PSALMS 18

Die Here is my redder

1 Vir die koorleier: ’n Lied van Dawid,

die dienaar van die Here. Hy het die

lied vir die Here gesing op die dag

toe die Here hom uit die mag van al

sy vyande en van Saul gered het.

2 Hy het gesê:

Ek het U baie lief, Here;

U is my sterkte.

3 Die Here is my rots,

my vesting en my redder,

my God, en my rots

by wie ek skuil.

Hy is my skild,

my magtige redder,

my veilige vesting.

4 Ek het tot die Here geroep,

Hy wat lofwaardig is,

want Hy red my

van my vyande.

5 Bande van die dood

omring my;

strome van onheil

oorweldig my.

6 Bande van die dood

draai my vas;

strikke van die dood

wag my in.

7 In my angs

het ek tot die Here geroep,

tot my God geroep om hulp.

In sy heiligdom het Hy geluister;

my hulpgeroep

het Hy gehoor.

8 Toe het die aarde geskud

en gebewe;

die fondamente van die berge

het gerammel,

hulle het geruk vanweë sy toorn.

9 Rook het uit sy neusgate

geborrel,

verterende vlamme uit sy mond,

gloeiende kole

uit sy binnekant.

10 Hy het die hemele oopgebreek

en afgekom;

donkerte was onder sy voete.

11 Hy het ’n gerub bestyg

en gevlieg,

Hy het gesweef

op die vlerke van die wind.

12 Hy het Homself

met donkerte omhul,

reënwolke en wolkemassas

het Hom bedek.

13 Uit die gloed voor Hom

het wolke gekom,

hael en weerligstrale.

14 Die Here se stem donder

uit die hemel;

die Allerhoogste

laat sy stem hoor:

hael en weerligstrale.

15 Hy skiet sy pyle,

verstrooi sy vyande;

sy weerlig flits,

hulle is verbysterd.

16 Die bodem van die see

word sigbaar,

die fondamente van die aarde

word ontbloot

deur die gebulder van die Here,

en die rukwind van sy asem.

17 Van bo af

het Hy sy hand uitgestrek

en my gegryp,

uit diepwaters

het Hy my getrek.

18 Hy verlos my

van magtige vyande,

van haters

wat te sterk was vir my.

19 Hulle het aangeval

toe ek in die moeilikheid was,

maar die Here hou my staande.

20 Hy lei my na veiligheid,

en red my

omdat Hy my liefhet.

21 Die Here

beloon my opregtheid;

Hy vergoed my onskuld.

22 Want ek was getrou

aan die voorskrifte

van die Here;

ek was nie skuldig

teenoor my God nie.

23 Want sy voorskrifte

het ek onderhou;

en van sy bepalings

nie afgewyk nie.

24 Ek is onskuldig voor Hom;

ek het weggebly

van sonde.

25 Die Here

het my opregtheid beloon,

want ek was onskuldig

voor Hom.

26 Vir die getroues is U getrou;

vir die opregtes is U opreg.

27 Vir dié wat rein is, is U rein,

vir dié wat vals is, is U vals.

28 U red hulle wat nederig is,

maar die hoogmoediges

verneder U.

29 U laat my lamp skyn,

Here my God.

U verlig my duisternis.

30 Met U loop ek ’n leër storm;

met my God spring ek

oor ’n muur.

31 God se pad is volmaak.

Die Here se woorde

is betroubaar.

Hy beskerm dié

wat by Hom skuil.

32 Want wie anders as die Here

is God?

Wie anders as God is ’n rots?

33 God rus my toe met krag;

Hy maak my pad veilig.

34 Hy maak my voete

soos dié van ’n wildsbok,

op hoë plekke

laat Hy my veilig staan.

35 Hy oefen my hande

vir die geveg,

my arms

om ’n bronsboog te trek.

36 U redding is vir my ’n skild.

U regterhand ondersteun my;

u hulp maak my sterk.

37 Die pad onder my

maak U breed,

en my enkels swik nie.

38 Ek het my vyande agtervolg

en ingehaal;

ek het nie omgedraai

voordat hulle almal

uitgewis was nie.

39 Ek het hulle oorrompel

en neergeslaan,

hulle kon nie opstaan nie;

hulle het voor my voete geval.

40 U het my met krag toegerus

vir die stryd,

en my teenstanders

aan my onderwerp.

41 My vyande het U

voor my laat vlug;

my haters het ek uitgewis.

42 Hulle roep om hulp,

maar niemand kom help nie;

selfs tot die Here,

maar Hy antwoord hulle nie.

43 Ek maal hulle fyn

soos die stof van die aarde,

soos modder op straat

vermorsel ek hulle.

44 In die stryd met teenstanders

het U my verlos,

my aangestel

as koning oor nasies.

’n Volk

wat ek nie geken het nie,

dien my nou.

45 Uitlanders word my onderdane.

As hulle van my hoor,

gehoorsaam hulle my.

46 Vreemdelinge

word moedeloos

en kom bewend

uit hulle vestings.

47 Die Here leef!

Ek prys my rots!

Ek loof God,

rots van my redding,

48 God wat wraak neem

namens my,

wat volke aan my onderwerp.

49 Hy red my van my vyande.

Buite bereik van teenstanders

verhef U my;

U verlos my van geweldenaars.

50 Daarom, Here, sal ek U prys

voor die nasies.

Tot eer van u Naam

sal ek ’n loflied sing!

51 U gee groot oorwinnings

aan u koning;

aan u gesalfde is U getrou,

aan Dawid en sy nageslag

vir altyd!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

fourteen + 4 =