Job praat ’n sesde keer wanneer
hy Bildad antwoord
1 Job het weer gepraat:
2 “Hoe lank gaan julle
my nog martel?
Hoe lank gaan julle nog probeer
om my te verpletter
met julle woorde?
3 Tien keer het julle nou bedoel
om my te verneder.
Julle kan julle skaam
om so ongevoelig
teenoor my te wees.
4 Selfs al het ek gesondig,
is dit my saak,
nie julle s’n nie.
5 Julle probeer my oorweldig
deur my vernedering te gebruik
as bewys van my sonde.
6 Maar dit is God
wat kwaad aan my doen,
want ek is soos
’n beleërde stad.
7 “Ek roep hard om hulp,
maar niemand
hoor my nie.
Ek skreeu,
maar daar is geen
geregtigheid nie.
8 God het my pad versper,
ek kan nie beweeg nie.
Hy het dit donker
op my weë gemaak.
9 Hy het my gestroop
van my eer
en my kroon van my kop verwyder.
10 Hy breek my af van alle kante.
Dis klaar met my.
Hy vernietig my hoop
soos ’n ontwortelde boom.
11 Sy toorn brand teen my.
Hy beskou my as sy vyand.
12 Sy soldate kom op my af
en bou paaie
om my aan te val.
Hulle slaan kamp op
rondom my tent.
13 “My broers bly ver weg,
my vriende
het teen my gedraai.
14 My familie is ver weg,
my bure het my vergeet.
15 My gaste en diensmeisies
beskou my as ’n vreemdeling.
Ek is soos ’n uitlander vir hulle.
16 Ek roep my bediende,
maar hy kom nie,
selfs al smeek ek hom hardop!
17 My asem is aanstootlik
vir my vrou.
Ek is walglik
vir my eie familie.
18 Selfs jong kinders
verag my.
As ek opstaan om iets te sê,
draai hulle die rug op my.
19 My naaste vriende
het ’n afsku aan my.
Dié wat ek liefhet,
het teen my gedraai.
20 Ek is nog net vel en been.
Ek het die dood net-net
vrygespring.
21 “Bejammer my tog, my vriende,
wees tog jammer vir my!
Want die hand van God
het my getref.
22 Waarom vervolg julle my ook
soos wat God doen?
Is dit nie genoeg vir julle
dat ek so ly nie?
23 “Ag, dat al my woorde
neergeskryf sou word;
dat dit gegraveer sal word
op ’n monument,
24 uitgekap met ’n ysterbeitel,
en gevul met lood,
vir altyd gegraveer in ’n rots.
25 Maar ek, ek weet
dat my Verlosser leef,
en dat Hy aan die einde
op die aarde sal staan.
26 Nadat my liggaam vergaan het,
sal ek persoonlik God sien!
27 Ek sal Hom self sien.
Ja, ek sal Hom sien
met my eie oë.
Dié gedagte oorweldig my!
28 “Hoe durf julle dan aanhou
om my te vervolg
deur te sê:
‘Dis sy eie skuld
dat hy so swaarkry.’
29 Ek waarsku julle:
Julle is self in gevaar
om gestraf te word
vir julle gesindheid.
Daardie dag sal julle weet
dat reg gaan geskied!”