Die Here is ’n veilige
skuilplek
1 ’n Dawidspsalm.
Here, ek roep na U, my Rots.
Hou U nie doof vir my nie.
Want as U bly swyg,
sal ek wees soos hulle
wat afdaal na die doderyk.
2 Luister tog na my gebed
as ek tot U roep,
wanneer ek my hande uitsteek
na u allerheiligste toe.
3 Moenie my wegsleep
saam met die goddeloses,
met hulle
wat bose dinge doen nie;
wat vriendelik praat
met hulle bure,
maar in hulle harte
is daar kwaadwilligheid.
4 Straf hulle
volgens wat hulle doen,
volgens hulle bose praktyke.
Vergoed hulle
volgens hulle dade!
Vergeld hulle
volgens verdienste.
5 Hulle begryp nie
die Here se werk,
dit wat sy hande verrig nie.
Hy sal hulle afbreek
en nie weer opbou nie.
6 Laat die Here geprys word,
want Hy
het my smekinge gehoor.
7 Die Here is my krag,
my beskermer
wat ek met my hele hart vertrou.
Hy help my
en my hart is vol vreugde.
Daarom dank ek Hom
met my lied.
8 Die Here is ’n sterkte
vir sy volk,
’n veilige skuilplek
vir sy gesalfde.
9 Red tog u volk
en seën hulle
wat aan U behoort!
Wees vir hulle ’n herder
en versorg hulle vir altyd.