By die Here is vreugde
1 ’n Gebed van Dawid.
Beskerm my, o God,
want ek kom na U toe
vir skuiling.
2 Ek sê vir die Here:
“U is my Here!
Alle goeie dinge
kry ek van U alleen.”
3 Die sogenaamde heiliges
in die land,
vervloek is elkeen
wat vreugde in hulle vind.
4 Mag hulle
wat ander gode najaag
baie droefheid beleef.
Drankoffers van bloed
sal ek nie uitgiet nie,
of die name van hulle afgode
op my lippe neem nie.
5 Here, U alleen is my erfenis,
my beker van seën.
U waarborg
my lotsbestemming.
6 ’n Pragtige plek
is vir my afgemeet.
Wat ek geërf het,
is vir my mooi!
7 Ek prys die Here
wat my insig gee;
ook in die nag
is ek daarvan bewus.
8 Die Here is altyd by my.
Ja, Hy is aan my regterhand;
daarom sal ek nie struikel nie.
9 Hieroor is my hart vol vreugde.
Ek besing sy lof,
en woon in veiligheid.
10 Want aan die doderyk
sal U my nie prysgee,
of toelaat dat u getroues
in die graf ontbind nie.
11 U wys vir my die lewenspad;
in u teenwoordigheid
is vreugde,
en aan u regterhand
is daar blydskap vir altyd.