Ek is onskuldig
1 ’n Dawidspsalm.
Laat aan my reg geskied, Here,
want ek was opreg
in my doen en late.
Ek het op die Here vertrou
sonder om te twyfel.
2 Toets my, Here,
en ondervra my.
Ondersoek my motiewe
en my toegeneentheid.
3 Want ek is gedurig bewus
van u liefde;
ek het volgens u waarheid
gelewe.
4 Met leuenaars
gaan ek nie om nie;
met skynheiliges
gaan ek nie saam nie.
5 Ek verag die byeenkoms
van bose mense,
en by die goddeloses sit ek nie.
6 Ek was my hande
as teken van my onskuld
en verskyn voor u altaar, Here,
7 terwyl ek ’n danklied sing
en vertel van al u wonders.
8 Here, u woonplek het ek lief,
die plek
waar u heerlikheid woon.
9 Moenie my saam met
sondaars wegvee nie.
Moenie dat ek
saam met moordenaars
omkom nie.
10 Hulle hande is gevul
met bose planne,
hulle regterhande
vol omkoopgeld.
11 Maar ek lewe
in opregtheid;
red my en wees my genadig.
12 My voete staan vas
op gelyke grond.
Daarom prys ek die Here
in die vergadering.