JESAJA 51

Vertrou op die Here

1 “Luister baie mooi na My,

almal wat die reg nastreef

en na die wil van die Here vra!

Dink aan die rots

waaruit julle gekap is,

die klipgroef

waaruit julle gesny is.

2 Dink terug aan

Abraham en Sara,

van wie julle afstam.

Abraham was alleen

toe Ek hom geroep het.

Maar Ek het hom geseën,

en hy het ’n groot nasie geword.”

3 Die Here gaan Sion vertroos

en Hom ontferm

oor die verwoeste stad.

Hy gaan haar woestyngebied

maak soos Eden,

haar woesteny

soos die tuin van die Here.

Vreugde en blydskap sal volop

in die stad wees.

Liedere van dankbaarheid

sal weerklink.

4 “Luister na My, my volk.

Hoor mooi, Israel,

want my onderrig

sal van My af uitgaan,

my reg

sal ’n lig wees vir die volke.

5 My redding kom gou,

my verlossing is op pad.

Die eilande wag op My.

Hulle hoop op my redding.

6 Kyk op in die lug bokant julle,

kyk af na die aarde hieronder.

Die lug sal verdwyn soos rook

en die aarde sal vergaan

soos klere.

Die mense op die aarde

sal doodgaan soos vlieë,

maar die redding wat Ek bring,

sal wees vir altyd.

My regspraak

sal vir altyd duur.

7 “Luister na My,

julle wat weet wat reg is,

julle wat my wette

in julle harte het.

Moenie bang wees vir mense

wat met julle spot nie.

Moenie skrik

as hulle julle beledig nie.

8 Want vismotte sal hulle opvreet

soos klere.

Wurms sal hulle opvreet

soos wol.

Maar my regspraak

sal wees vir altyd,

my redding vir alle geslagte.”

9 Word wakker! Word wakker,

Here!

Beklee Uself met mag,

sterk arm van die Here!

Word wakker soos vroeër

soos in tye lank gelede.

Is dit dan nie U wat Rahab

aan stukke gekap het,

die seemonster

deurboor het nie?

10 Is U nie die Een

wat die see, die diepwaters,

laat opdroog het,

wat ’n pad gemaak het

op die bodem van die see

sodat dié wat verlos is,

kon deurtrek nie?

11 Almal vir wie die Here

losgekoop het,

sal met vreugde

terugkeer na Sion.

Blydskap sal die kroon

op hulle koppe wees.

Hulle sal vol vreugde

en blydskap wees.

Hartseer en smart sal verdwyn.

12 “Ek, ja, Ek is die Een

wat julle troos.

Hoekom is julle dan bang

vir gewone mense,

vir mense wat soos gras vergaan

en verdwyn?

13 Julle het vergeet van die Here,

julle Skepper

wat die hemel oopgespan het,

wat die fondamente

van die aarde gelê het.

Jy was altyd vol vrees

vir die woede

van jou verdrukkers

wat uit is daarop om jou te vernietig.

Maar waar is die toorn

van jou verdrukker nou?

14 Een van die dae

word al jou gevangenes

vrygelaat!

Hulle sal nie doodgaan

in die tronk nie

en hulle sal ook nie honger ly nie.

15 Want Ek is die Here jou God

wat die see onstuimig maak

sodat sy golwe dreun.

Die Here, die Almagtige,

is my Naam!

16 Ek het my woorde

in jou mond gesit.

Ek het jou beskerm

met die skadu van my hand.

Dis Ek wat die sterre

op hulle plek sit,

en die aarde

gevestig het.

Dis Ek wat vir Sion sê:

‘Jy is Myne!’”

Die Here se wraak

17 Word wakker, word wakker!

Staan op, Jerusalem!

Jy wat die beker van toorn

uit die hand van die Here

gedrink het.

Jy wat dit leeggedrink het

sodat dit jou laat steier het.

18 Nie een van jou kinders

was daar om jou te lei nie.

Daar was nie een van jou kinders

wat jou hand gevat het

om te sê wat jy moet doen nie.

19 ’n Dubbele ramp het jou getref.

Wie is daar om jou te troos?

Daar is net verwoesting

en vernietiging,

hongersnood en oorlog.

Wie is daar om jou te bemoedig?

20 Jou kinders het flou geword.

Hulle lê in die strate,

hulpeloos soos wild

wat in ’n vangnet gevang is.

Die Here het sy wraak

oor hulle uitgestort.

God het hulle gestraf.

21 Daarom, luister nou hierna,

jy met soveel ellende,

jy wat dronk is,

maar nie van wyn nie.

22 So sê jou oppermagtige Here,

jou God en jou Beskermer:

“Kyk, Ek vat uit jou hand

die beker wat jou laat steier.

Uit die beker

van my woede

hoef jy nooit weer

te drink nie.

23 Ek sit daardie beker

in jou verdrukkers se hand,

hulle wat vir jou gesê het:

‘Gaan lê op die grond

sodat ons oor jou kan loop!’

En jy het jou rug gemaak

soos die grond,

soos ’n straat vir hulle

wat oor jou geloop het.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

seventeen − seven =