Job: Ek ervaar net ellende
1 “Maar nou word ek bespot
deur jong manne
wie se pa’s te sleg was
om saam met honde
my skape op te pas.
2 Hulle was in elk geval
vir my niks werd nie –
’n klomp nuttelose skurke!
3 Uitgeteer van honger
dwaal hulle verlate
in die woestyn en die wildernis.
4 Hulle maak blare bymekaar
by die bosse
en eet die wortels van besembosse.
5 Hulle is weggejaag
uit die samelewing.
Mense skree op hulle
soos op diewe.
6 Daarom leef hulle nou
in skrikwekkende klowe,
in rotsskeure en grotte.
7 Hulle klink soos diere
waar hulle
tussen die wilde struike lewe
en saam skuiling soek
tussen die bossies.
8 Hulle is naamlose dwase,
uitgeworpenes van die samelewing.
9 “Dit is nou hulle
wat my spot
met hulle walglike liedjies!
Hulle tart my!
10 Hulle kyk op my neer.
Hulle kom nie naby my nie,
behalwe om in my gesig te spoeg.
11 God het my platgeslaan.
Hy het my verneder.
En nou doen mense dieselfde
met my.
12 Die spul val my aan.
Hulle loop my voete
onder my uit.
Hulle lê strikke in my pad.
13 Hulle versper my pad
en doen alles
om my ellende te vererger
terwyl hulle weet
dat ek niemand het
om my te help nie.
14 Hulle storm uit alle rigtings
op my af,
waar ek geval het, storm hulle oor my.
15 Ek lewe in angs
en het geen selfrespek oor nie.
My hoop dat ek gered kan word,
het soos mis voor die son
verdwyn.
16 “Dit voel of die lewe
uit my loop.
Hartseer oorweldig my elke dag.
17 In die nag hou die pyn
my wakker
soos dit vreet aan my bene.
18 God het my met geweld
aan my klere gegryp.
Hy gryp my aan my jas se kraag.
19 Hy gooi my in die modder.
Ek het soos stof en as
geword.
20 “Ek roep na U, o God,
maar U antwoord nie.
Ek staan voor U,
maar U sien my
nie raak nie.
21 U was genadeloos teenoor my.
U vervolg my
met u groot krag.
22 U tel my op
en laat die wind
my wegwaai.
U gooi my rond in die storm.
23 Ek weet U stuur my
na die dood,
die bestemming
van alles wat leef.
24 “Sekerlik sal niemand
die hand lê
op ’n stukkende mens
wat in sy ellende
om hulp roep nie!
25 Het ek nie gehuil
oor mense
wat swaarkry nie?
Was ek nie hartseer
oor arm mense
se lyding nie?
26 Daarom het ek medelye
verwag.
Maar in plaas van goed,
het kwaad my getref.
Ek het gewag vir die lig,
maar dit het donker gebly.
27 Ek is ontsteld en rusteloos.
My lewe bestaan
uit swaarkry.
28 Ek leef in somberheid
waar die son nie meer
vir my skyn nie.
Ek staan op die plein
en roep om hulp.
29 Die jakkalse is my broers
en ek lewe saam met
volstruise.
30 My vel het swart geword,
ek brand van die koors.
31 My harp speel ’n treurlied.
My fluit begelei mense
wat huil.”