PSALMS 52

Ek vertrou op God se

goedheid

1 Vir die koorleier: ’n Gedig van Dawid,

2 met verwysing na die keer toe Doëg die

Edomiet gekom het en vir Saul vertel

het: Dawid is in die huis van Agimelek.

3 Hoekom spog jy

met jou boosheid,

man van mag?

God se troue liefde

is mos sonder einde!

4 Jy beplan verwoesting.

Jou tong is skerp

soos ’n skeermes;

jy is ’n bewerker van bedrog.

5 Jy verkies boosheid

bo goedheid

en leuens bo die waarheid.

Sela

6 Jy geniet woorde wat vernietig,

en met jou tong bedrieg jy!

7 Maar God sal jou

vir altyd neergooi.

Hy sal jou gryp,

jou uit jou woning wegsleep

en jou ruk uit die land

van die lewendes.

Sela

8 Die regverdiges sal dit sien

en met eerbied vervul word.

Hulle sal lag en sê:

9 “Kyk wat gebeur met die man

wat nie by God

geskuil het nie:

Hy het eerder

op sy rykdom vertrou,

en deur verwoesting

sterk geword.”

10 Maar ek is soos ’n olyfboom

wat geil groei

in die huis van God.

Ek vertrou op God se goedheid

so lank as wat ek lewe.

11 Ek sal U altyd loof, o God,

vir wat U gedoen het.

Ek sal op u Naam hoop,

want hulle wat aan U getrou is,

weet dat U goed is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

two × two =