Droefheid verander in
vreugde
1 ’n Dawidspsalm. ’n Lied vir die
inwyding van die tempel.
2 Ek sal u lof verkondig, Here,
want U het my gered.
U het my vyande verhinder
om bly te wees oor my.
3 Here my God,
ek het na U geroep om hulp
en U het my gesond gemaak.
4 Here,
U het my gered
van die doderyk,
U het verhoed
dat ek saam met ander wegsak
in die graf.
5 Sing tot eer van die Here,
julle wat getrou is!
Loof sy heilige Naam.
6 Sy toorn
duur net ’n oomblik,
maar sy genade
is lewenslank!
In die nag
vloei die trane,
maar in die oggend
is daar vreugde.
7 Toe ek voorspoedig was,
het ek gesê:
“Niks sal my ooit beweeg nie!”
8 U goedheid, Here,
was vir my
soos ’n stewige berg.
Maar toe U van my af wegdraai,
was ek verskrik.
9 Ek het na U geroep, Here.
Ek het by U, Here, gepleit
om genade:
10 “Wat sal dit U baat
as ek sterf,
as ek wegsak in die graf?
Kan my stof U loof
in die doderyk?
Kan my stof u trou
daar verkondig?
11 Luister, Here,
en wees my genadig.
Help my tog, Here!”
12 U het my droefheid verander
in ’n dans van vreugde.
U het my rouklere weggeneem
en my met vreugde geklee.
13 Daarom sal ek sing tot u eer
en nie swyg nie.
Here my God,
ek sal U dank vir altyd.