PSALMS 80

Herstel ons tog, Here!

1 Vir die koorleier: Op die wysie van

“Lelies”. ’n Getuienis. ’n Asafpsalm.

2 Luister tog,

Herder van Israel,

U wat Josef soos ’n kudde

gelei het.

U wat oor die gerubs troon,

verskyn tog in u heerlikheid

3 aan Efraim, Benjamin

en Manasse.

Toon ons u magtige krag!

Kom tot ons redding!

4 O God, herstel ons tog!

Laat u guns

weer oor ons skyn

sodat ons gered kan word.

5 Here, God die Almagtige,

hoe lank sal U kwaad bly

ten spyte van u volk se gebede?

6 U het vir hulle trane

as kos gegee,

’n beker vol droefheid

laat drink.

7 U maak ons

tot ’n voorwerp van twis

vir ons bure.

Ons vyande

dryf met ons die spot.

8 God Almagtig, herstel ons tog.

Laat u guns

weer oor ons skyn

sodat ons gered kan word.

9 U het ’n wingerdstok

uit Egipte gaan haal.

U het nasies verdryf

en dit hier geplant.

10 U het die grond

vir hom reggemaak;

sy wortels het gegroei

en die land gevul.

11 Die berge is oordek

met sy skaduwee;

die magtige seders met sy takke.

12 Sy ranke het na die

Middellandse See toe uitgestoot,

en sy takke na die Eufraatrivier toe

uitgesprei.

13 Hoekom het U sy mure

afgebreek

sodat verbygangers

dit kan stroop?

14 Wildevarke van die bos

verwoes dit,

en die wilde diere

vreet dit op.

15 God Almagtig,

kom tog terug!

Kyk neer vanuit die hemel.

Ontferm U tog

oor hierdie wingerdstok,

16 die loot wat U self geplant het,

en oor hierdie seun

wat U vir Uself

grootgemaak het.

17 Laat dié wat u wingerdstok

verbrand

en aan stukke gekap het,

tot niet gaan

wanneer U hulle teregwys.

18 Versterk die man

aan u regterhand,

die mensekind

wat U vir Uself

grootgemaak het.

19 Dan sal ons U nie weer

verlaat nie.

Laat ons herlewe,

dan sal ons

weer u Naam aanroep.

20 O Here, God die Almagtige,

herstel ons tog.

Laat u guns

weer oor ons skyn

sodat ons

gered kan word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

12 − 10 =