Die pottebakker en die klei
1 Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:
2 “Gaan na die werkplek van die pottebakker. Daar sal Ek met jou praat.”
3 Ek het toe na die werkplek van die pottebakker gegaan en hom gekry waar hy besig was om op die pottebakkerswiel te werk.
4 Maar die pot waarmee hy besig was, was nie ’n sukses nie. Hy het toe die klei inmekaargedruk en weer begin om ’n nuwe pot te vorm soos hy dit wou hê.
5 Die Here het toe vir my ’n boodskap gegee.
6 Hy het gevra: “O Israel, kan Ek nie met julle net so maak soos die pottebakker met die klei maak nie? Kyk, soos die klei in die hande van die pottebakker, so is julle in my hande.
7 Dit kan wees dat Ek in ’n stadium sê Ek sal ’n sekere nasie of ’n regering omverwerp, afbreek en vernietig.
8 Maar as hulle ophou om die verkeerde dinge te doen waarvan Ek gepraat het, sal Ek hulle nie verwoes soos Ek aanvanklik wou nie.
9 Aan die ander kant, as Ek sê dat Ek ’n sekere nasie of regering sal vestig, opbou, groot en sterk maak,
10 maar die nasie begin verkeerde dinge doen en My nie gehoorsaam nie, sal Ek nie dan sorg dat dit nie met hulle goed gaan soos Ek van voorneme was nie?
11 “Jeremia, gaan sê vir die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem dat die Here sê: ‘Ek is besig om planne te maak om julle te straf. Moenie langer aanhou op die verkeerde koers wat julle ingeslaan het nie. Julle almal moet ophou om verkeerd te doen en begin doen wat reg is.’
12 Maar die mense het geantwoord: ‘Moenie jou asem mors nie. Ons sal aanhou lewe soos ons wil en ons eie oordeel volg, al is dit verkeerd.’”
13 Daarom sê die Here:
“Doen navraag onder die nasies.
Het iemand al ooit gehoor
van die afstootlike ding
wat die jong vrou Israel
gedoen het?
14 Sal die sneeu ooit smelt
op die hoë dele
van die Libanon?
Sal die koue bergstrome
van die Hermonberg
ooit opdroog?
15 Tog het my volk My vergeet
en offers gebring
aan nikswerd afgode
wat hulle laat struikel
op die goeie weë.
Hulle het op afdraaipaadjies,
op sondige paaie beland.
16 As gevolg hiervan
sal hulle land
in ’n woesteny ontaard.
’n Mens kan maar net fluit
van verbasing.
Almal wat deurreis,
sal verstom staan
en hulle koppe skud.
17 Soos die oostewind stof opwaai,
so sal Ek my volk
in alle rigtings verstrooi
voor hulle vyande.
Al sou hulle
in groot moeilikheid beland,
sal Ek my rug op hulle draai,
en My nie aan hulle steur nie.”
’n Slinkse plan teen Jeremia
18 Toe het die mense gesê: “Kom ons beraam planne teen Jeremia. Ons het mos priesters wat vir ons die gebooie kan leer, wyse mense wat ons met raad kan bedien en profete wat vir ons boodskappe kan gee. Kom ons versprei slegte stories oor hom en steur ons nie aan wat hy sê nie.”
19 Here, help my!
Luister na wat die mense
teen my beplan!
20 Is dit regverdig
om goed met sleg te betaal?
Hulle het ’n gat vir my gegrawe
om in te val.
Onthou U hoe ek namens
hulle by U gesmeek het
om hulle nie in u woede
te straf nie?
21 Daarom,
laat hulle kinders
van honger doodgaan!
Laat hulle in oorloë sneuwel!
Laat hulle vroue
weduwees wees
sonder kinders!
Laat die mans
deur ’n epidemie omkom!
Laat die jong manne sterf
in gevegte op die slagveld!
22 Laat hulle angskrete weergalm
as aanvallers
skielik op hulle toesak
terwyl hulle in hulle huise is!
Hulle het vir my ’n gat gegrawe
om in te val,
hulle het vangstrikke
vir my gestel om in te trap.
23 Here,
U weet van al hulle planne
om my dood te maak.
Moenie hulle
wat onregverdig optree, vergewe nie.
Moet ook nie hulle sondes uitvee
asof dit nooit bestaan het nie.
Laat hulle voor u oë ondergaan.
Straf hulle
terwyl U nog kwaad is
vir hulle!