Die Here gee my moed
1 ’n Dawidspsalm.
Die Here is my lig
en my redding.
Vir wie moet ek dan vrees?
Die Here is my lewenstoevlug.
Vir wie sal ek dan bang wees?
2 Wanneer bose mense kom
om my te verslind,
my vyande en teenstanders
my aanval,
struikel en val húlle.
3 Al sou ’n magtige leër
teen my optrek,
ek sal nie bang wees nie.
Al sou hulle my aanval
in ’n geveg,
selfs dán sal ek hoopvol bly.
4 Een ding vra ek van die Here,
en dit sal ek bly soek:
om in die huis van die Here
te bly
al die dae van my lewe,
om my te verbly in sy goedheid,
en in sy tempel
daaroor na te dink.
5 Want as gevaar dreig,
sal Hy my wegsteek.
Hy sal my in sy woning
verberg.
Hy sal my op ’n hoë rots
laat staan.
6 Dan sal ek my kop hoog oplig
bokant my vyande
wat my omring.
In sy woning
sal ek
offers van vreugde bring
terwyl ek sing
en met musiek die Here loof.
7 Luister tog na my as ek roep,
Here.
Wees genadig,
verhoor my gebed!
8 U het vir my hart gesê:
“Kom en dien My.”
Ek antwoord:
“Here, ek kom U dien.”
9 Moenie U vir my
verberg nie,
of u dienaar in toorn
verwerp nie.
U was nog altyd my helper.
Moenie my nou
verlaat nie;
moenie my
in die steek laat nie,
God van my verlossing!
10 Selfs al sou my pa en ma
my verlaat,
die Here sal my styf vashou.
11 Leer my hoe om te lewe,
Here.
Lei my op ’n gelyke pad,
want my vyande wag my in.
12 Moenie my oorgee
in die hande van my vyande nie.
Hulle bring vals getuies
teen my
en hulle blaas geweld aan
teen my.
13 Tog is ek daarvan oortuig:
Die Here se goedheid
sal ek sien
hier in die land
van die lewendes.
14 Vertrou op die Here!
Wees sterk en skep moed!
Ja, vertrou op die Here!