PSALMS 17

Here, U ken my opregtheid

1 ’n Dawidsgebed.

Luister na my

wanneer ek smeek

dat U aan my reg moet laat geskied,

Here,

luister na my geroep om hulp.

Gee tog aandag aan my gebed,

want wat ek sê,

is met opregtheid.

2 Verklaar my nou onskuldig;

U sien tog self

wat reg is!

3 U het my gedagtes getoets,

my in die nag ondersoek.

U het my deeglik beproef,

maar niks verkeerds gekry nie;

ek is vasbeslote om

nie te sondig

in wat ek sê nie.

4 Wat mensewerk betref –

ek het volgens u voorskrifte

gelewe

en nie die paaie gevolg

van geweldenaars nie.

5 My voetstappe

was in u voetspore.

My voete het nie gewankel nie.

6 Ek roep tot U, o God,

want ek weet U sal antwoord.

Draai na my toe en luister as ek bid.

7 U wat red met u sterke hand,

toon u wonderlike trou

aan hulle

wat beskerming soek

van vyande.

8 Beskerm my

soos die appel van u oog.

Bedek my

in die skadu van u vlerke,

9 van bose mense wat my aanval,

van wrede vyande

wat my omring.

10 Hulle het opstandig geword.

Hulle praatjies is verwaand.

11 Hulle spoor my op

en omsingel my,

hulle is gereed

om my neer te gooi

op die grond.

12 Hulle is soos honger leeus,

gretig om my te verskeur,

soos jong leeus wat wegkruip

en wag vir hulle kans.

13 Staan op, Here!

Weerstaan hulle

en bring hulle op hulle knieë!

Red my van bose mense

met u swaard!

14 Red my met u magtige hand,

Here,

van mense van hierdie wêreld

wat hulle loon

in hierdie lewe kry.

Mag hulle die volle straf ontvang,

hulle kinders

nog meer as dit erf,

en ook hulle kleinkinders.

15 Maar omdat ek reg gedoen het,

sal ek U sien.

Wanneer ek wakker word,

sal ek tevrede wees

in u teenwoordigheid.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

five × 5 =