As my volk maar na My
wou luister!
1 Vir die koorleier: Met musiek.
Van Asaf.
2 Jubel tot eer van God,
ons sterkte!
Jubel tot eer
van die God van Jakob!
3 Sing! Slaan die tamboeryn!
Laat hoor die klank van lier
en harp!
4 Blaas die ramshoring
op nuwemaan
en wanneer dit volmaan is,
op die dag van ons fees!
5 Want dit is die instelling
vir Israel,
die voorskrif
van die God van Jakob.
6 Dit is as ’n herinnering
vir Josef bepaal
toe God
teen Egipte
opgetrek het.
Ek het in ’n vreemde taal
gehoor:
7 “Die las op jou skouer
het Ek afgehaal;
jou hande
kon die mandjie los.
8 In nood het jy geroep,
en Ek het jou gered;
uit ’n donderwolk
het Ek geantwoord.
By die waters
van Meriba
het Ek julle
op die proef gestel.
Sela
9 “Luister, my volk,
Ek wil julle waarsku.
Israel, as julle maar net
na My wou luister!
10 Julle mag nie
’n ander god dien,
of voor ’n vreemde god buig nie.
11 Want Ek is die Here julle God
wat julle
uit Egipte gebring het.
Maak julle mond wyd oop,
dan sal Ek dit vol maak.
12 “Maar nee,
my volk het nie geluister nie.
Israel wou niks van My weet nie.
13 Daarom
het Ek hulle laat begaan,
hulle prysgegee
aan hulle koppigheid
om te doen
volgens hulle eie begeerte.
14 Ag, as my volk maar
na My wou luister!
As Israel net
my weg wou volg!
15 Dan sal Ek gou
hulle vyande onderwerp,
hulle aanvallers
eiehandig verslaan!”
16 Mag hulle wat die Here haat,
voor Hom kruip.
Mag hulle onderwerping
vir altyd geld.
17 Maar Hy sal julle versadig
met die beste koring.
Ek sal julle versadig
met heuning uit ’n rots.