’n Boodskap oor Egipte
1 Hierdie boodskap
het na my gekom oor Egipte:
Kyk! Die Here is op pad
na Egipte toe.
Hy ry op ’n vinnige wolk.
Egipte se afgode bewe voor Hom.
Die Egiptenaars smelt weg
van vrees.
2 “Ek laat die Egiptenaars
teen mekaar baklei,
broer teen broer,
buurman teen buurman,
stad teen stad,
provinsie teen provinsie.
3 Die Egiptenaars
sal moed verloor.
Ek sal hulle planne verydel.
Hulle sal by hulle afgode
pleit vir wysheid.
Hulle sal geeste oproep,
en mediums en besweerders
om raad gaan vra.
4 Ek gee Egipte oor
aan ’n wrede meester,
’n harde koning,”
sê die Here, die Here, die Almagtige.
5 Die see sal opdroog,
die rivier sal leeg word.
6 Die Nyl se kanale sal sleg ruik.
Egipte se waterstrome
sal opdroog.
Die riete en biesies sal verlep.
7 Die papirusplante langs die Nyl
sal opdroog en wegwaai.
Die oeste sal wegdroog.
Alles sal verdwyn.
8 Die vissermanne
sal van hartseer huil.
Dié wat met ’n hoek visvang
en dié wat nette
in die rivier oopgooi,
sal wegkwyn.
9 Die wewers wat vlas
en katoen gebruik
om te weef,
sal geen hoop oorhê nie.
10 Hulle sal afgehaal wees.
Die loonarbeiders sal siek wees
van bekommernis.
11 Watter dwase
is die adviseurs van Soan nie!
Hulle beste raad
vir die koning van Egipte
is dom en verkeerd.
Sal hulle voor die farao spog
omdat hulle so slim is,
dat hulle van konings afstam?
12 Wat het gebeur
met jou slim adviseurs, Farao?
As hulle so slim is,
laat hulle jou vertel
wat die Here, die Almagtige,
aan Egipte gaan doen!
13 Die wyse manne van Soan
is dwaas,
en dié van Memfis is verward.
Die leiers van Egipte
het die land geruïneer
met hulle dom raad.
14 Die Here
het hulle dwaas gemaak
sodat al hulle voorstelle
verkeerd is.
Hulle het die land van Egipte
soos ’n siek dronklap laat steier.
15 Niemand in Egipte,
of hy ryk of arm,
belangrik of onbelangrik is,
kan hom help nie.
16 Daardie dag sal die Egiptenaars so swak soos vroue wees. Hulle sal wegkruip van vrees wanneer die Here, die Almagtige, sy vuis teen hulle optel.
17 Net om Israel se naam te noem, sal angs vir die Egiptenaars bring. Want die Here, die Almagtige, het sy planne klaar teen Egipte opgestel.
18 Daardie dag sal vyf Egiptiese stede die Here, die Almagtige, volg. Hulle sal selfs Hebreeus praat. Een van hulle sal die Stad van Verwoesting genoem word.
19 Daardie dag sal daar ’n altaar vir die Here in die hart van Egipte wees, en ’n monument vir die Here by sy grens.
20 Dit sal ’n teken en getuienis wees van die Here, die Almagtige, se teenwoordigheid in Egipte. Wanneer die mense na die Here om hulp roep wanneer hulle verdruk word, sal Hy iemand stuur wat hulle sal beskerm en red.
21 Daardie dag sal die Here Homself aan die mense van Egipte openbaar. Ja, hulle sal die Here ken en diere-offers en graanoffers vir Hom bring. Hulle sal beloftes aan die Here maak, en dit nakom.
22 Die Here sal die Egiptenaars slaan sodat Hy hulle kan genees, en hulle sal terugkom na die Here. Hy sal luister as hulle om hulp roep en hulle gesond maak.
23 Daardie dag sal Egipte en Assirië met ’n hoofpad verbind wees. Die Egiptenaars en Assiriërs sal vrylik tussen hulle lande beweeg, en hulle sal dieselfde God dien.
24 Israel sal hulle bondgenoot wees. Die drie sal saamwerk, en Israel sal vir hulle tot ’n seën wees.
25 Die Here, die Almagtige, sal sê:
“Geseënd is my volk Egipte,
geseënd is Assirië
wat deur My geskep is,
en geseënd is Israel,
my eiendom.”