PSALMS 79

Sal U dan vir altyd kwaad

wees?

1 ’n Asafpsalm.

O God,

heidense nasies het gekom,

en u eie erfdeel binnegeval.

Hulle het u heilige tempel

verontreinig

en Jerusalem

’n puinhoop gemaak.

2 Hulle het die lyke

van u dienaars

vir die voëls gegee om te vreet,

die vleis van u getroues

was kos vir wilde diere.

3 Hulle bloed het soos water

rondom Jerusalem gevloei,

en daar was niemand

om hulle te begrawe nie.

4 Ons is ’n bespotting

vir ons bure,

verag en gespot

deur almal om ons.

5 Hoe lank nog, o Here?

Sal U vir altyd

kwaad wees?

Sal u jaloesie

brand soos vuur?

6 Stort u toorn uit

oor die nasies

wat weier om U te erken

en oor koninkryke

wat u Naam nie aanroep nie.

7 Want hulle

het Jakob verslind,

en sy woonplek verwoes.

8 Moenie die sondes

van ons voorouers

teen ons hou nie.

Ontferm U gou oor ons,

want ons

is baie mismoedig.

9 God van ons verlossing,

help ons,

red ons tog

ter wille van die eer

van u Naam,

en vergewe ons sondes

ter wille van u Naam.

10 Hoekom sou die nasies spot

en vra:

“Waar is hulle God?”

Laat ons sien

hoe U die nasies

vergeld

weens die bloedvergieting

wat hulle

oor u dienaars gebring het.

11 Luister na die versugting

van hulle

wat gevange geneem is.

Gebruik u groot krag

en red hulle

wat die dood

in die gesig moet staar.

12 Vergeld ons bure sewe maal,

Here,

oor die veragting

wat hulle teen U

geslinger het.

13 Dan sal ons, u volk,

die skape van u weiding,

U vir altyd dank,

en U prys

van geslag tot geslag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

eight − 4 =