God se oordeel is regverdig
1 Vir die koorleier: Op die wysie van
“Moenie verwoes nie”. Van Dawid.
’n Gedig.
2 Julle wat regeer,
is julle uitspraak
regtig regverdig?
Is julle beslissings oor mense billik?
3 Nee! In julle gedagtes
beplan julle reeds boosheid,
met julle eie hande
versprei julle geweld in die land.
4 Bose mense is so
vanaf geboorte;
van kleintyd af
praat hulle leuens.
5 Hulle gif is soos die gif
van slange;
hulle is soos ’n adder
wat doof is
6 en nie luister
na die slangbesweerder nie,
hoe bedrewe die besweerder
ook al is.
7 God, slaan hulle tande stukkend
in hulle mond.
Here, breek die slagtande
van hierdie leeus.
8 Laat hulle verdwyn
soos water wat wegsypel.
Laat hulle vertrap word
soos droë gras,
9 soos ’n misgeboorte
wat wegsmelt,
soos ’n doodgeborene
wat nie die son sien nie.
10 Vinniger
as wat ’n pot warm word
oor ’n doringvuur
sal God hulle wegvee,
sowel jonk as oud.
11 Die getroue sal bly wees
by aanskoue
van die vergelding.
Die bloed van die goddeloses
sal hy afwas van sy voete.
12 Dan sal almal sê:
“Daar is regtig beloning
vir dié wat toegewyd lewe;
daar is beslis ’n God
wat regverdig oordeel op aarde.”