BOEK DRIE (Psalm 73-89)
Ek wil naby God bly
1 ’n Asafpsalm.
Waarlik, God is goed vir Israel,
vir hulle
wat suiwer van hart is.
2 Maar my voet
het byna gestruikel.
Ek het my vastrapplek
byna verloor.
3 Want ek het die verwaandes
beny,
die goddeloses se voorspoed
het ek gesien.
4 Hulle het geen lyding nie,
en is vet en gesond.
5 Hulle het nie sorge
soos sterflinge,
of teëspoed
soos ander mense nie.
6 Daarom is trots hulle halssnoer;
geweld is vir hulle
soos ’n kleed.
7 Hulle uiterlike
spel net voorspoed;
hulle verwaandheid is grensloos.
8 Hulle spot en praat net kwaad;
hooghartig dreig hulle
met geweld.
9 Hulle lippe
laster teen die hemel
en hulle tonge
spog op die aarde.
10 So draai sy volk na hulle toe,
en neem alles in wat hulle sê.
11 “Besef God wat aangaan?”
vra hulle.
“Weet die Allerhoogste
wat gebeur?”
12 Kyk, so is goddelose mense:
altyd sorgvry,
besig om rykdom te vermeerder.
13 Het ek dan tevergeefs
die kwaad vermy,
en my onskuld
met ’n eed bevestig?
14 Die hele dag lank moes ek ly,
elke oggend
is ek opnuut gestraf.
15 As ek sou sê: “Ek sal só praat,”
sou ek u kinders verloën het.
16 Ek het nagedink
om dit te verstaan;
tog was dit vir my
’n moeilike taak,
17 totdat ek ingegaan het
in die heiligdom van God,
en die uiteinde gesien het
van die goddeloses.
18 U plaas hulle op gladde plekke
en laat hulle verval
tot ’n puinhoop.
19 In ’n oogwink
is hulle vernietig,
verslind deur verskrikking.
20 Soos ’n droom wat ophou
wanneer ’n mens
wakker word,
so verdwyn hulle beeld
wanneer U ontwaak, o Here.
21 Ek was verbitterd in my hart
en verskeurd in my binneste.
22 Ek was dwaas en onnosel;
ek was dom
soos ’n dier voor U.
23 Tog is ek nog altyd by U;
U hou my regterhand vas.
24 U lei my met u raad,
daarna sal U my opneem
en in heerlikheid ontvang.
25 Wie het ek in die hemel
behalwe U?
Ook op aarde soek ek net vir U.
26 My liggaam en my hart
kan kwyn,
maar God is my blywende krag
en my erfdeel vir altyd.
27 Dié wat ver van U is,
sal omkom;
dié wat ontrou is aan U,
vernietig U.
28 Maar wat my betref,
dit is vir my goed
om naby God te wees!
Ek het geskuil
by die oppermagtige Here,
en sal bly vertel
van al u wonders.