PSALMS 25

Ek vertrou op die Here

1 ’n Dawidspsalm.

Ek rig my tot U, Here.

2 Ek vertrou op U, my God!

Moenie dat ek

in die skande kom,

of my vyande

oor my laat juig nie.

3 Niemand wat op U wag,

word ooit beskaam nie,

maar húlle word beskaam

wat bedrieg sonder oorsaak.

4 Here, wys my die weg

wat ek moet gaan,

leer my u paaie.

5 Lei my deur u waarheid

en leer my,

want U, o God, is my redder.

Die hele dag wag ek vol hoop op U.

6 Dink, o Here, aan u liefde

en medelye,

van altyd af deur U bewys.

7 Moenie dink aan die opstand

en die sonde van my jeug nie;

Here, dink eerder aan my

met troue liefde,

ter wille van u goedheid.

8 Die Here is goed

en doen wat reg is.

Daarom wys Hy vir sondaars

die regte pad.

9 Mag Hy die nederiges

op die regte weg lei,

en vir dié wat beskeie is,

sy pad leer.

10 Die paaie van die Here

is goedheid en trou

vir dié wat getrou is

aan die bepalings

van sy verbond.

11 Ter wille van u Naam, Here,

vergewe tog my sondes,

want dit is baie.

12 Wie is die een

wat die Here dien?

Hy sal hom wys

watter pad hy moet kies.

13 Hy sal in voorspoed lewe,

en sy nageslag

sal die beloofde land beërwe.

14 Die Here se voorneme

is duidelik

vir dié wat Hom dien.

Aan hulle

maak Hy sy verbond bekend.

15 Ek kyk altyd op na die Here

vir hulp,

want Hy sal my voete

van die vangnet bevry.

16 Draai u gesig na my

en bewys genade aan my,

want ek is alleen

en in diep nood.

17 Die kwellinge van my gedagtes

word al meer.

Verlos my tog

uit hierdie ellende!

18 Kyk na my pyne en kwellinge,

en vergeef tog al my sondes.

19 Kyk hoeveel vyande

is teen my,

hoe hulle my haat met venyn!

20 Beskerm my en red my!

Bewaar my van vernedering,

want ek vertrou op U.

21 Mag opregtheid en eerlikheid

my beskerm,

want ek wag op U.

22 O God, bevry Israel

uit al sy nood.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

20 − 6 =