Die Here daag Job weer uit
1 Die Here het toe vir Job
uit ’n storm geantwoord:
2 “Gaan staan regop soos ’n man.
Ek wil ’n paar vrae aan jou stel.
Jy moet My antwoord.
3 “Wil jy sê
dat Ek verkeerd is?
Wil jy My
veroordeel
sodat jy geregverdig kan wees?
4 Is jy so sterk soos God?
Kan jy jou stem
uit die onweer laat hoor?
5 Laat jou gesag dan geld.
Tree op in jou koninklike
majesteit.
6 Gee uiting aan
jou woede
sodat dit oorkook
oor die hoogmoediges
en hulle verneder.
7 Vernietig slegte mense
met een blik.
Loop oor die goddeloses.
8 Begrawe almal in die stof.
Sluit hulle toe in die graf.
9 Selfs Ek sal jou dan prys,
want jy sal jou
deur jou eie krag kan red.
10 “Kyk na die seekoei*.
Ek het hom gemaak
net soos Ek jou gemaak het.
Hy vreet gras soos ’n bees.
11 Hy het ’n kragtige liggaam
met sterk spiere.
12 Sy stert is so reguit
soos ’n seder.
Sy boudspiere
is inmekaargevleg.
13 Sy bene
is soos bronspype.
Sy ledemate
so sterk soos yster.
14 Dit is ’n uitstekende
voorbeeld
van God se handewerk.
Net sy Maker
kan hom in toom hou.
15 Die berge lewer vir hom
voedsel,
en al die wilde diere speel daar.
16 Hy lê onder waterplante.
Hy skuil tussen die riete
in die moeras.
17 Hy skuil in die skadu
van die waterplante
tussen die wilgers
langs die rivier.
18 As die rivier in vloed is,
word hy nie bang nie.
Hy is rustig selfs as die Jordaan
rondom hom bruis.
19 Niemand kan hom
van voor af pak
en ’n ring in sy neus sit nie.”
Die Here daag Job weer uit
20 “Kan jy ’n krokodil*
met ’n hoek vang?
Kan jy ’n tou bind om sy bek?
21 Kan jy ’n lyn
steek deur sy neus
of sy kake met ’n haak deurboor?
22 Sal hy by jou pleit om genade,
of soebat om vir hom
jammer te wees?
23 Sal hy instem
om vir jou te werk?
Kan jy van hom ’n slaaf maak
vir die res van sy lewe?
24 Sal jy hom mak maak
soos ’n voëltjie,
of vir hom ’n leiband aansit
as ’n speelding vir jou dogters?
25 Sal handelaars hom wil koop?
Kan hulle hom verkoop
in hulle winkels?
26 Kan jy sy vel deurboor
met pyle,
of sy kop met ’n harpoen?
27 Lê gerus jou hand op hom!
Jy sal vir altyd
die geveg onthou
en dit nooit weer waag nie.
28 Jy probeer verniet
om hom te vang.
Die jagter is oorweldig
as hy hom net sien.”