Elifas reageer ’n derde keer
op Job
1 Elifas die Temaniet
het geantwoord:
2 “Kan ’n mens se dade
enige voordeel inhou
vir God?
Kan selfs ’n baie wyse mens
Hom help?
3 Watter plesier
het die Almagtige daarin
dat jy regverdig is?
Baat Hy daarby as jy volmaak is?
4 “Is dit oor jou eerbied vir Hom
dat Hy jou aankla
en veroordeel?
5 Hoegenaamd nie!
Dis oor jou boosheid!
Jou skuld ken geen perke nie!
6 Dalk het jy
geld aan jou vriend geleen,
en sy klere gehou as borg.
Hy moes rondloop sonder klere.
7 Miskien wou jy nie water gee
vir die dorstige,
en kos vir die hongerige nie.
8 Jy, ’n ryk man,
het grond besit.
Mense het jou geëer.
9 Tog het jy weduwees
sonder hulp weggestuur.
Of jy het weeskinders
dakloos gelaat.
10 Dit is waarom jy omring is
met strikke
en jy ’n skielike ramp vrees.
11 Daarom kan jy nie
in die donker sien nie
en vloedwaters stroom oor jou.
12 God is so groot,
hoër as die hoogste hemel,
verder as die verste ster.
13 Maar jy sê:
‘Dis hoekom God nie kan sien
wat ek doen nie!
Hoe kan Hy oordeel
deur so ’n diep duisternis?
14 Want dik wolke omhul Hom.
Hy kan ons nie sien nie.
Hy loop daar bo in die hemel rond.’
15 Wil jy aanhou loop
op die ou paaie
van goddelose mense?
16 Hulle is weggeruk
in die fleur van hulle lewe,
en die dinge
waarop hulle
hulle lewe gebou het,
het weggespoel.
17 Hulle het mos vir God gesê:
‘Los ons alleen!
Wat kan die Almagtige
aan ons doen?’
18 Want hulle het vergeet
dat Hy vir hulle
huise gegee het
vol goeie dinge.
Ek wil niks te doen hê
met hulle lewenswyse nie.
19 “Die regverdige sal bly wees
om te sien
hoe goddeloses ondergaan.
Die onskuldiges lag
en spot met hulle.
20 Hulle sê:
‘Ons vyande is vernietig!
Alles wat hulle gehad het,
het verbrand!’
21 “Onderwerp jou aan God,
dan sal jy vrede hê
en sal alles met jou
goed gaan.
22 Luister na sy voorskrifte
en bêre hulle in jou hart.
23 As jy terugkeer
na die Almagtige
en jou lewe skoonmaak,
sal jy herstel word.
24 Los jou sug na geld,
en gooi jou kosbare skatte
in die rivier.
25 Dan sal die Almagtige self
jou rykdom wees.
Hy sal vir jou wees
soos kosbare silwer.
26 Dan sal jy bly wees
oor die Almagtige
en sal jy opkyk na God.
27 Jy sal tot Hom bid,
en Hy sal jou hoor.
Jy sal doen
wat jy Hom belowe het.
28 Wat jy besluit om te doen,
sal gebeur.
Dit sal lig wees
op die pad voor jou.
29 As iemand val
en jy vra
dat God hulle optel,
sal Hy hulle red.
30 Hy sal selfs sondaars red,
hulle sal verlos word
omdat jy onskuldig is.”