PSALMS 48

Die stad van God

1 ’n Lied. ’n Psalm van die Koragiete.

2 Die Here is groot!

Hom kom toe die grootste lof

in die stad van ons God,

op sy heilige berg!

3 Sionsberg,

daar teen die noorde,

is pragtig daarbo,

dis ’n vreugde

vir die hele aarde,

die stad van die Groot Koning!

4 God self is in haar vestings;

Hy is bekend

as ’n toevlugsoord.

5 Konings het saamgespan,

saam teen die stad opgeruk.

6 Toe hulle die stad sien,

was hulle sprakeloos

en het verskrik

op die vlug geslaan.

7 Angs het hulle aangegryp,

soos ’n vrou

met geboortepyne;

8 angs soos toe die oostewind

die skepe van Tarsis

verwoes het.

9 Ons het dit verneem,

dit self so gesien,

in die stad van die Here,

die Almagtige,

in die stad van ons God.

God sal dit vir altyd

vas laat staan.

Sela

10 O God, ons oordink

u troue liefde

wanneer ons

in die tempel aanbid.

11 Soos dit pas by u Naam,

o God,

so sal U geprys word

tot aan die eindes van die aarde.

U sterk hand

is vol regverdigheid.

12 Sionsberg sal bly wees,

die dorpe van Juda sal juig,

want u oordele is regverdig.

13 Gaan loop in Sion.

Loop rond

en tel al die torings.

14 Kyk na die versterkte mure

en bekyk al die vestings,

sodat jy dit kan vertel

aan die geslagte ná jou.

15 Want dié God

is ons God vir altyd.

Hy is ons God.

Hy sal ons

tot die einde toe lei.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

1 × five =