JESAJA 65

Oordeel en redding

1 “Ek openbaar My

aan hulle

wat nie my raad gevra het nie.

Ek laat My vind deur mense

wat My nie gesoek het nie.

Vir ’n nasie wat nie na My

geroep het nie,

het Ek gesê: ‘Hier is Ek!’

2 Want Ek het heeldag lank

my hande uitgesteek

na my eie, opstandige volk.

Maar hulle het aangehou loop

op hulle eie sondige paaie.

Hulle het hulle eie koppe gevolg.

3 Hulle is ’n volk wat My in my gesig

beledig.

Hulle bring offers vir afgode

in tuine

en brand wierook

op hulle steenaltare.

4 In die nag gaan hulle

na die grafte

en geheime plekke

om bose geeste te aanbid.

Hulle eet varkvleis

en onrein kos wat verbode is.

5 En dan sê hulle: ‘Bly waar jy is!

Moenie naby my kom nie!

Ek is heiliger as jy!’

Sulke mense

is soos rook in my neus,

soos ’n vuur wat heeldag brand.

6 “Dit staan voor My geskryf:

Ek sal nie langer stilbly nie.

Nee, Ek sal hulle straf.

Ek gaan hulle terugbetaal

volgens hulle verdienste.

7 Ek gaan hulle straf

vir hulle eie sondes

en vir die sondes van hulle

voorouers,” sê die Here.

“Want hulle het wierook gebrand

op die berge,

en My beledig op die hoogtes.

Ek gaan hulle straf,

volgens wat hulle verdien.”

8 So sê die Here:

“As daar nog sap

in ’n druiwetros is,

sê die mense:

‘Moenie dit weggooi nie,

want dit kan nog

gebruik word.’

So sal Ek doen

ter wille van my dienaars:

Ek sal hulle nie almal

vernietig nie.

9 Ek sal vir Jakob

weer ’n nageslag gee,

aan Juda kinders

wat my bergland sal besit.

Die mense wat Ek uitverkies,

sal dit in besit neem,

en daar

sal my dienaars woon.

10 “Die Saronvlakte

sal ’n weiveld wees

vir mense met kleinvee,

en die Akorlaagte

’n rusplek vir die beeste.

Dit is vir hulle uit die volk

wat na my wil vra.

11 “Maar die res van julle

het die Here

versaak

en my heilige berg vergeet.

Julle het die geluksgod

en die god van die noodlot aanbid.

12 Daarom het Ek julle bestem

om doodgemaak te word.

Julle sal moet neerkniel

om geslag te word.

Want toe Ek julle geroep het,

het julle nie geantwoord nie.

Toe Ek gepraat het,

het julle nie geluister nie.

Julle het gedoen

wat verkeerd is

reg voor my oë.

Julle het gekies om te doen

wat Ek haat.”

13 Daarom sê die oppermagtige

Here:

“My dienaars sal eet,

maar julle sal honger ly.

My dienaars sal drink,

maar julle sal dors ly.

My dienaars sal bly wees,

maar julle sal in die skande kom.

14 My dienaars sal sing

met vreugde in die hart.

Maar julle sal uitroep

van droefheid,

julle sal ween oor julle leed.

15 “Dié wat Ek uitverkies het,

sal julle naam gebruik

om mense mee te vervloek.

Die oppermagtige Here

sal julle vernietig,

maar aan sy dienaars

gee Hy ’n nuwe naam.

16 Almal wat iemand wil seën

of wil sweer,

sal dit doen in die Naam

van die God van waarheid.

Die probleme van voorheen

sal vergete wees.

Ek laat dit verdwyn.”

Nuwe hemel en aarde

17 “Kyk, Ek skep ’n nuwe hemel

en ’n nuwe aarde.

Die vorige dinge

sal nie meer onthou word nie

en nie in die gedagte opkom nie.

18 Wees bly en jubel

oor wat Ek gaan skep.

Ek skep ’n Jerusalem

waaroor mense bly sal wees,

en sy inwoners sal

’n bron van vreugde wees.

19 Ek sal bly wees oor Jerusalem,

My verheug oor my volk.

In die stad sal jy nooit weer hoor

hoe mense huil

of om hulp roep nie.

20 “Nooit weer sal ’n suigeling

net maar ’n paar dae leef nie.

Daar sal nie grysaards wees

wat nie hulle jare uitleef nie.

Iemand wat op 100 jaar sterf,

sal as ’n jong man geag word.

Iemand wat vroeër as 100 jaar sterf,

sal beskou word

as ’n vervloekte.

21 Dan sal mense weer huise bou

en daarin woon.

Hulle sal wingerde plant

en self die druiwe eet.

22 Hulle sal nie huise bou

waarin ander mense woon nie.

Hulle sal nie meer plant,

maar ander eet die vrugte nie.

My volk sal oud word

soos ’n boom.

Hulle wat Ek uitverkies het,

sal die vrug geniet

van hulle eie handewerk.

23 “Hulle sal nie tevergeefs swoeg,

en kinders grootmaak

vir rampe nie.

Want hulle sal ’n volk wees

wat deur die Here geseën is,

hulle en hulle afstammelinge.

24 Ek sal hulle antwoord

nog voor hulle na My roep.

Terwyl hulle vra,

sal Ek hulle gebede verhoor.

25 Die wolf en die lam

sal saam wei.

Die leeu sal strooi vreet

soos ’n bees,

en giftige slange sal stof vreet.

Op my heilige berg

sal hulle geen skade aanrig,

en niks vernietig nie.

Ek, die Here, sê so!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

fifteen − 3 =