PSALMS 72

Die regverdige koning

1 ’n Psalm van Salomo.

O God,

skenk u geregtigheid

aan die koning,

en u regverdigheid

aan die seun van die koning.

2 Hy sal u volk regverdig oordeel

en aan armes reg verskaf.

3 Die berge sal voorspoed bring

vir die volk,

en die heuwels regverdigheid.

4 Hy sal aan die verdruktes

reg verskaf,

die kinders van behoeftiges red,

hulle verdrukkers

verpletter.

5 Mag hulle U dien

so lank as wat die son skyn,

en die maan daar is,

geslag na geslag!

6 Mag hy wees

soos reën vir plante,

soos reënbuie

wat die aarde natmaak.

7 Mag regverdiges floreer

tydens sy bewind

en voorspoed

in oorvloed ontvang

tot die maan nie meer daar is nie.

8 Mag hy regeer van see tot see,

en vanaf die Eufraat

tot aan die eindes van die aarde.

9 Mag woestynbewoners

voor hom buig,

sy vyande voor hom

in die stof kniel.

10 Mag die konings van Tarsis

en die kuslande

vir hom belasting betaal,

die konings van Skeba en Seba

vir hom geskenke bring.

11 Mag al die konings

voor hom buig,

en al die nasies hom eer bewys.

12 Ja, die armes wat roep,

sal hy verlos,

ook die verdrukte sonder helper.

13 Hy het medelye met swakkes

en behoeftiges,

en red die lewe van behoeftiges.

14 Uit onderdrukking en geweld

sal hy hulle red,

want hulle lewens is kosbaar

vir hom.

15 Lank leef die koning!

Mag hy goud uit Skeba ontvang.

Mag mense gedurig vir hom bid

en die hele dag hom seën.

16 Mag daar volop graan wees

in die land,

en die bergtoppe daarvan wuif.

Mag dit vrugbaar wees

soos die Libanon,

en mag die stede groei

soos gras op die veld.

17 Mag die koning se naam

altyd onthou word

en nooit vergeet word

so lank as die son daar is nie.

Mag al die nasies

deur hom geseën word

en al die nasies

hom geseënd noem.

18 Prys die Here God,

die God van Israel!

Net Hy doen wonderlike dade.

19 Mag sy heerlike Naam

vir altyd geprys word!

Mag die hele wêreld

vol wees van sy heerlikheid.

Amen, ja, amen!

20 (Hier eindig die gebede van

Dawid, seun van Isai.)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

1 + thirteen =