevat en dit met klei en pik waterdig gemaak. Sy het die baba in die mandjie gesit en hom tussen die riete van die Nylrivier weggesteek.

4 Die baba se sussie het hom van ’n afstand af dopgehou.

5 Een van die farao se dogters het afgekom na die Nylrivier om daar te kom bad. Haar bediendes het op die oewer waggestaan. Toe die prinses die mandjie tussen die riete sien, het sy een van haar meisies gestuur om dit te gaan uithaal.

6 Toe sy die mandjie oopmaak, kry sy die seuntjie wat daarin lê en huil. Sy het hom jammer gekry. “Dit moet een van die Hebreeuse kinders wees,” het sy gesê.

7 Die seuntjie se suster het toe nadergekom en die prinses gevra: “Sal ek ’n Hebreeuse vrou gaan haal om die baba vir u te versorg?”

8 “Ja, asseblief,” het die farao se dogter geantwoord. Die meisie het die seuntjie se ma gaan roep.

9 “Vat hierdie babatjie en gaan voed hom,” het die farao se dogter vir haar gesê. “Ek sal jou daarvoor betaal.”

Sy eie ma het hom gevat en gaan versorg.

10 Toe hy groot genoeg was, het sy hom na die farao se dogter gevat en sy het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het hom “Moses” genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom uit die water gehaal.”

Moses beland in Midian

11 Op ’n goeie dag toe Moses al ’n groot man was, het hy by sy mense gaan kuier. Hy het gesien hoe hard hulle moes werk. Terwyl hy daar was, sien hy hoe ’n Egiptenaar een van sy volksgenote uit die Hebreeuse slawe aanrand.

12 Moses het goed rondgekyk en toe hy seker was dat daar niemand naby is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom in die sand begrawe.

13 Toe hy die volgende dag weer by hulle kom, sien hy twee Hebreërs wat met mekaar baklei. Hy sê toe vir die een wat verkeerd was: “Waarom rand jy jou volksgenoot aan?”

14 “Wie is jy nogal?” het die man teruggeantwoord. “Wie het jou as baas en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar gister doodgemaak het?”

Moses het geskrik. Hy het vir homself gesê: “Almal weet wat gebeur het.”

15 Die farao het ook van die ding te hore gekom. Hy het opdrag gegee dat Moses gesoek en tereggestel moes word. Moses het egter vir die farao gevlug.

Moses het in die landstreek van Midian gaan woon. Terwyl hy daar by ’n put sit,

16 het die priester van Midian se sewe dogters daar kom water skep. Hulle het die drinkbakke vol water gemaak sodat hulle pa se diere kon suip.

17 Daar kom toe mans wat vee oppas en verdryf die meisies van die put af. Moses het die meisies te hulp gesnel en hulle gehelp om hulle vee te laat suip.

18 Toe hulle by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir sy dogters: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?”

19 “Daar was ’n man uit Egipte wat ons teen die mans verdedig het,” sê hulle vir hom. “Hy het ons help water skep en die vee laat drink.”

20 “Nou waar is hy dan?” vra hy vir sy dogters. “Het julle die man dan net daar gelos? Gaan nooi hom uit om saam te kom eet.”

21 Moses het die uitnodiging met graagte aanvaar. Hy het by die man gebly. Na ’n tyd het Reüel sy dogter Sippora vir hom as vrou gegee.

22 Sy het later ’n seuntjie gehad. Moses het hom Gersom genoem. Hy het gesê: “Ek is ’n vreemdeling in ’n vreemde land.”

23 Baie jare het verbygegaan. Daardie koning van Egipte is later dood. Die Israeliete het egter nog steeds gebuk gegaan onder slawewerk. Hulle het om hulp geroep. Hulle gesoebat om bevry te word van die harde werk het na God toe opgestyg.

24 God het gehoor hoe hulle roep. Hy het onthou dat Hy ’n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het

25 en gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy was bekommerd oor hulle.

EKSODUS 3

Moses by die bos wat brand

1 Moses het sy skoonpa, Jetro, se skape opgepas. Jetro was een van die priesters van Midian.

Moses het al dieper in die woestyn inbeweeg en by Horeb uitgekom. Dit is die berg van God.

2 Skielik het die engel van God aan hom verskyn in ’n vlam wat in ’n bos brand. Moses was verwonderd, want die bos het aanhou brand, maar dit het nie uitgebrand nie.

3 “Dit is snaaks,” het Moses vir homself gesê. “Hoekom brand die bos dan nie uit nie? Laat ek gaan kyk wat aangaan.”

4 Toe die Here sien dat Moses naderkom om ondersoek in te stel, het Hy uit die bos na hom geroep: “Moses, Moses!”

“Dit is ek, ja,” het Moses geantwoord.

5 “Moenie nog naderkom nie,” het die Here vir hom gesê. “Trek uit jou sandale. Die plek waarop jy staan, is heilige grond.”

6 God sê toe vir hom: “Ek is die God van jou voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Toe Moses dit hoor, het hy sy hande voor sy gesig gehou. Hy was bang om na God te kyk.

Die Here stuur Moses om sy

volk uit te lei

7 Die Here sê toe vir hom: “Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle teen hulle slawedrywers om hulp roep. Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry.

8 Daarom het Ek afgekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei uit Egipte na hulle eie mooi, groot land. Dit is ’n land met oorgenoeg kos. Die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete bly nou daar.

9 Die volk se noodroep het by My uitgekom en Ek het raakgesien hoe die Egiptenaars hulle verdruk en swaar laat werk.

10 Gaan nou! Ek stuur jou na die farao toe. Jy moet my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte uit.”

11 “Maar wie is ek dan om voor die farao te verskyn?” het Moses vir God gevra. “Hoe kan U dit van my verwag om die Israeliete uit Egipte weg te lei?”

12 God het geantwoord: “Ek sal by jou wees. Wanneer jy die volk uitgelei het uit Egipte en julle God by hierdie selfde berg kom aanbid, sal dit vir jou die bewys wees dat dit Ek is wat jou gestuur het.”

13 Moses het egter teëgestribbel: “As ek by die volk van Israel kom en vir hulle sê: ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle my nie glo nie. Hulle sal vra: ‘En wie is Hy eintlik?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?”

14 God het hom geantwoord: “Ek is soos wat Ek is. Sê maar net vir hulle: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.’”

15 God het verder vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: ‘Die Here, die God van julle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – het my na julle toe gestuur.’ Dit sal altyd my Naam wees en dit is wat elke geslag My sal noem.

16 “Gaan maak nou die leiers van Israel bymekaar. Sê vir hulle: ‘Ek het die Here, die God van julle voorouers – die God van Abraham, Isak en Jakob – by die bos wat brand, ontmoet. Hy het vir my gesê: Jy kan seker wees dat Ek oor julle bekommerd is en dat Ek raakgesien het wat met julle in Egipte gebeur.

17 Ek sal julle weglei van die onderdrukking in Egipte na die land waarin die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete nou bly. Dit is ’n land waarin daar volop kos is.’

18 “Die leiers van die Israeliete sal aanvaar wat jy sê. Julle moet dan almal saam na die koning van Egipte toe gaan en vir hom sê: ‘Ons het die Here, die God van die Hebreërs, ontmoet. Laat ons toe om drie dae ver die woestyn in te gaan sodat ons daar offers vir die Here ons God kan bring.’

19 “Ek weet egter dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie. Hy sal eers gedwing moet word.

20 Daarom sal Ek ingryp en Egipte hard slaan met allerhande verskriklike dinge wat Ek met hulle sal laat gebeur. Dan eers sal hy julle laat gaan.

21 Ek sal sorg dat die Egiptenaars julle dan goed behandel. Hulle sal julle oorlaai met geskenke. Julle sal nie met leë hande van daar af weggaan nie.

22 Die Israelitiese vroue moet dan silwer en goue juweliersware en mooi klere eis van hulle Egiptiese bure en van die Egiptenaars wat in hulle huise is. Laat julle seuns en dogters dit dan dra. So sal julle die Egiptenaars deeglik plunder.”

EKSODUS 4

Die Here gee vir Moses drie

tekens

1 Moses het egter bly teëstribbel: “En as hulle my nie glo nie? Hulle sal nie doen wat ek vir hulle sê nie. Hulle sal sommer sê: ‘Jy het nie regtig die Here ontmoet nie.’”

2 Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy daar in jou hand?” “’n Herderstok,” antwoord Moses.

3 “Gooi dit op die grond neer,” het die Here vir hom gesê. Hy gooi dit toe op die grond en dit het ’n slang geword. Moses het geskrik en hy wou daarvan weghardloop.

4 Maar die Here sê vir hom: “Gryp dit aan sy stert!” Toe Moses dit gryp, het dit weer ’n herderstok geword.

5 “Hulle sal hierdie teken glo,” het die Here vir hom gesê. “Dit sal hulle oortuig dat jy die Here, die God van hulle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – ontmoet het.”

6 Toe sê die Here vir Moses: “Sit jou hand onder jou klere in.” Moses het dit gedoen. Toe hy weer sy hand uithaal, was dit spierwit melaats.

7 “Sit nou weer jou hand onder jou klere in,” sê die Here vir hom. Toe hy sy hand uithaal, was dit so gesond soos die res van sy lyf.

8 “As die eerste teken hulle nie oortuig het om jou woord te glo nie, dan sal hierdie tweede een hulle oorreed,” het die Here gesê.

9 “As hulle ná hierdie twee tekens nog steeds nie oortuig is om jou woord te aanvaar nie, moet jy water uit die Nylrivier skep en dit op die grond uitgooi. Dit sal in bloed verander.”

10 Moses het by die Here gepleit: “Ag, Here,ek is nie goed met my mond nie. Ek was nog nooit iemand wat goed kon praat nie. Selfs waar U nou hier met my praat, haak my tong vas.”

11 “Wie gee vir die mens ’n mond?” vra die Here hom. “Wie maak mense stom of doof? Wie laat hulle sien of maak hulle blind? Is dit nie maar net Ek, die Here, nie?

12 Loop, gaan maak soos Ek vir jou sê! Ek sal jou goed laat praat en vir jou voorsê wat jy moet sê.”

13 Maar Moses het bly pleit: “Here, stuur asseblief tog iemand anders.”

14 Toe het die Here Hom vir Moses vererg. “Goed,” het Hy gesê. “Wat van jou broer, Aäron, uit die Leviete? Hy kan tog goed praat. Hy is alreeds op pad om jou te kom ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien.

15 Jy sal vir hom voorsê wat om te sê. Ek sal julle help om te praat en vir julle sê wat moet gebeur.

16 Aäron sal namens jou met die volk praat. Hy sal jou mond wees. Jy sal soos God wees wat vir hom voorsê wat hy moet sê.

17 Maak seker dat jy jou herderstok by jou het sodat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek jou geleer het.”

Moses keer terug Egipte toe

18 Moses het teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my familie in Egipte. Ek weet nie eers of hulle nog leef nie.”

“Jy kan met graagte gaan,” het Jetro vir Moses gesê.

19 Terwyl Moses nog in Midian was, het die Here vir hom gesê: “Moenie bang wees om na Egipte toe terug te gaan nie. Almal wat jou wou doodmaak, is alreeds dood.”

20 Moses het toe sy vrou en seuns bymekaargekry, hulle op ’n donkie laat klim en die reis terug na Egipte toe begin. Hy het die herderstok, waaroor God met hom gepraat het, in sy hand gehou.

21 Die Here het weer vir Moses gesê: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao toe gaan. Doen dan die tekens wat Ek jou geleer het. Ek sal hom hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek.

22 Dan moet jy vir hom sê: ‘So sê die Here: Israel is my oudste seun.

23 Ek het jou beveel om my seun toe te laat om te gaan om My te aanbid. Jy het egter geweier om hom te laat gaan; daarom gaan Ek nou jou oudste seun doodmaak.’”

’n Bruidegom met bloed

beskerm

24 Moses en sy gesin het langs die pad oorgeslaap. Die Here het na Moses toe gekom om hom dood te maak.

25 Sy vrou, Sippora, het ’n skerp mes gevat en haar seun se voorvelletjie daarmee afgesny. Sy het dit teen Moses se geslagsdeel gedruk en vir hom gesê: “Jy is nou my bruidegom wat met bloed beskerm word.”

26 (Toe sy Moses ’n “bruidegom wat met bloed beskerm word” genoem het, het sy na die besnydenis verwys.) Die Here het hom hierna met rus gelaat.

Aäron kom ontmoet Moses

27 Die Here het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet Moses in die woestyn.” Aäron het gegaan en Moses by die berg van God teëgekom. Hy het hom omhels.

28 Moses het vir Aäron alles vertel van die opdrag wat die Here hom gegee het en die tekens wat hy moes doen.

29 Moses en Aäron is toe terug na Egipte waar hulle al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep het.

30 Aäron het vir hulle van alles vertel wat die Here vir Moses gesê het. Terwyl hulle toekyk, het Moses die tekens gedoen.

31 Die leiers was dadelik oortuig dat die Here Moses en Aäron gestuur het. Hulle het almal hulle koppe gebuig en op hulle knieë gegaan toe hulle hoor dat die Here bekommerd is oor Israel en hulle ellende raakgesien het.

EKSODUS 5

Moses en Aäron gaan praat met

die farao

1 Nadat hulle met die leiers gepraat het, het Moses en Aäron na die farao gegaan. Hulle sê toe vir hom: “Hoor wat sê die Here, die God van Israel: ‘Jy moet my volk toelaat om in die woestyn vir My ’n fees te gaan hou.’”

2 Maar die farao spot toe en vra: “Wie is hierdie ‘Here’ nogal dat ek na hom moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken nie ’n ‘Here’ nie. Ek sal Israel ook nie toelaat om te gaan nie.”

3 Aäron en Moses het egter volgehou: “Ons het die God van die Hebreërs ontmoet. Laat ons toe om drie dae ver in die woestyn in te trek sodat ons offers vir die Here ons God kan bring. As ons dit nie doen nie, sal Hy beslis siekte of oorlog teen ons laat uitbreek.”

Die Israeliete moet nog harder

werk

4 “Moses en Aäron,” het die koning van Egipte vir hulle gesê, “waarom probeer julle die volk uit die werk uit hou? Loop terug en gaan doen julle werk!”

5 Die farao het ook gesê: “Julle is alreeds meer as die inwoners van die land en nou probeer julle hulle van die werk af weghou!”

6 Daardie selfde dag nog het die farao vir die Egiptiese slawemeesters en die mense wat hy oor Israel aangestel het, laat weet:

7 “Julle moenie meer soos vantevore vir hulle strooi verskaf om stene te maak nie. Voortaan moet hulle dit self gaan kry.

8 Hulle moet egter net soveel stene maak soos altyd. Julle mag nie die hoeveelhede verminder nie. Hulle het lui geword. Dis hoekom hulle kom kerm om vir hulle God te gaan offer.

9 Maak die werk nog swaarder vir die mans. Laat hulle sweet sodat hulle nie sulke slimstories kan uitdink nie.”

10 Die slawemeesters en hulle opsigters het die mense ingelig: “Die farao het ons opdrag gegee om op te hou om vir julle strooi te voorsien.

11 Julle moet van nou af self strooi gaan bymekaarmaak waar julle dit ook al kry. Julle moet egter net soveel stene maak soos altyd.”

12 Hulle het toe oral in Egipte stoppels begin versamel vir die stene.

13 Die slawemeesters was hardhandig met hulle en het hulle beveel: “Julle moet net soveel stene lewer as vroeër toe die strooi vir julle voorsien is!”

14 Hulle het die Israelitiese opsigters geslaan en vir hulle gevra: “Hoekom het julle nie gister en vandag julle volle kwota stene gelewer nie?”

15 Die Israelitiese opsigters het toe met die farao gaan praat en hom gesoebat: “Moenie ons so behandel nie.

16 Ons kry nie meer strooi nie, maar ons moet nog steeds net soveel stene maak! Ons word geslaan terwyl die fout by u mense lê.”

17 Die farao het hulle geantwoord: “Julle het lui en laks geword. Dis hoekom julle kom vra om vir die Here te gaan offer.

18 Loop! Gaan terug na julle werk toe! Julle sal nie strooi kry nie. Sorg dat julle die volle kwota stene lewer.”

19 Omdat hulle steeds elke dag dieselfde hoeveelheid stene soos vantevore moes maak, het die Israelitiese opsigters gesien dat daar groot moeilikheid kom.

20 Toe hulle van die farao af weer buite kom, het Moses en Aäron daar vir hulle gestaan en wag.

21 Die opsigters sê vir hulle: “Die Here sien wat julle aangevang het. Hy sal julle straf vir die gemors waarin julle ons by die farao en sy mense laat beland het. Julle het hulle rede gegee om ons dood te maak.”

22 Moses het na die Here toe teruggegaan en by Hom gekla: “Here, hoekom maak U so lelik met u eie mense? Waarom het U my dan gestuur?

23 Vandat ek by die farao gekom het om vir hom te sê wat U van hom eis, het hy hierdie volk net al slegter behandel. U het nog nie ’n ding gedoen om u volk te red nie!”

EKSODUS 6

Moses en Aäron moet weer

teruggaan

1 Toe sê die Here vir Moses: “Nou gaan jy sien wat Ek met die farao gaan doen. Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan. Hy sal selfs by hulle aandring om pad te gee uit sy land.”

2 Die Here het verder vir Moses gesê: “Ek is die Here.

3 Ek het My aan Abraham, Isak en Jakob voorgestel as ‘God die Almagtige’. Hulle het My nie geken as ‘die Here’ nie.

4 Ek het met hulle ’n ooreenkoms gemaak om die land Kanaän, waarin hulle vir ’n tydjie oorgebly het, vir hulle te gee.

5 Jy kan verseker weet dat Ek gehoor het hoe die mense van Israel kla omdat hulle soos slawe vir die Egiptenaars werk. Ek het onthou van my ooreenkoms met hulle.

6 “Daarom moet jy vir die Israeliete gaan sê: ‘Ek is die Here. Ek sal julle verlos van die slawewerk in Egipte. Ek sal julle bevry met krag en met sterk vergeldingsdade.

7 Ek maak julle my eie volk. Ek sal julle God wees. Julle sal weet dat dit Ek, die Here julle God, is wat julle van die slawewerk in Egipte bevry het.

8 Ek sal julle laat kom in die land wat Ek onder eed vir Abraham, Isak en Jakob belowe het. Dit sal julle eie land wees. Ek is die Here.’”

9 Moses het dit alles net so aan die Israeliete oorgedra. Omdat hulle moedeloos was oor die harde werk, wou hulle nie na Moses luister nie.

10 Die Here het toe vir Moses gesê:

11 “Gaan praat weer met die koning van Egipte dat hy die Israeliete uit sy land moet laat weggaan.”

12 “Maar, Here,” het Moses geprotesteer, “die Israeliete luister nie eers na my nie, hoe sal die farao dan na my luister? Ek struikel oor my woorde.”

13 Die Here het nogtans vir Moses en Aäron die opdrag gegee om terug te gaan na die farao, die koning van Egipte, toe en die Israeliete uit Egipte weg te lei.

Moses en Aäron se nageslag

14 Onder die nageslag van die stamme van Israel was daar die volgende: Die seuns van Ruben, die oudste seun van Israel, was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Hulle was die leiers van Ruben se nageslag.

15 Simeon se seuns was Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul (hy het ’n Kanaänitiese ma gehad). Hulle was die leiers van Simeon se nageslag.

16 Onder Levi se nakomelinge, in die volgorde van hulle familiegroepe, was Gerson, Kehat en Merari. (Hulle pa, Levi, het 137 jaar oud geword).

17 Gerson se seuns was Libni en Simi. Elkeen was die hoof van ’n stam.

18 Onder Kehat se nageslag was daar: Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. (Kehat het 133 jaar oud geword).

19 Merari se seuns was Magli en Musi.

Al hierdie mense, wat volgens hulle afstamming opgenoem is, het aan Levi se stam behoort.

20 Amram het met sy tante Jogebed getrou. Hulle twee seuns was Aäron en Moses. (Amram het 137 jaar oud geword.)

21 Jishar se seuns was Korag, Nefeg en Sikri.

22 Ussiël se seuns was Misael, Elisafan en Sitri.

23 Aäron het met Eliseba, ’n dogter van Amminadab, die suster van Nagson, getrou. Hulle seuns was Nadab en Abihu en Eleasar en Itamar.

24 Korag se nageslag was Assir en Elkana en Abiasaf. Hulle is onder die afstammelinge van Korag ingedeel.

25 Aäron se seun Eleasar het met een van Putiël se dogters getrou. Hulle seun was Pinehas.

Dit was dan die verskillende leiers uit die familie van Levi.

26 Die Aäron en Moses wat in die lys genoem is, is dieselfde Aäron en Moses vir wie die Here gesê het: “Julle moet al die Israeliete bymekaarmaak en hulle uit Egipte lei.”

27 Dit was hulle wat na die farao toe gegaan het en met hom onderhandel het om die Israeliete uit Egipte te laat trek.

28 Toe die Here in Egipte met Moses gepraat het,

29 het Hy vir hom gesê: “Ek is die Here. Gaan sê vir die farao, die koning van Egipte, presies wat Ek vir jou gesê het.”

30 Moses het toe vir die Here gesê: “Ek kan dit nie doen nie, want ek stotter en stamel. Hoe sal die farao ooit doen wat ek vra?”

EKSODUS 7

Moses se herderstok word ’n

slang

1 Maar die Here het vir Moses gesê: “Let op, Ek sal jou soos ’n god laat wees teenoor die farao. Jou broer, Aäron, sal jou boodskapdraer wees. Hy sal jou woorde aan die farao oordra.

2 Jy moet vir jou broer, Aäron, alles herhaal wat Ek vir jou sê. Hy moet dit dan weer vir die farao gaan sê. Hy sal eis dat die Israeliete uit Egipte trek.

3 Ek sal egter die farao hardkoppig maak sodat Ek nog meer tekens en wonders in Egipte kan doen.

4 Hy sal nog steeds bly weier om na julle te luister. Ek sal Egipte dan met ’n reeks rampe tref. Ek sal die stamme van Israel dan deur groot vergeldingsdade uit Egipte uitlei.

5 Wanneer Ek vir die Egiptenaars gewys het hoe magtig Ek is en hulle gedwing het om die Israeliete tussen hulle te laat uitgaan, sal hulle weet dat Ek die Here is.”

6 Moses en Aäron het presies net so gemaak soos die Here vir hulle gesê het.

7 Toe hulle met die farao gaan praat het, was Moses 80 jaar oud en Aäron 83.

8 Die Here het toe vir Moses en Aäron gesê:

9 “Die farao sal van julle verwag dat julle vir hom ’n wonderteken moet doen. Jy moet dan vir Aäron sê: ‘Gooi jou herderstok voor die farao op die grond!’ Dit sal dan in ’n slang verander.”

10 Moses en Aäron het met die farao gaan praat. Hulle het net so gemaak soos die Here vir hulle gesê het. Aäron het sy herderstok voor die farao en sy hofamptenare neergegooi en dit het in ’n slang verander.

11 Die farao het toe sy wyse manne en towenaars nadergeroep. Hulle het met hulle kunsies presies dieselfde ding gedoen.

12 Toe die manne hulle stokke neergooi, het dit ook in slange verander. Maar Aäron se slang het hulle slange ingesluk.

13 Die farao het egter hardkoppig gebly. Hy wou nog steeds nie na hulle luister nie. Dit was presies net soos die Here gesê het dit sou gebeur.

’n Ramp met bloed

14 Die Here sê toe vir Moses: “Die farao bly nog steeds eiesinnig en hy weier steeds dat die volk kan gaan.

15 Môre-oggend, wanneer die farao afgaan na die rivier toe, moet jy met hom gaan praat. Gaan staan langs die rivier en wag vir hom daar. Vat die herderstok wat in ’n slang verander het saam met jou.

16 Sê dan vir hom: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het my na jou toe gestuur om vir jou te sê: Laat my volk gaan om My in die woestyn te aanbid. Tot nou toe het jy geweier om na My te luister.

17 Daarom stuur die Here nou vir jou ’n boodskap waaraan jy kan weet wie Ek die Here is. Ek gaan met hierdie stok in my hand op die rivier se water slaan en dit gaan alles in bloed verander.

18 Die vis in die rivier gaan vrek en dit sal begin sleg ruik. Die Egiptenaars sal nie die water van die Nylrivier kan drink nie.’”

19 Die Here het ook nog vir Moses gesê: “Sê vir Aäron hy moet sy stok uitsteek in die rigting van al die plekke waar daar in Egipte water is – al sy riviere, sy kanale, sy moerasse en sy opgaarplekke. Oral in Egipte sal die water in bloed verander, selfs die water in houers en kruike in mense se huise.”

20 Moses en Aäron het toe presies net so gemaak soos die Here vir hulle gesê het. Terwyl die farao en al sy amptenare staan en kyk, het Moses sy stok gevat en op die water van die rivier geslaan. Al die water in die rivier het toe in bloed verander.

21 Die vis in die rivier het gevrek. Die water het so sleg begin ruik dat die Egiptenaars dit nie kon drink nie. Deur die hele Egipte was daar net bloed.

22 Maar die towenaars van Egipte het hulle kunsies gebruik en kon ook water in bloed verander. Dit het gemaak dat die farao steeds nie na hulle geluister het nie. Dit was soos die Here gesê het dit sou gebeur.

23 Die farao het omgedraai en na sy paleis toe teruggegaan. Hy het hom nie verder aan die saak gesteur nie.

24 Die Egiptenaars het toe putte al langs die rivier begin grawe vir drinkwater. Hulle kon nie die water van die rivier drink nie.

25 ’n Hele week het verbygegaan vandat die Here die water in bloed verander het.

EKSODUS 8

’n Ramp van paddas

1 Die Here het toe vir Moses gesê: “Gaan weer terug na die farao toe en sê vir hom: ‘Hoor wat die Here sê: Laat my volk trek sodat hulle My kan gaan aanbid.

2 As jy weier om dit te doen, moet jy nou mooi hoor: Ek sal hordes paddas oor jou hele land laat kom.

3 Die hele Nylrivier sal vol van hulle wees. Hulle sal uit die rivier klim en in julle huise, selfs in julle slaapkamers en in julle beddens kom. Elke huis in Egipte sal vol paddas wees, ook in die huise van die mense wat vir jou werk. Hulle sal selfs in jou oonde en jou knieskottels klim.

4 Die paddas sal opspring teen jou en jou volk en almal wat vir jou werk!’”

5 Toe sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron hy moet sy hand waarin hy die herderstok vashou na al die riviere, die kanale en die moerasse in Egipte uitsteek sodat daar paddas tot in elke uithoek van die land kan kom.”

6 Aäron het sy hand na al die plekke waar daar water was, uitgesteek. Daar het paddas oor die hele Egipte gekom.

7 Die towenaars kon egter met hulle kunsies presies dieselfde ding doen. Hulle kon ook paddas oor die hele land laat kom.

8 Die farao het toe Moses en Aäron laat roep en by hulle gesoebat: “Vra tog vir die Here om die paddas van my en my volk weg te vat. Ek sal die volk laat gaan om vir die Here offers te bring.”

9 “Sê net wanneer!” het Moses die farao geantwoord. “Wanneer u sê, sal ek vir u en u amptenare en u volk bid. Ek sal die Here vra om die paddas van u en uit u huise weg te vat. Net die paddas wat in die Nylrivier is, sal bly lewe.”

10 “Doen dit môre,” het die farao gesê.

“Goed,” het Moses geantwoord, “ek sal so maak. U sal dan weet dat niemand met die Here, ons God, vergelyk kan word nie.

11 Al die paddas wat by u en in u huise en u werkmense en u volk is, sal verdwyn. Net dié wat in die rivier is, sal oorbly.”

12 Moses en Aäron is weg van die farao af. Moses het tot die Here gebid oor die ramp van die paddas wat die Here oor die farao gebring het.

13 Die Here het gemaak soos Moses gevra het. Die paddas in die huise en op die strate en in die veld het almal gevrek.

14 Hulle is op hope bymekaargemaak en ’n doodsreuk het oor die land gehang.

15 Toe die farao sien dat die krisis verby is, het hy weer eiesinnig geraak. Hy het geweier om na Moses en Aäron te luister. Dit was presies soos die Here gesê het.

’n Ramp van muggies

16 Die Here het toe vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: ‘Vat jou stok en slaan op die grond. Dit sal muggies oor die hele Egipte bring.’”

17 Hulle het net so gemaak soos die Here gesê het. Aäron het sy stok gevat en op die grond geslaan. Daar het toe muggies gekom wat op mens en dier toegesak het. Oor die hele land het die stof in muggies verander.

18 Die farao se towenaars het dieselfde met hulle kunsies probeer regkry. Hierdie keer was hulle nie suksesvol nie. Die muggies het al wat mens en dier is, toegetakel.

19 “Hierdie is ’n vingerwysing van God,” het die towenaars vir die farao gesê. Maar die farao het onversetlik gebly. Net soos die Here gesê het, het hy bly weier om te luister.

’n Ramp van vlieë

20 Die Here het nog verder vir Moses gesê: “Staan môre vroeg op en gaan ontmoet die farao wanneer hy op pad is na die rivier toe. Sê vir hom: ‘Die Here sê: Jy moet my volk laat gaan sodat hulle My kan gaan aanbid.

21 As jy my volk nie toelaat om te gaan nie, gaan Ek swerms vlieë op jou, jou werkers, jou volk en jou huise laat toesak. Die huise in Egipte sal vol vlieë wees. Dit sal oral op die grond wemel van die vlieë.

22 Ek sal op daardie dag ’n uitsondering maak van Gosen waar my volk bly. Daar sal nie vlieë wees nie. Daaraan sal jy weet dat Ek die Here is en dat Ek mag het oor jou land.

23 Ek sal baie duidelik onderskei tussen my mense en jou mense. Hierdie teken gaan môre gebeur.’”

24 Die Here het net so gemaak soos Hy gesê het. Daar het groot swerms vlieë in die farao se paleis, sy werkers se huise en oor die hele Egipte gekom. Die hele land was in chaos as gevolg van die vlieë.

25 Die farao het Moses en Aäron haastig laat roep. “Goed,” het hy gesê. “Julle kan hier in die land vir julle God offer.”

26 Moses het hom egter geantwoord: “Ons kan dit nie so doen nie. Die Egiptenaars sal gril vir die offers wat ons vir die Here bring. As ons hier offer waar hulle dit kan sien, gaan hulle ons met klippe doodgooi.

27 Ons moet drie dae ver die woestyn in trek om daar vir die Here te offer. Dit is wat Hy gesê het ons moet doen.”

28 “Maak dan so,” het die farao gesê. “Ek sal julle toelaat om vir julle God in die woestyn te gaan offer. Moenie te ver weg gaan nie. Bid sommer vir my ook!”

29 “Sodra ek weg is,” het Moses gesê, “sal ek vir die Here bid om die vlieë van u en u mense weg te vat. Moenie weer omvlieg en van plan verander dat die volk nie kan gaan offer nie.”

30 Moses is weg van die farao af. Hy het die Here gevra om die vlieë weg te vat.

31 Die Here het gemaak soos Moses gevra het. Hy het die vlieë van die farao, sy werkers en sy volk laat verdwyn. Daar het nie ’n enkele vlieg in Egipte oorgebly nie.

32 Die farao het egter viervoet vasgesteek en geweier om die volk te laat gaan.

EKSODUS 9

Ramp onder die vee

1 “Gaan weer terug na die farao toe,” het die Here Moses beveel. “Sê vir hom: ‘Dit is wat die Here, die God van die Hebreërs, sê: Jy moet my volk laat gaan sodat hulle My kan gaan aanbid.

2 As jy weier om hulle te laat gaan en aanhou om hulle terug te hou,

3 sal die Here ’n dodelike siekte laat uitbreek onder al die diere in die veld. ’n Epidemie sal uitbreek onder jou perde, jou donkies, jou kamele, jou beeste en jou skape.

4 Die Here sal weer onderskeid maak tussen die vee van die Israeliete en die vee van Egipte. Nie een van Israel se vee sal vrek nie.’”

5 Die Here het besluit dat Hy die epidemie net die volgende dag sal laat uitbreek in die land.

6 Van die volgende oggend af het die Here dit laat gebeur. Al die vee van Egipte het begin doodgaan. By die Israeliete is daar egter nie een dood nie.

7 Die farao het mense gestuur om te kom kyk of dit so is. Selfs nadat hy gehoor het dat dit wel so is, het hy hardkoppig gebly. Hy het volgehou om te weier dat die volk kon gaan.

Nog ’n ramp met sere

8 Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Vat ’n paar hande vol roet uit ’n oond en laat Moses dit voor die farao in die lug uitstrooi.

9 Dit sal soos fyn stof oor die hele Egipte versprei en rou sere aan mens en dier laat kom.”

10 Hulle het toe roet uit ’n oond gevat en na die farao toe gegaan. Terwyl die farao staan en kyk, het Moses dit in die lug gestrooi. Daar het rou sere op mens en dier begin uitbreek.

11 Die towenaars kon nie met Moses kragte meet nie omdat hulle self ook vol sere was.

12 Die Here het die farao egter nog koppiger gemaak. Hy het volgehou om te weier om na hulle te luister. Dit was net soos die Here gesê het dit sou wees.

Hael oor die land

13 Toe sê die Here vir Moses: “Staan môre-oggend vroeg op en gaan sê vir die farao: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, sê: Laat my volk gaan sodat hulle My kan gaan aanbid.

14 As jy hulle nie toelaat nie, gaan Ek ’n ramp stuur wat jou en jou amptenare en jou volk werklik gaan ruk. Jy sal dan verseker weet dat daar nie nog iemand soos Ek op die hele aarde is nie.

15 Ek kon jou al lankal doodgemaak het. Ek kon jou en jou volk ook al lankal met rampe van die aarde af weggevee het.

16 Ek het jou egter gespaar sodat jy kan sien hoe magtig Ek is en dat my Naam oor die hele aarde bekend sal word.

17 Jy hou aan om jouself belangriker te ag as my volk en te weier om hulle te laat gaan.

18 Ek gaan môre hierdie tyd die grootste haelstorm wat daar nog ooit gesien is oor Egipte stuur.

19 Laat dadelik al jou vee en alles van jou wat buite in die veld is, terugkom. Enige mens of dier wat buite in die veld gevang word en nie onder dak is nie, sal nie die storm oorleef nie.’”

20 Die amptenare van die farao wat hulle gesteur het aan wat die Here gesê het, het dadelik hulle vee en werkers na veiligheid gebring.

21 Dié wat hulle skouers opgetrek het vir wat die Here gesê het, het hulle werkers en hulle vee net daar in die veld gelos.

22 Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand op in die lug. Oor die hele Egipte sal daar hael val op mens en dier en oor al die plante oor die hele land.”

23 Moses het toe sy stok in die lug opgesteek. Die Here het toe donderweer en hael laat kom en weerlig oor die hele aarde laat uitslaan. Die Here het ’n geweldige haelstorm oor die hele Egipte laat losbars.

24 Daar was nog nooit in Egipte se geskiedenis so ’n groot haelstorm met soveel onophoudelike weerlig nie.

25 Die haelstorm het deur die hele Egipte getrek. Dit het alles in die veld – mens, dier en plante – platgeslaan. Daar het nie ’n boom bly staan nie.

26 Die enigste plek waar daar op daardie dag nie hael geval het nie, was in Gosen waar die Israeliete gebly het.

27 Die farao het toe dringend vir Moses en Aäron laat roep. Hy het vir hulle gesê: “Ek het verkeerd gemaak. Hierdie keer is die Here reg. Ek en my mense is verkeerd.

28 Bid tog tot die Here dat Hy hierdie verskriklike weerlig en hael laat ophou. Ek sal julle laat gaan. Julle hoef nie langer te bly nie.”

29 “Goed so,” het Moses geantwoord. “Sodra ek uit die stad is, sal ek tot die Here bid om die hael en weerlig te laat ophou. Jy sal dan weet dat die aarde aan die Here behoort.

30 Ek weet egter dat jy en jou amptenare nog glad nie in die Here glo nie.”

31 Die vlas- en garsoes was daarmee heen. Die gars was op daardie stadium vol in die aar en die vlas het begin knoppe maak.

32 Die koring en die hawer was darem nog veilig, want dit het nog nie opgekom nie.

33 Moses is toe van die farao af weg en uit die stad uit. Toe hy sy hande opsteek en begin bid, het die weerlig opgehou slaan. Die hael en reën het opgehou val.

34 Toe die farao sien dat die weerlig ophou en die storm bedaar, het hy en sy amptenare maar weer begin oortree en geweier om te doen wat hulle belowe het.

35 Die farao het botweg geweier om die Israeliete te laat gaan. Dit was net soos die Here gesê het dit sal gebeur.

EKSODUS 10

’n Ramp van sprinkane

1 Die Here sê toe vir Moses: “Gaan weer terug na die farao toe. Ek het hom en sy amptenare onwillig gemaak sodat Ek hierdie rampe oor hulle kan laat kom.

2 Jy sal vir jou nageslag kan vertel wat Ek alles met die Egiptenaars gedoen het en wat Ek alles tussen hulle laat gebeur het. Ek doen dit sodat julle kan weet dat Ek die Here is.”

3 Moses en Aäron is toe weer na die farao toe. Hulle het vir hom gesê: “Die Here, die God van die Hebreërs, vra vir jou: ‘Hoe lank gaan jy aanhou weier om na My te luister? Laat my volk gaan sodat hulle My kan gaan aanbid.

4 As jy aanhou weier om my volk te laat gaan, gaan Ek môre sprinkane oor jou hele land laat kom.

5 Daar sal so baie van hulle wees dat jy nie eers die grond onder hulle sal kan sien nie. Hulle sal alles wat van die haelstorm oorgebly het, wegvreet. Hulle sal selfs die bome wat weer begin uitloop het, kaal stroop.

6 Hulle sal inkruip in jou paleis en in jou amptenare se huise en in al die huise in Egipte. Vandat jou voorgeslag hier woon, het niemand in Egipte nog ooit so ’n groot ramp beleef nie!’” Nadat hy dit gesê het, het Moses sy rug op die farao gedraai en weggeloop.

7 Die farao se amptenare het toe by hom kom kla: “Hoe lank gaan u nog toelaat dat hierdie rampe aangaan? Laat tog die mans gaan dat hulle die Here hulle God kan gaan aanbid. Sien u nie dat Egipte in duie stort nie?”

8 Moses en Aäron is toe weer teruggeroep na die farao toe. “Goed,” het hy gesê, “gaan dan tog en aanbid die Here julle God. Sê net ’n bietjie vir my wie gaan almal saam?”

9 “Ons gaan almal saam, van oud tot jonk,” het Moses geantwoord. “Ons vat ons seuns en ons dogters en al ons beeste en ons vee saam. Ons moet almal deelneem aan die fees vir die Here.”

10 Die farao het geantwoord: “Die Here sal beslis eers vir julle moet help voordat ek julle met al julle afhanklikes net so sal laat gaan. Julle voer een of ander skelm plan in die mou.

11 Nee, net die mans mag gaan om tot die Here te bid. Dit is waarvoor julle gevra het.” Toe het die farao hulle weggejaag.

12 Maar die Here sê vir Moses: “Steek jou hand uit oor Egipte sodat die sprinkane oor die land kan kom. Hulle sal alles wegvreet wat na die haelstorm oorgebly het.”

13 Moses het sy stok oor Egipte uitgesteek. Die Here het die hele dag en ook deur die nag ’n oostewind laat waai. Toe dit oggend word, het die wind die sprinkane begin aanbring.

14 Die sprinkane het op die hele Egipte toegesak. Deur die hele land was dit net sprinkane. Nog nooit in Egipte se geskiedenis is so baie sprinkane gesien nie, ook nooit weer daarna nie.

15 Hulle was oor alles. Die grond was toe onder hulle. Hulle het al die plante en vrugte weggevreet wat na die haelstorm oorgebly het. Daar het nie ’n krieseltjie groenigheid oorgebly nie. Daar was nie ’n boom of ’n plant oor in die hele Egipte nie.

16 Die farao het Moses en Aäron toe dringend laat roep. “Ek het verkeerd gemaak met die Here julle God en met julle,” het hy vir hulle gesê.

17 “Vergewe my tog hierdie keer. Pleit tog by die Here julle God om hierdie dodelike ramp te laat ophou.”

18 Moses is weg van die farao af en het tot die Here gebid.

19 Die Here het die wind laat omswaai. Hy het ’n sterk wind uit die weste laat waai wat die sprinkane in die Rietsee ingewaai het. Daar het nie ’n enkele sprinkaan in die hele Egipte oorgebly nie.

20 Die Here het Farao egter weer hardkoppig laat word en hy het geweier om die Israeliete te laat gaan.

Stikdonker

21 Die Here het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand in die lug op. Dit sal stikdonker word oor die hele Egipte. ’n Mens sal amper daaraan kan vat.”

22 Moses het sy hand in die lug opgesteek. Dit was drie dae lank stikdonker in die hele Egipte.

23 Vir drie dae lank kon die mense mekaar nie sien nie en nie ’n voet versit nie. Waar die Israeliete gebly het, was dit egter helder sonskyn.

24 Die farao het Moses laat kom. “Loop en gaan aanbid die Here,” het hy gesê. “Net julle beeste en skape moet hier bly. Julle vroue en kinders kan maar saam met julle gaan.”

25 “U sal tog nie van u eie diere gee om vir die Here ons God te offer nie,” het Moses geantwoord.

26 “Al ons diere moet saam met ons gaan. Daar kan nie een agterbly nie. Uit hulle moet ons vir die Here offers bring. Ons kan ook nie voor die tyd weet watter offers ons daar gaan nodig kry nie.”

27 Die Here het die farao maar weer hardkoppig gemaak. Hy het steeds nie ingestem om hulle te laat gaan nie.

28 “Loop hier weg!” het die farao vir Moses geskreeu. “Sorg dat ek jou nooit weer sien nie. As ek jou ooit weer sien, maak ek jou dood!”

29 “Nou goed dan!” het Moses geantwoord. “Dit is net soos u sê. Ek sal u nooit weer sien nie.”