PSALMS 22

Vertrou op God in nood

1 Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm.

Op die wysie van “Die wildsbok

van die daeraad”.

2 My God, my God!

Waarom het U my verlaat?

Waarom bly U so ver

wanneer ek roep om hulp,

so ver wanneer ek tot U sug?

3 Elke dag roep ek na U, my God,

maar U antwoord nie;

ook elke nag roep ek,

maar daar is geen rus vir my nie.

4 Tog is U die Heilige

wat woon waar Israel U prys.

5 Ons voorouers

het op U vertrou,

hulle het U vertrou,

en U het hulle gered.

6 Tot U het hulle geroep,

en hulle is verlos.

Hulle het op U vertrou,

en was nooit verleë nie.

7 Maar ek is net ’n wurm,

en nie ’n man nie;

ek word bespot

deur die mensdom,

verag deur almal om my.

8 Elkeen wat my sien,

spot met my.

Hulle trek vir my gesigte,

skud die kop en sê:

9 “Vertrou op die Here;

laat Hý hom dan red!

Laat die Here hom verlos

as Hy hom dan so liefhet!”

10 Maar U het my die lewenslig

laat sien,

my as suigeling

op U laat vertrou.

11 Vanaf geboorte

is ek van U afhanklik.

Vanaf die begin van my lewe

was U my God.

12 Moenie ver van my af bly nie,

want ellende kom

en daar is geen helper nie.

13 Soos ’n trop bulle

omsingel my vyande my;

wilde beeste van Basan

het my omring!

14 Soos brullende leeus

wat uitmekaar wil skeur,

met oopgesperde bekke

storm hulle op my af.

15 My lewe is uitgestort

soos water, al my bene val uitmekaar.

My hart is soos was

wat in my wegsmelt.

16 My krag het opgedroog

soos ’n potskerf.

My tong kleef

aan my verhemelte.

U laat my vir dood in die stof lê.

17 Soos ’n trop honde

sirkel hulle om my;

’n kwaadwillige bende

sak op my toe.

My hande en voete

is vasgemaak.

18 Ek kan al my bene in my tel.

Met leedvermaak gluur my vyande

my aan.

19 Hulle verdeel my klere

onder mekaar

en deur die lot te werp

deel hulle my kledingstukke.

20 Here,

bly nie ver van my af nie!

U is my sterkte;

help my tog gou!

21 Red my van die swaard,

red my kosbare lewe

uit die mag van hierdie honde.

22 Red my uit die bek

van die leeu,

van die horings

van wilde beeste.

U het my gebed verhoor!

23 Aan my broers

maak ek u Naam bekend.

In die vergadering

verkondig ek u lof.

24 Prys die Here,

julle almal wat Hom dien!

Verheerlik Hom,

nakomelinge van Jakob!

Betoon eerbied aan Hom,

nageslag van Israel!

25 Want die leed

van hulle in nood

ignoreer Hy nie;

vir hulle maak Hy nie sy oë toe nie.

Hy luister na hulle geroep

om hulp.

26 Van U af kom my lofsang

in die groot vergadering;

voor hulle wat U dien,

sal ek my geloftes nakom.

27 Dié in nood

sal eet en versadig word.

Almal wat die Here dien,

sal Hom loof.

Mag hulle harte bly wees

vir altyd.

28 Die hele aarde

sal die Here erken

en na Hom toe terugkeer.

Mense uit elke nasie

sal Hom weer dien.

29 Want die koningskap

behoort aan die Here!

Hy heers oor al die nasies.

30 Laat die rykes van die wêreld

feesvier

en Hom aanbid.

Laat al wat sterfling is,

voor Hom buig;

hulle wat sterflik is

en bestem is vir die graf.

31 Die nageslag sal Hom dien.

Die komende geslagte

sal van die Here hoor.

32 Sy regverdige dade

sal aan hulle vertel word.

Dié wat nou nog ongebore is,

sal van sy dade hoor.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

16 + fifteen =