Moenie my verlaat nie
1 Here,
by U soek ek beskerming;
laat my nooit
beskaamd staan nie.
2 Red my en verlos my,
want by U is regverdigheid.
Luister na my
en maak my vry.
3 Wees vir my ’n rots
en ’n toevlug,
’n plek waarheen ek
altyd kan vlug.
U het reeds my redding bepaal,
want U is my rots
en my vesting.
4 My God, red my
uit die mag van goddeloses,
uit die kloue van mense
wat wreed en onregverdig is,
5 want U, Here, is my hoop.
Here,
van kleins af het ek op U vertrou.
6 U is my hulp vanaf geboorte;
reeds voor geboorte
het U vir my gesorg.
Dis waarom ek U gedurig prys.
7 Ek is ’n wonder vir baie,
want U is my sterke toevlug.
8 Ek hou aan om U te prys;
die hele dag sing ek
oor u heerlikheid.
9 Moenie my eenkant toe stoot
noudat ek oud geword het nie.
Moenie my verlaat
wanneer my kragte
afneem nie.
10 Want my vyande beplan
teen my;
dié wat my lewe soek,
span saam teen my.
11 Hulle sê: “God het hom verlaat.
Kom ons agtervolg hom
en vang hom,
want niemand sal hom red nie.”
12 O God,
moenie ver wees van my nie.
My God,
maak tog gou en help my.
13 Laat my aanklaers
in skande omkom.
Laat vernedering en oneer
hulle tref,
hulle wat my skade wil aandoen.
14 Maar ek sal aanhou hoop,
U meer en meer prys.
15 Ek sal u regverdigheid
bekendmaak,
en die hele dag
van u redding vertel,
al is dit te veel om op te noem.
16 Oppermagtige Here, ek kom
om u magtige dade te prys,
ek sal vir almal vertel
dat U alleen regverdig is.
17 O God,
U het my van jongs af geleer,
en nog steeds getuig ek
van u wonderdade.
18 O God,
noudat ek oud en grys is,
moenie my verlaat nie,
sodat ek aan die nageslagte
u mag bekend kan maak,
en aan elkeen wat nog sal kom
van u magtige werke
kan vertel.
19 U regverdigheid, o God,
reik tot aan
die hoogste hemele.
U het wonderlike dinge gedoen.
Wie is soos U, o God?
20 U het diep nood
oor my laat kom,
maar U herstel my weer tot lewe.
Uit die diepwaters van die aarde,
uit die doderyk,
rig U my weer op.
21 U sal my in eer herstel
en weereens
my vertrooster wees.
22 Dan sal ek U prys met die harp,
want U is getrou, o God.
Met sang en lier sal ek U loof,
o Heilige van Israel.
23 Van vreugde sal ek jubel
en u lof besing,
want U het my gered.
24 Heeldag vertel ek
van u geregtigheid.
Dié wat my kwaad wou aandoen,
is nou self beskaam en verneder.