PSALMS 78

Lesse uit die verlede

1 ’n Asafpsalm.

O my volk, luister na my lering.

Gee ag op wat ek sê,

2 want ek wil julle onderrig

met ’n psalm.

Ek wil julle lesse leer

uit die verlede.

3 Wat ons gehoor het

en wat ons weet,

wat ons voorgeslagte

ons vertel het,

4 verswyg ons nie

vir ons kinders nie,

maar vertel

vir die volgende geslag

van die roemryke dade

van die Here,

van sy krag

en van sy wonderdade.

5 Hy het voorskrifte

aan Jakob gegee,

en sy gebooie aan Israel.

Hy het ons voorouers beveel

om dit aan hulle kinders te leer

6 sodat die volgende geslag

dit kan ken,

en selfs die ongebore kinders

weer húlle kinders kan leer.

7 So sal hulle op God kan hoop,

die werke van God

nie vergeet nie,

maar sy bevele gehoorsaam

8 en nie soos hulle voorouers wees nie.

Hulle is ’n ongehoorsame,

opstandige geslag,

wie se hart nie getrou was nie,

wie se gees ontrou was aan God.

9 Die Efraimiete

was goed bewapen,

met boogskutters in hulle leër.

Maar op die dag van die geveg

het hulle omgedraai.

10 God se verbond

het hulle nie gehou nie,

en hulle het geweier

om volgens sy voorskrifte

te lewe.

11 Hulle het sy dade vergeet,

die wonders

wat Hy hulle gewys het,

12 en die wonders

wat God gedoen het

voor die oë van hulle voorouers

in Egipte

en in die vlaktes van Soan.

13 Die see het Hy oopgekloof

en hulle laat deurtrek.

Hy het die water

soos mure laat staan.

14 Bedags het Hy hulle

met ’n wolk gelei,

en snags met ’n lig van vuur.

15 In die woestyn

het Hy rotse gekloof,

hulle laat drink

asof uit diepwaters.

16 Hy het waterstrome

uit die rots laat vloei,

die water soos riviere

laat stroom.

17 Tog het hulle voortgegaan

om teen Hom te sondig,

en in die woestyn

in opstand gekom

teen Hom, die Allerhoogste.

18 Met opset

het hulle God beproef,

en kos geëis na eie smaak.

19 Hulle het God uitgedaag

en gesê:

“Kan God kos gee

in die woestyn?

20 Toe Hy ’n rots geslaan het,

het daar water uitgekom

en strome het gevloei,

maar kan Hy ook brood verskaf

en vleis gee vir sy volk?”

21 Toe die Here dit hoor,

was Hy baie kwaad.

’n Vuur het teen Jakob ontbrand;

sy toorn

het teen Israel ontvlam,

22 want hulle het God

nie geglo nie,

en nie op sy verlossing

vertrou nie.

23 Hy het die wolke daarbo beveel,

die hemele se deure oopgemaak,

24 Hy het manna op hulle

laat reën om te eet,

uit die hemel brood vir hulle gegee.

25 Kos van engele het hulle geëet,

kos in oorvloed

het God gegee.

26 Hy het die oostewind

uit die hemel losgelaat,

en deur sy groot krag

die suidewind laat waai.

27 Hy het vleis oor hulle

soos sand laat reën,

voëls soos die sand van die seestrand.

28 Hy het dit

in hulle kamp laat val,

oral rondom hulle tente.

29 Hulle het

meer as genoeg geëet.

Hy het gegee

wat hulle gevra het.

30 Maar hulle honger

was nog nie gestil nie.

Met die kos nog in hulle mond,

31 het die toorn van God

hulle getref.

Hy het die sterkste manne

neergevel,

en die room van Israel

neergeslaan.

32 Tog het hulle aanhou sondig,

en geweier

om in sy wonders te glo.

33 Daarom het Hy

hulle dae in nietigheid

tot ’n einde laat kom,

en hulle jare in onheil.

34 Wanneer God sommige

van hulle laat omkom,

het hulle weer na sy wil gevra.

Dan het hulle berou getoon

en ywerig na God toe

teruggekom.

35 Hulle het onthou

God is hulle rots,

en die Allerhoogste

hulle verlosser.

36 Maar met die mond

het hulle Hom bedrieg;

en met die tong

vir Hom gelieg.

37 Hulle hart

was ontrou aan Hom,

sy verbond

het hulle nie gehou nie.

38 Tog was Hy genadig

en het hulle sondes vergewe

en nie hulle almal vernietig nie.

Dikwels het Hy sy toorn

teruggehou

en sy woede nie losgelaat nie.

39 Want Hy het daaraan gedink

dat hulle sterflinge is,

’n asempie wat spoedig verdwyn

en nooit weer terugkom nie.

40 Hoe dikwels het hulle

in die woestyn

teen Hom in opstand gekom,

en het hulle in die woesteny

sy hart bedroef!

41 Weer en weer

het hulle God getart

en die Heilige van Israel

gepynig.

42 Hulle het vergeet van sy mag,

van die dag toe Hy hulle

verlos het van die vyand,

43 toe Hy sy tekens

in Egipte getoon het,

en sy wonders

in die veld by Soan.

44 Hy het hulle riviere

in bloed verander

sodat niemand

uit hulle strome kon drink nie.

45 Hy het muggies gestuur

om hulle te byt,

en paddas om hulle te verwoes.

46 Hy het hulle oeste

aan sprinkane gegee;

hulle hele opbrengs is opgevreet.

47 Hy het hulle wingerde

met hael verwoes

en hulle wildevyebome

met ryp verniel.

48 Hy het die vee

aan hael oorgegee,

hulle skape aan weerligstrale.

49 Hy het sy toorn teen hulle

losgelaat:

woede, gramskap en ellende

was vir U hulle

boodskappers van onheil.

50 Dit was ’n weg vir sy toorn:

Hy het hulle lewens

nie gespaar nie,

maar hulle oorgegee aan die pes.

51 Al die eersgeborenes in Egipte

het Hy getref,

al die oudste seuns

in die wonings van Gam.

52 Maar sy eie volk

het Hy soos skape uitgelei,

en soos ’n kudde skape

hulle deur die woestyn gelei.

53 Hy het hulle veilig gelei

sodat hulle nie bang was nie,

maar hulle vyande

is deur die see oorweldig.

54 Hy het hulle gebring

na ’n gebied

wat Hy afgesonder het,

na die bergland

wat Hy deur sy mag

verower het.

55 Hy het nasies voor hulle uit

verdryf,

die land as erfdeel

aan hulle gegee,

en die stamme van Israel

in hulle woonplekke gevestig.

56 Hulle het egter die Allerhoogste

beproef,

teen Hom in opstand gekom,

en sy gebooie

nie gehoorsaam nie.

57 Hulle was afvallig en ontrou

net soos hulle voorouers.

Hulle was net so onbetroubaar

soos ’n onbruikbare boog.

58 Hulle het God

ook kwaad gemaak

met afgodsdiens op die hoogtes.

Met hulle afgodsbeelde

het hulle Hom uitgetart.

59 Toe God dit hoor,

was Hy kwaad.

Hy het Israel heeltemal verwerp.

60 Hy het die tabernakel in Silo

verlaat.

Dit was sy tentwoning

onder mense.

61 Hy het sy magtige ark prysgegee,

sy glorie

in die hande

van vyande.

62 Hy het sy volk uitgelewer

aan die swaard,

want vir sy besondere eiendom

was Hy kwaad.

63 Hulle jong manne

is deur vuur verteer,

vir hulle jong meisies

is geen huwelikslied

gesing nie.

64 Hulle priesters

het deur die swaard geval

en hulle weduwees

kon nie rou nie.

65 Toe het die Here ontwaak

soos iemand uit sy slaap,

soos ’n sterk man ontwaak

uit die bedwelming van wyn.

66 Hy het sy vyande teruggedryf

en vir altyd

aan skande oorgegee.

67 Hy het Josef se nageslag

verwerp;

die stam van Efraim

het Hy nie gekies nie.

68 Maar die stam van Juda

het Hy gekies,

vir Sionsberg, wat Hy liefhet.

69 Hy het sy heiligdom

baie hoog gebou,

stewig vir altyd

soos die aarde self.

70 Hy het sy dienskneg Dawid

gekies,

hom van die skaapkrale af

gaan haal.

71 Van agter die lammerooie

het Hy hom weggevat

om sy volk Jakob te versorg,

sy eie volk, Israel.

72 Hy het hulle met ’n opregte hart

versorg

en hulle met bekwame hande

gelei.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

fourteen + seven =