PSALMS 59

God is in beheer van sake

1 Vir die koorleier: Op die wysie van

“Moenie verwoes nie”. Van Dawid. ’n

Gedig. Na aanleiding van Saul se

opdrag dat Dawid se huis omsingel moes

word om hom dood te maak.

2 Red my van my vyande, o God.

Laat my vyande

my nie in die hande kry nie.

3 Bevry my

van dié wat boosheid bewerk;

red my tog

van dié wat bloeddorstig is.

4 Want kyk, hulle lê my voor.

Gedugte mense

span saam teen my

al het ek nie oortree

of gesondig nie, Here.

5 Hoewel ek onskuldig is,

bestorm hulle my,

gereed vir die aanval.

Ontwaak en help my!

Kyk tog wat hulle doen!

6 O Here, God die Almagtige,

God van Israel,

gryp tog in en straf al die nasies.

Betoon geen genade

aan bose verraaiers nie.

Sela

7 Hulle kom terug in die nag,

hulle grom soos honde

wat in die stad ronddwaal.

8 Kyk hoe hulle my

beledig met hulle monde!

Hulle wys hulle tande

terwyl hulle dink:

“Wie sal ons hoor?”

9 Maar, Here, U lag vir hulle.

U spot met al die nasies.

10 My sterkte, op U wag ek,

want U, o God,

is my skuilplek.

11 My troue God

sal my tegemoetkom.

God sal my laat neersien

op my vyande.

12 Moenie hulle dadelik

doodmaak nie,

want my volk

vergeet so gou;

laat hulle steier

deur u krag,

en bring hulle tot ’n val,

Here, ons skild.

13 Weens die sonde

uit hulle mond,

weens die woorde

van hulle lippe,

laat hulle gevang word

deur hulle hoogmoed,

weens hulle vervloekings

en hulle leuens.

14 Vernietig hulle in u toorn!

Wis hulle geheel en al uit!

Dan sal hulle weet

dat God in Jakob regeer

en tot by die einde van die aarde.

Sela

15 Hulle kom terug in die nag,

hulle grom soos honde

wat in die stad ronddwaal.

16 Hulle aas rond

op soek na kos,

maar kry nie genoeg nie,

dan tjank hulle.

17 Maar ek sal sing van u mag

en in die oggend

jubel oor u trou.

Want U was my toevlug,

’n veilige skuiling

in tye van nood.

18 Ek sing lofliedere vir U,

my Sterkte,

want God is my skuilplek,

U is my troue God.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

two × four =