Het die Here my verwerp?
1 Vir die koorleier: Op die wysie van
“Jedutun”. ’n Asafpsalm.
2 Ek roep hardop tot God.
Ek roep hardop tot God
om na my te luister!
3 In my nood soek ek die Here.
Ook in die nag
strek ek onvermoeid
my hande uit in gebed.
Tog het ek geen troos gekry nie.
4 Ek dink aan God, en ek sug,
ek peins daaroor
en is moedeloos.
Sela
5 U verhinder dat ek slaap;
van ontsteltenis
kan ek nie praat nie!
6 Ek dink aan die dae van vroeër,
aan jare van lank gelede,
7 toe ek gesing het in die nag,
nagedink het oor sake.
Dan vra ek my af
in my binneste:
8 Het die Here
my vir altyd verwerp?
Sal Hy ooit weer
sy genade bewys?
9 Het sy troue liefde
vir altyd verdwyn?
Het sy beloftes
tot ’n einde gekom?
10 Het God sy medelye
vergeet?
Het Hy in toorn
sy simpatie onttrek?
Sela
11 Ek het gesê:
“Dit is my droefheid:
dat die Allerhoogste nie optree
soos Hy voorheen
gedoen het nie.”
12 Here, ek onthou
wat U gedoen het,
ja, ek onthou
u wonderlike dade van destyds.
13 U dade bly in my gedagtes.
Al u werke wil ek bepeins.
14 O God, u weë is heilig.
Is daar enige god
so magtig soos U?
15 U is die God
wat wonders doen!
U het u mag
aan die nasies getoon.
16 Deur u mag
het U u volk gered,
die nageslag van Jakob en Josef.
Sela
17 Toe die waters U sien, o God,
toe hulle U sien,
het hulle gebewe,
selfs die diepsee het gesidder.
18 Die wolke het reën neergestort,
die donderslae het gerammel,
u weerligpyle het oral geblits.
19 U donder het gebulder
in die storm;
weerligstrale het die wêreld verlig!
Die aarde het gebewe en geskud.
20 U pad loop deur die see,
u weg
was deur magtige waters,
maar u spoor
kon niemand sien nie.
21 Soos ’n kudde
het U u volk gelei;
Moses en Aäron
was hulle herders.