1 PETRUS 3

Riglyne vir

huweliksverhoudings

1 En julle, vroue, julle moet julle eie mans se gesag oor julle aanvaar, selfs as hulle nie die Goeie Nuus glo nie. Sonder dat julle ’n woord hoef te sê, sal julle leefstyl hulle vir Christus wen.

2 Hulle sal immers sien hoe eerbiedig en onberispelik julle lewe.

3 Moenie dink dis bloot uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en pragtige klere wat julle mooi maak nie.

4 Julle skoonheid moet veral innerlik wees: blywende beskeidenheid en ’n gemoed wat kalm en rustig is. Dit is vir God kosbaar.

5 Dis presies hoe die gelowige vroue in die ou dae hulle mooi gemaak het. Hulle het op God gehoop en hulle mans se gesag oor hulle aanvaar.

6 Sara, byvoorbeeld, was aan haar man, Abraham, gehoorsaam deur hom “Meneer” te noem. Julle het haar dogters geword omdat julle doen wat goed is en julle nie laat afskrik deur enige intimidasie nie.

7 En julle, mans, behandel julle vroue met respek.

Leef saam met jou vrou in die besef dat, al is sy fisiek swakker as jy, sy saam met jou deel in die lewe wat God as geskenk gee.

As jy haar só behandel, sal jou gebede nie geblokkeer word nie.

Riglyne vir die verhouding met

die naaste in die algemeen

8 ’n Laaste woord oor julle verhoudings: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig.

9 Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ’n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën.

10 Want die Skrif sê:

“As jy die lewe wil liefhê

en goeie dae wil beleef,

moet jy jou tong weghou

van kwaadpraat

en jou lippe van leuens.

11 Bly weg van die kwaad af,

ja, doen wat goed is.

Soek vrede,

ja, jaag dit na!

12 Die Here sorg vir dié

wat reg doen,

en Hy luister na hulle gebede.

Maar die Here is teen dié

wat kwaad doen.”

Nét Christus moet seggenskap

in julle lewe hê

13 Verder, wie sal julle sleg behandel as julle uit julle pad gaan om goed te doen?

14 Maar as dit inderdaad gebeur dat julle swaarkry omdat julle doen wat reg is, sal God sy seën op julle laat rus. Moet dus nie dat mense julle bangmaak of afskrik nie.

15 Inteendeel, erken in julle harte Christus as die een wat seggenskap het. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer.

16 Doen dit egter taktvol en eerbiedig. Sorg dat julle gewete skoon bly. Wanneer mense dan sleg van julle praat, sal hulle skaam kry wanneer hulle agterkom hoe voorbeeldig julle leefstyl is omdat julle aan Christus behoort.

17 Hou in gedagte: As God beskik dat julle moet ly omdat julle goeddoen, is dit beter as om te ly omdat julle kwaad doen.

Wees bemoedig: Christus hét

oorwin en regeer nou oor alles

18 Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie.

Ook Christus het só gely

toe Hy eens en vir altyd

vir ons sondes gesterf het.

Hy het nooit enige sonde gedoen nie;

tog het Hy vir sondaars gesterf

om julle by God te laat tuiskom.

Wat sy liggaam betref,

het Hy gesterf,

maar wat sy gees betref,

is Hy lewend gemaak.

19 Só het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en sy oorwinning daar aangekondig.

20 Hierdie geeste is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy baie geduldig met hulle was. Dit het gebeur in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net agt mense is uit die verskriklike vloed gered.

21 Die redding in die ark is ’n voorteken van die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop red julle deur die opstanding van Jesus Christus. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n pleit voor God dat jou gewete skoon bly.

22 Christus hét die hemel binnegegaan. Hy sit nou aan die regterhand van God, met die engele, magte en kragte onder sy beheer.

1 PETRUS 4

Wees bereid om te ly volgens

Christus se voorbeeld

1 Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julleself met dieselfde gedagte bewapen, en self bereid wees om liggaamlik te ly. As julle bereid is om liggaamlik te ly, het julle met die sonde afgereken.

2 Sodat julle, so lank as wat julle nog ’n aardse liggaam het, nie meer aan julle natuurlike neigings vrye teuels gee nie, maar sal leef soos God dit wil hê.

3 In die verlede het julle lank genoeg soos nie-Christene geleef. Julle het vrye teuels gegee aan losbandigheid en natuurlike neigings, julle het wilde en uitspattige dronkpartytjies gehou en afskuwelike afgodery bedryf.

4 Natuurlik vind nie-Christene dit vreemd dat julle nie meer met hierdie stroom losbandigheid saamgaan nie, en praat hulle sleg van julle.

5 Hulle sal egter verantwoording moet doen aan Hom wat klaarstaan om oor die lewendes en die dooies te oordeel.

6 Dis juis hoekom die Goeie Nuus aan die dooies verkondig is toe hulle nog gelewe het. Hulle kon toe besef dat hulle volgens God se geestelike maatstawwe kan lewe, hoewel hulle volgens aardse, menslike maatstawwe veroordeel was om die fisiese dood te sterf.

7 Die einde van alles is naby.

Hoe julle wat weet dat die einde

naby is, moet leef

Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees; dan sal julle kan bid.

8 Die belangrikste van alles is dat julle mekaar onselfsugtig moet liefhê. Sulke liefde maak baie sondes toe.

9 Tweedens: Ontvang mekaar in julle huise sonder om te kla.

10 Derdens: God het aan elkeen van julle ’n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk genade deur julle na mekaar toe kan vloei.

11 Het jy die gawe ontvang om te preek? Dan moet jy só preek dat Gód deur jou praat. Het jy die gawe ontvang om ander te dien? Doen dit met die krag en energie wat Gód gee. Só moet God verheerlik word deur dit wat Jesus Christus moontlik gemaak het. Aan Hom behoort alle heerlikheid en krag tot in alle ewigheid! Amen.

Vertrou jou lewe toe aan God,

en hou aan góéddoen

12 Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef wat oor julle kom nie. Dis nie iets vreemds wat met julle gebeur nie.

13 Dit moet julle liewer bly maak, want só deel julle in die lyding van Christus. Later sal julle wonderlike vreugde ervaar wanneer sy heerlikheid bekendgemaak word en julle daarin deel.

14 Beskou julleself gelukkig wanneer julle beledig word omdat julle Christene is. Dit is ’n bewys dat die Gees wat heerlikheid bewerk, die Gees van God, in julle bly.

15 As een van julle swaarkry, moet dit nie wees omdat hy ’n moordenaar is of ’n dief of ’n misdadiger of ’n kwaadstoker nie.

16 As jy egter swaarkry omdat jy ’n Christen is, is dit geen skande nie. Inteendeel, prys God vir die voorreg om hierdie Naam te dra!

17 Die tyd vir die oordeel het inderdaad aangebreek, en dit begin by die huisgesin van God. As selfs ons Christene geoordeel word en dit is nog maar die begin, hoe verskriklik sal dit nie uiteindelik gaan met dié wat God se Goeie Nuus nie wou aanvaar nie?

18 En:

“As iemand wat reg lewe voor God

met moeite verlos word,

hoe sal dit dan gaan

met ’n goddelose

en ’n sondaar?”

19 As julle dus ly omdat julle doen wat God wil hê, moet julle aanhou goeddoen en julle lewe oorlaat aan God wat julle gemaak het. Hy sal julle nooit in die steek laat nie.

1 PETRUS 5

Die ouderlinge moet God se

kudde as herders goed oppas

1 Nou rig ek my tot die ouderlinge onder julle. Ek is self mede-ouderling én getuie van die lyding van Christus. Ek sal self ook deel hê aan sy heerlikheid wat geopenbaar gaan word. As ’n mede-ouderling doen ek ’n beroep op julle:

2 As herders moet julle die kudde van God goed oppas; hulle is aan julle toevertrou. Hou gewillig toesig oor hulle, nie omdat julle gedwing word nie, maar omdat julle wil doen wat God wil hê; nie om julleself finansieel te verryk nie, maar omdat julle graag in God se diens staan.

3 Moenie baasspeel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar stel die voorbeeld vir die kudde.

4 En wanneer die Hoofherder verskyn, sal julle deel kry aan sy heerlikheidskroon wat nooit vergaan nie.

Die jong manne moet hulle taak

in alle nederigheid uitvoer

5 En julle, jong manne, erken die gesag van die ouderlinge. Trouens, almal moet nederig in mekaar se diens staan, want:

“God is téén dié wat te veel van

hulleself dink,

maar dié wat besef hoe afhanklik

hulle van Hom is,

aan húlle

gee Hy sy genade.”

6 Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak.

7 Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.

Wees op julle hoede vir die

duiwel en dink aan die komende

8 Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

9 Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding.

10 In sy genade het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle ’n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel; Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak.

11 Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.

Die doel van die brief, groete en

seëngroet

12 Ek skryf hierdie kort briefie aan julle met Silvanus se hulp. Hy is ’n getroue broer. Die doel met my brief is om julle te bemoedig en te verseker dat die genade van God met julle is, ongeag wat met julle gebeur.

13 Julle susterskerk hier in Rome stuur vir julle groete. Markus, my seun, stuur ook vir julle groete.

14 Groet mekaar met ’n soen van Christelike liefde.

Vrede vir julle almal wat aan Christus verbind is!

2 PETRUS 1

1 Die apostel Petrus skryf aan

Christene wie se geloofslewe

Hierdie brief kom van Simon Petrus, ’n dienskneg en apostel van Jesus Christus.

Ek skryf aan julle almal wat dieselfde kosbare geloof as ons het. Julle het hierdie geloof ontvang van Jesus Christus, ons God en Verlosser. Hý het julle regverdig verklaar.

2 Mag die genade en vrede van God steeds meer en meer julle deel wees deurdat julle God en Jesus Christus ons Here regtig ken.

God het julle nuut gemaak;

maak dit sigbaar in julle leefstyl

3 Deurdat ons Hom regtig ken, het sy Goddelike krag ons alles laat kry wat ons nodig het om naby aan Hom te lewe. Hy het ons geroep om sy heerlikheid en goedheid te ontvang!

4 Deur hierdie selfde krag het Hy sy kosbaarste en allergrootste beloftes vir ons laat waar word. Die gevolg hiervan is dat julle deel gekry het aan sy Goddelike natuur. Só het julle vrygekom van die proses van agteruitgang wat, as gevolg van die neigings van ons menslike natuur, oral alles en almal laat sleg word.

5 Juis om hierdie rede moet julle alles in julle vermoë doen om te wys dat hierdie beloftes vir julle waar geword het. Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is. ’n Goeie leefstyl bring weer mee dat jy God beter leer ken.

6 As ’n mens God ken, kan jy jouself dissiplineer. Selfdissipline bring weer mee dat ’n mens kan uithou en aanhou, en hierdie volharding loop uit op ’n lewe naby aan God.

7 ’n Lewe naby aan God skep liefde vir ander gelowiges, en uiteindelik is dit hierdie positiewe houding teenoor medegelowiges wat meebring dat jy almal liefhet.

8 Hoe meer julle op hierdie wyse groei, hoe meer sal die feit dat julle ons Here Jesus Christus ken, veroorsaak dat julle nie nutteloos en geestelik onproduktief is nie.

9 Mense wie se lewe nie wys dat God se beloftes in hulle waar geword het nie, is blind, of – ten minste – kortsigtig. Hulle het klaar vergeet dat God hulle gereinig het van hulle vorige sondige leefstyl.

10 Daarom, broers en susters, werk nog harder daaraan om met julle leefstyl te bewys dat God julle regtig geroep en gekies het. As julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.

11 En dan sal julle sonder ophou en sonder dat iets julle hinder, kan deelneem aan die ewige koningsheerskappy van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

12 Dis waarom ek julle altyd aan hierdie dinge sal herinner, al weet julle dit en al leef julle reeds noukeurig volgens die waarheid wat by julle is.

13 Ek beskou dit inderdaad as my plig om julle hieraan te herinner so lank as wat ek nog lewe.

14 Ons Here Jesus het dit egter aan my bekendgemaak dat ek binnekort gaan sterf.

15 Daarom sal ek moeite doen om hierdie dinge aan julle te verduidelik. Ek wil hê julle moet dit onthou lank ná ek nie meer hier is nie.

Ons Christusboodskap en die

boodskap van die profete staan

16 Ons het ons verseker nie op mites verlaat toe ons vir julle vertel het van die krag van ons Here Jesus Christus en sy terugkeer nie. Met ons eie oë het ons Hom in al sy koninklike prag gesien.

17 Dis mos Hý wat eer en heerlikheid van God die Vader ontvang het toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Hý is my Seun wat Ek van harte liefhet; Hy is ’n kind so na my hart!”

18 Ons het self hierdie stem uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was.

19 Dit laat die boodskap van die profete vir ons nog vaster staan. Luister baie mooi na hulle woorde, want dis soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn – totdat Christus verskyn en sy helder lig julle harte verlig.

20 Julle moet veral weet dat geen profesie van die Skrif ontstaan het deur die profeet se eie insig nie.

21 Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Inteendeel, dit was die Heilige Gees wat die profete God se woorde laat verkondig het.

2 PETRUS 2

Wees gereed vir die vals leraars

met hulle eie agendas

1 Maar daar was ook vals profete onder die volk Israel, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal dwaalleer oor God insmokkel, en selfs draai teen hulle Eienaar wat hulle gekoop het. Hulle hoop om met hulle dwaalleer alles te vernietig, maar só bring hulle ’n skielike vernietiging oor hulleself.

2 Baie mense sal agter hulle aanloop op hulle wilde paaie, en hulle sal veroorsaak dat mense sleg praat van die enigste ware Pad.

3 In hulle gejaag na rykdom sal hulle julle uitbuit met stories wat hulle uit die duim suig. Maar hulle vonnis, waarop God lankal besluit het, wag om uitgevoer te word. Ja, hulle vernietiging wag.

4 Julle weet mos: God het selfs die engele nie gespaar toe hulle gesondig het nie. Hy het hulle na die onderwêreld toe gestuur en hulle in donker tronkselle laat hou vir die oordeel.

5 Hy het ook die wêreld van lank gelede nie gespaar nie, maar slegs vir Noag en sy gesin van sewe bewaar. Noag het gepreek oor hoe mense reg voor God moet lewe en oor hoe Hy regverdig straf. Toe het God die hele wêreld vol goddelose mense met ’n vloed vernietig.

6 Later het Hy die stede Sodom en Gomorra tot as verbrand en hulle totaal vernietig. Hy het hulle ’n voorbeeld gemaak van wat met goddelose mense gaan gebeur.

7 En tog het God vir Lot gered, ’n man wat reg voor God gelewe het. Lot was siek en sat van die wilde leefstyl van mense wat hulle aan geen wette steur nie.

8 ’n Mens kan jou dit indink: Vir iemand wat reg voor God gelewe het, moes dit ’n marteling wees om tussen hulle te bly en dag vir dag soveel van hulle gruweldade te aanskou en aan te hoor.

9 Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red, maar om dié wat ’n verkeerde lewe lei, te straf en vir die oordeelsdag te bêre.

10 Hy gaan veral húlle straf wat toegee aan die vuil begeertes van hulle natuurlike drange en wat geen respek vir gesag het nie.

Hierdie leraars is uitdagend en vermetel. Hulle huiwer selfs nie om glansryke wesens te beledig nie.

11 Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger as die vals leraars is, maak nie in die Here se Naam lasterlike uitsprake teen hierdie wesens nie.

12 Hierdie mense is soos wilde diere sonder verstand, gebore om net gevang en geslag te word. Hulle spot met dinge waarvan hulle niks verstaan nie, en soos wilde diere sal hulle ook uitgeroei word.

13 Omdat hulle lewe voor God nie reg is nie, kry hulle presies dít wat hulle verdien. Vir hulle is die toppunt van plesier om helder oordag wilde partytjies te hou. As hulle by julle eet, is dit baie sleg vir julle naam, want terwyl hulle saam met julle feesvier, is dit vir hulle lekker om julle saam te vat op die paaie waarop hulle self verdwaal het.

14 Hulle pleeg egbreuk met hulle oë, en van sonde kry hulle net nie genoeg nie. Hulle verlei onstandvastige mense, en is goed afgerigte geldwolwe – sulke vervloektes!

15 Hulle het weggedraai van die reguit pad en verdwaal geraak. Hulle het die pad geloop van Bileam, seun van Beor, wat daarvan gehou het om vir geld verkeerde dinge te doen.

16 Bileam is egter op die dwase koers wat hy ingeslaan het, voorgekeer toe ’n stom donkie in menstaal met hom geraas het.

17 Hierdie mense is so min werd soos opgedroogte fonteine, of soos miswolke wat deur die wind weggewaai word: vol belofte, maar daar kom niks van nie. Vir hulle wag die donkerste donkerte alreeds.

18 Hulle is bombasties en praat onsin. Hulle gebruik die losbandige luste van die mens se natuurlike drange as lokaas om die mense wat pas ontsnap het van dié wat op die verkeerde pad is, te verlei.

19 Hulle belowe vryheid, maar is self slawe in diens van korrupsie. As iets jou in sy mag het, is jy mos sy slaaf.

20 En as mense ontsnap het van die besmettings van die wêreld deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en hulle weer daarin vasgevang en daaraan verslaaf word, dan is hulle aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin.

21 Dit sou definitief vir hulle beter gewees het as hulle die pad van geregtigheid nie leer ken het nie, as dat hulle dit wel leer ken het en toe afgewyk het van die heilige voorskrif wat aan hulle oorgelewer is.

22 Van hulle is dié spreekwoorde waar:

“’n Hond gaan terug

na sy braaksel toe.”

en:

“’n Vark word gewas,

net om weer

in die modder te rol.”

2 PETRUS 3

Tot met Jesus se terugkeer is dit

genade- en gereedmaaktyd

1 Geliefdes, dit is al die tweede brief wat ek aan julle skryf. In albei het ek probeer om julle weer helder te laat dink deur julle geheue te verfris.

2 Ek wil hê julle moet die woorde onthou van die profete wat aan God toegewy was. Onthou ook wat ons Here en Verlosser julle deur julle apostels beveel het.

3 Heel eerste wil ek julle herinner dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die waarheid bespotlik maak en doen net waarvoor hulle lus is.

4 Hulle sal soos volg redeneer: “Jesus het belowe Hy sal terugkeer, nie waar nie? Nou maar wat het van daardie belofte geword? Julle weet self: So ver terug as wat mense kan onthou, van die skepping af, bly alles nog net soos dit was.”

5 Hulle vergeet opsetlik dat God lank gelede met sy woord die hemele geskep het, en dat Hy die aarde uit water laat opkom het en met water omring het.

6 En dit is ook met water dat Hy die destydse wêreld oorstroom en laat vergaan het.

7 God het presies só – deur sy woord – beskik dat die hemele en die aarde deur vuur verteer sal word op die dag waarop goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.

8 Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.

9 Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom.

10 Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ’n dief. Dan sal die hemele met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame in vuur opgaan en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.

11 Aangesien alles om ons só gaan wegbrand, moet julle leefstyl soveel meer aan God toegewy wees en moet julle naby aan Hom lewe!

12 Sien uit na die Dag van God en maak dat dit nog gouer kom, die dag waarop die Here die hemele aan die brand sal steek en die hemelliggame in vlamme sal wegsmelt.

13 Maar ons sien uit na die nuwe hemele en ’n nuwe aarde, soos God belowe het. Dáár sal almal voor God reg lewe.

14 Daarom, geliefdes, terwyl julle wag dat hierdie dinge gebeur, moet julle hard werk om vlekkeloos en sonder fout deur God bevind te word. Lewe in vrede met God.

15 En onthou: Die Here se geduld is ’n geleentheid om verlos te word. Dis presies soos Paulus, ons geliefde broer, aan julle geskryf het met die wysheid wat God hom gegee het.

16 Hy praat hieroor in al sy briewe. Sommige van die opmerkings in sy briewe is moeilik om te verstaan. Oningeligtes en mense sonder beginsels verdraai sy briewe, soos hulle dit trouens ook met ander dele van die Skrif doen. Só bewerk hulle hulle eie ondergang.

Petrus se slotwoorde

17 Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie saamgesleep word deur die dwaling van hierdie slegte mense nie.

Ek wil nie hê dat julle julle eie standvastigheid verloor nie.

18 Sorg liewer dat julle steeds groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.

1 JOHANNES 1

1 Die betroubare Woord wat lewe gee

Die Een wat van die heel begin af bestaan het, is die Een wat ons gehoor en met ons eie oë gesien het. Ons het Hom aandagtig waargeneem, en Hom met ons hande aangeraak. Dit gaan oor die Woord wat lewe gee.

2 Dié lewe het sigbaar verskyn en ons het dit gesien en getuig daarvan en deel dit aan julle mee – dit is die ewige lewe wat by die Vader was, maar nou aan ons bekendgemaak is.

3 Ons deel julle mee wat ons gesien en gehoor het sodat julle ook saam met ons daarin kan deel. Ons het saam deel aan die Vader en die Seun, Jesus Christus.

4 Ons skryf hierdie dinge sodat ons blydskap tot sy volle verwesenliking kan kom.

Maak dit die moeite werd: leef in

die lig

5 Dit is dan die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle meedeel: God is lig en daar is hoegenaamd geen duisternis in Hom nie.

6 As ons dan sê dat ons deel het aan Hom, maar in geestelike duisternis leef, lieg ons. Ons optrede weerspieël nie die waarheid nie.

7 As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van elke sonde.

8 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.

9 As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.

10 As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot ’n leuenaar. Dit beteken ook dat sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie.

1 JOHANNES 2

1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie moet sonde doen nie. As iemand egter sonde doen, ons het ’n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.

2 Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes. Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom.

3 En hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken: as ons sy opdragte gehoorsaam.

4 As iemand sê: “Ek leef in ’n persoonlike verhouding met God,” maar nie sy opdragte gehoorsaam nie, voer só ’n persoon ’n leuenlewe en het die waarheid nie plek in sy lewe nie.

5 Wie egter sy woord gehoorsaam, in só ’n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan Hom verbind is.

6 Dié wat beweer dat hulle in ’n noue verbintenis met Hom leef, moet self ook leef soos Hy geleef het.

Die liefdesopdrag is al oud,

maar tog ook nuut

7 Geliefdes, ek stuur nie aan julle ’n nuwe opdrag nie, maar ’n ou een wat julle nog altyd gehad het. Dié ou opdrag is die boodskap wat julle reeds lankal gehoor het.

8 Tog is dit ook ’n nuwe opdrag wat ek aan julle gee. Hierdie opdrag is betroubaar en van toepassing op julle verhouding tot Christus en tot mekaar. Die duisternis is immers aan die verbygaan en die lig wat die waarheid bring, skyn alreeds.

9 As iemand sê: “Ek leef in ’n hegte verhouding met die lig,” maar ’n medegelowige haat, verkeer so ’n mens nog steeds in die duisternis.

10 Enigeen wat sy medegelowiges liefhet, leef in ’n verbintenis met die lig en is nie ’n bron van struikeling vir ander nie.

11 Wie egter ’n medegelowige haat, is nog in die duisternis en leef in ’n noue verbintenis met die duisternis. Sulke persone besef nie waarheen hulle op pad is nie omdat die duisternis hulle oë verblind het.

Leef volgens julle identiteit as

Christene!

12 Ek skryf aan julle, kinders:

Julle sondes is vergewe

op grond van wat Jesus

vir ons gedoen het.

13 Ek skryf aan julle, pa’s:

Julle leef van die heel begin af

in ’n persoonlike verhouding

met Hom.

Ek skryf aan julle, jonges:

Julle het as oorwinnaars

oor die bose

uit die stryd getree.

14 Ek skryf aan julle, kinders:

Julle leef in ’n persoonlike

verhouding met die Vader.

Ek skryf aan julle, pa’s:

Julle leef van die heel begin af

in ’n persoonlike verhouding

met Hom.

Ek skryf aan julle, jonges:

Julle is kragtig

en die woord van God is deel

van julle bestaan

en julle het as oorwinnaars

oor die bose

uit die stryd getree.

15 Hou op om die wêreld en die dinge van die wêreld lief te hê. As iemand die wêreld liefhet, is hy beslis nie ook lief vir die Vader nie.

16 Wat ook al in die wêreld bestaan, alles wat tipies is van die menslike begeerte, die begeerte vir alles wat die oog sien, en die vals roem op besittings, kom nie van die Vader nie, maar het sy oorsprong in die wêreld.

17 Dié wêreld én sy begeerlikhede is aan die verbygaan. Wie die wil van God uitvoer, leef egter vir altyd.

Die finale toets is hóé ons glo en

lewe

18 Kinders, dit is nou die laaste uur. Soos julle al gehoor het, is die antichris aan die kom. Ook nou het baie antichriste alreeds hulle opwagting gemaak. Daaruit lei ons af dat dit die laaste uur is.

19 Hulle het uit ons geledere gekom, maar was nooit regtig deel van ons nie. As hulle regtig deel van ons was, sou hulle nou nog by ons gebly het. Hulle het uit ons geledere weggegaan sodat dit aan die lig sou kom dat hulle nie regtig deel van ons was nie.

20 Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees.

21 Ek het aan julle geskryf, nie omdat julle nie kennis dra van die waarheid nie, maar juis omdat julle die waarheid ken en ook weet dat geen leuen uit die waarheid kan kom nie.

22 Wie is die groot leuenaar? Dit is die een wat aanhou ontken dat Jesus die Messias is. So ’n persoon is die antichris, wat nie die Vader en die Seun erken nie.

23 Elkeen wat nie die Seun erken nie, het ook nie deel aan die Vader nie. Elkeen wat die Seun egter erken, het ook deel aan die Vader.

24 Hou vol met dit wat julle van die heel begin af gehoor het. As julle leef volgens dit wat julle van die heel begin af gehoor het, sal julle ook verbonde bly aan die Seun en die Vader.

25 En dít is die belofte wat Hy self aan ons gemaak het: die ewige lewe.

26 Hierdie dinge het ek aan julle geskryf oor die mense wat julle probeer verlei.

27 Julle het immers die Heilige Gees ontvang van Hom wat in ’n hegte verhouding met julle leef; daarom het julle nie behoefte daaraan dat iemand julle onderrig nie. Sy Gees lig julle immers oor alles in, en wat Hý sê, is die waarheid en nie ’n leuen nie. En soos Hy julle geleer het, moet julle ook in ’n hegte verhouding met Hom leef.

28 En nou, kinders, leef in ’n hegte verhouding met Hom sodat, wanneer Hy ook al verskyn, ons die vrymoedigheid kan hê om nie beskaamd te staan by sy koms nie.

29 As julle dan met die wete leef dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat reg leef, deur Hom verwek is.

1 JOHANNES 3

Dis julle herkoms wat saak

maak, kinders van God!

1 Kyk net hoe ’n groot liefde die Vader aan ons betoon het. Dit is dat Hý ons sy kinders noem, en ons is dit beslis ook. Daarom ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.

2 Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God, maar dit is nog nie duidelik wat ons sal wees nie. Wat ons wel weet, is dat ons net soos Hy sal wees wanneer Hy verskyn. Ons sal Hom dan sien soos Hy regtig lyk.

3 Almal wat uit hierdie Christusverwagting leef, hou hulleself vlekkeloos soos Hy vlekkeloos is.

4 Elkeen wat aanhou sonde doen, doen ook wat teen die wet is, want sonde is wetteloosheid.

5 Julle weet tog dat Hy verskyn het om die sonde weg te neem en dat daar geen sonde in Hom is nie.

6 Elkeen wat in ’n hegte verhouding met Hom leef, hou nie aan sonde doen nie. Elkeen wat aanhou sonde doen, het Hom nie gesien nie en het ook nie ’n begrip van Hom nie.

7 Kinders, moenie dat iemand julle hieroor mislei nie: Elkeen wat reg leef, is regverdig, net soos Hy regverdig is.

8 Elkeen wat aanhou sonde doen, is familie van die duiwel omdat die duiwel van die heel begin af sonde gedoen het. Juis daarvoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die duiwel te vernietig.

9 Elkeen wat deur God verwek is, hou nie aan sonde doen nie omdat God se saad in hulle bly. Hulle kan ook nie aanhou sonde doen nie omdat hulle deur God verwek is.

10 Op hierdie manier is dit duidelik wie die kinders van God en wie die kinders van die duiwel is. Almal wat nie reg optree nie en ook nie hulle medegelowiges liefhet nie, is nie uit God nie.

Liefhê en haat loop nie saam nie

11 Dít is die boodskap wat ons van die heel begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê.

12 Ons moet nie soos Kain optree wat uit die bose was en sy broer doodgemaak het nie. Om watter rede het hy hom doodgemaak? Omdat sy eie optrede boos was en sy broer s’n reg.

13 Broers en susters, moet nie verbaas wees as die wêreld julle haat nie.

14 Ons leef in die wete dat ons reeds uit die dood oorgegaan het in die lewe omdat ons ons broers en susters liefhet. Wie nie liefhet nie, bly eenvoudig in die dood vasgevang.

15 Elkeen wat sy broer of suster haat, is ’n moordenaar, en julle weet dat geen moordenaar deel het aan die ewige lewe nie.

16 Ons het die volmaakte liefde leer ken: dit is dat Christus sy lewe ter wille van ons afgelê het. Só moet ons ook ons lewens prysgee ter wille van ons broers en susters.

17 Iemand wat ryk is aan aardse lewensmiddele en sy broer of suster sien gebrek ly, maar weier om ’n helpende hand uit te steek – hoe is dit moontlik dat die liefde van God in daardie persoon woon?

18 Kinders, laat ons nie liefhê met woorde of gepratery nie, maar eerder deur ons optrede, en met opregte bedoelings.

19 Deur ons optrede sal ons weet dat ons getrou aan die waarheid lewe en dat ons ons gewete voor Hom tot rus kan bring.

20 Maar selfs wanneer ons gewete ons sou aankla – God is groter as ons gewete en Hy weet alles.

21 Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan.

22 Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak.

23 En dit is sy opdrag: Ons moet glo in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, en ons moet mekaar liefhê, net soos Hy aan ons die opdrag gegee het.

24 Wie sy opdragte gehoorsaam, leef in ’n hegte verhouding met God en Hy op sy beurt met daardie persoon. Hieraan weet ons dat Hy in ’n hegte verhouding met ons leef: aan die Gees wat Hy aan ons gegee het.

1 JOHANNES 4

Die Gees van die waarheid

teenoor die gees van misleiding

1 Geliefdes, moenie sommer almal glo wat daarop aanspraak maak dat hulle deur die Gees optree nie. Toets hulle om te bepaal of dié bepaalde gees sy oorsprong by God het, want daar het reeds baie vals profete die wêreld ingekom.

2 Hieraan herken julle die Gees van God: Elkeen wat erken dat Jesus Christus werklik ten volle mens geword het, is van God afkomstig.

3 Elkeen wat Jesus nie erken nie, is nie van God afkomstig nie. Dit is tipies van die antichris. Julle het mos gehoor dat hy aan die kom is, en hy is nou reeds in die wêreld aanwesig.

4 Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon.

5 Hierdie mense het die wêreld as oorsprong; daarom praat hulle uit ’n wêreldse oogpunt en luister die wêreld na hulle.

6 Ons is egter van God afkomstig; daarom luister dié wat God persoonlik ken, na ons. Elkeen wat nie van God afkomstig is nie, luister nie na ons nie. Dít is hoe ons weet wie die Gees van die waarheid het, en wie die gees van misleiding het.

Omdat God ons só liefgehad het,

moet ons ook mekaar liefhê

7 Geliefdes, laat ons mekaar

aanhou liefhê,

want volmaakte liefde

is van God afkomstig.

Elkeen wat só liefhet,

is uit God gebore

en ken God persoonlik.

8 Elkeen wat nie só liefhet nie,

ken God nie persoonlik nie

omdat God liefde self is.

9 Op hierdie manier het God

sy volmaakte liefde

aan ons bekendgemaak

toe Hy sy enigste Seun

na die wêreld toe gestuur het

sodat ons deur Hom

die lewe kan ontvang.

10 Dít is volmaakte liefde:

nie dat ons vir God

liefgehad het nie,

maar dat Hy ons liefgehad het

en sy Seun as versoeningsoffer

gestuur het

om ons sondes weg te neem.

11 Geliefdes, as God ons dan só tot die uiterste toe liefgehad het, moet ons ook mekaar tot die uiterste toe liefhê.

Wanneer God se liefde ten volle

verwesenlik word

12 Niemand het God nog ooit gesien nie; as ons egter mekaar werklik aanhou liefhê, leef God in ons optrede en het sy liefde in ons optrede ten volle tot verwesenliking gekom.

13 Hieraan weet ons dat ons in ’n hegte verhouding met Hom leef en dat Hy ook in ’n hegte verhouding met ons leef: aan sy Gees wat Hy aan ons gegee het.

14 Verder, ons het dit fyn raakgesien en ons hou aan daarvan getuig dat die Vader die Seun gestuur het as Verlosser van die mensdom.

15 Almal wat openlik erken dat Jesus die Seun van God is – God handhaaf ’n hegte verhouding met hulle en hulle met God.

16 Ons leef uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet. God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ’n hegte verhouding met God en God met hulle.

17 Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik, dat ons vrymoedigheid kan hê op die oordeelsdag. Ons leef immers op dieselfde wyse as Christus in hierdie wêreld – sonder vrees.

18 Volmaakte liefde het nie plek vir vrees nie; volmaakte liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volmaakte liefde bemeester nie.

Ons liefde vir God word sigbaar

in ons liefde vir ons naaste

19 Laat ons mekaar liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het.

20 As enigeen beweer: “Ek het God lief,” maar ’n broer of suster haat, is só ’n persoon ’n leuenaar, want as ons ’n broer of suster wat ons elke dag sien, nie liefhet nie, kan ons mos nie vir God liefhê wat ons nie kan sien nie.

21 Hierdie opdrag het ons van Hom ontvang: As ons God liefhet, moet ons ook ons broer en suster liefhê.